Die mens se liggaam en siel: God se beskouing vs. die wêreld s’n

Dust in hands

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas.  So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” (Genesis 2:7).

 

Liggaam (v.7a)

‘n Vrou van die Ou Apostels het eenkeer vir my gesê:  ‘Jou siel is dit wat saakmaak.  Jou liggaam is nie so belangrik nie.  Daarom kan jy kan maar vloek, rook, drink, rondslaap’.  Sy het gelieg.  God sê die liggaam is belangrik.  Toe Hy die mens se liggaam gemaak het, het Hy nie net ‘n woord gespreek nie.  Hy was intiem betrokke en het die mens se liggaam gevorm.  Hy het ook jóú liggaam in die baarmoeder gevorm (Psalm 139:13).  Omdat Hy jou geskep het, behoort jou liggaam aan Hóm.  Jy kan nie daarmee doen wat jy wil nie.  Jy moet God liefhê met al jou krag (Lukas 10:27).  Jy moet Hom met jou liggaam eer:  moenie verslaaf wees aan pille of drank nie.  Moenie ooreet nie.  Moenie jou longe met nikotien beskadig nie.  Moenie rondslaap nie (1 Korintiërs 6:12-20).  Moet jouself nie sny of ander dinge doen wat jou liggaam beskadig nie (Levitikus 19:28).  Moenie onversorg wees nie.  Moet jouself nie oorwerk, sodat jy uitbrand nie.  Moenie ongesond lewe nie.  Moenie lui wees nie.  Moenie selfmoord pleeg nie.  Moenie jou sintuie of liggaamsdele gebruik om sonde te doen nie (Romeine 6:13).  Moenie jou tong gebruik om lelike dinge te sê nie.  Moenie in jou gedagtes sondig nie.  Moenie jou lewe omslaap nie.  Laat jou liggaam ‘n dienaar van God wees in alles wat jy doen:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).

 

Ook wanneer jy doodgaan behoort jou liggaam aan God, en moet jy Hom daarmee verheerlik:  “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.  Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Romeine 14:7-8).  C.S. Lewis het gesê:  ‘You don’t have a soul; you are a soul.  You have a body’.  Hy is verkeerd.  Jou liggaam is jy, net soos wat jou siel jy is (v.7).  God het vir Adam gesê:  “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” (3:19).  Vir die moordenaar aan die kruis langs Hom, het Jesus gesê:  “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees.” (Lukas 23:43).  Wanneer jy sterf word jy begrawe en gaan jy hemel toe.  Die mens se liggaam is nie onbelangrik nie.  Wanneer jou liggaam in die graf is, is jy steeds een met die Here.  Paulus praat van mense wat in Christus gesterf het (1 Tessalonisense 4:14, OAV).  Die menslike liggaam is waardig.  Jy gooi nie ‘n dooie mens soos ‘n hond of kat op ‘n ashoop of in swartsak nie.  Dis juis omdat die liggaam waardig is, dat ons onsteld raak wanneer ons ‘n verminkte lyk by ‘n ongeluks- of moordtoneel sien (Rigters 19:29).  Die dood is aaklig, omdat dit onnatuurlik is dat die liggaam en siel van mekaar geskei moet word.  Die feit dat mense deesdae ‘n plesier daarin het om ander se lyke te sien (byvoorbeeld kunswerk met mense se lyke by Body Worlds), of ‘n obsessie het met kopbene en dooies (Markus 5:2, Heavy Metal musiek) is ‘n aanduiding van morele verval.

 

Volgens die Bybel is dit ‘n teken van God se vervloeking as ‘n lyk nie begrawe word nie:  “Die een wat van Jeróbeam in die stad sterwe, hom sal die honde eet; en wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet, want die HERE het dit gespreek.  Maak jou dan klaar, gaan na jou huis; as jou voete die stad inkom, sal die kind sterwe.  En die hele Israel sal hom beklaag en hom begrawe, want hy alleen van Jeróbeam sal in ‘n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jeróbeam.” (1 Konings 14:11-13).  “En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.” (Jeremia 25:33).  Persoonlik glo ek dat verassing nie dieselfde respek aan die liggaam betoon as begrafnis nie.  God self het sy goedkeuring aan begrafnis gegee toe Hy met sy eie ‘hande’ vir Moses begrawe het (Deuteronomium 34:5-6).  Jesus self was begrawe en nie veras nie.  Jesus het gesê dat Hy op die laaste dag die dooies uit hulle grafte sal uitroep (Johannes 5:28-29).  In die Ou Testament was dit ook ‘n vervloeking as iemand se liggaam verbrand is (1 Konings 13:2, 2 Konings 23:16-20).  Ek dink nie dat almal wat veras word vervloek is nie (inteendeel, ek ken baie toegewyde gelowiges wat veras is).  Maar ek dink tog dat hierdie saak iets is om oor te dink.

 

God het vir Adam uit die stof gemaak.  Dit wys vir ons dat die mens broos is (Psalm 103:14).  Ons leer ook hieruit dat die mens uit die aarde is en nie uit die hemel nie (1 Korintiërs 15:47, die mens is dus nie gelyk met God nie).  Die feit dat die mens uit stof gemaak is, sê ook vir ons dat evolusie onsin is – ons kom nie van ape af nie.  Uiteindelik wys dit ook vir ons dat die mens sterflik is (3:19).  Wanneer Jesus weer kom sal jy ‘n nuwe liggaam kry wat nie meer kan siek voel, moeg word, flou raak, swak word of sterf nie (1 Korintiërs 15:42-54).  Net soos God vir Adam uit stof gemaak het, sal dit vir Hom geen probleem wees om jou stoflike liggaam te herskep nie (sien Esegiël 37:1-14).  As jou liggaam in die graf bly is jou redding nie finaal afgehandel nie.  Paulus praat van die opstanding as die verlossing van die liggaam (Romeine 8:23, cf. Openbaring 6:9-11).  Duidelik is jou liggaam nie onbelangrik of minder rein as jou siel of gees nie.  Jou liggaam en gees is met sonde besoedel (2 Korintiërs 7:1).  Daarom bid Paulus:  “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Tessalonisense 5:23).

 

Siel (v.7b)

‘n Professor wat vir my klas gegee het, het in ‘n tydskrif-artikel geskryf dat die mens nie ‘n siel het nie.  Ja, jy kan nie met x-strale die siel opspoor nie, maar die feit dat jy ‘n gewete het bewys dat jy ook ‘n siel het.  Dat depressie veroorsaak word deur ‘n probleem in die brein is spekulasie en teorie.  Daar is geen mediese bewyse hiervoor nie.  Depressie bewys dat die mens nie net ‘n liggaam het nie, maar ook ‘n siel.

 

[1] As die mens nie ‘n siel het nie, dan is aborsie aanvaarbaar.  ‘n Weke oue baba in die baarmoeder het nog nie ‘n volledige brein of liggaam nie.  As ons net ‘n liggaam het, kan jy enigiemand wat nie ‘n volledige liggaam het nie, doodmaak (van babas in die baarmoeder tot mense wat liggaamlik en verstandelik gestremd is).  Jy word nie ‘n mens wanneer jy vir die eerste keer asemhaal nie.  Jy bestaan ook nie voor jou geboorte in die hemel nie (mense wat in reïnkarnasie glo leer dit).  Wanneer konsepsie plaasvind is jy al ‘n sondaar, en dus ook ‘n mens (Psalm 51:7).  Reeds in die baarmoeder het jy ‘n siel:  “Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan.  Hy doen dit alles.”  (Prediker 11:5, NAV).  Reeds in die moederskoot watsJohannes die Doper met die Heilige Gees vervul (Lukas 1:15).  God se bonatuurlike werk in die konsepsie van Jesus (Lukas 1:35), wys ook dat Hy ‘n ongebore kind as kosbaar beskou.

 

[2] As die mens nie ‘n siel het nie, kan jou liggaam nie lewe nie, want ‘n liggaam sonder ‘n siel is dood (Jakobus 2:26).

 

[3] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan sonde net in jou dade.  Tog wys die Bybel anders.  Haat vind nie plaas in die liggaam nie, maar in die siel (alhoewel die liggaam hieraan uitdrukking gee).  Selfsug en ‘tantrums’ in klein kinders is nie aangeleer nie, maar aangebore.  Duidelik is hulle sondaars nog voordat hulle sonde kan doen.  Net sondaars sterf.  Die feit dat pasgebore babas (wat nog geen sonde kan doen nie) sterf, wys dat hulle sondaars is.  Sondige dade begin in die hart (Matteus 15:19).  Ongelowiges wat sterf en hel toe gaan hou aan met sonde.  Hoe is dit moontlik as hulle nie liggame het nie?  Duidelik is sonde nie net die dinge wat jy verkeerd doen nie.  Dis in jou siel.

 

[4] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie iets soos redding nie.  As die mens net ‘n liggaam het, is daar geen verskil tussen die gelowige en ‘n ongelowige nie.  Die feit dat ‘n gelowige ‘n nuwe hart (siel) het, maak hom anders as die ongelowige.

 

[5] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie so iets soos lewe na die dood nie.  As jou liggaam sterf is dit verby.

 

[6] As die mens nie ‘n siel het nie, dan is daar ook nie so iets soos ‘n gewete nie.  Kan jy vir my wys waar in jou liggaam sit die gewete?

 

[7] As die mens nie ‘n siel het nie, dan hoef jy jou nie te bekeer van dronkenskap, homoseksualiteit, diefstal of angs nie.  Al hierdie probleme is dan in die brein (presies soos sielkunde sê).  Die oplossing is nie bekering nie, maar pille.

 

[8] As die mens nie ‘n siel het nie, dan kan jy nie gemeenskap met God hê of Hom aanbid nie.  Tog sê Jesus dat ons God in gees moet aanbid; dat ons Hom moet liefhê met ons hele hart en siel (Johannes 4:23, Markus 12:30).

 

[9] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan daar nie iets soos heiligmaking nie.  Jou heilige dade is tog net die uitdrukking van die geestelike groei wat in jou hart plaasvind.

 

[10] As die mens nie ‘n siel het nie, bestaan daar nie iets soos versoeking nie.  Hoe kan die duiwel jou versoek as jy hom nie met jou ore hoor nie?

 

[11] As die mens nie ‘n siel het nie, dan bestaan daar nie iets soos sekerheid van redding nie.  Die Skrif leer dat die Heilige Gees saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is (Romeine 8:16).  As jy nie ‘n siel het nie is dit dalk jou eie brein wat vir jou sê dat jy gered is.  Wie weet, dalk bedrieg jy jouself?

 

In ‘n sekere opsig kan ons sê dat diere ‘n siel of gees het (die Hebreeuse woorde in 1:21, 24, Predikers 3:19-21 word op ander plekke in die Ou Testament met ‘siel’ en ‘gees’ vertaal).  Hoe is die mens dan anders as diere?  God het nie net gemaak dat die mens ‘n lewende wese is nie.  Hy het lewensasem in sy neus geblaas (v.7, Job 27:3).  Hy het die mens na sy beeld gemaak (1:26).  Die mens het ‘n lewende siel geword (v.7, 1 Korintiërs 15:45).  Die Gees van God het Hom gemaak:  “Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.” (Job 33:4).

 

Jou siel is ewig en kosbaar.  Die Skrif sê:  “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend)” (Psalm 49:8-9).  “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind…Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.” (Prediker 3:11, 14).  As jou siel so kosbaar is en vir ewig sal lewe, moet jy dit nie verloor nie.  “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?  Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Matteus 16:26).