Wat het voor die herlewing gebeur?

Baptism of the Holy Spirit

Lukas se biografie oor Jesus bestaan uit twee dele (byna soos Tolkien se Lord of the Rings wat uit drie dele bestaan):  Lukas en Handelinge.  Handelinge is letterlik Lukas II.  In Lukas-evangelie beskryf hy wat Jesus begin leer en doen het.  Wat het Hy gedoen?  In 10:38 sê Lukas Hy het “goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was”.  Ons weet natuurlik dat Jesus se werk ‘n klimaks bereik het in sy kruisdood en opstanding.  Wat Jesus se lering betref sê Lukas 4:43:  “Maar Hy het vir hulle gesê:  Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”  As Lukas-evangelie die begin van Jesus se werke en lering beskryf, sê Handelinge vir ons wat Hy verder gedoen en geleer het.  Die beste naam vir die boek is nie ‘Die Handelinge van die Apostels’ of selfs ‘Die Handelinge van die Heilige Gees’ nie.  Die korrekte titel is:  ‘Die Handelinge van Jesus deur sy Gees deur die apostels’.  Jesus belowe om self by sy dissipels teenwoordig te wees wanneer hulle die Groot Opdrag van dissipelmaking uitvoer:  “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).

Die menslike outeur van die boek (soos reeds gesê) is Lukas.  Volgens Kolossense 4:14 was hy ‘n mediese dokter.  Hy het baie van sy inligting by Paulus gekry.  In 2 Timoteus 4:11, Filemon 24 sien ons dat hy ‘n mede-werker van Paulus was.  Wie was die ontvanger van die brief?  Theofilus.  Sy naam beteken ‘geliefde of vriend van God’.  Volgens Lukas 1:3 was Theofilus een of ander belangrike staatsamptenaar.  Daarom noem Lukas hom ‘hooggeagte’.  In die Handelinge 1 beskryf Lukas vir hom wat enkele dae voor die herlewing op Pinksterdag gebeur het.

1 Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het 2 tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het; 3 aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het. 4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. 5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.” (Handelinge 1).

Jesus beveel sy dissipels (v.2)

Jesus het deur die Gees baie dinge aan sy dissipels beveel.  In 10:38 lees ons dat God Hom met die Heilige Gees en met krag gesalf het.  Lukas-evangelie beskryf vir ons wat gebeur het:  “En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal; en ‘n stem het uit die hemel gekom wat sê:  U is my geliefde Seun; in U het Ek ‘n welbehae.” (Lukas 3:22-23).  “En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer…[Hy het gelees:]  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring” (Lukas 4:14, 18).

Wat is die bevele wat Hy deur die Gees aan hulle gegee het (v.3)?  Natuurlik die Groot Opdrag van Matteus 28:19:  “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”  Maar daar was meer as dit.  Hy het baie dinge vir hulle gesê wat hulle later as geïnspireerde Skrif neergeskryf het.  Jesus het immers gesê:  “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.  Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.  Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” (Johannes 16:13-15).  Let op dat die Heilige Gees net gesê het wat Hy by Jesus gehoor het.  Daarom sê Lukas in v.3 dat Jesus deur die Gees met sy dissipels gepraat het.

As die Skrif dan Jesus se woorde is, is jy dieselfde respek aan die Bybel verskuldig as aan Jesus.  Om aan die Bybel ongehoorsaam te wees, is om aan Jesus ongehoorsaam te wees.  Is jy gehoorsaam aan dit wat Jesus begin leer het (v.1)?  Toets jouself:

  • Het jy jou van jou sonde bekeer (Markus 1:15)?  Bewys die vrug wat jy dra dat dit so is (Matteus 3:8)?
  • Glo jy die evangelie?  Vertrou jy met jou hele lewe op Jesus se persoon, lewe, kruisdood en opstanding (Johannes 3:16, 36)?
  • Het jy jouself verloën, jou kruis opgeneem en Hom gevolg (Lukas 9:23)?
  • Is jy gedoop soos wat Matteus 28:19 beveel (of sê jy jou ouers het namens jou die opdrag gehoorsaam)?
  • Bid jy saam met ander (Matteus 6:9, Ons Vader)?
  • Bid jy volgens die patroon wat Jesus neergelê het in Matteus 6:9-13 (So moet julle bid)?
  • Bid jy alleen in jou kamer (Matteus 6:6)?
  • Volhard jy in gebed (Lukas 18:1)?
  • Volhard jy in sy Woord (Johannes 8:31)?
  • Is jy versigtig vir vals leraars (Matteus 7:15)?  Of speel jy met vals lering, omdat jy luister na Prosperity predikers op TBN en snaakse boeke koop by CUM?
  • Bid jy vir arbeiders in die oes (Matteus 9:38)?
  • Gebruik jy jou geld om skatte in die hemel bymekaar te maak (Matteus 6:20)?  Gee jy getrou en met blymoedigheid vir die kerk, sendelinge en armes?
  • Dink jy oor die ewigheid (Matteus 13:44-46)?
  • Is jy angstig oor jou geldsake (Matteus 6:25)?
  • Jaag jy na rykdom (Lukas 12:15)?
  • Vier jy gereeld die nagmaal (Lukas 22:19)?
  • Getuig jy van Jesus deur jou woorde en dade (Matteus 5:16, 10:32, 28:19)?
  • Dissipeleer jy ander (Matteus 28:20)?  Doen jy dit met jou huweliksmaat, jou kinders, ander mense?
  • Spreek jy jou mede-gelowige aan as hy/sy sondig, of los jy hulle maar om aan te gaan op die pad van die verderf (Matteus 18:15)?  Voel jy bitter as hulle teen jou sondig of praat jy die saak uit?
  • Aanvaar jy kerkdissipline of staan jy dit teë (Matteus 18:17)?
  • Vergewe jy dié wat teen jou sondig (Lukas 17:3-4)?
  • Betaal jy belasting (Matteus 22:21)?
  • Wy jy jouself aan goeie werke op die Here se Dag (Matteus 12:7, 12)?  Het jy jou geestelike gawe gebruik om ander gelowiges op te bou?  Of het jy jou gawe vir jouself gehou omdat jy gedurig afwesig was?
  • Het jy God liefgehad met alles wat jy is en het (Matteus 22:37)?
  • Het jy jou naaste lief soos jouself (Matteus 22:39)?  Wie was vir jou die belangrikste:  jy of ander mense?
  • Het jy jou mede-gelowiges liefgehad soos wat Jesus jou liefhet (Johannes 13:34)?  Het jou gereelde samekoms met ander Christene dit bewys?  Het jy ander gelowiges gedien?
  • Het jy nederig gedien?  Of was jou styl van leierskap in die huis, by die werk, in die kerk dié van ‘n diktator (Matteus 20:25-28)?
  • Het jy Jesus se wederkoms verwag (Matteus 25:13)?
  • Het jy jou verbly in vervolging (Lukas 6:23)?
  • Het jy jou vyande geseën, vir hulle gebid, en aan hulle goed gedoen (Lukas 6:27-28)?  Of het jy bitterheid in jou hart gekoester?
  • Het jy hard gestry teen sonde (Matteus 5:27-30)?
  • Het jy gebroke verhoudings herstel (Matteus 5:23-24)?

Moenie sê Jesus is jou Here as jy ongehoorsaam is nie (Lukas 6:46).  As jy Hom liefhet sal jy doen wat Hy vir jou sê (Johannes 14:15).  As jy misluk het moet jy jou van jou sonde bekeer.  Pasop dat jy Hom nie vlei nie, maar draai heeltemal weg van jou sonde:  “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.” (Psalm 78:34-37).  Moenie net ophou om die verkeerde te doen nie, maar sorg dat jy die regte dinge in die plek daarvan doen.  En as jy dít gedoen het, moet jy in die goeie volhard.  Moenie wees soos die Israeliete in Koning Sedekia se tyd nie.  In gehoorsaamheid aan die Here het hulle hul slawe vrygelaat.  Maar ‘n ruk later het hulle die slawe teruggeneem (Jeremia 34:10-11).  Moenie terugval as jy jou bekeer het nie – volhard.

Jesus verskyn aan sy dissipels (v.3)

Jesus het nie in die graf gebly nie, maar het deur baie bewyse getoon dat Hy lewe (v.3).  Hy het onder andere aan sy apostels verskyn, gesê dat hulle aan Hom moes raak, en vis geëet voor hulle oë (Lukas 24:39, 41-43).  Baie mense het Hom na sy opstanding gesien (1 Korintiërs 15:5-8), maar Hy het spesifiek die apostels gekies om ooggetuies hiervan te wees.  Toe hulle ‘n apostel in Judas se plek moes kies was die vereiste:  “Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het, van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.” (1:21-22).  In 10:40-41 sê Petrus:  “Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het.”  Volgens Lukas 6:13 was net sommige verkies tot apostels.  En volgens 1:21-22 (hierbo aangehaal) moes ‘n apostel vir drie jaar deur Jesus geleer word en ‘n ooggetuie gewees het van sy opstanding.  Hoofstuk 1:24 sê dat Jesus self die apostel moes uitkies en aanstel.  Duidelik is daar dan in ons tyd nie apostels soos in die dae van die vroeë kerk nie (soveel vir al die self-aangestelde ‘apostels’ in Prosperity kerke!).

In die dae voor sy hemelvaart het Jesus die apostels geleer aangaande die Koninkryk van God (v.3).  Dit was die boodskap wat Jesus tydens sy aardse bediening verkondig het (Lukas 4:43), en dit was die boodskap wat sy volgelinge aangehou preek het (8:12, 19:8, 28:23, 31).

Jesus belowe sy dissipels (v.4-5)

Terwyl hulle saam geëet het (v.4, moontlike vertaling uit die Grieks, cf. 10:41) het Hy hulle beveel om nie die stad (Jerusalem) te verlaat nie.  In die lig van sy kruisdood het Jesus geweet dat hulle bang sou wees vir die Jode en Romeine (Johannes 20:19).  Maar hulle moes in Jerusalem wag.  God het bepaal dat die Paasfees in Jerusalem moes wees, en daarom was Jesus dáár gekruisig (Deuteronomium 16:5-6).  Net so het God bepaal dat die Pinksterfees in Jerusalem moes wees, en daarom sou die Heilige Gees dáár uitgestort word (Deuteronomium 16:16).  Jesus het in Jerusalem ons verlossing bewerk.  Die Heilige Gees sou sorg dat die kerk in Jerusalem gebore word, en dat die evangelie vanuit dié stad sou voortgaan (cf. Jesaja 40:9).

Die dissipels kon nie in eie krag die Groot Sendingopdrag van Matteus 28:19 uitvoer nie.  Hulle moes wag vir die Heilige Gees.  Jesus sou die belofte van die Vader stuur (v.4-5).  Die Vader se belofte was:  “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees” (Joël 2:28).  Voor sy kruisdood het Jesus gesê:  “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid” (Johannes 14:16).  En na sy opstanding:  “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle.  Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.” (Lukas 24:49).  Dit is hoe Petrus Pinksterdag interpreteer:  “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” (2:33).  Tien dae nadat Jesus opgevaar het, het Hy die Heilige Gees uitgestort (Pinkster beteken ’50 dae’ en in v.3 lees ons dat Jesus vir 40 dae na sy opstanding nog op die aarde was).

Johannes die Doper se waterdoop was ‘n teëbeeld van die realiteit wat Jesus sou bring:  die doop met die Heilige Gees (v.5).  Paulus sê God het “ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser” (Titus 3:5-6).  Johannes die Doper het gesê dat Jesus mense met die Heilige Gees en met vuur sou doop.  Maar in v.5 los Jesus die frase ‘met vuur’ uit.  Hoekom?  Let noukeurig op Johannes se woorde:  “Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.  Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.  Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.” (Matteus 3:10-12).  Johannes het met die volk gepraat.  Jesus sou sommige van hulle met die Heilige Gees doop en ander met vuur; sommige sou gered word en ander sou geoordeel word.  Daarom los Jesus ‘met vuur’ uit wanneer Hy met die dissipels praat.

Die Nuwe Testament beskryf doping met die Heilige Gees as:

[1] Hulle is gevul met die Heilige Gees (2:4).

[2] Die Heilige Gees is op hulle uitgestort (2:33, cf. Titus 3:5-6).

[3] Hulle het die Heilige Gees ontvang (2:38).

[4] Die Heilige Gees het op hulle geval (10:44, cf. 11:15-16).

[5] Hy het die Heilige Gees aan hulle gegee (11:16-17).

Die dissipels was reeds gered, maar Jesus moes eers verheerlik word voordat hulle die Heilige Gees in die Nuwe Testamentiese sin van die woord kon ontvang (Johannes 7:39).  In hulle geval is hulle na wedergeboorte met die Heilige Gees gedoop.  Maar ná Pinksterdag doop Jesus almal wanneer hulle tot bekering kom (Titus 3:5-6 wys dat doping met die Gees en wedergeboorte op dieselfde tyd gebeur).  Die Skrif sê:

“Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor…En Petrus sê vir hulle:  Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.” (2:33).

“Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” (Romeine 8:9).

“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” (1 Korintiërs 12:13).  Enigiemand wat nie met die Heilige Gees gedoop is nie, is nie deel van die liggaam van Christus nie [die Griekse teks sê nie dat ons deur die Gees gedoop is nie, maar sê soos Matteus 3:11 dat ons in of met die Gees gedoop word].

Charles Finney het geglo dat jy met die Heilige Gees gedoop sal word as jy sekere voorwaardes vervul.  Vandag glo die AEB en ander groepe dieselfde.  Die Bybel leer dat die Heilige Gees soewerein is (Johannes 3:8).  Hy hoef nie te kom omdat jy vir maande gebid het of opgehou rook het nie.  Partykeer kom Hy ten spyte van ons sonde.  Dit is immers Hy wat ons help om op te hou.

Ja, doping met die Heilige Gees vind plaas by wedergeboorte en is nie ‘n eksklusiewe tweede genadewerk nie.  Maar dit beteken nie dat gelowiges nie voortdurend met die Heilige Gees gedoop kan word nie.  Jesus het in v.5 belowe dat die dissipels met die Heilige Gees gedoop sal word.  In 2:4 sê Lukas dat die dissipels met die Heilige Gees gevul [Gk. pletho] is.  In 4:31 gebruik Lukas ‘n identiese Griekse woord [pletho] om te wys hoe dieselfde groep gelowiges met die Gees gevul is.  Wat anders is dit as nóg ‘n doping met die Heilige Gees?  En hoekom kon dit nie weer gebeur nie… en weer… en weer?  John Knox, die Puriteine, Jonathan Edwards, George Whitefield, Charles Spurgeon, Martyn Lloyd-Jones, Iain Murray, Erroll Hulse, D.A. Carson, Martin Holdt en baie ander godsmanne het geglo dat doping met die Gees meermale in ‘n gelowige se lewe kan plaasvind.

God gee tog nie altyd sy Gees op alle plekke in dieselfde mate nie.  “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus.” (Efesiërs 4:7).  Wanneer God die Gees in ‘n baie groot mate gee, noem ons dit ‘n herlewing.  Na sy opstanding het Jesus die Heilige Gees gegee soos ‘n asem (Johannes 20:22).  Op Pinksterdag het Hy die Gees gegee soos ‘n geweldige stormwind (2:2).

Hier is tien effekte wat doping met die Heilige Gees op ‘n kerk sal hê:

[1] Daar sal krag wees in die kansel en in die kerk se getuienis.  “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” (1:8).  “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:  Wat moet ons doen, broeders?” (2:36).  Deesdae roep predikante mense vorentoe om gered te word.  Wanneer laas was jy in ’n kerk waar die mense uitgeroep het:  ‘Wat moet ons doen om gered te word!?’  “Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees” (4:8).  Die Joodse Raad het dadelik sy vreeslose vrymoedigheid raakgesien (4:13).  “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” (4:31).  David Morgan was ’n prediker in Wallis.  Een aand het hy gaan slaap, so gewoon en onindrukwekkend soos ’n lammetjie.  Die volgende oggend het hy opgestaan, so sterk en indrukwekkend soos ’n leeu.  Skielik het hy honderde bekerings onder sy bediening gesien.  Twee jaar later het hy een aand gaan slaap, so sterk en indrukwekkend soos ’n leeu.  Die volgende oggend het hy opgestaan, so gewoon en onindrukwekkend soos ’n lammetjie.  Vir die res van sy lewe het hy ’n gewone en gemiddelde bediening gehad (sien Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.323-324).

[2] Sending aktiwiteit sal ontplof (sien weer 1:8, 4:31).

[3] Daar is baie bekerings.  William Cooper van Boston sê dat hy in een week in 1740 meer geestelike ontwaking gesien het as in die hele 24 jaar van sy bediening voor dit (Iain Murray, Pentecost – Today?, p.178).

[4] Die eenheid en liefde van die gemeente sal versterk word.  “En hulle het volhard…in die gemeenskap…En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit.  En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.  En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet” (2:42, 44-46).  “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad.“ (4:32).  In die kerk waarin ek groot geword het, het daar ‘n mini-herlewing plaasgevind.  Mense het groente kerk toe gebring en met mekaar hulle kos gedeel.  Ons het op ‘n baie gereelde basis saamgeëet by die kerk.

[5] Die gemeente sal saam bid.  “En hulle het volhard…in die gebede” (2:42).  In die 1800’s het ’n herlewing in Dundee, Skotland uitgebreek.  Daar was tot 800 by ’n midweek biduur, sodat mense in die gange en op die kansel se trappe moes sit.

[6] Mense sal ‘n diep honger hê na suiwer en soliede prediking.  “En hulle het volhard in die leer van die apostels” (2:42).  Mense wat gewoonlik onder die preke geslaap het, sal wawyd wakker wees met ‘n besorgdheid oor die ewigheid.

[7] Mense sal God vrees.  “En vrees het op elkeen gekom” (2:43).  Toe Jonathan Edwards in die 1700’s in Enfield gepreek het, het mense aan die pilare vasgeklou en gevrees dat die aarde hulle sou insluk.

[8] Mense sal ‘n dors hê om God te aanbid.  “terwyl hulle God geprys het” (2:47).  Jonathan Edwards getuig van sy vrou, Sarah:  “She has more than once continued for five or six hours together, without interruption, in a clear and lively view or sense of the infinite beauty and amiableness of Christ’s person, and the heavenly sweetness of his transcendent love…the body often fainting with the love of Christ [cf. Psalm 63:2, 84:3, Ou Vertaling].” (Works, volume 1, p.376).

[9] Mense sal besorg wees om heilig te lewe.  “En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het…En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie” (5:11, 13).  Lukas beskryf hier wat gebeur het nadat God vir Ananias en Saffira doodgeslaan het.  Toe die herlewing in Northampton uitgebreek het, het goddelose jongmense se gesprekke in God-verheerlikende gesprekke verander.  Jong mense wat gewoonlik hulle sonde geniet het, het skielik ‘n begeerte gehad na die Woord en gemeenskap van gelowiges.

[10] Jesus is sentraal.  Ek is nie beïndruk met kerke wat sê dat die Heilige Gees onder hulle werk, as Jesus nie sentraal is nie.  Jesus het gesê:  “Hy [die Heilige Gees] sal My verheerlik” (Johannes 16:14).  Dis asof Jesus op die verhoog staan, en die Heilige Gees agter in die saal is en ‘n groot kollig op Jesus skyn.

Laat ons die Heilige Gees in gebed soek, en smeek dat so ‘n herlewing in ons tyd sal plaasvind.  “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).  ‘n Ballon wat so groot is soos jou gesig is vol van lug.  Maar dit kan voller word – die kapasiteit kan vergroot.  Elke gelowige het die Heilige Gees en is met die Gees gedoop.  Maar jy kan weer met die Gees gedoop word… en nog ‘n keer… en nog ‘n keer… en nog ‘n keer.  Laat ons wat vol is van die Gees begeer om nog voller te word.  “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. (Efesiërs 5:18).  As dít gebeur sal die fokus wees waar dit móét wees:  op Jesus.  Bo alles wil die Heilige Gees hê dat gelowiges Jesus se soete teenwoordigheid sal ervaar.  Jesus het na die Heilige Gees verwys toe Hy gesê het:  “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Johannes 14:23).  Dis deur die Heilige Gees wat Jesus sy werk onder ons voortsit (v.2).