Die silwer rand van God se genade

Cloud with silver lining

Die spreekwoord sê:  ‘Elke donker wolk het ‘n silwer randjie’.  Dit beteken eenvoudig dat daar in die donkerste tye nog hoop is.  Dit sien ‘n mens oral in Genesis 3:

14 Toe sê die HERE God aan die slang:  Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld.  Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.  Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

 

16 Aan die vrou het Hy gesê:  Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.

 

17 En aan die mens het Hy gesê:  Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem.  Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

 

20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. 21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

 

22 Toe sê die HERE God:  Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.  As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! 23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.” (Genesis 3).

Die slang (v.14-15)

As gevolg van Adam se sonde is selfs die diere vervloek (Romeine 8:22, cf. Jeremia 12:4).  Die slang is bowenal vervloek, omdat hy die vrou mislei het (v.13-14, die eerste lesers sou dit goed verstaan het, nadat hulle deur giftige slange in die woestyn gepik is, cf. Numeri 21).  Dit blyk dat slange oorspronklik pote gehad het.  Nou sou die slang op sy maag seil met sy mond in dieselfde stof waarheen Adam sou terugkeer (v.14, 19)!  Die slang en Eva was vyande (v.15a).  Satan (wat die slang se liggaam gebruik het) en Eva se nageslag sou vyande wees (v.15b).  Matteus 3:7 praat van ongelowiges as kinders van die slang (‘addergeslag’), en Jesus sê in Johannes 8:44 dat ongelowiges kinders van Satan is.  Die slang het die vrou mislei.  God sou die slang oordeel deur die vrou se saad wat sy kop vermorsel (v.15, cf. Galasiërs 4:4).  Toe Jesus deur sy kruisdood die ‘slang’ (Satan) se kop vermorsel het, het die slang Hom aan die hakskeen gebyt (v.15c).  Hierdie profesie is letterlik vervul.  Bill Barrick vertel van die opgrawing van geraamtes wat deur die Romeine gekruisig is.  Die spykermerke is nie deur die voorkant van die voete nie, maar deur die hakskeen.  Die punt is egter dat Satan se kopwond dodelik was en Jesus s’n aan die hakskeen nie (Hy’t opgestaan uit die dood).

In die toekoms sal die vloek finaal weggeneem word.  Daar sal nie meer vyandskap wees tussen die slang en die nageslag van die mens nie.  Jesaja 11:8 voorspel:  “die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk [‘kobra’ is ‘n moontlike vertaling].”

Die slang sal steeds met sy mond in die stof seil, om ons te herinner aan die vloek wat daar was, en dat daardie vloek nou gebreek is:  “Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.” (Jesaja 65:25).  Hierdie laaste vers (soos Genesis 3:14) beteken nie letterlik dat slange stof eet nie.  Dit spreek eerder van vernedering soos in Miga 7:17.  Ons kan nóú reeds hierdie oorwinning oor die ‘slang’ vier, want die Skrif sê:  “En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.” (Romeine 16:20).

Die vrou (v.16)

Om kinders te kry is ‘n seën (1:28).  Maar na die sondeval het swangerskap moeiliker geword.  Nou word swanger vroue siek, is hulle emosioneel, word hulle moeg en is die proses van geboorte baie pynlike (v.16, onthou dat die eerste lesers niks van narkose geweet het nie).  Tog is daar ‘n silwer rand van genade rondom hierdie donker wolk.  Die feit dat God van Eva se kinders praat, is ‘n teken dat sy en Adam nie dadelik sou sterf nie – die mensdom sou voortleef.

Eva was nie tevrede met haar rol nie, maar wou Adam se rol van leierskap oorneem (in v.1-6 neem sy die leiding).  Om haar man te ondersteun en haar kinders groot te maak was haar hooftaak (v.16a).  Nou wou sy Adam se leiersrol kaap.  Sy reaksie?  Hy sou met sondige mishandeling reageer.  Dít is die boodskap van v.16b.  Ons sien dit duidelik as ons dit met 4:7 vergelyk:

“na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers.” (v.16b).

 

“sy [sonde] begeerte is na jou; maar jy [Kain] moet daaroor heers.” (4:7).

Hoe het sonde vir Kain begeer?  Dit wou hom oorkom.  Hoe moes Kain daaroor heers?  Met geweld.  Dit help ons om v.16b te verstaan.  Hoe het Eva vir Adam begeer?  Sy wou hom oorkom en die leier wees.  Hoe sou Adam oor haar heers?  Met geweld.  Ons kultuur druk hiervoor en wil hê dat vroue oor hulle mans moet heers (en mans reageer net so sondig deur met geweld terug te slaan).  Hoe doen ons kultuur dit?

  • Vroue versaak die rol van moederskap, betaal iemand anders om hulle kinders op te pas, en werk van 8 tot 5.  Titus 2:5 sê dat ma’s van jong kinders by die huis moet werk.  Dit is nie verkeerd dat vroue ‘n inkomste maak, of dat ongetroude vroue of vroue met volwasse kinders werk nie.  Die punt is eenvoudig dat hulle hooftaak is om hulle kinders groot te maak.
  • Vroue wil leiers wees in God se huisgesin.  In gewone Afrikaans:  hulle wil ouderlinge en predikante wees.  Die Skrif sê dat hulle nie dieselfde fout moet maak as Eva nie.  Hulle is nie minder as mans nie, maar hulle het ‘n ander rol.  Hulle primêre rol is om die volgende geslag groot te maak vir die Here – nie om geestelike leiers te wees nie:  “Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.  Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.  Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.  En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.  Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.” (1 Timoteus 2:11-15).
  • Ma’s leer nie meer hulle dogters om tuisteskeppers te wees nie.  Dogters word geleer dat ‘n huisvrou minderwaardig is.  ‘Jy moet professioneel wees,’ sê die samelewing.
  • Die samelewing leer vir vroue dat mans as opposisie gesien moet word.
  • Al hoe meer neem vroue deel aan rugby, boks, stoei en ander onvroulike sportsoorte.  Vroue word aangemoedig om werke te doen wat vir mans bedoel is (soos om soldate te wees wat veg vir jou land).  Die kwessie is nie of vroue bekwaam is om hierdie dinge te doen nie.  Dit gaan oor rolverdeling.  Mans is dié wat ‘rof’ moet wees; wat hulle vroue moet beskerm.
  • Unisex klere en haarstyle leer vir ons dat daar nie regtig ‘n verskil is tussen mans en vroue nie.  Dis absoluut lelik vir ‘n vrou om ‘n te wil man wees (of andersom).
  • Ons kultuur sien kinders as ‘n hindernis tot ‘n professionele loopbaan, en dit is om dié rede dat party mense nie kinders wil hê nie.

Jesus het gekom om die rolle in die huwelik te herstel.  Die Bybel sê:  “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.  Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:22-25).

Die man (v.17-19)

As gevolg van Adam se sonde, het God nie net die diere vervloek nie, maar ook die grond (v.17, Romeine 8:20).  As jy Genesis 3 gelees het saam met die Israeliete in ‘n dor woestyn, sou jy die vervloeking van die grond goed verstaan het.  God het vir Adam gesê dat werk moeitevol en pynlik sou wees (v.17, Prediker 2:23).  Die eerste lesers het dit verstaan, want hulle was kort gelede slawe in Egipte.  Dorings en distels sou Adam se werk nog moeiliker maak (sommer so op die sylyn:  dorings is ‘n gevolg van die sondeval en het nie voor die mens bestaan soos wat evolusie leer nie!).  ‘n Warm son, min reën en harde grond sou dit ook moeiliker maak om te plant en te oes (v.18-19).  Die dae van sappige vrugte pluk in die tuin was verby.  Adam kon nie soos ons brood koop by die kafee nie.  Hy moes hard werk om koring te plant, te oes, te dors, fyn te maal en brood te bak (v.19, ‘sweet’).  Dis nie dat werk ‘n straf was nie.  Reeds voor die sondeval het God werk gegee om te geniet (1:28, 2:15).  Die Israeliete het ook die voorreg geniet om brood van die grond af op te tel (Eksodus 16).  Maar Adam moes sweet vir sy brood.

Tog sien ons weer ‘n silwer rand van God se genade rondom hierdie donker wolk.  Die feit dat hy brood kon eet wys vir ons dat God hom en sy vrou nie dadelik sou doodmaak nie.  Hulle sou eet en lewe.  Maar die donker wolk was daar.  Adam sou sterf en stof word (v.19, Prediker 12:7).  Die grond was vervloek (v.17), en waar was dit duideliker as in die feit dat Adam daarheen sou terugkeer?  Die eerste lesers het dit goed verstaan.  Daar was baie stof in die woestyn, en baie van hulle het gesterf en is in daardie sand begrawe.

Ons het nie boere in ons gemeente nie.  Die kultuur in Gauteng het nie regtig te doen met landbou nie.  Ons ken nie regtig die frustrasie van vervloekte grond nie.  Maar almal van ons ken die frustrasie van werk ná die sondeval.

[1] Jy ken die wanorde van ‘n huis, skottelgoed, papierwerk, ‘n tuin, nadat jy ‘n paar dae gelede orde probeer skep het.

[2] Jy ken die frustrasie van te min geld, selfs nadat jy baie hard gewerk het.

[3] Jy ken die frustrasie wanneer besigheid stil is en jy nie genoeg werk inkry nie.

[4] Jy ken die frustrasie van tegnologie wat keer dat jy jou werk goed doen:  die netwerk is te swak vir die internet of jou selfoon om te werk, die krag word onderbreek of jou rekenaar breek.

[5] Jy ken die frustrasie van moeilike kollegas en kliënte.

[6] Jy ken die frustrasie van verkeer wat doodstil staan op die snelweg.

[7] Jy ken die frustrasie van siekte of pyn (‘n moeë liggaam of ‘n ‘gekrokte’ rug) wat jou verhinder om goed te werk.

[8] Jy ken die frustrasie van lang ure by die werk.

[9] Jy ken die frustrasie van ‘n baas wat skelm is.

[10] Jy ken die frustrasie van werk wat net te veel is om klaar te maak voor die afsny datum.

[11] Jy ken die frustrasie van kompetisie wat jou keel wil afsny, sodat jou besigheid nie geld maak nie.

[12] Jy ken die frustrasie van lui kollegas en werkernemers.

Dank die Here dat Hy net die slang en die grond vervloek het.  Ja, dis erg dat werk soms ‘n frustrasie is.  Maar laat ons die Here dank vir nog ‘n silwer rand van genade rondom hierdie donker wolk, want gelukkig is Adam en Eva nie vervloek nie (v.14, 17).  Jesus het ‘n doringkroon op sy kop gedra (v.18, Matteus 27:29, cf. Jesaja 55:13) om te wys dat die vloek namens hulle (en ons) gedra het:  “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang” (Galasiërs 3:13).  Vir dié wat in Jesus glo kan selfs ons werk (met al sy frustrasies) nou ‘n seën wees.  Ons kan ons werk “van harte [doen] soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kolossense 3:23).

Jy sal ook doodgaan en stof word.  Dis die donker wolk.  Maar ook hierin is daar ‘n silwer rand van God se genade (as jy ‘n Christen is), want jy sal weer opstaan uit die stof:  “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” (Daniël 12:2).

Het jy al die Yin-Yang teken gesien?  Dis ‘n sirkel.  Die helfte van die sirkel is swart en die ander helfte wit.  In die swart helfte is daar ‘n klein wit kol en in die wit helfte ‘n klein swart kol.  Die les is dat daar ‘n klein bietjie goed in alle sleg is, en ‘n klein bietjie sleg in alle goed.  Dis twak.  Genesis 3 leer vir ons dat daar vir God se kinders ‘n helder son skyn agter die stormwolke van Sy oordeel.  Vir nou sien ons net die silwer rand.  Eendag sal ons die son sien.

 

Die naam (v.20)

Sien jy die kontras?  In v.19 sê God dat Adam sal sterf.  In v.20 noem Adam sy vrou die ‘moeder van alle lewendes’ (dis die silwer rand om die donker wolk).  Adam glo die belofte van v.15:  “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.  Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”  Hy weet daar sal ‘n Verlosser kom wat die duiwel sal vernietig.

 

Hierdie vers leer ook vir ons dat Adam en Eva die eerste mense was – sy is die moeder van alle lewendes.  Die mensdom se geslagsregister begin by Adam (1 Kronieke 1:1).  “God het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon” (Handelinge 17:26).  Deur Adam se sonde word ons in sonde gebore en sterf ons (Romeine 5:12).  Indien daar mense voor Adam bestaan het, dan het sy sonde geen effek op hulle nie.  Dit geld ook as God ander mense saam met Adam en Eva geskep het:  dan is hulle en dié wat uit hulle nageslag gebore is, nie sondaars nie.  Ons sou dan moes sê dat sommige mense met ‘n sondige natuur gebore is en ander nie.  Maar die Bybel sê vir ons dat Adam se sonde tot almal deurgedring het (Romeine 5:12).  Dis baie duidelik dat geen Christen evolusie en die Bybel kan glo nie.  Die Bybel sê Adam en Eva was die eerste mense.  Evolusie sê anders.

 

Het dit al gebeur dat jy sonde doen, en God jou nie straf soos Hy in die Bybel belowe nie?  God het gesê Hy sal die inwoners van Nineve straf.  Toe hulle hul bekeer het, het Hy hulle vergewe (Jona 3).  Iets soortgelyk het met die Israeliete gebeur.  Hulle het afgode gedien.  Die Here het hulle gestraf.  Hulle het uitgeroep dat die Here hulle moet red.  Sy antwoord was:  “julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie.  Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid.” (Rigters 10:13-14).  Toe die Israeliete weer vra vir die Here se hulp, het Hy hulle jammer gekry en gered.  Lyk dit vir jou of God ’n Vader is wat sy kinders dreig, maar nie die hart het om hulle te straf nie?  Is God ‘n leuenaar?  Nee.  God het diere doodgemaak (v.21), sodat Adam en Eva nie die verdiende doodstraf sou kry wat in 2:16-17 belowe is nie.  God sien ons en Ou Testament gelowiges se sonde ‘oor’, omdat Jesus die straf daarvoor gedra het aan die kruis:  “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God” (Romeine 3:25).  Dank God vir sy genade, maar moenie aanneem dat jy kan doen wat jy wil, en altyd weer vergifnis vra nie.  Laat sy goedheid jou dryf tot bekering, en nie tot sonde nie.  “God’s kindness is meant to lead you to repentance” (Romeine 2:4, ESV).

 

Die diere (v.21)

In v.7 het Adam en Eva hulle naaktheid bedek met kort rompies van vyeblare (so kort soos ‘n Skotse kilt).  Die eerste lesers sou duidelik geweet het dat daar iets fout was met die onbeskeie Egiptiese kleredrag.  God was ontevrede met die klere wat Adam en Eva gemaak het, en het toe vir hulle ‘n voller kleed van vel gemaak (v.21).  Die diere, soos reeds gesê, het namens hulle gesterf.  Die eerste lesers het dit verstaan.  In die woestyn is baie diere vir hulle sondes geoffer.  Adam en Eva, die Israeliete en ons besef dat God nie die mens se pogings aanvaar om sy sonde te bedek nie.  God self sal ‘n offer voorsien (v.21, weer sien jy die silwer rand van genade om die donker wolk).  Moenie self jou sonde wil wegvat nie.  Niemand kan sy sonde bedek deur:

 

  • Trane van berou.
  • Godsdienstige ywer.
  • Vas en gebed.
  • ‘n Poging om volgens die Bybel te lewe.
  • Die doop en die nagmaal.
  • Vir homself te sê:  ‘Vergeet van die verlede en beweeg aan’ nie.

 

God self sal die offer voorsien.  En Hy het.  Die Lam is geslag.  Jesus het naak gesterf, sodat ons naaktheid bedek kan word.  Hy het ons beklee met sy geregtigheid:  “Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê:  Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?  En ek sê vir hom:  My heer, u weet dit.  En hy sê vir my:  Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.” (Openbaring 7:13-14).

 

Die boom (v.22-24)

Satan het vir Eva gesê dat hulle “soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (v.5).  Nou sê God:  “die mens [het] geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.” (v.22).  Sê God dan dat Satan die waarheid gepraat het?  Nee, want God het die dodelike wond van sonde geken as die kamp dokter.  Adam en Eva het dit geken as die soldaat wat geskiet is.

 

Ons sien ook in hierdie verse hoe sonde skeiding bring tussen ons en God.  God het hulle uit die tuin uitgedryf.  Hy het gerubs en ‘n vlammende swaard voor die Boom van die Lewe geplaas, sodat Adam en Eva nie daarvan sou eet nie.  Die eerste lesers het ‘n soortgelyke ondervinding gehad.  In Eksodus 24 kon niemand naby God kom nie.  In Eksodus 25 was daar gerubs op die ark.  Net die hoëpriester kon naby kom, en dit maar eenmaal per jaar.  God het gekeer dat Adam en Eva van die Boom van die Lewe sou eet.  Dit was ‘n genade; ‘n silwer rand om die donker wolk.  As hulle van die boom geëet het, sou hulle vir ewig gelewe het, en dus vir ewig ‘n bose hart hê.

 

Net soos Adam en Eva uit die tuin gestuur en van God geskei is, was Jesus aan die kruis van sy Vader geskei – vir ons sonde (Matteus 27:46).  Nou kan ons nader kom deur sy bloed (Efesiërs 2:12-13).  God se swaard het die boom bewaak, en God se swaard het vir Jesus doodgemaak (Jesaja 53:10, cf. Psalm 7:13).  Deur Jesus kan ons weer in die Paradys ingaan en van die Boom van die Lewe eet:  “Blessed are those who wash their robes, so that they may have the right to the tree of life” (Openbaring 22:14, ESV).  Daar sal nooit weer skeiding tussen ons en God kom nie:  “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).  Daar sal wel ‘n finale en ewige skeiding wees vir almal wat Jesus verwerp en in rebellie volhard.  God sal jou vir ewig uit die Paradys uitdryf.  Jy sal nooit van die Boom van die Lewe eet nie:  “Blessed are those who wash their robes, so that they may have the right to the tree of life and that they may enter the city by the gates.  Outside are the dogs and sorcerers and the sexually immoral and murderers and idolaters, and everyone who loves and practices falsehood… and if anyone takes away from the words of the book of this prophecy, God will take away his share in the tree of life and in the holy city, which are described in this book.”  (Openbaring 22:14-15, 19, ESV).

 

In Eden sien ons die silwer rand van God se genade om die wolk van sy oordeel.  Op Golgota sien ons ‘n helder son van genade wat uitkom agter die swart wolk van sy oordeel, “tot lof van die heerlikheid van sy genade” (Efesiërs 1:6).

Advertisements