Iemand op wie jy kan staatmaak

Solid Rock

1 O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes. 2 Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp. 3 Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank. 4 Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou. 5 Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE. 6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. 7 Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. 8 Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; 9 want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan. 10 Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. 11 Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag. 12 Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het. 13 Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. 14 Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, 15 Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke. 16 ‘n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie. 17 Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie. 18 Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; 19 om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood. 20 Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; 21 want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou. 22 Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!” (Psalm 33).

 

Oproep tot lof (v.1-3)

Wat gaan aan in hierdie Psalm?  Uit v.10 lyk dit of ander nasies God se volk aanval.  God sê vir sy volk om op Hom te wag en te vertrou, eerder as om staat te maak op die krag van hulle weermag (v.16-22).  Wanneer God die vyand oorwin sal hulle met gejuig en gejubel in Jerusalem inkom:  “O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes.  Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.  Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.” (v.1-3, cf. Eksodus 15:1, 1 Samuel 18:6-7 vir soortgelyke voorbeelde).  Lofprysing pas by gelowiges soos ‘n sleutel by ‘n slot.  Ons moet veral die Here prys vir ons verlossing (v.1).  God wil hê ons moet die beste lof bring wat ons moontlik kan (v.3).  Kenmerke van hierdie tipe lofprysing is (soos gesien kan word in hierdie Psalm):

 

  • Bespeel die instrument waarmee jy die Here loof goed.
  • Ons liede moet melodieus wees.
  • Sing oor die groot temas van hierdie Psalm:  God se skeppingswerk, sy ewige en wyse raadsplan, sy Vaderlike sorg en sy verlossing.  Met ander woorde, sorg dat die liede se woorde Bybels is en teologies solied is.
  • Sing uit ‘n opregte en heilige hart.
  • Sing met passie; met ‘n hart vol van God-verheerlikende emosie.
  • Liede moet God- en nie mensgesentreerd wees nie.
  • Wees bly.
  • Vrees God (v.8).
  • Sing veral oor God se verlossing in Jesus Christus.  Die nuwe lied in v.3 verwys na ‘n lied oor God se verlossing.  Die volgende verse wys dit:  “Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde!  Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.” (96:1-2).  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).

 

John MacArthur praat van hierdie nuwe lied as ‘a new occasion for expressing fresh praise to God’.  Wat het God onlangs vir jou gedoen?  Het jy nagelaat om Hom daarvoor te prys?

 

Loof Hom vir die skepping (v.4-9)

Hoekom moet jy die Here loof?  In v.4-9 gee die psalmis ‘n paar redes.

 

[1] God se Woord is nie krom en verdraaid nie, maar reg (v.4a).

 

[2] God is getrou wanneer Hy skep, red en die skepping onderhou (v.4b).

 

[3] God haat onreg.  Hy is aangetrokke tot dit wat reg is, soos wat mot aangetrek word na ‘n kers toe (v.5a).  God het byvoorbeeld vir die opregte Dawid gekies, omdat hy ‘n man na sy hart was (Handelinge 13:22).  God het van die volmaakte Christus gesê:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matteus 3:17).  En God het ‘n welbehae in ons wanneer ons beklee is met die geregtigheid van sy Seun (Filippense 3:9).

 

[4] God se liefde vul die hele aarde (v.5b).  Hoe kan ‘n mens dit nie raaksien nie?

 

[5] God het alles deur sy Woord en deur die asem van sy mond geskep (v.6, 9).  Die Hebreeuse term vir ‘asem’ kan ook met ‘Gees’ vertaal word.  Hierdie Psalm wys dus vir ons hoe die Vader, Seun (die Woord, Johannes 1:1-3, 14) en Heilige Gees betrokke was in die skepping.  Genesis 1:2 praat van die Gees wat reeds daar was toe die wêreld geskep is, en in die res van die hoofstuk sien ons hoe die Woord (Christus) teenwoordig is:  ‘En God het gesê…’  Hebreërs 11:3 en 2 Petrus 3:5 wys ook vir ons dat God deur sy Woord die heelal gemaak het.  Die eindelose sterreruim en magtige oseane is soos niks vir God.  God hou die see se water in die palm van sy hand; Hy meet die hemelruim af met die breedte van sy hand (Jesaja 40:12).   Hy versamel die water en laat dit in ‘n hoop opstaan (v.7, 78:13, Genesis 1:9-10).  Dat Hy al hierdie dinge deur sy Woord en met die asem van sy mond kon skep is verbysterend (v.6-7).  God skep uit niks:  Hy gee eenvoudig ‘n bevel en alles bestaan (v.9).  Romeine 4:17 sê dat God “die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.”  Die Hebreërskrywer sê:  “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.” (Hebreërs 11:3).

 

Ons moet God vrees vir sy vreeslike skeppingskrag:  “Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees” (v.8).  Prys die Here vir sy werke.  Moenie so gewoond raak aan die see, ‘n sonsondergang, ‘n blom of die maan, dat jy dit miskyk nie.  Moet ook nie soos baie mense dink dat jy God is, sodat jy dinge kan ‘uitspreek’ en dit laat gebeur nie.

 

Loof Hom vir sy raadsplan (v.10-12)

Hitler wou ‘n super ras tot stand bring.  In die proses het hy mense vermoor.  Maar God het sy planne tot niks gebring.  So doen God met alles nasies wat teen Hom in opstand kom:  “Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.” (v.10).  Dawid sê:  “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?  Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:  Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (2:1-3).  Onthou jy hoe Dawid gebid het dat God Agitofel se planne sal vernietig, en hoe God hom geantwoord het (2 Samuel 15:34, 17:14)?  Of hoe God die planne van Nehemia se vyande omver gegooi het (Nehemia 4:15)?

 

God se planne is nie soos die nasies s’n nie.  Sy planne is ewig en staan vir altyd vas:  “Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” (v.11).  Die Bybel sê oor God se planne:

 

“Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.” (Spreuke 19:21).

 

“Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê:  Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand…want die HERE van die leërskare het dit besluit—wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?” (Jesaja 14:24, 27).

 

“My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:10).

 

“En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê:  Wat doen U nie?” (Daniël 4:35).

 

“Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).

 

God het vir Israel uitverkies om sy erfdeel te wees:  “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (v.12).  God het miljoene mense voor die skepping van die wêreld uitverkies om sy erfdeel in Christus te wees:  “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil…sy erfdeel onder die heiliges” (Efesiërs 1:4-5, 18).  God het ons nie gekies omdat Hy geweet het ons sou in Hom glo nie.  Sy keuse was gebasseer op sy vrye liefde en genade:  “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.  Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:6-8).  “Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.  En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.  En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” (Romeine 11:5-6).

 

Ons moet God dank dat Hy ons uitverkies het.  Dank Hom vir die seën (v.12, welgeluksalig) wat jy in Christus het.  Efesiërs 1:3 sê dat God ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus.  In v.4-14 verduidelik Paulus dan wat hierdie seëninge in Christus is.  Lees gerus weer hierdie teks en let op hoeveel keer die frase in Christus/in Hom voorkom.  Volgens Paulus is ons in Christus uitverkies, bestem om soos Jesus te wees, aangeneem, verlos, vergewe, versoen, met die Heilige Gees verseël.  In Christus het ons ‘n erfdeel ontvang, verkry ons geloof en hoop.

 

[a] Die feit dat God alles vooruit bepaal het moenie daartoe lei dat ons fatalisties is en sê:  ‘Ek sal passief wees, want God het buitendien al klaar besluit wat Hy gaan doen’ nie.

 

[b] Ons moet ook nie sê dat sonde God se skuld is, omdat Hy reeds alles vooruit bepaal het nie.  In Jesaja 10:5-7 lees ons hoe God die bose koning van Assirië gebruik het om vir Israel te straf, maar dat die koning self vir sy sondige motiewe verantwoordelik was:  “Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid!  Ek sal hom stuur teen ‘n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ‘n vertrapping te maak soos modder van die strate.  Maar hy bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.” (eie beklemtoning).  In dieselfde daad het God een plan en die sondige koning ‘n ander.  God is dan nie verantwoordelik vir sy sonde nie.

 

[c] Moenie dink:  ‘God het reeds gekies wie Hy gaan red, en daarom hoef ek nie die evangelie met hierdie mense te deel nie’.  God red die uitverkorenes deurdat hulle die evangelie hoor en glo (Romeine 10:14-15, Handelinge 13:48).  God het gesê jy moet die evangelie preek, en daarom moet jy Hom gehoorsaam (Matteus 28:18-20).  Jy weet buitendien nie wie is uitverkies en wie nie.  Deel daarom die evangelie met almal.  Uitverkiesing werk nie teen evangelisasie nie.  Paulus gebruik dit as ‘n motivering vir evangelisasie:  “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10).  Paulus het geweet God sal sy uitverkorenes red; hy was verseker dat sy werk en lyding nie tevergeefs was nie.

 

Loof Hom vir sy sorg (v.13-15)

Ek het eenkeer ‘n insek op ons pruimboom gesien.  Dit was skaars sigbaar.  Dit was so klein soos ‘n swart miertjie se been.  In God se oë is die mens minder as ‘n spikkel.  En tog stel God belang in sy skepsels.  Hy sien alles op die aarde.  Hy sien ons motiewe en ons dade.  “Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.  Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.” (v.13-15).  “want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9).  “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebreërs 4:13).  God ontferm Hom soveel oor ons, dat Hy self mens geword het om tussen ons te leef en ons van ons sondes te red.  Verwonder jou oor sy groot goedheid en genade.

 

Loof Hom vir sy redding (v.16-19)

Gideon het met 300 manne die Midianiete oorwin.  Die jong en niksseggende Dawid het vir Goliat verslaan.  Een van Dawid se dapper manne het 800 Filistyne oorwin (2 Samuel 23:8).  Asa en sy power groep soldate het ‘n weermag van ‘n miljoen soldate vernietig (2 Kronieke 14:9).  Jonatan het dit reg gehad:  “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).  God het deur een man (Paulus) die Romeinse Ryk op sy kop gekeer en die magte van die hel geskud.  1500 later het God weer die Europese kontinent en die bose magte laat sidder deur Martin Luther.  By die slag van Bloedrivier het God deur ‘n paar honderd boere tienduisend Zoeloes laat sneuwel.

 

Sien jy die les?  Vertrou op God en nie op jou sterk weermag, perde, jou eie krag, baie geld, nuwe kliënte wat by jou winkel kom koop, die projek wat jy moet kry om jou besigheid sukses te laat geniet, ‘n sekere dokter wat sal uitvind wat fout is met jou, ‘n goeie vriend wat jou kan help, ‘n berader of sielkundige wat jou probleme sal oplos nie.  “‘n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie.  Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.” (v.16-17).  “Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.” (20:7).  “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spreuke 21:31).

 

Moenie bang wees omdat jou bronne klein of min is nie.  God is nie beperk nie.  As Hy wil kan Hy met vyf broodjies en twee vissies ‘n paar duisend mense voer (Johannes 6:9).  Vrees God en dan sal sy guns oor jou wees en sy hulp jou tegemoet snel:  “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (v.18).  Hoe vrees ‘n mens die Here?  Dawid sê vir ons hoe:  “Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.  Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?  Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.  Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.  Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.” (Psalm 34:12-16).  As jy die Here vrees sal Hy jou uitred en onderhou in die moeilikste omstandighede – selfs iets soos hongersnood of werkloosheid in ‘n land waar dit byna onmoontlik is om werk te kry as jy bo 50 is.  God is nie beperk deur dinge soos BBE nie.  Die Skrif sê:

 

“om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.” (v.19).  As Hy moet, sal God kraaie of ‘n arm weduwee stuur om jou aan die lewe te hou in moeilike tye (sien 1 Konings 17:1-16).

 

“Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.” (37:19).

 

“Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).

 

“In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.” (Job 5:20).

 

“Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7).

 

‘n Slotgebed (v.20-22)

Bid jy al lank dat God jou sal red, ‘n spesifieke versoek sal beantwoord, sal deurbreek teen ‘n sonde wat jou pla, uitkoms gee in lyding, jou help uit ‘n geestelike woestyn?  Moenie ophou bid nie.  Wag op die Here:  “Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.  Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!” (v.20-22).  Hoe moet jy op die Here wag?

 

  • Glo sy Woord en beloftes, en vertrou dat Hy dit sal vervul (v.20-22).  “Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord.  My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre.” (130:5-6).
  • Hoop op die Here.  Verwag dat Hy jou sal antwoord.  “En ek sal wag op die HERE, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.” (Jesaja 8:17).  Dit is sleg as ‘n gelowige vir die Here iets vra, maar nie ‘n antwoord verwag nie.  Hoekom moet God dan gee waarvoor jy vra (sien Jakobus 1:5-8)?
  • Wees geduldig.  “Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.” (37:7).  “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (62:6).
  • Glo God kan en wil jou help.  “die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:31).  Die konteks van hierdie vers wys hoe ons moet glo God is lief vir ons; hoe ons moet glo Hy wil ons help.

 

Baie mense in ons wêreld is nie betroubaar nie.  Jou hart is bedrieglik en daarom kan jy nie eers jouself vertrou nie.  Die Here is nie soos mense nie.  Jy kan op Hom staatmaak.  Jy kan Hom letterlik met jou lewe vertrou.