Hoe moet jy lewe as God soewerein is?

Sovereignty of God and prayer

12 Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ‘n sabbatsreis ver. 13 En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus. 14 Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ‘n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.

 

15 En in dié dae het Petrus in die midde van die dissipels opgestaan—die skare van persone daar bymekaar was omtrent honderd en twintig—en gesê: 16 Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het; 17 want hy is saam met ons getal gereken en het die lot van hierdie bediening verkry. 18 Hy het dan ‘n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort; 19 en dit het bekend geword aan al die inwoners van Jerusalem, sodat daardie stuk grond in hulle eie taal Akeldáma genoem is, dit is Bloedgrond. 20 Want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms:  Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie!  En:  Laat ‘n ander een sy opsienersamp neem.

 

21 Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het, 22 van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding. 23 En hulle het twee voorgestel:  Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías. 24 En hulle het gebid en gesê:  U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het 25 om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek. 26 Toe werp hulle die lot, en die lot het op Matthías geval; en hy is gekies om saam met die elf apostels te wees.” (Handelinge 1).

 

Kom ek skets net gou vir jou die agtergrond.  Waar is die dissipels?  ‘n Vergelyking tussen v.12 en Lukas 19:29, 24:50-51 wys dat Jesus op die ooste kant van die Olyfberg was toe Hy opgevaar het.  Die presiese plek was omtrent 1.2 kilometer of 2000 tree (‘n Sabbatsreis, v.12) oos van Jersualem.  Jesus se hemelvaart was op hierdie berg (v.9-12).  By sy wederkoms sal Hy op dieselfde berg staan (Sagaria 14:4-5).

 

Gebed (v.12-14)

Die dissipels het in die bo-vertrek bymekaargekom (v.14).  Hierdie is waarskynlik dieselfde kamer waar Jesus die nagmaal ingestel het, en waar Hy na sy opstanding aan die dissipels verskyn het (Lukas 22:11-12, Johannes 20:19).  Die groepie wat bymekaar was het bestaan uit die 11 apostels, die vroue wat vir Jesus gevolg het (Lukas 8), Jesus se ma (ons lees nie weer van haar na Handelinge 1 nie) en sy broers (v.13-14).  Jesus se broers het aanvanklik nie in Hom geglo nie (Johannes 7:5), maar êrens ná sy kruisdood het hulle tot bekering gekom.

 

Hierdie groep gelowiges het saamgebid.  Hulle was eensgesind en het volhard in gebed (v.14, 2:42, 4:24).  Waarvoor het hulle gebid?  Die teks sê nie vir ons nie, maar dit sou nie verkeerd wees om te raai nie.  In v.4-5 het Jesus gesê dat hulle in Jerusalem moes wag, totdat hulle met die Heilige Gees gedoop word (v.4-5).  Vroeër in sy bediening het Jesus gesê:  “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13).  Dis baie waarskynlik dat die dissipels hier gebid het dat die Heilige Gees moet kom.  Hulle kon gesê het:  ‘Gebed is onnodig, want Jesus het belowe dat Hy die Heilige Gees sal uitstort’.  Hulle redenasie was eerder:  ‘Jesus het belowe dat Hy die Heilige Gees sal uitstort, en daarom het ons vrymoedigheid om te vra dat Hy sal doen wat Hy gesê het’.

 

Christene en kerke wat biddeloos is glo nie in die soewereiniteit van God nie (al bely hulle dit in teorie).  As jy regtig glo dat God soewerein is, sal jy jouself in gebed na Hom toe wend, en nie op jou eie insigte staatmaak nie.  Ons kan ook sê dat Christene en kerke wat nie in die soewereiniteit van God glo nie, defektief is in hulle gebede.  Hoe beïnvloed dit jou gebede as God soewerein is oor alles?

 

[1] God is soewerein oor alles.  Bid dan oor alles (Filippense 4:6, 1 Tessalonisense 5:17), want sonder Hom kan jy niks doen nie (Johannes 15:5).

 

[2] God is soewerein oor alles.  Moet dan nie angstig wees nie, maar prys die Here vir sy beheer oor jou slegte omstandighede (Filippense 4:6, 1 Petrus 5:7).

 

[3] God is soewerein oor alles.  Moet dus nie dink dat jy deur jou gebede die Here kan manipuleer om te doen wat jý wil hê nie (Jakobus 4:3).  Moenie kwaad word as Hy nie gee waarvoor jy vra nie.  Erken dat Hy kan doen wat Hy wil, wanneer Hy wil en soos Hy wil.

 

[4] God is soewerein oor alles.  Bid dan met geloof, omdat Hy instaat is om sy beloftes te vervul.  Glo dat Hy enigiets kan doen (Matteus 21:22).

 

[5] God is soewerein oor alles.  Dit moet jou help om in gebed te volhard en nie op te gee nie.  Moenie sê:  ‘Dit help nie ek bid nie, want God gaan in elk geval doen wat Hy wil – of ek nou bid of nie’.  Dis nie waar nie.  Die Bybel sê:  “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jakobus 4:2).  In Numeri 14 het God vir Moses gesê dat Hy die Israeliete gaan uitwis.  Moses het gesmeek dat die Here dit nie doen nie, en het gesê:  ‘Here, as U dit doen sal die Egiptenare en die ander volke sê:  Die Here kon nie sy volk veilig deur die woestyn bring nie’.  God het toe nié sy volk uitgewis nie.  Iemand vra:  ‘Het Moses dan aan iets gedink wat God nie raakgesien het nie?  Het God van plan verander toe Moses mooi vra?’  Nee.  God het bepaal dat sy soewereine planne deur gebed vervul sal word.  Dít is waaroor Handelinge 1 gaan:  Jesus het bepaal dat Hy die Gees sou uitstort, maar die dissipels moes daarvoor bid.

 

Sonde (v.15-20)

Petrus was die leier van die apostels.  In v.15 sê Lukas hy het opgestaan en vir die 120 dissipels gesê:  ‘Judas was een van die 12.  Hy het Jesus verraai en kort daarna ‘n aaklige dood gesterf.  Die Skrif het voorspel dat dit sou gebeur’ (cf. v.15-20).  Lukas beskryf Judas se dood só:  “Hy het dan ‘n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort; en dit het bekend geword aan al die inwoners van Jerusalem, sodat daardie stuk grond in hulle eie taal Akeldáma genoem is, dit is Bloedgrond.” (v.18-19).  Volgens Matteus 27 het Judas selfmoord gepleeg, en het die Fariseërs die stuk grond gekoop.  Sien ek ‘n kontras in die Bybel?  Nee.  As ons die twee verhale saamsit dan klink die storie so iets:

 

‘Judas het Jesus vir 30 stukke silwer verraai.  Toe sy gewete hom pla, het hy die geld vir die Fariseërs teruggevat.  Hy het homself gaan hang.  Moontlik het die tak waaraan hy homself gehang het oor ‘n krans gehang.  Die tou het gebreek of die knoop het gegly, en Judas het homself doodgeval, sodat sy ingewande uitgepeul het.  Of dalk het sy lyk opgeswel in die woestynson.  Die tou waaraan hy gehang het, het broos geword en gebreek.  Toe hy op die grond val het sy lyk oopgebars, sodat sy ingewande uitgekom het.  Die Fariseërs het die geld wat hy teruggegee het gevat, en ‘n stuk grond daarmee gekoop in sy naam.  Hierdie stuk grond het ‘n begraafplaas geword’.

 

Dawid het wel teen sy eie vyande gebid, maar sy gebed was ook ‘n voorspelling van wat met Judas sou gebeur (v.16, 20).  Dawid se presiese woorde was:  “Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner wees nie.” (Psalm 69:26).  “Laat sy dae min wees; laat ‘n ander sy amp neem.” (Psalm 109:8).  Jesus het gesê:  “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie?  En een van julle is ‘n duiwel!  En Hy het bedoel Judas Iskáriot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.” (Johannes 6:70-71).  Oor sy dissipels het Jesus gebid:  “Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar.  Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf [Judas], sodat die Skrif vervul sou word.” (Johannes 17:12).  God het Judas se verraaiing en dood bepaal, en tog het Judas self gekies om sonde te doen en hel toe te gaan.  Lukas sê dat “Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.” (v.25).  Jesus sê:  “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word!  Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.” (Matteus 26:24).

 

God is soewerein oor mense se sonde.  In Nehemia 4 het Nehemia se vyande hom gedreig.  Hulle wou keer dat die Jode Jerusalem se mure herbou.  Die Jode kon nie in die nag slaap nie, want daar was geen mure om hulle vyande uit te hou nie.  Hulle moes dag en nag werk (in skofte natuurlik).  Hulle het die muur gebou met ‘n swaard in die een hand en ‘n troffel in die ander.  As die vyand hulle nie gedreig het nie, sou hulle net in die dag gewerk het.  Maar noudat hulle dag en nag moes werk, is die muur binne ‘n rekordtyd van 52 dae voltooi.  God het dus die vyand se sonde gebruik, sodat sy werk vinniger gedoen kon word.

 

Hoe moet jy reageer op die feit dat God soewerein is oor mense se sonde?

 

  • Dank God dat Hy ‘heuning’ (goeie dinge) kan voortbring uit hierdie dooie leeu van sonde.  Josef se vyande (en joune) “het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink” (Genesis 50:20).
  • Moenie sê:  ‘Ek kan maar sondig, want God sal goeie dinge daaruit voortbring’ nie.  God sal dit net vir jou voordeel uitwerk as jy Hom liefhet (Romeine 8:28).  Om opsetlik en aanhoudend te sondig wys dat jy Hom nie liefhet nie.  Jy moet eerder sê:  ‘God is soewerein en het mag om my in die hel te gooi as ek aanhou met my sonde’.
  • Moenie kla teen die soewereiniteit van God nie.  Moenie wil uitwerk hoe sy soewereiniteit en jou verantwoordelikheid saamwerk nie.  As jy dit weet is jy so groot soos God, want net Hy verstaan hierdie ‘paradoks’ (iets wat op die oog af soos ‘n teenstelling lyk).  Berus jouself eerder in die waarheid van Deuteronomium 29:29:  “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.”
  • Dink na oor Jesus se kruisdood, want dis die beste voorbeeld van God se soewereiniteit oor mense se sonde.  God is soewerein oor jóú sonde.  Moet dan nie wanhopig raak nie.  God kan jou sonde wegvat.  Bekeer jou van vra dat Hy jou vergewe.

 

Besluitneming (v.21-26)

Die begin van Handelinge 1 sê vir ons dat daar 11 apostels was.  Daar was een apostel kort.  Die hoofstuk eindig met 12.  Judas moes vervang word, nie omdat hy gesterf het nie (Jesus het nie ‘n nuwe apostel aangestel toe Jakobus dood is nie, 12:2), maar omdat hy afvallig geraak het.

 

Wat was die vereiste vir ‘n nuwe apostel?  Dit moes ‘n man gewees het.  Dit moes iemand gewees het wat saam met Jesus was van sy doop af tot by sy hemelvaart.  Dié persoon moes ‘n ooggetuie gewees het van Jesus se opstanding.  Die nuwe apostel moes deur Jesus self gekies word (v.21-22, 24).  Die twee manne wat aan die vereistes voldoen het was Josef (Justus was sy Latynse naam), die seun van Sabbat (dit is wat Barsabbas beteken) en Mattias (v.23).  Die feit dat die gelowiges gebid en lootjies getrek het, wys vir ons dat God soewerein was in hierdie besluit.  Dit is nie waar dat Petrus en die ander te gou besluit het, omdat Paulus eintlik die 12de apostel moes gewees het nie.  Ja, Paulus was ‘n ware apostel, maar Mattias ook.  Hulle het mos gebid en gevra dat die Here die regte persoon moes kies.  Die lot het op Mattias geval.  Die Skrif sê:  “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” (Spreuke 16:33).

Vandag trek ons nie lootjies om te besluit wie ons geestelike leiers moet wees nie.  Na Handelinge 1 lees ons nooit weer van besluite wat op hierdie basis geneem is nie.  Die lotery in Handelinge 1 het plaasgevind vóór die uitstorting van die Heilige Gees.  Ná Handelinge 2 het die Heilige Gees mense se besluite beïnvloed.  Vandag het ons ‘n volkome Bybel om ons te help.  Hoe moet ons dan besluite neem (veral met betrekking tot leiers) as God soewerein is?

 

[1] Vra wat God se vereistes is (v.21-22)?  Wat sê sy Woord oor die vereistes vir geestelike leiers (1 Timoteus 3:1-7)?  Wat sê die Bybel oor die betrokke saak waaroor jy ‘n besluit moet neem?  Is daar Bybelse beginsels wat jy kan toepas?

 

[2] Bid.  God ken almal se harte (v.24) en weet wie die regte leier is.  Vra dat Hy vir jou wysheid gee (al besluit jy oor iets anders as geestelike leiers).

 

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  Die leerstelling van God se soewereiniteit het my geskud.  Dit het ook ‘n rots onder my voete kom plaas.  Ek kan jou waarborg dat dit dieselfde vir jou sal doen.  Dis nou as jy in die lig daarvan lewe.