Wat is ‘n Christen?

Question mark road sign

Hierdie is ‘n baie belangrike vraag, want Jesus sê party mense dínk hulle is Christene, maar sal op die oordeelsdag uitvind hulle was nie:  “Nie elkeen wat vir My sê:  Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  Baie sal in daardie dag vir My sê:  Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê:  Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matteus 7:21-23).  Die Bybel beveel:  “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5).

 

Martyn Lloyd-Jones vertel van ‘n ou tannie wat vir jare lidmaat van ‘n sekere gemeente was.  Sy het ‘n aangename karakter gehad en ‘n voorbeeldige lewe gelei.  Die predikant en die res van die gemeente het almal aangeneem dat sy ‘n Christen was.  Maar sy was nie.  “This idea that, because people are members of the church and attend regularly, they must be Christian is one of the most fatal assumptions, and I suggest that it mainly accounts for the state of the church today.” (Iain Murray; D. Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1982; pp.270-271).

 

Mense word Moslems of Hindus deur geboorte.  Maar ‘n mens word nie ‘n Christen deur geboorte nie.  Jy is nie ‘n Christen omdat jou ouers Christene was nie.  Jy is nie ‘n Christen omdat jy gedoop is, die Tien Gebooie probeer onderhou, lidmaat van ‘n kerk is, die sondaarsgebed gebid het, gereageer het op ‘n uitnodiging (‘altar call’), ‘n getuienis het dat jy jou hart vir die Here gegee het of in tale gepraat het nie.  Dit is ‘n verkeerde definisie van Christen-wees om te sê:  ‘Alle paaie lei na die hemel – solank ‘n mens opreg is.’  Of om te sê:  ‘Ek het lankal my hart vir die Here gegee.  Ek weet ek leef nie soos ek behoort nie, maar dit is tog so dat as jy eenkeer gered is, jy altyd gered is.’

 

Mense se definisies van wat ‘n Christen is tel nie veel nie.  Wat sê Jesus, die outeur van Christenskap, oor die saak?

 

11 Dit is dan die gelykenis:  Die saad is die woord van God. 12 Dié langs die pad is die hoorders.  Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. 13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. 14 En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie. 15 En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” (Lukas 8).

 

Kom ons bekyk die verse van nader om te sien wat ‘n Christen werklik is.

 

‘n Christen is iemand wat deur God verander is (v.11a)

Jesus het baie duidelik gepreek, sodat mense kon verstaan.  Hy het vir hulle ‘n kans gegee om hulle te bekeer.  Maar mense wou nie na sy boodskap luister nie.  Daarom het Hy besluit om in gelykenisse te praat.  Sodoende het Hy die waarheid weggesteek vir die massas.  Net die mense aan wie Hy die gelykenisse verduidelik het, sou nou sy lering kon verstaan.  Lukas sê:  “En [Jesus] antwoord [sy dissipels]:  Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie…In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê:  Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (v.10, 10:21-22).

 

Die les is dit:  niemand word ‘n Christen deur sy eie toedoen nie.  Dit verg ‘n bonatuurlike werk van God vir iemand om ‘n Christen te word.  Dink maar aan Paulus:  hy het nie ‘n Christen geword, omdat hy skielik besluit het hy wil verander nie.  Dit was ‘n bonatuurlike werk van God (sien Handelinge 9:1-18).  Beide Efesiërs 1 en 2 wys dat verlossing geheel en al God se werk is.  Ander verse in die Bybel sê:

 

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44).

 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16).

 

Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:31).  Nie net vergifnis nie, maar selfs bekering is God se geskenk aan jou.

 

“die Here het haar [Lidia] hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” (Handelinge 16:14).

 

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:29-30).  In hierdie verse sê Paulus dat Gód ons uitverkies, vooruit bestem, geroep, geregverdig en verheerlik het.  Verlossing is sý werk – van begin tot einde.

 

“omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly” (Filippense 1:29).  Selfs die geloof wat jy het kom van God af.

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het” (1 Petrus 1:3).  Wedergeboorte is nie iets wat ons kies nie, maar iets wat God in ons bewerk.

 

Die grond in die gelykenis van die saaier kan ‘homself’ nie verander nie.  Die saaier kan nie groei veroorsaak of die grond verander nie.  Dit is Gód wat laat groei:  “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.  So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.” (1 Korintiërs 3:6-7).  Net die Hemelse Landbouer (God) kan die grond effektief omspit en ‘n bonatuurlik werk van verandering meebring.  Daarom is dit so belangrik dat jy vir die prediking van God se Woord moet bid.  Jy moet jou hart voorberei wanneer jy die Woord gaan hoor.  Doen dit onder meer deur:

 

  • Vroeg te gaan slaap op Saterdae, en nie laat wakker te bly sodat jy nie jou oë kan oophou in die kerk nie.
  • Die Skrif te oordink.
  • Die preek in jou eie lewe toe te pas en te gehoorsaam.
  • Nie jou gedagtes te laat dwaal nie, maar aandag te gee wanneer daar gepreek word.

 

‘n Christen is iemand wat die evangelie glo (v.11b)

Indien daar plante is wat slegte vrug dra, is dit nie die saaier se skuld nie (alhoewel dit kán wees as ‘n prediker nie die suiwer Woord met krag verkondig nie).  Dit is ook nie die saad se skuld nie, want die saad is die Woord van God (v.11b).  Die fout lê by die tipe grond – die persoon se hart.  Indien die prediker die Woord reg preek en daar geen effek is nie, is dit nie hý wat moet verander of ‘n ander tipe boodskap moet preek nie.  Dit is nie hý wat by die gehoor moet aanpas nie.  Die prediker se opdrag in die Bybel is duidelik:  hy moet net getrou wees en die suiwer saad van die Woord strooi.  Soos reeds gewys is die saad die Woord van God; die evangelie van Jesus Christus (v.11b, sien 1 Petrus 1:23, 25).  Die Christen is iemand wat hierdie evangelie glo:  die evangelie dat Jesus gekruisig is vir sondaars, begrawe is, en opgestaan het op die derde dag (sien 1 Korintiërs 15:3-4).  Die Christen glo nie net die evangelie-feite nie, maar vertrou volkome op wie Jesus is (God en mens, Here en Verlosser) en wat Hy vir ons gedoen het.  Die Christen bekeer hom van sy sonde en lewe nou in gehoorsaamheid aan Jesus.

 

‘n Christen is iemand wat aanhou vrug dra (v.12-15)

Jesus beskryf vier tipes harte, waarvan net een aanhou vrug dra – dís die ware Christen.

 

[1] Die harde hart (v.12).  Tussen die landerye is daar voedpaadjies.  Omdat mense baie daarop loop word die grond vasgetrap en hard (v.5).  Wanneer die saad op die paadjie val of deur die wind daarheen gewaai word, pik die voëls dit op.  Net soos die saad nie eers hierdie grond kan penetreer nie, vind die Woord geen ingang in die harde hart nie.  Só ‘n persoon is iemand wat nie die Woord aanneem nie, maar alewig die prediking van God se Woord kritiseer.  Hierdie persoon slaap of laat sy gedagtes dwaal tydens die preek.  Hy hou nie daarvan wanneer die Woord gepreek word, of wanneer die prediker sy geliefde sonde aanspreek nie.  Hy het geen droefheid oor sonde nie.  Hy wens die preek wil klaarkry.  Hy is die tipe persoon wat kerktoe kom om huistoe te gaan.  Volgens Markus 4:15 steel Satan goú die saad van die Woord by dié persoon – nog voordat die diens klaar is (cf. v.12).  Paulus praat van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [Satan] die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (2 Korintiërs 4:4).

 

[2] Die oppervlakkige hart (v.13).  Daar is ‘n rotslaag vlak onder die grond.  Jy kan nie met die blote oog sien as jy ploeg en plant nie.  Omdat die grond vlak is hou dit geen vog nie, en is daar nie voldoende minerale nie.  Die saad wat daar val ontkiem dus, sodat die plant gou opgroei, maar net so gou weer vrek wanneer die woestynson daarop skyn.  Die plant se wortels kan nie diep groei nie (sien Matteus 13:6).  Hierdie persoon is iemand wat van een ervaring na die volgende spring.  Hy val byna vir enigiets wat ‘n Christen-baadjie aan het (al is dit nie regtig Bybels nie).  Hierdie persoon het nie die koste bereken en mooi gedink wat dit sal behels om ‘n Christen te wees nie (sien Lukas 14:25-33).  Hierdie is die soort persoon wat gou wegval wanneer hy vervolg word vir die Woord:  “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.” (Matteus 13:21).  Volgens v.13 het hierdie persoon vir ‘n tyd lank geglo.  Maar sy geloof was ‘n vals geloof.  Dit is die tipe geloof wat só beskryf word:

 

“En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.  Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.” (Johannes 2:23-25).

 

“En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur…Maar Petrus sê vir hom [Simon]:  Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.  Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.  Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.  Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.” (Handelinge 8:13, 20-23).

 

Jesus het gesê dat nie almal wat so ‘glo’ ware gelowiges is nie.  Johannes wys dit:  “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het:  As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.” (Johannes 8:31).

 

Jesus sê dié mense “is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor” (v.13).  Die feit dat iemand emosie wys of trane het wanneer die evangelie gepreek word, beteken nie noodwendig hy is waarlik gered nie.  Moet ook nie ywer verwar met ware bekering nie.  Iemand wat gedoop is of ‘n getuienis van bekering het, maar geen vrug dra nie, is ongered.  Sy doop en getuienis beteken niks.  Die kind wat in die laerskool sy ‘hart vir die Here gegee het’ (nie ‘n term wat jy in die Bybel sal vind nie), maar al vir 20 jaar in rebellie teen God leef het nie weggedwaal (‘backslide’) nie, maar was nooit waarlik gered nie.  Johannes sê dit so:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.” (1 Johannes 2:19).

 

[3] Die wêreldse hart (v.14).  ‘n Boer wat die doringbossies in sy lande afgebreek sonder om die wortels uit te trek, sal ‘n verrassing kry wanneer die gewasse begin groei.  Daar sal dorings en onkruid tussen die koring wees.  Die dorings sal die koring se sonlig en water steel, en sodoende die goeie plante verstrik.  Die ware gelowige kan nie sonder berou koring en dorings, Jesus en die wêreld in sy hart hê nie (soos die ryk jongman in 18:22-25 wat moes kies tussen Jesus en sy rykdom).  Die Bybel sê:  “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie?  Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Jakobus 4:4).  “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.  As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Johannes 2:15).  Kies wie jy wil dien, want God sal nie toelaat dat jy Hom én die wêreld dien nie.  Die persoon wat dorings en onkruid in sy hart het, is die tipe mens wat veel eerder op ‘n Sondag sal gaan draf, winkels toe gaan, kuier, kamp, hengel, TV kyk, en ander dinge doen, as om kerk toe te gaan.  Dis die tipe persoon wat aftree en die land vol toer, sonder om enige aandag te gee aan God, sy kerk, sy Woord, en sy mense.  Dis die soort persoon wat rykdom najaag, en bitter selfde aan God of sy dag dink.  Die gejaag na geld hou hom uit die kerk uit.  Hy sal eerder op ‘n Sondag ekstra geld wil maak as om saam met gelowiges in die kerk die wees.  Dis die tipe mens wat angstig is oor geld.  Hy wonder hoe hy die maand gaan deurkom.  Hy vertrou nie die Here nie, maar werk elke Sondag om genoeg geld bymekaar te maak.  Hierdie is die persoon wat nie vir die ewigheid lewe nie, maar net dink aan die hier en die nou.  In Jesus se woorde:  “dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.” (v.14).

 

[4] Die opregte hart (v.15).  Hierdie grond is omgespit en bemes.  Hierdie is die soort persoon wat die Woord van God hoor en verstaan:  “En by wie op die goeie grond gesaai is—dit is hy wat die woord hoor en verstaan” (Matteus 13:23).  Dis die persoon wat God se Woord in ‘n rein hart bewaar:  “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).  Dis die persoon wat aanhou om vrug te dra; wat “met volharding vrug dra.” (v.15).  Die vrug wat hy dra is die vrug van ware bekering; die vrug van die Gees: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22).  Hierdie vrug groei, omdat die persoon met Jesus verenig is deur die geloof:  “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug” (Johannes 15:5).

 

Ja, dit is so dat party Christene meer vrug dra as ander:  “die een honderd,die ander sestig—, die ander dertigvoudig.” (Matteus 13:23).  Maar selfs dié wat minder vrug dra, dra steeds die vrug van ware bekering.  Hulle goeie vrug is ‘n bewys dat die boom gesonde wortels het, dat hulle ‘n goeie hart het:  “Want dit is nie ‘n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie ‘n slegte boom wat goeie vrugte dra nie.  Want elke boom word geken aan sy eie vrugte.  Van dorings pluk ‘n mens tog nie vye nie, en ‘n mens sny ook nie druiwe van ‘n doringbos nie.  Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” (6:43-45).  Die vraag wat jy dan eerlik vir jouself moet antwoord is dit:  Watse tipe hart het jy?  Is jy ‘n ware Christen?

Advertisements