Hoe moet ons God aanbid?

How to worship

Party kerke sing net Psalms en Skrifberymings, terwyl ander Christelike koortjies en gesange ook sing.  Party kerke is konserwatief en ander charismaties.  Sommige kerke laat toe dat vroue preek, terwyl ander daarteen is.  Vir party is ‘n baadjie en ‘n das, sykouse en ‘n hoed die gedragskode.  Vir ander is ‘n kraaghemp en denims aanvaarbaar.  Ander verskille kan in ‘n vraagvorm gestel word:  Moet daar ‘n preek wees, of kan ‘n mens ‘n informele gesprek hê?  Wie mag gedoop word en hoe moet ons dit doen?  Wat van die nagmaal:  hoe gereeld moet ons dit hou?  Hoe moet die geestelike gawes funksioneer?  Is dit ‘okay’ om ‘n kinderkerk te hê?  Waar en wanneer moet gelowiges ‘kerk’ hou?  Om al hierdie vrae en stellings in een sin op te som, kan ons vra:  Hoe moet ons God aanbid?  In Johannes 4:19-26 antwoord Jesus die vraag.

 

19 Die vrou sê vir Hom:  Here, ek sien dat U ‘n profeet is. 20 Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. 21 Jesus sê vir haar:  Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. 25 Die vrou sê vir Hom:  Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word.  Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. 26 Jesus sê vir haar:  Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4).

 

Die plek

Toe Jesus die Samaritaanse vrou se sonde uitgewys het, het sy besef dat Hy ‘n profeet is (v.16-19).  Aangesien Hy ‘n profeet was, kon Hy dalk ‘n eeu-oue teologiese debat tussen die Jode en die Samaritane oplos.  Die Samaritane het God aanbid op die Gerisim-berg (v.20a).  “Hiér,” het hulle gesê, “het Abraham en Jakob vir God aanbid” (Genensis 12:6-7, 33:19-20).  “En hier het God die vloeke en seëninge oor Israel uitgespreek, en het hulle ‘n altaar gebou” (Deuteronomium 11:29, 27:4, 12-13).  Die Jode het geglo dat God in die Jerusalem-tempel aanbid moes word (v.20b, Deuteronomium 12:5).  Om die debat vuriger te maak, het die Jode die Samaritane se aanbod om hulp geweier, toe hulle die tempel herbou het (Esra 4:1-3, 10).  Omdat die Samaritane nie welkom was nie, het hulle in 400 v.C. hulle eie tempel by die Gerisim-berg gebou.  In die jaar 128 v.C. het die Jode dit verwoes – die Jerusalem-tempel was immers die plek van ware aanbidding.  Die Samaritane was bitter en het ‘n vark se karkas in Jerusalem se tempel terrein gegooi.  Die bouwerk moes vir 7 dae gestaak word, omdat die Jode ‘n seremoniële reiniging moes ondergaan (‘n vark is mos ‘n onrein dier vir ‘n Jood).  Kan jy verstaan dat die vrou opgewerk was toe sy vir Jesus hierdie vraag gevra het?

 

Vandag nog veg mense oor plekke van aanbidding.  Dink maar aan die Moslems en die Jode se voortdurende geveg oor Jerusalem as ‘n heilige plek van aanbidding.  Om so te stry en baklei is onnodig en dwaas.  Hoekom?  Want God is Gees (v.24).  Hy het nie ‘n liggaam nie en is alomteenwoordig.  Hy is nie beperk tot een of ander heilige plek nie.  Hy woon nie in tempels wat deur mensehande gemaak word nie (Handelinge 17:24).  Volgens die Nuwe Testament is gelowiges die tempel van die Heilige Gees (1 Korintiërs 3:16-17).  Met ander woorde, oral waar gelowiges bymekaar is om die Here te ontmoet, daar is Hy in hulle midde.  Hoe help dit ‘n mens buitendien om na ‘n ‘heilige plek’ toe te gaan en in eerbare stilte te kniel, terwyl jy ‘n onheilige hart en lewe het?  Dit is presies op hierdie punt wat God vir sy volk Israel sê:

 

“Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê:  Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!  Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie—dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.  Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie.  Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê:  Ons is verlos! —om al hierdie gruwels te doen?  Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ‘n spelonk van moordenaars in julle oë?  Ook Ek—kyk, Ek het dit gesien, spreek die HERE.” (Jeremia 7:4-11).

 

God haat aanbidding op ‘n ‘heilige plek’ as ons harte onheilig is.  In skerp en verdoemende terme noem Jesus dit skynheiligheid.  “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matteus 15:8-9).  God soek nie sulke aanbidding nie.  Hy wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid, ons moet opreg wees (v.24).  Vergeet dan van die plek; van sekere rituele en tradisies.  Fokus eerder op jou hart en jou lewe:  “Jesus sê vir haar:  Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.  Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.  Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” (v.21-24).  Dít is ware godsdiens.  In Jakobus 1:27 se woorde:  “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít:  om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”

 

Wat as jou hart nie rein is nie (as jy ‘n ongelowige is sê God jou hart is onrein, Genesis 6:5)?  Jou hart kan net rein word deur wedergeboorte; deur die evangelie van verlossing.  Hier is wat die Bybel sê:

 

“Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” (Esegiël 36:25-26). 

 

“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het—nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” (Titus 3:4-7).

 

“As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9-10).

 

As jou hart rein geword het, is jy reg om aanvaarbare aanbidding vir God te bring.  Jesus het gekom om ware aanbidding uit die hart, te herstel (v.23, die uur het gekom).

 

Die Persoon

Is dit waar dat alle godsdienste eintlik dieselfde God op verskillende maniere aanbid?  William P. Young, in sy boek The Shack, dink so.  Is hy reg?  Nee.  Jesus sê dat ons God in gees en waarheid moet aanbid.  Die Griekse woord vir gees kan ook na die Heilige Gees verwys.  En daarom kan niemand die Vader aanbid, behalwe deur die Heilige Gees van Christus nie.  En omdat ons God in waarheid moet aanbid, kan ons dit net deur Jesus Christus doen, want volgens Johannes 14:6 is Hy die waarheid.  Hy is die Messias; Hy is EK IS (v.25-26, daar is geen ‘Hy’ in die Griekse teks van v.26 nie.  Jesus sê letterlik:  ‘EK IS spreek met jou.’  As jy jou Bybel ken, sal jy onthou dat God in Eksodus 3:14 gesê het:  “EK IS wat EK IS”.  Jesus is dus die God van die Ou Testament.  Hoe kan enigiemand wat nie in Jesus glo nie, dan vir God aanbid?).  Efesiërs 2:18 sê:  “want deur Hom [Christus] het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.”  Dit is hoe die Vader aanbid moet word:  Deur Jesus en [in] die Heilige Gees.  Enige ander manier van aanbidding is vals:  hetsy aanbidding deur Maria, die voorvader geeste, engele, ‘saints’ of watookal.  Ook aanbidding wat God se Drie-Enige wese ontken, is valse aanbidding.

 

Die metode

Die Samaritane het nie in die hele Ou Testament geglo nie.  Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses (die Pentateug) gelees.  Hulle het dus geweet daar is ‘n Messias, maar het min geweet van sy geboorteplek (Miga 5:1), sy Persoon (Psalm 110:1, Jesaja 53:2-3), sy missie (Jesaja 53), en dat Hy uit die geslag van Dawid sou kom (2 Samuel 7:12-13).  Die Samaritane het ook by die Assiriërs geleer om tergelykertyd God en afgode te aanbid (2 Konings 17:28-34).

 

Op grond van die genoemde feite sê Jesus in v.22 dat die Samaritane onkundig is, en nie weet hoe om reg te aanbid nie; dat die Jode ware aanbidding ken:  “Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.”  Die Messias was ‘n Jood, en daarom is verlossing uit die Jode.  “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!  Amen.” (Romeine 9:4-5).

 

God wil nie hê ons moet onkundig wees van sy Woord en Messias soos die Samaritane was nie.  Hy wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid (v.23-24).  In die Ou Testament was God baie spesifiek oor hoe Hy aanbid wou word.  Klippe vir die altaar moes ongekap wees.  Diere moes so en so geoffer word.  Die tabernakel moes volgens ‘n spesifiek patroon ontwerp en gemaak word.  In Eksodus 39-40 is die refrein:  “…soos die Here Moses beveel het….soos die Here Moses beveel het…soos die Here Moses beveel het”.  In die Nuwe Testament is dinge nie anders nie:  ons moet God aanbid volgens wat Hy beveel het.  In Engels noem teoloë dit die ‘Regulative principle’.  Ons kan God nie aanbid volgens enigiets wat nie in die Skrif verbied word nie.  Daar is ‘n groot verskil.

 

‘n Argitek trek planne op vir ‘n huis.  Die bouer sien dit en sê:  “Ek moet die huis volgens die planne bou en kan enigiets byvoeg wat nie verbied word nie.”  Daar is ‘n groot verskil tussen die huis van die bouer wat die plan streng gevolg het, en die bouer wat dinge bygevoeg het wat nie eksplisiet verbied was nie.  God wil hê ons moet streng by sy planne bly, want dit is wanneer ons ons eie idees begin byvoeg wat afgodery insluip.  Het God nie gesê:  “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.” (Deuteronomium 12:32)?

 

Die Israeliete het nie in waarheid aanbid nie.  God het gesê hulle moenie ‘n afbeelding maak en sê:  “God lyk so”, en dit aanbid nie.  Hulle het die goue kalf gemaak en aanbid soos hulle wou.  Ook in ons dag moet ons nie vir mense vra:  “Hoe wil júlle hê moet ons God aanbid?  Waarmee is júlle gemaklik en waarmee nie?”, en daarby aanpas nie.  Wat beveel die Skrif vir Christene oor samesang, orde in die erediens, die rol van mans en vroue in die kerk, kleredrag, offergawes, geestelik gawes, prediking, drama, jeug- en kinderkerk, die doop, die nagmaal, die dag van aanbidding, die plek van aanbidding (ek kan seker ‘n individuele preek oor elkeen van hierdie onderwerpe preek)?  As die Skrif ons nie beveel om sekere dinge te doen nie, en ons doen dit, dan is ons besig met valse aanbidding.  As jy dan reg wil aanbid, moet jy sorg dat jy die Skrif goed ken en verstaan (v.22).

 

Natuurlik is daar plek vir variëteit in dit wat beveel word.  Byvoorbeeld:  die Skrif sê dinge in die erediens moet ordelik geskied (1 Korintiërs 14:33, 40).  Maar wat moet die orde wees?  Party kerke sing, bid, lees die Bybel, en preek.  Ander kerke preek, sing, bid, neem die offergawe op.  Hoe die orde geskommel word maak nie saak nie.  Die Skrif beveel dat ons die nagmaal gereeld moet hou (1 Korintiërs 11:23-26).  Maar hoe gereeld is ‘gereeld’:  elke week, een of twee keer ‘n maand?  Hier is ruimte vir verskille.  Die Bybel sê ons moet Psalms, lofgesange, en geestelike liede sing (Kolossense 3:16).  Moet ons in ‘n erediens drie geestelike liede en ‘n Psalm sing?  Of vier Psalms en twee gesange?  Dit maak nie saak nie.  Die Skrif sê ons moenie ‘n gewoonte daarvan maak om die eredienste te mis nie (Hebreërs 10:25).  Maar hoeveel byeenkomste moet daar op ‘n Sondag wees en hoeveel in die week?  Dit is vir elke kerk om self te besluit.  Die Skrif sê ons moet die Woord verkondig (2 Timoteus 4:2).  Hoe lank moet die preek wees:  ‘n halfuur of ‘n uur; 20 minute of 40 minute?  Ook hier het God vryheid gegee.

 

God wil ook hê ons moet Hom in gees aanbid (v.23-24).  Aanbidding moenie net uiterlik wees nie, maar moet uit die hart kom.  Daar moet blydskap, liefde, berou, vrede, dankbaarheid, en ander gepaste emosies in ons harte wees.  Hierdie emosies moet deur die Heilige Gees gelei word (is dit nie onder andere wat aanbidding in gees/Gees beteken nie?).  As jy God in waarheid aanbid en nie ook in gees nie, sal jou aanbidding dood wees.  Jy sal alles intellektueel benader.  Jy sal skynheilig wees, want uiterlik gaan jy deur ‘n aanbiddingsoefening, terwyl jy geen liefde vir God in jou hart ervaar nie.  Maar om God in gees sonder waarheid te aanbid is net so gevaarlik.  Jy sal die Here miskien opreg aanbid, maar jou aanbidding sal nie volgens sy bevele wees nie.  Jy sal aanbid soos jý wil, en dalk is jy eintlik besig met afgodery.  Mense wat in gees sonder waarheid aanbid, weet nie hoe om reg te aanbid nie.  Hulle verval ook maklik in emosionalisme.  Hulle emosies is nie meer gesond nie, maar hulle word ‘n slaaf daarvan – hulle emosies beheer húlle en nie andersom nie.  Die Skrif sê duidelik ons moet God in gees en waarheid aanbid (v.23-24, cf. Filippense 3:3).

 

Is jou godsdiens meer uiterlik as innerlik?  Is jy meer besig met tradisies en rituele (of selfs met die regte dinge) sonder dat jou hart daarin is?  Aanbid jy God soos Hy in die Bybel sê?  Hoe lyk dit in jou gemeente?  Is daar plekke waar jy en jou gemeente moet hervorm en verander?  Waar en hoe gaan jy dit verander?  God soek mos “ware aanbidders” (v.23).