Ons verdiende loon: seksuele sonde

Mud on wedding dress

24 Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.  Amen.” (Romeine 1).

 

Wellustige harte

Onthou jy tye in jou kinderdae toe jy geneul en geneul en geneul het, sodat jou ouers uiteindelik gesê het:  ‘Doen wat jy wil’?  Sestien-jarige Frans se pa sê hy moet ophou TV kyk en vir sy eksamen leer.  Na hordes waarskuwings wil hy nogsteeds nie luister nie.  Uiteindelik gee sy pa hom oor aan sy eie wil, en toe die eksamen kom, toe druip hy.

 

Die mens ontken, verdraai en verruil die waarheid van God (v.18-21, 25).  Hy verkoop homself aan sonde:  “in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het” (Efesiërs 2:3).  In Efesiërs 4:19 praat Paulus van mense “wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe.”  Met ander woorde, hulle doen wat hulle wíl doen.  En omdat hulle hulself aan sonde oorgegee het, gee God hulle oor aan hulle luste, die gevolge en die verdiende straf:  “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer…Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte…En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (v.24, 26, 28).  Toe Joas die volk in afgodery inlei, het Sagaria vir hom gesê:  “Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.” (2 Kronieke 24:20).  Salomo het gesê:  “Die mond van die vreemde vroue [vroue wat losbandig lewe] is ‘n diep kuil; hy op wie die HERE vertoornd is, sal daarin val.” (Spreuke 22:14).  Oor sy eie volk het die Here gesê:  “Efraim is gekoppel aan die afgode:  laat hom staan!” (Hosea 4:17).  C.S. Lewis skryf in The Magician’s Nephew:  ‘All get what they want; they do not always like it.’ (p.100).

 

Daar is mense (soos C.H. Dodd en William P. Young van The Shack) wat glo dat God nie direk straf nie, maar Homself net onttrek, sodat sy oordeel die sondaar outomaties soos ‘n donderwolk oorskadu.  Genesis 19:24 wys anders:  “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel”.  Duidelik tree God aktief op wanneer Hy sondaars straf.

 

Satan gebruik steeds die leuen wat hy vir Eva vertel het:  ‘Het God regtig gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?’  Die waarheid was, dat God gesê het hulle mag van al die bome in die tuin eet, behalwe een.  Satan wou hê hulle moes dink God wil hulle vreugde steel.  Oor seks sê hy:  ‘God beperk seks tot die huwelik, omdat Hy jou vreugde wil beperk’.  Moenie vir sy leuen val nie.  Die waarheid is dat seks buite die huwelik gevaarlik is en hartseer bring:

 

  • God se frons is oor jou.
  • God sal jou tug.
  • Die kerk sal jou onder tug plaas.
  • Jesus se Naam word beskadig.
  • Die kerk ly skade.
  • Jou reputasie is op die spel.
  • Jy sal die trauma van egskeiding ervaar.
  • Jou kinders sal respek vir jou verloor.
  • Jy staan die kans om ‘n seksueel oordraagbare siekte te kry (dalk VIGS).
  • Jou gewete sal jou ry.
  • Jy mag dalk doodgemaak word (deur God se direkte ingrype, VIGS of die vrou met wie jy geslaap het se man).
  • Jy sal hel toe gaan (Hebreërs 13:4, Openbaring 21:8).

 

Iemand wat die heerlikheid van sy Skepper vir die skepping (seks) verruil, is soos ‘n man wat sout water drink en nie verstaan hoekom hy dors bly nie.  Jy is nie gemaak vir die klein vreugdes van seksuele sonde nie, maar om versadig te word in ‘n oseaan van vreugde in God (v.25).  Jesus se woorde aan ‘n seksuele immorele vrou was:  “elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

 

Wellustige dade

Die Rome van Paulus se tyd was bekend vir verskriklike losbandigheid.  Buiten vir tempel prostitusie, was seksuele sonde van elke soort en kleur volop.  Alvin Schmidt skryf:  ‘Emperor Caligula (A.D. 37-41)…lived a licentious sex life and was given to habitual incest [‘bloedskande’] with all of his sisters…He loved to engage in sex while he ate, and he often had people tortured during his many sexual escapades’ (How Christianity Changed the World, pp.81-82).  Grafiese prente kon in baie huise gesien word (Ibid, p.82, dit laat my baie dink aan TV’s, tydskrifte en internet in ons huise!).

 

Die menslike liggaam is nie boos soos baie van die Grieke gedink het nie.  Dit is sonde wat veroorsaak dat mense “hulle liggame onder mekaar te onteer” (v.24).  Paulus sê:  “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.  En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.” (6:12-13).  En weer:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (12:1).  Niemand kan sê:  ‘Dit is my liggaam en ek kan daarmee doen wat ek wil’ nie.  Die Skrif sê:  “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Psalm 24:1).  Jou liggaam behoort aan God – veral as jy ‘n gelowige is.  Paulus skryf:  “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  Want julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” (1 Korintiërs 6:19-20).

 

‘n Vrou het aan ‘n bekende Christelike tydskrif geskryf:  ‘Ek het God bo alles lief en is siek en sat vir mense wat ander oordeel wat seksuele verhoudings voor die huwelik het.  Nêrens in die Bybel staan daar dat seks voor die huwelik ‘n sonde is nie (in daardie presiese woorde nie).  Seksuele immoraliteit kan beteken net wat jy wil hê dit moet.  Op die ou einde maak dit nie saak wat ander, ewe sondige mense dink nie, dit maak net saak wat God dink.’ (JUIG! Mei 2013, p.64).  Die waarheid is dat die Bybel duidelik sê dat seks voor die huwelik sonde is.

 

“Jesus sê vir haar:  Gaan roep jou man en kom hier.  Die vrou antwoord en sê:  Ek het nie ‘n man nie.  Jesus sê vir haar:  Jy het reg gesê:  Ek het nie ‘n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.  Dit het jy met waarheid gesê.” (Johannes 4:16-18).  Sommige mense sê dat jy in Gód se oë getroud is as jy met iemand geslaap het.  Jesus ontken dit.  Volgens Hom is hierdie vrou nie met die sesde man getroud nie – al het sy met hom geslaap.  Die huwelik is nie maar net ‘n seksuele eenheid nie, maar ‘n vriendskapsverbond tussen twee mense en God (sien Spreuke 2:17, Maleagi 2:14).

 

“Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.” (1 Korintiërs 7:8-9).  Paulus sê vir ongetroude mense dat hulle moet trou eerder as om van begeerte te brand.  Hy sê nié:  ‘Spring saam in die bed as jy dit nie meer kan uithou nie’.

 

“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” (Hebreërs 13:4).  Hierdie vers tref ’n onderskeid tussen hoereerders en egbrekers.  Egbreuk vind plaas wanneer ’n getroude persoon met iemand anders slaap.  Hoerery [Gk. pornos] vind plaas wanneer ’n ongetroude persoon seksueel sondig.  Mense wat rondslaap maak seks én die huwelik goedkoop.

 

Die ongelowige Libanius het gesê:  ‘What women these Christians have!’ (Schmidt, Ibid, p.85).  In ons dag het die Kerk die wêreld se idees oor seks verwelkom.  Dit hoort nie so nie.  Jesus het gesê:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  Die Bybel sê duidelik:  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2).  Hoe kan die Kerk weer ‘n sondige samelewing beïnvloed?  Só…

 

[1] Ons moet sorg dat ons eie harte deur die evangelie verander is (v.16).  Dit is immers uit ‘n sondige hart wat seksuele sonde voortspruit (Matteus 15:19).

 

[2] As jy graag ‘n huweliksmaat wil hê, trou – moenie rondslaap nie:  “Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.  Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.  Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.  Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie…  …maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. (1 Korintiërs 7:2-5, 9).

 

[3] Bid dat die Here jou help om teen seksuele sonde te veg (Efesiërs 6:18 staan in die konteks van geestelike oorlogvoering).

 

[4] Vlug vir seksuele sonde.  “En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.  Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê:  Kom hou gemeenskap met my.  Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.” (Genesis 39:10-12).  “Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (Spreuke 5:8).  “Vlug vir die hoerery.” (1 Korintiërs 6:18a).

 

[5] Hou jou tong in toom.  ‘n Mens kan maklik tot immoraliteit aangevuur word deur mense se vleiende en vuil woorde.  “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.” (Efesiërs 5:3-4).

 

[6] Pasop vir die wêreld se versoekings deur musiek, films en ander vorme van vermaak (12:2).

 

[7] Vul jou gedagtes met goeie dinge (Filippense 4:8).  Onthou dat egbreuk in jou hart en gedagtes begin (Matteus 5:28).

 

[8] Raak ontslae van enigiets wat jou versoek om te sondig – selfs al vereis dit dat jy ‘n groot opoffering moet maak:  “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29).

 

[9] Dink aan die gevolge van seksuele sonde.  Die ergste gevolg is die hel (Hebreërs 13:4, Openbaring 21:8).

 

[10] Memoriseer die Skrif, want dit is jou swaard om teen versoeking te veg (Psalm 119:11, Efesiërs 6:17).

 

[11] Glo God se beloftes.  Jy kán hierdie sonde doodmaak:  “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).  “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2 Petrus 1:3-4).

 

[12] Onthou jou identiteit in Christus.  Jy is dood vir sonde en lewend vir God – jy hóéf nie te sondig nie (6:1-14).

 

[13] Die Heilige Gees is in jou, en daarom kan jy hierdie sonde doodmaak:  “as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (8:13).

 

[14] God het genademiddele soos die nagmaal, geestelike gawes en kerktug gegee om ons te help om sonde te oorkom.

 

[15] Sorg dat jy die regte vriende het om jou aanspreeklik te hou:  “Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.” (2 Timoteus 2:22).

 

[16] Bly weg van mense en plekke wat jou sal laat struikel:  “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (13:14).  “Onthou julle van elke vorm van kwaad.” (1 Tessalonisense 5:22).

 

[17] Lees goeie boeke oor die onderwerp.  Die beste boek tot my kennis is The Purity Principle van Randy Alcorn.

 

Omdat ons onsself liewer het as vir God, is seksuele sonde die verdiende loon waaraan God ons oorgee.  Tog is Hy baie barmhartig en het Hy self mens geword om ons verdiende straf op Homself te neem aan die kruis.  Dank Hom vir die verlossing wat joune geword het deur die geloof.  Bekeer jou van jou sonde en moenie verder teen Hom sondig nie.  Dink eerder daaraan dat jy een is met Christus.  Iemand wat met ‘n prostituut slaap word een met haar, en probeer om vir Jesus een met haar te maak!  So stel Paulus dit in 1 Korintiërs 6:16-17:  “Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie?  Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.  Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.”  Seksuele sonde is anders as ander sondes:  “Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.” (1 Korintiërs 6:18b).  In Randy Alcorn se woorde:  “Sex is not just something you do; sex is someone you are.” (The Purity Principle, p.25).  Wat sê jou seksuele begeertes en gewoontes van wie jý is?

Advertisements

Moet Genesis 1 begrawe word?

Looking up from grave

Sedert die advent van evolusie 150 jaar gelede, het Christene al hoe minder aandag begin gee aan Genesis 1.  Ons kan nie hierdie hoofstuk stief behandel of begrawe nie, want Genesis 1 bepaal hoe jy die wêreld beskou.  Is daar iets soos diereregte?  Hoe moet ons die natuur oppas?  Hoe lyk ‘n Christelike beskouing op werk?  Hoekom is daar lyding en dood in die wêreld?  Die psalmis het sy siening oor al hierdie dinge (en nog meer) uit Genesis 1 gekry.  Die skrywer van Psalm 104 het elkeen van die 6 skeppingsdae oordink.  Ons kan gerus sy voorbeeld navolg.  Leer sommer terselfdertyd vir jou kinders hierdie belangrike hoofstuk, en beskerm hulle teen die valsheid van evolusie.

Die psalmis skryf:

1 Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot!  Met majesteit en heerlikheid is U bekleed—2 wat Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed,

 

wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek; 3 wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel, 4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.

 

5 Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie. 6 U het dit met die wêreldvloed soos met ‘n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan. 7 Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik—8 berge het opgerys, laagtes het weggesak—na die plek wat U vir hulle reggemaak het. 9 ‘n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie. 10 Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes:  tussen die berge loop hulle deur. 11 Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors. 12 By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor. 13 Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke. 14 Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom, 15 en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk. 16 Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het; 17 waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is. 18 Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is ‘n skuilplek vir die dasse.

 

19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan. 20 U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip. 21 Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God. 22 As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke. 23 Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.

 

24 Hoe talryk is u werke, o HERE!  U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! 25 Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes. 26 Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.

 

27 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. 28 U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. 29 U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. 30 U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.

 

31 Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke, 32 Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook. 33 Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is. 34 Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE! 35 Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!  Loof die HERE, o my siel! Halleluja!” (Psalm 104).

Dag 1 (v.1-2a)

In v.1-4 beskryf die psalmis God as ‘n Koning:  Hy dra ‘n koninklike kleed, woon in sy koninklike kwartiere, ry in sy strydwa, het boodskappers en dienaars.  Die psalmis sê dat God Homself “omhul met die lig soos met ‘n kleed” (v.2a).  Dit herinner ons aan die eerste skeppingsdag waar God lig gemaak het (Genesis 1:3-5).  God het lig gemaak voordat Hy die son gemaak het, omdat Hy self lig is (1 Johannes 1:5).  God woon in ontoeganklike lig (1 Timoteus 6:16).  Omdat Jesus die duisternis van sonde verdryf, kan ons deur Hom tot God nader:  “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig:  God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (1 Johannes 1:5-7).

Dag 2 (v.2b-4)

Op die tweede dag het God die waters van mekaar geskei deur die hemel wat Hy uitgestrek het soos ‘n tent (v.2b).  Die water onder die uitspansel noem ons see, en die water bo die uitspansel verwys waarskynlik na reënwolke (die psalmis praat van wind en wolke in v.3-4, cf. Genesis 1:6-8).  In v.3 sê die psalmis dat God sy solders (sy woning, die hemel) op die waters gebou het.  Heel moontlik kyk hy oor die see na die horison – daar waar die blou hemel en die water mekaar ‘ontmoet’.  Wanneer hy van wind en wolke praat, beskryf hy dit as ‘n strydwa (v.3).  Die rede is eenvoudig, omdat die gedreun van donderweer klink soos ‘n strydwa met perde.  Laastens sê die digter dat God sy winde boodskappers maak en vuurvlamme sy dienaars.  Die vers kan ook andersom geskryf word:  ‘God maak sy boodskappers winde en sy dienaars vuurvlamme’.  Dit is hoe die Nuwe Testament dit verstaan (Hebreërs 1:7).  God se boodskappers en dienaars (engele, 103:21) is so vinnig soos die wind; hulle is soos ‘n vuur (cf. 2 Konings 2:11).  Omdat engele in die konteks van God se skepping genoem word, kan ons weet Hy het hulle gemaak.  Paulus sê:  “in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.” (Kolossense 1:16).  Die God wat op donderwolke en gerubs ry is jóú God.  Laat dit jou aanspoor om Hom aan te roep wanneer jy in die moeilikheid is (cf. 18:10-12).

Dag 3 (v.5-18)

Op die derde dag het God die land en see van mekaar geskei.  God het ook  bome en plante uit die grond laat uitspruit (v.5-18, Genesis 1:9-13).  Hoe presies het Hy dit gedoen?  God het die aarde laat vasstaan (v.5).  Natuurlik het dit nie letterlik ‘n fondasie nie, maar dit is Hý wat dit in plek hou – selfs wanneer dit op ‘niks’ hang nie (Job 26:7).  In die begin was die hele aarde (ook die berge) met water bedek soos met ‘n kleed (v.6, Genesis 1:2).  Op God se bevel het die water onder die aarde se kors in verdwyn (v.7).  Soos wat die water weggesak het, het die berge sigbaar geword.  Ook die valleie kon later gesien word (v.8).  Hierdie massas water het die rotse laat erodeer, sodat dit gou ‘oud’ gelyk het.  God het ‘n volwasse skepping gemaak:  berge en bome het dadelik ‘oud’ gelyk.  Adam en Eva het volwasse gelyk toe hulle geskep is.  Die lig van sterre het nie miljoene jare geneem om te aarde te bereik nie:  God het die ster, die aarde en die lig tussen die twee dadelik geskep.

Lank ná die skepping het die water die aarde in die tyd van Noag weer oordek.  Maar dit sal nie weer gebeur nie (v.9, Genesis 9:11-16).  Nóú gee God water hoofsaaklik dat ons kan lewe, en nie om die wêreld uit te wis nie (v.10-16).  In die warm woestyn gee God water uit die grond.  Die voëls bou hulle neste in die bome wat langs die riviere staan.  Ook die wilde donkies les hulle dors hier (v.10-12, Job 39:5-8).

God gee ook water uit hemel (reën), sodat die plante kan groei (v.13, Job 5:10).  Die vorming van reën bewys dat ons God die ware een is:  “Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak?  Of kan die hemel reënbuie gee?  Is U dit nie, o HERE onse God?  En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.” (Jeremia 14:22).  Die reën laat gras groei vir die diere (v.14).  Daardeur gee God ook vir ons wyn vir plesier, olie vir gesondheid en brood vir energie (v.14b-15).  God gee water vir sy bome wat Hy geplant het (v.16, dit is indrukwekkend dat God bepaal waar elke saad val, waar elke nuwe boom opkom).

God gee ook bome vir die voëls om hulle neste in te maak (v.17, 12).  Die berge bied veiligheid vir die bergbokke – dáár sal ‘n luiperd of ander groot kat sukkel om hulle te vang (v.18a).  In die rotse kan die dassies koelte hê en beskerm wees teen arende en ander roofvoëls (v.18b, Spreuke 30:26).

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?  Daar is ten minste vier:

[1] Ons moet die Here baie meer dank vir reën.  Wanneer dit warm is kla ons oor te min reën.  En wanneer die Here reën stuur kerm ons omdat dit te veel reën.  Dank God eerder vir reën.  Laat dit jou ook herinner aan die lewende water wat ons in Jesus Christus vind (Johannes 4:14).  Soos wat niemand sonder water kan leef nie, kan niemand sonder Hom die ewige lewe hê nie (Johannes 14:6).

[2] God het wyn, olie, brood en ander dinge gegee om te geniet.  Moet dit nie misbruik of ‘n afgod daarvan maak nie.

[3] Moenie altyd dieselfde rympie opsê wanneer jy vir die kos dank nie.  Dink mooi wanneer jy of iemand anders die tafelgebed doen.  Wees regtig dankbaar.  Onthou ook dat God alles gemaak het.  As jy Hom daarvoor dank hoef jy nie ‘n gewetensbeswaar te hê oor iets wat jy eet nie:  “[vals leraars] gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.  Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” (1 Timoteus 4:3-5).

[4] Het jy kos, klere of ‘n blyplek nodig?  God sê dat sy kinders meer werd is as voëls (Matteus 10:31).  As God vir die voëls neste gegee het, en skuiling vir die bergbokke en dassies, sal Hy nie ook vir jou gee wat jy nodig het nie?

Dag 4 (v.19-23)

Op die vierde dag het God die son en die maan gemaak om oor die dag en die nag te heers (v.19-23, Genesis 1:14-19:  die psalmis aanvaar dat Genesis se dae gewone 24 uur dae was).  In die nag sluip die diere rond:  die leeus jag beter wanneer hulle ‘onsigbaar’ is (v.20-21).  Wanneer die woestynson warm skyn slaap die leeus in die koelte van hulle den (v.22).  Die leeus eet nie omdat hulle so sterk is nie, maar omdat God vir hulle sorg (v.21, Job 39:1).  Te veel natuurprogramme maak asof oorlewing van blinde lot afhang.  Moet dit nie vir ‘n oomblik glo nie:  God beheer alles en sorg vir sy skepping (v.21).  God sorg ook vir die mens, maar die manier waarop Hy vir ons voorsien is deur werk.  ‘Werk in die en slaap in die nag’ is die normale patroon (v.23, 14-15, Genesis 3:19).  Jongmense moet hieruit leer om nie in die dag rond te lê en in die nag partytjies te hou nie.  Werkende Christene moet leer dat ons hard moet werk in die dag en nie angstig moet wakker lê in die nag nie:  “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (127:2).  Leer ook dat God nie verwag dat jy in die dag en nag hoef te werk nie (ek praat nie van nagskofte nie).  Werk hard, maar moenie ‘n afgod maak van werk nie.

Dag 5 (v.24-26)

Op die vyfde dag het God voëls en seediere gemaak (Genesis 1:20-23).  Die psalmis het genoeg gesê oor die voëls en verwys nou net na die seediere (v.24-26).  God se wysheid kan gesien word in die wye verskeidenheid van diere wat Hy gemaak het, asook in hulle getalle.  Ons sien ook sy wysheid in klein diere (soos plankton) en groot diere (soos walvisse).  Sy wysheid is sigbaar in die wonderlike skepsels wat Hy gemaak het (v.24-25):

  • Die Kelkiewyn (‘n tipe sandpatrys) het spesiale vere op sy bors.  Hy vlieg 50-80 kilometer ver om water te soek in die woestyn.  Wanneer hy water drink lê hy met sy bors in die water.  Die vere ‘suig’ die water op.  Hy vlieg terug en laat die kleintjies water drink uit sy vere.
  • Die witkoluil het twee donker kolle agter op sy kop.  Dit lyk soos oë.  ‘n Ander voël wat die klein uiltjie wil jag sal nie dadelik aanval nie, want hy dink die uil sien hom.
  • ‘n Speg (‘woodpecker’ in Engels) se kloue lyk anders as ander voëls s’n.  Waar ander voëls drie tone voor en een agter het, het die speg twee tone voor en twee agter.  Dit help dat die voël homself skuins teen ‘n boom kan stut (met versterkte stertvere om te help stut), terwyl hy teen die boomstam ‘boor’.
  • Die kapokvoël se nes het ‘n ‘vals’ ingang en ‘n regte een.  Net die voël weet waar die regte een sit.  Roofdiere (soos slange) kruip by die verkeerde ingang in en sien daar is niks eiers nie.  Die slang word geflous, en die eiers bly veilig in die nes.

Die aarde is vol van die Here se skepsels (v.24).  Daar is diere in die woestyne, die oseane, grotte, woude, pole, berge, valleie, vlaktes, die dun atmosfeer bo die aarde.

Die see hou ook voordele soos vissery en handel vir die mens in (v.26).  Die magtige Leviatan (die antieke naam van een of ander soort dinosaurus) is ‘n bewys van God se krag (v.26, cf. <st1:bcv_smarttag>Job 41, Jesaja 27:1).[1]  Die mens se krag vergelyk nie met hierdie magtige seedier s’n nie (Job 41:29).  Maar in vergelyking met God is Leviatan ‘n speelding (v.26, moontlike vertaling uit die Hebreeus).

Gelowiges moenie God se wysheid in die skepping miskyk nie.  Moenie altyd net in jou kantoor sit nie.  Kom ‘n bietjie in die skepping.  Leer die feite van sekere dinge in die natuur en sit dit om in lof vir God se wysheid.  Neem  iets op soos voëlkyk, tuinmaak, stap, sterrekyk.  Skryf in vir die Creation tydskrif of koop goeie natuur DVD’s by www.creation.com.  Moenie soos evolusioniste blind wees vir God se wysheid in die skepping nie.

Dag 6 (v.27-30)

Op die sesde dag het God mense en diere gemaak (Genesis 1:24-31).  Die psalmis beskryf hoe God mense en diere voed en onderhou.  God voed selfs die magtige Leviatan.  Hy gee vir elke skepsel sy kos op die regte tyd (v.27, cf. 147:9).  Die dolfyne, haaie, malgasse, robbe en walvisse moet wag totdat God die sardyne stuur.  Olifante, buffels en ander diere moet wag totdat die Okavango in vloed is.  Die leeus en krokodille moet wag totdat die wildebeeste oor die Mararivier trek om weiding te soek.  Voëls, vosse, ysbere en baie ander diere moet wag dat die arktiese ys smelt om kos te kry.  Alles kom uit God se hand:  wurms, vrugte, gras, vis, vleis (v.28):  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (145:16).  Jy hoef nie te bekommer oor waar jou kos vandaan sal kom nie:  God sal sy hand oopmaak en vir jou sorg (sien Matteus 6:25-34).

Diere vrek en mense sterf as God wegkyk; as God reën en kos terughou (v.29).  God het vir Adam gesê:  “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (Genesis 3:19).  Job 34:14-15 sê:  “As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.”  As God nie reën gee nie vrek die klein olifantjie in die Kalahari.  As die see nie in ys verander nie, kry die ysbeer nie kos nie en vrek hy.  Die psalmdigter staar hom nie blind teen die wonderlike skepping, sodat hy van die sondeval (en gevolglik die dood) vergeet nie (v.29).  Maar hy kyk ook nie vas teen die dood nie.  Hy sien hoe daar nuwe gras uit die stof spruit na die reën, en onthou dat God eendag die wêreld sal herskep:  “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.” (v.30).  Volg sy voorbeeld.  Onthou dat God mense weer uit die stof sal opwek (cf. Esegiël 37:9, Daniël 12:2).  Hy het reeds sy nuwe skepping begin deur die werk van wedergeboorte (2 Korintiërs 5:17).  Daardeur waarborg Hy dat Hy die hemel en aarde sal herskep (Openbaring 21:1).

Slotgebed (v.31-35)

Verse 31-35 is die psalmis se reaksie op sy oordenking van Genesis 1.  Mense en diere vergaan (v.29), maar God bly vir altyd (v.31).  God verbly Hom in ons (v.31, cf. Genesis 1:31, Spreuke 8:31) en ons in Hom (v.34).  As gevolg van sonde het God die wêreld vervloek.  Voordat God alles herstel sal Hy die wêreld skud en sondaars uitwis:  “Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook….Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!” (v.32, 35).  Vir die wat in Jesus glo is daar nie straf nie, omdat Hy in sy kruisdood as ‘n goddelose mens behandel is namens ons.  Moenie soos die goddelose teen God rebelleer nie, maar gebruik jou lewe en asem om Hom te prys (v.33).

Wanneer laas het jy Genesis 1 gelees, bestudeer of oordink?  Wanneer laas het jy die Here geprys vir hierdie hoofstuk?  Moet dit nie met ‘n kritiese oog lees soos die liberalis wat foute soek nie.  Moet dit nie net lees om antwoorde teen evolusie te soek nie.  Lees, bestudeer en oordink dit om God te aanbid en sy lof te besing.  Dink aan die nuwe skepping in jou hart (weergeboorte) en aan dit wat kom by Jesus se wederkoms wanneer jy dit doen.  Mag jou oordenking vir God aanneemlik wees (v.34).


[1] Ek weet dat party vertalings Leviatan as ‘krokodil’ vertaal in Job 41.  Die beskrywing van hierdie dier in Job 41 lyk nie soos ‘n krokodil nie, maar eerder soos ‘n tipe dinosaurus.  Die onmiddellike beswaar van party lesers is dat dinosaurusse uitgesterf het voordat die mens op aarde was.  Maar hierdie teorie glo dat daar dood in die wêreld was voor sonde, en volgens die Bybel is dit andersom (Romeine 5:12, 8:20-21).

Iemand op wie jy kan staatmaak

Solid Rock

1 O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes. 2 Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp. 3 Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank. 4 Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou. 5 Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE. 6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. 7 Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. 8 Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; 9 want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan. 10 Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. 11 Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag. 12 Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het. 13 Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. 14 Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, 15 Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke. 16 ‘n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie. 17 Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie. 18 Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; 19 om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood. 20 Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; 21 want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou. 22 Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!” (Psalm 33).

 

Oproep tot lof (v.1-3)

Wat gaan aan in hierdie Psalm?  Uit v.10 lyk dit of ander nasies God se volk aanval.  God sê vir sy volk om op Hom te wag en te vertrou, eerder as om staat te maak op die krag van hulle weermag (v.16-22).  Wanneer God die vyand oorwin sal hulle met gejuig en gejubel in Jerusalem inkom:  “O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes.  Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.  Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” (v.1-3, cf. Eksodus 15:1, 1 Samuel 18:6-7 vir soortgelyke voorbeelde).  Lofprysing pas by gelowiges soos ‘n sleutel by ‘n slot.  Ons moet veral die Here prys vir ons verlossing (v.1).  God wil hê ons moet die beste lof bring wat ons moontlik kan (v.3).  Kenmerke van hierdie tipe lofprysing is (soos gesien kan word in hierdie Psalm):

 

  • Bespeel die instrument waarmee jy die Here loof goed.
  • Ons liede moet melodieus wees.
  • Sing oor die groot temas van hierdie Psalm:  God se skeppingswerk, sy ewige en wyse raadsplan, sy Vaderlike sorg en sy verlossing.  Met ander woorde, sorg dat die liede se woorde Bybels is en teologies solied is.
  • Sing uit ‘n opregte en heilige hart.
  • Sing met passie; met ‘n hart vol van God-verheerlikende emosie.
  • Liede moet God- en nie mensgesentreerd wees nie.
  • Wees bly.
  • Vrees God (v.8).
  • Sing veral oor God se verlossing in Jesus Christus.  Die nuwe lied in v.3 verwys na ‘n lied oor God se verlossing.  Die volgende verse wys dit:  “Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde!  Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.” (96:1-2).  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).

 

John MacArthur praat van hierdie nuwe lied as ‘a new occasion for expressing fresh praise to God’.  Wat het God onlangs vir jou gedoen?  Het jy nagelaat om Hom daarvoor te prys?

 

Loof Hom vir die skepping (v.4-9)

Hoekom moet jy die Here loof?  In v.4-9 gee die psalmis ‘n paar redes.

 

[1] God se Woord is nie krom en verdraaid nie, maar reg (v.4a).

 

[2] God is getrou wanneer Hy skep, red en die skepping onderhou (v.4b).

 

[3] God haat onreg.  Hy is aangetrokke tot dit wat reg is, soos wat mot aangetrek word na ‘n kers toe (v.5a).  God het byvoorbeeld vir die opregte Dawid gekies, omdat hy ‘n man na sy hart was (Handelinge 13:22).  God het van die volmaakte Christus gesê:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matteus 3:17).  En God het ‘n welbehae in ons wanneer ons beklee is met die geregtigheid van sy Seun (Filippense 3:9).

 

[4] God se liefde vul die hele aarde (v.5b).  Hoe kan ‘n mens dit nie raaksien nie?

 

[5] God het alles deur sy Woord en deur die asem van sy mond geskep (v.6, 9).  Die Hebreeuse term vir ‘asem’ kan ook met ‘Gees’ vertaal word.  Hierdie Psalm wys dus vir ons hoe die Vader, Seun (die Woord, Johannes 1:1-3, 14) en Heilige Gees betrokke was in die skepping.  Genesis 1:2 praat van die Gees wat reeds daar was toe die wêreld geskep is, en in die res van die hoofstuk sien ons hoe die Woord (Christus) teenwoordig is:  ‘En God het gesê…’  Hebreërs 11:3 en 2 Petrus 3:5 wys ook vir ons dat God deur sy Woord die heelal gemaak het.  Die eindelose sterreruim en magtige oseane is soos niks vir God.  God hou die see se water in die palm van sy hand; Hy meet die hemelruim af met die breedte van sy hand (Jesaja 40:12).   Hy versamel die water en laat dit in ‘n hoop opstaan (v.7, 78:13, Genesis 1:9-10).  Dat Hy al hierdie dinge deur sy Woord en met die asem van sy mond kon skep is verbysterend (v.6-7).  God skep uit niks:  Hy gee eenvoudig ‘n bevel en alles bestaan (v.9).  Romeine 4:17 sê dat God “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.”  Die Hebreërskrywer sê:  “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.” (Hebreërs 11:3).

 

Ons moet God vrees vir sy vreeslike skeppingskrag:  “Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees” (v.8).  Prys die Here vir sy werke.  Moenie so gewoond raak aan die see, ‘n sonsondergang, ‘n blom of die maan, dat jy dit miskyk nie.  Moet ook nie soos baie mense dink dat jy God is, sodat jy dinge kan ‘uitspreek’ en dit laat gebeur nie.

 

Loof Hom vir sy raadsplan (v.10-12)

Hitler wou ‘n super ras tot stand bring.  In die proses het hy mense vermoor.  Maar God het sy planne tot niks gebring.  So doen God met alles nasies wat teen Hom in opstand kom:  “Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.” (v.10).  Dawid sê:  “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (2:1-3).  Onthou jy hoe Dawid gebid het dat God Agitofel se planne sal vernietig, en hoe God hom geantwoord het (2 Samuel 15:34, 17:14)?  Of hoe God die planne van Nehemia se vyande omver gegooi het (Nehemia 4:15)?

 

God se planne is nie soos die nasies s’n nie.  Sy planne is ewig en staan vir altyd vas:  “Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” (v.11).  Die Bybel sê oor God se planne:

 

“Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.” (Spreuke 19:21).

 

“Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê:  Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand…want die HERE van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?” (Jesaja 14:24, 27).

 

“My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:10).

 

“En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Daniël 4:35).

 

“Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).

 

God het vir Israel uitverkies om sy erfdeel te wees:  “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (v.12).  God het miljoene mense voor die skepping van die wêreld uitverkies om sy erfdeel in Christus te wees:  “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil…sy erfdeel onder die heiliges” (Efesiërs 1:4-5, 18).  God het ons nie gekies omdat Hy geweet het ons sou in Hom glo nie.  Sy keuse was gebasseer op sy vrye liefde en genade:  “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:6-8).  “Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.  En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” (Romeine 11:5-6).

 

Ons moet God dank dat Hy ons uitverkies het.  Dank Hom vir die seën (v.12, welgeluksalig) wat jy in Christus het.  Efesiërs 1:3 sê dat God ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus.  In v.4-14 verduidelik Paulus dan wat hierdie seëninge in Christus is.  Lees gerus weer hierdie teks en let op hoeveel keer die frase in Christus/in Hom voorkom.  Volgens Paulus is ons in Christus uitverkies, bestem om soos Jesus te wees, aangeneem, verlos, vergewe, versoen, met die Heilige Gees verseël.  In Christus het ons ‘n erfdeel ontvang, verkry ons geloof en hoop.

 

[a] Die feit dat God alles vooruit bepaal het moenie daartoe lei dat ons fatalisties is en sê:  ‘Ek sal passief wees, want God het buitendien al klaar besluit wat Hy gaan doen’ nie.

 

[b] Ons moet ook nie sê dat sonde God se skuld is, omdat Hy reeds alles vooruit bepaal het nie.  In Jesaja 10:5-7 lees ons hoe God die bose koning van Assirië gebruik het om vir Israel te straf, maar dat die koning self vir sy sondige motiewe verantwoordelik was:  “Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid!  Ek sal hom stuur teen ‘n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.  Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.” (eie beklemtoning).  In dieselfde daad het God een plan en die sondige koning ‘n ander.  God is dan nie verantwoordelik vir sy sonde nie.

 

[c] Moenie dink:  ‘God het reeds gekies wie Hy gaan red, en daarom hoef ek nie die evangelie met hierdie mense te deel nie’.  God red die uitverkorenes deurdat hulle die evangelie hoor en glo (Romeine 10:14-15, Handelinge 13:48).  God het gesê jy moet die evangelie preek, en daarom moet jy Hom gehoorsaam (Matteus 28:18-20).  Jy weet buitendien nie wie is uitverkies en wie nie.  Deel daarom die evangelie met almal.  Uitverkiesing werk nie teen evangelisasie nie.  Paulus gebruik dit as ‘n motivering vir evangelisasie:  “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10).  Paulus het geweet God sal sy uitverkorenes red; hy was verseker dat sy werk en lyding nie tevergeefs was nie.

 

Loof Hom vir sy sorg (v.13-15)

Ek het eenkeer ‘n insek op ons pruimboom gesien.  Dit was skaars sigbaar.  Dit was so klein soos ‘n swart miertjie se been.  In God se oë is die mens minder as ‘n spikkel.  En tog stel God belang in sy skepsels.  Hy sien alles op die aarde.  Hy sien ons motiewe en ons dade.  “Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.  Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.” (v.13-15).  “want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9).  “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13).  God ontferm Hom soveel oor ons, dat Hy self mens geword het om tussen ons te leef en ons van ons sondes te red.  Verwonder jou oor sy groot goedheid en genade.

 

Loof Hom vir sy redding (v.16-19)

Gideon het met 300 manne die Midianiete oorwin.  Die jong en niksseggende Dawid het vir Goliat verslaan.  Een van Dawid se dapper manne het 800 Filistyne oorwin (2 Samuel 23:8).  Asa en sy power groep soldate het ‘n weermag van ‘n miljoen soldate vernietig (2 Kronieke 14:9).  Jonatan het dit reg gehad:  “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).  God het deur een man (Paulus) die Romeinse Ryk op sy kop gekeer en die magte van die hel geskud.  1500 later het God weer die Europese kontinent en die bose magte laat sidder deur Martin Luther.  By die slag van Bloedrivier het God deur ‘n paar honderd boere tienduisend Zoeloes laat sneuwel.

 

Sien jy die les?  Vertrou op God en nie op jou sterk weermag, perde, jou eie krag, baie geld, nuwe kliënte wat by jou winkel kom koop, die projek wat jy moet kry om jou besigheid sukses te laat geniet, ‘n sekere dokter wat sal uitvind wat fout is met jou, ‘n goeie vriend wat jou kan help, ‘n berader of sielkundige wat jou probleme sal oplos nie.  “‘n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie.  Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.” (v.16-17).  “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.” (20:7).  “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spreuke 21:31).

 

Moenie bang wees omdat jou bronne klein of min is nie.  God is nie beperk nie.  As Hy wil kan Hy met vyf broodjies en twee vissies ‘n paar duisend mense voer (Johannes 6:9).  Vrees God en dan sal sy guns oor jou wees en sy hulp jou tegemoet snel:  “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (v.18).  Hoe vrees ‘n mens die Here?  Dawid sê vir ons hoe:  “Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.  Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?  Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.  Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.  Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.” (Psalm 34:12-16).  As jy die Here vrees sal Hy jou uitred en onderhou in die moeilikste omstandighede – selfs iets soos hongersnood of werkloosheid in ‘n land waar dit byna onmoontlik is om werk te kry as jy bo 50 is.  God is nie beperk deur dinge soos BBE nie.  Die Skrif sê:

 

“om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.” (v.19).  As Hy moet, sal God kraaie of ‘n arm weduwee stuur om jou aan die lewe te hou in moeilike tye (sien 1 Konings 17:1-16).

 

“Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.” (37:19).

 

“Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).

 

“In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.” (Job 5:20).

 

“Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7).

 

‘n Slotgebed (v.20-22)

Bid jy al lank dat God jou sal red, ‘n spesifieke versoek sal beantwoord, sal deurbreek teen ‘n sonde wat jou pla, uitkoms gee in lyding, jou help uit ‘n geestelike woestyn?  Moenie ophou bid nie.  Wag op die Here:  “Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.  Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!” (v.20-22).  Hoe moet jy op die Here wag?

 

  • Glo sy Woord en beloftes, en vertrou dat Hy dit sal vervul (v.20-22).  “Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord.  My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre.” (130:5-6).
  • Hoop op die Here.  Verwag dat Hy jou sal antwoord.  “En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.” (Jesaja 8:17).  Dit is sleg as ‘n gelowige vir die Here iets vra, maar nie ‘n antwoord verwag nie.  Hoekom moet God dan gee waarvoor jy vra (sien Jakobus 1:5-8)?
  • Wees geduldig.  “Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.” (37:7).  “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (62:6).
  • Glo God kan en wil jou help.  “die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:31).  Die konteks van hierdie vers wys hoe ons moet glo God is lief vir ons; hoe ons moet glo Hy wil ons help.

 

Baie mense in ons wêreld is nie betroubaar nie.  Jou hart is bedrieglik en daarom kan jy nie eers jouself vertrou nie.  Die Here is nie soos mense nie.  Jy kan op Hom staatmaak.  Jy kan Hom letterlik met jou lewe vertrou.

Bewyse dat God bestaan

god

Niemand kan God se bestaan wetenskaplik bewys nie.  Ons kan Hom nie met ons vyf sintuie bewys nie.  Wetenskaplikes het onlangs die Higgs partikel ‘ontdek’.  Hulle kon dit nog nie sien nie, en kan dit verseker nie hoor, proe, voel of ruik nie.  En tog is hulle oortuig dit bestaan.  Hoekom wil mense dan nie dieselfde doen wanneer dit by God kom nie?  Hoe weet ons Hy bestaan regtig?  Hier is ‘n dosyn plus een bewyse:

[1] Die mens se gewete, “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.” (Romeine 1:19).  “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig” (Romeine 2:14-15).  Hoe weet iemand wat nog nooit van Jesus, die Tien Gebooie of die Bybel gehoor het nie, dis verkeerd om te steel?  So iemand se gewete sal hom pla.  Waar kom die ingeboude sin van moraliteit vandaan?  Ateïste ontken absolute moraliteit.  ‘Vir jóú is aborsie verkeerd, maar vir mý is dit nie verkeerd nie’.  Hulle sal redeneer dat diefstal nie altyd verkeerd is nie.  Maar hierdie selfde mense sal kla, want hoe kan ‘n goeie God onreg in die wêreld toelaat?  Let op hoe hulle ‘n absolute maatstaf het om te sê daar is ‘onreg’ in die wêreld.  Hoe kan daar onreg wees as daar geen absolute waarheid is nie?  Die feit dat selfs húlle absolute morele waardes erken sê iets.  Elke mens weet God bestaan en dat Hy die oorsprong van moraliteit is.

[2] Die profesieë van die Bybel.  God se voorspellings is nie vaag nie, maar baie gedetaileerd.  As die honderde dinge wat Hy voorspel het tot op die letter waar geword het, kan ons weet Hy bestaan regtig.

[3] Beantwoorde gebed.  Hoe anders verduidelik jy dat ek al dikwels net vir die Here gesê het:  ‘Here, ek het R100 nodig vir petrol…Sal U asseblief vir my R800 voorsien om my kar te diens,’ en die presiese bedrag ontvang het?  Miljoene Christene kan vir jou dieselfde stories vertel.

[4] Weergeboorte.  Hoe verander ‘n moordenaar binne ‘n dag na ‘n vredeliewende mens wat ander wil help?  Net God kan so iets in ‘n mens se lewe bewerk.  Ja, iemand kan dalk sy sokkies optrek en sy dade verander, maar niemand kan uit homself sy vyande opreg liefhê of sondige begeertes vir heilige begeertes verruil nie.  Dit moet die werk van God wees.

[5] Die bonatuurlike.  Daar is meer as genoeg bewyse vir ware wonderwerke (nie die nonsens wat jy op TBN sien nie).  Jesus se opstanding kan feitlik bewys word (sien gerus my artikel, ‘Tien bewyse vir Jesus se opstanding’).  Selfs mense wat God haat (soos Sataniste) kan vir jou sê dat daar regtig iets soos demone bestaan.  Die bestaan van geeste is genoeg om te bewys dat God bestaan.  God self is immers Gees.

[6] Lewe.  Niemand kan lewe skep behalwe die Bron van lewe nie.  Lewe kan nie uit ‘nie-lewe’ (as daar so ‘n woord is) onstaan nie.

[7] Oorsake en gevolge.  Alles in die heelal word deur iets veroorsaak.  As jy ver genoeg terugwerk sal jy besef dat daar ‘n heel eerste oorsaak van alles was.  Mense sê:  ‘Maar as jy sê God is die oorsaak van alles, moet dit wees dat iets God veroorsaak het’.  Hoekom?  Mense wat in die Big Bang glo kan nie vir jou sê wat voor die spikkel bestaan het nie.  So, óf materie is ewig óf God is ewig.  En ek weet dis nie materie nie.

[8] Die mens se siel.  Ateïste glo die mens het nie ‘n siel nie.  Psigiaters flous baie mense om te glo dat depressie ‘n fout in die mens se brein is.  Maar dit is nog nooit medies bewys dat daar ‘n chemiese wanbalans in die brein is, ‘n tekort aan litium is of probleme is met die serotinien-vlakke in brein nie.  Dit is alles spekulasie en teorie (sien Robert Smith, M.D. se hoofstuk oor depressie in sy boek, The Christian Counselors Medical Desk Reference).  Depressie is ‘n geestelike en emosionele probleem.  Trek bloed, neem x-strale, doen bloeddruk toetse of ‘n EKG – doen wat jy wil; jy sal nie die depressie opsoor nie.  As die mens ‘n siel het, vra ek:  ‘Hoekom kan daar nie ‘n Ander nie-materiële wese bestaan nie?’

[9] Alles is geskep met ‘n doel.  Ek bedoel nie net dat bye bestaan om heuning te maak of om stuifmeel te versprei nie.  Kyk maar na hoe mense betekenis in die lewe soek.  As jy eerlik is met jouself weet jy dat die lewe en die heelal nie doelloos is nie.  Indien jy glo dit is, sal ek nie verbaas wees as jy roekeloos lewe, depressief raak of selfmoord pleeg nie.

[10] Godsdiens.  Alle mense aanbid iets.  Dit bewys mos vir ons dat daar iets groter as die mens is.  Selfs ateïste glo in evolusie (hulle het geen bewyse nie):  evolusionistiese ‘wetenskap’ (nie dat dit ‘n wetenskap is nie) is die god wat hulle aanbid.

[11] Ateïste.  Daar bestaan nie iets soos nat sonder droog, lig sonder donker of ateïste sonder God nie.  Ateïste is alewig besig om oor God te stry en om Hom sleg te sê.  Dit bewys hulle weet Hy bestaan.  Moenie dink ek bedoel:  ‘Christene sê Zeus bestaan nie, en daarom bestaan hy’ nie.  Om so te redeneer is dom, want ‘Christen’ en ‘Zeus’ is in geen opsig teenoorgesteldes, sodat die een die ander veronderstel nie.  My bedoeling is eerder dit:  anti-apartheid veronderstel daar bestaan iets soos apartheid.  Daar kan nie ‘n Antichris wees as Christus nie bestaan nie.  Daar bestaan nie iets soos ‘immortal’ of ‘infinite’ sonder ‘mortal’ en ‘finite’ nie.  En dis in dié opsig dat a-teïs nie sin maak as daar nie ‘n Theos (God) is nie.  Daarom dat ek sê ateïsme veronderstel dat daar ‘n God is.

[12] Informasie in die DNA.  Hoe op aarde kan die inligting vir blou oë, blonde hare en ‘n miljoen ander dinge self bestaan.  DNA kan inligting verloor, maar nie byvoeg nie.  Dit is aardig dat mense dink ‘n eensellige amoeba kon inligting vir arms, bene, oë, ‘n brein, en baie ander dinge by kry, sodat dit vandag ‘n mens is.  Die informasie in die DNA moes duidelik van ‘n Intelligente Wese af gekom het.  Ek wonder wie kan dit wees?

[13] Die skepping.  Niemand weet presies wie die Egiptiese piramides of Stonehenge gebou het nie.  Tog weet ons die bouers het bestaan, was intelligent en sterk.  Net so wys die detail en ontwerp in die skepping dat Iemand (God) dit gemaak het, “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:19-20).  “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.  Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?” (Job 12:7-9).

“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.  Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:  daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.  Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ‘n tent gemaak; en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.  Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.” (Psalm 19:2-7).

Uit dinge soos vrugtebome, die son en reën weet ons God is goed (cf. Handelinge 14:17).  Dinge soos donderstorms en onstuimige golwe sê vir ons God is sterk.  Spinnerakke, intelligente mense en baie ander dinge in die natuur sê vir ons God is alwys.  Die skoonheid van die natuur sê iets van God se skoonheid.  Die ryke verskeidenheid in die see, woestyne, woude roep uit dat God alwetend is.  Die orde van dinge in die skepping wys dat God ordelik is.

Wat is die gevolgtrekking van al hierdie bewyse?  Niemand is onskuldig deur onkunde nie (Romeine 1:20).  Jy weet God bestaan.  En die mense wat nog nooit ‘n Bybel gesien het of van Jesus gehoor het nie, weet God bestaan.  Indien iemand graag die God van die skepping wil ken, sal God ‘n prediker stuur om die evangelie met daardie persoon te deel (Handelinge 10).  Om gered te word moet jy glo God bestaan.  Die Skrif sê immers:  “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom sok.” (Hebreërs 11:6).  John Baillie het gesê dat ‘n ateïs wat in sy gedagtes ontken dat God bestaan, tog diep in sy hart in God glo.  Martyn Lloyd-Jones se reaksie hierop was:  ‘If a man can go to heaven who does not even believe in God…Why should we have a Christian church at all?’ (Iain Murray; D. Martyn Lloyd-Jones – The Fight of Faith; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1990; pp.428, 438).  Dit is onsin om te sê daar sal ateïste in die hemel wees.

Die bewyse vir God se bestaan is nie genoeg om iemand van sy sonde te oortuig nie.  Voltaire het gesê as ‘n wonderwerk voor sy oë en ‘n duisend ander getuies s’n sou plaasvind, sal hy eerder sy sintuie betwyfel as wat hy die wonderwerk glo.  Jesus het gesê:  “As hulle na Moses en die Profete [die Skrif] nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (Lukas 16:31).  Iets groter is nodig om die mens se blinde oë oop te maak.  Iets bonatuurlik.  Is dit nie juis hoekom God die kragtige evangelie vir ons gegee het nie (v.16-17):  sodat mense kan glo God bestaan, nuwe harte kan ontvang, vergewe kan word, veranderd kan lewe en God kan aanbid?

Hoekom is God kwaad vir Suid-Afrika?

sa flag

18 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. 22 Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword 23 en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Romeine 1).

Mense ontken die waarheid (v.18-20)

Vir die rekord moet ek begin deur te sê dat God se woede (toorn) nie soos mense s’n is nie.  God verloor nie sy humeur nie.  Syne is ‘n heilige en regverdige toorn oor mense se sonde.  Die sondeval, vloed en oordeel op Sodom en Gomorra is goeie voorbeelde van sy regverdige toorn.  Hy het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie hoor nie.  Soos tóé, is God nóú kwaad vir Suid-Afrika en die wêreld:  “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (v.18).  Let op dat sy toorn nie net opgegaar word vir die toekoms nie, maar dit word nóú vanuit die hemel geopenbaar (cf. Efesiërs 5:6).  Ons sien God se toorn in:

  • Rampe soos aardbewings, vulkane, tsunami’s.
  • Siektes soos VIGS, kanker, beroertes, hartaanvalle.
  • Tragedies soos 9/11.
  • Oorloë.
  • Die saai en oes beginsel.  Iemand wat dronk bestuur en onder ‘n trok inry, pluk die vrugte van sy eie dwase optrede.
  • Mense wat oorgegee word aan hulle sonde en nie kan stop nie (soos ‘n trokdrywer wat teen ‘n afdraende ry en sonder remme na sy dood toe jaag).  “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer…Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte…God [het] hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (v.24, 26, 28).  “Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.” (Psalm 81:13).
  • Die gevolge van sonde.  Sonde se gevolge is menig en erger as wat jy jou kan indink.
  • Die dood.

Die feit dat God nóú reeds sy toorn uitstort op mense, behoort vir jou te sê dat daar ‘n groter oordeel oppad is (cf. v.32).  Wat jy nou sien is maar net ‘n voorskou:  “soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” (Judas 7).  Die finale oordeel kom nog:  “Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God” (2:5).

Nog nooit het God sy toorn so erg losgelaat, soos toe Jesus aan die kruis gehang het nie.  Jesus het die ewige toorn van miljoene mense op Homself geneem.  Daarom kan ons wat op Jesus vertrou van God se toorn ontsnap:  “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.” (5:9).  1 Tessalonisense 1:10 praat van “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”

Hoekom is God kwaad en straf Hy ons?  Want Suid-Afrika (soos die res van die wêreld) is goddeloos (v.18).  Ons regering roem daarin dat ons die mees liberale grondwet in die wêreld het (v.24-32).  In Suid-Afrika kan mense in ‘n seksuele verhouding saambly sonder om getroud te wees.  Poligamie is heeltemal aanvaarbaar.  Egbreuk is alledaags.  Niemand is gepla deur prostitusie nie.  Tiener seks is nou wettig.  Pornografie is vrylik beskikbaar.  Homoseksualiteit is wettig (‘Ons kan immers nie glo in ‘n homofobiese God nie’ – Desmond Tutu).  Moorde is algemeen.  Aborsie is nie verkeerd nie.  Selfmoord vind plaas in ons skole.  Geldgierigheid word aangemoedig.  Die regering vertel leuens en onderwysers ook as hulle evolusie leer in ons skole.  Ons land is vrot van dwelms en drank.  Diefstal en bedrog is niks nuut nie.  Die media skinder alewig van dinge wat niks met hulle te doen het nie.  God se Naam word aanhoudend op TV belaster.  Daar is geen respek meer vir ouers en onderwysers nie.  Lojaliteit bestaan byna nie meer nie.  Mense dink gedurig nuwe maniere uit om kwaad te doen (byvoorbeeld nuwe metodes om motoriste te beroof of te kaap).  Mense is harteloos en beskou dit as niks om ‘n kind te verkrag of ‘n ou mens te vermink nie.

Ons leef asof God nie bestaan nie (v.18):  “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Titus 1:16).  Ons bevraagteken God se wette:  ‘Wie sê homoseksualiteit is sonde?’ (v.26, cf. Genesis 3:1).  Ons ontken dat daar iets soos reg en verkeerd bestaan:  ‘Wat is waarheid?’ (Johannes 18:38).  Mense val die Bybel, Christenskap, Christene, Christus en die evangelie aan (cf. Genesis 3:4-5).  Mense ontwerp hulle eie god en godsdiens waarin daar geen sonde is nie, en waarin sonde nie gestraf word nie.  Mense ontken God se bestaan (ateïsme en evolusie).  Mense ontken God se toorn oor sonde in die rampe wat ons tref, in Jesus gruwelike kruisdood vir sondaars, in die ewige hel.  Mense sê:  ‘God is liefde en sal nooit in toorn mense hel toe stuur nie!’  Hoe ironies dat mense kwaad word wanneer hulle God se toorn ontken.

Hoekom ontken (in woorde of dade) mense God se bestaan?  Jy sien, om te ontken dat ‘aliens’, die Loch-Ness Monster of kersvader bestaan, sal geen verandering in jou lewe maak nie.  Maar indien jy erken dat God bestaan moet jou lewe verander; moet jy jou sonde laat staan en onder Sy heerskappy leef.  En dit wil mense nie hê.  Selfs ateïste weet dat God bestaan (sien my artikel ‘Bewyse dat God bestaan’).  Om iets wetenskaplik te bewys moet jy dit in ‘n labratorium kan demonstreer, observeer en herhaal.  Niemand kan wetenskaplik bewys dat evolusie of die Big Bang teorie waar is nie.  Ateïste (en baie ander mense) glo in evolusie omdat hulle nie die alternatief in die gesig wil staar nie:  God.

Mense verdraai die waarheid (v.21-22)

Die asemrowende dinge in die skepping moet jou op jou knieë bring voor God, daartoe lei dat jy Hom gehoorsaam en maak dat jy Hom dank vir sy wonderlike gawes.  Maar as gevolg van die mens se sondigheid, sy verdraaide hart en verduisterde denke gebeur dit nie (v.21).  “Die dwaas sê in sy hart:  Daar is geen God nie!” (Psalm 53:1).  “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (Efesiërs 4:17-18, eie beklemtoning).

Dit is absoluut dwaas en verdraaid om te sê:  Alles wat bestaan het ontstaan uit ‘n spikkel.  Daar is geen absolute waarhede nie (spring van ‘n krans af en sê vir jouself dat gravitasie nie absoluut is nie!).  Ons kom van ‘n eensellige organisme af.  Dit is goed om babas in die baarmoeder te vermoor.  Dit is nie verkeerd om homoseksueel te wees nie (ek wonder hoe het jy hier gekom – verseker nie deur twee mense van dieselfde geslag nie).  Die misdadiger (die ‘kleptomaan’) is die slagoffer en moenie gestraf word nie.

Hier is die drie groot bewyse dat ons samelewing se harte verduister en denke verdraaid is:

[1] Evolusie:  ‘Die wêreld het homself gemaak’.

[2] Sielkunde:  ‘Die pedofiel is eintlik die slagoffer en moenie verdoem word nie’ (soos wat een Rooms-Katolieke biskop onlangs in Durban gesê het).

[3] Prosperity predikers:  ‘Jy is ‘n god.  Dring daarop aan dat God vir jou rykdom, gesondheid en voorspoed gee – name it and claim it’. (God bestaan dus eintlik om jóú te dien).

Dit is baie erg dat ons hierdie dinge probeer ‘verchristelik’:  ons wil die Bybel en evolusie glo.  Ons probeer om humanistiese sielkunde en die Bybel te meng, en noem dit ‘Pastorale of Christelike Sielkunde’.  Ons praat van die Prosperity Gospel, terwyl dit glad nie ‘n evangelie is nie.

 

Net God kan lig in die duisternis van die mens se hart in skyn.  “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” (2 Korintiërs 4:6).  Geestelike blindheid is tragies, want dis die blinde self wat laaste besef dat hy blind.  Mense is so dwaas hulle dink hulle is wys (v.22, cf. Genesis 3:5-6).  Een man wat in ‘n Christen-huis grootgeword het, het ‘n ateïs geword.  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Nou kan ek sien, nou is my oogklappe af’.  Mense is oortuig dat dit wys is om God en die Bybel te verwerp (v.22).  Hulle sal dinge sê soos:  ‘Die antieke mens het in God geglo.  Ons moderne mense het nou wys geword deur die wetenskap; ons kén die waarheid’ (die eindste mense wat ontken dat daar iets soos waarheid is!).  Mense se dwaasheid word daarin gesien dat hulle hul eie idees van God, die heelal en hulleself glo.  Dit word gesien in die feit dat hulle rasionaliseer oor hulle sonde en dit probeer regverdig.  Daar is geen hoop vir die mens totdat hy nie glo in die God van die Bybel nie.

Mense verruil die waarheid (v.23)

Voordat die mens gesondig het, wou Satan God onttroon.  Nadat God hom uit die hemel geskop het, het hy die mens versoek met dié woorde:  ‘Julle sal soos God wees’.  Soos Satan wou die mens God onttroon en oor homself heers.  Dit is nogsteeds so.  Mense het die Lewende Fontein (God) verruil vir die riool water van afgode.  Ons het die onsterflike God vir sterflike skepsels verruil (v.23).  Die sondaar is nie tevrede met die feit dat die mens na God se beeld gemaak is nie (Genesis 1:26), maar wil graag ‘n god hê wat na sy beeld gemaak is:  “en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens” (v.23).  Die mens gaan so ver om God af te bring tot op die vlak van “voëls en viervoetige en kruipende diere.” (v.23).  “En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.” (Psalm 106:20).

Die mens wil nie vir God en sy heilige wet hê nie, maar soek eerder ‘n afgod wat sal doen wat hý wil hê:  ‘Ek soek ‘n afgod wat my dien’.  Afgode is nog ‘n werklikheid soos wat dit in die Rome van Paulus se dag was.  In die ooste aanbid mense beelde.  In die weste aanbid ons geld, besittings, geleerdheid, werk, seks, mooi en gesonde liggame, kos, drank, vermaak (musiek, TV, films), sport en meer.  Die persoon wat afgode dien doen dit om homself te verryk, maar die tragedie is dat hy die een is wat vasgevang raak in ‘n strik (drank word byvoorbeeld vir hom alles, maar uiteindelik word hy ‘n slaaf daarvan).

Hoe kan jy afgodery oorkom?  Hier is ‘n paar stappe:

  • Sien hoe dom dit is.  Mense maak ‘n beeld van hout.  Maar van dieselfde stuk hout maak hulle ‘n stoel of braai hulle skaaptjops daarop (sien Jesaja 44).  Net so kan ons sê van iemand wat ‘n afgod maak van sy geld of sy liggaam.  Jou liggaam gaan oud word en doodgaan.  En wanneer jy sterf kan jy nie jou geld met jou saamneem nie.
  • Dink aan die leë beloftes wat die afgod maak.  Pornografie belowe plesier.  Maar op die einde is jy ‘n slaaf, lei dit tot hartseer (wanneer jou huwelik opbreek) en beland jy in die hel.
  • Erken as iets in jou lewe vir jou ‘n afgod geword het.  Tensy jy nie erken dat iets vir jou ‘n probleem is nie, kan jy dit nie oorwin nie.
  • Verwoes die afgod.  Raak ontslae van die dinge waaraan jy verslaaf is (al is dit ook jou TV of internet-konneksie).
  • Dink Bybels oor wie God en die mens is.  God is alles.  Die mens is van stof.  Dit is wanneer ons die twee verwar wat ons in afgodery verval.
  • Wees ‘n slaaf van Christus.  As Hy jou vrygemaak het van slawerny aan die afgod, sal jy waarlik vry wees (Johannes 8:36, Romeine 6).  Jy kan mos nie twee meesters dien nie.
  • Verloën jouself.  Afgodery gaan uiteindelik oor die aanbidding van jouself.  Vergeet van jouself, verloën jouself en volg Jesus.
  • Aanbid die ware God.  Doen dit deur ‘n gehoorsame lewe (Romeine 12:1), die bestudering van die Bybel, gebed en diensbaarheid in ‘n gemeente.
  • Onderwerp jou ‘afgod’ aan God.  Gebruik byvoorbeeld jou geld, werk, krag, kennis om God se Koninkryk te bevorder en sy Naam te verheerlik.

Toe koning Josia die afgode vernietig het, het God se toorn bedaar en het Hy nie die volk vernietig nie.  Onthou dat Jesus deur sy kruisdood God se toorn afgewend het.  Vertrou op Christus en bekeer jou van jou afgodery, sodat God se verskriklike toorn jou nie sal tref nie.

21 Bewyse dat Jesus die Messias is

True Messiah

Daar is baie bewyse dat Jesus die Messias is.  Hier is ‘n paar:

 

[1] Jesus is gebore in Betlehem (Miga 5:1, Lukas 2:11, 15).

[2] Jesus is gebore uit ‘n maagd (Jesaja 7:14, Matteus 1:22-23)

[3] Hy is uit die stam van Juda (Genesis 49:10, Matteus 1:3, 16).

[4] Hy is uit die geslag van Dawid (Psalm 132:11, Matteus 1:1).

[5] Hy het in die Galilea-streek gepreek (Jesaja 8:23-9:1, Matteus 4:14-16).

[6] Hy het op ‘n donkie gery (Matteus 21:4-5, Saggaria 9:9).

[7] Hy is deur een van sy eie vriende verraai (41:10, Johannes 13:18).

[8] Hy het stilgebly by sy verhoor (Jesaja 53:7, Matteus 27:12-14).

[9] Hy was onskuldig (Jesaja 53:8-9, 1 Petrus 2:22).

[10] Hy is gegesel (Jesaja 50:6, 53:5, Matteus 27:26).

[11] Hy is tussen misdadigers gekruisig (Jesaja 53:12, Lukas 22:37, 23:32-33).

[12] Hy het vir sy vyande gebid (Jesaja 53:12, Lukas 23:34).

[13] Hy het gesê:  ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ (Psalm 22:2, Matteus 27:46).

[14] Sy vyande het Hom gespot met die presiese woorde wat in Psalm 22:8-9 voorspel is (Matteus 27:41-43).

[15] Hy het dors geword aan die kruis (Psalm 22:16, 69:4, Johannes 19:28).

[16] Sy vyande het vir Hom suurwyn gegee om te drink (Psalm 69:22).

[17] Hulle het spykers deur sy hande en voete gedryf (Psalm 22:17, Matteus 27:35, Johannes 20:25).

[18] Jesus se vyande het sy klere verdeel en lote getrek vir sy kleed (Psalm 22:19, Johannes 19:24, 27).

[19] Sy vyande het ‘n spies in sy sy gesteek (Sagaria 12:10, Johannes 19:34, 37).

[20] Hy is in rykman se graf begrawe (Jesaja 53:9, Johannes 19:38-42).

[21] Hy het opgestaan uit die dood (Jesaja 53:10, Matteus 28:5-6).

Wat om te verwag noudat Jesus langs God sit

Lion

1 Van Dawid.  ‘n Psalm.  Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete. 2 U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê:  Heers te midde van u vyande. 3 U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe. 4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie:  U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. 5 Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn. 6 Hy sal ‘n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land. 7 Uit die stroom sal Hy drink op die pad; daarom sal Hy die hoof ophef.” (Psalm 110).

Die Messias as Koning (v.1-3)

Adonai is die mees verhewe titel vir God in die Ou Testament.  Jahwe is sy Naam.  In v.1 van hierdie Psalm sê Jahwe vir Adonai:  “Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”  Uit ander tekste is dit duidelik dat Jahwe en Adonai dieselfde God is, maar volgens hierdie Psalm het ons te doen met twee verskillende Persone.  Die Nuwe Testament leer vir ons dat hierdie ‘n verwysing is na Jesus wat aan die regterhand van sy Vader sit (cf. Matteus 22:41-46).  Die feit dat Jesus aan God se regterhand sit (v.1) wys vir ons verskillende dinge:

[1] Jesus is die Seun van God en Seun van die mens.  “Maar Jesus het stilgebly.  En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom:  Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?  Jesus antwoord hom:  U het dit gesê.  Maar Ek sê vir u almal:  Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matteus 26:64).

[2] Jesus het opgestaan uit die dood en opgevaar hemel toe.  “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.  Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê:  Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete.  Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” (Handelinge 2:33-36).  “wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele” (Efesiërs 1:20).  “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.” (Kolossense 3:1).

[3] Jesus is verhewe bo die engele.  “En aan watter een van die engele het Hy ooit gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?” (Hebreërs 1:13).

As ‘n jagter ‘n leeu geskiet het sit hy sy voet op die dier.  Josua het vir die leiers van Israel gesê om hulle voete op die oorwonne konings se nekke te sit (Josua 10:24).  Sisera het gesterf tussen Jael se voete (Rigters 5:27).  Net so sal Jahwe die Messias se vyande aan sy voete onderwerp (v.1).  “Ek het hulle verbrysel, sodat hulle nie kon opstaan nie; hulle het geval onder my voete.” (18:39).  God het belowe dat Jesus Satan se kop onder sy voete sal vermorsel (Genesis 3:15).  Petrus sê dat die hemelse magte en kragte aan Jesus se voete onderwerp is (1 Petrus 3:22).  En dan is daar ‘n laaste vyand aan sy voete onderwerp moet word:  “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” (1 Korintiërs 15:25-26).

Jy kan v.1 gebruik om vir Joodse vriende en kollegas te bewys dat Jesus die Messias is.  Die Nuwe Testament sê herhaaldelik vir ons dat Hy aan die regterhand van God sit (soos Romeine 8:34).

Die Amerikaanse president regeer vanuit die Withuis in Washington D.C.  Die Messias regeer vanuit sy ‘hoofkwartiere’ in Sion of Jerusalem (v.2).  Hy sal met geregtigheid regeer en die nasies wat teen Hom rebelleer met ‘n ystersepter verpletter:  “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê:  Heers te midde van u vyande.” (v.2).  “U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.” (2:9).  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.” (45:7).  Die Messias sal met mag regeer van see tot see:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (72:8).  Daniël 7:13-14 sê:  “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”

Buig jy jou knie voor die Messias?  Gehoorsaam jy Hom in jou lewe?  Jou lot sal verskriklik wees as jy rebelleer.  God is bereid om jou te vergewe as jy glo dat Jesus die ewige God is wat mens geword het; as jy glo dat Hy die wet volmaak onderhou het en namens sondaars die straf gedra het aan die kruis; as jy glo dat Hy begrawe is en opgestaan het uit die dood; as jy jou sonde haat en ophou daarmee; as jy geheel en al op Hom vertrou om jou te red.

In die ou regime was elke man verplig om vir twee jaar weermag toe te gaan.  In Jesus se weermag word niemand gedwing nie.  Almal wat in sy weermag dien is vrywillig daar.  Hulle het nuwe harte ontvang en wil in sy diens staan (v.3).  In Paulus se woorde:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).  Die priesters met hulle heilige klere was soms in die voorste linies (2 Kronieke 15:21).  Net so het almal in Jesus se weermag heilige klere aan (v.3).  Openbaring 19:8, 14 sê:  “En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges…En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.”  Die Messias wat voor ons mars is vir ewig jonk en sterk soos iemand wat verkwik is met die môre-dou:  “uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.” (v.3, kontrasteer Hosea 6:4).

Die Messias as Priester (v.4)

Abram het met 318 manne sy en Lot se vyande verslaan.  Toe hy van die slagveld af terugkom het Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) hom tegemoet gekom.  Melgisedek het vir hom brood en wyn gebring en hom geseën.  Abram het vir hom ‘n tiende van al die buit gegee (Genesis 14:18-20).

Dit is al wat ons uit die Ou Testament van Melgisedek weet.  Die Nuwe Testament leer vir ons dat Melgisedek se naam ‘koning van geregtigheid’ beteken.  Salem beteken ‘vrede’ en daarom is hy ook die koning van vrede.  Ons leer ook dat hy ‘n priester van die Allerhoogste God is (sien Hebreërs 5:4-6, 10, 7:1-3).  Volgens God se bepaling is die Messias ook ‘n priester-koning volgens die priester-orde van Melgisedek (cf. Sagaria 6:13).  God het met ‘n ewige belofte gesweer dat dit so moet wees (v.4, Hebreërs 7) – en God kan nie lieg nie (Numeri 23:19).  Die feit dat Jesus aan God se regterhand sit, wys vir ons dat Hy die werk van versoening voltooi het.  Die Hebreërskrywer sê:  “En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie; maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ‘n voetbank van sy voete.” (Hebreërs 10:11-13, eie beklemtoning).

Ons het ten minste sewe voorregte noudat Jesus ons Hoëpriester is:

[1] Ons sal gered word en volhard tot die einde toe.  “Wie is dit wat veroordeel?  Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:34).  Die hele Romeine 8 gaan oor die volharding van ware gelowiges.  Hierdie vers bevestig dat Jesus vir sy uitverkorenes intree (cf. Romeine 8:33), en dat hulle finaal verlos sal word.  Hebreërs 7:25 sê:  “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”  Ons kan seker wees van ons redding.  Omdat Jesus ons ohHoëpriester is, het hy die borg geword van ‘n beter verbond (Hebreërs 7:21-22).  “ons [het] ‘n groot Priester oor die huis van God…laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).  Met Jesus aan God se regterhand kan jy verseker weet dat God jou in sy teenwoordigheid sal ontvang.

[2] Jou sonde is vergewe en jy sal dit oorwin.  “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” (Hebreërs 10:14).  Indien jou sonde nie oorwin word nie, was Jesus se werk as Hoëpriester onvoldoende.

[3] God sal ons vertroos in lyding.  Romeine 8:34 staan in die konteks van Christene wat lyding en vervolging ervaar.  Omdat Jesus vir ons intree (dit is immers wat priesters doen) kan ons die lyding verduur.

[4] Jy kan vrymoedigheid hê in gebed.  Jesus is die Hoëpriester deur wie jy kom, en omdat Hy ‘n volmaakte Hoëpriester is, sal God jou gebede aanneem (Hebreërs 4:15-16, 10:22).

[5] Jy kan antwoorde op gebed verwag.  God het Jesus se offer aangeneem.  Daarom sal Hy jou gebede deur Jesus beantwoord (Hebreërs 4:16).

[6] Jesus het self ‘n mens geword en in ons menslike swakheid gedeel.  Daarom kan Hy medelye hê met sy kinders (Hebreërs 4:15).

[7] Deur Jesus is jou diens aanneemlik vir God.  Die offers wat jy bring is aanvaarbaar vir die Here:  “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.  Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:15-16).

Die Messias as Regter (v.5-7)

Nebukadnesar het gedroom van ‘n groot standbeeld met ‘n kop van goud, ‘n bors en arms van silwer, heupe en bo-bene van brons, bene van yster, en voete van yster en klei.  ‘n Klip wat deur geen mens uitgekap is nie, het uit die hemel geval en die hele standbeeld tot stof verpletter.  Die klip groei en groei en groei, totdat dit ‘n berg word wat die hele aarde vul.  Daniël interpreteer die droom:  die goue kop is die Babiloniese ryk, die silwer bors en arms is die Medo-Persiese ryk, die brons heupe en bo-bene is die Grieke, die yster bene is die Romeinse ryk.  Die voete van yster en klei wys dat hierdie ryk verdeeld sal wees.  Die klip is die Koninkryk van die Messias.  Hy sal al die ander koninkryke vernietig, sodat daar niks van hulle oorbly nie.  Die Messias se Ryk sal verder en verder versprei, totdat die hele aarde aan Hom onderwerp word.  In Daniël se woorde:

“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het.  Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” (Daniël 2:44-45).

Dawid loof Jahwe vir die oordeel van die Messias aan sy regterhand (v.5, 1).  Hy sal konings verpletter op die dag van sy toorn (v.5).  In ‘n ander Psalm oor die Messias sê Dawid:  “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!  Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.  Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.  Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (2:10-12).  In Openbaring lees ons hoe die konings van die aarde aan Hom onderwerp word:  “en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê:  Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:15-17).  “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê:  Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” (Openbaring 11:15).  Jesus is immers die Koning van die konings (Openbaring 19:16).

Volgens v.6 sal Jesus die nasies straf (cf. 2:8-9).  Jesus het gesê:  “en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matteus 25:32).  God sal die lyke van sy vyande oor die aarde verstrooi:  “Hy maak dit vol dooie liggame” (v.6).  “En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg:  Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.” (Openbaring 19:17-18).  Wees verseker dat God ook ons nasie sal straf vir ons rassisme, moord, homoseksuele huwelike en sonde, vals lering, haat vir die evangelie, dronkenskap, dwelmhandel en -verslawing, prostitusie, egskeiding, materialisme, verkragting, aborsie, korrupsie in die regering, die afgod wat ons van sport maak, en baie ander sondes.

Die Messias sal die hoof [enkelvoud in die Hebreeus] oor die aarde verbrysel (v.6).  Wie is hierdie hoof?  Die Antichris?  Satan?  Ek dink dadelik aan Genesis 3:15 wanneer ek lees van ‘n hoof wat verbrysel word:  Jesus sal Satan se hoof verbrysel.

‘n Soldaat wat ‘n vyand agterna sit, stop by ‘n stroom, raak verfris, en baklei verder totdat hy oorwin het.  Net so sal die Messias verfris raak en aanhou stry totdat Hy oorwin het (v.7).  Hy sal as Regter sit om sy vyande te oordeel (v.1, 5-7).  Sy oordeel word in Romeine 2:1-11 beskryf as ‘n oordeel waarin niemand verskoon sal word nie.  Die oordeel is seker.  Hy oordeel regverdig.  Die oordeel sal verskriklik wees.  Sy vyande sal sy heerlikheid sien en vreesbevange wees.  Jesus sit reeds as Koning langs sy Vader (v.1).  Wees maar verseker dat die ander dinge wat in hierdie Psalm beskryf word oppad is.