Hoe om te gee vir God se werk

Poor widow

1 En ons maak julle bekend, broeders, die genade van God wat aan die gemeentes van Macedónië geskenk is, 2 dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid. 3 Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig, 4 en het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang; 5 en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (2 Korintiërs 8).

 

Die Bron (v.1)

In sy eerste gemeente het Martyn Lloyd-Jones en die sekretaris, E.T. Rees, gehoor dat een van die nuwe bekeerlinge (J.J.) brandarm is.  Voor sy bekering was J.J. ‘n dronkaard.  Hy het sy huis verniel – so erg dat ‘n mens nie meer daarin kon bly nie.  Die sekretaris wou vir J.J. help om ‘n nuwe huis te kry.  Maar J.J. kon nooit die deposito of die maandelikse paaiement van ‘n nuwe huis bekostig nie.  Lloyd-Jones en Rees het oor die saak gesels en besluit om die huis vir J.J. te koop.  Hulle het die deposito en maandelikse paaiemente aan die bank gedek, totdat die huis afbetaal was (Iain H. Murray, D. Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years, volume 1, pp.237-238). 

 

Lloyd-Jones en Rees se voorbeeld is waardig om nagevolg te word.  Net so gebruik Paulus die voorbeeld van die Christene in noord-Griekeland (Berea, Filippi en Tessalonika in die Macedonië-streek) om die Korintiërs in die suide (Agaje) aan te spoor (v.1).  Dit is nie dat die Macedoniërs beter was as ander Christene nie.  Die feit dat hulle so mildelik bygedra het was God se genade wat in hulle gewerk het (v.1).  Deur sy lewe en kruisdood het Jesus hulle gered en die rykdom van die ewige lewe aan hulle gegee (8:9).  Hulle oorvloedige offergawe was ‘n uitdrukking van die oorvloedige lewe in hulle.  In 9:13 praat Paulus van hulle “belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae”.  God se genadige werk in die mens se hart maak dat hy graag in die Here se Koninkryk betrokke wil wees (ook met sy geld):

 

“Ook was die hand van God in Juda, sodat Hy hulle ‘n eensgesinde hart gegee het om die gebod van die koning en van die owerstes volgens die woord van die HERE uit te voer.” (2 Kronieke 30:12).

 

“U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag” (Psalm 110:3).

 

“dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:13).

 

Ons gee omdat God eerste gegee het (Johannes 3:16); omdat Hy ons gewillig máák om te gee.

 

Leer uit die voorbeeld van Christene in die Ou Testament, die vroeë kerk, die kerkgeskiedenis, en baie wat vandag nog lewe, om by te dra vir die Here se werk.  Dit sal jou aanspoor.  Paulus sê:  “Want ek ken julle bereidwilligheid waarop ek oor julle by die Macedóniërs roem, dat Acháje ‘n jaar gelede gereed was, en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander aangespoor het.” (9:2).  “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1 Korintiërs 11:1).

 

Een rede hoekom party Christene nie gee nie, is omdat hulle nog nie God se genade in hulle harte ontvang het nie.  Iemand wat nie God se vrygewigheid verstaan nie, kan nie daarop reageer nie.  Daar is enkele mense wat nie gee nie, omdat hulle verkeerde lering ontvang het.  En dan is daar die invloed van materialisme.  Ons word deur die wêreld beïnvloed om meer en meer te wil hê, en nie om te gee nie (Romeine 12:2).  Moenie ingesuig word deur die maalkolk van materialisme nie.

 

Die gesindheid (v.2a)

John Piper skryf oor ‘n Christen-man in Haïti:

 

“The church was having a Thanksgiving festival, and each Christian was invited to bring a love offering.  One envelope from a Haitan man named Edmund held $13.  That amount was three months’ income for a working man there. Kelly was as surprised as those counting a Sunday offering in the United States might be to get a $6000 cash gift.  He looked around for Edmund but could not see him.  Later Kelly met him in the village and questioned him.  He pressed him for an explanation and found that Edmund had sold his horse in order to give the $13 gift to God.  But why hadn’t he come to the festival?  He hesitated and didn’t want to answer.  Finally, Edmund said, ‘I had no shirt to wear.’” (Let the Nations Be Glad, p.103).

 

Die Romeinse Ryk het inwoners van die Macedonië-streek swaar belas.  Daarby is Christene nog vervolg ook (1 Tessalonisense 2:14, 3:3-4).  Soos jy kan aflei was hierdie gelowiges diep in die put van armoede (v.2a).  En tog het hulle met oorvloed en blydskap bygedra vir die Here se werk.  Hulle was soos die weduwee in Lukas 21:1-4:  “En toe [Jesus] opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.  En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.  En Hy sê:  Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het.  Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.”  Die Macedoniërs was nie tevrede om hulle blydskap in hulle omstandighede of in tydelike rykdom te vind nie.  Hulle het ‘n ewige blydskap en ware rykdom in Christus gevind:  “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (8:9).  Met ander woorde, hulle was arm, maar ryk (Openbaring 2:9).  Ek wens elke Christen wil met hierdie gesindheid gee:  “…soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.”  As jy só gee sal jy gou agterkom dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35).

 

Die manier (v.2b-5)

[i] Gee met ‘n vrygewige hart:  “…ryke milddadigheid” (v.2b).  ‘n Boer moet mos volop saai, en ‘n gelowige moet vrylik gee (9:6).  Jesus sê:  “Gee, en aan julle sal gegee word.  ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” (Lukas 6:38).  “the one who contributes, [must do so] in generosity” (Romeine 12:8, ESV).

 

[ii] Gee vrywilliglik:  “Want hulle was na vermoë—ek betuig dit—ja, bo vermoë gewillig” (v.3).  Ons meet onsself dikwels aan ander.  Wanneer ons geskenke koop, sê ons:  “Almal gee duur geskenke vir die vrou se verjaarsdag – ek kan met ‘n R50-geskenk daar aankom nie… Al die ander vroue dra duur aandrokke – ek kan nie hierdie goedkoop rok aantrek troue toe nie.”  En wanneer dit by offergawes kom, doen ons dieselfde.  Moet jouself nie aan ander meet nie.  Gee volgens wat jý kan.  God bepaal ‘n mens se inkomste.  Hy maak party mense ryk en ander arm (sien Deuteronomium 8:18, 1 Samuel 2:7, Spreuke 22:2).  Moenie soos ‘n ryk man wil gee as jy arm is, of soos ‘n arm man as jy ryk is nie.  Vergeet van ander – gee volgens hoe God jóú voorspoedig gemaak het:  “Maar voltooi nou die daad ook, sodat, net soos die bereidheid om te wil daar was, so ook die voltooiing kan wees uit wat julle besit.  Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie… Soos geskrywe is:  Hy wat baie gehad het, het nie te veel gehad nie; en hy wat weinig gehad het, het nie te min gehad nie.” (v.11-12, 15).  “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is” (1 Korintiërs 16:2).

 

Gee volgens jou voorspoed!  Geen prediker het die reg om mense te manipuleer om te gee nie.  Populêre TV predikers boelie mense om vir hulle bedienings te gee.  Nog ‘n implikasie van die feit dat elkeen namate sy voorspoed moet gee, is dat die Nuwe Testamentiese Christen nie deur ‘n tiende wet gebind word nie.  Jou bydrae is vrywilliglik (v.3).  Paulus sê verder:  “Ek sê dit nie as ‘n bevel nie… sodat dit gereed kan wees as ‘n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie… Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie” (v.8, 9:5, 7).  Die prinsiep van Paulus se skrywe aan Filemon geld ook vir ons geldelike bydraes:  “Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse.” (Filemon 14).  Die Ou Testamentiese tiende vind nie sy eweknie in die offergawes van die Nuwe Testament nie, maar eerder in belasting wat ons aan die regering betaal.  Wanneer ons van offergawes praat, het die bydraes van God se kinders nog altyd op ‘n vrywillige basis geskied:

 

 “Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.” (Eksodus 25:2). 

 

“Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê:  Dit is die saak wat die HERE beveel het:  Neem van julle besittings ‘n offergawe aan die HERE.  Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE:  goud en silwer en koper… En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom:  hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere; die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring.  En elkeen wat ‘n offer van goud aan die HERE gewy het” (Eksodus 35:4-5, 21-22).

 

Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën… elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.” (Deuteronomium 16:10, 17).

 

“En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ‘n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly.” (1 Kronieke 29:9).

 

[iii] Gee met opoffering:  “Want hulle was…bo vermoë gewillig” (v.3).  Hulle was bereid om hulleself tekort te doen om ander te help.  ‘n Predikant wat ek ken was baie vrygewig (meer as enigiemand wat ek ooit geken het?).  Toe hy oorlede is het sy seuns ‘n bankstrokie in sy laai gekry.  Hy het R50 in sy bankrekening oor gehad.  ‘n Ander predikant was ‘n ryk sakeman voordat hy in die bediening ingegaan het (hy het ‘n helikopter besit en op ‘n gholf-estate gebly).  Hy het ‘n baie goedkoop kar gekoop en planne gemaak om ‘n kleiner en heelwat goedkoper huis te koop.  Hy het die voorreg om ‘n predikantekonferensie by te woon opgegee, omdat iemand in sy gemeente werkloos is – hy wou eerder die geld gebruik om hierdie lidmaat te help.  Dít is wat dit beteken om met opoffering vir die Here se werk te gee.  God kyk nie na wat jy gee nie, maar na wat jy oor het nadat jy gegee het.  Maar wees versigtig hier, want die Bybel sê ook:  “En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.” (1 Korintiërs 13:3).

 

Miskien dink jy:  ‘Maar as ek met opoffering gee, sal ek nie kos op die tafel hê om vir myself te sorg nie.’  God sal vir jou sorg.  As jy volop saai sal jy volop oes (9:6).  God is instaat om vir jou te sorg:  “En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.  Soos geskrywe is:  Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.  En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.” (9:8-11).  Salomo sê:  “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.” (Spreuke 19:17).

 

[iv] Begeer om te gee:  “het ons met groot aandrang gesmeek dat ons hulle gawe en hulle deel in die diensbetoning aan die heiliges moet ontvang” (v.4).  Baie predikante en kerke hamer en lek mense om ‘n bydrae te gee.  Paulus het nie.  Hy wou nie geld van arm Christene ontvang nie.  Inteendeel, hulle het hóm gesmeek vir ‘n geleentheid om te kan gee.  Hulle het dit as ‘n voorreg gesien om vir die Here te gee – nie as ‘n plig of omdat ‘n tiende-wet hulle gedwing het nie (9:7).  Hulle het gegee omdat hulle gedryf was deur God se genade (v.1), en nie omdat hulle skuldig gevoel het nie (v.4).  Hulle wou graag deel gehad het aan hierdie diensbetoning.

 

[v] Gee doelgerig.  Die Korintiërs se bydrae sou gegee word aan die arm Christene in Jerusalem.  Dit is na wie die ‘heiliges’ in v.4 verwys.  Ons weet dit, want in 1 Korintiërs 16:1-4 sê Paulus:  “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.  Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.  En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.  En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.”  In Romeine 15:25-26 sê hy:  “Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges.  Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem.”

 

Hoekom gee ons op Sondae?  Hoekom het ons volgende week ‘n spesiale dankoffer?  Die Skrif sê ons moet onder andere gee, sodat die prediker ‘n inkomste kan hê, dat die evangelie deur sendelinge versprei kan word, dat armes en weduwees versorg kan word, en sodat ons goeie rentmeesters kan wees van die eiendom wat God aan ons toevertrou.  Indien jy dink die geld in jou (of ons) gemeente word nie reg gebruik nie, praat asseblief met jou leiers.

 

[vi] Kry jou prioriteite in orde wanneer jy vir die Here se werk gee:  “en het nie alleen gedoen soos ons verwag het nie, maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (v.5).  Gee jouself, jou diensbaarheid en jou tyd voordat jy jou geld gee, want dit is die wil van God (v.5).  Die Skrif sê mos:  “omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (5:15).  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).  Saggeus was ‘n gulsige man.  Hy het ander ingedoen en hulle geld gesteel.  Maar toe Jesus hom gered het en hy homself aan God oorgee het, het Hy met oorgawe sy geld uitgedeel (Lukas 19:1-10).

 

Meet jouself:  Is jy iemand wat graag vir die Here se werk gee; wat gee volgens die riglyne wat hierbo bespreek word?  Indien jy ‘nee’ sê, is die rede waarskynlik omdat jy nog nie jouself aan die Here oorgegee het nie.  Hoe moet jy jouself gee?  Kom ek vertel jou.  God is volmaak heilig en jy is baie sondig (die Bybel en jou gewete sê dit vir jou).  Jy verdien God se straf.  Maar uit liefde vir sondaars, het Hy mens geword en sy eie wet namens ons onderhou.  Al was Hy nie ‘n sondaar nie, het Hy die straf van God namens ons op Homself geneem toe Hy aan die kruis gesterf het.  Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  Hy belowe om jou te red as jy jou van jou sonde (dit wat jy is, begeer, dink, doen en sê) bekeer; as jy die evangelie glo wat ek nou-net verduidelik het; as jy volkome op Hom vertrou en nie op jou eie godsdienstige pogings of goeie werke staatmaak nie; as jy Hom erken as die Verlosser van sondaars en die enigste Here.  Onderwerp jouself aan Hom.  Wy jouself aan Hom toe.  Smeek Hom om jou te red en te vergewe.  As jy jouself so aan Hom gegee het, sal Hy jou geld aanvaar.  Anders help dit nie – al gee jy ook ‘n miljoen rand.