Jou nr.1 hulp in beproewing

Eagle soaring

John Piper vertel hoe ‘n man ná sy preek uit Jesaja 6 vir hom gesê het:  ‘Ons familie gaan ‘n baie moeilike tyd deur.  Ons het onlangs uitgevind dat ‘n familielid ons dogter gemolesteer het.  Jou preek oor God se heiligheid uit Jesaja 6 het ons baie gehelp’.  Hoe het ‘n ‘onpraktiese’ preek soos dít hulle deur gehelp?  Jy sien, dis presies dít wat ons nodig het in beproewing:  ‘n groter kennis van God.  Dis wat Jesaja gedink het.  Vir die Israeliete wat slawe in Babilon sou word het hy gesê:

 

12 Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? 13 Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? 14 Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? 15 Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! 16 En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. 17 Al die nasies is voor Hom soos niks:  as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. 18 By wie wil julle God dan vergelyk?  Of watter gelykenis naas Hom stel? 19 Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. 20 Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie. 21 Weet julle nie?  Hoor julle nie?  Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie?  Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? 22 Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon. 23 Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; 24 skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel. 25 By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. 26 Slaan julle oë op in die hoogte en kyk!  Wie het hierdie dinge geskape?  Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. 27 Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, O Israel:  My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? 28 Weet jy dit nie?  Of het jy dit nie gehoor nie?  ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. 29 Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. 30 Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; 31 maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40).

 

God is onmeetbaar (v.12-17)

God het die oseane in die holte van sy hand afgemeet.  Het het die hemelruim met ‘n span (22cm) afgemeet.  Die sand van die strande, seebodem en woestyne het hy met ‘n drieling afgemeet.  Vir Hom is die massiewe heuwels en berge so lig soos ‘n veertjie:  Hy het dit in weegskaal afgemeet (v.12).  Vir God was dit maklik om die mates van die skepping te bepaal.  Maar Hy self kan nie gemeet word nie:  “Who has measured the Spirit of the Lord?” (v.13a, ESV).  “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?” (Psalm 139:7).  Die Babiloniërs het geglo dat hulle god Marduk vir die alwyse Ea raad moes vra voordat hy die wêreld kon maak.  In Bybelse tye het konings wyse raadgewers gehad.  Jahwe is nie so ‘n God en Koning nie:  Hy het nie raad nodig nie, want al die skatte van kennis en wysheid is in Hom verborge (v.13b-14, Kolossense 2:3).  Hy beraadslaag net met Homself (cf. Genesis 1:26).  God weet alles en kan nooit iets nuut leer nie (v.14).  God ken die pad van die reg (v.14).  Hy is “sonder onreg; regverdig en reg is Hy.” (Deuteronomium 32:4).

 

Die nasies (ook Israel se vyand Babilon) is soos die laaste druppel in ‘n emmer, soos ‘n dun lagie stof wat nie eers die skaal laat beweeg nie – niks en minder as niks (v.15, 17, cf. Daniël 4:35, Psalm 2).  Duisende eilande is vir Hom soos stoffies (v.15).  Die seders van die Lebanon en al die diere daarin is nie genoeg vir ‘n brandoffer (v.16).  Om God na waarde te loof moet die offer oneindig wees.  Net God self kan so ‘n offer bring.  Hy het ook toe Hy sy lewe vir ons gegee het aan die kruis (Jesaja 53).

 

Wanneer ons beproef word moet ons onsself nie wend tot selfhelp preke en boeke nie.  Lering wat vir jou sê dat jy jou volle potensiaal moet bereik, moet tap uit die bron van innerlike energie, ‘n beter selfbeeld moet hê, of positief moet dink om uit jou beproewing te kom is onsin.  Ons moet ‘n baie lae siening van die mens hê.  Meet jouself maar aan die skepping om te sien hoe klein jy is, aan die kruis om te sien hoe sondig jy is, aan jou sonde en selfsug om te sien hoe aaklig jy is, aan ‘n vervalle samelewing om te sien hoe verlore jy is.  Jou nr. 1 hulp in beproewing is nie in jouself nie, maar in God.  Jy moet Hóm beter ken (v.12-17).

 

God is onvergelykbaar (v.18-26)

God het die mens na sy beeld gemaak.  Daarom moet ons nie die Here na ons beeld probeer maak nie.  Jy moet dom wees om ‘n houtbeeld met goud te oordek, en dan te sê:  ‘Dis die god wat my gemaak het’!  En dit nogal ‘n beeld wat jy in die grond moet vasspyker, sodat dit nie omval nie.  Jesaja sê:  “By wie wil julle God dan vergelyk?  Of watter gelykenis naas Hom stel?  Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.  Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie.” (v.18-20).  En Jeremia:  “Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl.  Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.  Soos ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommertuin is hulle:  hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie.  Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.” (Jeremia 10:3-5).  Onthou jy hoe die Fillisyne hulle afgod moes optel en regop sit toe dit voor die ark van God neergeval het (sien 1 Samuel 5:3-4)?

 

In 2013 wend mense in beproewing hulleself tot allerhande dinge:

  • Kos (‘comfort eating).
  • Dagdromery.  Hulle dink hoe dit sou wees as die omstandighede anders was.
  • Alleen wees.  Hulle wil eenkant wees om te dink oor hulle probleme.
  • Angs.  Hulle dink planne uit om self die probleem op te los.
  • Seks.
  • Slaap.  So probeer hulle om van die probleem te ontsnap.
  • Pille – om vir ‘n rukkie beter te voel en van die probleem te vergeet.
  • Drank.
  • Hulle hardloop na dokters toe.  God het wel medici gegee om ons te help, maar hulle stel hulle vertroue in die dokter en nie in die Here nie.
  • Sielkunde.
  • Mense.  As iets sleg gebeur bel hulle dadelik hierdie persoon – hy of sy word hulle persoonlike Messias.
  • Godsdiens.  Mense gebruik selfs Bybellees, gebed, kerkbywoning of tiendes as ‘n kruk.  As hulle probleme opgelos is, raak hulle ontslae van die ‘kruk’.
  • Jou gunsteling prediker (Andries Ensilin, Riekert Botha, John Piper).  Dis tragies as iemand Jesus se plek in jou lewe inneem.
  • Jou werk.
  • Jou kinders.

 

Enigiemand wat sê dat die goue beeld in sy sitkamer hóm gemaak het, is dom.  Maar mense wat dink dat meer ‘papier’ in jou beursie geluk, ’n goeie huwelik, sukses of gesondheid sal bring, is net so dom.  Hoe kan jy God enigsins met ander gode vergelyk?  Die skepping wys dan vir jou dat God nie ‘n nasionale afgod is nie.  Jou gewete en God se voorsienigheid wys dieselfde (v.21, Psalm 19:2-4, Romeine 1:19-20, 2:14-15, Handelinge 14:17).  God sit as Koning bo die hemelkoepel.  Hy strek die hemelruim uit soos ‘n tent (‘n mooi beeld in ‘n nomadiese kultuur) en ‘n gordyn.  Mense is so klein soos sprinkane voor Hom (v.22).  Hy maak die prinse van die nasies (ook van Babilon) tot niet soos gras wat in die woestynson en wind verdor; soos kaf wat in die stormwind wegwaai (v.23-24, cf. Psalm 1:4):  “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniëls 2:21).

 

God is heilig:  uniek, afgesonder, in ‘n klas van sy eie (v.25).  Christus word genoem die ‘Heilige van God’ (Markus 1:24).  Hy is ver bo alle owerhede en magte verhef (Efesiërs 1:21).  Toe Petrus saam met Jesus op die berg van verheerliking was het Moses en Elia aan hulle verskyn.  Petrus het gesê:  “Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak:  vir U een en vir Moses een en een vir Elía.” (Matteus 17:4).  Moses en Elia het verdwyn:  “Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen.” (Matteus 17:8).  Die les wat Petrus moes leer, was dat ons nie vir Jesus in dieselfde asem moet noem saam met Moses, Elia, Mohammed, Buddha, Mandela of enigiemand anders nie.  TV en radioprogramme maak asof alle godsdienste gelyk is; asof Jesus net nóg een van mense se baie gode is.  Die Wêreld Raad van Kerke doen dieselfde.  By jou werk frons mense as jy sê dat Jesus die enigste God is.  Moenie bang wees nie; neem standpunt in.  Sê wat Jesus oor Homself gesê het:  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6).  Petrus het Jesus se woorde ge-eggo:  “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Handelinge 4:12).

 

God het die sterre geskep.  Hy onderhou dit en weet presies hoeveel daar is:  “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk!  Wie het hierdie dinge geskape?  Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” (v.26).  “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” (Psalm 147:4).  Die Babiloniërs het na die sterre gekyk om vir hulle hoop en leiding te gee (47:13).  Die Israeliete moes nie versoek word om hulle voorbeeld te volg nie (Deuteronomium 4:19).  In ons land moet ons nie ons hoop op mense stel nie.  Moenie dink dat ‘n ander president die oplossing is, of dat ‘n beter politieke party die land sal omkeer nie.  Moenie dink dat die ryk buiteland ons probleme sal oplos nie.  Moenie dink dat die oplossing in Australië of Kanada lê nie (immigrasie).  Die Verenigde Nasies is nie die oplossing nie.  Om ‘n volks-opstand te veroorsaak sal nie dinge beter maak nie.  Ons hulp lê in die Here.  Die Bybel sê:  “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.” (1 Timoteus 2:1-2).

 

God is onuitputbaar (v.27-31)

God is groot.  Hy het alles gemaak – ook die triljoene sterre (v.1-26).  As dit so is, hoekom het die Jode in Babilon (en jy) gesê dat God hulle vergeet het; dat Hy nie wou of kon help nie (v.27)?  Derek Kidner sê:  ‘Die verkeerde afleiding uit v.26 is dat God te groot is om belang te stel in jou klein probleme (v.27).  Die regte afleiding is:  Hy is te groot om te misluk of om van jou te vergeet (v.28)’.  Is jy ‘n slagoffer van onreg?  Jy werk hard maar kry nie bevordering nie?  Jy doen goed in matriek maar kry nie ‘n beurs nie?  Jy word onderdruk deur ongelowiges?  Die werk word vir iemand gegee wat nie naastenby so gekwalifiseerd is soos jy nie?  Die polisie en die hof laat onreg seëvier, terwyl jý daaronder moet ly?  Vir God is dit belangrik dat geregtigheid moet geskied (v.27).  Die Here sou sy volk uit ballingskap bevry.  Die Messias sou kom om hulle van hulle sondes te red (v.1-11).  God sal nie anderkant toe kyk en maak asof Hy nie die onreg sien nie (Habakkuk 1:13).  Volhard in gebed.  Hy sal binnekort tot jou redding snel (Lukas 18:7-8).  Hoe bestry jy die v.27-mentaliteit wat sê:  ‘Die Here het van my vergeet en gee nie om as ek swaarkry nie’?

 

  • Dink na oor God se karakter (v.28).  Hy is almagtig, weet alles en is goed.  Sal Hy jou nie help nie?  Weet Hy nie van jou probleme nie?  Is Hy beperk?
  • Sien die mens, afgode en die skepping in verhouding tot God.  Jy sal vinnig besef dat jou God groot is en jou probleme klein.  Jy sal ook nie angstig rondkyk vir hulp nie, maar sal geduldig wag op die Here (41:10).
  • Dink aan die kruis:  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32).
  • Dink na oor jou eie ontrouheid.  Dit sal jou help om nie te sê dat Gód ontrou is nie.
  • Lees van God se werke in die geskiedenis.  Lees Christen-biografieë.
  • Onthou hoe God jou in die verlede gehelp het.  Dank Hom daarvoor en weet dat Hy jou nie hierdie keer sal teleurstel nie.

 

God het die eindes van die aarde geskep (v.28):  daarom is Hy ook in Babilon, Kempton Park of waarookal jý is.  Selfs die sterkste mense word moeg en raak uitgeput (v.30).  Is jy moeg en verward?  God is nie.  Sy kragte raak nie op soos ‘n mediese fonds wat uitgeput raak nie (v.28-31).  “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (Psalm 121:4).  Dit is van Hóm wat ons krag kom:  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:13).  Moenie sake in jou eie hande wil neem nie.  Wag geduldig op die Here (v.31, Psalm 37:7).  Hoop op die waarheid van sy beloftes (Psalm 130:5).  Hoe versterk die Here ons?  Deur die Skrif, gebed, die doop en die nagmaal, lofprysing, jou eie en ander se geestelike gawes, die gemeenskap van gelowiges, ‘n dag van rus (Sondae), dissipline (al is dit op die oomblik pynlik).  God se krag sal jou oplig soos wind onder ‘n arend se vlerke (v.31, cf. Psalm 103:5).  Jou probleme sal nie noodwendig verdwyn nie, maar jy sal bo dit uitstyg.  Mense wat hardloop raak moeër hoe verder hulle hardloop.  As die Here jou versterk sal jy sterker word soos wat jy hardloop.