Iets om te onthou as jy kerk toe kom

Sunlight on worshippers

1 Die HERE is Koning; laat die volke bewe!  Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder! 2 Die HERE is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. 3 Laat hulle u grote en gedugte Naam loof!  Heilig is Hy! 4 Ook die sterkte van die Koning wat die reg liefhet. U het bevestig wat regverdig is; U het reg en geregtigheid gedoen in Jakob. 5 Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete.  Heilig is Hy! 6 Moses en Aäron was onder sy priesters, en Samuel onder die aanroepers van sy Naam.  Hulle het die HERE aangeroep, en Hy het hulle verhoor. 7 In die wolkkolom het Hy met hulle gespreek.  Hulle het sy getuienisse onderhou en die insetting wat Hy hulle gegee het. 8 O HERE onse God, U het hulle verhoor, U was vir hulle ‘n vergewende God en Een wat wraak oefen oor hulle dade. 9 Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor sy heilige berg.  Want heilig is die HERE onse God.”

(Psalm 99).

God is ‘n heilige Koning (v.1-3)

Die invloed van die charismatiese beweging en ‘slain in Spirit’ het daartoe gelei dat ons in moderne aanbidding min verstaan van die vrees vir die Here.  Ons verstaan nie God se heiligheid nie, en daarom reageer ons nie met vrees nie (v.3).  “sy Naam is heilig en vreeslik.” (111:9).  Ons moet verstaan dat God die soewereine Koning is; die volke vrees en aanbid Hom (v.1-3).  God is groot in Sion (v.2).  Jesaja sê:  “Juig en jubel, o inwoners van Sion!  Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.” (Jesaja 12:6).  Vir die Jode was God se Naam so heilig, dat hulle dit nie wou uitspreek nie.  Soos Aslan se naam in C.S. Lewis se Chronicles of Narnia, wek God se Naam vrees.  God is heilig.  Die aarde sidder voor Hom (v.1, Eksodus 19-20, Jesaja 6:4).

God troon bo die gerubs.  Op die versoendeksel van die ark was daar twee gerubs om te wys dat God bo die gerubs troon (v.1, Eksodus 25:22, 1 Samuel 4:4).  Esegiël 1:26 sê dat die Seun van God se troon bo die gerubs is:  “En bokant die uitspansel wat oor hulle [die gerubs] hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het.”  Soos wat daar ‘n gerub op elke kant van die ark was, was daar ‘n engel aan elke kant van Jesus se graf (Johannes 20:12).  Dit wys vir ons dat Jesus die God van Psalm 99:1 is wat bo die gerubs troon.

Die feit dat God bo die gerubs op die ark troon beklemtoon sy heiligheid.  Die ark was so heilig dat enige persoon wat dit gesien het of daaraan geraak het, sou sterf.

“En Hy het onder die mense van Bet-Semes ‘n slagting aangerig; Hy het naamlik onder die volk sewentig man en vyftig duisend man gedood, omdat hulle die ark van die HERE bekyk het; en die volk het getreur, omdat die HERE ‘n groot slagting onder die volk aangerig het.  Toe sê die manne van Bet-Semes:  Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God?  En na wie toe sal Hy optrek van ons af?” (1 Samuel 6:19-20).  God het uitdruklik gesê dat enigiemand wat na die ark gekyk het, sou sterf (Numeri 4:20).  Hulle was ongehoorsaam.

“En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.  Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.” (2 Samuel 6:6-7).  Dit klink baie wreed.  Hoekom het God hom sommer so doodgemaak?  Hy wou dan net keer dat die ark nie van die ossewa sou afval nie?  Ussa het geweet dat hulle die ark met pale moes dra en nie op ‘n wa moes sit nie, maar hy was ongehoorsaam (1 Kronieke 15:2, 13-15).  Ussa sou van kleins af geleer het dat hy nooit, nooit, nooit, nooit, NOOIT aan die troon van God (die ark) mag geraak het nie (Numeri 4:15).  Wat het buitendien vir Ussa laat dink dat sy hand reiner was as die grond?

Hoe lyk God-vresende aanbidding?  Hier is ‘n paar kenmerke:

  • Erns oor ewige en geestelike dinge.  Moet egter nie erns met somberheid verwar nie.  Ons moet God met blydskap dien en juig met vrees en bewing (100:1-2, 2:11).
  • Die musiek en die metode van prediking moenie ‘n atmosfeer van disrespek skep nie; ‘n atmosfeer waarin vrees vir God gedemp word.
  • Liede se woorde moenie die indruk gee dat God ons ‘buddy’ is nie.  Die lirieke moet bely dat Hy groot en heilig is.
  • Moenie met ‘n koue hart aanbid nie.  Laat die waarheid van God se Woord jou hart beweeg.
  • Moenie wens die diens wil klaar kry, sodat jy by die huis kan kom nie.  Wag op die Here.  Kom met ‘n verwagting om Hom te ontmoet.
  • Bid dat die erediens Christus-gesentreerd sal wees.  God word nie geëer as sy Seun nie verheerlik word nie.
  • Vra die Heilige Gees se hulp om met ‘n God-vresende gesindheid te aanbid.
  • Aanbid God volgens sy voorskrifte in die Bybel.  Mense wat nie omgee oor hoe Gód aanbid wil word nie, vrees Hom nie.
  • Moenie mens-gesentreerd wees in jou aanbidding nie.
  • Erken jou sondigheid en God se heiligheid.
  • Aanbid God vir wie Hy is (heilig volgens v.3, 5, 9) en nie net vir wat Hy vir jou doen nie.

Wat kan jy doen om God so te aanbid?  Bid:  ‘Laat U Naam geheilig word’ (Matteus 6:9).  Sorg dat jy God beter ken deur gebed, sy Woord, goeie Christelike boeke en preke (soos The Holiness of God deur R.C. Sproul).  Spandeer tyd met heilige mense – dit sal jou lei om groter eerbied hê vir God se heiligheid.  Moenie twee minute voor die erediens instorm nie.  Sorg dat jy jou hart voorberei het vir die erediens.  Ook wanneer die diens klaar is, moet jy die boodskap goed deurdink.  Moenie dadelik net huistoe jaag of oor ander dinge begin gesels nie.  Leef heilig asof jy altyd in God se teenwoordigheid is (want jy is).  Moenie dat jou gedagtes dwaal nie, maar fokus jou denke op die liede se woorde, die gebede, die Skriflesing en die prediking.  Berei jou eie hart voor vir die nagmaal deur te dink oor die betekenis daarvan en deur jou sonde te bely.

God is ‘n heilige Regter (v.4-5)

Die kommuniste misbruik hulle mag:  hulle onderdruk die volk en verryk hulleself.  God het alle mag, maar gebruik dit om reg en geregtigheid te laat geskied (v.4).  “Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE.” (33:5).  Psalm 146:7 praat van God “wat aan die verdruktes reg doen, wat aan die hongeriges brood gee. Die HERE maak die gevangenes los.”  Jesaja voorspel oor die Messias:  “Want Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal hulle getrou hul loon gee en ‘n ewige verbond met hulle sluit.” (Jesaja 61:8).  God wys sy reg en geregtigheid deurdat Hy nie toelaat dat sonde wegkom nie.  Hy straf sonde en help die verdrukte.  God se geregtigheid is ‘n uitdrukking van sy heiligheid.  God kyk nie deur sy vingers na onreg nie.  Hy straf alle sonde:  óf aan die kruis óf in die hel.  God het sy geregtigheid gewys toe Jesus die wet namens ons onderhou het (God sou nie toelaat dat sy wet aanhoudend deur ons ontheilig word nie) en toe Hy namens ons die straf vir ons wetsoortreding gedra het (God sou nie toelaat dat wetsoortreders ongestraf bly nie). 

‘n Paar weke gelede het ek die evangelie met ‘n Wicca (‘wit heks’) gedeel.  Sy het gesê dat hulle met toordery misdadigers ‘bykom’ en het gevra hoekom ons Christene nie wraak neem nie.  My antwoord was, omdat die reg in God se hande is; sal wraak neem.  Die Bybel sê:  “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe:  Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Romeine 12:19).  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.” (37:5-6).  God is heilig en sal sorg dat geregtigheid geskied.  Hý sal die onreg wat in ons land en wêreld plaasvind, straf:  plaasmoorde, verkragting, die korruptheid van politieke leiers, die oneerlikheid van polisie beamptes, die verdraaiing van die reg deur magistrate en prokureurs.  Verhef God hiervoor.  Doen dit deur lofsang, deur die onderhouing van sy heilige wet, deur jou neer te buig voor sy voetbank/tempel (v.5, Levitikus 19:2, 1 Kronieke 28:2).  Uiteindelik sal selfs God se vyande die knie voor Hom moet buig (110:1, Filippense 2:9-11).

God is ‘n heilige Vader (v.6-9)

Moses, Aäron en Samuel was priesters wat ingetree het vir die volk.  God het hulle gebede beantwoord (v.6, Eksodus 32:11-14, 30, Numeri 16:47-48, 1 Samuel 7:9).  God het in die wolkkolom met Moses en Aäron gepraat (v.7, Eksodus 33:9, Numeri 12:5).  Hy het dit so gedoen, sodat die volk nie sy heerlikheid sou sien nie.  God het sy wet vir Moses en Aäron gegee, en hulle het dit gehoorsaam (v.7).  Toe hulle ongehoorsaam was, het God hulle gestraf (Numeri 20:12, Deuteronomium 9:20).  Toe hulle vergifnis gevra het, het God vergewe (v.8, Numeri 14:20).  Watse lesse kan ons uit al hiedie dinge leer?  Daar is ‘n paar.

[1] Deur Jesus (ons hoëpriester) kan jy soos Moses, Aäron en Samuel met vrymoedigheid tot die heilige God nader.  Twee keer in v.8-9 praat die psalmis van ons God.  Die Hebreërskrywer sê:  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:15-16).  “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:19-22).  In die Nuwe Testament is alle gelowiges priesters en kan ons tot God nader (1 Petrus 2:9).  Omdat hierdie dinge so is moet jy nie dink dat die dominee ’n beter kans het om verhoor te word as ‘gewone’ Christene nie.  Volgens Jakobus 5:16-17 was Elia ‘n mens net soos ons.  Sy gebede is verhoor.  Alle gelowiges se gebede kan so verhoor word.  God verhoor ons alleen op grond van Jesus se Persoon en werk, en nie opgrond van wie ons is nie.

[2] God is nie meer verborge soos wat Hy in die wolkkolom was nie.  Deur Jesus kan jy sy heerlikheid sien.  Toe Jesus op die berg van verheerliking was het ‘n wolk Hom oorskadu en het die dissipels sy heerlikheid gesien en die Vader se stem gehoor (Matteus 17:5).  Paulus sê:  “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is…Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 3:18, 4:6).  In die hemel sal ons God se gesig sien (Openbaring 22:4).  Hy sal nooit meer in enige opsig vir ons verborge wees nie.  Christus het immers reeds die troonkamer vir ons oopgemaak.

[3] God wreek ons sonde op Jesus (v.8).  Daar is dus nie meer straf oor vir hulle wat in Christus is nie – God vergewe hulle (v.8, Romeine 8:1).  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9).  Omdat God ons hoor en ons sondes vergewe, sal jy nie tevergeefs na genade soek nie (v.8).  Maar omdat God sonde straf moet jy ook nie sy genade vanselfsprekend neem nie (v.8).  Ja, God vergewe sonde, maar dit is ook so dat daar gevolge is wanneer God se kinders sondig (v.8).  In die woorde van die profeet:  “Jy, o my kneg Jakob, wees nie bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met jou.  Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.” (Jeremia 46:28).

God is driemaal heilig (v.3, 5, 9).  Die Ou- en die Nuwe Testament beaam dit:  “En die een het die ander toegeroep en gesê:  Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare.  Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jesaja 6:3).  “En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê:  Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” (Openbaring 4:8).  Die feit dat God Moses vir ‘n ‘klein’ sonde gestraf het (sien Numeri 20:12) wys dit.  Ons moet God vrees soos ‘n klein kind sy streng pa vrees.  Maar deur Jesus kan ons voor God wees soos ‘n kind wat met vrymoedigheid by sy pa sit.  Ons kan na sy heilige berg toe kom en vir ewig daar bly (v.9, 15:1, Hebreërs 12:22).  God is immers ons hemelse Vader.  Maar ons moet nooit vergeet dat Hy ook ons hemelse Vader is nie.

Advertisements

Wie is soos die Here?

Hannah praying

1 Halleluja!  Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE! 2 Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid! 3 Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word! 4 Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. 5 Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, 6 wat laag neersien, in die hemel en op die aarde? 7 Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; 8 om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk. 9 Wat die onvrugbare van die huis laat woon—’n blye moeder van kinders.  Halleluja!” (Psalm 113).

 

‘n Oproep tot lof (v.1-3)

Die Israeliete het Psalm 113-118 (bekend as die Egiptiese Hallel) by die Pasga, Pinksterfees, en Huttefees gesing om hulle verlossing uit Egipte te herdenk.  Hulle het Psalm 113-114 gesing voordat hulle die paaslam geëet het, en Psalm 115-118 na die ete (cf. Matteus 26:30).

 

In vers 1 is daar ‘n drievoudige oproep tot lof (v.1).  Hierdie oproep herinner ons daaraan dat God ons gered het om Hóm te loof.  Hoe kan enigiemand uit die bande van sonde en slawerny gered wees en nié die Here loof nie?  ‘n Kort film met die titel Eetaow wys dit (kyk gerus die video op You Tube).  Die Mouk stam van Papua Nieu-Guinea het in vrees vir die geeste gelewe.  ‘n Sendeling het vir ‘n paar maande Bybelstories oor ons sonde en God se verlossing vir hulle vertel.  Uiteindelik het hy by die storie van Jesus gekom.  Hulle het baie van Jesus gehou en wou Hom aanbid.  Toe die sendeling die storie van Jesus se kruisdood vir hulle vertel het, was hulle diep bedroef.  Hulle het geglo en gewens daar was ‘n uitweg.  Toe die sendeling vir hulle vertel van sy opstanding en die rede en betekenis van sy kruisdood, het daar lofprysing uitgebreek.  Die mense het vir 2 en ‘n half ure gesing, gejuig, gedans en geloof.  Hulle was so bly dat Jesus die plaasvervanger was vir húlle sonde.

 

Al is jou omstandighede donker, kan jy nogsteeds daagliks die Here loof vir jou verlossing (v.2).  Paulus sê:  “Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou.  Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Tessalonisense 5:16-18).  Jy moet die Here loof vandat die son opkom, totdat jy in die aand gaan slaap (v.3).  Jy hoef nie in die oggend op te staan met bekommernis, of in die aand met angs te gaan slaap nie.  Prys en dank eerder die Here vir jou verlossing en vir sy soewereine beheer.  Maar v.3 beteken nie net dat jy van die môre tot die aand die Here moet loof nie.  Dit beteken ook (en miskien meer waarskynlik) dat God in alle nasies geloof moet word – van die ooste tot die weste.  Ander verse sê:  “Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe” (48:11).  “Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ‘n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare.” (Maleagi 1:11).

 

Ons primêre fokus in sending moenie die redding van sondaars wees nie, maar die lof van ons groot Verlosser deur die redding van sondaars.  Om te sorg dat jy nie jou fokus verloor nie, kan jy:

 

  • Tekste hersien wat wys dat die evangelie God-gesentreerd is, en nie mens-gestreerd nie.  Efesiërs 1:3-14 sê dat God ons gered het ‘tot lof van sy heerlikheid’.
  • Onthou dat ons God in die hemel gaan loof vir ons verlossing.  Dáár word dit duidelik dat ons gered is om God te loof, en dat verlossing nie ‘n einddoel in homself is nie.
  • Jesaja 48:11 memoriseer:  “Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen—want ag, hoe is my Naam ontheilig! —en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.”  Verlossing gaan nie hoofsaaklik oor ons nie, maar oor God se eer.
  • Onthou dat God ons geskep het om Hóm te verheerlik (Jesaja 43:7), en dat God self bestaan om Homself te verheerlik (Psalm 115:1).  Verlossing kan dan onmoontlik hoofsaaklik oor ons gaan.
  • Die nommer 1 versoek in die Onse Vader onthou:  ‘Laat U Naam geheilig word’.
  • Jouself herinner aan die hoofdoel van Jesus se kruisdood:  Om God se heiligheid en geregtigheid te toon (Romeine 3:25).

 

Jy sal vir ewig herinner word aan Jesus se kruisdood vir jou, omdat jy vir ewig sy wonde sal sien in die hemel (Johannes 20:27, Openbaring 1:7, 5:6).  Jy sal ook weer in die hemel die nagmaalwyn drink en die brood eet (Matteus 26:29, Lukas 22:16-18).  Jy sal God vir ewig loof vir sy verlossing (v.2).  In hemel eindig gebed, maar lof eindig nooit.  As jy nie iemand is wat die Here loof nie, het jy te familiêr geraak met die evangelie.  Jy het nodig om weer die evangelie-waarhede te deurdink.  Of jou gebrek aan lofprysing mag ‘n aanduiding wees dat jy glad nie gered is nie.  Kan dit wees dat jy God se redding en goedheid gesmaak het, maar Hom nie loof nie?  Ek wil vir jou sê hoe jy God se verlossing kan smaak en ervaar:

 

God is heilig en vereis volmaakte heiligheid.  Jy het sy wet oortree in jou sondige wese, asook in jou sondige dade, emosies, gedagtes, woorde, begeertes.  Jy verdien God se oordeel en straf.  God is liefdevol en genadig.  Daarom word Hy ‘n mens in sy Seun, Jesus Christus.  Jesus is uit ‘n maagd gebore, en daarom is Hy sondeloos – volkome God en volkome mens.  Jesus het geen sonde gedoen nie, maar was volmaak gehoorsaam aan sy Vader.  Jesus het die straf wat ons verdien het op Homself geneem aan die kruis.  Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood.  As jy jou van jou sonde bekeer en met jou hele hart op Jesus vertrou, sal God jou sonde uitwis en Jesus se perfekte rekord van gehoorsaamheid aan jou toereken.  As jy nie weet hoe om jou te bekeer en op Christus te vertrou nie – vra in gebed dat die Heilige Gees jou sal help.

 

‘n Rede vir lof (v.4-9)

[i] God is verhewe (v.4-6, Johannes 17:5).  In teologiese terme sê ons Hy is transendent.  In vergelyking met die verhewe God is die mens niks, stof op ‘n weegskaal, ‘n druppel in ‘n emmer, gras wat verdor, ‘n blom wat verlep, mis voor die son, ‘n droom, ‘n sprinkaan, ‘n wurm, ‘n plant in ‘n geut wat maklik vrek (sien Psalm 90, Jesaja 40-41).  Wie is hoog soos die Here?  God is so hoog verhewe dat Hy neerkyk, nie net op die aarde nie, maar ook op die hemel (v.4-6).  Daarom vra die Bybelskrywers:  “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word?  Wie is soos die HERE onder die hemelinge?” (89:7).  “O HERE, wie is soos U onder die gode?  Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Eksodus 15:11).

 

[ii] God is wel verhewe, maar tog buig Hy Hom tot ons neer (v.7-9, 1 Samuel 2:8).  Ander verse sê:  “Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.” (138:6).  “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” (Jesaja 57:15).  “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:6-7).  Teoloë praat van God se nabyheid aan ons as sy immanensie.  Die hoë en verhewe God word ‘n mens in Christus.  Hy buig Hom tot ons neer deurdat Hy self arm word.  Hy doen dit om die armes uit die stof en ashoop te kom red en hulle te verhef tot die troon.  Luister gerus na die onderstaande verse:

 

“HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.” (86:1).  Soos in hierdie vers, verwys die armoede in ons Psalm nie net na ’n gebrek aan geld nie, maar na die erkenning dat jy geestelik gebrekkig is en God nodig het.  Jesus praat van dié wat arm van gees is (Matteus 5:3).  Jesus het gekom om goeie nuus aan die armes te verkondig (Lukas 4:18).  In Paulus se woorde:  “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” (2 Korintiërs 8:9).  Ons was in die stof van ons sonde.  Jesus het ons opgewek en op die troon geplaas:  “ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efesiërs 2:5-6).  Volgens Openbaring 5:10 is ons konings.

 

Baie mense kyk neer op ander wanneer hulle tot ‘n magsposisie verhef word.  God is nie so nie.  Hy is die Opperheerser, maar gee tog om vir die onvrugbare vrou wat graag wil kinders hê.  Sara, Rebekka, Ragel, Hanna, Simson se ma, Rut en Elisabet was almal onvrugbaar, en die Here het vir elkeen van hulle kinders gegee.  Vandag nog is dit moontlik dat God vir onvrugbare vroue kinders kan gee:  “God laat die eensames woon in ‘n huisgesin” (Psalm 68:7).  Indien ‘n gelowige vrou kinderloos is, plaas Hy haar in ‘n geestelike huisgesin waar sy ‘kinders’ kan hê.  Sara was onvrugbaar, maar vandag het sy miljoene kinders dwarsoor die wêreld:  “Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.” (Galasiërs 4:27).  Almal wat in Christus glo is kinders van Abraham en Sara (Galasiërs 3:7).

 

God is nie ontoeganklik soos party belangrike figure in ons wêreld nie.  Deur Jesus Christus kan ons met vrymoedigheid tot Hom nader:  “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:15-16).  Moenie roem omdat God jóú uit die stof verhef het nie.  Dit is alles genade:  “Want wie trek jou voor?  En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?  En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?…Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie:  dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (1 Korintiërs 4:7, Efesiërs 2:8-9).  Jesus het nie gekom om selfregverdige mense te red nie.  Hy het gekom om armes te red, en doen dit juis sodat hulle nie in hulleself kan roem nie.  God het vir armsalige Josef uit die tronk bevry en hom verhef om ‘n regeerder te wees in Egipte.  Israel was hopeloos onder die mag van die Egiptenare toe God hulle bevry het.  Rut en Naomi was twee weerlose weduwees toe God hulle verhef het.  Maria en Josef was arm inwoners van Israel.  God het aan hulle die voorreg gegee om die Messias groot te maak.  Verskeie van die apostels was arm vissermanne toe Jesus hulle gekies het om Hom te volg.  Jy self was niks spesiaal toe God jou kom red het nie:

 

“Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (1 Korintiërs 1:26-29).

 

Moenie jouself verhef soos wat Satan, Adam en Eva gedoen het nie:  ‘Ek sal soos die Allerhoogste wees… Julle sal soos God wees’.  As jy jouself in arrogante hoogmoed verhef, sal God jou verneder (1 Petrus 5:5).  Erken eerder dat jy Hom nodig het (1 Petrus 5:7).  Verneder jouself sodat God jou kan verhef op die regte tyd (1 Petrus 5:6).  Moenie jouself op die skouer klop nie, maar loof Hom, want wie is soos die Here (v.9)?

Hoe om af te reken met versoeking

Killing sin

7 Wee die wêreld weens die struikelblokke!  Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. 8 En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. 9 En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af.  Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.” (Matteus 18).

 

Verwag dit (v.7b)

Ons land was geskok toe Oscar Pistorius vir Reeva Steenkamp geskiet het.  Was dit moord?  Daar is nog onsekerheid.  Maar gestel dit was moord:  moet ons geskok wees dat ‘n held soos Oscar tot so iets instaat was?  Jesus sê dat ons in ‘n gevalle wêreld die ergste moet verwag (v.7b).  Versoeking en sonde is binne God se raadsplan, en daarom kan jy seker wees dit gaan kom.  Dit beteken egter nie dat Hý die sondebok en oorsaak van sonde is nie.  Versoeking moet kom, maar wee die een deur wie dit kom (v.7).  Anders gestel:  “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is [dit was binne God se raadsplan], maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word [dit was Judas se eie skuld en nie God s’n nie]!” (26:24).  Petrus sê in Handelinge 2:23:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is [God se raadsplaan], het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring [mense, nie God nie, het gesondig]”.  Moenie naïef wees oor hierdie bose wêreld en die dinge waartoe mense (ook jy self) instaat is nie.  As jy net geweet het hoe boos jou eie en ander mense se harte is:  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).  Dalk glo jy dit nie, maar God sê jy is instaat tot moord, verkragting en ander slegte dinge.  Moenie in jouself roem en sê:  ‘Ek sal dit nooit doen nie’ (26:33, 35, 1 Korintiërs 10:12), maar verneder jou eerder en vra die Here om jou genadig te wees.

 

Pasop vir die wêreld (v.7a, c)

‘n Prediker sê wanneer hy by ‘n winkel instap hy vir sy seuns sê:  ‘Okay boys, get ready to have your senses assaulted’.  In die kol Jack!  Die wêreld wil hê God se kinders moet teen Hom sondig, en sal ons versoek om dit te doen (die wêreld op sy beurt word weer deur die duiwel aangehits en versoek, cf. Efesiërs 2:2, 1 Johannes 5:19).  Daar wag ‘n verskriklike oordeel vir dié wat God se kinders versoek:  “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.  Wee die wêreld weens die struikelblokke!…wee die mens deur wie die struikelblok kom.” (v.6-7).  Die wee uitsprake in v.7 spreek van God se ewige vervloeking.

 

Die ongelowige is bang om alleen te sondig; om alleen gestraf te word.  Hy hou nie daarvan as die Christen se heilige lewe sy sonde ontbloot nie.  Daarom versoek die wêreld gelowiges om saam met hulle te sondig.  Hulle is “mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Romeine 1:32).  Indien jy nie saam met hulle wil sondig nie sal hulle jou spot, vloek, uitsluit, vervolg en selfs doodmaak (1 Petrus 4:3-4).

 

John MacArthur skryf:

 

‘One of the young men in our church handicapped ministry came to me one Sunday and said he had done a bad thing.  ‘I got drunk,’ he explained remorsefully.  Upon questioning him, I discovered that, as a prank, his brother and some friends had forced alcoholic beverages down his throat until he was drunk.  But the worst tragedy was not his drunkenness but the guilt he was made to suffer.  He thought he was responsible for becoming drunk and had asked Jesus for forgiveness, but he was so ashamed that he wondered if the Lord would forgive him.  I assured him that Jesus fully understood and had forgiven him, though, of course, the guilt was not his at all.  And those who were guilty for his drunkenness and stricken conscience were in danger of God’s judgment.” (The MacArthur New Testament Commentary:  Matthew 16-23; BHM Books; WINONA LAKE; 1988; p.109).

 

Die wêreld versoek ons onder andere op die volgende maniere:

 

  • Op inbel programme word ons versoek om te kla.
  • Die media versoek ons om bly te wees oor sonde of om oor ander (soos Hansie Cronjé of Joost van der Westhuizen) te skinder.
  • Mense wat staak versoek ons om onvergenoeg te wees.
  • Die advertensie-wêreld versoek ons om materialisties en geldgierig te wees.
  • Die mode-wêreld versoek ons om wellustig te wees.
  • Televisie versoek ons om soos zombies voor ons te staar en ons familie of die Woord van God af te skeep.  Dit versoek ons ook om kosbare tyd te mors.
  • Die samelewing versoek ons om te dink dat homoseksualiteit, saambly en egskeiding normaal en aanvaarbaar is.
  • Winkels en besighede wat oop is op Sondae versoek ons om weg te bly van die eredienste af.
  • Films versoek ons om ook soos die karakters disrespekvol te wees teenoor ons ouers.
  • Die evolusie-teorie versoek ons om aborsie te aanvaar (die mens is net nog ‘n soort dier).  Dit versoek ons om rassisties te wees (sekere nasionaliteite het verder gevorder in die evolusie proses as ander).  Dit versoek mense om selfmoord te pleeg, want daar is immers geen doel in die lewe nie.
  • Die wêreld van vermaak en die media versoek ons om nie meer geskok te wees oor sonde nie (‘desensitizing’).
  • Drankwinkels versoek mense om dronk te word.
  • Modelle, akteurs, modes en oordadige rykdom versoek ons om hoogmoedig te word.
  • Sielkunde versoek ons om te ‘blame shift’; om te sê dat diefstal, homoseksualiteit en dronkenskap siektes is, en nie sondes nie.
  • Prosperity predikers versoek ons om gulsig te wees.
  • Godsdienstigheid versoek ons om selfregverdig te wees; om te dink ons het nie genade nodig nie.

 

Pasop!

 

Maak verraaiers dood (v.8a, 9a)

‘n Vrou in die V.S.A. is deur ‘n alligator in die vlakwater ingesleep.  Sy het geveg, maar kon dit later nie meer uithou nie.  Sy het vir die man wat haar probeer help het gesê:  ‘Sny my arm af’.  Radikaal?  Die O’ Neill familie-wapen het ‘n rooi hand op.  Die agtergrond hiervan is interessant.  Toe die seevaarders Ierland se kus nader, het hulle gesê:  ‘Die man wat eerste sy hand aan wal sit, verkry dit as sy eie.  Toe een seevaarder sien dat ‘n ander voor hom daar gaan wees, het hy ‘n byl gevat, sy hand afgekap, en dit tot op die land gegooi.

 

Jesus bedoel nie letterlik dat jy jou hand of voet moet afkap, of jou oog moet uitpluk nie.  As jy net een ledemaat het, kan jy nog met die ander een sondig.  En as jy geen ledemate het nie, kan jy nogsteeds in jou gedagtes sondig.  Jesus se bedoeling is eerder dat jy radikaal moet optree teen versoeking en sonde.  Jy moet bereid wees om op te offer en selfs pyn te verduur in jou stryd teen versoeking en sonde (v.8a, 9a).  Doen alles wat nodig is om jou siel te red.  Hoe doen jy dit?

 

[1] Bepaal jou versoeking.  Een persoon kan internet hê, maar moet ontslae raak van die bier in sy yskas.  ‘n Ander kan wyn in sy huis hê, maar moet sy kontrak by die gym beeïndig.

 

[2] Wat veroorsaak dat jy struikel?  Dit is belangrik om uit te vind, sodat jy nie net simptome hanteer nie, maar die oorsaak self kan konfronteer.  Om uit te vind kan jy ‘n joernaal hou waarin jy die volgende aanteken:  Waar was jy toe die versoeking gekom het?  Saam met wie?  Wat het gebeur?  Wanneer was dit?  Wat was jy besig om te dink toe dit gebeur het?  Veg teen die versoeking deur te bid, die Skrif te memoriseer, aanspreeklik te wees teenoor iemand, te vlug, tyd te spandeer met mense wat heilig wil wees, voor te berei vir die versoeking en die wapenrusting biddend op te neem (sien Matteus 6:13, Psalm 119:11, Matteus 18:15, 2 Timoteus 2:22, Johannes 16:1, Efesiërs 6:10-18).

 

[3] Moenie jou hand afkap en dan verlang om dit weer terug te hê nie.  “Gooi dit weg” (v.8).  Moenie net die onkruid afbreek nie; ontwortel dit.  Moenie soos sommige Ou Testamentiese konings wees wat afgodery stopgesit het, maar nie die hoogtes verwyder het nie.  Jy sal vasbeslote moet wees om plekke, vriende, ou liefdes, onbeskeie kleredrag, vermaak, musiek te los wat jou versoek.  Dalk sal jy selfs van werk moet verander as die versoeking daar is.  Miskien moet jy jou TV weggee, jou Facebook blad toemaak, jou internet konneksie stop.  Of dalk kontak nommers van ou liefdes uitvee, geskenke en fotos weggooi.  Let op dat baie van hierdie dinge nie noodwendig sondig is nie.  Maar as dit jou versoek om te sondig, is dit erg genoeg.  Moenie sê:  ‘Ek sal die immorele verhouding stop, maar ek wil nogsteeds kontak hê.  Ons sal net vriende wees/Ek wil net op Facebook kyk wat hy deesdae doen/Ek weet ek sukkel met pornografie, maar ek wil net op die internet gaan vir werk’.  Moenie.  Vlug (1 Korintiërs 6:18).  Moenie eers in jou gedagtes met sonde speel nie.  Die oulike klein leeutjie van sonde sal groei en jou verskeur (Jakobus 1:14-15).  Vervang die sondige gewoontes met heilige gewoontes (sien Efesiërs 4:22-24).

 

[4] Moenie die mooi praatjies van die vlees (die verraaier) glo nie.  Maak hom dood.  Bly heeltemal weg van die sonde af.  Ja, dit sal pynlik wees om nee te sê, maar daar is nie ‘n beter manier as ‘cold turkey’ nie.

 

Dink aan die gevolge (v.8b, 9b)

John Bunyan het in sy sonde volhard.  Op ‘n dag toe eggo daar ‘n stem in sy gedagtes:  ‘John, will you leave your sins and go to heaven or have your sins and go to hell?’  Dit is beter om jou slimfoon te verloor as jou lewe (lewe word in v.8 met die ewige vuur gekontrasteer en verwys dus na die ewige lewe).  Die pyn wat jy moet verduur om ‘n ‘oog’ te verloor is niks in vergelyking met die pyn van die hel nie.  Geen pyn of koste is te groot om jou siel van die hel te spaar nie.

Die hel is erger as wat jy gedink het

Hell

Die hel is erg

[1] Die Griekse woord vir ‘hel’ in Matteus 18:9 is Gehenna.  Hierdie naam is ‘n transliterasie van die Hinnom-vallei (suid van Jerusalem, Josua 15:8) waarvan ons in die Ou Testament lees.  Toe die volk in afgodery verval het, het hulle hul kinders hier verbrand vir Moleg (Jeremia 7:31).  Later het dit ‘n ashoop geword waar mense hulle vullis verbrand het.  Soos by enige ashoop was daar wurms tussen die rommel.  Die vuur het nooit opgehou brand nie.  Jesus gebruik die beeld van hierdie vervloekte plek om die hel te beskryf.  Die hel sal ook ‘n vervloekte plek wees.  Enigiemand wat daarheen gaan is afgryslik en haatlik.  Party tekste in die Nuwe Testament vertaal die woord Hades met ‘hel’ (soos Lukas 16:23).  Hades word gewoonlik gebruik van die hel vóór die wederkoms, terwyl Gehenna verwys na die hel ná die wederkoms.

[2] Jesus beskryf die hel as ‘n onuitblusbare vuur (Markus 9:48).  Het jy jouself al ooit gebrand op die stoofplaat, in die oond, met ‘n kers?  Hoe moet dit wees om vir altyd te brand?  Kan jy jouself hierdie pyn indink?

[3] Die hel is soos ‘n tronksel van eensame afsondering; ‘n plek waar jy vir ewig gebind sal wees (22:13, 23:33, 2 Petrus 2:4).  Jy sal die gekerm en gehuil van ander mense hoor, maar jy sal vir ewig nie ‘n ander persoon sien nie.  In die hemel is daar ‘n heerlike samesyn van mense.  In die hel sal dit bitter eensaam wees.

[4] Die hel word beskryf as ‘n poel van swawel en vuur (Openbaring 21:8).  Die beeld is een van mense wat versmoor, verstik en verdrink.  Min dinge kan erger wees as dit.

[5] Mense sal gepynig en gemartel word (Openbaring 14:10).  Enige aardse marteling waaraan jy kan dink vergelyk nie hiermee nie.

[6] Die hel is ‘n plek waar Satan en sy demone gestraf word (Matteus 25:41).  Satan en sy demone sal ook die mense wat daar is teister en haat.  Dink jy Satanisme of demoon-besetenheid is erg?  In die hel sal mense van aangesig tot aangesig met die ergste demoniese aktiwiteite kom.  Die hemel is ‘n plek vol van liefde, en die hel ‘n plek van onverdunde haat.

[7] Party lyke word deur wurms geëet (sien Handelinge 12:23).  Hoe sal dit wees om lewendig te wees en vir ewig deur wurms geëet te word (Markus 9:48)?

[8] ‘n Gelowige se gewete is skoongewas (Hebreërs 9:14).  In die hel sal jou gewete nooit ophou om jou aan te kla nie.  Die woorde van preke soos hierdie sal oor en oor in jou kop speel.  Jy sal weet jy moes jou bekeer het, maar nou is dit te laat.

[9] In die hel word jy nie skielik regverdig nie.  Die mense daar hou aan met sondig.  Markus 3:29 praat van ‘n ewige sonde en Openbaring 22:11 sê:  “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word…”  Op aarde perk God nog goddelose mense se sonde in.  Daar word mense totaal en al oorgegee aan die genadeloosheid van hulle eie sonde.

[10] Mense in die hel sal geskei wees van God en al sy goedheid (2 Tessalonisense 1:9).  Op aarde het die ongelowige nog voorregte soos sonskyn en pizza geniet.  In die hel is daar nie ‘n druppel van God se goedheid nie.

[11] Dié wat in die hel is sal depressief wees, angstig en vreesbevange wees, die ergste siektes denkbaar ervaar (kanker, gout, longontsteking, migraine, ensovoorts) en baie ander gevolge van die sondeval beleef.

[12] Inwoners van die hel sal van ver af die vreugdes van die hemel sien, maar niks daarvan kry nie (Lukas 13:28, 16:23).  Moet egter nie dink dat mense wat in die hel is graag heilig en in die hemel wil wees nie.  Hulle vloek God vanuit die hel en wíl hulle nie bekeer nie (Openbaring 16:11).

[13] Die hel word beskryf as ‘n plek van diep duisternis (25:30).  Mense in die hel sal nooit die lig van God se guns beleef nie.  Dit sal ‘n erger marteling wees as die Donker Gat in Kaapstad se Goede Hoop kasteel.

[14] Die hel word beskryf as ‘n bodemlose afgrond of put (Openbaring 9:2).  Hoe moet dit wees om vir ewig te val?

[15] In die hel sal jy altyd die nagmerrie van die dood moet deurmaak sonder om ooit finaal te sterf (Openbaring 20:14).

[16] In die hel huil mense, kners op hulle tande, kou hulle tonge van pyn, en word vernietig in liggaam en siel (10:28, 25:30, Openbaring 16:10).  As jy eet en jy byt jou tong raak is dit seer.  Daar sal jy vir altyd jou tong kou van pyn.

[17] Iemand het gesê:  ‘Heaven is being in God’s presence forever with a Mediator.  Hell is being in his presence forever without a Mediator.’  Openbaring 14:10 sê dat mense in sy teenwoordigheid sal ly.  Dit moet skrikwekkend wees om in ‘n toornige en heilige God se gesig te kyk!

Die hel is ewig

As die bogenoemde dinge tydelik was, sou daar hoop wees.  Maar die hel is ewig.  Jesus praat van die ewige vuur (Matteus 18:8b).  Johannes skryf:  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Openbaring 14:11).  Mense wat sê ongelowiges sal net uitgewis word, neem nie Jesus se woorde ernstig op nie.  Mense wat glo in ‘n vagevuur of universalisme (‘almal sal uiteindelik gered word’) ook nie.  As die hel nie ewig is nie, is die hemel ook nie ewig nie, want Jesus sê:  “En [die goddelose] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (25:46).  As daar nie ‘n hel is nie, was Jesus se Godverlate toestand aan die kruis heeltemal onnodig (27:46).  Jesus is die ewige God, en kon dus binne ‘n paar uur aan die kruis ‘n ewige straf namens ons ondergaan.  As daar nie ‘n hel is nie, sal die ongeregtighede van hierdie wêreld nooit reggestel word nie.  As daar nie ‘n hel is nie, is daar geen straf vir Satan en al die boosheid wat hy gedoen het nie.  ‘n Ewige en heilige God vereis dat die hel ook ewig moet wees.  Solank as wat God heilig is, sal Hy sonde straf.  In die hel sondig mense vir ewig (Markus 3:29, Openbaring 16:11), en daarom word hulle vir ewig gestraf.

Die regte reaksie op die realiteit van die hel

[1] Moenie die Here of sy lering oor die hel haat nie.  Moenie sê God is wreed en onregverdig nie.  Laat hierdie leerstelling jou eerder aanmoedig om die Here te aanbid vir sy regverdigheid, heiligheid, almag en toorn om sonde te straf (Romeine 9:22).  Die Here is wys en goed, en daarom moet ons Hom nie bevraagteken oor die hel nie.  Prys en dank die Here vir sy liefde en genade:  jy het óók die hel verdien, maar Hy het jou gered.  Niemand in die hemel sal hartseer wees oor mense wat in die hel is nie.  Eerder:  jy sal die Here prys vir die dinge wat ek nou-net genoem het:  Jesus se lewe en kruisdood, God se liefde en genade, die evangelie, God se geregtigheid, heiligheid en krag.  “Halleluja!  En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.” (Openbaring 19:3).

[2] Laat jou hart gebroke wees en ontferm jou oor dié wat daarheen gaan.  Verneder jouself voor God.  God self het geen plesier in die dood van die goddelose nie, maar wil eerder hê dat hulle hul moet bekeer en lewe (Esegiël 18:32).  Jesus het gehuil oor dié wat hulle nie bekeer het nie (Matteus 23:37, Lukas 19:41).  Paulus ook (Romeine 9:2-3, Filippense 3:18-19).  Jy moet ook.

[3] Wees ernstig oor die ewigheid.  Moenie grappe maak oor die hel nie.  Vrees God.

[4] In ons land en wêreld is daar baie ongeregtigheid.  Dank God dat reg en geregtigheid op die einde sal geskied.

[5] Veg hard en met erns teen sonde (Matteus 18:7-9).  Dink oor die hel en besef hoe aaklig sonde is, want dit is sonde wat maak dat mense hel toe gaan.

[6] Moenie self wraak neem nie; los dit vir God (Romeine 12:19).  Dink eerder daaraan dat jou vyande in hierdie verskriklike plek sal beland, en voel jammer vir hulle.

[7] Laat die leerstelling oor die hel jou dryf om die evangelie met mense te deel.

[8] Bekeer jou en glo die evangelie.  Moenie jouself flous en dink jy kan aanhou sondig sonder dat daar gevolge sal wees nie.  Moet jou nie verbeel dat ‘n liefdevolle God niemand hel toe sal stuur nie.  Die Bybel sê uitdruklik dat geen onheilige en onregverdige persoon hemel toe sal gaan nie (1 Korintiërs 6:9-10, Hebreërs 12:14).  Doen alles in jou vermoeë om die lot van die hel te ontsnap.  Moenie met sonde speel nie, want dit is sonde wat daarheen lei (Romeine 6:23).  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Jesus het hel aan die kruis deurgemaak vir ons.  As jy jou bekeer en op Hom vertrou sal Hy jou sonde uitwis en sy volmaakte geregtigheid aan jou toereken.  Hy sal jou dan help om te stry teen sonde en versoeking, sodat jy nie in daardie verskriklike plek beland nie.

Is dit maklik om ‘n Christen te wees?

Soldier of the cross

57 En terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom:  Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! 58 Toe sê Jesus vir hom:  Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. 59 En Hy sê aan ‘n ander een:  Volg My.  Maar hy antwoord:  Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. 60 En Jesus sê vir hom:  Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. 61 En ‘n ander een het ook gesê:  Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. 62 En Jesus antwoord hom:  Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9).

 

Jy moet bereid wees om gemak op te gee (v.57-58)

Jim Elliot was ‘n Amerikaanse sendeling na die moordlustige Auca Indiane van Suid-Amerika.  In sy dagboek skryf hy:  ‘I’m ready to die for salvation of Aucas’ (Through Gates of Splendour, p.148).  Hy het.

 

Die eerste man het gesê dat hy gereed is om Jesus oral te volg (v.57).  Jesus het  geweet hy soek die romanse van dissipelskap sonder die opoffering daarvan (v.58).  Volgens Matteus 8:19 was hierdie man ‘n Skrifgeleerde.  Hy was beïndruk met Jesus se kennis en wou graag ook die Bybel so goed ken.  Die les is eenvoudig:  nie almal wat opgewonde is oor Jesus, Christenskap of die Bybel het noodwendig ‘n egte hartsverandering ondergaan nie.  Een kommentator skryf oor hierdie man:  “Such a person sees the soldiers on parade, the fine uniforms, and the glittering arms and is eager to join, forgetting the exhausting marches, the bloody battles, the graves, perhaps unmarked.” (Lenski).  Het hierdie man regtig geweet wat hy vra toe hy gesê het:  ‘Ek sal U volg oral waar U heengaan’? Jesus was oppad Jerusalem toe om gekruisig te word (v.51).  Was hierdie man regtig bereid om saam met Jesus te sterf?  Dit is immers die vereiste vir ware dissipelskap.  Vroeër in die hoofstuk het Jesus gesê:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (v.23).  Simon het letterlik ‘n kruis opgeneem en agter Jesus aangeloop (23:26).  Ons moet bereid wees om gemak en selfs ons lewe op te gee vir Jesus.

 

Baie dikwels (veral in klein gemeentes) is ons opgewonde wanneer iemand vra om gedoop te word, lidmaat te word, of Sondagskool te gee.  Ons harte jubel as ‘n jongmens in die gemeente sê hy wil ‘n predikant of ‘n sendeling word.  Jesus was nie opgewonde oor elke persoon wat vir Hom gesê het:  ‘Ek sal U volg oral waar U heengaan’ nie.  Jesus was ‘n realis en het vir sulke mense gesê dat jakkalse en voëls meer gemak sal beleef as sy dissipels (v.58).  As jy vir Jesus wil volg moet jy ongerief en verwerping verwag.  In Paulus se woorde:  “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” (2 Timoteus 3:12).  Jesus se boodskap was dus:  ‘I love you and have a difficult plan for your life’ (Phillip Graham Ryken).  Jesus het nie sy eie huis gehad nie, maar het gedurig by ander gebly.  Hy het selfs party nagte op die berg geslaap.  Maar die bedoeling in v.58 is eerder dat selfs die glansryke Seun van die Mens (Daniël 7:13-14) nie welkom was op aarde nie.  Die Samaritane het Hom verwerp (v.53).  By sy geboorte was daar geen plek in die herberg nie (2:7).  En sy eie volk het Hom nie erken nie (Johannes 1:11).  As jy in Jesus se voetspore volg sal jy ook nie welkom wees op die aarde nie.  Jy moet maar besef dat die wêreld nie jou huis is nie; dat jy ‘n pelgrim en ‘n bywoner is (1 Petrus 2:11).  Die Bybel sê:

 

“Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is…In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.  En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” (Hebreërs 11:9-10, 13-16).

 

“Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie…Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” (Johannes 17:14, 16).

 

Is jy iemand wat gemaklik inpas by die goddelose wêreld?  Indien wel moet jy jou redding bevraagteken, want Jesus het gesê:  “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.  Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.” (Johannes 15:19).

 

Jy moet bereid wees om rykdom op te gee (v.59-60)

Martyn Lloyd-Jones het ‘n mediese loopbaan en potensiële rykdom opgee om die evangelie te preek.  Soos jy binnekort sal sien, is dit presies wat Jesus van die man in v.59 gevra het.  Volgens Matteus 8:21 was hierdie man ‘n dissipel.  Die woord dissipel beteken eenvoudig ‘leerling’.  Hierdie man was nie gered nie, maar het onder Jesus se lering gesit.  Die les is dit:  nie almal wat die Bybel wil leer of Jesus wil volg is noodwendig gered nie.

 

Wat was die man se reaksie toe hy Jesus se woorde hoor:  ‘Volg My’?  Hy wou eers sy pa gaan begrawe.  Wanneer ‘n geliefde sterf, het die Jode vir 30 dae getreur.  Na ‘n jaar het hulle die dooie persoon herbegrawe (Carson, Beale; Commentary on the New Testament Use of the Old Testament, p.316).  Jesus kon nie vir hom wag nie.  Maar daar is waarskynlik ‘n ander betekenis aan die gebeure in v.59-60.  Die man se pa was nog nie dood nie.  As gevolg van die hoë temperature in Israel, moes die Jode ‘n persoon binne 24 uur begrawe.  Indien hierdie man se pa reeds dood was, sou hy nie langs die pad met Jesus gestaan en gesels het nie.  Hy sou by die huis gewees het.  Die man se pa is dalk eerder siek of oud.  Deur te sê hy wil eers sy pa gaan begrawe, sê hy eintlik:  ‘Ek wil eers wag tot my pa doodgaan, sodat ek iets kan erf.  Ek wil graag my beursie vol hê as ek U volg.  Ek is nie regtig bereid om ongemak te verduur vir Jesus en sy evangelie nie’.

 

Wat was Jesus se reaksie?  Presies die teenoorgestelde van TBN se Prosperity predikers.  Jesus belowe nie rykdom vir die wat Hom volg nie, maar sê eerder dat sy volgelinge bereid moet wees om hulle rykdom op te gee.  Vir die Jode was begrafnisse ‘n nommer 1 prioriteit – alles moes wag:  ‘He who is confronted by a dead relative is freed from reciting the Shema, from the Eighteen Benedictions, and from all the commandments stated in the Torah’ (b. Ber. 31a).  Reeds in die Ou Testament het God gesê dat sekere dinge belangriker is as jou geliefde wat sterf.  ‘n Priester of nasireër se afsondering aan die Here was so groot, dat hulle nie betrokke kon wees met die begrafnisreëlings van ‘n gesinslid nie (Levitikus 21:11, Numeri 6:6-8).  En hier sê Jesus dat absoluut niks prioriteit kan geniet bo Hom nie.  As Jesus jou roep om Hom te volg, kan jy nie sê:  ‘Ek wil eerste…’ (v.59).  Jesus en Hy alleen moet eerste wees.  By ‘n ander geleentheid het Jesus gesê:  “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie…So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.” (14:26, 33).  In die Tien Gebooie het God gesê:  “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.” (Eksodus 20:3).  God moet eerste wees in jou lewe.  In vergelyking met die wins wat jy in Christus verkry, moet jy ander dinge as gemors beskou (Filippense 3:7-9).  Jesus moet jou eersteliefde wees (Openbaring 2:4).  Mense wat geestelik dood is kan die wat liggaamlik dood is begrawe (v.60a).  Maar nét iemand wat geestelik lewe kan die evangelie preek (v.60b).  Kry jou prioriteite in orde.  Moenie éérs wil geld maak, rondreis en ander dinge doen nie.  Jou lewe is kort.  Moet dit nie mors nie.  Moenie dink jy sal Jesus op jou ou dag begin volg, sodat jy sê:  ‘Ek sal U volg [as ek klaar gedoen het wat ék wil]…’ nie (v.57, 61).

 

Hoe volg ‘n mens vir Jesus?  Luister na sy roepstem.  Daar is ‘n uiterlike roepstem wat jy met jou ore hoor; die evangelie van vrede (Matteus 22:14 verwys na hierdie roeping).  Maar dan is daar ‘n innerlike roepstem wat jy in jou hart hoor.  Nie almal hoor dit nie, maar net hulle wat na Jesus toe getrek word; net hulle in wie se harte God werk (Johannes 6:44, Romeine 8:30).  Wanneer jy die uiterlike en innerlike roepstem hoor, wil God hê jy moet die evangelie glo, jou bekeer, en aanhou om Jesus te volg.  Die werkwoord ‘volg’ in v.59 is in ‘n voortdurende tydsvorm.  Dit beteken dat jy nie ‘n dissipel is omdat jy gereageer het op ‘n altar call, of omdat jy ‘n sondaarsgebed gebid het nie.  Dissipelskap is ‘n voortdurende oefening waarin jy aanhou om die Here Jesus te volg.  Die moderne evangelis sê:  ‘Jy moet Jesus aanneem’.  Jý is die belangrike onderwerp om wie alles draai.  Jý is die een wat die aksie moet neem indien daar enigsins verlossing kan wees.  Jesus is maar net die passiewe Verlosser wat hulpeloos by die deur van jou hart wag en hoop jy laat Hom inkom.  Die Bybelse evangelis sê:  ‘God red sondaars’.  In hierdie boodskap is God die hooffokus en onderwerp.  Hy is die magtige Verlosser wat sondaars red.  Die werkwoord in die sin fokus op sy groot werk van verlossing.  Ek is maar net die bevoorregte persoon wat sy verlossing ontvang.  Ek het niks met my eie verlossing te doen nie.  Dit is alles ‘n gawe van hierdie groot en genadige God.  En as ek eers hierdie wonderlike verlossing ontvang het, moet ek bereid wees om alles op te gee om Jesus te volg – ook my rykdom.

 

Jy moet bereid wees om familie op te gee (v.61-62)

Wanneer Moslems of Jode tot bekering kom, word hulle uitgeskop deur hulle families.  Hierdie laaste man is nie bereid om sy familie op te gee vir Jesus nie.  Hy wil eers ordentlike familietyd geniet, voordat hy vir Jesus volg (v.61).  As jy Elia volg kan jy eers tyd spandeer met jou familie (sien 1 Konings 19:19-21).  Maar as jy vir Jesus volg moet Hy belangriker wees as jou familie (v.62):  “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” (Matteus 10:37).  In vergelyking met jou liefde vir Jesus, moet jou liefde vir jou familie lyk soos haat:  “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” (14:26).

 

Iemand wat heeltyd in sy truspieëltjie kyk terwyl hy bestuur, sal ‘n ongeluk maak.  En iemand wat heeltyd omkyk terwyl hy ploeg, sal skeef ploeg (v.62).  Indien jy vir Jesus wil volg, kan jy nie soos Lot se vrou aanhoudend met verlange terugkyk na jou ou liefdes, die lelike plekke waar jy uitgehang het, die vuil musiek waarna jy geluister het, die sondige vermaak wat jy geniet het, die herinneringe aan goddeloosheid, die slegte vriende, en wilde partytjies nie (v.62, 17:31).  Jy kan nie vir Jesus en die wêreld liefhê nie – jy moet kies (Matteus 6:24, 2 Timoteus 2:4, Jakobus 4:4).  Druk jou vingers in ore, hardloop na Jesus toe, en moenie terugkyk nie.  Vergeet die dinge wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou (Filippense 3:13).  Moenie jou familie bo Jesus stel nie:

 

  • Moenie bang wees jy gaan hulle verloor as jy vir Jesus volg nie.
  • Moenie van Jesus af wegdraai as hulle jou spot omdat jy ‘n Christen is nie.
  • Moenie by die huis bly as jou familie op ‘n Sondagoggend voor kerk by jou huis opdaag nie.
  • Moenie tydens jou vakansie eerder dinge saam met jou gesin doen as om op ‘n Sondag kerk toe te gaan nie.
  • Moenie deur jou voorbeeld vir jou kinders leer dat Sondag ‘n gesinsdag is nie, want dit is nie; dit is die Here se Dag.  Neem hulle kerk toe en nie dieretuin toe nie.

 

Dis nie maklik om ‘n Christen te wees nie.  Jy sal moet opoffer.  Maar wanneer die beloning uiteindelik kom sal jy ook saam met David Livingstone kan sê:  ‘I never made a sacrifice’.

‘n Psalm vir gelowiges wat God se liefde betwyfel

Three crosses

Hoekom is dit dat ons in tye van beproewing die Here se liefde betwyfel?  Wanneer dinge sleg gaan of God lank vat om ons gebede te beantwoord, bevraagteken ons sy liefde.  Hierdie Psalm help ons om God se groot liefde duidelik raak te sien in sy Persoon en sy werke.

 

1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 2 Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 3 Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid— 4 Hy wat alleen groot wonders doen, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 5 Wat die hemele met verstand gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 6 Wat die aarde op die water uitgespan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 7 Wat die groot ligte gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 8 Die son om te heers oor die dag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 9 Die maan en sterre om te heers oor die nag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 10 Wat die Egiptenaars getref het in hulle eersgeborenes, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 11 En Israel onder hulle uitgelei het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 12 Met ‘n sterk hand en met ‘n uitgestrekte arm, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 13 Wat die Skelfsee in stukke gesny het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 14 En Israel daar dwarsdeur laat gaan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 15 En Farao saam met sy leër in die Skelfsee gestort het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 16 Wat sy volk deur die woestyn gelei het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 17 Wat groot konings verslaan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 18 En geweldige konings gedood het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 19 Sihon, die koning van die Amoriete, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 20 En Og, die koning van Basan, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 21 En hulle land as erfdeel gegee het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 22 As erfdeel aan Israel, sy kneg, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 23 Wat in ons vernedering aan ons gedink het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 24 En ons van ons teëstanders losgeruk het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 25 Wat voedsel gee aan alle vlees, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. 26 Loof die God van die hemel, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” (Psalm 136).

 

God se Persoon (v.1-3, 26)

In sommige liefdesliede hoor ‘n mens dinge soos:  ‘Vir jou sal ek die hoogste berg klim en die grootste oseaan deurswem.  Dis mooi gedagtes, en ‘n meisie voel goed dat ‘n man so baie van haar hou.  Maar sy weet hy kan nie regtig doen wat hy graag wil nie.  Hy word beperk deur sy menslike swakheid.  Met God is dit nie so nie.  Hy wil ons help:  Hy is goed (v.1a) en sy liefde is ewig (v.1b).  Maar dis nie asof God gewillig is, maar ons nie kan help nie.  Hy kan:  Hy is nie ‘n dooie afgod nie, maar die God van die gode (v.2, Deuteronomium 10:17).  Hy is die soewereine Here (v.3).  Hy is verhewe in die hemel (v.26).

 

Hoekom sê die psalmis aan die einde van elke reël:  “want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”?  Hoekom sê hy dit nie net eenkeer aan die einde van die Psalm nie?  Hy doen so, omdat hy vir ons wil wys dat elke enkele daad wat God vir sy kinders doen, ‘n liefdesdaad is.  Hy laat ook die slegte toe, omdat Hy ons liefhet (Romeine 8:28, 32).  Dit is nodig dat ons God beter moet ken, sodat ons nie so maklik sy liefde sal betwyfel nie.  Ken Hom deur jou Bybel, goeie boeke, kommunikasie in gebed, preke.  Weet dat Hy goed, genadig, barmhartig, geduldig, en liefdevol is:  Hy wil jou help.  Hy is almagtig en kan jou help.  Dis nie asof Hy jou graag sou wou help, as Hy tog maar net by jou kon uitkom nie.  Nee.  Hy is alomteenwoordig; Hy is by jou.  Is dit so dat Hy alle mag het en teenwoordig is, maar nie kan help nie omdat Hy nie alles van jou en jou situasie weet nie?  Nee, want Hy is alwetened.  Die Here weet nie net alles nie, maar is alwys en weet wat die beste oplossing is.  God kan jou help.

 

Laat ons leer om dan die Here te loof vir wié Hy is, en nie net vir wat Hy kan doén nie.  Sien God se liefde in sy Persoon (v.1-3, 26) en nie net in sy werke nie (v.4-25).  Jesus se kruisdood is nie God se liefde nie, maar die grootste uitdrukking daarvan.  Jesus self is die beliggaaming van God se ewige liefde (sien 1 Johannes 4:8-9).

 

God se werke (v.4-25)

‘n Teologie student het in ‘n preekklas ‘n swart kol op ‘n wit papier geteken en dit vir ons gewys.  ‘Wat sien julle?’ het hy gevra.  Almal se antwoord was dieselfde:  ‘’n Swart kol’.  Sy reaksie:  ‘Nie een van julle het gesê julle sien ‘n wit papier nie; almal het op die klein swart kol gefokus’.  In ons lewe is dit maklik om die wit papier te mis en op die swart kol te fokus.  Die media is negatief en fokus op slegte nuus.  Pasop dat jy nie ingesuig word en so negatief raak dat jy vergeet van God se liefde nie.  Die advertensie wêreld moedig mense aan om geldgierig, ontevrede en materialisties te raak.  Voor jy weet kyk jy God se liefde mis en raak jy ontevrede oor wat jy nié het nie.  God se liefde is oral om jou.  Maak net jou oë oop.

 

[1] Sien God se liefde in die skepping (v.4-9).  Hy het groot en kragtige wonders gedoen (v.4).  Hy het met wysheid geskep (v.5).  Sien sy liefde in sy skepping van die son, maan, sterre, reën, gras, blou hemel, blomme, berge, see en ander skepsels (v.4-9).  Iemand mag sê:  ‘Dit maak nie sin nie.  Die skepping wys sy krag, nie sy liefde nie’.  Ja, die skepping wys sy krag.  Maar die feit dat God die son gemaak het om oor ons te skyn wys ook sy liefde (Matteus 5:45).

 

[2] Sien God se liefde in verlossing (v.10-24).  Weer wonder party mense:  ‘Moet v.10 nie sê dat God die Egiptenare gedood het, omdat Hy sy krag en oordeel wou wys nie?  Hoe kan die psalmis sê dat God se oordeel sy liefde bewys?’  As jy aan my bruid vat sal ek jou teenstaan omdat ek haar liefhet.  God het die eersgeborenes van Egipte doodgemaak, omdat hulle sy bruid teengestaan het.  Dit was uit liefde vir Israel wat God haar vyande doodgemaak het.  En dit was uit liefde wat God nie die eersgeborenes van Israel doodgemaak het nie, maar die paaslam in hulle plek laat sterf het, en hulle uit Egipte uitgelei het (v.11).  Dit is uit liefde vir ons dat God ons nie laat sterf nie, maar Jesus gee om die offerlam te wees vir ons sondes (1 Korintiërs 5:7).

 

God het die Egiptenare en hulle gode met ‘n sterk hand en uitgestrekte arm geoordeel (v.12, Eksodus 12:12).  Hulle god van die Nyl kon nie die bloed terugverander in water nie.  Hulle god van reën en landbou kon nie keer toe God die gewasse met hael platslaan nie.  Dit was uit liefde vir sy volk wat God die Egiptenare met tien plae verwoes het.  En dit is uit liefde vir ons dat God sy arm (Christus) uitstrek om ons te verlos (Jesaja 52:10, 53:1).  God het sy volk deur die Rooisee gelei, en Farao saam met die hele Egiptiese weermag in dieselfde see verdrink (v.13-15).  God het groot en magtige konings verslaan (v.17-20, Numeri 21:21-35).  Een van hierdie konings se bed was 4 meter lank en 1.8 meter breed.  Dit is inderdaad ‘n groot en magtige koning, maar God is dit niks nie.  Deur sy kruisdood het Jesus ons vyande oorwin:  Satan, sonde, self, die wêreld, die dood, die hel.  Uit liefde het God die Beloofde Land vir sy volk gegee (v.21-22).  En uit liefde gee God vir ons die hemel, geestelike seëninge en alles in Christus:

 

“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê:  Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.” (Matteus 25:34).

 

“Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Korintiërs 3:21-23).

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efesiërs 1:3).

 

God is lief vir ons en red ons uit ons benoudhede (v.23-24).  God het deur Moses gesê:  “Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.” (Deuteronomium 32:36).  Nehemia 9:28 sê:  “Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hul vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.”  God het gesien hoe jy ‘n afgedwaalde skaap was.  Uit liefde het die Goeie Herder jou kom haal.  Ook in jou beproewing help die Here jou.  En as jy weggedwaal van Hom, het Hy jou lief en bring Hy jou terug.  Hoekom het God jou lief?  Nie omdat daar enige goedheid of potensiaal in jou is nie, maar omdat Hy goed en liefdevol is.  Met ander woorde, Hy het jou lief omdat Hy jou liefhet (sien Deuteronomium 7:7-8).

 

Ons moenie vergeet van God se groot liefde nie.  Israel het God se liefde in verlossing onthou deur die geskiedenis hiervan vir hulle kinders te vertel (Psalms 78, 105-107, 136).  Hulle het God se verlossing onthou deur die Paasfees, Fees van Ongesuurde brode, Huttefees en ander herinneringsfeeste te hou.  Ons moet God se liede in verlossing onthou deur die evangelie te oordink, dit te sing, te bid, te lees, te hoor, te memoriseer, die nagmaal te gebruik, gedoop te word, evangelisasie te doen, vir jouself preek, en jouself te herinner aan jou eie bekering.

 

[3] Sien God se liefde in sy voorsiening (v.16, 25).  Uit liefde het God die Israeliete deur die woestyn gelei (v.16).  God het vir hulle manna en kwartels gegee (kan jy jou indink dat jou ontbyt en aandete na joú toe kom?).  God het vir hulle water uit die rots gegee.  Hy het koelte, leiding, hitte en lig gegee deur die wolk- en vuurkolom.  Hy het hulle teen hul vyande en wilde diere beskerm.  Hulle klere en skoene het vir 40 jaar lank gehou! (lees gerus weer Deuteronomium 4).  God los ons ook nie alleen tydens ons pelgrimsreis deur die wildernis van hierdie wêreld nie.  Hy lei ons deur sy Gees en gee vir ons die Bybel, gebed, medegelowiges, die sakaramente, die geestelike gawes, kos, klere, skuiling en geloof.

 

God wys ook sy liefde deurdat Hy die skepping versorg (v.25).  Moet dan nie so gou die Here se liefde betwyfel wanneer Hy aan jou goeddoen nie.  Jy weet mos:  jy bid vir geld, en wanneer iemand geld in jou rekening inbetaal wonder jy of dit nie dalk ‘n fout was nie (in plaas daarvan dat ons vir die Here dankie sê).  Hoe kan ons God se liefde betwyfel as Hy selfs die mossies voer en die hare op jou kop genommer het (Matteus 10:29-30)?  Laat ons eerder die Here prys, dank, en bo als liefhê.  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Johannes 4:19).  Moenie vrees dat God jou sal verwerp nie.  Hy sal dit nooit doen nie, want Hy self sê in hierdie Psalm:  “aan sy liefde is daar geen einde nie.” (NAV).  God het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3).  Hy het jou liefgehad en uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:4-5).  Niks in die hele skepping kan jou skei van sy liefde nie (Romeine 8:38-39).  Hierdie ewige liefde is ‘n sterk anker in beproewing.  Hoe klink jou lofpsalm vir God se liefde?

 

Die Here het my sondes vergewe, want sy liefde is sonder einde.

Die Here het my kinders gered, want sy liefde is sonder einde.

Die Here het my gedra deur my tyd van siekte, want sy liefde is sonder einde.

Die Here wou my van my geldgierigheid red en het my finansieel laat ondergaan, want sy liefde is sonder einde.

Die Here wil hê ek moet meer soos Jesus word en het my in ‘n karongeluk laat beland, want sy liefde is sonder einde...

Jy sal weet hoe om joú psalm te skryf en God se liefde in jou storie raak te sien.

Die voorreg en plig van elke skepsel

Woodland Kingfishers

Ons is nie geskep om ons eie planne te vervul nie.  Die persoon wat rykdom en roem najaag sal op sy sterfbed agterkom dit was tevergeefs.  God het ons geskep vir groter dinge as dit.  Hy het alles geskep om sy glansryke heerlikheid te weerspieël:  “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” (Psalm 19:2).  “elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer…Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.” (Jesaja 43:7, 21).  Die grootste vervulling en seën wat die mens ooit kan vind lê opgesluit in lofprysing tot die ware God.  Jonathan Edwards het gesê:  “God is glorified not only by His glory being seen, but by its being rejoiced in.”  John Piper eggo:  “God is most glorified in us when we are most satisfied in Him.”  Die les in hierdie Psalm is duidelik:  dit is die voorreg en plig van elke skepsel om die Skepper se lof te besing.

1 Halleluja!  Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes! 2 Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare! 3 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre! 4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is! 5 Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee—en hulle is geskape. 6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ‘n wet gegee wat geeneen oortree nie. 7 Loof die HERE van die aarde af—groot seediere en alle dieptes! 8 Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring; 9 berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome, 10 wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls; 11 konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde; 12 jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—13 laat hulle die Naam van die HERE loof!  Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel! 14 En Hy het ‘n horing vir sy volk verhef: ‘n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is.  Halleluja!” (Psalm 148).

Loof God in die hemel (v.1-6)

Wie in die hemel moet die Here loof?  Nie net individue (Psalm 146) of God se volk nie (Psalm 147), maar elke skepsel (Psalm 148).  So is dit in die hemel:  “En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Openbaring 5:13).

[1] Die hoogste hemele moet die Here loof (v.1, 4a).  Die Here is so hoog verhewe dat Hy nie net vanuit die hemel op die aarde neerkyk nie; Hy kyk ook neer op die hemele:  “Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.  Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (113:4-6).  Die hoogste hemel kan Hom nie bevat nie (1 Konings 8:27).  Nehemia 9:6 sê:  “U is alleen die HERE, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.”  Volgens die Nuwe Testament is Jesus hierdie verhewe God van Psalm 148:  “En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid!  Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!  Hosanna in die hoogste hemele!” (Matteus 21:9).

[2] Die hemelse weermag met ontelbare engele moet die Here loof (v.2, Hebreërs 1:6, 12:22).  Hulle loof Hom waarskynlik nie deur lofsang nie.  Die Bybel sê nooit vir ons dat engele God met lofsang aanbid nie.  Wanneer hulle lof aan die Here toeskryf, staan daar altyd:  “En die engele het gesê…”  Een plek in die Bybel praat van engele as môresterre wat sing (Job 38:7), maar aangesien engele nie regtig sterre is nie, kan ons vra of hulle ‘sang’ in hierdie vers nie óok beeldspraak is nie?  Die mens het ‘n unieke vermoeë om sy emosie in lofsang uit te druk.  Hoe loof die engele dan die Here?  Deur beskrywing van sy lof.  Deur gehoorsame diensbaarheid.  ‘n Ander Psalm sê:  “Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!  Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!” (103:20-21).

[3] Die helder son, sagte maan, en sterrehemel (al 6 triljoen x 6 biljoen waarvan ons weet, asook dié waarvan ons nie weet nie) moet die Here loof (v.3, Genesis 1:14-19).  Die son gee hitte, lig, en bepaal ons dae, kalender en seisoene.  Die maan bepaal die getye.  In die psalmis se tyd het die sterre rigting gegee vir reisigers.  Hierdie en ander skepsels prys God nie bewustelik nie, maar doen so deur hierdie en ander funksies te vervul.

[4] Die waters bo die hemele moet die Here loof (v.4b).  Hierdie water koepel word in Genesis 1:7 beskryf:  “God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is.”  Hierdie waters mag ‘n verwysing wees na reënwolke, of meer waarskynlik na ‘n waterkoepel wat in die aarde se atmosfeer bestaan het.  Watookal dit was (of is) – ook dít moet die Here prys.

Omdat al hierdie skepsels die Here prys, moet ons húlle nie prys nie:  “[die goddelose het] die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere…hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.  Amen.” (Romeine 1:23, 25).

  • Party mense word versoek om engele te aanbid (sien die waarskuwings in Kolossense 2:18, Openbaring 19:10, 22:8-9).  Roomskatolieke leer dat ons tot engele kan bid.  Ek het op RSG gehoor hoe ‘n vrou oor engele praat en sê:  ‘Jy kan altyd vir engele vra om jou te help – ook as jy parkering nodig het.’  Moenie engele aanbid nie, maar aanbid God saam met hulle.
  • Die Egiptenare en ander heidense volke het die son, maan en sterre aanbid.  Vandag nog soek mense vir hulp in die sterre (horror scopes in ‘Die Huisgenoot’ en ander tydskrifte).  Party aanbid nie die sterre nie, maar maak wel ‘n afgod van sportsterre, popsterre, kos, geld, drank, self (hulle begeer die lof en applous van mense), ensovoorts.

Moenie so dwaas wees nie.  Aanbid God.  Natuurlik moet jou hart eers verander word, voordat jy ‘n begeerte sal hê om Hom te aanbid.  Hierdie verandering vind plaas deur die evangelie.  Die evangelie is die boodskap dat God volmaak heilig is, en jy ‘n rebelse sondaar wat sy wet in jou natuur, hart, gedagtes, begeertes, woorde, en dade gebreek het.  Jy verdien God se ewige oordeel.  Maar God is genadig en het mens geword om die wet volmaak te onderhou namens ons.  Hy het toe namens ons die straf as wetsoortreder gedra deur sy dood aan ‘n kruis.  Hy is begrawe en het opgestaan uit die dood.  Hy belowe vergifnis en nuwe lewe aan almal wat hierdie evangelie glo, wegdraai van hulle sondes, en heeltemal op Hom vertrou (en nie op hulle goeie werke of eie pogings nie).  Gehoorsaam en volg Hom as jou Here.  Eers dán sal jou aanbidding aanneemlik wees vir Hom, want God wil hê ons “moet in gees en waarheid aanbid.” (Johannes 4:24).

Dit is erg as iemand verraad pleeg met die lewe, krag, en geskenke wat God vir hom gegee het.  Hoekom moet alles in die hemel die Here loof?  Want Hý het hulle geskep, onderhou hulle, en beheer alles, sodat dit vasstaan (v.5-6).  Ander verse sê:  “U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.  Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.” (Psalm 119:90-91).  “So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam:  As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd.” (Jeremia 31:35-36).

God is in beheer.  Daarom sal die son nie uitbrand of ‘n meteoriet die aarde verwoes nie.  Die son sal nie so warm skyn, dat globale verhitting ‘n wêreldwye vloed veroorsaak nie.  God het “’n Grens…gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.” (104:9).  Ons kan nie die wette van die hemel of die lewe bepaal nie, maar God kan (Job 38:33).  Hý het gesê:  “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” (Genesis 8:22).  Sy verordeninge staan vas (v.6), en wat Hy sê gebeur:  “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.” (Job 42:2).  God werk alles volgens die raad van sy wil (Efesiërs 1:11).

Wat dink jy sal gebeur met ‘n engel wat weier om God te loof; wat weier om Hom te dien en sy bevele uit te voer?  Soos Satan sal hy uit die hemel uitgegooi word.  Moenie weier om die Here te loof nie, maar volg die voorbeeld van die hemelligame en die engele (v.5a).

Loof God op die aarde (v.7-14)

Wie op die aarde moet die Here loof?  Alles.  Die mens (anders as ander skepsels) kan en moet bewustelik die Here loof.

[1] Walvisse en dinosaurusse van die see moet die Here loof (v.7).  “En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte” (Genesis 1:21).  “Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.  Daar gaan die skepe en die Leviátan [seker ‘n dinosaurus] wat U geformeer het om daarin te speel.” (Psalm 104:25-26).  Skepsels in die diepste oseane, waarvan net God weet, moet Hom loof (v.7).

[2] Die weer moet die Here loof (v.8, ‘vuur’ saam met hael verwys waarskynlik na weerlig).  Die vorige Psalm praat van God “wat sy bevel na die aarde stuur—sy woord loop baie vinnig.  Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.  Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue?  Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.” (147:15-18).  Jesus is die God van Psalm 148 en het sy mag getoon oor die wind en die see (Markus 4:39).  ‘n Paar praktiese toepassings op hierdie punt:

  • Omdat die weer sý woord uitvoer en Hóm loof, moet ons nie oor die weer kla nie.  Ons kan so maklik kla as dit te veel reën.  En sodra die son skyn kla ons oor die hitte.  Ons moet onthou dat die weer God loof en sy gebooie uitvoer.  Die weer bestaan nie om ons te dien of ons gebooie uit te voer nie.
  • God se beheer oor die weer moet ons dryf om na Hom toe te gaan wanneer daar ‘n droogte of vloede is.  Bid tot die Een wat beheer het oor hierdie dinge; tot Hom wat reën kan stuur en vloede kan opklaar.
  • In lande soos Engeland (waar dit baie reën) raak sommige mense baie gouer depressief.  Ek sal nie verbaas wees as daar party mense is wat selfmoord pleeg hieroor nie.  Om so te raak is heeltemal onnodig.  Ons moet leer om nie depressief te raak oor sulke weer nie, maar God te prys omdat Hý hierdie weer bestel het om Hóm te loof.
  • Martyn Lloyd-Jones se vrou het ‘n verskriklike vrees vir die see gehad.  Sy was bang dat ‘n vloedgolf dalk hulle huis kan oorspoel en vernietig.  Toe gebeur daar een aand iets.  Sy skryf:

“One night when Martyn was away, and I was alone with the baby, there was an exceptionally severe gale blowing in from the sea, and I lay, beside myself with fear, tossing feverishly in my bed, full of terror and panic – if the tide came up Victoria Road, could I escape with the baby? get out of a window? on to the roof? etc.  At last, in sheer helpless despair, I got out of my bed and on to my knees, and I prayed:  ‘Lord, if it is all true, if you are really there and will answer my prayer, please give me peace and take all my fear away’.  As I spoke, it all went away, my heart was flooded with perfect peace, and I never had any more fear of gales and tides.  I was completely delivered and asleep in two minutes.  As the hymn says:  ‘The Lord is rich and merciful, the Lord is very kind’.” (Iain Murray; D. Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1982; p.239).

Moenie die weer vrees nie, maar vertrou op Hom wat die weer beheer.

[3] Die berge en heuwels moet die Here loof:  van die magtige en skone Kaapse berge tot die groen heuwels van Ierland (v.9a).

[4] Alle bome moet die Here loof (v.9b).  Vrugte bome met die ryke verskeidenheid van smake en geure wys vir ons iets van God se heerlikheid (Genesis 1:11).  40 meter hoë sederbome moet die Here loof (v.9b, 104:16).  Alle ander bome met die Here loof:  van die Sunland kremetart in Modjajikloof, waarvan die stam ‘n omtrek van 47 meter het, tot by die Hyperion Coastal Redwood wat 115 meter hoog is.  “die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.” (Jesaja 55:12).  Die bome loof God deur vir ons koelte en hout te gee.  Ja, ons moenie die aarde vernietig nie.  Maar ons moet ook nie soos die Greenpeace omgewingspesialiste ‘n afgod maak van die bome nie.  Ons mag bome aanplant en uitkap.  Dit is onder andere hoekom God dit gemaak het.

[5] Wildediere, mak diere, insekte, knaagdiere, reptiele, voëls, en alle ander diere moet die Here aanbid (v.10, Genesis 1:20-25).  God word verheerlik deur die grootte, verskeidenheid, ontwerp, spoed, intelligensie, en ander wonders in die diereryk.  ‘n Renosterkewer kan 850 keer sy eie gewig optel (dit is gelykstaande aan ‘n mens wat 65 ton optel).  ‘n Olifant kan omtrent 300 kilogram met sy slurp optel (verbeel jy jou kon sulke swaar dinge met joú neus optel!).  Plaasdiere dien die mens deur vleis, eiers, melk, kaas, wol, leer, en nog meer te gee.  Hulle dien ons deur te ploeg of deurdat ons op hulle kan ry (Matteus 21:1-11).  ‘n Seilvis kan 109 km/h swem (die vinnigste mens kan maar 8.6km/h swem).  Ferrari se vinnigste produksie kar (die F12) bereik 100 km/h binne 3.1 sekondes.  ‘n Jagluiperd bereik dit in 3.0 sekondes.  Op National Geographic se webtuiste is daar ‘n kort video wat wys hoe wetenskaplikes ‘n klein instrument op ‘n swerfvalk se rug vasgemaak het.  Hulle wou meet hoe vinnig die voël (genaamd Frightful) kon vlieg.  Die voël het ‘n topspoed van 294 km/h bereik, en twee weke later 386 km/h (http://video.nationalgeographic.com/video/animals/birds-animals/birds-of-prey/falcon_peregrine_velocity/ – luister tot die heel einde).  ‘n Blou walvis kan tot 200 ton weg – soveel soos 40 olifante.

Miskien aanbid jy nie direk verskillende soorte voëls en diere nie, maar as ons meer maak van ons troeteldiere as van ander mense, dan aanbid ons hulle.  As diereregte belangriker word as ander mense, dan aanbid jy diere (byvoorbeeld, jy moenie ‘n hond slaan nie, maar dit is aanvaarbaar om ‘n baba in die baarmoeder te vermoor!).  Die ongelowige aanbid, ignoreer, of vernietig die skepping.  Net die Christen kan die skepping reg beskou en geniet tot God se eer.

[6] Mense uit elke klas, geslag, ouderdom, en nasie moet die Here loof (v.11-12).  Net wanneer ons saam die ware God liefhet en aanbid kan al hierdie verskillende groeperinge ‘n bindende en blywende eenheid beleef.  [a] Konings moet die Here loof en Hom aanbid as die Koning van die konings en die Here van die Here (v.11, Filippense 2:9-11, Openbaring 19:16).  Die Egiptenare het hulle Farao’s aanbid, en die Romeine hulle Keisers, en die Noord-Koreane hulle diktators.  In die weste stel party mense hulle hoop in sekere politieke figure om ons te red.  Party Suid-Afrikaners dink dat ons land sal ondergaan wanneer Mandela sterf.  Maar die Bybel sê dat God die Koning is, en dat alle konings Hóm moet loof (v.11).  Psalm 146:3-4 sê:  “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.  Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Elke koning en leier moet die Here loof deur sy gesag te erken, en te sorg dat reg en geregtigheid in die land geskied (sien Daniël 4, Romeine 13:1-7).

[b] Nie net konings nie, maar alle volke moet die Here loof (v.11).  Elke land het nie die reg om haar eie nasionale god te hê nie.  Almal moet die ware God van die  Bybel loof, omdat Hy hulle geskep het:  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  God het sy Seun gestuur om mense uit alle volke te verlos:  “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd” (1 Timoteus 2:1-6, cf. Openbaring 5:9).  In die hemel sal alle volke Hom loof:  “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande” (Openbaring 7:9).

[c] Jong mans moet die Here loof deur hulle energie, krag, en ywer (v.12).  Nie alle jong mans dwaal van die pad af, slaap rond, en word dronk nie.  Baie jong mans gebruik hulle krag om die Here te loof.  Dink maar aan die 17-jarige Josef, die jong Dawid en tiener Daniël, die heilige sendeling David Brainerd wat op 29 dood is, die kragtige Skotse prediker Robert Murray M’Cheyne wat op 29 dood is.  Die Amerikaanse martelaar-sendeling, Jim Elliot, is dood voor hy 29 is.  Sy heiligheid was sigbaar in ‘n brief aan sy ouers toe hy 20 was:

“The Lord has given me a hunger for righteousness and piety that can alone be of Himself.  Such hungering He alone can satisfy, yet Satan would delude and cast up all sorts of other baubles, social life, a name renowned, a position of importance, scholastic attainment.  What are these but the objects of the ‘desire of the Gentiles’ whose cravings are warped and perverted?  Surely they can mean nothing to the soul who has seen the beauty of Jesus Christ…No doubt you will hear of my receiving preliminary honours at school.  They carry the same brand and will lie not long hence in the basement in a battered trunk beside the special gold ‘B’ pin, with the ‘ruby’ in it for which I studied four years and Benson.  All is vanity below the sun and a ‘striving after wind’.  Life is not here, but hid above with Christ in God, and therein I rejoice and sing as I think on such exaltation.” (Elizabeth Elliot; Through Gates of Splendour; Hodder & Stoughton; LONDON; 1957; p.17).

[d] Jong meisies (letterlik ‘maagde’) moet die Here loof deur hulle reinheid en skoonheid (v.12).  Moenie lof van die Here terughou deur onreinheid, of omdat jy ‘n afgod maak van jou skoonheid nie (byvoorbeeld modelwerk).  [e] Ou mense moet die Here loof deur hulle wysheid en lewenservaring (v.12).  Loof die Here tot aan die einde van jou lewe.  Dit is hartseer om te sien dat sommige ou mense aan die einde van hulle wedloop verslap.  Hulle verflou in hulle diens aan die Here en is nie meer so ywerig soos voorheen nie.  Dit behoort nie so te wees nie.  Van die regverdige sê 92:15:  “In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees”.  Paulus het volhard in ywer tot op die laaste:  “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Timoteus 4:7).  [f] Kinders moet die Here loof wanneer hulle speel, lag, en opreg glo (v.12).  Jy is nooit te jonk om die Here te loof nie:  “En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê:  Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom:  Hoor U wat hulle daar sê?  En Jesus antwoord hulle:  Ja, het julle nooit gelees:  Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Matteus 21:15-16).

Hoekom moet alles op die aarde die Here loof?  Ons moet Hom loof omdat sy Naam verhewe, heilig, uniek, afgesonder, en gans anders is (v.13, Matteus 6:9).  Ons moet Hom loof vir sy koninklike glans en majesteit (v.13).  Dawid sê:  “O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!  U wat u majesteit gelê het op die hemele.” (8:1).  As gelowiges moet ons nie net die Here loof omdat Hy ons geskep het nie, maar ook omdat Hy ons verlos het (v.14).  Ons moet Hom loof deur lofliede, intieme geestelike gemeenskap, liefde vir Hom, gehoorsaamheid, en diensbaarheid.  God het ‘n horing verhef vir sy volk (v.14).  ‘Horing’ in die Ou Testament word gebruik as ‘n simbool van mag (dink maar aan hoe weerloos ‘n renoster sonder ‘n horing is).  Die psalmis sê dus dat God sy volk versterk en teen die vyand beskut (v.14, cf. 75:11, 1 Samuel 2:1) – nie net vir Israel nie (byvoorbeeld Eksodus 23:28), maar ook vir Christene in die Nuwe Testament (sien Efesiërs 6:10-20).

Loof hierdie God.  Hy is ons loflied (v.14, Deuteronomium 10:21).  Ja, die priesters is hulle wat naby aan Hom is (Levitikus 10:3).  Maar sy volk Israel is ook naby aan Hom (v.14, Deuteronomium 4:7).  En ons ook deur Jesus se kruisdood:  “dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus…En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was” (Efesiërs 2:12-13, 17).  Gelowiges het selfs meer rede vir lof as die engele.  Die refrein van ‘n ou gesang wys hoekom:

Holy, holy, is what the angels sing

And I expect to help them make the courts of heaven ring

But when I sing redemption’s story, they will cease to sing

For angels never felt the joys that our salvation brings

Hierdie Psalm begin en eindig met ‘Halleluja’ (Hebreeus vir ‘loof die Here).  Hierdie word ‘n inclusio genoem, en wys dat alles tussen die eerste en laaste ‘Halleluja’ oor een ding handel:  Loof die Here!  So klink my beryming van Psalm 148; mý poging om saam met die skepping die Here te loof:

Halleluja, loof die Here,

Prys Hom in die hemel hoog!

Hemelinge bring Hom ere,

Son en maan en sterre ook!

Watermassa, halleluja,

Loof en dank sy grote Naam!

Deur sy Woord is hul geskape,

Sing O skepping, prys Hom saam!

 

Halleluja, loof die Here

Land en oseane juig!

Vuur en hael en sneeu en berge;

Stormwind en damp getuig!

Voëls en diere, berge, bome,

Konings, volke, kinders sing!

Roem gee Hy sy gunsgenote,

Laat die skepping hulde bring!

 

-op die wysie van

‘Praise the Lord!  Ye heavens, adore Him’