Wat is ‘n Christen?

Question mark road sign

Hierdie is ‘n baie belangrike vraag, want Jesus sê party mense dínk hulle is Christene, maar sal op die oordeelsdag uitvind hulle was nie:  “Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:21-23).  Die Bybel beveel:  “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5).

 

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n ou tannie wat vir jare lidmaat van ‘n sekere gemeente was.  Sy het ‘n aangename karakter gehad en ‘n voorbeeldige lewe gelei.  Die predikant en die res van die gemeente het almal aangeneem dat sy ‘n Christen was.  Maar sy was nie.  “This idea that, because people are members of the church and attend regularly, they must be Christian is one of the most fatal assumptions, and I suggest that it mainly accounts for the state of the church today.” (Iain Murray; D. Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1982; pp.270-271).

 

Mense word Moslems of Hindus deur geboorte.  Maar ‘n mens word nie ‘n Christen deur geboorte nie.  Jy is nie ‘n Christen omdat jou ouers Christene was nie.  Jy is nie ‘n Christen omdat jy gedoop is, die Tien Gebooie probeer onderhou, lidmaat van ‘n kerk is, die sondaarsgebed gebid het, gereageer het op ‘n uitnodiging (‘altar call’), ‘n getuienis het dat jy jou hart vir die Here gegee het of in tale gepraat het nie.  Dit is ‘n verkeerde definisie van Christen-wees om te sê:  ‘Alle paaie lei na die hemel – solank ‘n mens opreg is.’  Of om te sê:  ‘Ek het lankal my hart vir die Here gegee.  Ek weet ek leef nie soos ek behoort nie, maar dit is tog so dat as jy eenkeer gered is, jy altyd gered is.’

 

Mense se definisies van wat ‘n Christen is tel nie veel nie.  Wat sê Jesus, die outeur van Christenskap, oor die saak?

 

11 Dit is dan die gelykenis:  Die saad is die woord van God. 12 Dié langs die pad is die hoorders.  Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. 13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. 14 En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. 15 En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” (Lukas 8).

 

Kom ons bekyk die verse van nader om te sien wat ‘n Christen werklik is.

 

‘n Christen is iemand wat deur God verander is (v.11a)

Jesus het baie duidelik gepreek, sodat mense kon verstaan.  Hy het vir hulle ‘n kans gegee om hulle te bekeer.  Maar mense wou nie na sy boodskap luister nie.  Daarom het Hy besluit om in gelykenisse te praat.  Sodoende het Hy die waarheid weggesteek vir die massas.  Net die mense aan wie Hy die gelykenisse verduidelik het, sou nou sy lering kon verstaan.  Lukas sê:  “En [Jesus] antwoord [sy dissipels]:  Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie…In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (v.10, 10:21-22).

 

Die les is dit:  niemand word ‘n Christen deur sy eie toedoen nie.  Dit verg ‘n bonatuurlike werk van God vir iemand om ‘n Christen te word.  Dink maar aan Paulus:  hy het nie ‘n Christen geword, omdat hy skielik besluit het hy wil verander nie.  Dit was ‘n bonatuurlike werk van God (sien Handelinge 9:1-18).  Beide Efesiërs 1 en 2 wys dat verlossing geheel en al God se werk is.  Ander verse in die Bybel sê:

 

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44).

 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16).

 

Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:31).  Nie net vergifnis nie, maar selfs bekering is God se geskenk aan jou.

 

“die Here het haar [Lidia] hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” (Handelinge 16:14).

 

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:29-30).  In hierdie verse sê Paulus dat Gód ons uitverkies, vooruit bestem, geroep, geregverdig en verheerlik het.  Verlossing is sý werk – van begin tot einde.

 

“omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Filippense 1:29).  Selfs die geloof wat jy het kom van God af.

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het” (1 Petrus 1:3).  Wedergeboorte is nie iets wat ons kies nie, maar iets wat God in ons bewerk.

 

Die grond in die gelykenis van die saaier kan ‘homself’ nie verander nie.  Die saaier kan nie groei veroorsaak of die grond verander nie.  Dit is Gód wat laat groei:  “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.  So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.” (1 Korintiërs 3:6-7).  Net die Hemelse Landbouer (God) kan die grond effektief omspit en ‘n bonatuurlik werk van verandering meebring.  Daarom is dit so belangrik dat jy vir die prediking van God se Woord moet bid.  Jy moet jou hart voorberei wanneer jy die Woord gaan hoor.  Doen dit onder meer deur:

 

  • Vroeg te gaan slaap op Saterdae, en nie laat wakker te bly sodat jy nie jou oë kan oophou in die kerk nie.
  • Die Skrif te oordink.
  • Die preek in jou eie lewe toe te pas en te gehoorsaam.
  • Nie jou gedagtes te laat dwaal nie, maar aandag te gee wanneer daar gepreek word.

 

‘n Christen is iemand wat die evangelie glo (v.11b)

Indien daar plante is wat slegte vrug dra, is dit nie die saaier se skuld nie (alhoewel dit kán wees as ‘n prediker nie die suiwer Woord met krag verkondig nie).  Dit is ook nie die saad se skuld nie, want die saad is die Woord van God (v.11b).  Die fout lê by die tipe grond – die persoon se hart.  Indien die prediker die Woord reg preek en daar geen effek is nie, is dit nie hý wat moet verander of ‘n ander tipe boodskap moet preek nie.  Dit is nie hý wat by die gehoor moet aanpas nie.  Die prediker se opdrag in die Bybel is duidelik:  hy moet net getrou wees en die suiwer saad van die Woord strooi.  Soos reeds gewys is die saad die Woord van God; die evangelie van Jesus Christus (v.11b, sien 1 Petrus 1:23, 25).  Die Christen is iemand wat hierdie evangelie glo:  die evangelie dat Jesus gekruisig is vir sondaars, begrawe is, en opgestaan het op die derde dag (sien 1 Korintiërs 15:3-4).  Die Christen glo nie net die evangelie-feite nie, maar vertrou volkome op wie Jesus is (God en mens, Here en Verlosser) en wat Hy vir ons gedoen het.  Die Christen bekeer hom van sy sonde en lewe nou in gehoorsaamheid aan Jesus.

 

‘n Christen is iemand wat aanhou vrug dra (v.12-15)

Jesus beskryf vier tipes harte, waarvan net een aanhou vrug dra – dís die ware Christen.

 

[1] Die harde hart (v.12).  Tussen die landerye is daar voedpaadjies.  Omdat mense baie daarop loop word die grond vasgetrap en hard (v.5).  Wanneer die saad op die paadjie val of deur die wind daarheen gewaai word, pik die voëls dit op.  Net soos die saad nie eers hierdie grond kan penetreer nie, vind die Woord geen ingang in die harde hart nie.  Só ‘n persoon is iemand wat nie die Woord aanneem nie, maar alewig die prediking van God se Woord kritiseer.  Hierdie persoon slaap of laat sy gedagtes dwaal tydens die preek.  Hy hou nie daarvan wanneer die Woord gepreek word, of wanneer die prediker sy geliefde sonde aanspreek nie.  Hy het geen droefheid oor sonde nie.  Hy wens die preek wil klaarkry.  Hy is die tipe persoon wat kerktoe kom om huistoe te gaan.  Volgens Markus 4:15 steel Satan goú die saad van die Woord by dié persoon – nog voordat die diens klaar is (cf. v.12).  Paulus praat van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [Satan] die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (2 Korintiërs 4:4).

 

[2] Die oppervlakkige hart (v.13).  Daar is ‘n rotslaag vlak onder die grond.  Jy kan nie met die blote oog sien as jy ploeg en plant nie.  Omdat die grond vlak is hou dit geen vog nie, en is daar nie voldoende minerale nie.  Die saad wat daar val ontkiem dus, sodat die plant gou opgroei, maar net so gou weer vrek wanneer die woestynson daarop skyn.  Die plant se wortels kan nie diep groei nie (sien Matteus 13:6).  Hierdie persoon is iemand wat van een ervaring na die volgende spring.  Hy val byna vir enigiets wat ‘n Christen-baadjie aan het (al is dit nie regtig Bybels nie).  Hierdie persoon het nie die koste bereken en mooi gedink wat dit sal behels om ‘n Christen te wees nie (sien Lukas 14:25-33).  Hierdie is die soort persoon wat gou wegval wanneer hy vervolg word vir die Woord:  “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.” (Matteus 13:21).  Volgens v.13 het hierdie persoon vir ‘n tyd lank geglo.  Maar sy geloof was ‘n vals geloof.  Dit is die tipe geloof wat só beskryf word:

 

“En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.  Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.” (Johannes 2:23-25).

 

“En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur…Maar Petrus sê vir hom [Simon]:  Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.  Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.  Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.  Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.” (Handelinge 8:13, 20-23).

 

Jesus het gesê dat nie almal wat so ‘glo’ ware gelowiges is nie.  Johannes wys dit:  “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het:  As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” (Johannes 8:31).

 

Jesus sê dié mense “is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor” (v.13).  Die feit dat iemand emosie wys of trane het wanneer die evangelie gepreek word, beteken nie noodwendig hy is waarlik gered nie.  Moet ook nie ywer verwar met ware bekering nie.  Iemand wat gedoop is of ‘n getuienis van bekering het, maar geen vrug dra nie, is ongered.  Sy doop en getuienis beteken niks.  Die kind wat in die laerskool sy ‘hart vir die Here gegee het’ (nie ‘n term wat jy in die Bybel sal vind nie), maar al vir 20 jaar in rebellie teen God leef het nie weggedwaal (‘backslide’) nie, maar was nooit waarlik gered nie.  Johannes sê dit so:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).

 

[3] Die wêreldse hart (v.14).  ‘n Boer wat die doringbossies in sy lande afgebreek sonder om die wortels uit te trek, sal ‘n verrassing kry wanneer die gewasse begin groei.  Daar sal dorings en onkruid tussen die koring wees.  Die dorings sal die koring se sonlig en water steel, en sodoende die goeie plante verstrik.  Die ware gelowige kan nie sonder berou koring en dorings, Jesus en die wêreld in sy hart hê nie (soos die ryk jongman in 18:22-25 wat moes kies tussen Jesus en sy rykdom).  Die Bybel sê:  “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?  Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jakobus 4:4).  “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.  As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Johannes 2:15).  Kies wie jy wil dien, want God sal nie toelaat dat jy Hom én die wêreld dien nie.  Die persoon wat dorings en onkruid in sy hart het, is die tipe mens wat veel eerder op ‘n Sondag sal gaan draf, winkels toe gaan, kuier, kamp, hengel, TV kyk, en ander dinge doen, as om kerk toe te gaan.  Dis die tipe persoon wat aftree en die land vol toer, sonder om enige aandag te gee aan God, sy kerk, sy Woord, en sy mense.  Dis die soort persoon wat rykdom najaag, en bitter selfde aan God of sy dag dink.  Die gejaag na geld hou hom uit die kerk uit.  Hy sal eerder op ‘n Sondag ekstra geld wil maak as om saam met gelowiges in die kerk die wees.  Dis die tipe mens wat angstig is oor geld.  Hy wonder hoe hy die maand gaan deurkom.  Hy vertrou nie die Here nie, maar werk elke Sondag om genoeg geld bymekaar te maak.  Hierdie is die persoon wat nie vir die ewigheid lewe nie, maar net dink aan die hier en die nou.  In Jesus se woorde:  “dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.” (v.14).

 

[4] Die opregte hart (v.15).  Hierdie grond is omgespit en bemes.  Hierdie is die soort persoon wat die Woord van God hoor en verstaan:  “En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan” (Matteus 13:23).  Dis die persoon wat God se Woord in ‘n rein hart bewaar:  “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).  Dis die persoon wat aanhou om vrug te dra; wat “met volharding vrug dra.” (v.15).  Die vrug wat hy dra is die vrug van ware bekering; die vrug van die Gees: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22).  Hierdie vrug groei, omdat die persoon met Jesus verenig is deur die geloof:  “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug” (Johannes 15:5).

 

Ja, dit is so dat party Christene meer vrug dra as ander:  “die een honderd,die ander sestig—, die ander dertigvoudig.” (Matteus 13:23).  Maar selfs dié wat minder vrug dra, dra steeds die vrug van ware bekering.  Hulle goeie vrug is ‘n bewys dat die boom gesonde wortels het, dat hulle ‘n goeie hart het:  “Want dit is nie ‘n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ‘n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.  Want elke boom word geken aan sy eie vrugte.  Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie.  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” (6:43-45).  Die vraag wat jy dan eerlik vir jouself moet antwoord is dit:  Watse tipe hart het jy?  Is jy ‘n ware Christen?

Advertisements

Wat is die evangelie?

What is the gospel

Jy kan party leringstellings verkeerd verstaan en nogsteeds ‘n Christen wees (soos leerstellings oor die eindtyd, doping met die Heilige Gees, die geestelike gawes, ensovoorts).  Maar as jy die evangelie verkeerd verstaan is dit ‘n ander storie.  Die evangelie is die hart en fondasie van Christenskap (v.3, ‘in die eerste plek’).  Omdat die evangelie so belangrik is, moet ons seker maak dat ons die inhoud daarvan reg verstaan.  Wat is die evangelie?  Die evangelie is nie:

 

  • ‘Jesus is lief vir jou en wil jou vriend wees.’
  • ‘God het ‘n wonderlike plan vir jou lewe.’
  • ‘Jesus wil hê jy moet ryk, gesond en gelukkig wees.’
  • ‘Gee jou hart vir Jesus.’
  • ‘Jesus ontferm Hom oor arm mense en wil hê ons moet iets aan die situasie doen.’
  • ‘Volg Jesus se voorbeeld van liefde, diensbaarheid en opoffering wat Hy in sy lewe en kruisdood gewys het.’
  • God wil jou red en vergewe; Hy wil vir jou vrede, blydskap en lewe in oorvloed gee.’ (In hierdie laaste geval moet ons nie die evangelie-voordele met die evangelie self verwar nie).

 

Die woord ‘evangelie’ [Gk. euaggelion] beteken letterlik goeie nuus, en vertel ons hoe God versoening tussen sondaars en Homself bewerk het deur Jesus Christus (goeie nuus impliseer immers ook die slegte nuus van God se toorn oor sondaars).  Hierdie evangelie is nie deur ‘n mens uitgedink nie, maar het sy ontstaan by God self.  Daarom sê Paulus dat hy dit ‘ontvang’ het (v.3, 11:23).  In Galasiërs 1:12 sê Paulus van hierdie evangelie:  “Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus.”  Die evangelie kan in een sin opgesom word:

 

3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.” (1 Korintiërs 15).

 

Kom ons dissekteer hierdie stellings een vir een.

 

Christus het gesterf vir ons sondes (v.3)

[1] Die Persoon:  ‘Christus’ (Christus is die Griekse ekwivalent vir die Aramese woord Messias).  Christus of Messias beteken gesalfde.  In die Ou Testament is konings, profete en priesters met olie gesalf om hulle vir diens af te sonder.  Jesus is die Profeet wat God aan ons openbaar (Deuteronomium 18:18).  Hy is die Priester wat ‘n aanneemlike offer gebring het en intree vir sy volk (Psalm 110:4).  Hy is die Koning wat oor die wêreld regeer en ons teen ons vyande beskerm (Psalm 2:6).  Hy is die Seun van God (Psalm 2:7).  Hy is God self (Psalm 110:1).  Hy is die Seun van die mens (Miga 5:1-4).

 

[2] Die straf:  ‘gesterf’.  God het vir Adam gesê:  “maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Genesis 2:17).  Toe Adam gesondig het, het hy opgetree as verteenwoordiger van sy nageslag (die mensdom).  In Adam verdien almal die dood:  “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12).  Hierdie dood behels wel die fisiese dood, maar sluit ook ‘n geestelike en ewige dood in:  “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Romeine 6:23, let op dat dood hier met ewige lewe gekontrasteer word).  Jesus het die fisiese, geestelike en ewige dood namens ons gesmaak aan die kruis.  Hy het hel (die tweede dood) ervaar toe Hy aan die kruis uitgeroep het:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matteus 27:46).

 

[3] Die plaasvervanger:  ‘vir ons’.  Jesus het nooit gesondig nie en kon dus nie vir sy eie sonde gesterf het nie.  Hy is gestraf vir ons sonde.  So verduidelik die Bybel dit:

 

4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. 5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. 6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. 8 …Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom. 11 …Hy sal hulle skuld dra. 12 …terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.” (Jesaja 53).

 

“Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Romeine 3:25).  Die woord ‘versoening’ [Gk. hilasterion] beteken letterlik dat Jesus God se oordeel en toorn geabsorbeer het, sodat daar geen meer straf oorbly vir ons nie.

 

“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korintiërs 5:21).  Hier is ‘n ruiltransaksie wat plaasvind:  Jesus neem my sonde op Homself aan die kruis, en gee sy volmaakte geregtigheid aan my.

 

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang” (Galasiërs 3:13).  Hy het die straf gekry wat ons moes kry.

 

“Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.” (Hebreërs 7:26-27).  Jesus was sondeloos en volmaak.  Sy dood was dus nie vir sy eie sonde nie, maar vir ons s’n.

 

“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring” (1 Petrus 3:18).

 

[4] Die begunstigdes:  ‘ons’.  Die ‘ons’ in v.3 verwys na gelowiges.  Jesus het die straf gedra vir die sondes van sy kerk, sy skape en sy vriende (Efesiërs 5:25, Johannes 10:11, 15:13).  As jy Hom verwerp sal jy self die straf vir jou sonde dra in die hel.

 

[5] Die skuld:  ‘sondes’.  Die meervoud sondes wys daarop dat Jesus nie net een sonde van een persoon op Homself geneem het nie, maar baie sondes van baie mense.  Hy het nie net betaal vir ons sondige woorde, dade, gedagtes en gesindhede nie, maar ook vir ons sondige natuur en vir Adam se sonde as ons verteenwoordiger (erfsonde).  Petrus sê dat Hy “ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe” (1 Petrus 2:24).  Jesus is gestraf vir ons sonde, het die mag van sonde oor ons gebreek, en het gesorg dat sonde nie meer teenwoordig sal wees in die hemel nie.

 

[6] Die bewys:  ‘volgens die Skrifte’.  Die Ou Testament skadus (die offers, tabernakel, ensovoorts) en tipes (Abraham wat vir Isak moes offer) was ‘n heenwysing na Christus wat geoffer sou word.  Hoofstukke soos Psalm 22 en Jesaja 53 het voorspel dat Jesus sou sterf vir ons sondes.  Die heel eerste voorspelling van hierdie verlossing vind ons in Genesis 3:15, waar God vir Satan sê:  “…Hy [die vrou se nageslag] sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Jesus het vir die Emmaus-gangers gesê:  “O Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!  Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?  En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.” (Lukas 24:25-27).  Jesus se kruisdood was nie ‘n ongeluk, die vyand se oorwinning oor Hom, of ‘n plan-B nie.  God het van ewigheid reeds ons verlossing deur Jesus se kruisdood beplan:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:23).  ‘n Walliese prediker was deur liberale teologie verwar.  Hoe het hy reggekom?  Hy het Jesaja 53 gelees en gehoor dat dit 700 v.C. geskryf is.  Die feit dat Jesaja 700 jaar vantevore die kruisiging en opstanding tot in die fynste detail voorspel het, was genoeg om sy kop te swaai.

 

Hoe moet jy reageer op die boodskap van Jesus se kruisdood vir ons sondes?  Sing daarvan.  Prys en dank die Here daarvoor.  Vertel vir ander van wat Jesus vir jou en miljoene ander sondaars gedoen het.  Deel die evangelie boodskap.  Herdenk sy kruisdood met danksegging en eerbied in die nagmaal.  Lewe vir Hom wat vir jou gesterf het.  Is dit nie ‘n logiese reaksie op sulke wonderlike nuus nie; op so ‘n groot verlossing nie? (Romeine 12:1).

 

Christus is begrawe (v.4a)

Moslems sê dat Judas en Jesus plekke geruil het; dat Judas gekruisig is en nie Jesus nie.  Party glo dat Jesus van die kruis afgehaal is voordat Hy dood is.  Sura 4 (An-Nisa) ayat 157-158 in die Koran sê:  “That they said (in boast), ‘We killed Christ Jesus the son of Mary, the Messenger of Allah’; but they killed him not, nor crucified him, but so it was made to appear to them, and those who differ therein are full of doubts, with no (certain) knowledge, but only conjecture to follow, for of a surety they killed him not:  Nay, Allah raised him up unto Himself; and Allah is Exalted in Power, Wise”.  Dan Brown se Da Vinci Code sê dat Jesus nie dood is aan die kruis nie, maar dat Hy Indië toe is en met Maria Magdalena getrou het.  Paulus sê Jesus is begrawe.  Dit bevestig dat Hy regtig dood was.  Mense wat ontken dat Jesus regtig dood was, doen dit eintlik omdat hulle sy opstanding wil wegpraat.

 

Christus het opgestaan op die derde dag (v.4b-5)

Sommige liberale teoloë sê dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, maar dat Hy in ons harte opgestaan het.  Maar volgens v.4 is dieselfde liggaam wat begrawe is opgewek op die derde dag.  Die werkwoord ‘opgewek’ is in ‘n perfektum.  Dit beteken dat Jesus nogsteeds die opgestane Here is – Hy kan nooit weer sterf nie:  “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.” (Romeine 6:9).

 

Net sondaars sterf.  Die feit dat God vir Jesus opgewek het wys dat Hy nie vir sy eie sonde gesterf het nie – Hy was onskuldig en daarom kon die dood Hom nie vashou nie.  Deur vir Jesus uit die dood op te wek het God gewys dat Hy sy offer aanneem.  As Jesus nie opgestaan het nie was die offer nie aanneemlik nie, en is ons sondes nie vergewe nie.  Dan is ons ook nie geregverdig nie.  Indien Jesus nie opgestaan het nie, kan daar geen nuwe lewe (weergeboorte) in ons wees nie.  Waarin glo ons as Jesus nog in die graf is – ‘n dooie Jesus?  As Jesus nog in die graf is en ons sondes nie vergewe is nie, wat help dit ons doen sending en evangelisasie?  Al ons evangelie-prediking is dan tevergeefs.  Hoekom bestaan daar enigsins ‘n kerk as Jesus dood is?  Hoe kan ons nuwe liggame ontvang (opstandingsliggame) as daar geen opstanding is nie?  En watse hoop het gelowiges wat siekte en pyn ervaar as daar geen opstanding is nie?  Dan is daar ook geen troos vir gelowiges wanneer hulle geliefdes sterf nie.  Ons moet sê dat die dood, en nie Jesus nie, die oorwinnaar is.  In kort:  Christenskap is tevergeefs as Jesus nie uit die dood opgestaan het nie.  Paulus sê:  “as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.  As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (v.17-19).

 

Omdat liberale teoloë Jesus se liggaamlike opstanding ontken, moet ons sê dat liberalisme nie Christenskap is nie.  Partykeer sê mense:  ‘As ‘n ateïs verkeerd is oor God en die Bybel dan verloor hy alles as hy doodgaan.  As ‘n Christen verkeerd is oor God en die Bybel verloor hy niks as hy doodgaan nie’.  Dit is nie waar nie.  Iemand vir wie Jesus alles was, verloor baie as die evangelie net een groot leuen was.  Ek het my lewe gegee en baie opgeoffer om Jesus te volg.  Paulus sê:  “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (v.19).

 

Paulus gee twee bewyse vir die opstanding.  [1] Die Ou Testament:  ‘volgens die Skrifte’ (v.4b).  Die Skrif het Jesus se opstanding voorspel:

 

“En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.  Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.” (Jesaja 53:9-10).  Die feit dat Jesus ‘n nakroos sou sien en sy dae verleng bewys dat Hy uit die dood sou opstaan.

 

Jona se drie dae en drie nagte in die vis het gedien as ‘n tipologie van Jesus se opstanding op die derde dag:  “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.” (Matteus 12:40).

 

Jesus self het drie keer voorspel dat Hy gekruisig, begrawe en opgewek sou word.  By een geleentheid was sy woorde:  “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.” (Matteus 16:21).

 

Volgens Petrus het Dawid in Psalm 16 Jesus se opstanding voorspel:  “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.  Want Dawid sê van Hom:  Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie.  Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.  Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie.  U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig.  Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.  Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.  Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.” (Handelinge 2:24-32).

 

Die feit dat die Ou Testament die opstanding voorspel het, wys net weereens vir ons dat die Skrif akkuraat is.  En die feit dat die Skrif as ‘n bewys genoem word voor die ooggetuies van v.5-8, wys vir ons dat die Skrif die hoogste gesag is.  Abraham het immers vir die ryk man gesê:  “As hulle na Moses en die Profete [die Ou Testamentiese Skrifte] nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).

 

[2] Die Nuwe Testament:  ‘verskyn’ (v.5).  Daar was baie ander wat die opgestane Here gesien het, maar God het spesifiek die apostels gekies om ooggetuies te wees (sien Handelinge 1:22, 10:41).  Die ooggetuies het nie ‘n mirage of hologram gesien nie.  Hulle het nie gehallusineer soos iemand wat onder narkose is nie.  Hulle het Jesus voor hulle oë gesien en aan Hom gevat (Johannes 20:17, 27).  Jesus het baie keer aan mense verskyn, en daar was baie wat Hom gesien het (v.5-8, Handelinge 1:3).  Indien die opstanding iets is wat mense uitgedink het, sou een van die 500 aan wie Jesus ‘verskyn’ het (v.6) die leuen verklap het.  En sou die vroeë Christene gesterf het vir iets wat hulle geweet het nie waar is nie?

 

Hoe moet jy reageer op Jesus se opstanding?  Deel in sy opstanding deur weergeboorte – jy is saam met Hom opgewek in ‘n nuwe lewe (Efesiërs 2:5).  Vier sy opstanding op die eerste dag van die week saam met ander gelowiges (Psalm 118:24).  Bely sy begrafnis en opstanding deur die doop (Romeine 6:3-4).  Bekeer jou, glo die evangelie, vertrou op Jesus, en gehoorsaam Hom as Here.  Ken die evangelie-inhoud goed.  Verkondig die suiwer evangelie skaamteloos, en bewaar dit teen mense wat dit wil verdraai (Romeine 1:16, Galasiërs 1:8-9).  Luister gedurig na die evangelie en laat dit in jou hart brand (Ja, dit is ook vir Christene bedoel, soos Romeine 1:15 sê).  Moenie die evangelie as vanselfsprekend neem nie.  As jy dít doen en op ander dinge begin fokus, sal die ergste gebeur:  ‘The first generation believes gospel.  The second generation assumes the gospel.  The third generation denies the gospel.  If we assume the gospel we are only one generation away from denying it.’ (D.A. Carson).

Hoe om te reageer op wat Jesus vir jou doen

11 En op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samaría en Galiléa gegaan. 12 En toe Hy in ‘n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op ‘n afstand bly staan het. 13 En hulle het hul stem verhef en gesê:  Jesus, Meester, wees ons barmhartig! 14 En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle:  Gaan vertoon julle aan die priesters.  En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. 15 En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ‘n groot stem verheerlik. 16 En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank.  En hy was ‘n Samaritaan. 17 Toe antwoord Jesus en sê:  Het tien nie rein geword nie?  En waar is die nege? 18 Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie? 19 En Hy sê vir hom:  Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.” (Lukas 17).

 

Die Joodse melaatses se verkeerde reaksie (v.11-14)

 

[1] Die plek (v.11-12a)

Jesus reis vir die laaste keer Jerusalem toe (v.11, cf. 9:51-53).  Hy gaan om sy groot verlossingswerk aan die kruis te volbring.  Tog is Hy simpatiek en het Hy tyd vir tien melaatses (v.11). Wat ‘n kosbare les is dit nie?  Moenie bang wees dat jy Jesus pla wanneer jy bid of ander kleinighede met Hom deel nie.  Moet nooit dink Hy’s te besig om jou te help nie.  Hy kan en wil jou help.  Laat ons sy voorbeeld navolg, en nie toelaat dat onderbrekings in jou skedule jou irriteer of frustreer nie.  John Newton het gesê ons moet hierdie onderbrekings as Goddelike afsprake beskou.

 

[2] Die siekte (v.12b)

Net soos daar meer as een soort kanker is, is daar baie soorte melaatsheid.  Party is minder ernstig as ander.  Die melaatsheid wat hierdie tien mans gehad het lyk ernstig.  Hulle desperate uitroep in v.12, en die feit dat hulle van die samelewing afgesny is (hulle is buite die dorp) wys dit.  Die tipe melaatsheid wat hulle gehad het staan in ons dag bekend as Hansen’s Disease.  Dit word veroosaak deur bakterieë wat die vel en senuwees aanval, sodat jy geen gevoel meer het nie.  Jy sal nie eers agterkom as jy in ‘n stuk glas trap, of jou hand op ‘n vuurwarm stoofplaat brand nie.  Die bakterieë val jou beenmurg aan.  Die bloedtoevoer na jou vingers en tone word feitlik afgesny.  Jou vingers en tone word letterlik deur jou liggaam geabsorbeer.  Die siekte kan blindheid veroorsaak.  Een melaatse man het elke oggend sy gesig met warm water afgespoel.  Hy kon nie voel dat die water kokend warm was nie, en het só sy sig verloor.  Die slagoffer se tande val ook uit, en sy stembande verswak, sodat hy met rasperagtige klanke praat.  Gewasagtige swelsels en sere vorm op sy liggaam.  Die etter wat uit hierdie wonde uitloop gee ‘n verskriklike stank af.  Die swelsels op sy oogbanke maak dat sy gesig soos ‘n leeu s’n lyk.  Die persoon se vel begin kleur verloor, word dik en voel skubberig.

 

Die siekte is aansteeklik deur kontak met die persoon of sy klere (daarom die streng voorskrifte in Levitikus 13:47-59).  ‘n Mens kan ook aangesteek word as hy die bakterieë inasem.  Melaatsheid kan hele dorpe en samelewings uitwis.  Daarom moes siekes op ‘n afstand buite die kamp bly:  “…wat op ‘n afstand bly staan het.” (v.12).  “Verder moet in die klere van die melaatse op wie die plaag is, skeure wees, en sy hare moet los hang; ook moet hy sy baard bedek en roep:  Onrein, onrein!  Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees.  Onrein is hy; alleen moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees.” (Levitikus 13:45-46).  Dié siekte het vreeslike eensaamheid veroorsaak.  Die siek persoon kon nie deur vriende of familie besoek word nie.  Daarom troos hierdie tien melaatses maar mekaar.  In sommige gevalle was melaatsheid God se straf op mense (Numeri 12:9-15, 2 Konings 5:25-27, 2 Kronieke 26:16-23).  In onlangse jare (1982) is daar ‘n teenmiddel ontwikkel, maar arm derde wêreld lande het steeds geen hoop nie.

 

[3] Hulle begeerte (v.12b-13)

Die melaatses se desperate uitroep wys dat hulle ‘n begeerte het om gesond te word.  Omdat die siekte hulle stembande aantas, verhef hul hulle stemme wanneer Jesus verbykom.  Hulle ken sy Naam en weet dat Hy ‘n Meester is.  Hulle glo Hy is simpatiek en kan help (v.13).  Jesus sien hulle:  “…toe Hy hulle sien…” (v.14).  Hy is oplettend.  Hy merk op watse aaklige effek die siekte op hulle het.  Hy kyk met deernis; byna soos in Markus 1:40-41:  “En daar kom ‘n melaatse na Hom toe wat Hom smeek en voor Hom op die knieë val en vir Hom sê:  As U wil, kan U my reinig.  En Jesus het vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê:  Ek wil, word gereinig!”  Jesus sien ook met deernis op joú siekte of diepe lyding.  Wees soos die melaatses en roep tot Hom.  Indien jy nié siek is of diep lyding ervaar nie:  Wees sensitief soos Jesus en sien ander se behoeftes raak.

 

[4] Hulle gehoorsaamheid (v.14a)

Die feit dat die melaatses Jesus se instruksies gehoorsaam (‘Gaan vertoon julle aan die priesters’) is ‘n bewys van hulle geloof.  Die volgende verse leer dieselfde les:

 

“En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar ‘n man vol van melaatsheid; en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê:  Here, as U wil, kan U my reinig.  Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê:  Ek wil, word gereinig! En dadelik het die melaatsheid hom verlaat.  Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe het, vir hulle tot ‘n getuienis.” (5:12-14).

 

“Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ‘n jong seun, en hy het rein geword.” (2 Konings 5:14).

 

“Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.” (Johannes 2:5).

 

[Jesus] sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word:  Uitgestuur.  En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.” (Johannes 9:7).

 

Bewys dat jy Jesus se Woord glo deur te doen wat Hy sê.  Jesus se opdrag aan die melaatses was dat hulle hulself aan die priesters moes gaan toon.  Reeds in Levitikus 14 het God hierdie opdrag aan melaatses gegee.  Die gereinigde melaatse moes twee voëls saam met sederhout, rooi gare, en ‘n hissoptak vir die priester vat.  Die priester het een van die voëls oor ‘n kleipot vol skoon water geslag.  Daarna het hy die lewende voël, saam met die hout, rooi gare, hissoptak in die water en dooie voël se bloed gedoop (Johannes 19:34 en Hebreërs 10:22 gebruik water en bloed as simbool van die reiniging van sonde).  Die priester het die bloed sewe keer oor die melaatse gesprinkel.  Daarna het hy die lewende voël laat wegvlieg as ‘n simbool dat die melaatse vry is van sy siekte en kwarentyn.  Die gereinigde sieke moes sy klere was, hare afskeer, en ‘n bad neem.  Hy het vir sewe dae buite sy tent geslaap, om te wys dat God volkome reinheid vereis voordat iemand deel van sy volk kon wees (cf. 2 Korintiërs 7:1 vir die Nuwe Testamentiese ekwivalent).  Op die sewende dag het die persoon weer al sy hare afgeskeer (ook sy baard en ooghare).  Op die agste dag moes hy drie volmaakte lammers vir die priester bring (twee mannetjies en een wyfie), asook koring, meel, en olie.  Die priester het verskeie offers gebring.  Hy het bloed en later olie op die persoon se regteroor, regterduim, en regtergroottoon gesit.  Dit het uitgebeeld dat die persoon se oor oop was om na God se Woord te luister, en dat sy hande en voete gereed was om dit uit te voer.  Die priester het die persoon vol olie gesprinkel en die res op sy kop uitgegooi (die olie was ‘n simbool dat God die persoon reinig en spesiaal afsonder vir genesing, cf. Jakobus 5:14).

 

Die Nuwe Testamentiese priesters was Jesus se vyande.  Hulle het nie van Hom gehou nie.  Toe Hy dus die geneesde melaatses na hulle toe stuur, sou hulle sy mag nie kon ontken nie.

 

Glo Jesus se Woord.  Bewys jou geloof deur te doen wat Hy sê.  Moenie vir ‘n wonderwerk wag voordat jy luister nie.  Baie dikwels wil ons eers sien dat alles in plek val voordat ons luister.  Dis nie geloof nie.  Geloof is om te doen wat Jesus beveel, al sien jy nie die uitkoms nie.

 

[5] Hulle genesing (v.14b)

Lukas was ‘n mediese dokter (Kolossense 4:14).  Hy verstaan die erns van ‘n siekte soos melaatsheid.  In hierdie teks verhef hy Jesus, die groot Geneesheer.  Jesus spreek net ‘n woord, en oomblikke later is hulle gesond.  In die Ou Testament het God deur Elisa ‘n melaatse genees.  Lukas wys hier dat Jesus ‘n profeet (die Profeet) is.  Elisa se melaatse pasiënt het gesond geword nadat hy in die Jordaanrivier gaan bad het (2 Konings 5:10).  Maar Jesus se melaatse pasiënte word genees op sy Woord (v.14, cf. Matteus 8:8, 16).  Lukas wys dus vir ons dat Jesus groter is as Elisa.  As Hy wil, kan Jesus steeds ‘n woord spreek en wonders doen.  Natuurlik kan Hy nogsteeds genesing bring vir mense wat baie siek is.  Maar Hy kan veel meer doen:  Hy kan jou reinig van jou sonde.  Johannes evangelie en Romeine sal vir jou sê hoé Hy dit doen.

 

Die Samaritaanse melaatse se regte reaksie (v.15-19)

 

[1] Sy lof (v.15-16a)

Toe God vir koning Hiskia (of Jehiskia) van sy siekte genees het, het hy nagelaat om dankie te sê:  “In dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die HERE gebid, en Hy het met hom gespreek en hom ‘n wonderteken gegee.  Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword.  Daarom was daar ‘n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem.  Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie.” (2 Kronieke 32:24-26).

 

Toe Jesus die Samaritaanse melaatse gesond maak, het hy nie vergeet om dankie te sê nie.  Toe hy sien hy’s genees, het hy nie na die priesters toe gegaan nie, maar omgedraai om die ware Priester te dank (v.15).  Volg sy voorbeeld en erken Jesus as die ware Priester:  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:15-16).  “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.  Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het” (Hebreërs 7:25-26).

 

Lukas skryf:  “En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ‘n groot stem verheerlik.  En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom [Jesus] gedank.” (v.15-16a).  Die feit dat die teks sê hy het God geprys en Jesus gedank, wys vir ons dat hy Jesus as God erken.  Die man buig voor Jesus se voete.  Wat beteken dit anders as dat hy glo Jesus is God?  Die Bybel sê:

 

“Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God…” (Eksodus 20:5). 

 

“En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie [Jesus] by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys.” (Matteus 2:11). 

 

“Toe sê hy:  Ek glo, Here!  En hy het Hom [Jesus] aanbid.” (Johannes 9:38).

 

“U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openbaring 4:11). 

 

Die Griekse teks sê hierdie man het aangehou om Hom te loof en te dank (dankie…dankie…dankie…dankie…dankie…).  Die man het God met ‘n harde stem geprys.  Dit is indrukwekkend – veral as jy daaraan dink dat die siekte sy stembande erg aangetas het.  Die man staan nie meer op ‘n afstand nie (v.12), maar buig hom nou neer – reg voor Jesus se voete (v.16).  Die feit dat hy op sy gesig is wys dat sy lofprysing nie ligsinnig is nie, maar hy vrees God (v.16).  Wat Psalm 2:11 sê was waar van hom:  “Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.”

 

Moenie vergeet om die Here te dank en te loof nie:  “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!” (Psalm 103:2).  As jy vir die Here vra om jou gesond te maak, vir jou kinders of ‘n huweliksmaat te gee, jou van werk te voorsien, en jy belowe:  ‘Here, as U my beantwoord sal ek vir ander van U vertel, meer getrou dien, en my kinders Sondagskool toe vat’, moet jy nie vergeet om jou beloftes te hou nie.  Moenie dat God se gawes van werk, kinders, gesondheid jou weghou van die Gewer en sy gemeente nie.  Dit is baie maklik om toe te laat dat God se gawes jou van Hom af weghou.  Wanneer die Here vir jou gesondheid, ‘n werk of kinders gee, word dít dikwels die rede hoekom jy eweskielik nie meer tyd spandeer met God en sy mense nie.  Moenie dat dit met jou gebeur nie.  Prys en dank Hom eerder met lofsang, deur jou getuienis, in gebed, of deur jou offergawes.  “Die een wat dank offer, eer My…” (Psalm 50:23).

 

[2] Sy volk (v.16b-18)

Die Jode het die Samaritane as onrein basters beskou (Johannes 8:48).  Hulle het met ander volke ondertrou en was nie meer suiwer Jode nie (sien 2 Konings 17).  Jode sou nie met Samaritane meng nie (Johannes 4:9).  Hierdie Samaritaan se eie mense het hom uitgewerp en na die haatlike Jode toe gestuur.  Hier genees Jesus ‘n onrein Samaritaan.  Ja, Hy het eerste vir die Jode gekom (Matteus 10:5, 15:24).  Maar Hy het ook verlossing gebring vir die Samaritane (v.16b, Handelinge 1:8).

 

Hierdie melaatse Jode was verteenwoordigend van die res van die volk:  hulle het die wet uiterlik gehou (v.14), maar geen innerlike godsdiens en aanbidding gehad nie, en uiteindelik hulle Messias gekruisig (v.18).  Psalm 106:13 was ook waar van hiérdie geslag:  “Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie.”  Die Samaritane en heidene, daarenteen, het die Messias en Verlosser geprys:  “Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?” (v.18).  “Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê:  Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.” (Matteus 8:10).  “Toe antwoord Jesus en sê vir haar [‘n Kanaänitiese vrou]:  O Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.  En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.” (Matteus 15:28).

 

God seën die mens met soveel oorvloed, maar steeds bly ons ondankbaar – asof Hy ons dit skuld; asof ons dit verdien.  Ons materialistiese samelewing en negatiewe koerante moedig ons aan om te kla; om ondankbaar te wees.  Daar is baie min (1 uit 10 in hierdie geval) mense wat dankbaar is.  Leer om die Here te dank vir wat jy het, eerder as om te kla oor wat jy nié het nie.

 

[3] Sy redding (v.19)

Ek weet van ‘n man wat baie nors en ondankbaar was.  Toe hy tot bekering gekom het, het in ‘n dankbare persoon verander.  Dankbaarheid is een bewys van ons nuwe lewe in Christus.  Meet jou eie redding aan die dankbaarheid van jou hart:  Gee jy gereeld uit ‘n dankbare hart vir die Here se werk?  Dank jy Hom gereeld in gebed en lofsang?  Die Skrif sê:

 

“…hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem.” (Jesaja 29:24).

 

“omdat hulle [mense wat weet God bestaan, maar Hom ontken], alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie” (Romeine 1:21).

 

“werk julle eie heil uit met vrees en bewing… Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:12, 14-15).  Hierdie teks oor murmurering (v.14) staan tussen ‘n vers oor verlossing (v.12) en een oor ons getuienis as Christene (v.15).  Die punt is duidelik:  as ons murmureer is ons nie effektief besig om ons verlossing uit te werk nie, en skaad ons ons Christelike getuienis.

 

“Hulle [die vals leraars] is murmureerders wat oor hul lot klae…” (Judas 16).

 

Hierdie man het nie net ‘n nuwe, rein, en gesonde liggaam gekry nie, maar ook ‘n nuwe hart:  “En Hy sê vir hom:  Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.” (v.19).  Ek twyfel nie dat hy vir sy mense van Jesus vertel het toe hy by die huis gekom het nie.  Moenie soos die Joodse melaatses wees wat Jesus se gawes geniet het, sonder om Hóm te aanbid nie.  Vind eerder jou skat in Hom deur die evangelie:  “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.  Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Matteus 13:44-46).  “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:7-9).  Dank en loof Hom – veral deur vanoggend se dankoffer.