God se trooswoord vir Christene wat afgedwaal het

Bible comforting woman

1 Troos, troos my volk, sê julle God. 2 Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.” (Jesaja 40).

 

Verbeel jou daar kom ‘n tyd wat daar nie kos in ons land is nie.  Daagliks sterf mense van die honger.  Een aand kom jy by die huis aan:  dis afgebrand tot op die grond, jou vrou is verkrag, jou man is vermoor, jou kinders is ontvoer deur mense-handelaars.  God het deur Jesaja voorspel dat dit presies is wat met Jerusalem sou gebeur (39:5-7).  Daar sou oorlog wees (v.2).  Haar sonde was die oorsaak.  Sy het bekering, vergifnis en troos nodig gehad.

 

Vir wie is die trooswoord?

Sommige skape dwaal kilometers van herder af weg.  Ander dwaal maar net ‘n paar 100 meter ver.  Party is besig om weg te stap.  Ander het nog nie weggeloop nie, maar draai weg en oorweeg dit.  Moenie dink hierdie preek is net vir gelowiges wat in diep sonde verval het nie.  Dit is ook vir jou wat geestelik verflou het, sodat jy skaars ‘n begeerte het na die kerk, die Woord, lofgesange, finansiële bydrae en gebed.  Dis vir jou wat die eredienste bywoon, maar deesdae stimuleer die Bybel net jou intellek – jou hart word nie aangeraak nie.  Dis vir jou wat nie meer soos voorheen gepla is wanneer jy sondig nie.  God se tug is vir jóú, en daarna is die trooswoord in v.1-2 vir mense soos jý.  Ja, daar is ‘n plek vir troos selfs nádat ‘n Christen ernstig gesondig het (dis soos ‘n pa wat sy kind troos nadat hy hom ‘n pakslae gegee het).  “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie” (42:3).  Partykeer is dit sonde wat die riet knak en die kersie flou laat brand.

 

Ek het eenkeer vir ‘n predikant hierdie woorde aangehaal:  ‘The preacher’s duty is to disturb the comfortable and comfort the disturbed’.  Sy reaksie was:  ‘By ons kerk verkies ons om net die tweede gedeelte te doen’.  Vir wie is God se troos bedoel?  Vir sy volk, vir Jerusalem (v.1-2).  Daar is geen troos en vrede vir ongelowiges nie (48:22, Jeremia 6:14).  Twee woorde van toepassing is hier gepas.  Daar is mense wat daarvan hou as predikante oor sonde preek.  Hulle soek elke Sondag ‘n ‘hell-fire and brimstone’ preek.  Hulle het min tyd vir God se liefde en genade.  Sulke predikers slaan die skape wat troos nodig het (tot my skaamte moet ek sê dat ek dit al gedoen het L).  Stuart Olyott vertel hoe hy ook in dieselfde strik getrap het:

 

“As a young preacher I was once invited to speak at some special meetings in a small town in South Wales.  I found the chapel more quickly than I expected and so arrived before it opened.  Two elderly ladies were already waiting outside.  ‘Are you coming to the meetings?’ I asked.  ‘Yes,’ they said, ‘We are coming to hear the Whip!’  The Whip?  The ladies who had evidently not recognised me, told me that they had heard the guest preacher some months before.  What a whipping he had given them.  They weren’t sure how they would get on with him today, but they were giving him the benefit of the doubt and were coming to hear him again.  I don’t need to tell you that they were embarrassed when they suddenly realised that it was ‘the Whip’ they were speaking to!  But they weren’t as embarrassed as I was to have been given such a nickname.  I learned a great deal from those two saints.  They did nothing to lessen my desire to be direct and frank, but they showed me that ticking people off and persuading them are two different things.” (Preaching – Pure and Simple; Bryntirion Press; BRIDGEND; 2005; p.123).

 

Nêrens sê die Bybel dat evangelisasie die doel van Sondagdienste is nie.  Die Skrif sê dat wanneer gelowiges vergader, die prediker hulle moet toerus en opbou, sodat hulle in die week ongelowiges kan evangeliseer.  Om week na week oor die hel en God se oordeel te preek strook nie met Handelinge 20:27 nie:  “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”  Geen prediker wat ernstig is om die teks te preek, sal elke week ‘n ‘hel en verdoemnis preek’ lewer nie.  Wat as die Heilige Gees ‘n sekere teks geïnspireer het om mense te troos of te leer?

 

Die teenkant is ook waar.  Party predikers en hoorders hou nie van preke oor heiligheid, sonde, self-verloëning, die hel, God se oordeel of dissipline nie.  Hulle is dié “wat aan die sieners sê:  Sien nie! en aan die profete:  Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!” (Jesaja 30:10-11).  “Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het ‘n afsku van hom wat in opregtheid spreek.” (Amos 5:10).  Hulle is soos Amasia wat vir Amos gesê het:  “Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar!  Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is ‘n koninklike heiligdom en ‘n tempel van die ryk.  Toe het Amos geantwoord en aan Amásia gesê:  Ek was geen profeet en ook geen profete-seun nie; maar ek was ‘n veewagter en kweker van wildevyebome.  Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê:  Gaan heen, profeteer teen my volk Israel.  Hoor dan nou die woord van die HERE!  Jy sê:  Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag geen woorde laat druppel teen die huis van Isak nie.  Daarom, so sê die HERE:  Jou vrou sal in die stad hoereer, en jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word, en jy self sal in ‘n onrein land sterwe, en Israel sekerlik in ballingskap uit sy land gaan.” (Amos 7:12-17).  Paulus beskryf hierdie mense só:  “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2 Timoteus 4:3-4).  Hierdie mense voel bitter teen die Here wanneer hulle preke oor sy heiligheid, soewereiniteit in verlossing of die hel hoor.  Hulle soek net troos.  Hulle is soeker-sensitiewe predikers:  hulle preek wat mense graag wil hoor.

 

Hoe klink die trooswoord?

‘n Man wat graag ‘n meisie se hart wil wen praat saggies met haar.  Hy spreek tot haar hart (Genesis 34:4).  So praat die Here met sy volk:  “Spreek na die hart van Jerusalem” (v.2).  “Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.” (Hosea 2:13).  Die herhaling van die woord ‘troos’ in v.1 beklemtoon hierdie selfde punt.  En die feit dat hierdie profesie gegee is 150 jaar voor die ballingskap en 700 jaar voor Jesus se koms, wys vir ons dat God se beloftes absoluut vas en betroubaar is.

 

Hoe anders is die Here nie as ons nie!  Wanneer iemand erg gesondig het en berou kry, vertrap ons hulle en skop ons hulle terwyl hulle lê.  God wil eerder hê dat ons die sondaar moet herstel, saggies moet help en moet vergewe.  Ons moenie in selfregverdige trots harde woorde spreek en die persoon eers goed wil ‘vasvat’ nie.  Die Bybel sê:  “Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie.  Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.” (2 Korintiërs 2:6-8).  “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.  Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” (Galasiërs 6:1-3).

 

Onthou God se deernis met jóú.  Moenie die persoon op ‘n ‘guilt trip’ wil sit nie.  Die persoon sal die skuldgevoelens probeer afskud sonder dat hy die wortel uitgekap het.  Dit mag selfs wees dat so ‘n persoon hom tot nóg sonde sal wend om sy gewete te probeer stilmaak (dinge soos pille of selfmoord).  So leer hy om na ander dinge toe te vlug, en nie na die kruis toe te hardloop waar die wortel uitgeroei kan word nie.  Moet dan nie net die afvallige persoon aansê om sy dade te verander nie, maar wys hom na die kruis toe waar God sy hart kan reinig (dit is immers uit die hart wat alle sonde ontstaan, Matteus 15:19).

 

Hoe klink die inhoud van God se trooswoord?  Jerusalem beteken ‘stad van vrede’.  Maar daar was nie vrede nie – net oorlog (v.2b).  Nou belowe God troos (v.2a).  Israel se stryd met Babilon was verby.  Sy het haar straf van 70 jaar uitgedien.  Israel het die skuld betaal.  Ook die sondestryd in Israel se hart was nou verby.  Jesus het gekom om die prys vir hulle en ons skulde te betaal (v.2, 53:5-6, Kolossense 2:14).  Jesaja sê dat Israel dubbel ontvang het vir haar sondes (v.2).  Dit kan nie beteken dat God vir haar ‘n dubbel straf sou gee nie, want God is regverdig – Hy gee net wat mense verdien.  Die woord ‘dubbel’ word eerder in die volgende sin gebruik:  Wanneer een persoon baie na iemand anders lyk, dan sê ons:  ‘Dis jou dubbel’.  Of ons gebruik die woord as ‘n sinoniem vir ‘eweknie’.  Dis byna soos om ‘n papier in die helfte te vou.  Op een helfte verf jy ‘n halwe skoenlapper.  Jy vou dan weer die papier toe.  Die nat verf maak ‘n presiese afdruksel van die skoenlapper op die ander helfte van die papier.  Net soos God sy volk swaar gestraf het, sou Hy aan hulle groot genade gee.  “In plaas van julle skande ontvang julle ‘n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel.  Daarom sal hulle in hul land ‘n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.” (61:7).  “Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes!  Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed.” (Sagaria 9:12).  “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korintiërs 5:21).  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Romeine 5:20).

 

Ons moet versigtig wees om nie vals troos vir mense te gee nie.  Hier is ‘n paar kenmerke van vals troos:

 

  • Troos sonder bekering.  Mense het dadelik blydskap sonder dat daar eers berou is.  Sulke mense ontken dat hulle sonde enige negatiewe gevolge sal hê.  Hulle sê graag:  ‘God is liefde en sal my nie straf nie’.  Hulle neem God se genade vanselfsprekend en sê:  ‘Ek kan maar sondig; ek kan altyd weer teruggaan na God toe en genade ontvang’.  As jy aanhou met sonde en rustig voel is dit nie God wat jou troos nie.  Dis Satan of die vlees.

 

  • Troos deurdat jy God se toorn probeer bedaar met godsdienstige oefeninge soos Bybellees, vas, bid, kerkbywoning, goeie werke.  As jy vrede het omdat jy God hierdeur bedaar het, is dit nie God wat jou troos nie.  Jy het net jou gewete gesus.  Ware troos kry jy nie deur goeie werke nie.  Dit kom deur Jesus se kruisdood, sy Persoon en sy genade.  Christus, en nie jou eie godsdienstige werke nie, is die Trooster van Israel (Lukas 2:25).

 

  • Die slegte vrug van sondige dade en sy gevolge verdwyn, maar die wortel is nie uitgekap nie.  Moet jouself nie te gou troos nie.

 

  • Troos omdat jy ‘n visioen, droom of buitengewone ervaring gehad het.  Die duiwel kan homself voordoen as ‘n engele van die lig.  Troos sonder die Bybel is ‘n vals troos.  God spreek troos deur sy Woord (v.2, 8).  “Die Here HERE het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde” (50:4).  Die Nuwe Testament sê ook dat God ons deur sy Woord vertroos en bemoedig (2 Timoteus 3:16, 4:2).

 

  • Jy is nogsteeds so ontrou aan die kerk soos altyd, maar voel skielik vrede in jou hart.  Jy ervaar ‘n vals troos wat nie van God af kom nie, want sy troos is vir sy kinders as ‘n geheel (v.1).

 

  • Jy veg met ander.  As God jou troos sê Hy vir jou dat die oorlog tussen jou en Hom, tussen jou en ander verby is (v.2).  Jy kan nie vrede met God hê as jy in vyandskap met ander lewe nie (Jakobus 4:1-2, 1 Johannes 4:20).  Jy ervaar ‘n vals troos.

 

  • Tot nou toe verloop alles glad in jou lewe.  Hoe kan God jou troos as jy nie moeilikheid het nie?  Troos veronderstel probleme.

 

  • Ongeduld.  Iemand wat ongeduldig is wag nie dat God hom troos nie.  Hy help homself uit.  Sy troos kom nie van God af nie.

 

  • As selfbeheersing, liefde, geduld (en ander vrug van die Gees, Galasiërs 5:22) heeltemal ontbreek, dan is jy nie Geesvervuld nie.  Hoe kan iemand wat nie die Heilige Gees het nie, ware troos ervaar?  Die Heilige Gees is dan die Trooster (Johannes 14:16).

 

  • Pille soos anti-depressante, slaap pille, anti-angs pille, Ritalin.  As die probleem geestelik is, dan is pille nie die oplossing vir jou probleem nie.  Die Heilige Gees moet jou troos – nie die psigiater nie.  As jy vertroos voel nadat jy pille gesluk het, ervaar jy nie God se troos nie.

 

  • ‘n ‘Guilt trip’.  God troos ons deur sy genade en deurdat Hy sagte woorde tot die hart spreek (v.2).  As jy begin reg lewe omdat jy skuldig voel en daarna beter voel, dan is jou troos vals.

 

  • Terapie.  As jy rustig voel en troos kry deur innerlike energie, yoga, ‘n warm bad, Enya se musiek (of wie ookal anders), sport, fisioterapie, dan is jou troos vals.  Jy voel vir ‘n oomblik beter, maar jou probleem is nie opgelos nie.  Net God kan jou met ‘n ware en blywende troos help (v.1).  “En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!” (2 Tessalonisense 2:16-17).