In Sý hande is jy veilig

 

Heart on hands

Toe ek in graad 10 was het ek vir die tweede span krieket gespeel. Tydens een wedstryd het ons teenstanders se kolwer die bal reguit in die lug opgeslaan. Ek het en ‘n ander speler het gehardloop om die bal te vang. ‘Myne!’, het ek genomineer. Ek het reg onder die bal gaan staan. Dit het tussen my arms en my bors deurgeval. Ek het dit nie eers geraak nie. Die volgende dag het almal in die skool van my blaps geweet. Ek het die bynaam ‘drop catch’ geërf.

 

God sal jou nie laat val nie. In Sý hande is jy veilig. Jesus het gesê: “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Johannes 10:28-29). Genesis 11:10-32 illustreer dit. In Engels noem ons hierdie leerstelling ‘the preservation of the saints’.[1]

 

Sem se nageslag (v.10-26)

Die geslagsregister in Genesis 11 dek ‘n tydperk van omtrent 550 jaar. Noag en Sem sou dus nog geleef het toe Abram en Isak op die aarde was.[2] Kom ons sit dit in perspektief: As mense nogsteeds so oud moes word, sou Martin Luther (gebore in 1483) nóg gelewe het. Noag het 950 jaar oud geword (8:28-29). As hy in ons tyd gelewe het sou daar op sy grafsteen gestaan het: Noag – 1064 tot 2014. En moenie vir ‘n oomblik dink Noag se jare was korter as ons s’n nie. Genesis 1:14 het God die son en maan gemaak om te “dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.” ‘n Jaar was nog altyd een omwenteling van die aarde op die son. Die Jode het wel ‘n maankalender gebruik, maar selfs dán is ‘n jaar tussen 330 en 380 dae.

 

In Genesis 5 was mense oud wanneer hulle kinders gehad het. In Genesis 11 kry hulle kinders wanneer hulle 30 is. Die rede is duidelik: hulle moes die aarde gou vul na die vloed. Daarom het hulle ook baie ‘seuns en dogters gehad’ (11:11). Die mens se lewensjare het drie keer gehalveer na die vloed. Voor die vloed het mense 900 jaar oud geword (cf. Genesis 5). Die eerste geslagte ná die vloed het 450 jaar oud geword (v.12-17). Later het mense 200 jaar oud geword (v.18-26, 32). Vandag word mense 100 of minder.

 

Hoekom fokus Moses in hierdie verse op Sem se nageslag? Hy wil vir die eerste lesers wys (die Israeliete in die woestyn) hoe húlle op die aarde beland het. Sem was hulle voorvader. Die seën wat oor Sem uitgespreek is was ook vir húlle bedoel: “Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.” (9:26). Eber en sy seun Peleg is deel van hierdie geslagsregister (v.16). Eber was die vader van die Hebreërs (14:13), en in Peleg se dae het die episode by die toring van Babel plaasgevind (10:25, 11:8-9). In v.26 staan Abram se naam voor sy broers s’n. Dis nie omdat hy die oudste seun was nie. Sy oudste broer is gebore toe Tera (Abram se pa) 70 was. Abram is eers gebore toe sy pa 130 was (sien v.32, 12:4).

 

Wat leer ons uit hierdie geslagsregister? God het vir Eva belowe dat haar ‘saad’ (Jesus) die slang se kop sal vermorsel (3:15). God het dus sy uitverkore geslag deur die vloed behou. Ook toe mense by die toring van Babel verstrooi is, het God die uitverkore geslag veilig gehou. Die mense in Genesis 11 is deel van Jesus se voorgeslagte: “[Jesus]… die seun van Abraham, die seun van Tera, die seun van Nahor, die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van Heber, die seun van Sela, die seun van Kainan, die seun van Arpágsad, die seun van Sem, die seun van Noag” (Lukas 3:34-36).

 

Dwarsdeur die geskiedenis het God sy volk veilig gehou. Abram moes vir Isak offer. Maar hoe kon dit wees; die Messias moes uit hierdie lyn gebore word? God het vir Isak gespaar. God het vir Josef Egipte toe gestuur om die koring in skure te versamel, sodat Hy die uitverkore geslag aan die lewe kon hou. God het sy uitverkore volk beskerm toe hulle in Egipte was. God het hulle vir 40 jaar in die woestyn behou. Hy het die Kanaäniete voor hulle oë verdryf, sodat hulle die land kon inneem. Die Messias moes uit Dawid se geslag gebore word. Saul en Absalom het vir Dawid probeer doodmaak, maar die Here het hom beskerm. Koningin Atalia wou die hele koninklike bloedlyn uitwis. Maar God het ‘n baba weggesteek, want die Messias moes uit hierdie nageslag kom (2 Kronieke 22:10-12). Die Israeliete is deur die Babiloniërs weggevoer. God het hulle behou en 70 jaar later teruggebring Jerusalem toe. Tussen die Ou- en Nuwe Testamente is daar ‘n 400 jaar stilte. Ook in hierdie tydperk het God sy volk bewaar. In Matteus 2 wou Herodes die Grote vir Jesus doodmaak. Hy was onsuksesvol. In Matteus 4 versoek die duiwel vir Jesus, maar weereens beskerm God Hom. In Lukas 4:29 wou Jesus se vyande Hom van ‘n krans afgooi. Hulle kon nie hul planne uitvoer nie. In Johannes 8:59 wil die Jode Hom stenig, maar sonder sukses. Uiteindelik word Jesus gekruisig, maar God wek Hom op uit die graf.

 

Soos wat God vir Jesus behou het, sal Hy sy uitverkore geslag (1 Petrus 2:9), sy kerk tot die einde toe bewaar: “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5). Judas skryf aan “die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is:… Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 1, 24). Paulus sê dat “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). En weer: “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39). Aan die einde van sy lewe het hy gesê: “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Timoteus 4:18).

 

Die Here sal jou veilig hou deur angs, twyfel, vals lering, vervolging, versoeking, sonde, die aanvalle van Satan, die wêreld, armoede, voorspoed, siekte, mense se vals klagtes teen jou, en alles. Party van my lesers dink: ‘Hierdie leerstelling sal Christene passief maak, sodat hulle sê: Ek hoef niks te doen nie, want God sal my behou.’ Dis onwaar. Judas 24 sê dat God ons tot die einde toe sal bewaar. Judas 21 sê dat ons onsself in die liefde van God moet bewaar. Wie is dit dan wat ons bewaar: God of ons? Beide. God behou ons juis deurdat ons volhard, deurdat ons gebruik maak van genademiddele soos die Bybel en gebed.

 

Tera se nageslag (v.27-32)

Abram se broer, Haran, het drie kinders gehad: Lot, Milka en Iska. Haran het in Ur van die Chaldeërs (suid-oos Irak) gesterf (v.27-29). Abram se ander broer, Nahor, het met sy broerskind (Haran se dogter, Milka) getrou. Abram het met Sarai getrou, maar sy was onvrugbaar (v.29). Die eerste lesers in die woestyn sou dadelik optel dat al die ander persone in v.10-26 kinders gehad het. Hulle sou gewonder het hoe húlle dan hier gekom het – onvrugbare Sarai was immers hulle groot, groot, groot…… oumagrootjie.

 

God het vir Abram uit Ur van die Chaldeërs geroep (Handeling 7:2-4). Voor God hom geroep het, het Abram afgode gedien (Josua 24:2). Ur was veral bekend vir hulle aanbidding van die maangod. Tera (Abram se pa) het sy kleinseun Lot opgepas toe Haran (Lot se pa) in Ur gesterf het. Toe God vir Abram geroep het om Kanaän toe te gaan, het Tera, Abram, Sarai en Lot saamgetrek (v.31). Hulle wou nie direk wes trek nie. Dit was wel die kortste pad, maar daar was ‘n groot woestyn tussen Ur en Kanaän. Hulle het toe besluit om noord-wes te trek; al langs die Eufraat rivier op. So het hulle genoeg water vir hulle en hul diere gehad. Toe hulle in die gebied van Haran[3] (op die grens van Sirië en Turkye) kom, het hulle gestop (v.31).

 

Abram se broer en skoonsuster, Nahor en Milka, het nie saam getrek nie. Hulle het in Ur agtergebly, en eers later Haran toe getrek (24:10, 27:43). Tera self het nie verder as Haran getrek nie. Blykbaar was Haran ook ‘n sentrum vir die aanbidding van die maangod. Tera het in Haran gesterf (v.31-32). Tera het dus nooit die land gesien wat God aan Abram en sy nageslag belowe het nie. Genesis 11 begin met mense wat móés trek, maar ongehoorsaam was, en eindig ook so (v.2, 31, 9:1). Dit moes ‘n les gewees het vir die eerste lesers in die woestyn: moenie soos die mense van Babel of soos Tera wees nie – trek in die Beloofde Land in en moenie stop, totdat julle dit heeltemal ingeneem het nie.

 

Genesis 1-10 handel oor die wêreld se geskiedenis. Genesis 12-50 en die res van die Ou Testament praat van die geskiedenis van een klein volkie: Israel. In die Nuwe Testament verbreed die fokus weer na die geskiedenis van die wêreld toe, en sien ons hoe Jesus mense uit alle nasies na Homself toe roep.

 

Abram se vrou was onvrugbaar, sy broer Haran het gesterf, sy ander broer Nahor het in Ur agtergebly, hy moes ‘n lang (en seker gevaarlike) reis meemaak, hy het nie geweet waarheen God hom sou lei nie (Hebreërs 11:8), hy het afgode aanbid, sy pa Tera het kort gestop en nie saam na die Beloofde Land toe getrek nie. Deur al hierdie dinge het God vir Abram bewaar. Genesis 11 is seker geskryf om die eerste lesers te versterk; om vir hulle te wys dat God sy uitverkore geslag sal behou en vir hulle die land as erfdeel sal gee. Net so kan ons in die Nuwe Testament glo dat God sy kerk, te midde van baie hindernisse, sal behou. William Carey is ‘n goeie voorbeeld hiervan:

 

  • Hy wou ‘n sendeling word na Indië. Aanvanklik het niemand hom ondersteun nie. ‘n Vriend (Andrew Fuller) het toe die erns van die saak besef en hom bygestaan.
  • Sy vrou het vasgeskop en wou nie saam met hom gaan nie. Op die ou end het sy saamgegaan.
  • Omdat sy kollega slegte skuld gehad het, het die kaptein geweier om hulle aan boord die neem. Die skip het sonder hom weggeseil. Sy vriend het die skuld afbetaal. Hulle het toe plek gekry op ‘n ander skip.
  • In Indië het hulle teenkanting van die Hindus gehad. Hulle kon nie die Hindus van hulle afgode af wegdraai nie. Daar was ‘n vals bekering of twee. Na 7 jaar het hulle die eerste ware bekering gesien. Daarna het baie mense tot bekering gekom.
  • Die hitte van Indië was iets om aan gewoond te raak.
  • Carey se vrou het mal geword en hom van egbreuk en allerhande ander dinge beskuldig. Sy is tydjie later oorlede.
  • Die Britse regering het die sendelinge teengestaan. William Wilberforce het hulle saak beveg, sodat die werk kon voortgaan.
  • Carey het die Bybel in ‘n komp tale vertaal. ‘n Vuur het die drukkery afgebrand. Baie van die vertaalwerk is in die brand vernietig. Hulle moes van voor af begin. In Engeland het baie mense hiervan gehoor en ekstra geld gestuur.
  • Die ondersteuningspan in Engeland het druk begin toepas en vir die sendelinge voorgeskryf wat hulle moet doen. Dit het spanning op hulle verhouding geplaas. Daar het versoening gekom.
  • Carey se seun, Felix, het ‘n sendeling na Burma geword. Op een reis tussen Indië en Burma het die skip gesink. Felix se vrou en kind het verdrink. Dit het gelyk of Felix dit redelik goed hanteer, maar later het hy wêrelds geword, rykdom nagejaag, en gereeld dronk geword. Genadiglik het hy na die Here toe teruggedraai.

 

Die Bybel sê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” (Handelinge 14:22). God stuur toetse om ons geloof te versterk. Onthou dat Hy elke toets kan oorkom. Verwag lyding, bid wanneer dit kom, en glo dat die Here jou sal deurhelp. Wees soos Abram wat tot die einde toe volhard het; Abram wat al die pad tot in Kanaän gereis het (12:4). Dalk wil jy jou lewe verander. Dalk het jy begin om kerk by te woon en jou Bybel te lees. Maar jy het nog nie jou hele lewe aan Jesus toegewy nie. Moenie kort stop soos Tera nie.

 

Jare gelede was daar ‘n Sanlam advertensie met twee hande wat ‘n bolletjie blou klei vashou. Die man op die advertensie het gesê: ‘Sanlam – in ons hande is jy veilig.’ Maar net soos wat Saambou gevou het, kan Sanlam ondergaan. Die enigste veilige hande is God s’n. Net Hý kan jou vir ewig bewaar.

 

 

[1]   Hierdie leerstelling gaan saam met, maar is nie dieselfde as ‘the perseverance of the saints’ nie.

[2] Dan maak 47:8-9 perfek sin: “Daarop sê Farao vir Jakob: Hoeveel is die dae van jou lewensjare? En Jakob het Farao geantwoord: Die dae van die jare van my vreemdelingskap is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare, en hulle het nie gehaal by die dae van die lewensjare van my vaders gedurende die dae van hulle vreemdelingskap nie.”

[3] Moenie verward raak tussen die Haran in v.28 en hierdie Haran nie. In v.28 is Haran ‘n persoon en in v.31 ‘n plek.