Trane in die hemel

Teardrop

Die wêreld het wel die verkeerde idee, maar selfs húlle weet daar sal nie trane in die hemel wees nie (soos wat Eric Clapton ook sing).  Openbaring 21:4 sê van die hemel:  “En God sal al die trane van hulle oë afvee”.  Volgens Genesis 6, egter, is God bedroef oor die mens se sonde.  Vandaar my tema:  Trane in die hemel.

1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.  3 Toe sê die HERE:  My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.  4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het.  Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.  5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, 6 het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.  7 En die HERE sê:  Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.  8 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.” (Genesis 6).

Die mens se toestand (v.1-5)

Daar was reeds mense in ons land toe Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaapse kus geland het.  Maar dis nogsteeds indrukwekkend dat die populasie gegroei het van ‘n paar honderd duisend tot byna 50 miljoen in 2014.  En dis maar 360 jaar.  Hoe geweldig kon ‘n populasie groei binne die 1600 jaar tussen Adam en Noag?  En die populasie was nogsteeds besig om te groei (v.1).  Die skrywer sê dat die seuns van God gesien het dat die dogters van die mense mooi was; elkeen het vir homself die vrou gekies wat hy wou gehad het (v.2).  Die frase ‘seuns van God’ verwys in Job 1:6, 2:1, 38:7 na hemelse wesens.  Maar volgens Jesus trou engele nie (Matteus 22:30).  Party mense dink dat die ‘seuns van God’ na Set se nageslag verwys, en die ‘dogters van die mense’ na Kain se nageslag.  Vir my lyk dit na ‘n onwaarskynlike interpretasie.  Ander dink dat ‘die seuns van God’ praat van konings wat baie vroue vir hulleself geneem het.  In my opinie is die beste interpretasie dat demone (gevalle engele) mense beset het, en hulle versoek het om wellustig te wees (Judas 6).  God was bedroef en het besluit dat sy Gees nie meer vir mense lewe sou gee nie, maar hulle sou oordeel (v.3).  In v.3 sê die Here dat die mens se dae 120 jaar sou wees.  Ek dink nie dit beteken dat mense voortaan net 120 jaar oud sou word nie, want in hoofstuk 11 word mense nog baie ouer as dit.  Ek dink eerder dit beteken dat God geduldig sou wees (1 Petrus 3:20).  Die mens het nog 120 jaar kans gehad om hom te bekeer.  Hoofstuk 5:32 sê wel dat Noag 500 was, maar dis asof die skrywer in hoofstuk 6 ‘n bietjie teruggaan en sê:  ‘Toe Noag 480 was het mense gelewe soos hulle wil.  God het gesê dat die mens nog 120 jaar gehad het om hom te bekeer.  Toe Noag 500 was is sy drie seuns gebore (v.10).  Die vloed het gekom toe hy 600 is (7:6)’.

In v.4 lees ons:  “In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het.  Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.”  Hierdie vers leer vir ons dat daar voor en na v.2 se tyd reuse op die aarde was.  Die teks sê nie eksplisiet dat die reuse gebore is uit die huwelike in v.2 nie.  Volgens v.4 was die reuse geweldig en beroemd (‘manne van naam’).  Die reuse se nageslag was die Enakiete en die Refaïete (cf. Numeri 13:33, Deuteronomium 2:11).  Koning Og van Basan was een van die laaste nasate van hierdie reuse.  Sy bed was 4.05 meter lank en 1.8 meter breed (Deuteronomium 3:11).  Hy kon dus tot 3.9 meter lank wees gewees het!  Dit is ‘n meter langer as Goliat (2.92 meter) en die langste man in moderne geskiedenis, Robert Wadlow (2.88 meter)!  Die kort Jode sou vir hierdie reuse gelyk het soos sprinkane (cf. Numeri 13:33).  Die Hebreeuse woord wat hier met reuse vertaal word (nephil) beteken letterlik ‘val’, en mag daarvan verwys dat hulle ander mense oorval het.  Nou sou God se oordeel op hulle ‘val’!  Maar dit was nie net hulle wat skuldig was nie.  In 1:31 het God gesien dat alles in sy skepping baie goed was.  Nou het Hy gesien dat AL die gedagtes van die mens se hart ALTYDDEUR NET sleg was – die mens se dade, denke, motiewe en hart (v.5).

Hoe moet ons op hierdie eerste 5 verse reageer?

  • Treur en bid vir ons land.  Ons leiers is korrup.  Sonde is wettig onder ons liberale grondwet.  “My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.” (Psalm 119:136).
  • Treur en bid vir ongelowiges.  Baie van hulle is goeie en morele mense.  Maar hulle morele grimmering bedek ‘n bose sweer vol van die etter van sonde.
  • Treur en bid vir jou kinders en kleinkinders.  Hulle is gebore met slegte harte.  Hulle is tot die ergste instaat en sal jou hart breek as God hulle nie red nie.
  • Treur en bid vir die kerk.  Baie sondes word onder die mat ingevee.  Baie mense doen lelike dinge wat hulle wegsteek.  Baie kerkmense is skynheilig.  Baie gelowiges doen ‘goeie’ dade uit ‘n verkeerde hart.
  • Treur en bid vir jouself.  Ons bedek die boosheid wat in ons huise en harte is.  Ons is instaat tot dronkenskap soos Noag, egbreuk en moord soos Dawid, verloëning van Jesus soos Petrus.

Dank God vir Jesus Christus:  AL die gedagtes van sy hart was ALTYDDEUR NET goed – sy dade, denke, motiewe en hart.  Uit liefde vir ons het Hy ons lelike sonde en die straf daarvoor op Homself geneem aan die kruis.  Laat die gedagte hiervan jou oor sonde laat treur.  “Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5:4).

God se reaksie (v.6-8)

God was jammer dat Hy die mens gemaak het en het besluit om hom uit te wis (v.6-7).  Omdat die mens se sonde ook die diereryk beïnvloed (Romeine 8:19-22), sou God húlle ook uitwis.  God sou vir Noag, sy gesin en ‘n paar diere spaar (v.8-9).

Ek is seker daar is ‘n paar besware oor v.6-8.  Kom ek antwoord hulle een vir een.

Beswaar #1:  ‘God het van die begin af geweet dat die mens sou sondig.  Wanneer v.6-7 sê dat God bedroef was, kan ons verseker weet dat dit krokodil trane [vals berou] was’.  Antwoord:  Jy vind uit dat jou 7-jarige dogter leukemia het.  Jy weet dat sy net ‘n paar maande oor het om te leef.  Uiteindelik sterf sy en jy huil.  Is jou berou vals, omdat jy vooraf geweet het sy sou sterf?  Nee.  Dieselfde met God in Genesis 6, en dieselfde met die hel.  God weet wie sal hel toe gaan (Romeine 9:22) en tog het Hy opregte droefheid daaroor:  “Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE.  Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?  Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE.  Bekeer julle dan en lewe.” (Esegiël 18:23, 32).

Beswaar # 2:  ‘God is hard’.  Antwoord:  God is geduldig, liefdevol, genadig en goed.  Hy kon dadelik vir Adam uitgewis het as hy wou.  Maar Hy het die mensdom laat voortgaan en 1600 jaar kans gegee dat die mens hom kan bekeer.  Ons leef nou al 2000 jaar na die Nuwe Testament.  Jesus kon lankal teruggekeer het om die wêreld te oordeel.  Dit is genade dat Hy nog nie gekom het nie.

Beswaar # 3:  ‘Daar sal nie ‘n oordeel wees nie’.  Antwoord:  ‘n Vertraagde oordeel beteken nie dat daar geen oordeel sal wees nie.  God vertraag die oordeel, omdat Hy vir mense ‘n kans wil gee om hulle te bekeer.  Die oordeel word nie vertraag, sodat die mens ‘n kans het om nog sonde te doen nie.  “Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4).  Petrus skryf:  “Die Here vertraag nie die belofte [van sy wederkoms] soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.  Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Petrus 3:9-11).

Beswaar #4:  ‘Ons hoor gans te min preke oor hel en verdoemenis; ons het meer hiervan nodig’.  Antwoord:  Ja, ons het preke nodig oor God se oordeel.  Maar met watse gesindheid moet dit gepreek word?  Wees geduldig.  Deel die Goeie Nuus van Jesus met mense.  Praat met deernis en liefde.  Bid vir slegte mense.  Het jy opgehou om dit te doen?  Is daar iemand met wie jy moed opgegee het?  God het nie opgegee met jou nie.  Moenie opgee met ander nie.  En selfs wanneer jy van sy oordeel praat, moet jy dit doen soos wat Jesus dit gedoen het:  met trane, geduld en liefde.

Hoe sal jy voel as jy môre uitvind dat jou huweliksmaat jou verkul het?  Vermenigvuldig jou emosie met oneindig.  Dis hoe diep God treur oor die mens se sonde; dit bedroef Hom (Efesiërs 4:30).

Laat dít jou hart smelt en maak dat jy jou daarvan bekeer.