‘n Rekord van lewe en dood

Cemetary

1 Dit is die stamboom van Adam.  Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. 2 Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. 3 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. 4 En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar.  En hy het seuns en dogters gehad. 5 So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, nege honderd en dertig jaar, en hy het gesterwe.

 

6 Toe Set honderd en vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. 7 En Set het ná die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 8 So was dan al die dae van Set nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe. 9 Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword. 10 En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 11 So was dan al die dae van Enos nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe. 12 Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword. 13 En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agt honderd en veertig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 14 So was dan al die dae van Kenan nege honderd en tien jaar, en hy het gesterwe. 15 Toe Mahalálel vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword. 16 En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agt honderd en dertig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 17 So was dan al die dae van Mahalálel agt honderd vyf en negentig jaar, en hy het gesterwe. 18 Toe Jered honderd twee en sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. 19 En Jered het ná die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 20 So was dan al die dae van Jered nege honderd twee en sestig jaar, en hy het gesterwe.

 

21 Toe Henog vyf en sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword. 22 En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.  En hy het seuns en dogters gehad. 23 So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar. 24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.

 

25 Toe Metúsalag honderd sewe en tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. 26 En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 27 So was dan al die dae van Metúsalag nege honderd nege en sestig jaar, en hy het gesterwe. 28  Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek 29 en hom Noag genoem, want hy het gesê:  Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het. 30 En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad. 31 So was dan al die dae van Lameg sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het gesterwe.

 

32 En Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.” (Genesis 5).

                                                             

Die meeste (indien nie alle) Christene wat in evolusie glo sê Genesis 5 is nie geskiedenis nie.  Is hulle reg?  Vers 1 praat van die stamboom van Adam.  Elke geslagregister in die Bybel wys vir ons dat ons te doen het met ware geskiedenis.  Waarom sou hierdie een die uitsondering wees?  Die Hebreeuse woord wat met ‘stamboom’ [tôledâh] vertaal word kom op nege ander plekke in Genesis voor.  Die skrywer se punt is om te wys dat dit regte mense en ware geskiedenis is.

 

  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.” (2:4).
  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van Noag.” (6:9).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van die seuns van Noag:  Sem, Gam en Jafet” (10:1).
  • “Dit is die stamboom [tôledâh] van Sem” (11:10).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van Tera” (11:27).
  • “En dit is die stamboom [tôledâh] van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het” (25:12).
  • “En dit is die geskiedenis [tôledâh] van Isak, die seun van Abraham” (25:19).
  • “En dit is die geskiedenis [tôledâh] van Esau, dit is Edom.” (36:1).
  • “Dit is die geskiedenis [tôledâh] van Jakob.” (37:2).

 

Die res van die Bybel aanvaar Genesis 5 as geskiedenis.  Ander Bybelskrywers gebruik die name in hierdie hoofstuk so:  “Adam, Set, Enos, Kenan, Mahalálel, Jered, Henog, Metúsalag, Lameg, Noag, Sem, Gam en Jafet.” (1 Kronieke 1:1-4).  Die skrywer van 1 Kronieke erken Genesis 5 as geskiedenis.  “Soos in die dae van Noag is dit vir My:  soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.” (Jesaja 54:9).  Wat help só ’n belofte as Noag en die vloed nie ware geskiedenis is nie?  Esegiël 14:14, 20 aanvaar Noag as ’n geskiedkundige persoon.  Jesus ook (Matteus 24:37-39).  Die name in Genesis 5 kom ook voor in Jesus se geslagsregister (Lukas 3:36-38).  Hoe kan ons sê die laaste name in die geslagregister is nie geskiedenis nie, maar die eerste name is?  Paulus aanvaar dat Adam regtig bestaan het (Romeine 5:12-21).  Die Hebreërskywer wil sy lesers aanmoedig om te volhard in geloof, en gebruik onder andere Henog en Noag se geloof as voorbeeld (Hebreërs 11:5-7).  Petrus het geglo Noag was ‘n regte persoon (1 Petrus 3:20, 2 Petrus 2:5).  En Judas glo Genesis 5 wanneer hy praat van Henog as die sewende persoon van Adam af (Judas 14).  Noudat die fondasie gelê is kan ons aangaan.

 

Geboortes

Om baie kinders te hê is ‘n seën (v.2, 4, 1:28).  Die mens is na die beeld van God gemaak (v.1, 1:26-27).  Maar ná die sondeval sien God sy beeld in ons soos wat iemand sy gesig sien in ‘n gebreekte spieël.  Soos wat sistiese fibrose geneties oorerflik is, word Adam se sondige natuur aan ons oorgedra:  “Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.” (v.3).  Al Adam se kinders word nou met ‘n sondige natuur gebore, sodat ons van die moederskoot af dwaal (Psalm 51:7, 58:4).  Ons is dood in sonde en van nature mense wat God se straf verdien (Efesiërs 2:1, 3). 

 

Sommige Arminiane (soos Charles Finney) glo nie in erfsonde (die mens is met ‘n sondige natuur gebore) nie.  Jehova’s Getuies glo dit ook nie.  Dieselfde geld vir Moslems, liberale teoloë, moderne sielkunde, Judaïste en Mormone.  Maar as jy dit ontken, leer jy vir mense dat hulle probleem nie so ernstig is nie.  Hulle kan die sonde-probleem self oplos en het nie regtig vir Jesus nodig nie – as hulle net volgens die Bybel begin leef, is hulle Christene.  Dit is niks anders as redding deur goeie werke nie.  Predikers en evangeliste wat erfsonde weggooi, sal nie op die Heilige Gees vertrou om mense se harte te verander nie, maar musiek of ander metodes gebruik om mense se wil en emosies te manupileer.  Baie van die mense wat dan ‘vorentoe kom’ of die sondaarsgebed agter die prediker aan opsê, probeer van sondige woorde en dade ontslae raak sonder dat hulle harte verander het.  Hulle wil afreken met werklike sonde (woorde, dade, gedagtes) sonder dat die probleem van erfsonde aangespreek is.  Die enigste manier om van erfsonde ontslae te raak is deur Jesus.  Jesus is uit ‘n maagd gebore, en is dus nie met ‘n sondige natuur (erfsonde) gebore nie:

 

“Toe sê Maria vir die engel:  Hoe kan dit wees [dat ek ‘n seun sal hê] aangesien ek geen man het nie?  En die engel antwoord en sê vir haar:  Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu.  Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” (Lukas 1:34-35). 

 

“Want so ‘n hoëpriester [Jesus] was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het” (Hebreërs 7:26). 

 

Omdat net Hý sonder erfsonde en werklike sonde is, kan net Hý die straf vir ons sonde dra (anders sou Hy vir sy eie sonde moes sterf).  Hy belowe om almal te red wat hulle bekeer en op Hom vertrou.  Húlle sal herstel word in die beeld van ons Skepper (Romeine 8:29).

 

Sterftes

Moet ons die ouderdomme in Genesis 5 letterlik aanvaar?  Daar is geen rede hoekom nie.  In Genesis 11 volg Moses presies dieselfde patroon as in Genesis 5:  “Toe Nahor nege en twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword.  En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd en negentien jaar gelewe.  En hy het seuns en dogters gehad.  Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran.” (11:24-26).  Adam is net soveel geskiedenis soos Abram.  Hoekom moet ons Nahor en Tera se ouderdomme letterlik aanvaar, maar Metusalag en Noag s’n nie?  Volgens die geslagsregisters in Genesis 5, 11 en die res van die Bybel, is die heelal omtrent 6000 jaar oud. 

 

Dadelik hoor ek ‘n beswaar:  ‘Maar wat van koofstof-14 en ander dateringsmetodes?  Wat van rotsstrata en fossiele?’ 

 

  • Lees gerus artikels by creation.com om te sien wat wetenskaplikes hieroor geskryf het.  Dateringsmetodes is onakkuraat.  Gefossileerde hardehoede en juwele is al gevind in rotse wat as ‘oud’ gedateer is. 
  • Dit het al hordes kere gebeur dat evolusionistiese wetenskaplikes sê:  ‘Hierdie vis of mier het miljoene jare gelede uitgesterf,’ om net uit te vind dat daardie ‘ou’ vis of mier vandag nog lewe.  As evolusie waar is, hoekom het die vis of mier nie deur ‘n proses van evolusie in ‘n ander spesie verander nie (moet asseblief nie nonsens praat en sê dis ‘n voorbeeld van evolusionêre stasis nie)?
  • God het ‘n volwasse heelal geskep:  bome en berge was volwasse en ‘oud’ toe God dit geskep het.
  • Die vloed het baie veranderinge in die rotslae gebring, en is verantwoordelik vir tienduisende van die wêreld se fossiele.
  • Toe Mount St. Helens in 1980 ontplof het, is rotslae gevorm.  Groot bome het in ‘n vertikale posisie gefossileer; dwarsdeur al die verskillende lae (onthou dat elke laag veronderstel is om ‘n verskillende tydperk en ouderdom aan te dui).  Dit is onmoontlik dat die boom oor miljoene jare versteen het.  Dis duidelik dat rotslae nie oor miljoene jare vorm nie.  Dit vorm in ‘n kort tyd en word veroorsaak deur katastrofes soos die vloed.
  • Laat die refrein van Genesis 5 in jou ore weerklink:  “en hy het gesterwe.”  Onthou dat dood eers ná Adam se sonde gekom het (ook in die diereryk soos Romeine 8:19-22 sê).  As die aarde oud is soos wat evolusioniste sê, was daar dood voor sonde.

 

Noag sou rus bring uit die grond wat vervloek is (v.29, 8:21).  Na die vloed was die grond deurdrenk met water, en sou dit nie so moeilik wees om te ploeg en plant nie.  Tog kon Noag nie keer dat mense sterf en terugkeer na die stof nie.  Die geskiedenis van Henog wys dat God die dood kan oorwin.  Die Nuwe Testament sê Henog was ‘n profeet.  God het deur ‘n openbaring vir hom gesê dat die oordeel sou kom wanneer sy seun sterf:  “En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê:  Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.” (Judas 14-15).  Dis nie toevallig dat Henog sy seun Metusalag genoem het nie.  Metusalag beteken ‘as hy sterf sal dit [vloed] gestuur word’[1].  Die vloed het inderdaad gekom in die jaar wat Metusalag dood is (maak gerus ‘n sommetjie uit die getalle in v.25-32, 7:6).  Henog het hom van sy sonde bekeer en geglo dat God regtig die wêreld gaan oordeel.  Hy het in gehoorsame geloof met God gewandel nádat sy kind gebore is:  “En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel.  En hy het seuns en dogters gehad.  So was dan al die dae van Henog drie honderd vyf en sestig jaar.  En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” (v.22-24, cf. 6:9).  “Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:5-6).  Omdat Henog dan die Here behaag het, het hy nie gesterf nie (v.24, Hebreërs 11:5).  Soos Elia, het God hom direk hemel toe gevat (cf. 2 Konings 2:11).

 

Soos die ander persone in <st1:bcv_smarttag>Genesis 5 sal ons sterf (tensy Jesus in ons leeftyd weer kom).  Maar ons hoef nie die dood te vrees nie:  Jesus het in ons plek gesterf, en so die sonde en dood oorwin.  Die Bybel sê:

 

“Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my:  u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

“Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.” (Psalm 116:15).

 

“Jesus sê vir haar:  Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

 

“Dood, waar is jou angel?  Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Korintiërs 15:55).

 

“Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.” (Hebreërs 2:14-15).

 

“[Ek is] die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid.  Amen.  En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Openbaring 1:18).

 

“daar [in die hemel] sal geen dood meer wees nie” (Openbaring 21:4).

 

Berei jouself voor vir die dood:

 

[1] Onthou dat jy enigetyd kan sterf – al is jy jonk:  ‘People are so idiotic – they think of death only in terms of age’ (Martyn Lloyd-Jones, uit volume 2 van sy biografie deur Iain Murray, p.732).

 

[2] As jy vir Christus lewe sal jou dood ‘n wins wees, want wanneer jy sterf verloor jy niks.  Inteendeel, jy wen alles waarvoor jy geleef het (Filippense 1:21).

 

[3] Dink oor die dood:  “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!” (Psalm 90:12).     

 

[4] Moenie heel eerste hoop vir mense se goeie woorde op jou begrafnis nie.  Begeer eerder dat Gód goeie woorde sal sê wanneer jy voor hom staan:  ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg’.

 

Net mense wat rus gevind het in Jesus kan in vrede sterf.  Tussen al die dood deur leer Genesis 5 vir ons presies dit.  Let op die betekenis van die name:

 

Adam = mens

Set = bestem

Enos = sterflik

Kenan = droefheid

Mahalalel = lofwaardige God

Jered= neerdaal

Henog = instruksie, leer

Metusalag = sy dood bring

Lameg = wanhopig

Noag = rus[2]

 

In een sin klink die name so:  ‘Die mens is bestem tot sterflike droefheid, maar die lofwaardige God sal neerdaal en vir ons leer:  sy dood bring vir wanhopiges rus’.

 


[1] “Hebrew Christian scholar Dr Arnold Fruchtenbaum argues:  ‘[T]he name Methuselah could mean one of two things.  Therefore, it will either mean “man of the spear” or “when he dies it shall be sent”.  The debate is not over the second part of the word which, in Hebrew, is shalach; and shalach means “to send”.  While the concept of sending is the primary meaning of shalach, it has a secondary meaning of being thrown or cast forth in a context where the sending is with heavy force or speed.  On that basis, some would conclude that shalach would mean either “missile” or “dart” or “spear”.  However, that is a derived meaning because the primary meaning of shalach is “to send”, as any lexicon shows.   ‘Ultimately, how one deals with shalach depends on how you deal with the first part of the word, which has the two Hebrew letters spelling mat. Based upon the root, then the meaning would indeed be “man”.  Hence, commentaries conclude that it means “man of the spear” or “man of the dart”.  However, the use of the term “spear” or “dart” is not the meaning of shalach in any lexicon that I know of.  It is simply a derived meaning going from sending to throwing to trying to make a specific object.  If mat was intended to mean man, if one was to keep it strictly literal, it would not mean “man of the spear” or “man of the dart”, but “a man sent”.   ‘The second option for mat is that it comes from the root that means “to die”.  Furthermore, the letter “vav” between mat and shalach gives it a verbal force.  That is why I prefer to take it strictly literally, using the root “to die” and literally it would mean “he dies it shall be sent”.   ‘I prefer that translation of the name, “when he dies it shall be sent”, for two reasons.  The first reason is that I find it fitting the Hebrew parsing of the name much better.  Secondly, it is better in the wider context since, if we follow the chronology of Genesis, the same year he died was the year of the flood.  I do not think this was purely coincidental.’” (Jonathan Sarfati, http://creation.com/biblical-chronogenealogies).

[2] Hebreeuse lexicons verskil oor die betekenis van sommige van die name.