Trane in die hemel

Teardrop

Die wêreld het wel die verkeerde idee, maar selfs húlle weet daar sal nie trane in die hemel wees nie (soos wat Eric Clapton ook sing).  Openbaring 21:4 sê van die hemel:  “En God sal al die trane van hulle oë afvee”.  Volgens Genesis 6, egter, is God bedroef oor die mens se sonde.  Vandaar my tema:  Trane in die hemel.

1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.  3 Toe sê die HERE:  My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.  4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het.  Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.  5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.  7 En die HERE sê:  Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.  8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.” (Genesis 6).

Die mens se toestand (v.1-5)

Daar was reeds mense in ons land toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaapse kus geland het.  Maar dis nogsteeds indrukwekkend dat die populasie gegroei het van ‘n paar honderd duisend tot byna 50 miljoen in 2014.  En dis maar 360 jaar.  Hoe geweldig kon ‘n populasie groei binne die 1600 jaar tussen Adam en Noag?  En die populasie was nogsteeds besig om te groei (v.1).  Die skrywer sê dat die seuns van God gesien het dat die dogters van die mense mooi was; elkeen het vir homself die vrou gekies wat hy wou gehad het (v.2).  Die frase ‘seuns van God’ verwys in Job 1:6, 2:1, 38:7 na hemelse wesens.  Maar volgens Jesus trou engele nie (Matteus 22:30).  Party mense dink dat die ‘seuns van God’ na Set se nageslag verwys, en die ‘dogters van die mense’ na Kain se nageslag.  Vir my lyk dit na ‘n onwaarskynlike interpretasie.  Ander dink dat ‘die seuns van God’ praat van konings wat baie vroue vir hulleself geneem het.  In my opinie is die beste interpretasie dat demone (gevalle engele) mense beset het, en hulle versoek het om wellustig te wees (Judas 6).  God was bedroef en het besluit dat sy Gees nie meer vir mense lewe sou gee nie, maar hulle sou oordeel (v.3).  In v.3 sê die Here dat die mens se dae 120 jaar sou wees.  Ek dink nie dit beteken dat mense voortaan net 120 jaar oud sou word nie, want in hoofstuk 11 word mense nog baie ouer as dit.  Ek dink eerder dit beteken dat God geduldig sou wees (1 Petrus 3:20).  Die mens het nog 120 jaar kans gehad om hom te bekeer.  Hoofstuk 5:32 sê wel dat Noag 500 was, maar dis asof die skrywer in hoofstuk 6 ‘n bietjie teruggaan en sê:  ‘Toe Noag 480 was het mense gelewe soos hulle wil.  God het gesê dat die mens nog 120 jaar gehad het om hom te bekeer.  Toe Noag 500 was is sy drie seuns gebore (v.10).  Die vloed het gekom toe hy 600 is (7:6)’.

In v.4 lees ons:  “In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het.  Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.”  Hierdie vers leer vir ons dat daar voor en na v.2 se tyd reuse op die aarde was.  Die teks sê nie eksplisiet dat die reuse gebore is uit die huwelike in v.2 nie.  Volgens v.4 was die reuse geweldig en beroemd (‘manne van naam’).  Die reuse se nageslag was die Enakiete en die Refaïete (cf. Numeri 13:33, Deuteronomium 2:11).  Koning Og van Basan was een van die laaste nasate van hierdie reuse.  Sy bed was 4.05 meter lank en 1.8 meter breed (Deuteronomium 3:11).  Hy kon dus tot 3.9 meter lank wees gewees het!  Dit is ‘n meter langer as Goliat (2.92 meter) en die langste man in moderne geskiedenis, Robert Wadlow (2.88 meter)!  Die kort Jode sou vir hierdie reuse gelyk het soos sprinkane (cf. Numeri 13:33).  Die Hebreeuse woord wat hier met reuse vertaal word (nephil) beteken letterlik ‘val’, en mag daarvan verwys dat hulle ander mense oorval het.  Nou sou God se oordeel op hulle ‘val’!  Maar dit was nie net hulle wat skuldig was nie.  In 1:31 het God gesien dat alles in sy skepping baie goed was.  Nou het Hy gesien dat AL die gedagtes van die mens se hart ALTYDDEUR NET sleg was – die mens se dade, denke, motiewe en hart (v.5).

Hoe moet ons op hierdie eerste 5 verse reageer?

  • Treur en bid vir ons land.  Ons leiers is korrup.  Sonde is wettig onder ons liberale grondwet.  “My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.” (Psalm 119:136).
  • Treur en bid vir ongelowiges.  Baie van hulle is goeie en morele mense.  Maar hulle morele grimmering bedek ‘n bose sweer vol van die etter van sonde.
  • Treur en bid vir jou kinders en kleinkinders.  Hulle is gebore met slegte harte.  Hulle is tot die ergste instaat en sal jou hart breek as God hulle nie red nie.
  • Treur en bid vir die kerk.  Baie sondes word onder die mat ingevee.  Baie mense doen lelike dinge wat hulle wegsteek.  Baie kerkmense is skynheilig.  Baie gelowiges doen ‘goeie’ dade uit ‘n verkeerde hart.
  • Treur en bid vir jouself.  Ons bedek die boosheid wat in ons huise en harte is.  Ons is instaat tot dronkenskap soos Noag, egbreuk en moord soos Dawid, verloëning van Jesus soos Petrus.

Dank God vir Jesus Christus:  AL die gedagtes van sy hart was ALTYDDEUR NET goed – sy dade, denke, motiewe en hart.  Uit liefde vir ons het Hy ons lelike sonde en die straf daarvoor op Homself geneem aan die kruis.  Laat die gedagte hiervan jou oor sonde laat treur.  “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5:4).

God se reaksie (v.6-8)

God was jammer dat Hy die mens gemaak het en het besluit om hom uit te wis (v.6-7).  Omdat die mens se sonde ook die diereryk beïnvloed (Romeine 8:19-22), sou God húlle ook uitwis.  God sou vir Noag, sy gesin en ‘n paar diere spaar (v.8-9).

Ek is seker daar is ‘n paar besware oor v.6-8.  Kom ek antwoord hulle een vir een.

Beswaar #1:  ‘God het van die begin af geweet dat die mens sou sondig.  Wanneer v.6-7 sê dat God bedroef was, kan ons verseker weet dat dit krokodil trane [vals berou] was’.  Antwoord:  Jy vind uit dat jou 7-jarige dogter leukemia het.  Jy weet dat sy net ‘n paar maande oor het om te leef.  Uiteindelik sterf sy en jy huil.  Is jou berou vals, omdat jy vooraf geweet het sy sou sterf?  Nee.  Dieselfde met God in Genesis 6, en dieselfde met die hel.  God weet wie sal hel toe gaan (Romeine 9:22) en tog het Hy opregte droefheid daaroor:  “Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE.  Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?  Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE.  Bekeer julle dan en lewe.” (Esegiël 18:23, 32).

Beswaar # 2:  ‘God is hard’.  Antwoord:  God is geduldig, liefdevol, genadig en goed.  Hy kon dadelik vir Adam uitgewis het as hy wou.  Maar Hy het die mensdom laat voortgaan en 1600 jaar kans gegee dat die mens hom kan bekeer.  Ons leef nou al 2000 jaar na die Nuwe Testament.  Jesus kon lankal teruggekeer het om die wêreld te oordeel.  Dit is genade dat Hy nog nie gekom het nie.

Beswaar # 3:  ‘Daar sal nie ‘n oordeel wees nie’.  Antwoord:  ‘n Vertraagde oordeel beteken nie dat daar geen oordeel sal wees nie.  God vertraag die oordeel, omdat Hy vir mense ‘n kans wil gee om hulle te bekeer.  Die oordeel word nie vertraag, sodat die mens ‘n kans het om nog sonde te doen nie.  “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4).  Petrus skryf:  “Die Here vertraag nie die belofte [van sy wederkoms] soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.  Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:9-11).

Beswaar #4:  ‘Ons hoor gans te min preke oor hel en verdoemenis; ons het meer hiervan nodig’.  Antwoord:  Ja, ons het preke nodig oor God se oordeel.  Maar met watse gesindheid moet dit gepreek word?  Wees geduldig.  Deel die Goeie Nuus van Jesus met mense.  Praat met deernis en liefde.  Bid vir slegte mense.  Het jy opgehou om dit te doen?  Is daar iemand met wie jy moed opgegee het?  God het nie opgegee met jou nie.  Moenie opgee met ander nie.  En selfs wanneer jy van sy oordeel praat, moet jy dit doen soos wat Jesus dit gedoen het:  met trane, geduld en liefde.

Hoe sal jy voel as jy môre uitvind dat jou huweliksmaat jou verkul het?  Vermenigvuldig jou emosie met oneindig.  Dis hoe diep God treur oor die mens se sonde; dit bedroef Hom (Efesiërs 4:30).

Laat dít jou hart smelt en maak dat jy jou daarvan bekeer.

Advertisements

Goddelike genesing: wie is op die verhoog?

Benny Hinn

1 En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur. 2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan. 3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra. 4 En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê:  Kyk na ons. 5 En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang. 6 Maar Petrus sê:  Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou:  In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop! 7 Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8 En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys. 9 En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys. 10 En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel, en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het.” (Handelinge 3).

Die Jode het drie gebedstye per dag gehad:  09:00, 12:00 en 15:00 (Psalm 55:18).  Petrus en Johannes is net voor 15:00 tempel toe vir gebed (v.1).  ‘n Verlamde man word deur sy vriende by die Skoonpoort neergelê.  Alfred Edersheim beskryf hierdie poort soos volg:  ‘[This gate] formed the principal entrance into the Temple.  The ascent to it was from the terrace by twelve easy steps.  The gate itself was made of dazzling Corinthian brass, most richly ornamented; and so massive were its double doors that it needed the united strength of twenty men to open and close them’ (Temple, p.17).  Heidene sowel as vroue kon deur hierdie poort gaan.  Die meeste verkeer was by hierdie hek.  Die verlamde bedelaar was slim om hier te sit.  Hy het geweet dat hy op godsdienstige mense se gewetens kon teer.  Hulle het immers geglo:  ‘almsgiving delivers from death and keeps you from going into the Darkness’ (Tobit 4:10).  Hulle het vir armes gegee in die hoop dat ander hulle sou raaksien en prys (cf. Matteus 6:2).  Maar vandag sou hierdie man nie geld kry nie.  Hy sou ‘n baie groter skat ontvang.

 

Genesing (v.3-8)

Die Griekse teks dui aan dat die man van die moederskoot af verlam was.  Hy was nou al oor 40 (4:22).  Toe hy die apostels sien het hy aangehou vra vir geld (Gk. imperfektum).  Hy het vrymoedigheid gehad om te vra, maar wou hulle nie in die oë kyk nie.  Hy was seker maar skaam:  “Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.” (Spreuke 18:23).

 

Petrus gee nie die geld waarvoor hy hoop nie.  Hy stel nie belang in ‘n sosiale evangelie wat mense se honger stil, maar nie vir hulle die evangelie gee nie.  Petrus gee vir die man Jesus.  Die man glo dat Jesus lewe en die Messias is (v.6, 16).  Die man word dadelik gesond.  Hy spring op, huppel en loop sonder fisioterapie of rehabilitasie (v.7-8).  Die man besef dat dit nie eintlik Petrus is wat hom genees het nie, en daarom prys hy die Here (v.8).  Die Ou Testament het voorspel dat lammes sal loop wanneer die Messias sy Koninkryk vestig:  “dáár sal [hulle] sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God… Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok” (Jesaja 35:2, 6).  Een van die bewyse dat Jesus die Messias is, is dat kreupeles loop (Matteus 11:5).  Die tong wat ‘n rukkie gelede vir geld gevra het (v.3), prys nou die Here (v.8).

 

Die genesings wat in die Bybel plaasvind wys dat Jesus sterk is; dit plaas Hom op die verhoog.  Die moderne ‘gawe van genesing’ is kragteloos en belaglik; dit plaas mense in die kollig.  Let op die verskil tussen Bybelse- en moderne genesings:

 

  • Die verlamde man is onverwags genees (v.1-2).  Moderne geloofsgenesers kondig aan dat hulle mense gaan genees.
  • ‘n Mens kon duidelik sien dat die man in Handelinge 3 verlam is (v.2).  Vandag se geloofsgenesers kan nie veel meer as hoofpyne en maagswere genees nie (en wie kan sien of hulle dit regtig doen?).
  • Vir die apostels het dit nie oor geld gegaan nie; hulle het niks gehad nie (v.6).  Vandag se gurus genees teen ‘n prys:  hoe meer jy gee, hoe beter die kans dat jy gesond word.
  • Die genesing in Handelinge 3 kon maklik bewys word.  Lukas, die outeur van Handelinge, was ‘n mediese dokter.  Die feit dat hy hierdie genesing opgeteken het wys dat dit medies bewys kon word.  Ook die skare het dit erken (v.10).  Selfs die kerk se vyande kon dit nie ontken nie (4:16).  Vandag se genesings is bitter moeilik om te bewys.
  • Die verlamde man het dadelik gesond geword (v.7).  Vandag vind genesings oor ‘n lang tydperk plaas.
  • Die verlamde man se genesing was volkome (v.7-8).  Siek mense wat vandag ‘genees’ word loop nogsteeds effens mank.
  • Die verlamde man se genesing was permanent (4:22).  Hoeveel mense sterf later van die eindste siekte waarvan hulle ‘genees’ is?

 

Goddelike genesing is nie kanker wat in resessie is nie, maar ‘n terminale gewas wat oornag verdwyn.  Ek glo dat die Here nogsteeds gebede vir Goddelike genesing beantwoord.  Maar nadat die apostels gesterf het, het geen mens meer die gawe van genesing nie.  Hierdie gawe is gegee om te wys dat die apostels se prediking eg was.  Toe die Nuwe Testament klaar geskryf is, het die noodsaaklikheid vir hierdie gawe verdwyn.  Hebreërs 2:3-4 sê dat die evangelie “eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?”  Nader aan die einde van die apostels se bediening het selfs húlle opgehou om mense te genees.  Paulus sê vir Timoteus om wyn te drink vir die kieme in sy maag (1 Timoteus 5:23).  Paulus is by Trofimus, en tog los hy hom siek agter in Miletus (2 Timoteus 4:20).  Epafroditus se siekte het amper op die dood uitgeloop (Filippus 2:27, 30).  Hoekom het Paulus hom nie genees nie?

 

Dalk verskil jy.  Laat ek jou dan net dít vra:  Kan jy vir my uit die Bybel bewys dat ons dieselfde kragtige werke kan doen as die apostels?  Wat maak jy met die geskiedenis:  vir 1900 na Christus is daar geen voorbeeld van die Bybelse gawe van genesing in die kerk nie?  Eers in die begin van die 1900’s het die Pinkster-beweging die gawe weer begin beoefen, en soos hierbo gesien kom hulle ‘gawe’ nie ooreen met die Bybelse gawe nie.  Kan jy vir my ‘n geval bring wat medies bewys kan word (ek praat nie van antwoorde op gebed nie, maar van ‘n persoon wat die gawe van genesing het)?  As mense regtig nog die gawe van genesing het, behoort hulle hul groot wit tente af te slaan.  Laat hulle in hospitale ingaan en siek mense genees.  Laat hulle van die verhoog afklim en Jesus op die verhoog plaas.

 

Bevestiging (v.9-10)

Die skare het erken dat die verlamde man genees was (v.9-10, 4:21).  Petrus het vir Jesus op die verhoog geplaas en nie homself nie (v.12-16, 4:10).  Dalk wonder jy:  ‘Sal God mý genees om sy Seun se Naam te verhef; om te wys dat Jesus op die verhoog is’?  Miskien.  Maar dalk wil Hy Jesus verhef deur jou nié te genees nie.  Hy sal sy Seun verhef wanneer jy siek in die bed lê en geduldig is, liefdevol is, ander siek mense bemoedig, die evangelie deel met ongelowiges, verlang om hemel toe te gaan, volhard in gebed, vashou in die geloof, die Here loof vir sy goedheid, ‘n nederige hart het wat ander se hulp en gebede vra, dankbaar is en nie murmureer nie, die Here vertrou, jouself ondersoek en afstand doen van die sonde wat jy daar vind, geen vrees vir die dood het nie.

 

Moderne geloofsgenesers sê dat siekte ‘n bewys is dat jy gesondig het.  Maar dis nie waar dat siekte altyd ‘n bewys van een of ander sonde is nie.  Baie keer bring God siekte om sy Naam te verheerlik; om te wys dat Jesus op die verhoog is:  “En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.  En sy dissipels vra Hom en sê:  Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?  Jesus antwoord:  Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Johannes 9:2-3).

 

Wanneer Jesus weer kom sal God jou liggaam volkome gesond maak.  Jy sal ‘n nuwe liggaam ontvang.  Dan sal Jesus op die verhoog wees.  Sy heerlikheid sal in jou skyn (2 Tessalonisense 1:10).  Moenie soos ‘n kind wees wat ‘n handvol 5 sente kies bo ‘n Kruger-Rand nie.  Moenie silwer en goud kies bo Jesus nie.  Jesus se liefde is meer werd as die lewe self (Psalm 63:4).  Gee alles wat jy het om hierdie skat te kry (Matteus 13:44), en jy sal smaak en sien dat die Here goed is (Psalm 34:9).

‘n Rekord van lewe en dood

Cemetary

1 Dit is die stamboom van Adam.  Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. 2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. 3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. 4 En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar.  En hy het seuns en dogters gehad. 5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar, en hy het gesterwe.

 

6 Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. 7 En Set het ná die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 8 So was dan al die dae van Set nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe. 9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword. 10 En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 11 So was dan al die dae van Enos nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe. 12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword. 13 En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agt honderd en veertig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 14 So was dan al die dae van Kenan nege honderd en tien jaar, en hy het gesterwe. 15 Toe Mahalálel vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword. 16 En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agt honderd en dertig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 17 So was dan al die dae van Mahalálel agt honderd vyf en negentig jaar, en hy het gesterwe. 18 Toe Jered honderd twee en sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. 19 En Jered het ná die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 20 So was dan al die dae van Jered nege honderd twee en sestig jaar, en hy het gesterwe.

 

21 Toe Henog vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword. 22 En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.  En hy het seuns en dogters gehad. 23 So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar. 24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.

 

25 Toe Metúsalag honderd sewe en tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. 26 En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 27 So was dan al die dae van Metúsalag nege honderd nege en sestig jaar, en hy het gesterwe. 28  Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek 29 en hom Noag genoem, want hy het gesê:  Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het. 30 En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 31 So was dan al die dae van Lameg sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het gesterwe.

 

32 En Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.” (Genesis 5).

                                                             

Die meeste (indien nie alle) Christene wat in evolusie glo sê Genesis 5 is nie geskiedenis nie.  Is hulle reg?  Vers 1 praat van die stamboom van Adam.  Elke geslagregister in die Bybel wys vir ons dat ons te doen het met ware geskiedenis.  Waarom sou hierdie een die uitsondering wees?  Die Hebreeuse woord wat met ‘stamboom’ [tôledâh] vertaal word kom op nege ander plekke in Genesis voor.  Die skrywer se punt is om te wys dat dit regte mense en ware geskiedenis is.

 

  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.” (2:4).
  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van Noag.” (6:9).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van die seuns van Noag:  Sem, Gam en Jafet” (10:1).
  • “Dit is die stamboom [tôledâh] van Sem” (11:10).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van Tera” (11:27).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het” (25:12).
  • “En dit is die geskiedenis [tôledâh] van Isak, die seun van Abraham” (25:19).
  • “En dit is die geskiedenis [tôledâh] van Esau, dit is Edom.” (36:1).
  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van Jakob.” (37:2).

 

Die res van die Bybel aanvaar Genesis 5 as geskiedenis.  Ander Bybelskrywers gebruik die name in hierdie hoofstuk so:  “Adam, Set, Enos, Kenan, Mahalálel, Jered, Henog, Metúsalag, Lameg, Noag, Sem, Gam en Jafet.” (1 Kronieke 1:1-4).  Die skrywer van 1 Kronieke erken Genesis 5 as geskiedenis.  “Soos in die dae van Noag is dit vir My:  soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.” (Jesaja 54:9).  Wat help só ’n belofte as Noag en die vloed nie ware geskiedenis is nie?  Esegiël 14:14, 20 aanvaar Noag as ’n geskiedkundige persoon.  Jesus ook (Matteus 24:37-39).  Die name in Genesis 5 kom ook voor in Jesus se geslagsregister (Lukas 3:36-38).  Hoe kan ons sê die laaste name in die geslagregister is nie geskiedenis nie, maar die eerste name is?  Paulus aanvaar dat Adam regtig bestaan het (Romeine 5:12-21).  Die Hebreërskywer wil sy lesers aanmoedig om te volhard in geloof, en gebruik onder andere Henog en Noag se geloof as voorbeeld (Hebreërs 11:5-7).  Petrus het geglo Noag was ‘n regte persoon (1 Petrus 3:20, 2 Petrus 2:5).  En Judas glo Genesis 5 wanneer hy praat van Henog as die sewende persoon van Adam af (Judas 14).  Noudat die fondasie gelê is kan ons aangaan.

 

Geboortes

Om baie kinders te hê is ‘n seën (v.2, 4, 1:28).  Die mens is na die beeld van God gemaak (v.1, 1:26-27).  Maar ná die sondeval sien God sy beeld in ons soos wat iemand sy gesig sien in ‘n gebreekte spieël.  Soos wat sistiese fibrose geneties oorerflik is, word Adam se sondige natuur aan ons oorgedra:  “Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.” (v.3).  Al Adam se kinders word nou met ‘n sondige natuur gebore, sodat ons van die moederskoot af dwaal (Psalm 51:7, 58:4).  Ons is dood in sonde en van nature mense wat God se straf verdien (Efesiërs 2:1, 3). 

 

Sommige Arminiane (soos Charles Finney) glo nie in erfsonde (die mens is met ‘n sondige natuur gebore) nie.  Jehova’s Getuies glo dit ook nie.  Dieselfde geld vir Moslems, liberale teoloë, moderne sielkunde, Judaïste en Mormone.  Maar as jy dit ontken, leer jy vir mense dat hulle probleem nie so ernstig is nie.  Hulle kan die sonde-probleem self oplos en het nie regtig vir Jesus nodig nie – as hulle net volgens die Bybel begin leef, is hulle Christene.  Dit is niks anders as redding deur goeie werke nie.  Predikers en evangeliste wat erfsonde weggooi, sal nie op die Heilige Gees vertrou om mense se harte te verander nie, maar musiek of ander metodes gebruik om mense se wil en emosies te manupileer.  Baie van die mense wat dan ‘vorentoe kom’ of die sondaarsgebed agter die prediker aan opsê, probeer van sondige woorde en dade ontslae raak sonder dat hulle harte verander het.  Hulle wil afreken met werklike sonde (woorde, dade, gedagtes) sonder dat die probleem van erfsonde aangespreek is.  Die enigste manier om van erfsonde ontslae te raak is deur Jesus.  Jesus is uit ‘n maagd gebore, en is dus nie met ‘n sondige natuur (erfsonde) gebore nie:

 

“Toe sê Maria vir die engel:  Hoe kan dit wees [dat ek ‘n seun sal hê] aangesien ek geen man het nie?  En die engel antwoord en sê vir haar:  Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu.  Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” (Lukas 1:34-35). 

 

“Want so ‘n hoëpriester [Jesus] was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het” (Hebreërs 7:26). 

 

Omdat net Hý sonder erfsonde en werklike sonde is, kan net Hý die straf vir ons sonde dra (anders sou Hy vir sy eie sonde moes sterf).  Hy belowe om almal te red wat hulle bekeer en op Hom vertrou.  Húlle sal herstel word in die beeld van ons Skepper (Romeine 8:29).

 

Sterftes

Moet ons die ouderdomme in Genesis 5 letterlik aanvaar?  Daar is geen rede hoekom nie.  In Genesis 11 volg Moses presies dieselfde patroon as in Genesis 5:  “Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.  En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad.  Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.” (11:24-26).  Adam is net soveel geskiedenis soos Abram.  Hoekom moet ons Nahor en Tera se ouderdomme letterlik aanvaar, maar Metusalag en Noag s’n nie?  Volgens die geslagsregisters in Genesis 5, 11 en die res van die Bybel, is die heelal omtrent 6000 jaar oud. 

 

Dadelik hoor ek ‘n beswaar:  ‘Maar wat van koofstof-14 en ander dateringsmetodes?  Wat van rotsstrata en fossiele?’ 

 

  • Lees gerus artikels by creation.com om te sien wat wetenskaplikes hieroor geskryf het.  Dateringsmetodes is onakkuraat.  Gefossileerde hardehoede en juwele is al gevind in rotse wat as ‘oud’ gedateer is. 
  • Dit het al hordes kere gebeur dat evolusionistiese wetenskaplikes sê:  ‘Hierdie vis of mier het miljoene jare gelede uitgesterf,’ om net uit te vind dat daardie ‘ou’ vis of mier vandag nog lewe.  As evolusie waar is, hoekom het die vis of mier nie deur ‘n proses van evolusie in ‘n ander spesie verander nie (moet asseblief nie nonsens praat en sê dis ‘n voorbeeld van evolusionêre stasis nie)?
  • God het ‘n volwasse heelal geskep:  bome en berge was volwasse en ‘oud’ toe God dit geskep het.
  • Die vloed het baie veranderinge in die rotslae gebring, en is verantwoordelik vir tienduisende van die wêreld se fossiele.
  • Toe Mount St. Helens in 1980 ontplof het, is rotslae gevorm.  Groot bome het in ‘n vertikale posisie gefossileer; dwarsdeur al die verskillende lae (onthou dat elke laag veronderstel is om ‘n verskillende tydperk en ouderdom aan te dui).  Dit is onmoontlik dat die boom oor miljoene jare versteen het.  Dis duidelik dat rotslae nie oor miljoene jare vorm nie.  Dit vorm in ‘n kort tyd en word veroorsaak deur katastrofes soos die vloed.
  • Laat die refrein van Genesis 5 in jou ore weerklink:  “en hy het gesterwe.”  Onthou dat dood eers ná Adam se sonde gekom het (ook in die diereryk soos Romeine 8:19-22 sê).  As die aarde oud is soos wat evolusioniste sê, was daar dood voor sonde.

 

Noag sou rus bring uit die grond wat vervloek is (v.29, 8:21).  Na die vloed was die grond deurdrenk met water, en sou dit nie so moeilik wees om te ploeg en plant nie.  Tog kon Noag nie keer dat mense sterf en terugkeer na die stof nie.  Die geskiedenis van Henog wys dat God die dood kan oorwin.  Die Nuwe Testament sê Henog was ‘n profeet.  God het deur ‘n openbaring vir hom gesê dat die oordeel sou kom wanneer sy seun sterf:  “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê:  Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.” (Judas 14-15).  Dis nie toevallig dat Henog sy seun Metusalag genoem het nie.  Metusalag beteken ‘as hy sterf sal dit [vloed] gestuur word’[1].  Die vloed het inderdaad gekom in die jaar wat Metusalag dood is (maak gerus ‘n sommetjie uit die getalle in v.25-32, 7:6).  Henog het hom van sy sonde bekeer en geglo dat God regtig die wêreld gaan oordeel.  Hy het in gehoorsame geloof met God gewandel nádat sy kind gebore is:  “En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.  En hy het seuns en dogters gehad.  So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar.  En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” (v.22-24, cf. 6:9).  “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:5-6).  Omdat Henog dan die Here behaag het, het hy nie gesterf nie (v.24, Hebreërs 11:5).  Soos Elia, het God hom direk hemel toe gevat (cf. 2 Konings 2:11).

 

Soos die ander persone in <st1:bcv_smarttag>Genesis 5 sal ons sterf (tensy Jesus in ons leeftyd weer kom).  Maar ons hoef nie die dood te vrees nie:  Jesus het in ons plek gesterf, en so die sonde en dood oorwin.  Die Bybel sê:

 

“Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my:  u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

“Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.” (Psalm 116:15).

 

“Jesus sê vir haar:  Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

 

“Dood, waar is jou angel?  Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Korintiërs 15:55).

 

“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” (Hebreërs 2:14-15).

 

“[Ek is] die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.  Amen.  En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openbaring 1:18).

 

“daar [in die hemel] sal geen dood meer wees nie” (Openbaring 21:4).

 

Berei jouself voor vir die dood:

 

[1] Onthou dat jy enigetyd kan sterf – al is jy jonk:  ‘People are so idiotic – they think of death only in terms of age’ (Martyn Lloyd-Jones, uit volume 2 van sy biografie deur Iain Murray, p.732).

 

[2] As jy vir Christus lewe sal jou dood ‘n wins wees, want wanneer jy sterf verloor jy niks.  Inteendeel, jy wen alles waarvoor jy geleef het (Filippense 1:21).

 

[3] Dink oor die dood:  “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:12).     

 

[4] Moenie heel eerste hoop vir mense se goeie woorde op jou begrafnis nie.  Begeer eerder dat Gód goeie woorde sal sê wanneer jy voor hom staan:  ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg’.

 

Net mense wat rus gevind het in Jesus kan in vrede sterf.  Tussen al die dood deur leer Genesis 5 vir ons presies dit.  Let op die betekenis van die name:

 

Adam = mens

Set = bestem

Enos = sterflik

Kenan = droefheid

Mahalalel = lofwaardige God

Jered= neerdaal

Henog = instruksie, leer

Metusalag = sy dood bring

Lameg = wanhopig

Noag = rus[2]

 

In een sin klink die name so:  ‘Die mens is bestem tot sterflike droefheid, maar die lofwaardige God sal neerdaal en vir ons leer:  sy dood bring vir wanhopiges rus’.

 


[1] “Hebrew Christian scholar Dr Arnold Fruchtenbaum argues:  ‘[T]he name Methuselah could mean one of two things.  Therefore, it will either mean “man of the spear” or “when he dies it shall be sent”.  The debate is not over the second part of the word which, in Hebrew, is shalach; and shalach means “to send”.  While the concept of sending is the primary meaning of shalach, it has a secondary meaning of being thrown or cast forth in a context where the sending is with heavy force or speed.  On that basis, some would conclude that shalach would mean either “missile” or “dart” or “spear”.  However, that is a derived meaning because the primary meaning of shalach is “to send”, as any lexicon shows.   ‘Ultimately, how one deals with shalach depends on how you deal with the first part of the word, which has the two Hebrew letters spelling mat. Based upon the root, then the meaning would indeed be “man”.  Hence, commentaries conclude that it means “man of the spear” or “man of the dart”.  However, the use of the term “spear” or “dart” is not the meaning of shalach in any lexicon that I know of.  It is simply a derived meaning going from sending to throwing to trying to make a specific object.  If mat was intended to mean man, if one was to keep it strictly literal, it would not mean “man of the spear” or “man of the dart”, but “a man sent”.   ‘The second option for mat is that it comes from the root that means “to die”.  Furthermore, the letter “vav” between mat and shalach gives it a verbal force.  That is why I prefer to take it strictly literally, using the root “to die” and literally it would mean “he dies it shall be sent”.   ‘I prefer that translation of the name, “when he dies it shall be sent”, for two reasons.  The first reason is that I find it fitting the Hebrew parsing of the name much better.  Secondly, it is better in the wider context since, if we follow the chronology of Genesis, the same year he died was the year of the flood.  I do not think this was purely coincidental.’” (Jonathan Sarfati, http://creation.com/biblical-chronogenealogies).

[2] Hebreeuse lexicons verskil oor die betekenis van sommige van die name.

Jesus bou sy kerk

Family at church

Eendag toe sê Jesus vir sy dissipels:  ‘Julle beweeg mos tussen die mense en hoor wat hulle sê.  Wie sê die mense is Ek?’  Die dissipels het geantwoord:  ‘Party mense sê U is Elia.’  ‘Ja, en party sê Jeremia,’ het ‘n ander gesê.  ‘En party sê Johannes die Doper,’ het nog een gesê.  ‘Goed, maar wie sê júlle is Ek?’ het Jesus gevra.  Petrus het geantwoord:  ‘U is die Messias (Christus), die Seun van die Lewende God.’  ‘Jy is reg Petrus,’ het Jesus gesê.  ‘Jy het dit nie by mense gehoor nie.  My Vader wat in die hemel is het dit aan jou geopenbaar.  Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.’ (cf. Matteus 16:13-20).  En dít is waaroor Handelinge 2:37-37 gaan:  Jesus bou sy kerk.

 

37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:  Wat moet ons doen, broeders? 38 En Petrus sê vir hulle:  Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê:  Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.

 

42 En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. 43 En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44 En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. 45 En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het. 46 En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, 47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”

 

Vereistes vir lidmaatskap (v.37-41)

Die toepassing in Petrus se preek was nie vaag en algemeen nie.  Dit was op die man af:  ‘Júlle het julle eie Messias verwerp en gekruisig!’ (cf. v.23, 36).  Die Heilige Gees het die Woord soos ‘n swaard deur hulle harte gesteek.  Dit is hoe die Gees werk.  Hy stel nie daarin belang om net vir mense te sê:  ‘Trek julle sokkies op; julle het ‘n morele bad nodig’ nie.  Petrus se hoorders het onder ‘n diep sonde oortuiging gekom en gesê:  “Wat moet ons doen, broeders?” (v.37).  Petrus het geantwoord:

 

‘Moenie net berou oor julle sonde nie; doen iets daaraan.  Bekeer julle van julle sonde.  Hou op om te ontken dat Jesus die Messias is.  Hou op om Hom te verwerp.  Bely Hom as Here en Messias deur julle te laat doop (v.38).  Die Joodse volk is ‘n verkeerde geslag (v.40, cf. Deuteronomium 32:5).  Vlug van hulle boosheid (v.40).  As julle dit nie doen nie, sal julle saam vergaan in die oordeel wat op Jerusalem gaan kom (v.40, 19, cf. Openbaring 18:4).’

 

Wat sou die gevolg wees indien hulle die Woord geglo het en hulle bekeer het?  Hulle sou die belofte van die Heilige Gees ontvang en vergewe word.  Dit maak nie saak of hulle volwasse Jode, dié se kinders, of heidene was nie (‘almal wat daar ver is’, cf. Efesiërs 2:12-13).  Hierdie voorreg was vir almal wat God na Homself toe geroep het (v.38-39).  Let asseblief op die volgorde:

 

  • God het 3000 mense tot nuwe lewe geroep.
  • Hulle was oortuig van hulle sonde.
  • Hulle het die Woord geglo.
  • Hulle het van hulle sondes af weggedraai (bekeer).
  • Hulle is gedoop.
  • Hulle is by die gemeente bygevoeg.

 

Het God jou al tot nuwe lewe geroep?  Het jy besef dat jy sondig en verlore is?  Het jy geglo dat die boodskap wat jy gehoor het nie die woorde van mense is nie, maar die Woord van God?  Het jy opgehou met jou sonde?  Het jy weggedraai van die onderstebo wêreld waarin jy leef?  Het jy jou bekering uitgebeeld in die doop (die Griekse woord baptizo beteken ‘onderdompel’)?  Het jy aangesluit by die gemeente (die feit dat Lukas melding maak van 3000 en later 5000 in 4:4, dui aan dat hulle een of ander rekord van lidmate gehou het)?

 

Is jou antwoord op die bogenoemde vrae:  ‘Ja, ek het regtig tot bekering gekom, maar het dit nog nie in die doop uitgebeeld en lidmaat geword nie’?  Hoekom nie?  Word gedoop en sluit aan by ‘n goeie Bybelse kerk.  Is jou antwoord:  ‘Ek is gedoop en is ‘n lidmaat, maar het geen nuwe lewe in my nie.  Ek het geen sondebesef nie.  Ek het ook nie opgehou met my sonde of my rug gedraai op die wêreld nie’?  Daar is baie mense wat hulleself met die kerk assosieer, maar nie weergebore is nie.  Hulle is nie met die geregtigheid van Jesus beklee nie.  Hulle is soos die man wat by die troue was, maar nie die regte klere aangehad het nie.  Sulke mense sal hel toe gaan – al was hulle lidmate van ‘n kerk (cf. Matteus 22:11-14).  As jý so iemand is moet jy jou bekeer.

 

Verantwoordelikhede van lidmate (v.42-47)

Wat was die kenmerke van hierdie eerste kerk in Jerusalem?

 

[1] Bybelse lering en prediking; die leer van die apostels (v.42).  Die apostels het die Ou Testament gepreek (cf. v.14-36) en die Nuwe Testament geskryf.

 

[2] Gemeenskap (v.42).  Ons is bekend met die Griekse woord koinonia.  Hierdie mense het dieselfde Gees, Verlosser en Vader gehad (2 Korintiërs 13:13, 1 Johannes 1:3).

 

[3] Die nagmaal (v.42).  In dié vers verwys ‘die breek van brood’ waarskynlik nie na gewone etes soos in v.46 nie (cf. 20:7, 1 Korintiërs 11:23-24).

 

[4] Gebed (v.42).  Dwarsdeur Handelinge sien ons hoe die gelowiges saamgebid het.  Hier is enkele voorbeelde:  “Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking… En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur… En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef… daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom [Petrus] opgegaan.” (1:14, 3:1, 4:24, 12:5).

 

[5] Vrees vir God en krag (v.43).  Gestel jy was ‘n Christen in Atene.  ‘n Man stap by die kerk in en sê:  ‘Ek is ‘n apostel van Jesus; my boodskap is geïnspireer’.  Hoe sou jy weet hy jok nie vir jou nie?  Wat as hy ‘n vals apostel met ‘n vals boodskap is?  Daar was ‘n manier om die ware apostels uit te ken.  Hulle kon wonderwerke doen (v.43) om die waarheid van hulle boodskap te bevestig (v.42).  “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.” (2 Korintiërs 12:12).  “hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het [die apostels], terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedélinge van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebreërs 2:3-4).  Dwarsdeur Handelinge is dit net die apostels en hulle mede-werkers wat wonderwerke doen.  Lees die boek deur en sien vir jouself.  In die geskiedenis was daar net drie tydperke waarin God vir mense die gawe gegee het om wonderwerke te doen:  die tyd van Moses en Josua, Elia en Elisa, Jesus en die apostels.  In elke era het God wonders gegee as ‘n bewys dat hierdie mense ware boodskappers was (cf. Eksodus 4:1, 1 Konings 17:24, Matteus 11:3-5, 2 Korintiërs 12:12).  In hierdie tye het God ook nuwe openbaring gegee.  Moses en Josua verteenwoordig die tydperk van die wet.  Elia en Elisa verteenwoordig die profetiese tydperk.  Jesus en die apostels verteenwoordig die tyd van die Nuwe Testament.  Omdat die hele Bybel klaar geskryf is, is dit nie nodig dat iemand wonders hoef te doen om te bewys dat hy ‘n ware boodskapper van God is nie.  God doen wel nog wonderwerke in antwoord op gebed.

 

[6] Eenheid, mededeelsaamheid, gasvryheid (v.44-46).  Moenie dink die vroeë kerk was kommuniste nie.  Ja, hulle het hulle besittings verkoop, maar die geld is nie gelykop tussen almal verdeel nie.  Dit is gegee vir die wat nood gehad het.  Buitendien was dit hulle vrye keuse of hulle hul besittings wou verkoop of nie; of hulle al die geld wou uitdeel of nie (cf. 5:4).  Daar is geen rekord dat ander Nuwe Testamentiese kerke dieselfde gedoen het nie.  Daar is ‘n baie logiese rede hoekom die Jerusalem-kerk dit gedoen het:  die stad sou verwoes word (v.19), en daarom het hulle van hulle eiendom ontslae geraak.  So, nie elke gelowige hoef sy eiendom te verkoop en die wins uit te deel nie.  Maar elke Christen moet mededeelsaam en gasvry wees:  “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.” (Hebreërs 13:16).

 

[7] Blydskap (v.46).  Die vrug van die Gees is blydskap (13:52, Galasiërs 5:22).

 

[8] Lofprysing (v.47).  Jy kan seker wees dat hulle God geprys het vir sy vergifnis en verlossing in Jesus.

 

[9] Hulle was sout en lig wat die samelewing beïnvloed het (v.47).

 

[10] Hulle het evangelisasie gedoen.  Hoe anders sou die mense in v.47 tot bekering gekom het (cf. Romeine 10:13-15)?

 

Gee jouself hart en siel vir die kerk van Jesus Christus.  Moenie op die kantlyn sit en kritiseer nie.  Jesus het sy lewe gegee vir die kerk (20:28, Efesiërs 5:25).  ‘The Church was worth His blood, is it not worth your time?’ (Joel Beeke).  Wanneer God mense red plaas Hy hulle in ‘n liggaam, nie in ‘n hoek nie (v.41, 47, 1 Korintiërs 12:13-14).  Iemand wat geen liefde vir mede-gelowiges het nie, wat nie deel wil wees van ‘n gemeente nie, moet sy redding betwyfel:  “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.” (1 Johannes 3:14).  Jy kan nie effektief groei as jy jou nie toewy aan goeie prediking, geestelike gemeenskap, die nagmaal, en gesamentlike gebed nie (v.42).  Ek verstaan nie hoe mense wil groei deur e-kerk of preke op die radio, sonder geestelike gemeenskap nie.  Die Skrif sê:  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.  Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:24-26).  Na sy opstanding het Jesus met die dissipels ontmoet.  Tomas was nie daar nie.  Jesus het nie spesiaal moeite gedoen om in die week met hom te ontmoet nie.  Hy moes wag tot die volgende Sondag aand (cf. Johannes 20:24-29).  As jy weier om te wees waar Jesus met sy kerk ontmoet, sal jy uitmis.  Hy sal jou nie spesiaal in jou sitkamer kom ontmoet nie.

 

Baie van my lesers ken die storie van die ontroue gelowige in die noorde van Skotland.  Hy was baie ongereeld by die kerk.  Die dominee het hom gaan besoek.  ‘n Kaggelvuur het gebrand.  In doodse stilte het die dominee en die man na die vuur gekyk.  Die dominee het later opgestaan en met ‘n ystertang ‘n kooltjie uit die vuur uitgehaal en eenkant gesit.  Die kooltjie het al hoe flouer begin brand, totdat dit swart was.  Die dominee het die kooltjie weer in die vuur teruggesit en gou het dit weer rooiwarm gegloei.  Die dominee het opgestaan en die man gegroet.  Die man het die boodskap gekry.  Is jy skuldig soos hierdie man?  Bekeer jou van jou sonde en wees deel van die kerk wat Jesus op aarde bou.

Suid-Afrika se enigste hoop

Robber with gun

Jy het seker al plakkers en advertensieborde gesien waarop staan:  ‘Turn to God’.  Indien dit beteken:  ‘Bekeer jou van jou sonde en draai na Jesus en sy evangelie toe’, is dit reg.  Maar as dit beteken:  ‘Moslems, Jode, Hindus, Christene en elke ander godsdiens aanbid dieselfde God – draai terug na hóm toe’, is daar geen hoop nie.  Duidelik weet ons wat ons land se enigste hoop is.  Maar weet ons waar die morele verval in ‘n samelewing begin?  En hoe stop jy dit?  Genesis 4:17-26 gee die antwoord:

 

17 En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy ‘n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog. 18 En vir Henog is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg. 19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem.  Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla. 20 En Ada het Jabal gebaar.  Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere. 21 Die naam van sy broer was Jubal.  Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel. 22 En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, ‘n smid wat allerhande koper— en ysterinstrumente gemaak het.  En die suster van Tubal-Kain was Naéma. 23 En Lameg het aan sy vroue gesê:  Ada en Silla, hoor na my stem!  Vroue van Lameg, luister na my woord!  Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes. 24 Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal. 25 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem.  Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. 26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het.  Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.”

 

Kain en sy nageslag (v.17-24)

Kain het ‘n stad gebou.  Die Hebreeuse woord verwys nie noodwendig na ‘n metropolis nie, maar praat van enige vestiging.  Die woord kan ook ‘fort’ beteken.  Hy het ‘n vesting gebou om homself te beskerm teen dié wat hom wou doodmaak.  Hy het die stad Henog vernoem, na sy seun (v.17).

 

Laat my asseblief toe om vir ‘n rukkie van die onderwerp af te wyk.  As ek dit nié doen nie sal jy my kwalik neem.  Waar het Kain sy vrou gekry?  Ons weet uit 3:20, Handelinge 17:26 dat daar nie mense vóór Adam en Eva was nie.  Ons weet ook dat God nie ander mense sáám met Adam en Eva geskep het nie.  As dit so wás, beteken dit dat net sý nageslag sondaars is.  En as die ánder mense se nageslag sondeloos is, beteken dit dat Jesus nie vir húlle gesterf het nie.  Die eenvoudige antwoord is dan dat Kain met sy suster of susterskind getrou het:  “En hy [Adam] het seuns en dogters gehad.” (5:4).  In ‘n leeftyd van 930 jaar kon Adam en Eva baie kinders gehad het.  Verder praat v.3 van tydsverloop.  In hierdie tyd kon Adam en Eva nog kinders gehad het.  Kain het gekla omdat mense hom wou doodmaak vir sy moord op Abel (v.14).  Hoekom sou vreemde mense vir Kain wou doodmaak?  Die mense wat hom wou doodmaak het vir Abel goed geken (sy broers en susters!) en daárom wou hulle vir Kain doodmaak.

 

Dalk sê jy:  ‘Maar v.16-17 wys dat Kain sy vrou in ‘n ander land (Nod) ontmoet het’.  Dis nie wat die teks sê nie.  Lees mooi.  Die verse sê dat sy vrou in Nod swanger geword het.  Hy het haar met hom saamgeneem na die ander land toe.  ‘Maar die Bybel sê ‘n broer en suster mag nie met mekaar troue nie’, sê jy.  Die verbod is eers in Moses se tyd gegee (Levitikus 18-20).  Voor Moses se tyd was dit nie vreemd dat familielede met mekaar getrou het nie.  In Noag se tyd is die hele wêreld uitgewis en sou sy kleinkinders met mekaar moes trou.  Abraham het met sy halfsuster getrou (20:12).  Kain het buitendien nie veel van ‘n keuse gehad nie.  Met wie anders moes hy trou?  Genetiese afwykings sou nie eintlik ‘n probleem gewees het nie.  As iemand byvoorbeeld ‘n skewe oor het, is die kanse 50/50 dat sy kind ‘n skewe oor sal hê.  Maar as ‘n broer en suster skewe ore het en met mekaar trou, sal hulle kinders byna verseker skewe ore hê.  As húlle skewe-oor seun en dogter met mekaar trou, sal hulle kinders se ore nóg erger lyk.  As daardie geslag se broer en suster met mekaar trou sal die defek tien maal vererger.  Maar onthou dat Kain en sy suster die eerste geslag was.  Daar sou byna nie genetiese afwykings gewees het nie.

 

Kom ons kom terug by die onderwerp.  God kon vir Kain doodgemaak het.  Die feit dat hy ‘n nageslag gehad het was ‘n genade:  “En vir Henog [Kain se seun] is Irad gebore; en Irad was die vader van Mehújael; en Mehújael was die vader van Metúsael; en Metúsael die vader van Lameg.” (v.18).  Lameg het teen God gerebelleer en twee vroue gevat:  Ada en Silla.  In 2:24 het God gesê dat ‘n man en ‘n vrou, twee mense, een sal word in die huwelik.  Lameg was skuldig aan veelwywery.  Ada het vir Jabal gehad.  Hy was die voorvader van veeboere wat in tente gebly het.  Omdat weiding in die Midde-Ooste skaars is, kon hulle nie huise bou nie.  Hulle moes rondtrek vir weiding.  Daarom het hulle in tente gebly (v.20).  Ada se ander seun was Jubal.  Hy was die voorvader van mense wat snaar- en blaasinstrumente gemaak en gespeel het.  Lameg se vrou Silla het vir Tubal-Kain gebaar.  Hy het gereedskap, plaasimplemente en moontlik selfs wapens van yster en brons gemaak (Kain beteken ‘smid’).  Sy suster was Naéma (v.22).

 

Lameg het sy voorvader Kain se voorbeeld gevolg en ‘n moord gepleeg.  ‘n Jong seun (Heb. yeled) het hom gewond.  Hy het wraak geneem en hom vermoor (v.23).  Hy was so boos dat hy gereed was om homself 77 keer te wreek (v.24).  Kontrasteer dit met Jesus wat gesê het ons moet 70 x 7 keer vergewe (Matteus 18:22)!

 

Die eerste mense was baie vindingryk en gevorderd (v.17-22).  Mense het nie ontwikkel om later brons en ystergereedskap te gebruik nie.  Hulle het van die begin af geweet hoe.  Maar al was en is die mens so gevorderd, kan geen tegnologie, kennis, vaardigheid of opvoeding ‘n vervalle samelewing vol van moord (aborsie!) en seksuele losbandigheid regruk nie.  En waar het die morele verval begin?  Dit het begin toe Kain die Here aanbid het soos wat hý wou.  Hy het ook nie vir sy kinders geleer om God te aanbid nie (God se Naam kom nie in die lys van name voor nie).  As jy opregte en ware aanbidding by die deur uitgooi sal jy binnekort ‘n vervalle samelewing hê.  Let maar op die volgende voorbeelde:

 

  • Israel het die Here gedien toe Josua gelewe het.  Toe Josua en sy tydgenote dood is, het die volk begin om afgode te dien (Rigters 2).  Die morele verval in die boek Rigters is grafies.  Teen die einde van die boek verkrag ‘n klomp mans ‘n vrou die hele nag deur.  Haar man kap haar lyk in twaalf stukke op en stuur dit oor die land.
  • Turkye was Paulus se sendingveld.  Toe die kerk begin het om op hulle eie manier te aanbid, het Rooms-Katolisisme ontstaan.  Vandag is Turkye byna 100% Moslem.
  • Duitsland, Frankryk, Engeland, Switserland en Skotland het almal radikaal verander tydens die hervorming.  Engeland het selfs die invloed van die Puriteine, Whitefield en Wesley gehad.  Maar toe liberalisme in die laat 1800’s inkom, het hierdie lande in ‘n morele gemors verval.  Vandag is die hele spul onder ‘n humanistiese invloed.
  • Wallis staan bekend as die land van herlewings.  Deur die liberale invloed het Wallis vandag geen belang in Bybelse Christenskap nie.
  • Suid-Afrika het ‘n sterk Christelike agtergrond.  Liberalisme en ander gemors het ons land gesink.  Nou sit ons waar ons sit.

 

As jy die Here aanbid soos wat jý wil (soos Kain), moet jy nie verbaas wees as jou kinders Hom nie aanbid nie (soos sy nageslag), en jou kleinkinders skuldig raak aan die verskriklikste misdade (soos Lameg).  Wat is die oplossing vir hierdie dilemma?

 

Set en sy nageslag (v.25-26)

Eva het vir Set gekry in die plek van Abel (v.25).  Dalk het sy gehoop dat Set die beloofde nageslag is wat die slang se kop sou vermorsel (cf. 3:15).  Set het die Here gedien en sy seun Enos geleer om dieselfde te doen:  “Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.” (v.26).  Genesis 4 begin en eindig dan met ware aanbidding.  Alles tussen-in wys vir ons wat gebeur as mense God nié wil aanbid nie.

 

Gesonde gesinne is die boublokke van ‘n gesonde samelewing.  Leer daarom jou kinders hoe om God reg te aanbid.  Die Here self sê:  “Ek het [vir Abraham] verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (18:19).  “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 6:6-7).  Asaf sê:  “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.  Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar, en nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.” (Psalm 78:3-8).

 

Dink jy dis toevallig dat die gebod om jou ouers te eer die middelste gebod is?  Hierdie gebod verbind die eerste 4 gebooie met die laaste 5.  As ouers vir hulle kinders die Bybel leer, sal hulle kinders die Here reg aanbid (gebod 1 tot 4).  En as hierdie kinders hulle ouers eer en gehoorsaam, sal dit lei tot ’n gesonde en morele samelewing (gebod 6 tot 10).  Hoe kan jy jou kinders reg leer?

 

  • Deel gereeld die evangelie met hulle.
  • Vat hulle na ’n goeie Sondagskool toe.
  • Sorg ook dat julle deel is van ’n goeie Bybelse kerk.
  • Leer hulle om Bybelverse te memoriseer.
  • Leer vir hulle ’n goeie kategisme (soos die Westminster Kategisme).  Dit sal hulle help om groot Bybelse leerstellings in kort en maklike sinne te onthou.
  • Sing die Bybel.  Op hierdie manier kan jy baie makliker Bybelverse onthou.
  • Lees vir hulle Bybelstories.
  • Leer hulle om te bid en bid saam met hulle.
  • Leer vir hulle karaktertrekke.
  • Lees vir hulle goeie Christelike boeke.
  • Pas Bybelse dissipline toe.
  • Gee vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing wanneer hulle met jou praat oor wêreldnuus, TV-programme, die evolusie-teorie in hulle skoolhandboeke, wat hulle maatjies sê.
  • Leer vir hulle dat die Bybel kragtig en waar is.  Wys deur jou heilige voorbeeld hoe die Bybel jóú lewe verander het.
  • Verminder die slegte invloed op jou kinders.  Sorg dat jy weet wie hulle vriende is, wat hulle op TV kyk, waar hulle ‘uithang’ en waarna hulle luister.

 

Godvresende gesinne is die fondasie en boustene vir goeie kerke.  En sulke kerke sal ‘n groot invloed hê op ons land.  Peter Hammond het onlangs ‘n artikel geskryf met die titel:  South Africa – Revolution or Revival?  In die 1700’s was die moraliteit in Engeland en Frankryk baie laag.  In Engeland het daar ‘n herlewing gekom.  In Frankryk het daar ‘n bloedige revolusie uitgebreek.  Bid dat Suid-Afrika soos Engeland sal wees en nie soos Frankryk nie.  Begin deur die Here reg te aanbid en dit aan jou kinders oor te dra.