In Sý hande is jy veilig

 

Heart on hands

Toe ek in graad 10 was het ek vir die tweede span krieket gespeel. Tydens een wedstryd het ons teenstanders se kolwer die bal reguit in die lug opgeslaan. Ek het en ‘n ander speler het gehardloop om die bal te vang. ‘Myne!’, het ek genomineer. Ek het reg onder die bal gaan staan. Dit het tussen my arms en my bors deurgeval. Ek het dit nie eers geraak nie. Die volgende dag het almal in die skool van my blaps geweet. Ek het die bynaam ‘drop catch’ geërf.

 

God sal jou nie laat val nie. In Sý hande is jy veilig. Jesus het gesê: “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Johannes 10:28-29). Genesis 11:10-32 illustreer dit. In Engels noem ons hierdie leerstelling ‘the preservation of the saints’.[1]

 

Sem se nageslag (v.10-26)

Die geslagsregister in Genesis 11 dek ‘n tydperk van omtrent 550 jaar. Noag en Sem sou dus nog geleef het toe Abram en Isak op die aarde was.[2] Kom ons sit dit in perspektief: As mense nogsteeds so oud moes word, sou Martin Luther (gebore in 1483) nóg gelewe het. Noag het 950 jaar oud geword (8:28-29). As hy in ons tyd gelewe het sou daar op sy grafsteen gestaan het: Noag – 1064 tot 2014. En moenie vir ‘n oomblik dink Noag se jare was korter as ons s’n nie. Genesis 1:14 het God die son en maan gemaak om te “dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.” ‘n Jaar was nog altyd een omwenteling van die aarde op die son. Die Jode het wel ‘n maankalender gebruik, maar selfs dán is ‘n jaar tussen 330 en 380 dae.

 

In Genesis 5 was mense oud wanneer hulle kinders gehad het. In Genesis 11 kry hulle kinders wanneer hulle 30 is. Die rede is duidelik: hulle moes die aarde gou vul na die vloed. Daarom het hulle ook baie ‘seuns en dogters gehad’ (11:11). Die mens se lewensjare het drie keer gehalveer na die vloed. Voor die vloed het mense 900 jaar oud geword (cf. Genesis 5). Die eerste geslagte ná die vloed het 450 jaar oud geword (v.12-17). Later het mense 200 jaar oud geword (v.18-26, 32). Vandag word mense 100 of minder.

 

Hoekom fokus Moses in hierdie verse op Sem se nageslag? Hy wil vir die eerste lesers wys (die Israeliete in die woestyn) hoe húlle op die aarde beland het. Sem was hulle voorvader. Die seën wat oor Sem uitgespreek is was ook vir húlle bedoel: “Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.” (9:26). Eber en sy seun Peleg is deel van hierdie geslagsregister (v.16). Eber was die vader van die Hebreërs (14:13), en in Peleg se dae het die episode by die toring van Babel plaasgevind (10:25, 11:8-9). In v.26 staan Abram se naam voor sy broers s’n. Dis nie omdat hy die oudste seun was nie. Sy oudste broer is gebore toe Tera (Abram se pa) 70 was. Abram is eers gebore toe sy pa 130 was (sien v.32, 12:4).

 

Wat leer ons uit hierdie geslagsregister? God het vir Eva belowe dat haar ‘saad’ (Jesus) die slang se kop sal vermorsel (3:15). God het dus sy uitverkore geslag deur die vloed behou. Ook toe mense by die toring van Babel verstrooi is, het God die uitverkore geslag veilig gehou. Die mense in Genesis 11 is deel van Jesus se voorgeslagte: “[Jesus]… die seun van Abraham, die seun van Tera, die seun van Nahor, die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van Heber, die seun van Sela, die seun van Kainan, die seun van Arpágsad, die seun van Sem, die seun van Noag” (Lukas 3:34-36).

 

Dwarsdeur die geskiedenis het God sy volk veilig gehou. Abram moes vir Isak offer. Maar hoe kon dit wees; die Messias moes uit hierdie lyn gebore word? God het vir Isak gespaar. God het vir Josef Egipte toe gestuur om die koring in skure te versamel, sodat Hy die uitverkore geslag aan die lewe kon hou. God het sy uitverkore volk beskerm toe hulle in Egipte was. God het hulle vir 40 jaar in die woestyn behou. Hy het die Kanaäniete voor hulle oë verdryf, sodat hulle die land kon inneem. Die Messias moes uit Dawid se geslag gebore word. Saul en Absalom het vir Dawid probeer doodmaak, maar die Here het hom beskerm. Koningin Atalia wou die hele koninklike bloedlyn uitwis. Maar God het ‘n baba weggesteek, want die Messias moes uit hierdie nageslag kom (2 Kronieke 22:10-12). Die Israeliete is deur die Babiloniërs weggevoer. God het hulle behou en 70 jaar later teruggebring Jerusalem toe. Tussen die Ou- en Nuwe Testamente is daar ‘n 400 jaar stilte. Ook in hierdie tydperk het God sy volk bewaar. In Matteus 2 wou Herodes die Grote vir Jesus doodmaak. Hy was onsuksesvol. In Matteus 4 versoek die duiwel vir Jesus, maar weereens beskerm God Hom. In Lukas 4:29 wou Jesus se vyande Hom van ‘n krans afgooi. Hulle kon nie hul planne uitvoer nie. In Johannes 8:59 wil die Jode Hom stenig, maar sonder sukses. Uiteindelik word Jesus gekruisig, maar God wek Hom op uit die graf.

 

Soos wat God vir Jesus behou het, sal Hy sy uitverkore geslag (1 Petrus 2:9), sy kerk tot die einde toe bewaar: “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5). Judas skryf aan “die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is:… Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 1, 24). Paulus sê dat “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). En weer: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39). Aan die einde van sy lewe het hy gesê: “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18).

 

Die Here sal jou veilig hou deur angs, twyfel, vals lering, vervolging, versoeking, sonde, die aanvalle van Satan, die wêreld, armoede, voorspoed, siekte, mense se vals klagtes teen jou, en alles. Party van my lesers dink: ‘Hierdie leerstelling sal Christene passief maak, sodat hulle sê: Ek hoef niks te doen nie, want God sal my behou.’ Dis onwaar. Judas 24 sê dat God ons tot die einde toe sal bewaar. Judas 21 sê dat ons onsself in die liefde van God moet bewaar. Wie is dit dan wat ons bewaar: God of ons? Beide. God behou ons juis deurdat ons volhard, deurdat ons gebruik maak van genademiddele soos die Bybel en gebed.

 

Tera se nageslag (v.27-32)

Abram se broer, Haran, het drie kinders gehad: Lot, Milka en Iska. Haran het in Ur van die Chaldeërs (suid-oos Irak) gesterf (v.27-29). Abram se ander broer, Nahor, het met sy broerskind (Haran se dogter, Milka) getrou. Abram het met Sarai getrou, maar sy was onvrugbaar (v.29). Die eerste lesers in die woestyn sou dadelik optel dat al die ander persone in v.10-26 kinders gehad het. Hulle sou gewonder het hoe húlle dan hier gekom het – onvrugbare Sarai was immers hulle groot, groot, groot…… oumagrootjie.

 

God het vir Abram uit Ur van die Chaldeërs geroep (Handeling 7:2-4). Voor God hom geroep het, het Abram afgode gedien (Josua 24:2). Ur was veral bekend vir hulle aanbidding van die maangod. Tera (Abram se pa) het sy kleinseun Lot opgepas toe Haran (Lot se pa) in Ur gesterf het. Toe God vir Abram geroep het om Kanaän toe te gaan, het Tera, Abram, Sarai en Lot saamgetrek (v.31). Hulle wou nie direk wes trek nie. Dit was wel die kortste pad, maar daar was ‘n groot woestyn tussen Ur en Kanaän. Hulle het toe besluit om noord-wes te trek; al langs die Eufraat rivier op. So het hulle genoeg water vir hulle en hul diere gehad. Toe hulle in die gebied van Haran[3] (op die grens van Sirië en Turkye) kom, het hulle gestop (v.31).

 

Abram se broer en skoonsuster, Nahor en Milka, het nie saam getrek nie. Hulle het in Ur agtergebly, en eers later Haran toe getrek (24:10, 27:43). Tera self het nie verder as Haran getrek nie. Blykbaar was Haran ook ‘n sentrum vir die aanbidding van die maangod. Tera het in Haran gesterf (v.31-32). Tera het dus nooit die land gesien wat God aan Abram en sy nageslag belowe het nie. Genesis 11 begin met mense wat móés trek, maar ongehoorsaam was, en eindig ook so (v.2, 31, 9:1). Dit moes ‘n les gewees het vir die eerste lesers in die woestyn: moenie soos die mense van Babel of soos Tera wees nie – trek in die Beloofde Land in en moenie stop, totdat julle dit heeltemal ingeneem het nie.

 

Genesis 1-10 handel oor die wêreld se geskiedenis. Genesis 12-50 en die res van die Ou Testament praat van die geskiedenis van een klein volkie: Israel. In die Nuwe Testament verbreed die fokus weer na die geskiedenis van die wêreld toe, en sien ons hoe Jesus mense uit alle nasies na Homself toe roep.

 

Abram se vrou was onvrugbaar, sy broer Haran het gesterf, sy ander broer Nahor het in Ur agtergebly, hy moes ‘n lang (en seker gevaarlike) reis meemaak, hy het nie geweet waarheen God hom sou lei nie (Hebreërs 11:8), hy het afgode aanbid, sy pa Tera het kort gestop en nie saam na die Beloofde Land toe getrek nie. Deur al hierdie dinge het God vir Abram bewaar. Genesis 11 is seker geskryf om die eerste lesers te versterk; om vir hulle te wys dat God sy uitverkore geslag sal behou en vir hulle die land as erfdeel sal gee. Net so kan ons in die Nuwe Testament glo dat God sy kerk, te midde van baie hindernisse, sal behou. William Carey is ‘n goeie voorbeeld hiervan:

 

  • Hy wou ‘n sendeling word na Indië. Aanvanklik het niemand hom ondersteun nie. ‘n Vriend (Andrew Fuller) het toe die erns van die saak besef en hom bygestaan.
  • Sy vrou het vasgeskop en wou nie saam met hom gaan nie. Op die ou end het sy saamgegaan.
  • Omdat sy kollega slegte skuld gehad het, het die kaptein geweier om hulle aan boord die neem. Die skip het sonder hom weggeseil. Sy vriend het die skuld afbetaal. Hulle het toe plek gekry op ‘n ander skip.
  • In Indië het hulle teenkanting van die Hindus gehad. Hulle kon nie die Hindus van hulle afgode af wegdraai nie. Daar was ‘n vals bekering of twee. Na 7 jaar het hulle die eerste ware bekering gesien. Daarna het baie mense tot bekering gekom.
  • Die hitte van Indië was iets om aan gewoond te raak.
  • Carey se vrou het mal geword en hom van egbreuk en allerhande ander dinge beskuldig. Sy is tydjie later oorlede.
  • Die Britse regering het die sendelinge teengestaan. William Wilberforce het hulle saak beveg, sodat die werk kon voortgaan.
  • Carey het die Bybel in ‘n komp tale vertaal. ‘n Vuur het die drukkery afgebrand. Baie van die vertaalwerk is in die brand vernietig. Hulle moes van voor af begin. In Engeland het baie mense hiervan gehoor en ekstra geld gestuur.
  • Die ondersteuningspan in Engeland het druk begin toepas en vir die sendelinge voorgeskryf wat hulle moet doen. Dit het spanning op hulle verhouding geplaas. Daar het versoening gekom.
  • Carey se seun, Felix, het ‘n sendeling na Burma geword. Op een reis tussen Indië en Burma het die skip gesink. Felix se vrou en kind het verdrink. Dit het gelyk of Felix dit redelik goed hanteer, maar later het hy wêrelds geword, rykdom nagejaag, en gereeld dronk geword. Genadiglik het hy na die Here toe teruggedraai.

 

Die Bybel sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” (Handelinge 14:22). God stuur toetse om ons geloof te versterk. Onthou dat Hy elke toets kan oorkom. Verwag lyding, bid wanneer dit kom, en glo dat die Here jou sal deurhelp. Wees soos Abram wat tot die einde toe volhard het; Abram wat al die pad tot in Kanaän gereis het (12:4). Dalk wil jy jou lewe verander. Dalk het jy begin om kerk by te woon en jou Bybel te lees. Maar jy het nog nie jou hele lewe aan Jesus toegewy nie. Moenie kort stop soos Tera nie.

 

Jare gelede was daar ‘n Sanlam advertensie met twee hande wat ‘n bolletjie blou klei vashou. Die man op die advertensie het gesê: ‘Sanlam – in ons hande is jy veilig.’ Maar net soos wat Saambou gevou het, kan Sanlam ondergaan. Die enigste veilige hande is God s’n. Net Hý kan jou vir ewig bewaar.

 

 

[1]   Hierdie leerstelling gaan saam met, maar is nie dieselfde as ‘the perseverance of the saints’ nie.

[2] Dan maak 47:8-9 perfek sin: “Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare? En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.”

[3] Moenie verward raak tussen die Haran in v.28 en hierdie Haran nie. In v.28 is Haran ‘n persoon en in v.31 ‘n plek.

Advertisements

Van twyfel tot geloof

Doubt to faith

Tydens my studies het een liberale professor my in die waarheid van die Bybel laat twyfel. My geloof is versterk toe ek die Bybel meer begin lees en memoriseer het. Die twyfel het verdwyn.

 

Hoe het Tomas beweeg van twyfel tot geloof?

 

24 En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. 25 Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.

 

26 En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! 27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. 28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! 29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Johannes 20).

 

Twyfel (v.24-25)

Tomas was een van ‘n tweeling en is daarom ook Didimus genoem. Hy was maar ‘n pessimistiese karakter en het, soos Eyore (die donkie in Whinnie-the-Pooh), altyd die donker kant van die lewe gesien. Toe Jesus vir Lasarus wou opwek, het Tomas vir sy kollegas gesê: ‘Kom ons gaan ook, dat ons saam met Jesus kan sterf.’ (sien 11:16, 8). In 14:5 sê hy: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” In 20:25 staan sy depressie uit soos ‘n seer duim. Maar Tomas was ook dapper en lojaal. Hy was bereid om saam met Jesus te sterf. Hy wou graag weet waarheen Jesus oppad was, sodat hy kon saamgaan.

 

Die eerste keer toe Jesus ná die opstanding aan die dissipels verskyn het, was Tomas afwesig (v.24, 19). Die teks sê nie vir ons waar hy was nie. Die ander dissipels het aanhoudend [Gk. imperfektum] vir hom gesê: ‘Jesus het aan ons verskyn!’ (v.25). Tomas was somber en skepties – hy het nie die tien ooggetuies geglo nie: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (v.25). Hy wou (soos Johannes ná hom) kon getuig van Jesus wat “ons hande getas het” (1 Johannes 1:1). Hy wou nie die ander se getuienis glo nie. Dalk het hulle net ’n gees gesien. Of dalk was dit ’n vals Jesus. Of miskien iemand wat hom voorgedoen het as Jesus. Voordat jy te hard is op arme Tomas, moet jy onthou dat die ander ook getwyfel het.[1] Die Skrif sê:

 

“En [die vroue se] woorde het vir [die dissipels] na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie…En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.” (Lukas 24:11, 36-43).

 

Adoniram Judson was ‘n Amerikaanse sendeling in Burma. Toe sy vrou en sy kind dood is, het hy depressief geraak en vir 40 dae in die oerwoud gaan woon. Hy het die volgende woorde in sy dagboek geskryf: ‘God is to me the Great Unknown. I believe in Him, but I find Him not.’ Tomas en Judson is bewyse dat selfs toewyde gelowiges kan twyfel. Party gelowiges is meer geneig tot somberheid as ander. Wees barmhartig en geduldig met sulke mense (soos wat Jesus in v.27 met Tomas was). Judas 22 sê: “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys.” Wanneer so iemand sterk dinge gesê het soos: ‘Ek sal nooit glo nie’ (v.25), moet jy aanhou bid en vertrou dat die Here hulle kan help. Jesus het Tomas se diep twyfel verander in ‘n sterk geloof (v.28). Richard Sibbes (‘n Puritein) het dit raak gevat: ‘Nothing is as certain as that which is certain after doubts.’

 

Vir jou wat twyfel: Soms word twyfel aangehelp, omdat jy nie gereeld saam met ander Christene byeenkom om God se Woord te hoor nie. Tomas het getwyfel, omdat hy nie die vorige Sondagaand saam met die ander was nie (v.24). Waar het Asaf sy oplossing gekry toe hý verward was? “Toe het ek nagedink om [my probleem] te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan [het]” (Psalm 73:16-17). Die Hebreërskrywer sê: “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25). Martyn Lloyd-Jones was reg:

 

‘People who neglect attendance at the house of God are not only being unscriptural – let me put it bluntly – they are fools. My experience in the ministry has taught me that those who are least regular in their attendance are the ones who are most troubled by problems and perplexities… Moreover, those who do not attend God’s house will be disappointed some day, because on some favoured occasion the Lord will descend in revival and they will not be there. It is a very fooish Christian who does not attend the sanctuary of God as often as he possibly can, and who does not grieve when he cannot.’ (Faith on Trial, p.52).

 

Geloof (v.26-29)

Agt dae later was die dissipels weer bymekaar (agt dae tel van die Sondag wat Jesus opgestaan het, tot die volgende Sondagaand). Hoekom het Jesus nie deur die week aan hulle verskyn nie? Wou Hy Sondag instel as ‘n spesiale dag van aanbidding (sien Psalm 118:22-24, Handelinge 20:7, 1 Korintiërs 16:1-2)?

 

Die dissipels was agter geslote deure. Dit lyk of hulle, soos die vorige Sondagaand, wéér bang was vir die Jode (v.26, 19). Skielik het Jesus tussen hulle gestaan. Hoe presies dit kon gebeur is onverklaarbaar. In sy opstandingsliggaam kon Hy verskyn en verdwyn (Lukas 24:31). Maar die teks sê nie direk vir ons dat Hy deur die muur geloop het nie. Dit mag wees dat die geslote deur voor Hom oopgegaan, en weer agter Hom toegegaan het. Die dissipels se oë en ore was gesluit, sodat hulle dit nie kon sien nie. Dit is wat in Handelinge 12:10 gebeur het. Die tronkdeure was gesluit. Die engel het die deure voor Petrus oopgemaak sonder dat die wagte iets gesien of gehoor het.

 

Soos by die vorige geleentheid was Jesus se eerste woorde shalom – ‘Vrede vir julle.’ (v.26, 19). Jesus het geweet dat hulle bang was en wou hulle gerus stel. Voor sy dood het Hy mos vir hulle gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (14:27).

 

Maar daar was iets meer in Jesus se vredegroet. Deur sy kruisdood was daar nou ware vrede tussen God en mens: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” (Romeine 5:1).

 

Jesus het geweet wat Tomas in v.25 vir die ander dissipels gesê het. Daarom het Hy vir hom gesê: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” (v.27). Die teks sê nie vir ons dat Tomas sy hand en vinger in Jesus se wonde gesteek het nie. Jesus self sê dat Tomas sy wonde gesien het (v.29), maar nie dat hy daaraan gevat het nie. Dit was nie nodig nie. Die oomblik toe hy Jesus se wonde sien, het hy geglo dat Jesus die opstane Here is. En die feit dat Jesus geweet het wat hy in die geheim vir die ander dissipels gesê het, het hom oortuig dat Jesus God is. Daarom het hy in v.28 vir Jesus gesê: “My Here en my God!” Tomas het verseker gedink aan dit wat Jesus vóór sy dood gesê het:

 

“[dat] almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer.” (5:23).

 

“voordat Abraham was, is Ek.” (8:58, cf. Eksodus 3:14).

 

“Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (14:9).

 

Hy het die geweet dat die Messias God self is: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5).

 

Die Jehova’s Getuies interpreteer Tomas se woorde anders as ons. Hulle sê:

 

  • Tomas was besig om te laster – hy het die Here se Naam ydelik gebruik (soos wat hulle ‘O my G__!’ in films sê). Maar geen lojale Jood sou die Here se Naam ydelik gebruik het nie. Buitendien is daar ‘n voegwoord (en) tussen ‘Here’ en ‘God’. Niemand sê: ‘My Here EN my God!’ as hulle laster nie. En as hy gelaster het: hoekom het Jesus hom nie bestraf nie, maar hom geseën? (v.29).
  • Tomas het vir Jesus ‘Here’ genoem het, maar toe opgekyk na die hemel en gesê: ‘My God!’ Maar weereens wys die voegwoord ‘en’dat Tomas met een persoon gepraat het. As ek vir my vrou sê: ‘Jy is lieflik en mooi’ praat ek nie met twee persone nie. Buitendien sê v.28: “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” Tomas het erken dat Jesus die God van die Ou Testament is: “my God en Here” (Psalm 35:23). Jesus het hom nie tereggewys nie, maar die lof aanvaar.

 

Tomas praat van my Here en my God. Sy woorde is warm en persoonlik. Luther het gesê: ‘Vat die woord my weg en jy vat Christenskap weg.’ Ek stem saam dat ‘n Christen se geloof nie ‘n private aangeleentheid is nie. Dis nie iets wat jy vir jouself hou nie. Jy is deel van ‘n groter liggaam. Jy is een met ander gelowiges (v.26). Tog is jou geloof persoonlik. Ander kan nie námens jou glo nie. Jy moet kan sê: ‘My Here en my God!’ (v.28).

 

Tomas het geglo eers nádat hy vir Jesus gesien het. Daarom sê Jesus: “Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (v.29). In die Bybel is sien en glo teenoorgesteldes:

 

“Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7).

 

“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1).

 

“vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (1 Petrus 1:8-9).

 

Pasop dat jy nie ’n verkeerde afleiding maak nie. Geloof is nie ‘n blinde sprong in die donker nie: ‘Ons weet nie of hierdie dinge so is nie, maar glo dit in elk geval en hoop vir die beste.’ Nee. Dis wat evolusie is. Daar is geen feite op die tafel nie, en tog glo mense dit. Ware geloof is gebasseer op feite. Ons het nog nooit vir Julius Caesar gesien nie, maar daar is genoeg bewyse sodat ons glo hy het werklik bestaan. Net so met Jesus se opstanding. Al het ons dit self nie gesien nie, was daar ‘n paar honderd ooggetuies. Op grond van hierdie en baie ander bewyse glo ons. Dít is wat v.29 beteken. As die feite verkeerd bewys kan word, dan is ons geloof tevergeefs:

 

12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? 13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; 15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. 16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” (1 Korintiërs 15:12-19).

 

As ons glo sonder om te sien, moet ons nie saam met die charismate en Fariseërs soek na visioene en tekens nie (Matteus 12:39). Jy hoef nie ‘n hemelreis mee te maak om te glo nie, want “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (v.29). Sien dan vir Jesus in die Skrif, glo die feite, bely Hom as Here en God, en oorkom jou twyfel (v.28). “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9-10). In die hemel sal jy, soos Tomas, die merke in sy hande en sy sy sien (Openbaring 1:7, 4:6). Maar daardie tyd is nie nou nie.

 

Volgens oorlewering het Tomas die evangelie in Indië gepreek, en is hy daar met ‘n spies deurboor (John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, p.6). Tomas het tot die einde toe geglo. Hy het waarlik beweeg van twyfel tot geloof.

 

 

[1] Die feit dat Tomas (en die ander) getwyfel het, wys vir ons dat die opstanding nie ‘n hallusinasie was nie. Die dissipels het nie die storie opgemaak nie. Hulle het koue en harde feite gesoek om hulle te oortuig.

Ons het vir Jesus gesien!

Emmaus disciples

Een man in ‘n charismatiese kerk het vir my gesê:  ‘Een oggend toe ek stiltetyd hou, het ek voete langs my gesien.  Toe ek opkyk was dit Jesus wat aan my verskyn het.’  Onder charismate is dit tipies om sulke dinge te hoor.  Dit is asof hulle dink die Skrif is nie genoeg om soet gemeenskap met Jesus te ervaar nie.  ‘Daar moet iets meer wees as net die Bybel,’ dink hulle.  Maar Lukas 24 leer anders.

 

13 En twee van hulle was dieselfde dag op pad na ‘n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. 14 En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. 15 En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. 16 Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. 17 En Hy sê vir hulle:  Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? 18 En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom:  Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? 19 En Hy sê vir hulle:  Watter dinge?  En hulle antwoord Hom:  Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; 20 en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. 21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. 22 Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; 23 en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook ‘n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. 24 En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.

 

25 En Hy sê vir hulle:  O Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? 27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. 28 Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan; 29 maar hulle het by Hom aangedring en gesê:  Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly. 30 En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. 31 Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32 En hulle sê vir mekaar:  Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? 33 Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was, 34 wat sê:  Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn. 35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.”

 

Toe oë (v.13-24)

Kleopas en nog een van Jesus se dissipels het op die Sondag van sy opstanding Emmaus toe gestap (v.18, 13, 1).  Hulle was Jerusalem toe vir die Paasfees en het nou teruggekeer huistoe (v.29).  Emmaus was omtrent 11 km noord-wes van Jerusalem.  Hulle sou ‘n goeie twee en half ure gestap het.

 

Terwyl hulle so gestap het, het hulle oor Jesus en sy kruisdood gepraat (v.14).  Skielik het Jesus nader gekom, maar omdat God hulle oë ‘gesluit’ het, het hulle Hom nie herken nie (v.15-16, cf. 9:45).  Jesus het geweet wat hulle dink, voel en bespreek.  Nogtans het Hy vir hulle gevra:  ‘Waaroor praat julle?’ (v.17).  Hy wou gehad het hulle moes uitpraat.  Die dissipels was verbaas:  ‘Die hele Jerusalem weet wat hierdie naweek gebeur het.  Hoe weet jy dan nie?  Kuier jy net vir die dag?’ (v.18).  Jesus het gemaak of Hy nie weet wat gebeur het nie en sê toe:  ‘Watter dinge?’ (v.19).  Hy wou hê hulle moes praat, en hulle doen dit toe ook:

 

‘Die dinge aangaande Jesus van Nasaret.  Hy het baie wonderwerke gedoen en met gesag gepreek.  God en die volk het Hom as ‘n kragtige profeet erken.  Maar die Joodse leiers het nie, en het Hom aan die Romeine oorgelewer.  Dié het Hom soos ‘n misdadiger gekruisig.  Ons het so gehoop dat Hy die Messias was wat ons van Romeinse onderdrukking sou red.  Ons weet dat Hy regtig ‘n profeet was, maar het ons misgis om te dink dat Hy die Messias is.  Dis nou al die derde dag na sy dood.  Alle Jode weet mos dat die siel net vir drie dae ná die dood rondhang en daarna na die doderyk toe afdaal.  Daar is nou geen meer hoop nie – al het Hy ook gesê dat Hy op die derde dag uit die dood sou opstaan (18:33).  Vroeg vanoggend was ‘n paar van die vroue graf toe.  Die graf was leeg.  Hulle het vertel hoe engele aan hulle verskyn het om te sê Jesus leef.  Petrus en Johannes het self die graf gesien en bevestig dat dit leeg is.  Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie (v.19-24).’

 

Wat ‘n les.  Jesus kan by jou wees sonder dat jy Hom herken (v.15-16).  Jy kan die Skrif lees, na Bybelse prediking luister, en die nagmaal gebruik, sonder dat jy met Jesus ontmoet.  Moet dan nie net die Bybel lees nie, maar bid vir ‘n ontmoeting met Jesus:  “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.” (Psalm 119:18).  “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Johannes 14:21).  As jy nie met Jesus ontmoet in jou stiltetyd, deur die prediking, en aan die nagmaaltafel nie, sal jy in die gat van depressie bly.  Omdat jy Hom nie hiér ontmoet nie, sal jy ‘meer’ wil hê.  Jy sal meer geïntriseerd wees in boeke oor mense wat (sogenaamd) hemel toe was of visioene gesien het, as in die Bybel.  Dalk sal jy self hierdie ervarings wil hê, en die Bybel eenkant toe skuif.

 

Oop oë (v.25-35)

Jesus het die twee dissipels met liefde bestraf:  ‘Julle voel verkeerd, omdat julle verkeerd dink en glo. (v.25).  Daar is nie net ‘n paar tekste wat sê dat die Messias móés ly, opstaan, opvaar en verheerlik word nie.  Die hele Ou Testament is vol daarvan.  Moses en al die ander profete het dit voorspel (byvoorbeeld Eksodus 12, Psalm 22, Jesaja 53).’

 

Om hulle te toets het Jesus gemaak of Hy wou voortreis (v.28).  Hy wou sien of hulle die profesieë geglo het.  Wou hulle nog van die Woord gehoor het?  Hulle wou en het gevra dat Hy by hulle huis moes oornag.  Buitendien was dit al amper donker.  Om in die nag te reis was gevaarlik – veral omdat daar wilde diere en rowers was (v.29).  Jesus het na hulle huis toe gegaan.  Hulle het aangesit vir aandete.  Jesus het vir die kos gedank, die brood gebreek, en dit vir hulle gegee.  Toe hulle oë ‘oopgaan’ en hulle Hom herken, het Hy verdwyn (v.30-31).  In sy opstandingsliggaam kon Hy verskyn, verdwyn, en selfs deur mure loop (Johannes 20:19).  Maar die opgewondenheid het nie begin toe hulle Hom herken het nie.  Op die pad reeds het Hy hulle oë geopen om die Skrif te verstaan, sodat hulle harte in hulle gebrand het (v.32).  Hulle het geweet dat dit gevaarlik was om in die nag te reis, maar nou het hulle haastig na Jerusalem toe teruggehardloop om vir die ander te vertel:  Ons het vir Jesus gesien!  Maar voordat hulle kon praat het die elf apostels vir húlle gesê:  ‘Jesus het régtig opgestaan en vanmiddag aan Petrus verskyn!’ (v.33-34, cf. 1 Korintiërs 15:5.  Ek wonder hoe moes Petrus gevoel het – veral nadat hy vir Jesus verloën het?).  Kleopas het vir die elf vertel hoe Jesus hulle op die pad gehelp het om die Ou Testament te verstaan; hoe Hy die Woord oopgemaak het; hoe hulle besef het dat die Skrif sy lyding, kruisdood en opstanding voorspel het.  Hy het ook vertel hoe hulle Jesus in die breking van die brood herken het (v.35).

 

Ons moet leer om te grawe in die myn van die Skrif met die pik van gebed.  Ons moet glo dat God die juweel van Jesus vir ons sal wys.  Jesus self moet deur die Heilige Gees die Bybel vir ons uitlê (v.27, 31-32).  In v.44-45 lees ons:  “En Hy sê vir hulle:  Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.  Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”  Ons moet glo dat Hy dit vir ons duidelik sal maak, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6).  As ons kleingelowig is soos die dissipels, sal Hy Homself nie aan ons bekendmaak nie.  Ons moet eers sy Woord glo, voordat ons Hom kan ‘sien’.  Wanneer die Here Homself dan aan jou bekend gemaak het, sal jy nie anders kan om vir mense te vertel nie.  Jy sal dit nie vir jouself kan hou nie.  Jy hoef nie ‘n visioen te sien of ‘n hemelreis mee te maak om vir Jesus te ervaar nie.  As jy Hom in die Skrif ‘sien’ sal jou hart aan die brand wees (v.32).  Petrus praat van Jesus, “vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (1 Petrus 1:8-9).

 

Toe Archimedes die wet van verplasing ontdek het, het hy uit die bad uitgespring, naak in die straat rondgehardloop, en uitgeroep ‘Eureka!  Eureka!’ (‘Ek het gevind!  Ek het gevind!’).  As God jou oë oopmaak wanneer jy die Bybel lees, het jy meer rede as Archimedes om uit te roep:  Ons het vir Jesus gesien!  Ons het vir Jesus gesien!

Die skande van die kruis

Three crosses

Verbeel jou jy is in ‘n konsentrasie kamp.  Hoe sal jy voel as die soldate jou klere uittrek, jou naak ten toon stel voor die ander soldate en gevangenes, en vir jou lag?  Dink dan hoe moes Jesus gevoel het.

 

32 En toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra. 33 En hulle het gekom op ‘n plek wat Gólgota genoem word—dit beteken:  Plek van die Hoofskedel— 34 en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie. 35 En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is:  Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp. 36 En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak. 37 En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel:  DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE. 38 Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter— en een aan die linkerkant.

 

39 En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud 40 en sê:  U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself!  As U die Seun van God is, kom af van die kruis!

 

41 En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: 42 Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.  As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. 43 Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê:  Ek is die Seun van God.

 

44 En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.” (Matteus 27:32-44).

 

Die soldate (v.32-38)

Die soldate het vir Jesus uit die stad uitgelei (v.32).  Hulle boodskap was duidelik:  Jesus is nie welkom in hierdie wêreld nie; Hy moet buite die stad sterf:  “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.  Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.  Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” (Hebreërs 13:12-14).  In die Ou Testament moes onrein mense buitekant die kamp bly (Numeri 5:1-4).  Jesus het ons sonde op Hom geneem en is beskou as iemand wat onrein is:  Hy moes buitekant die stad sterf.

 

Mense wat gekruisig is moes die dwarsbalk van die kruis tot by die plek van teregstelling dra.  Maar Jesus was so swak, dat Hy dit nie eers kon dra nie.  Die Romeinse soldate het vir Simon van Sirene in Libië, Noord-Afrika, gegryp en gedwing om Jesus se kruisbalk te dra (v.32).  Hieroor was hy seker ewig dankbaar, want uit Markus 15:21 en Romeine 16:13 blyk dit dat hy en sy gesin   Christene geword het.  Hoekom anders sou Markus sê hy was die vader van Aleksander en Rufus?  Markus het geweet dat sy lesers (Christene) vir Aleksander en Rufus – mede-gelowiges – geken het.

 

Uiteindelik het Jesus by Golgota aangekom.  Die naam beteken:  Plek van die hoofskedel.  Dit mag wees dat die klein heuwel soos ‘n kopbeen gelyk het.  Of miskien word dit so genoem omdat baie mense hier tereggestel is.  ‘n Skedel is immers vandag nog ‘n simbool van die dood.  Dis ironies dat Jesus hiér gekruisig is, want dis by die plek van die kopbeen (simbolies van die dood) wat Hy die dood oorwin het (v.33).

 

Die soldate het vir Jesus ‘n mengsel van asyn en galbitter mirre gegee om die pyn te verdoof (v.34, Markus 15:23, Psalm 69:22).  Hy het dit egter nie gevat nie.  Hy het in ons plek gesterf en wou dus die volle pyn en hel verduur.  Niemand van ons sal ooit kan sê:  ‘Jesus verstaan nie my pyn nie.’  Hy sal antwoord:  ‘Ek het nie die verdowingsmiddel gevat nie.  Ek verstaan heeltemal.’

 

Oor die fisiese lyding van die kruis self, sê die Bybelskrywers eenvoudig:  “hulle [het] Hom gekruisig” (v.35).  Die Bybel beskryf nie in detail hoe kruisiging gewerk het, of watse aaklige lyding daarmee gepaard gegaan het nie.  Die fokus van die Bybel is op sy emosionele en geestelike lyding.  Óns teks brei uit op die emosionele lyding; op die skande van die kruis.

 

Daar was vier soldate by Jesus se kruis.  Hulle het sy sandale, kopdoek, gordel, en buitekleed onder mekaar verdeel.  Omdat die onderkleed van een stuk lap gemaak is, het hulle lootjies getrek om te sien wie dit sou kry (v.35, Johannes 19:23-24).  So het hulle – sonder dat hulle dit geweet het – Psalm 22:19 vervul.  Om skande te maak het die Romeine hulle slagoffers naak laat sterf.  Jesus het nie ‘n lap om sy middel gehad toe Hy aan die kruis gehang het nie.  Hoekom nie?  Toe Adam en Eva sondig en besef dat hulle naak was, het hulle hul naaktheid met vyeblare probeer bedek.  God het egter nie hulle poging aanvaar nie.  Hy het toe diere se bloed laat vloei om vir hulle klere van vel te maak (Genesis 3:20).  Nou sterf die Seun van God naak aan ‘n kruis om die naaktheid van ons sonde te bedek (Openbaring 7:13-14, 19:8).

 

Die soldate het by Jesus se kruis waggehou (v.36).  Dit hét al gebeur dat ‘n gekruisigde se vriende hom van die kruis kom afhaal het, voordat hy dood is.  So ‘n persoon sou die kruis oorleef het.  Die soldate wou keer dat Jesus se dissipels hom van die kruis sou afhaal.

 

Bokant sy kop was ‘n bordjie wat die klag teen Hom aangedui het:  Dit is Jesus, die Koning van die Jode (v.37).  Die klag was in Grieks, Hebreeus, en Aramees geskryf, sodat almal wat verbygeloop het, dit kon verstaan en gewaarsku wees:  ‘Dít is wat met jou sal gebeur as jy in opstand teen die keiser kom.’ (Johannes 19:20).  Om teen die keiser op te staan was strafbaar met die dood.  Pilatus wou die Jode terg toe hy die bordjie laat opsit het, maar min het hy geweet hoe waar sy woorde was.  Jesus was inderdaad die Koning van die Jode; die Messias (Psalm 132:11).  Hy was eintlik die Koning van die hele wêreld.

 

Hulle het vir Jesus in die middel gekruisig met een misdadiger aan sy linkerkant, en een aan sy regterkant.  Die suggestie was duidelik:  Jesus is die grootste misdadiger (v.38).  Weereens het hulle, sonder hulle wete, die Skrif vervul.  Jesaja 53:12 sê dat “Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was”.

 

As jy vir Jesus wil volg sal jy ook deur die wêreld ‘uitgeskuif’ word (v.32).  As jy nie saam met hulle sondig nie, sal hulle jou uitskuif.  As jy nie kroek om wins te maak nie, sal hulle jou uitskuif.  As jy nie glo wat die handboek oor evolusie sê nie, sal die onderwyser jou stief behandel en uitskuif.  Mense sal sê jy is weird.  Baie Afrikaners sê dat hulle Christene is, maar as jy ‘n radikale stand inneem vir Jesus en die Bybel, sal hulle skaam voel om met jou te assosieer.  Sulke mense sal sê jy kan lieg, kliënte omkoop, dronk word, immorele seks hê, en nogsteeds ‘n Christen wees.  As jy nie saam met hulle wil sondig nie, sal hulle jou spot:  ‘Ooo, DOMINEE!  Loop jy met die Bybel onder die arm?’  Verwag dit maar.  Jesus het gewaarsku:  “As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!” (10:25).  As jy nooit teenkanting van ongelowiges kry nie, is dit seker omdat jy een van hulle is, of omdat jy nie regtig ernstig uitstaan vir Jesus nie.

 

Die verbygangers (v.39-40)

Die pad na Jerusalem toe het naby die kruis verbygeloop.  Mense kon maklik die klag teen Jesus gelees het (Johannes 19:20).  Die verbygangers wat oppad was na die Paasfees toe, het hulle koppe veragtend geskud en vir Jesus gelaster (v.39).  So het hulle Psalm 22:8 vervul.  Tydens Jesus se verhoor het twee vals getuies gesê:  “Hierdie man het gesê:  Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou.” (26:61).  Hulle het Jesus se woorde en bedoeling verdraai.  Die insident is in Johannes 2:19-22 opgeteken:  “Jesus antwoord en sê vir hulle:  Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig.  En die Jode sê:  Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?  Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.  En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.”  Jesus het gesê dat húlle – nie Hý nie – die tempel sou afbreek.  Hy sou dit in drie dae weer opbou.  Dit het inderdaad gebeur toe Jesus op die derde dag uit die dood uit opgestaan het.  Die verbygangers het êrens hierdie vals klag gehoor en dit nou herhaal:  “U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself!” (v.40).

 

Red Uself!?  As Jesus Homself gered het sou ons nooit gered kon word nie.  Die duiwel het baie hard probeer om Hom te laat sondig:  “As U die Seun van God is, kom af van die kruis!” (v.40).  Hy het Jesus in die begin van sy bediening versoek met:  “As U die Seun van God is…” (4:3, 6).  Maar weer het Jesus die versoeking weerstaan.

 

As jy ernstig is oor jou verhouding met die Here is, sal mense op sigbare maniere hulle veragting wys.  Hulle sal hulle koppe skud, arms vou, oë rol, en wenkbroue lig.  Hulle sal ook jou woorde verdraai en leuens aanhaal soos wat hulle met Jesus gedoen het.  In daardie oomblik moet jy soos Jesus wees.  Hy het stilgebly en nie op hulle aantygings gereageer nie.  Hy het vir sy vyande gebid:  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34).

 

Die Sanhedrin (v.41-43)

Die owerpriesters, skrifgeleerdes, ouderlinge en ander Raadslede het vir Jesus gespot (v.41).  Die geestelike en godsdienstige leiers het Hom gelaster:  ‘Hy kon ánder mense van hulle siektes en selfs van die dood red (die Sanhedrin het dus sy wonderwerke erken), maar Homsélf kan Hy nie red nie!’ (v.42).  Weereens moet ons bly wees dat Hy Homself nie gered het nie, want anders sou ons in die hel gewees het.’

 

Verder het hulle gesê:  ‘Ooo, jy is mos die Koning van Israel’ – hulle was reg – ‘Kom van die kruis af; dán sal ons glo dat jy die Messias is’ (v.42).  Hulle het hulle self bedrieg.  Hulle sou nie geglo het as Jesus van die kruis afgekom het nie.  Toe Jesus vir Lasarus uit die dood uit opgewek het, het hulle nie geglo nie.  Hulle het Hom net meer gehaat.   Toe Jesus uit die dood uit opgestaan het, het hulle vuil geld onder die tafel deurgestoot en die storie verdraai (28:11-15).

 

Hulle het ook gesê:  ‘As God regtig jou Vader is sal Hy mos nie dat jy so ly nie?  Jy sê:  ‘Ek is die Seun van God.’  Wel, as dit so is, laat God jou dan nou van die kruis afhaal!’ (v.43).  Hulle het Psalm 22:9 aangehaal.  Daar het Dawid voorspel dat Jesus se vyande dit vir Hom sou sê.  Hulle het dus teen hulle sin die Skrifte vervul en so gewys dat Jesus die Messias is!

 

Dis erg genoeg as ongelowiges jou uitlag.  Maar hoe erg moet dit nie wees as die geestelike leiers teen jou staan nie?  Party mense wat saam met jou werk is geestelike leiers in hulle kerke:  ouderlinge, eks-predikante, leke-predikers.  En dit is dikwels húlle wat sê jy’s primitief as jy glo dat:

 

  • Genesis 1-11 geskiedenis is.
  • Jesus die enigste Verlosser is.
  • Die Bybel foutloos is.
  • Die Bybel voldoende is om dronkaards, homoseksueles, en depressiewe mense te help.
  • Daar regtig ‘n plek soos die hel is.

 

As dit met jou sleg gaan sal hulle ook sê:  ‘As jy rég geglo het sou jy mos nie so swaargekry het nie?  Jou lyding bewys dat God kwaad is vir jou.’ (v.43).

 

Die rowers (v.44)

Beide rowers het vir Jesus gespot (v.44).  Hulle het seker gehoor wat die verbygangers en Sanhedrin gesê het, en kon dalk selfs die aanklag teen Hom gelees het.  Later het een van die rowers besef dat hy besig is om te sondig.  Hy het verstaan dat Jesus onskuldig is en hulle skuldig.  Hy het God gevrees.  Hy het geweet dat die bordjie bo Jesus se kop die waarheid praat:  Jesus was inderdaad die Koning van die Jode; Hy was die Messias.  Die rower het gevra dat Jesus Hom genadig sal wees.  Jesus het sy gebed verhoor en gesê:  ‘Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees.’ (Lukas 23:39-43).

 

Verlede week het iemand ‘n baie donker boodskap vir my gestuur:  “Ek weet dat die Heilige Gees my geleer het om op te hou sê ‘God!’ en ‘Jesus!’  Dit was deel van my woordeskat.  Toe ek bekeer is het Hy my, elke keer as ek die [lasterende] woorde gebruik het, attent gemaak daarop… Lang storie kort:  die Here het my gelos.  Hy luister nie meer as ek bid nie.  Ek voel hoe Hy wegkyk as ek bid.  Ek weet ook Hy luister nie na my as ek omverskoning vra nie.  Ek het mos kwaad geword en lelike dinge gesê.  Maar seker meer as dit:  my aanhoudende sonde.  Ek weet ek het seker teen die Heilge Gees gesondig.  Hy wil my nie meer vergewe nie.  Ek vra omverskoning (en vra en vra), maar niks gebeur nie…Ek wens eerder ek het nooit die Here ontmoet nie (bekeer nie); dan sou dit nie vir my so erg gewees het nie.  Nou weet ek ek het nêrens om heen te gaan nie.  Ek dink dis amper erger as die hel self:  om te weet jy gaan nou hel toe, en te weet jy het Jesus in die steek gelaat.  Al wat ek weet is dit:  Ek is in die moeilikheid.”

 

Ai!  Ek voel so jammer vir hierdie man en wil probeer om hom te help.  Vers 44 bewys vir ons:  Jesus kan selfs mense red wat Hom gespot en belaster het.  Paulus sê dat hy “vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was.” (1 Timoteus 1:13).  As jý dink dat Jesus jou nie kan vergewe nie:  moenie wanhopig wees nie.  Maar moet ook nie opsetlik aanhou sondig nie.  Moenie sê:  ‘Ek sal aanhou om te sondig en sal, soos hierdie rower, aan die einde van my lewe tot bekering kom’ nie.  Het jy vergeet dat daar nie net een rower was nie?  Daar was ‘n ander rower wat nié tot bekering gekom het nie, en hel toe is.

 

Verbeel jou jy is ‘n jong Einstein.  Die onderwyseres wys na jou en sê voor die hele klas:  ‘Hierdie kind is die domste in die skool.  Kom ons almal lag vir hom.’  Hoe sal jy voel?  Skaam né?  Maar hoe sal jy voel as jy weet dat jy eendag die beste wetenskaplike ter wêreld sal wees?  Jy sal sleg voel, maar die spottery sal nie so erg wees nie.  Jy sal die skande kan verduur.  En so was Jesus:  Hy het die skande van die kruis verag vir die vreugde wat aan Hom voorgehou is (Hebreërs 12:2).  Wees soos Hy wanneer jy ter wille van sy Naam gespot en uitgelag word.  Jy weet mos watse beloning vir jou wag.

‘n Portret van die kruis

Bread and wine

Oor die jare is daar baie films oor Jesus gemaak.  Tog is die enigste sigbare herinnering wat Jesus nagelaat het, die nagmaal.  Dis as’t ware ‘n portret van die kruis.

 

14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15 En Hy sê vir hulle:  Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly. 16 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie. 17 En toe Hy ‘n beker geneem het, dank Hy en sê:  Neem dit en deel dit onder julle. 18 Want Ek sê vir julle:  Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê:  Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê:  Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. 21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen.” (Lukas 22).

 

Die Pasga (v.14-18)

Jesus was in die bo-vertrek saam met sy dissipels (v.11-13).  Volgens Midde-Oosterse gebruik, het Hy op sy een sy langs die plat tafel gelê (v.14).  Matteus sê vir ons dit was aand (Matteus 26:20).  Die nagmaal moes uitbeeld dat die Lig van die wêreld deur die duisternis oorweldig is (Johannes 3:19, 8:12, Lukas 22:53).  Johannes speel met woorde wanneer hy skryf:  “Toe hy [Judas] dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan.  En dit was nag.” (Johannes 13:30).

 

Jesus het ernstig begeer om hierdie laaste Pasga saam met sy dissipels te eet.  Hy het dit begeer juis omdat dit die laaste feesmaal saam met sy dissipels sou wees.  Hy sou eers weer in die hemel saam met hulle aan tafel sit om sy dood te onthou (v.15-18, Matteus 8:11).  Die tipiese orde en formaat van die Pasga sou soos volg wees:

 

[1] Iemand het ‘n seën- en dankgebed gedoen.  Daarna het hulle die eerste beker wyn gedrink.  Hulle het kruie en sous vir voorgereg gehad.

 

[2] Iemand in die huis het die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte vertel:  ‘God het sy volk beveel om in hulle huise te bly.  Hulle moes ‘n lam slag en die bloed teen die deurkosyne smeer met ‘n hissoptakkie.  Die lam moes gebraai word.  Hulle moes alles opeet.  Daar was nie tyd vir die deeg om te gis nie.  Hulle het dus ongesuurde brood met bitter kruie geëet.  Hulle moes haastig uit Egipte wegkom.  Die aand voor hulle vertrek het God die eersgeborenes van Egipte doodgemaak.  As God bloed op die deurkosyne gesien het, het Hy nie die eersgeborenes in daárdie huise getref nie.  Die Israeliete het voor sonop opgepak en getrek.’  Die huisgesin het dan Psalm 113 gesing en die tweede beker wyn gedrink.

 

[3] Na nog ‘n gebed het die gesin ‘n gebraaide lam, ongesuurde brood en bitter kruie geëet.  Weer het iemand gebid.  Daarna is die derde beker wyn gedrink (v.17).

 

[4] Die huisgesin het Psalm 114-118 gesing en die vierde beker wyn gedrink (v.20, Matteus 26:30).

 

Jesus het die Pasga vervul.  Hy is die Paaslam wat geslag is (1 Korintiërs 5:7).  Die Paaslam moes vir 5 dae gehou word voor die Fees (Eksodus 12:3).  Jesus het 5 dae voor die Paasfees in Jerusalem ingekom (Johannes 12:1, 12).  Die Paaslam moes met skemer geslag word (Eksodus 12:6).  Jesus het 15:00, die tyd van die aandoffer, sy asem uitgeblaas en gesterf (Lukas 23:44-46).  Die doodsengel het die bloed op die deurkosyne gesien en nie die Israeliete se eersgeborenes doodgemaak nie (Eksodus 12:13).  God sien ons in Christus en veroordeel ons nie (Romeine 8:1).  Die Israeliete het uit Egipte uitgetrek (Eksodus beteken uittog).  Jesus het gekom om ons uit die slawerny van sonde te bevry (9:31, die Griekse woord hier is eksodus).

 

Net soos Jesus, moet jý ‘n sterk begeerte hê om hierdie ete saam met Hom te hê (v.15).  Begeer om gemeenskap met Hom te hê in die nagmaal en in die hemel.  Moenie, wanneer jy by ‘n diens opdaag en die tafel gedek sien, sê:  ‘Oooo!  Ek het vergeet dis nagmaal!’ nie.  Berei jou hart voor deur gebed en belydenis.  Vra vir ‘n diep liefde, toewyding en begeerte na Christus.  Dank God vir Jesus se kruisdood vir jou.

 

Die nagmaal (v.19-23)

In hierdie verse stel Jesus die nagmaal in.  Elke woord is gelaai met betekenis:

 

  • Hy het brood vir sy dissipels gegee.  Hy self is die Brood van die Lewe wat ons versadig (Johannes 6:35).
  • Hy het sy Vader gedank vir die brood, en daardeur eintlik gedank vir ons redding deur sy kruisdood.
  • Hy het die brood gebreek.  Maar hoekom, as Johannes 19:33, 36 duidelik sê dat Jesus se bene nie gebreek is nie?  Jesaja 53:10 sê dat die Vader Hom gebreek het vir ons sondes.  Toe God die verbond met Abram gemaak het (Genesis 15), moes hy die diere in die helfte sny.  Sonder woorde het God deur hierdie aksie gesê:  ‘As Ek hierdie verbond breek sal Ek afgesny word van die land van die lewendes; sal Ek gebreek word’.  As gevolg van ons sonde het ons verdien om so in die helfte gesny te word; om afgesny te word (Jeremia 34:18-19).  Maar Jesus se liggaam is ‘gebreek’; is in ons plek afgesny van die land van die lewendes.
  • Jesus self het die brood vir sy dissipels gegee.  Niemand het self die brood gevat nie.  Niemand het Jesus se lewe van Hom af geneem het nie.  Hy het dit vrywilliglik opgeoffer (Johannes 10:18).
  • Jesus het die brood vir sy dissipels gegee.  Dit impliseer dat sy kruisdood plaasvervangend was – in ons plek.
  • Jesus het die brood vir hulle gegee.  Die nagmaal was nie vir ongelowiges nie.  Jesus het sy lewe vir sy uitverkorenes, sy kerk, sy skape afgelê (Efesiërs 5:25, Johannes 10:11).
  • Jesus het gesê hulle moet die nagmaal gebruik tot sy gedagtenis (v.19).  Hulle moes dit gebruik totdat Hy in sy Koninkryk kom (v.18, 1 Korintiërs 11:26).  Dan is die Heilsleer (Salvation Army) verkeerd om nie die nagmaal te vier nie.
  • Wanneer Jesus van die brood en beker praat as sy liggaam en bloed, (dit is my liggaam) gebruik Hy beeldspraak.  Die Katolieke glo dat die brood en wyn regtig in Jesus se liggaam en bloed verander wanneer die Priester daaroor bid (transsubstansiasie is die groot woord).  Dis onsin.  Niemand glo Jesus het takke en blare of is van hout gemaak, omdat Hy gesê het:  ‘Ek is die deur vir die skape…Ek is die ware wingerd’ nie (Johannes 10:7, 15:1).  Onthou ook Dawid se woorde:  “Toe het die drie helde deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar hy wou dit nie drink nie, en het dit tot eer van die HERE uitgegiet en gesê:  Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen!  Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?  En hy wou dit nie drink nie.  Dit het die drie helde gedoen.” (2 Samuel 23:16-17).  Dawid praat van die water as sy dapper soldate se bloed.  Almal weet hy gebruik beeldspraak.  Niemand dink die water was regtig bloed nie.  Jesus gebruik dieselfde vorm van spraak.  Die brood en wyn kan nie letterlik sy liggaam en bloed wees nie, want Hy staan in lewende lywe voor hulle oë.
  • Jesus het die beker vir sy dissipels gegee (v.20).  ‘n Paar ure later (in die tuin van Getsemane) vra Jesus dat die beker by Hom sal verbygaan (v.42).  In die Ou Testament praat die beker van God se oordeel (Jeremia 25:15-27).  Jesus het die beker van oordeel gedrink, sodat ons die beker van verlossing kan drink.
  • In die beker is die vrug van die wingerd.  In die Ou Testament is Israel die wingerd wat suur druiwe dra; wat nie die vrug van bekering lewer nie (Jesaja 5).  God se vyande is soos druiwe wat in ‘n parskuip gegooi en vertrap word (Jesaja 63).  Jesus is die ware wingerd (Johannes 15).  Hy werk die vrug van bekering in ons en word namens ons vergetrap in God se parskuip.
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  Jesus se bloed praat altyd van sy dood.  Sy bloed red ons van sonde en bring vergifnis.  Ons verdien om te sterf, maar Hy kry die straf namens ons.  Die bloed in Eksodus 12:22 het gewys:  ‘Ons verdien om te sterf, maar ‘n onskuldige lam sterf namens ons’.  Sonder bloedvergieting kan sonde nie vergewe word nie (Hebreërs 9:22).  Jesus se bloed is dan nie ‘n towerformule nie.  Sy bloed is gestort om jou van God se toorn te beskerm; nie om jou huis van diewe of jou kar van ongelukke te beskerm nie (‘Here, ek pleit die bloed oor my kar’).
  • Die beker is die nuwe testament in sy bloed.  ‘n Testament raak eers geldig as die een wat die testament gemaak het doodgaan (Hebreërs 9:16-18).  Ons kan nou die hemel as erfdeel verkry (soos wat die nuwe testament stipuleer), omdat Jesus gesterf het.
  • Judas se hand was saam met Jesus s’n in die sousbeker (v.21, Markus 14:20).  Dit was die teken dat hý vir Jesus sou verraai.  God het die verraad en kruisdood bepaal en voorspel (v.22, Psalm 41:10, Johannes 13:18, Handelinge 4:27-28).  Maar tog was Judas verantwoordelik vir sy eie sonde (v.22).  Niemand het vir hom gesê om te sondig nie.  Hy het self gekies.  Omdat Judas geweet het wat reg is en nogsteeds sy rug daarop gedraai het, is sy straf soveel groter.  Dit sou beter gewees het as hy nooit gebore is nie (Markus 14:21).

 

Jesus se liggaam is gebreek, sy bloed is gestort vir ons sonde.  Omdat dít so is moet ons nie sonde ligtelik opneem nie.  Ondersoek jou hart, bely jou sonde en bekeer jou daarvan voordat jy aan die nagmaal deelneem (1 Korintiërs 11:28).  Moenie soos Judas skynheilig wees as jy by die tafel aansit nie.  Judas het sy bose motiewe so goed weggesteek, dat geeneen van die ander dissipels eers vermoed het hý is die verraaier nie.  Toe Jesus sê dat een van sy dissipels Hom sou verraai, het niemand gesê:  ‘Is dit Judas?’ nie, maar ‘Is dit ek?’ (Matteus 26:22).  God sal jou straf as jy met Judas se hart by die tafel aansit (1 Korintiërs 11:29-32).

 

Omdat die nagmaal net vir gelowiges bedoel is (v.19, julle), moet ons seker maak dat ons kinders dit nie ligtelik gebruik nie.  Ons kinders moet die evangelie glo, die vrug van bekering dra, en verstaan waaroor die nagmaal gaan, voordat ons die sakrament vir hulle gee.  As jy ‘n gelowige is moet jy dit gebruik.  Jesus het dit beveel (v.19).  Gelowiges wat sê:  ‘Ek sondig te veel en sal die nagmaal gebruik as ek beter lewe’, is soos ‘n siek persoon wat sê:  ‘Ek is siek en sal die dokter besoek as ek beter word’.  Die Hemelse Geneesheer het mos juis die nagmaal ingestel, sodat jy sonde sal haat en vergewe kan word.

 

Beleef dan met al vyf jou sintuie hierdie portret van die kruis.  Smaak en ruik die soet druiwesap; dink aan die soet nuwe lewe wat Jesus vir jou gee.  Smaak en ruik die ongegiste brood; onthou dat Jesus die suurdeeg van sonde uit jou hart wil verwyder (1 Korintiërs 5:6-8).  Sien die rooi druiwesap; onthou dat Jesus sy bloed gestort het vir jou sonde.  Hoor hoe die ongesuurde brood onder jou tande breek; onthou dat sy liggaam vir jou gebreek is.  Voel hoe die druiwesap jou droë keel natmaak; dink daaraan dat Hy jou geestelike dors les en jou honger stil (Johannes 6:53-56).

Waar het nasies en tale begin?

Nations

‘n Tydjie gelede het ‘n ek en twee ander mans gesels oor die oorsprong van velkleure, oë, en neuse in verskillende nasies.  ‘Hoe het dit begin?’ het ons gevra.  Genesis 10:1-11:9 gee die antwoord.

 

Nasies (Genesis 10)

Sommige van die name in hierdie hoofstuk is vaag.  Kommentators verskil oor waar party van die plekke is.  As jy ‘n volledige verduideliking van hierdie name wil hê, kan jy creation.com besoek en ‘The sixteen grandsons of Noah’ lees.

 

[i] Jafet (v.2-5) se nageslag het versprei na Turkye, Wallis, Frankryk, Armenië, Ukraïne, Iran, Griekeland, Spanje, Siprus, Rodus, Rusland en Joego-Slawië.  Hoe weet ons dit?  Die naam Jawan (v.2) is die Hebreeuse woord vir Griekeland (Joël 3:6).  Madai (v.2) het later Medië geword.  Die moderne naam vir Medo-Persië is Iran.  Josefus sê dat die Galasië-streek in Turkye die antieke Gomer is (v.2).  Die Galliërs (Eng. ‘Gauls’ – Asterix en Obelix vir die wat nie weet nie) het later Frankryk toe getrek.  Van Frankryk af het hulle Wallis toe getrek.  Die Walliese taal word vandag nog Cymraeg of Gomeraeg genoem.

 

So kan ons een vir een deur die name werk en wys waar hierdie groepe heen versprei het.  ‘n Klompie van die gebiede in v.2-4 is eilande of kuslande.  Daarom sê v.5:  “uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.”  Van hierdie streke sê die Psalm 72:10:  “Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied [vir die Messias]”.  In Jesaja 49:1 sê die Messias:  “Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is!”  In 42:12 sê die profeet:  “Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!”  Die heidene sal voor Jesus buig.  En ’n klomp van hulle sal teen Hom rebelleer:  “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog (Genesis 10:2), om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.  En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.” (Openbaring 20:7-9).

 

[ii] Gam (v.6-20) se nageslag het versprei na Etiopië, Egipte, Libië, Palestina, Jemen en Irak.  Hoe weet ons dit?  Misraim (v.6) is die Hebreeuse woord vir Egipte (50:11).  Kus (v.6) is die Bybelse naam vir Etiopië (Esegiël 29:10).  Skeba (v.7) word algemeen erken as Jemen (die koninging van Skeba het in 1 Konings 10 vir Salomo besoek).  Die konings van Skeba sal voor Jesus buig (Psalm 72:10).  Ek kan nog voorbeelde noem om die punt te bewys, maar ek glo drie is genoeg.

Table of nations

Nimrod was een van Kus se seuns.  Sy naam beteken ‘rebellie’.  Hy het Babel begin bou, maar misluk (v.10, hfst.11).  Hy het aanbeweeg om Nineve en ander groot stede te bou (v.11-12).  Hy was ‘n geweldadige man en ‘n dapper jagter (v.8-9).  Gam se vierde oudste seun was Kanaän.  Ons weet wie sý nageslag was (v.15-18).  Die Kanaäniete se grens het gestrek van Sidon aan die noordkus van Israel tot by Gasa aan die suidkus.  Vandaar het die grens na die binneland toe gestrek tot by Sodom, Gomorra en drie ander stede suid van die Dooie See (v.19).

 

[iii] Sem (v.21-31) was die oudste seun van Noag (v.21).  Sy kleinseun Eber se kinders is gereken as sy eie (v.21).  Die naam Eber is baie nou verbind aan die naam ‘Hebreër’ in 14:13.  Die skrywer skep afwagting, omdat die Hebreërs uiteindelik God se uitverkore volk word.  Die nageslag van Sem het versprei na Iran, Saudi-Arabië, Jemen, Turkye en Sirië.  Twee voorbeelde is voldoende.  Aram (v.22) is ‘n ander naam vir Sirië (2 Samuel 8:6).  Sana’a, die hoofstad van Jemen, staan ook bekend as Azal.  Die naam is ‘n verbuiging van Usal (v.27).

 

Alle nasies het ontstaan uit Noag en sy seuns (v.1, 32).  Ons kan dan nie roem asof ons nasie beter is as ander nie.  ‘Maar hoekom is die nasies dan so verskillend wanneer dit by velkleur, neuse en oë kom?’ vra iemand.  Die inligting vir ligte en donker velle was in Noag, sy seuns en hulle vroue se DNA.  Mense met ligte velle sou wegtrek uit warm kontinente soos Afrika.  Hulle sou gemakliker aard in noord-Europese lande.  Mense met donker velle sou nie in koue gebiede aard nie.  Hulle het vitamien D nodig, en daarom sou hulle na warmer areas toe getrek het.  Mense in warm areas sou ook groter neusgate ontwikkel om meer suurstof in te neem.  Chinese het kleiner oë as westerlinge.  Hoekom?  Daar is ‘n ligament wat hulle oog ‘toe’ hou.  Alle babas word hiermee gebore, maar op ses maande skeur dit los.  Chinese se ligament skeur nie los nie.  Hulle het ook ‘n dubbel vetlaag bo die oog (westerlinge het ‘n enkel vetlaag).  Kleiner oë sou perfek werk in sneeustorms en sonstrale wat van die sneeu af weerkaats.

 

Geen mens is beter as ‘n ander as gevolg van sy velkleur, of die vorm van sy neus en oë nie.  As ons dan almal dieselfde oorsprong het, mag mense uit verskillende nasies met mekaar trou.  Die enigste verbod wat die Here stel, is dat Christene nie met ongelowiges mag trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Wat jou anders maak is nie jou gelaatstrekke nie, maar God se genade.  God het vir die Israeliete gesê:  “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.” (Deuteronomium 7:7-8).  Moenie in jouself roem nie.  Vergeet van jou Afrikaner trots en roem in die Here wat nasies se grense bepaal het, en wat lande gee aan wie Hy (v.19, 30).  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (Handelinge 17:26).  Uiteindelik sal alle lande en nasies in elk geval onder Jesus se bewind wees:  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (Psalm 72:8).

 

Tale (Genesis 11)

Hoofstuk 11 gebeur nie ná nie, maar týdens hoofstuk 10:  “En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak” (10:25).  Die mense het almal een taal gepraat (v.1).  In 9:1 het God hulle beveel om oor die aarde te versprei.  Hulle wou nie, en het in die laagte van Sinear (in Babilon of moderne Iran, Daniël 1:2) halt geroep (v.2).  Hier het Nimrod sy koninkryk opgerig (10:10).  Daar was nie genoeg bouklippe op hierdie plein nie.  Hulle moes hulle eie stene bak en teer gebruik om dit bymekaar te hou (v.2-3).  Hulle besluit om ‘n stad met ‘n hoë toring te bou – tot by die hemel (v.4).  Hulle wou soos God wees (3:5, Jesaja 14:14).  Hulle wou ander beïndruk en so vir hulleself ‘n naam maak.  Hulle uitmuntende argitektuur sou ander laat vrees.  Niemand sou hulle aanval en hulle uitmekaar dryf nie (v.4)… of so het hulle gedink.  God moes ‘afkom’ om hulle klein torinkie, doer ver, onder op die aarde te sien (v.5).  God het geweet dat die mens vinnig sou vorder as hulle hul kragte kon saamspan en koppe bymekaarsit (v.6).  Deur hulle tale te verwar (‘Babel’) het God die ‘onaantasbare’ mens sonder moeite oor die aarde verstrooi (v.7-9).

 

Ons is nogsteeds soos die mense in Genesis 11.  Ons wil kyk wie die hoogste toring kan bou.  Ons soek bittergraag ons name in die Guinness Book of Records vir die langste, vinnigste of sterkste.  Ons dagdroom oor hoe ander mense ons prys.  Die Here waarsku:  “En sou jy vir jou groot dinge soek?  Soek dit nie” (Jeremia 45:5).

 

Moenie so naïef wees om te dink dat Afrikaans die beste of hemelse taal is nie.  Moenie ‘n hoogmoedige Afrikaner wees wat weier om Engels te praat met die kelner of petroljoggie nie (behalwe as jy regtig nie Engels kánpraat nie).  Soek eerder eenheid met mense van ander tale en nasies.  Hierdie eenheid sal jy net in Jesus vind.  Jesus het immers gesterf, “nie alleen vir die volk [Israel] nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.” (Johannes 11:52).  In Genesis 11 laat God die mense in tale praat om hulle te verdeel.  In Handelinge 2:1-13 laat God mense in ander tale praat om hulle in Christus te verenig.  In die hemel sal mense uit alle nasies en tale volkome een wees in Jesus:  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).  Dis nie ons nasie of kultuur wat ons ander maak as die res van die wêreld nie, maar ons Christen kultuur.  Ons is burgers van die hemel.  Ons denke, woorde en dade verskil van die wêreld s’n (Filippense 3:20-4:9).  Moenie jou eie kop volg (‘n toring bou) om die hemel te bereik nie.  Jesus alleen verbind hemel en aarde met mekaar.

 

Ek het vir my Amerikaanse vriend gevra:  ‘Wat is positief en negatief van die Afrikaanse kultuur?’  Hy het ‘n klompie positiewe dinge genoem.  Sy grootste negatief was dit:  rassisme.  Maar as evolusie waar is, dan is daar plek vir rassisme (sekere nasies het verder gevorder in die evolusie-proses as ander).  Maar as Genesis 10-11 waar is (alle nasies en tale het dieselfde oorsprong) moet rassisme sterf en nooit weer opgewek word nie.

Die pad na geestelike herstel

Road to recovery

11 En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word. 12 En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk:  Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop? 13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat. 14 En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word, 15 en die Leidsman tot die lewe het julle gedood.  God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is. 16 En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.

 

17 En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes; 18 maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly. 19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, 20 en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, 21 Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete. 22 Want Moses het tot die vaders gespreek:  Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. 23 En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. 24 En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig. 25 En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het:  En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word. 26 God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.” (Handelinge 3).

 

Baie mense wat in groot karongelukke is moet rehabilitasie kry om te leer loop of praat.  Net so is daar ‘n pad na geestelike herstel.  Anders as rehabilitasie vir die liggaam, kan geestelike rehabilitasie in ‘n oomblik gebeur.  Hoe?

 

Geloof (v.11-16)

Petrus het die kreupel man gesond gemaak.  Mense was verbaas en het in die pilaargang van Salomo saamgedrom (v.11, cf. 5:12, Johannes 10:23).  Die pilaargang  was amper soos ‘n skool se stoep:  pilare aan die kant van die stoep het die dak opgehou; nóg ‘n ry pilare het in die middel van die stoep gestaan.  Jy kan jou indink hoeveel mense op so ‘n lang en breë stoep kon pas.  Petrus het vir die Jode gesê:  “Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?” (v.12).  Die krag was nie in die apostels nie, maar in God se Kneg (Gk.); die Heilige en Regverdige (v.13-14).  Die Ou Testament gebruik hierdie titels met vewysing na die Messias:  “For you will not abandon my soul to Sheol, or let your holy one see corruption.” (Psalm 16:10, ESV).  “Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word.” (Jesaja 52:13).  “deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.” (Jesaja 53:11).

 

Ten spyte daarvan dat Jesus die Messias is, het die Jode Hom verloën:  hulle het gevra dat Hy gekruisig moet word, en dat Pilatus eerder ‘n moordenaar moes vrylaat (v.13-14, Markus 15:6-15).  Hoe ironies dat hulle die Outeur van die Lewe laat doodmaak het (v.15).  Maar God het Hom uit die graf laat opstaan, en daarvan was die apostels getuies (v.15).  ’n Bewys dat Jesus opgestaan het kan daarin gesien word dat die kreupel man in sy Naam genees is en geestelike lewe ontvang het (v.16).  Jesus se Naam spreek van sy gesag (net soos wat ’n verkeersman jou in die naam van die gereg stop).

 

In die Bybel is genesing van die liggaam dikwels ‘n gelykenis van ‘n geestelike realiteit.  Jesus genees byvoorbeeld ‘n blinde man om te wys dat mense geestelik blind is sonder Hom (cf. Johannes 9).  Net so genees Petrus die lam man om te wys dat die Joodse se godsdiens nutteloos en kragteloos is sonder Hom.  Is jy geestelik kragteloos?  Jy sukkel om sonde te oorkom.  Jy kan nie jou gewete reinig nie, maar hou aan skuldig voel.  Jy weet God is kwaad vir jou en kan niks doen om sy guns te wen nie.  Jy is papswak wanneer dit kom by geestelike leiding in jou gesin.  Jou gebede is kragteloos.  Jy het nie eers krag om jou te bekeer nie.  Jy wil verander en probeer om volgens die Tien Gebooie te leef.  Jy het probeer om jouself te verander deur meer Bybel te lees, te bid, jou sonde te bely, kerk by te woon, tiendes te gee, Christen vriende te soek, te vas, gedoop te word.  Maar jy val gedurig weer terug.  Jou werklike probleem is trots.  Jy maak staat op jou eie pogings.  Jy moet van jouself vergeet en Johannes 19:30 ter harte neem:  “Dit is volbring!”  Jesus het alles gedoen wat nodig is dat jy gered kan word.  Moenie op jouself staatmaak nie.  Sê eerder saam met die digter:  ‘On Christ the solid Rock I stand, All other ground is sinking sand’.  Die pad na geestelike herstel begin by die kruis; vertrou dat die Man wat daar gehang het jou kan verander.

 

Bekering (v.17-26)

Die Jode het vir Jesus vermoor en was skuldig.  Maar hulle was onkundig oor die diepte van hulle sonde:  “En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes.” (v.17).  Paulus praat van God se wysheid “wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie” (1 Korintiërs 2:8).  Jesus se gebed vir sy moordenaars was:  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34).

 

Maar al was die Jode skuldig, het God sy Seun se kruisdood voorspel en beplan (v.18).  As God dít vervul het, sal Hy ook die ander beloftes van seën aan sy kinders vervul.  Nog lank voordat Jesus gebore is, het Moses, Samuel, en aldie profete van Hom gepraat.  Soos Moses sou Hy ‘n Middelaar wees tussen God en die volk.  Hy sou ‘n mens (broer) wees.  Hy is die Woord wat namens God sou praat.  Die wat nie vir Hom wou luister nie moes sterf.  Daar sou ‘n geestelike herstel wees vir dié wat hulle bekeer het (v.19-24, Deuteronomium 18:15-18).  Ja, die kruisdood was aaklig.  Maar God sou sy volk vergewe, verkwik en herstel as hulle die moord erken het, en opgehou het om Jesus as die Messias te verloën (v.19-21).  God sou sy belofte aan die seuns van die profete en Abraham nakom (v.25, cf. Galasiërs 3:16, 29).  Jesus het immers eerste na die Jode toe gekom om hulle te bekeer en te seën (v.26).  Die meeste Jode het Hom verwerp.  Die apostels (Jesus se verteenwoordigers) het van die Jode af weggedraai na die heidene toe:  “Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle [Jode] eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.” (13:46).  Vandag nog glo die meeste Jode nie in Jesus nie.  Maar daar kom ‘n tyd wanneer die Jode weer tot bekering sal kom.  As die laaste uitverkore heiden gered is, sal die Jode in massas tot bekering kom.  Daar sal ‘n globale herlewing wees.  Jode en heidene sal deel in v.19-21 se tye van verkwikking:  “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.”  Petrus se punt is duidelik:  Jesus het opgevaar en sal in die hemel bly, totdat die Jode hulle bekeer het.  Wanneer dít gebeur het sal Hy weer kom en die hele skepping herstel.  Paulus sê dieselfde:

 

“En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!…Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is:  Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Romeine 11:12, 25-26).

 

Die Jode se slegte lewens het voorgevloei uit hulle verwerping van Jesus as die Messias (v.26).  Het jy ‘n regte siening van Jesus?

 

  • Sê jy Hy is nie gelyk met die Vader nie?  Dan sal jy Hom nie die aanbidding gee wat Hom toekom nie.
  • Sê jy Hy is nie die enigste Verlosser nie?  Dan sal jy Hom verkleineer tot op dieselfde vlak as Mohammed, Buddha en Krishna.  Jy sal ook nie die evangelie deel met mense van ander godsdienste nie.  Hoekom moet jy, aangesien hulle sonder Jesus gered kan word?
  • Sê jy Hy is jou Verlosser, maar nie jou Here nie?  Jy sal doen wat jý wil en nie wat Hý sê nie.
  • Sê jy Hy is nie die soewereine Koning nie?  Jy sal vreesbevange lewe, asof die duiwel net soveel mag het soos Jesus.  Jy sal dink jou geval is uniek en buite Jesus se bereik:  ‘Jesus kan ander mense help, maar ek is te sleg’.
  • Sê jy Hy is nie ‘n mens nie?  Jou gebede sal koud en onpersoonlik wees, want ‘Jesus verstaan nie wat ek moet deurmaak nie’.
  • Sê jy Hy is nie sondeloos nie?  Jy sal selfregverdig wees en dink jy kan net so goed wees soos Hy.

 

Bekeer jou en glo in die Bybelse Jesus.  As jy enige ander Jesus dien en aanbid is jy besig met afgodery.  Jou kanse vir geestelike herstel is nul.

 

Dawid en sy seun Absalom het ‘n gebroke verhouding gehad.  Absalom het gevlug nadat hy sy broer vermoor het.  Na ‘n lang tyd het Dawid toegelaat dat Absalom weer in Jerusalem kon bly, maar het vir twee jaar nie met hom gepraat nie.  Moet asseblief nie my illustrasie te ver vat en dink ek sê Absalom was goed en Dawid sleg nie.  Laat my egter toe om hierdie punt te maak:  as God jou herstel sal Hy jou nie op ‘n armlengte hou nie.  Hy sal jou met omhelsing, soene, en feesviering verwelkom.  Bekeer jou dan en glo sy beloftes.