God se handleiding vir die kerk (‘n kort oorsig oor die pastorale briewe)

Pastoral Epistles

Ek het eenkeer met ‘n man gepraat oor kerkleierskap.  Sy woorde aan my was:  ‘Partykeer (wanneer dit by kerkleierskap en strukture kom) is dit nodig dat ons ‘n bietjie die Bybel opsy sit’.  As die kerk nie ‘groei’ nie, hardloop baie predikers en kerke in desperaatheid na kerkgroei spesialiste se seminare, boeke en konferensies toe.  In die proses ignoreer hulle dikwels God se handleiding vir die kerk soos ‘n stopstraat.  Die Pastorale briewe (1, 2 Timoteus en Titus) is wel geskryf vir individue, maar in 1 Timoteus 6:21 verwag God dat dit ‘n seën moet wees vir ‘julle’ (sien Griekse teks).  Moet dan nie sê (soos een vrou na ‘n preek uit 1 Timoteus 4 vir my gesê het):  ‘Die Pastorale briewe is vir predikante geskryf en het niks met my te doen nie’.  Hierdie briewe is deel van die ‘hele Skrif’ wat nuttig is vir almal se geestelike groei (2 Timoteus 3:16).  Die beginsels in dié briewe geld vir almal wat moet lei, volg of leiers aanstel.  Daarom pas ek dit nie net toe op predikante nie, maar op die kerk in sy geheel.

 

Wie het geskryf?

Paulus het (1 Timoteus 1:1, 2 Timoteus 1:1, Titus 1:1).  Daar is teoloë wat sy outeurskap uitdaag, maar hulle argumente hou nie water nie.  Ek gaan nie my asem mors om die sinnelose besware te beantwoord nie.  John MacArthur bied deeglike antwoorde in die MacArthur Study Bible se inleiding tot 1 Timoteus.

 

Vir wie het hy geskryf?

Die boeke se name sê vir jou dis vir Timoteus en Titus.  Beide hierdie manne was jonk (1 Timoteus 4:12, Titus 2:6-7, 15).  Beide is deur Paulus Korinte toe gestuur om kerkprobleme uit te sorteer (1 Korintiërs 4:17, 2 Kor.1:19, 2:13, 7:6-7, 13-15).  Beide het ‘n pastorale hart gehad wat omgegee het vir mense (Filippense 2:20, 2 Korintiërs 8:16-17).  Beide was nederig en het nie op hulleself gefokus nie (Filippense 2:21, 2 Korintiërs 12:18).  Beide was geestelike kinders van Paulus (1 Timoteus 1:2, 2 Timoteus 1:2, Titus 1:4).  1 Korintiërs 4:14-17 wys wat dit beteken:  hulle het onder Paulus se bediening tot bekering gekom.

 

Timoteus se pa was ‘n Griek.  Maar hy het die Bybel by sy Joodse ma en ouma geleer (Handelinge 16:2, 2 Timoteus 1:5, 3:15).  Titus was ‘n volbloed Griek (Galasiërs 2:3).  Timoteus is besny; Titus nie (Handelinge 16:3, Galasiërs 2:3).  Ons lees van Timoteus in Handelinge.  Titus se naam verskyn nie in Handelinge nie.  Timoteus het in Efese gewerk en Titus in Kreta (1 Timoteus 1:3, Titus 1:5).  Timoteus het ‘n goeie reputasie gehad (Handelinge 16:2, Filippense 2:22).  Hy was skugter en bang (1 Korintiërs 16:10-11).  Hy was in die tronk vir die evangelie (Hebreërs 13:23).  Hy het deel gehad in ses van Paulus se briewe (2 Korintiërs 1:1, Filippense 1:1, Kolossense 1:1, 1 Tessalonisense 1:1, 2 Tessalonisense 1:1, Filemon 1:1).  Paulus het niemand so betroubaar en bekwaam geag soos hy nie (Filippense 2:20).  Titus is Dalmasië toe en het ‘n sendinghart gehad (2 Timoteus 4:10).

 

Jong predikant:  Is daar probleme in jou kerk?  Moenie sê:  ‘Ek is te jonk; ek is bang en kan nie die probleme uit sorteer nie’.  Jeremia was jonk soos jy en Moses was bang (Jeremia 1:5, Eksodus 4:10).  Tog het God hulle gebruik om sy werk te doen.  Hy kan jou ook gebruik.

 

Wanneer het hy geskryf?

Paulus was seker dat hy vrygelaat sou word uit die tronk in Rome (Filippense 1:19).  Sy begeerte het waar geword.  Ná Handelinge 28 is hy vrygelaat en het hy 1 Timoteus en Titus geskryf.  Maar hy is weer gevange geneem.  Tydens sy tweede gevangeniskap in Rome het hy 2 Timoteus geskryf.

 

Wat het hy geskryf?

Daar is ‘n paar temas wat in al drie briewe herhaal word:

 

[1] Vals lering moet aangespreek word (1 Timoteus 1:3, 20, 4:1, 6:3-11, 20-21, 2 Timoteus 2:17-18, 25-26, 3:7, 4:2-4, Titus 1:10-16).  Ons moenie bang wees om dit te doen nie.  Ons moenie soos huurlinge vlug wanneer wolwe die skape wil verjaag nie (1 Timoteus 1:3, Johannes 10:12-13).  Die ware leraars moet inkom, die evangelie preek en verandering bring – al lyk die opposisie ook hoe sterk (Titus 1:5-16).

 

[2] Moenie oor onbelangrike dinge stry nie (1 Timoteus 1:4, 6:4, 2 Timoteus 2:14, 16, 23, Titus 3:9).  Die duiwel sal al te bly wees om jou fokus van jou hooftaak (evangelie-prediking) af weg te lei.  T.T. Shields was ‘n prediker in Kanada.  Hy het in elke preek teen een of ander vals groep uitgevaar.  Die meeste van sy preke was negatief.  Hy het bitter selde positiewe waarheid gepreek.  Martyn Lloyd-Jones het hom hieroor aangespreek, maar hy het vasgeskop.  Hy het sy bediening afgesluit met ‘n handvol mense in die bank (uit Iain Murray se 2 volume biografie oor Lloyd-Jones; pp.271-274 in vol.1 en p.530 in vol.2).

 

[3] Fokus op prediking en die oordra van gesonde Bybelse leerstelling (1 Timoteus 1:3, 10, 4:6-16, 6:3, 14, 20, 2 Timoteus 1:6, 13-14, 2:15, 3:16-17, 4:2, Titus 1:9, 2:1, 7-8, 10, 15).  Hoe kan jy goeie en slegte lering van mekaar onderskei?  Dis maklik:  enigiets wat nie met die evangelie strook nie is ongesond.  Paulus praat van enige sonde “en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.” (1 Timoteus 1:10-11).  Niemand kan reg lewe sonder suiwer lering nie.  Indien jy probleme wil oplos en ‘n gesonde kerk wil hê, moet die Bybel en prediking ‘n sentrale plek geniet.  Tydens die Walliese herlewing van 1904-1905 het Evan Roberts (die leier van die herlewing) se lae plek aan Bybelse prediking ‘n geestelike siekte in die kerk tot gevolg gehad.  Roberts se siening van prediking word as volg deur Iain Murray opgesom:

 

“It was an American revivalist of the nineteenth century who once said, ‘God is going to save the masses in his own way.  He has told the ministers to stand on one side and let Him have a turn.’…’Preaching has failed as a saving agency for a long time…God is now going to save sinners for a while without the pulpit.’  There were many instances of ministers being interrupted and ‘drowned out’ by singing or praying as they attempted to speak.” (Pentecost – Today, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1998, pp.155-156).

 

“At a service composed entirely of 1200 men in Chatham Street Calvinistic Methodist Chapel it seemed that nothing could ‘clear’ the meeting as Roberts sat silent in the pulpit for two hours.  At 9 p.m. a minister prayed for him that his lips should ‘be opened in order that he might deliver a message whatever it might be.’  But another minister rose in a front pew and, addressing Roberts, asked, ‘Why dost thou play and trifle with sacred things like this?’  His further words were drowned out as the congregation began a hymn.” (Ibid, pp.158-159).

 

“In April 1905 Evan Roberts said that he had ‘not heard a sermon for many months’” (Ibid, p.165).

 

Baie moderne kerke verkies drama, gesprekke, sang, debat of persoonlike getuienis bo die Skrif en lering.  Totdat dit nie verander nie sal die kerk geen krag hê om die samelewing te beïnvloed of te verander nie.  Dit is die evangelie – en die evangelie alleen – wat die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo (Romeine 1:16, 1 Korintiërs 1:18).

 

[4] Weet wat jy glo en hou daaraan vas.  Dit is min of meer wat Paulus in gedagte het wanneer hy herhaaldelik praat van ‘’n betroubare gesegde’ (1 Timoteus 1:15, 3:1, 4:9, 2 Timoteus 2:11, Titus 3:8).  Hierdie betroubare gesegdes som belangrike Bybelse leringe op.  Ek het ‘n preek geluister waarin die prediker daarop geroem het dat hulle net die Bybel glo.  Maar in sy preek het hy nie net onsin gepraat nie, maar baie min van die Bybel aangehaal.  Ek dink nie dis so geestelik as mense sê:  ‘Ons het nie ‘n geloofsbelydenis nie – ons glo net die Bybel’ nie.  Wat glo hulle oor die Bybel?  Tydens verledejaar se verlof in Natal het ons op die internet rondgesoek vir ‘n kerk om by te woon.  Ons het kerke se geloofsbelydenisse gelees om uit te vind wat hulle glo en verkondig.  Toe ek in 1997 aansoek gedoen het vir teologiese studies, wou hulle hê ek moes skryf wat ek glo.  Ek kon hier en daar iets skryf, maar in die geheel het ek nie geweet wat om te sê nie.  Dit is belangrik dat jy moet weet wat jy glo.  Hoe sou jy dié vraag antwoord:  ‘Wat glo jy en jou gemeente?’

 

[5] Moenie die belangrikste van alles vergeet nie:  God is jou Verlosser (1 Timoteus 1:1, 2:3, 4:10, 2 Timoteus 1:10, Titus 1:3-4, 2:10, 13, 3:4, 6).  Jesus se lieflike Persoon en versoeningswerk is die fondasie van die kerk.  Moenie so met bediening en die kerk betrokke raak dat jy dít vergeet nie.  ‘n Kerk waar dit nie sentraal is in die preke, sang, gebed, sakramente en evangelisasie nie, is in die moeilikheid.  As hulle hul liefde vir Jesus vergeet, dan sal Hy hulle deure toemaak (Openbaring 2:4-5).

 

[6] Gelowiges moet godvresend en heilig lewe (1 Timoteus 2:2, 10, 3:16, 4:7-8, 5:4, 6:3, 5-6, 11, 2 Timoteus 3:5, 12, Titus 1:1, 2:12).  Ek ken ‘n man wat ‘n baie goeie teologie het maar weier om in liefde met sy vrou saam te lewe.  Baie jonge mense in ons kerke is opgewonde oor goeie teologie en lees graag die Piper, MacArthur en die Puriteine.  Hulle is vol van kopkennis, maar ongelukkig loop hulle Calvinistiese teologie nie deur tot ‘n heilige lewe nie.  Jesus wil nie net hê dat ons die regte woorde sê wanneer ons evangelisasie doen nie.  Hy wil hê ons heilige lewens moet ‘n verskil maak (sien Matteus 5:16).

 

Hoekom het hy geskryf?

By ‘n predikantekonferensie het iemand sywurms vir my kinders gegee.  Die volgende dag het my vriend in sy kar geklim om moerbeiblare vir my kinders te pluk.  Toe hy deur die dorpie ry het sy kar gebreek.  Hy het rondgebel vir die spesifieke onderdeel:  omtrent ‘n duisend rand.  Na ‘n gesukkel het ‘n man in die dorp hom gehelp om die part reg te maak… vir R50.  As hy nie moerbeiblare gaan soek het nie, sou sy kar waarskynlik op die oop pad gebreek het, en dan sou hy die duisend rand moes betaal vir die onderdeel.  ‘n Ander vriend se vrou het opgemerk:  ‘Sjoe, dat God nou sywurms hierheen moes stuur om jou kar probleme uit te sorteer!’

 

Die storie rondom 1 Timoteus klink omtrent so.  Paulus sê:  “Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.” (3:15).  Dit is omdat Paulus nie betyds by Timoteus kon uitkom nie, dat hy hierdie brief geskryf het.  As Paulus se reisplanne uitgewerk het sou ons nie 1 Timoteus in ons Bybel gehad het nie.  Wie sou dink dat vertraagde reisplanne soveel seën kon inhou?

 

1 TIMOTEUS is geskryf as ‘n handleiding vir die gevestigde kerk.  Die brief kan só uiteengesit word:

 

  • Nadat Paulus sy vriend groet (1:1-2) herinner hy hom heel eerste daaraan dat hy die evangelie moet bewaar:  die evangelie wat deur vals leraars verdraai word, die evangelie waardeur Paulus gered is, die evangelie waartoe hy geroep is (1:3-20).
  • Naas die evangelie is gebed die nommer 1 prioriteit in die kerk (2:1-8).  Dis jammer dat bidure so swak bygewoon word.
  • Net soos wat die rol van die man en die vrou by die sondeval verwar is, word dit deur ons samelewing verwar.  Die kerk moenie in hierdie verwarring deel nie:  mans moet leiding neem en vroue nie; vroue moenie die groot taak van kinderopvoeding gering ag nie (2:8-15).
  • Ons het gekwalifiseerde mense nodig om gesonde lering en gladde kerkadministrasie te verseker (3:1-16).  Ons moenie net uitkyk vir die populêrste mense of vir hulle wat die slimste is in die besigheidsektor nie.
  • Vals predikers dwing selfgemaakte wette af (4:1-5).  In ons dag sê vals leraars dinge soos:  ‘As jy wil hê God moet jou antwoord móét jy Jesua sê en nie Jesus nie’.  Die ware prediker hou hom nie op met sulke nonsens nie, maar fokus op ‘n heilige lewe en suiwer lering (4:6-16).
  • Daar is sekere reëls vir hoe jy moet omgaan met jonk en oud, mans en vroue, vir hoe weduwees versorg moet word, hoe ouderlinge vergoed, getug en aangestel moet word en vir hoe jy vir jou baas moet werk (5:1-6:2a).  Een man het gekla toe ek die reëls vir die versorging van weduwees neerlê en het gesê dat ons dit nie streng hoef na te volg nie.  Moenie dink jy is wyser as God nie.  En moenie dink jóú kerk is die uitsondering wanneer dit by die toepassing van kerkdissipline kom nie.
  • Geldgierigheid en al die sondes wat daaruit voortspruit is ‘n kenmerk van vals leraars (6:2b-10).  In ons dag word baie mense deur die vals lering van Prosperity predikers mislei.  Hulle is oortuig dat hierdie geldwolwe manne en vroue van God is.
  • Die ware leraar moet van hierdie dinge vlug en heiligheid najaag.  Hy moet die regte gebruik van geld in sy gemeente aanmoedig en sorg dat hy valsheid vermy (6:11-21).

 

2 TIMOTEUS is geskryf as ‘n handleiding vir die vervolgde Christen en kerk.  Wanneer Paulus hierdie brief skryf is hy nie meer onder huisares nie.  Nou sit hy in ‘n koue sel, geboei soos ‘n krimineel (1:8, 16, 2:9, 4:13, 2:9).  Hierdie is sy laaste brief (4:6-8) en klink amper soos ‘die sterfbed instruksies van ‘n pa aan sy seun’ (Gerard Chrispin, The Bible Panorama, p.527).  Paulus wil hê dat Timoteus gou na hom toe sal kom – voordat dit te laat is (1:4, 4:9, 21).  Timoteus moenie skaam wees vir Paulus, omdat hy bang is dat assosiasie met die apostel dalk tot vervolging kan lei nie.  Al Paulus se vriende (behalwe Lukas) het hom verlaat – Timoteus moenie soos die res maak nie (1:8, 15, 2:3, 3:12, 4:10-11, 14-18).

 

  • Timoteus moet sy redding en roeping onthou.  Hy moet onthou hoe wyle Onesiforus nie skaam was om met Paulus te assosieer nie (1:3-18, 4:19).
  • Hy moet Jesus en sy evangelie onthou (2:1-13).
  • Hy moet sy Meester onthou en begeer om bruikbaar te wees in sy diens (2:14-26).
  • As hy onthou dat daar slegte tye oppad is, sal hy nie omkant gevang word nie.  Wanneer hierdie tye kom moet hy nie toegee aan die versoeking om te preek wat mense wil hoor nie.  Hy moet vashou aan die Skrif en die suiwer verkondiging daarvan (3:1-4:8).
  • Hy moenie van Paulus vergeet nie (4:9-22).

 

Moenie die les mis nie.  Ons moenie die kerk in ‘n toestand los vir die volgende geslag nie.  Lei eerder mense op wat kan voortgaan met die werk:  “en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.” (2:2).  Ons tesourier se vrou is baie siek.  Hy het onlangs by ‘n ouderlingvergadering gesê:  ‘My vrou se gesondheid is nie meer so goed nie.  Ek het nuwe verantwoordelikhede wat ek op myself moet neem.  Julle moet maar stadig aan begin uitkyk vir iemand wat my werk kan oorneem’.  Hy is wys.  En so moet ons ook met die evangelie doen.  Ons moenie niks los vir die volgende geslag nie.  Hulle moet ten minste ‘n goeie geestelike erfenis vir hulle gee.

 

John Wesley het gesê:  ‘Our people die well’.  Op sy sterfbed het Jakob die Here aanbid (Hebreërs 11:21).  Toe Paulus sy laaste dae op aarde deurgebring het, was die voortsetting van die evangelie eerste in sy gedagtes (2:2).  Tot op die laaste het hy met die Here volhard (4:7).  Hy het nie hiper-geestelik geraak nie, maar het aangegaan met sy gewone doen en late:  “bring…die boeke” (4:13).  Toe iemand vir Francis van Assissi gevra het:  ‘Wat sal jy doen as jy weet Jesus kom vanaand?’, was sy antwoord:  ‘Ek sal aanhou om my tuin nat te gooi’.  Dis reg.  Ons moet kan aangaan met dit waarmee ons besig is.  Die persoon wat sê:  ‘O gaats, ek sal nie kan aanhou met dit waarmee ek besig is nie’, het ‘n probleem.

 

Ons moenie net vir die hier en die nou lewe nie.  Ons moenie hoop vir onmiddellike beloning nie.  Paulus het gekyk na die wederkoms en was verseker dat Jesus hom dán sal beloon (4:8).

 

TITUS is geskryf as ‘n handleiding vir die nuwe kerk.  Die evangelie het ‘n groot verandering op hierdie goddelose eiland gebring (1:12, 2:11-14, 3:3-7).  Dit behoort vir Suid-Afrikaners hoop te gee!  Die evangelie kan die mees goddelose samelewing transformeer (Romeine 1:16, 1 Korintiërs 6:9-11).  Maar ten spyte van die veranderinge op Kreta was daar altyd die invloed van vals leraars en die wêreld.  Wat is die oplossing vir hierdie probleme?

 

  • Ons moet reg begin dink oor God (1:1-4, 2:11-14, 3:4-7).  D.A. Carson skryf in sy boek oor gebed (A Call to Spiritual Reformation) dat ons grootste behoefte nie beter opvoeding, aksies teen aborsie, hulp vir die VIGS probleem, evangelisasie of eksposerende prediking is nie.  Ons grootste behoefte is ‘n groter kennis van God.
  • Daar moet ware leraars in plek van valses wees (1:5-16).
  • Elke groep in die gemeente moet weet wat God van hulle verwag en ook verstaan hoekom hulle so moet lewe (2:1-15).
  • Mense moet aangesê word om goeie werke te doen.  Hulle moet weet hoe en ook verstaan hoekom hulle dit moet doen (3:1-15).  Op hierdie manier sal die kerk die wêreld beïnvloed en nie andersom nie (2:10-14).

 

Is dit nodig dat ons ons eie idees oor die kerk probeer volg as God vir ons ‘n voldoende handleiding gegee het?