Ons het vir Jesus gesien!

Emmaus disciples

Een man in ‘n charismatiese kerk het vir my gesê:  ‘Een oggend toe ek stiltetyd hou, het ek voete langs my gesien.  Toe ek opkyk was dit Jesus wat aan my verskyn het.’  Onder charismate is dit tipies om sulke dinge te hoor.  Dit is asof hulle dink die Skrif is nie genoeg om soet gemeenskap met Jesus te ervaar nie.  ‘Daar moet iets meer wees as net die Bybel,’ dink hulle.  Maar Lukas 24 leer anders.

 

13 En twee van hulle was dieselfde dag op pad na ‘n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. 14 En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. 15 En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. 16 Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. 17 En Hy sê vir hulle:  Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? 18 En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom:  Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? 19 En Hy sê vir hulle:  Watter dinge?  En hulle antwoord Hom:  Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; 20 en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. 21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. 22 Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; 23 en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook ‘n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. 24 En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.

 

25 En Hy sê vir hulle:  O Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? 27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. 28 Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan; 29 maar hulle het by Hom aangedring en gesê:  Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly. 30 En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. 31 Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32 En hulle sê vir mekaar:  Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? 33 Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was, 34 wat sê:  Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn. 35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.”

 

Toe oë (v.13-24)

Kleopas en nog een van Jesus se dissipels het op die Sondag van sy opstanding Emmaus toe gestap (v.18, 13, 1).  Hulle was Jerusalem toe vir die Paasfees en het nou teruggekeer huistoe (v.29).  Emmaus was omtrent 11 km noord-wes van Jerusalem.  Hulle sou ‘n goeie twee en half ure gestap het.

 

Terwyl hulle so gestap het, het hulle oor Jesus en sy kruisdood gepraat (v.14).  Skielik het Jesus nader gekom, maar omdat God hulle oë ‘gesluit’ het, het hulle Hom nie herken nie (v.15-16, cf. 9:45).  Jesus het geweet wat hulle dink, voel en bespreek.  Nogtans het Hy vir hulle gevra:  ‘Waaroor praat julle?’ (v.17).  Hy wou gehad het hulle moes uitpraat.  Die dissipels was verbaas:  ‘Die hele Jerusalem weet wat hierdie naweek gebeur het.  Hoe weet jy dan nie?  Kuier jy net vir die dag?’ (v.18).  Jesus het gemaak of Hy nie weet wat gebeur het nie en sê toe:  ‘Watter dinge?’ (v.19).  Hy wou hê hulle moes praat, en hulle doen dit toe ook:

 

‘Die dinge aangaande Jesus van Nasaret.  Hy het baie wonderwerke gedoen en met gesag gepreek.  God en die volk het Hom as ‘n kragtige profeet erken.  Maar die Joodse leiers het nie, en het Hom aan die Romeine oorgelewer.  Dié het Hom soos ‘n misdadiger gekruisig.  Ons het so gehoop dat Hy die Messias was wat ons van Romeinse onderdrukking sou red.  Ons weet dat Hy regtig ‘n profeet was, maar het ons misgis om te dink dat Hy die Messias is.  Dis nou al die derde dag na sy dood.  Alle Jode weet mos dat die siel net vir drie dae ná die dood rondhang en daarna na die doderyk toe afdaal.  Daar is nou geen meer hoop nie – al het Hy ook gesê dat Hy op die derde dag uit die dood sou opstaan (18:33).  Vroeg vanoggend was ‘n paar van die vroue graf toe.  Die graf was leeg.  Hulle het vertel hoe engele aan hulle verskyn het om te sê Jesus leef.  Petrus en Johannes het self die graf gesien en bevestig dat dit leeg is.  Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie (v.19-24).’

 

Wat ‘n les.  Jesus kan by jou wees sonder dat jy Hom herken (v.15-16).  Jy kan die Skrif lees, na Bybelse prediking luister, en die nagmaal gebruik, sonder dat jy met Jesus ontmoet.  Moet dan nie net die Bybel lees nie, maar bid vir ‘n ontmoeting met Jesus:  “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.” (Psalm 119:18).  “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Johannes 14:21).  As jy nie met Jesus ontmoet in jou stiltetyd, deur die prediking, en aan die nagmaaltafel nie, sal jy in die gat van depressie bly.  Omdat jy Hom nie hiér ontmoet nie, sal jy ‘meer’ wil hê.  Jy sal meer geïntriseerd wees in boeke oor mense wat (sogenaamd) hemel toe was of visioene gesien het, as in die Bybel.  Dalk sal jy self hierdie ervarings wil hê, en die Bybel eenkant toe skuif.

 

Oop oë (v.25-35)

Jesus het die twee dissipels met liefde bestraf:  ‘Julle voel verkeerd, omdat julle verkeerd dink en glo. (v.25).  Daar is nie net ‘n paar tekste wat sê dat die Messias móés ly, opstaan, opvaar en verheerlik word nie.  Die hele Ou Testament is vol daarvan.  Moses en al die ander profete het dit voorspel (byvoorbeeld Eksodus 12, Psalm 22, Jesaja 53).’

 

Om hulle te toets het Jesus gemaak of Hy wou voortreis (v.28).  Hy wou sien of hulle die profesieë geglo het.  Wou hulle nog van die Woord gehoor het?  Hulle wou en het gevra dat Hy by hulle huis moes oornag.  Buitendien was dit al amper donker.  Om in die nag te reis was gevaarlik – veral omdat daar wilde diere en rowers was (v.29).  Jesus het na hulle huis toe gegaan.  Hulle het aangesit vir aandete.  Jesus het vir die kos gedank, die brood gebreek, en dit vir hulle gegee.  Toe hulle oë ‘oopgaan’ en hulle Hom herken, het Hy verdwyn (v.30-31).  In sy opstandingsliggaam kon Hy verskyn, verdwyn, en selfs deur mure loop (Johannes 20:19).  Maar die opgewondenheid het nie begin toe hulle Hom herken het nie.  Op die pad reeds het Hy hulle oë geopen om die Skrif te verstaan, sodat hulle harte in hulle gebrand het (v.32).  Hulle het geweet dat dit gevaarlik was om in die nag te reis, maar nou het hulle haastig na Jerusalem toe teruggehardloop om vir die ander te vertel:  Ons het vir Jesus gesien!  Maar voordat hulle kon praat het die elf apostels vir húlle gesê:  ‘Jesus het régtig opgestaan en vanmiddag aan Petrus verskyn!’ (v.33-34, cf. 1 Korintiërs 15:5.  Ek wonder hoe moes Petrus gevoel het – veral nadat hy vir Jesus verloën het?).  Kleopas het vir die elf vertel hoe Jesus hulle op die pad gehelp het om die Ou Testament te verstaan; hoe Hy die Woord oopgemaak het; hoe hulle besef het dat die Skrif sy lyding, kruisdood en opstanding voorspel het.  Hy het ook vertel hoe hulle Jesus in die breking van die brood herken het (v.35).

 

Ons moet leer om te grawe in die myn van die Skrif met die pik van gebed.  Ons moet glo dat God die juweel van Jesus vir ons sal wys.  Jesus self moet deur die Heilige Gees die Bybel vir ons uitlê (v.27, 31-32).  In v.44-45 lees ons:  “En Hy sê vir hulle:  Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.  Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”  Ons moet glo dat Hy dit vir ons duidelik sal maak, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” (Hebreërs 11:6).  As ons kleingelowig is soos die dissipels, sal Hy Homself nie aan ons bekendmaak nie.  Ons moet eers sy Woord glo, voordat ons Hom kan ‘sien’.  Wanneer die Here Homself dan aan jou bekend gemaak het, sal jy nie anders kan om vir mense te vertel nie.  Jy sal dit nie vir jouself kan hou nie.  Jy hoef nie ‘n visioen te sien of ‘n hemelreis mee te maak om vir Jesus te ervaar nie.  As jy Hom in die Skrif ‘sien’ sal jou hart aan die brand wees (v.32).  Petrus praat van Jesus, “vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (1 Petrus 1:8-9).

 

Toe Archimedes die wet van verplasing ontdek het, het hy uit die bad uitgespring, naak in die straat rondgehardloop, en uitgeroep ‘Eureka!  Eureka!’ (‘Ek het gevind!  Ek het gevind!’).  As God jou oë oopmaak wanneer jy die Bybel lees, het jy meer rede as Archimedes om uit te roep:  Ons het vir Jesus gesien!  Ons het vir Jesus gesien!

Advertisements