Wat is ware godsdiens?

Choosing religion

Vals godsdiens is soos ‘n lyk in ‘n kispak:  uiterlik is dit mooi, maar innerlik is daar geen lewe nie.  Dis ‘n aap wat ‘n goue ring dra.  In se Stefanus se preek sien ons wat ware godsdiens is (cf. Handelinge 6:8-7:60).

 

Die beskuldiging (6:8-15)

Stefanus was gevul met die Heilige Gees, en dus ook met genade, krag, geloof, en wysheid:  “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid… Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees… En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen… Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.” (v.3, 5, 8, 10).  Stefanus het gepreek in die Sinagoge van die Libertyne (‘n groep vrygelate Jode wie se voorouers in 63 v.C. deur Pompey as slawe geneem is), die Cirenéërs en Alexandryne van Noord-Afrika, en die Cilíciërs en Asiërs van klein-Asië (v.9-10).  Hulle poging om te debateer was tevergeefs:  “hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.”  Jesus het immers belowe:  “Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” (Lukas 21:15).

 

Toe hulle dit agterkom het hulle begin vuilspeel en vals getuies navore gebring.  Lukas skryf:  “Toe het hulle manne opgestook om te sê:  Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.  En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring.  En hulle het valse getuies laat optree om te sê:  Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.  Want ons het hom hoor sê:  Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” (v.11-14).  By Jesus se verhoor het die vals getuies gesê dat Hy daarin geroem het dat hy die tempel sou afbreek (Matteus 26:60-61).  Nou het hulle dieselfde van Stefanus gesê.  Stefanus het glad nie teen Moses, God of die tempel gelaster het nie.  Inteendeel, hy was sóós Moses:  “En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.” (v.15, cf. Eksodus 34:29).

 

Godsdienstige mense hou van reëls en rituele, omdat dit hulle selfregverdige trots voed.  Hulle sal nooit vir die eer van God opstaan nie, maar sal tot die dood toe stry vir hulle tradisie:  ‘Ons is Baptiste!’  ‘n Ware Christen se lewe openbaar die godsdienstige persoon se skynheilige hart.  Daarom haat en laster hierdie mense gelowiges.  Hulle sal op Facebook en in die Beeld teen jou skryf.  Ware godsdiens daarenteen is bly oor God se genade, dra die vrug van bekering, het krag om sonde te oorkom, en is soos Jesus.

 

Die verdediging (7:1-53)

Stefanus het op die aanklag gereageer (v.1).

 

  • Abraham was buite die Beloofde Land toe God hom geroep het. Soos wat hy rondgetrek het, het hy altare gebou en God aanbid – sonder ‘n tempel (v.2-8). Isak en Jakob het dieselfde gedoen.
  • Josef se broers het hom verwerp en as ‘n slaaf na Egipte verkoop. God was met Josef – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.9-15). Die enigste erfenis wat sy familie in die Beloofde Land gehad het was die begraafplaas by Sigem (v.16).
  • Ten spyte van Farao se teenstand het God vir Moses opgewek (v.17-21). Toe hy probeer het om die volk te red het hulle hom verwerp. Hy het Midian toe gevlug. Daar het God hom voor ‘n brandende doringbos op berg Horeb ontmoet – buite die Beloofde Land en sonder ‘n tempel (v.23-34). God het hom die leier van Israel gemaak, maar die volk het hom verwerp – selfs nádat God wonders deur hom verrig het, die Tien Gebooie gegee het, en hy die Messias se koms voorspel het. Hulle het ‘n goue kalf gemaak en aanbid. Die offers wat hulle in die woestyn gebring het was nie vir God nie, maar vir die hemelliggame (v.35-43).
  • Aanbidding in die woestyn het by die tabernakel plaasgevind. Later het God se volk Hom by die tempel aanbid. Maar God was nooit hiertoe beperk nie (v.44-50). Toe Salomo die tempel gebou het, het hy gesê: “Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” (1 Konings 8:27). Stefanus haal aan uit Jesaja 66:1-2: “Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?” (v.48-50).

 

Toe Stefanus dié teks aanhaal het die Jode ‘gekook’.  Hulle het geweet waaroor die konteks gaan:  vals aanbidding.  Stefanus moes gou sy preek afsluit:  “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.  Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie?  Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” (v.51-53).  Stefánus het nie vir Moses en die tempel gelaster nie; húllehet.  Dwarsdeur sy preek verwys hy na ‘ons vaders’.  Maar toe hy aan die einde praat van húlle wat die profete en die Messias vermoor het, sê hy:  ‘júlle vaders’.  Hy was nie deel van hulle nie.  Christenskap was nie maar net ‘n sekte van Judaïsme nie – dit was ‘n ander godsdiens; die ware godsdiens van Abraham, Josef, Moses, David en Nuwe Testamentiese gelowiges.

 

Vandag is daar sogenaamde Christene wat wil terugkeer na Judaïsme.  Hulle wil weer op Saterdae kerk hou, Ou Testamentiese voedsel wette onderhou, Joodse feesdae vier, ‘heidense’ dae soos Kersfees en Paasfees vermy, en daarop aandring dat ons Jesus ‘Yeshua’ noem.  Hulle glo dat die Nuwe Testament oorspronklik in Hebreeus geskryf is, en dat die Griekse Nuwe Testament ‘n korrupte weergawe is.  Sommige gaan so ver om te sê dat mense wat nie hierdie reëls volg nie, ongered is.  In sy brief aan die Galasiërs het Paulus met hierdie mense afgereken.  Ons word nie gered deur Jesus plus die besnydenis, die viering van sekere feeste, voedselwette, ensovoorts nie.  Ons word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Christus alleen.

 

Die vonnis (7:54-60)

Die Joodse Raad was so kwaad dat hulle op hulle tande gekners het.  Hulle was woedend oor wat tóé gebeur het.  “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.  En hy het gesê:  Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” (v.55-56).  Die teologie van hierdie verse is skatryk:

 

[1] Jesus sit gewoonlik aan God se regterhand om te wys dat Hy die Regter en Koning is, en dat sy verlossingswerk voltooi is.  By Sy verhoor het Jesus vir die Joodse Raad gesê:  “Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” (Matteus 26:64).  In Handelinge 7 staan Jesus aan God se regterhand om vir Stefanus in die hemel te verwelkom.  Hy staan ook op om te wys:  ‘Ek weet jy is valslik beskuldig Stefanus – Ék (die Regter) sal jou Advokaat wees om jou te verdedig.’

 

[2] Stefanus noem Jesus ‘die Seun van die Mens’.  In Daniël 7:13-14 is dit ‘n Messiaanse titel.  Dit wys ook dat Jesus ná sy hemelvaart nog ‘n mens is, en dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood.

 

Die Raad was briesend.  Hulle het hulle ore toegestop, omdat hulle nie meer die Woord van God wou hoor nie (v.57, cf. Sagaria 7:11).  Hulle het presies soos hulle vaders gemaak en nóg een van God se dienaars vermoor (v.58, 52).  Hulle het gedoen wat Jesaja 66:5 sê (dit wat Stefanus nog wóú sê) en die ware gelowige verstoot.  Hulle het hom, soos sy Here, buite die stad vermoor (v.58, Hebreërs 13:12-13).  Die moordenaars het hulle jasse uitgetrek om harder te kan gooi (v.58).  In sy lewe en dood was Stefanus soos Jesus:

 

  • Jesus het sy gees in die Vader se hande oorgegee en gebid vir sy vyande (Lukas 23:34, 46).
  • Stefanus het gevra dat Jesus sy gees moet ontvang en gebid vir sy vyande (v.59-60).

 

God het Stefanus se gebed beantwoord.  Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur (v.58), maar hy kon nie die preek afskud nie.  ‘n Tydjie later het hy tot bekering gekom (hoofstuk 9).  Stefanus het gesterf.  Sy dood was so skadeloos soos ‘n man wat aan die slaap raak (v.60).  Sy gees was dadelik by die Here (v.59).

 

Baie vals godsdienste hou vas aan een of ander ‘Jesus’, maar hulle haat die ware Jesus van die Bybel:  volkome God en mens, opgestane Here, Verlosser, Messias, Regter, Middelaar, soenoffer vir sondaars.  Hulle haat Hom soveel dat hulle sy volgelinge sal doodmaak.  Hulle sal in die kerk sit en brom.  Hulle is daarvoor bekend dat hulle vir predikante ‘n moelike tyd gee.  Hulle sal selfs daarin roem.  Hulle stop hulle ore toe vir die Woord van God.  Hulle haat Bybelse prediking.  Hulle sal hulle bes probeer om die dominee uit die kerk uit te verdryf (soos wat een ‘ouderling’ onlangs met ‘n vriend van my gedoen het).  Hulle wil die kansel beheer en vir die predikant voorskryf hoe en wat hy mág en nié mag preek nie.  Hulle ken die Bybel goed, maar hulle lewens bly onveranderd.  Ware godsdiens lyk anders.  Dit lyk soos Jesus.

Advertisements

Die duiwel se troefkaart

Devil's trump card

Die duiwel het in Handelinge 4-5 probeer om die evangelie stil te maak.  Sy aanval op die kerk het misluk.  In Handelinge 6 haal hy sy groot kanonne uit – sy troefkaart – in die hoop om die apostels se monde te snoer.  Hierdie keer werk hy van binne af.

 

Die probleem (v.1)

Die vervolging van hoofstuk 5 het niks gedoen om die kerk te stuit nie.  Inteendeel, die kerk het sterk gegroei.  In 2:41 het dit gegroei van 120 na 3120.  In 4:4 was daar 5000 mans.  In 5:14 het dit meer as ooit gegroei.  En in 6:1 hou die kerk aan om te vermenigvuldig.  Toe ontstaan daar ‘n administrasie fout…

 

Die vroeë kerk het vir hulle weduwees gesorg (sien 4:34-35, 1 Timoteus 5:3-16, Ou Testamentiese wette oor die versorging van weduwees).  Baie van die Jode in die Jerusalem kerk het die Griekse kultuur omhels.  Om een of ander rede het die kerk die Grieks-sprekende weduwees vergeet, maar die Hebreeus-sprekendes versorg.  Dit was nét die geleentheid waarvoor die duiwel gewag het.  Hy het die situasie gebruik om ondankbaarheid en twis aan te hits (v.1).

 

Laat ons hieruit leer.  Die duiwel versoek ons soms deurdat dringende sake belangrike sake uitskuif.  Marta is so gevang:

 

“En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang.  En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.  Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê:  Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie?  Sê dan vir haar dat sy my moet help.  Maar Jesus antwoord en sê vir haar:  Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.” (Lukas 10:38-42).

 

Die duiwel wou die apostels versoek om hulle plig te versuim; om gebed en prediking te verruil vir die administrasie van armsorg.  In ons dag versoek die duiwel predikante om gebed en die Woord te versuim; om hulle tyd te gee aan:

 

  • Diens op komitees en vergaderings.
  • Mense oplaai met die kerk se Kombi.
  • Webblaaie ontwerp.
  • Administrasie behartig.
  • Herstelwerk aan kerkgeboue.
  • Kerk finansies uitsorteer.
  • Speletjies vir die jongmense uitdink.
  • Kampe reël.
  • Aankope vir gemeente etes.
  • Power Point skyfies voorberei om die preke ‘interessant’ te maak.
  • Die munisipaliteit besoek oor die kerk se nuwe erf.
  • Basaars reël.
  • Prokureurs sien oor ‘n stuk grond in die kerk se naam.
  • Dakverf koop.
  • Borge kry vir die jeug.

 

In sommige gemeentes kla gemeentelede as die dominee dit nié doen nie.  Hulle moet leer dat die predikant nie hiervoor geroep is nie.  Hy is geroep om homself te wy aan gebed en die bediening van die Woord (v.4).

 

‘Maar wat as ek ‘n jeugleraar is?’ wonder iemand.  Ek was ‘n jeugleraar in Nelspruit.  Ek het gefrustreerd gevoel en vir iemand gesê:  ‘Ek wens ek kan soos Jonathan Edwards wees en die Bybel vir ure op ‘n dag bestudeer.’  Sy reaksie was:  ‘Nou hoekom doen jy dit nie?’  Ek het gesê:  ‘Ek kan nie.’  ‘Hoekom nie?’ het hy gevra.  ‘Jy is geroep om te preek – nie om volley ball wedstryde te reël nie.’  Ek het dit begin doen en is uiteindelik Kempton Park toe beroep.  Nou kan ek doen waarvoor ek geroep is.  Jeugleraars is nie minder as ander leraars nie.  Hulle roeping is nie anders nie.  Hulle moet hulle tyd aan gebed en die Woord gee – nie aan volley ball wedstryde of paint ball nie.

 

Die oplossing (v.2-6)

Die twaalf apostels het die hele kerk (‘n paar duisend!) byeen geroep en die krisis aan hulle voorgehou (v.2).  Hulle het eerlik gesê:  ‘Ons kan nie ophou preek om tafels te bedien nie.’ (v.2).  Toe daar min weduwees was kon hulle die finansies behartig (4:35, 37).  Maar nou was daar gans te veel weduwees.  Die apostels sou hulle tyd aan gebed en prediking gee (v.2, 4).  Die kerk moes sewe manne identifiseer wat die weduwees se saak kon administreer.  Hierdie manne moes, soos Joshua in Deuteronomium 34:9, vol wees van geloof, wysheid, en die Heilige Gees (v.3, 5).

 

Die kerk het ‘n slim skuif gemaak en Grieks-sprekende Jode gekies om die probleem op te los.  Stefanus was vreesloos, heilig, en het die Woord geken (sien hoofstuk 6-7, 22:20).  Filippus was ‘n kragtige evangelis (sien hoofstuk 8, 21:8-9).  Volgens oorlewering het Progorus en Timon onderskeidelik hulle lewens vir die evangelie afgelê in Antiogië en Filippi.  Nikolaus was ‘n heiden uit Antiogië wat die Joodse geloof aangeneem en later ‘n Christen geword het.  Die apostels het vir die sewe manne hande opgelê en vir hulle gebid (v.6, sien 1 Timoteus 4:14 vir hande oplê).

 

Wat moet ons hieruit leer?  Let op die orde van gebed en die Woord (v.4).  Dít is ons roeping en taak.  Dieselfde geld op die sendingveld.  As jy oorsee wil gaan om hospitale te bou, doen dit.  Maar as jy ‘n sendeling van die evangelie is moet dit nie jou hoof fokus wees nie.  Jesus het jou gestuur om die Goeie Nuus te verkondig (Matteus 28:19-20).  Moenie dat die ontwikkeling van groente tuine of bouprojekte jou tyd steel nie.  Groente kan ongelowiges se honger stil, maar dit kan hulle siele nie van die hel red nie.

 

Ons leer ook ‘n paar lesse oor diakens uit hierdie verse:

 

  • Kyk uit in die gemeente watter mense reeds besig is om dienswerk te doen, en vra dat húlle as diakens aangestel word.
  • Die gemeente moet die mense identifiseer en die ouderlinge moet hulle aanstel (ons het nie meer apostels nie).
  • Diakens moet aangestel word vir ‘n spesifieke taak en nie net om ‘n leemte te vul nie. As die taak afgehandel is, hoef hulle nie meer diakens te wees nie.
  • Diakens moet moreel kwalifiseer.
  • Die hele kerk moet hulle instem. Wat sou ‘n 51% stem help in ‘n kerk waar daar reeds ongelukkigheid was (v.1)!?
  • Diakens maak die geestelike leiers los om hulle aandag te gee aan gebed en prediking.

 

Wat is dan die verskil tussen ouderlinge en diakens?  Diakens is diensknegte [Gk. diakoneo] van die liggaam, terwyl ouderlinge diensknegte [Gk. diakonia]van diesiel is.

 

Die uitkoms (v.7)

Die apostels het gedoen wat hulle gesê het:  hulleself gewy aan gebed en Woord-verkondiging (v.4).  In v.6 bid hulle en in v.7 preek hulle die Woord.  Die Woord het uitgegaan (v.7, 12:24, 19:20), die kerk het gegroei en baie priesters het gehoorsaam geword aan die vereistes van die evangelie (7, Romeine 1:5).  Die duiwel se troefkaart het misluk.  Jesus sal sy kerk bou en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18).

 

Gebed en prediking is God se metode vir kerkgroei.  Moenie vertroue verloor hierin, sodat jy begin fokus op jongmense, musiek, sosiale sending, drama, sport, ensovoorts nie.  Bid dat mense tot bekering kom.  ‘Musical churches’ (mense wat van een kerk na ‘n ander skuif) is nie die beste manier van kerkgroei nie.

 

Het jy al ooit skaak gespeel?  Het dit al ooit met jou gebeur dat jy nog een skuif het om te wen, en dan deur jou opponent in skaakmat gesit word?  Op Golgota het Jesus die duiwel in ‘skaakmat’ gesit.  Die duiwel se troefkaart kán nie wen nie.

Hoe weet jy God sal sy beloftes hou?

Stars and sand

Ek het al dikwels in preke verwys na John Paton.  Hy was ‘n Skotse sendeling na die New Hebrides.  Die inboorlinge (kannibale) het dikwels vir Paton belowe dat hulle sal ophou om te steel en te moor.  Hulle beloftes was soos ‘n wasem.  Hulle het gelieg.  Genesis 15:1-18:15 wys vir ons dat God nie ‘n mens is wat lieg nie.  Hy hou sy beloftes.

 

Offers (hfst.15-16)

In hoofstuk 14 het God vir Abram beskerm en sy vyande oorwin.  Die koning van Sodom wou hom beloon, maar hy het dit van die hand gewys (14:20-23).  Gód was sy skild en Hý sou hom beloon; daarom het hy nie nodig gehad om te vrees nie (15:1).  Maar vandag word jy beloon en môre sterf jy.  Wie kry dán die beloning as jy nie ‘n erfgenaam het nie (15:2-3)?  God het Abram se vraag beantwoord:  “die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.  Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde:  Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel [onthou dat ‘n mens baie meer sterre in die woestyn sien as in die stad!].  En Hy sê vir hom:  So sal jou nageslag wees.” (15:4-5).  Abram het God se belofte geglo; God het toe sy geregtigheid aan hom toegereken (15:6, Romeine 4:3).

 

God het vir Abram herinner hoe Hy hom uit Ur van die Chaldeërs (suid-Irak) na Kanaän toe geskuif het om die land as erfdeel te verkry (15:7).  Abram het egter nog geen grond in die land besit nie.  Hoe kon hy verseker weet dat God dit aan sy nageslag sou gee (15:8)?  God het beveel dat hy vee en voëls moes slag.  Hy moes die bees, bok en skaap in die lengte deursny en in ‘n ry op die grond sit.  Die duif en tortelduif het hy agter die diere se karkasse neergelê.  Die aasvoëls het gekom om aan die vleis te vreet, maar Abram het hulle verjaag (15:8-11).  Wat op aarde beteken hierdie simboliek?  Die persoon wat die verbond maak sê hierdeur dat sý liggaam so gebreek sal word, dat die aasvoëls aan sý dooie liggaam sal vreet as hy die verbond breek.  Jeremia 34:17-20 verduidelik dit so:

 

“Daarom, so sê die HERE:  Júlle het na My nie geluister om ‘n vrylating uit te roep elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie; kyk, Ek roep ‘n vrylating uit, spreek die HERE, om julle oor te gee aan die swaard, die pes en die hongersnood, en Ek sal julle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde.  En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het:  die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.  En Ek sal hulle gee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.”

 

Dit is dalk wat Jesus bedoel het toe Hy die nagmaalbrood gebreek het en gesê het:  ‘Dit is my liggaam’ (Lukas 22:19).  Ons liggame moes in twee gesny word.  Jesus het egter ons sonde op Hóm geneem en namens ons sy liggaam laat ‘breek’ deur ‘n aaklige en Godverlate kruisdood.

 

God het ‘n diep slaap oor Abram laat kom om te wys dat Hý die verbond maak – Abram het geen inisiatief geneem nie (15:12a).  Daar het ‘n vreeslike donker oor Abram gekom, sodat hy bang geword het (15:12b).  Die vrees was oor dit wat die Here vir hom vertel het:  sy nageslag sou vir 400 jaar (afgerond, cf. Eksodus 12:40-41) slawe wees in ‘n vreemde land (15:13).  Maar God sou die Egiptenare oordeel en sy volk uitlei (15:14).  En dan sou hy die Amoriete oordeel as sy volk die Beloofde Land in besit geneem het (15:16).  As Hy wou, kon God die Amoriete lankal gestraf het.  Maar Hy was geduldig.  Hulle oordeel moes vol word soos ‘n dam.  En dan sou die oordeel losbreek (15:16, cf. Romeine 2:5).  Abram sou nie in hierdie vreeslike dinge deel nie, maar sou oud word en in vrede sy kop neerlê (15:15).

 

‘n Vlammende fakkel en rokende oond het tussen die stukke deur beweeg (15:17).  Dit was simbolies van God se teenwoordigheid (Eksodus 13:21-22, 19:18).  Hy is ‘n verterende vuur (Deuteronomium 4:24).  God het belowe om die land van die huidige inwoners aan Abram se nageslag te gee (15:18-21).  Maar hoe kon dit gebeur as Sarai onvrugbaar was?  Hulle het al 10 jaar in die land gewoon en nog nie ‘n kind gehad nie.  Sarai was ongeduldig en het begin twyfel.  Sy het voorgestel dat Abram deur haar Egiptiese slavin (Hagar) kinders námens haar moes baar.  Toe Hagar swanger word het sy met minagting op Sarai neergesien omdat sy onvrugbaar was.  Sarai het jaloers geraak:  ‘Dalk hou Abram nou meer van Hagar, omdat sy vir hom ‘n seun gebaar het?’  Sarai het vir Abram begin beskuldig (16:1-5).  Hy was egter passief en het sy verantwoordelikheid ontken:  “Daar is jou slavin in jou hand—doen met haar soos dit goed is in jou oë.” (16:6).  Sarai was hard en het vir Hagar sleg behandel.  Hagar het gevlug en terug gekeer na haar tuisland toe (cf. 12:16).  Oppad Sur toe (net oos van Egipte) het sy by ‘n fontein gestop om te rus (16:6-7).  Daar het die Engel van die Here vir haar gesê om terug te keer en vir Sarai te luister (cf. Filemon).  Ons kom gou agter dat hierdie Engel van die Here God self is.  Hy belowe om vir Hagar ‘n groot nageslag te gee.  Hy sê ook vir haar om die seuntjie Ismael te noem.  Dit sou haar herinner aan dié dag toe God haar hulpgeroep gehoor het (Ismael beteken ‘God hoor’).  God het ook vir haar gesê dat Ismael soos ‘n wilde donkie sou wees:  hy sou in die woestyn woon en nie maklik getem word nie (16:8-12).  Alles het gebeur soos wat die Here voorspel het:  Ismael het ‘n groot nageslag gehad en in die woestyn gewoon (21:20-21, 25:18).

 

Hagar was bly.  God het haar in haar nood gesien.  Daarom noem sy die put:  Lagai-Roï.   Dit beteken:  die Lewende Een wat my sien.  Nie net het die Here haar gesien nie, maar sy het Hóm gesien en bly lewe (16:13-14)!

 

Hagar het teruggekeer en Ismael is gebore toe Abram 86 was (16:15-16).

 

Bloed het gevloei toe God sy belofte aan Abram bevestig het.  Net so het God die belofte van die hemelse land met bloed verseël – sy eie!  As jy op hierdie God vertrou en Hóm liefhet, hoef jy nie soos Abram te twyfel nie.  Moenie glo in jou eie geloof nie (het ek genoeg?), maar glo in Hom wat belowe het.  Ook wanneer dit by ánder Bybelse beloftes kom moet jy nie twyfel nie:

 

  • Sukkel jy finansieel? God het belowe om vir sy kinders te sorg. Jy hoef nie jou eie skelm planne te maak om te oorleef nie.
  • Voel jy eensaam? Die Here sal jou vertroos en vir jou Christene vriende gee. Moenie met ‘n ongelowige trou nie.
  • Het iemand jou sleg behandel? Die Here belowe om jou vyande te oordeel. Moenie self wraak neem nie.
  • Ervaar jy fisiese of emosionele pyn? Die Here sal vir jou genade gee om deur dit te kom. Moenie die oplossing in drank of ander vorme van verslawing soek nie.
  • Is jy verward? Die Here het vir jou mede-gelowiges gegee om jou te help. Moenie hulp soek by ‘n verbode man of vrou wat jou en jou probleme ‘verstaan’ nie.
  • Bevind jy jouself in ‘n onmoontlike situasie? God belowe om sy kinders se gebede te verhoor. Moenie als doen behalwe om te bid nie.

 

Besnydenis (hfst.17)

In 16:16 was Abram 86.  In 17:1 is hy 99.  Vir 13 jaar ná sy sonde met Hagar is daar geen openbaring op rekord nie.  Nou bevestig die Here sy belofte:  ‘Ek is die Almagtige God – ek kán vir onvrugbare ou mense kinders gee.  Wees net opreg en gehoorsaam, sodat Ek my verbond met jou kan bevestig.’ (v.1-2).  Abram het die Here gevrees en op sy aangesig neergeval (v.3).  God het belowe dat hy die vader van nasies en konings sou word; daarom is sy naam verander na Abraham (v.2-6).  In 25:1-4, 12-16 lees ons:

 

“En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra.  En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.  En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete.  En die seuns van Mídian was:  Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä.  Hulle almal was seuns van Ketúra… En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het—dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam en Misma en Duma en Massa, Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.  Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.”

 

Abraham is ook die vader van die konings van Israel en Juda.  Hy is die voorvader van die Messias.  Hy is die voorvader van elke gelowige:  “[Jesus] het ons [gelowiges] konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” (Openbaring 5:10).

 

Die verbond met Abraham as ‘n ewige verbond (v.7-8).  As teken het God die besnydenis gegee.  Weer het bloed gevloei om die verbond te verseël.  Maar hoekom besnydenis en nie ‘n diere offer nie?  John MacArthur verduidelik:

 

‘There was a health benefit, since disease could be kept in the folds of the foreskin, so that removing it prevented that.  Historically, Jewish women have had the lowest rate of cervical cancer.  But the symbolism had to do with the need to cut away sin and be cleansed.  It was the male organ that most clearly demonstrated the depth of depravity because it carried the seed that produced depraved sinners.  Thus circumcision symbolized the need for a profoundly deep cleaning to reverse the effects of depravity.’ (The MacArthur Study Bible, ESV, p.39, cf. Deuteronomium 30:6).

 

Op agt dae is die liggaam ryk aan vitamien K.  Omdat dit bloeding stop moes die seuntjie dán besny word.  Enige slaaf in die huis (gekoop of in die gesin gebore) moes ook besny word.  Indien enige man nié besny is nie, moes hy afgesny word van die verbond (v.9-14).  Jesus self is besny om hierdie opdrag te vervul en sý geregtigheid toe te reken aan elkeen wat in Hom glo (Lukas 2:21, 2 Korintiërs 5:21).

 

God het Sarai se naam verander na Sara.  Beide beteken ‘prinses’.  Die naamsverandering het ‘n nuwe begin aangedui.  Nasies en konings sou uit haar gebore word (v.15-16).  Toe die Here dít sê het Abraham gelag.  Hy kon nie glo dat ‘n 100 jarige man en sy 90 jarige vrou ‘n kind kon hê nie (v.17).  God het hom verseker dat sy nageslag nie deur Ismael sou kom nie, maar deur Isak (v.18-19, Isak beteken‘hy lag’).  Ismael sou ‘n nasie en prinse word; Isak sou nasies en konings word (v.20-21).

 

God het die belofte van die land gemaak aan Abraham en sy nageslag.  Vandag is baie Jode nie in die land nie, maar oor die wêreld versprei.  Het God dan sy belofte gebreek?  Nee.  Nie alle Jode is die ware nageslag van Abraham nie.  Die ware nageslag van Abraham is alle Jode en heidene wat hulle bekeer en in Jesus glo.  Dit is húlle wat die land sal erf.  Die Skrif sê:

 

“Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit [aarde kan ook vertaal word met ‘land’]… Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede… want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word… Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon… Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.” (Psalm 37:9, 11, 22, 29, 34, cf. Matteus 5:5).

 

“En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel.  En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ‘n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ‘n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.  En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.” (Esegiël 47:21-23).

 

“En baie nasies sal hulle in dié dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot ‘n volk wees; en Ek sal in jou midde woon.  Dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na jou gestuur het.” (Sagaria 2:11).

 

“Hulle antwoord en sê vir Hom:  Ons vader is Abraham.  Jesus sê vir hulle:  As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het.  Dit het Abraham nie gedoen nie… Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:39-40, 44).

 

“Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof… Abraham…die vader van ons almal” (Romeine 4:13, 16).

 

“Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.  Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar:  in Isak sal jou nageslag genoem word.  Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” (Romeine 9:6-8).

 

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie:  dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word” (Romeine 11:25-26).  Die ‘hele Israel’ verwys na Jode en heidene wat in Jesus glo.

 

“Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham… Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad.  Hy sê nie:  En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een:  En aan jou saad, dit is Christus… En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:7, 16, 29).

 

“Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye.  Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.  Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde:  een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar—dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny.  Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.  Want daar is geskrywe:  Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ‘n man het.  Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte” (Galasiërs 4:22-28).

 

julle [was] in dié tyd sonder Christus, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld… So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God… die heidene [is] mede-erfgename en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie” (Efesiërs 2:12, 19, 3:6).

 

“[Jesus] wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Titus 2:14).

 

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9).

 

Abraham en sy kinders is besny.  Beteken dit dat Christene se kinders gedoop moet word?  Nee, want:

 

  • Net gelowiges is kinders van Abraham (soos die bogenoemde verse duidelik wys). Mense moet na geestelike geboorte gedoop word; nie na fisiese geboorte nie. Paulus sê: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee… En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:26-27, 29).
  • In Genesis 17 kry besnedenes die land as erfdeel. Kan ons dan in die Nuwe Testament sê dat alle gedoopte kinders die hemelse land sal erf? As jy dít sê glo jy, soos die Katolieke, in ‘baptismal regeneration’– die doop red. Dit sou ook beteken dat Baptiste se ongedoopte kinders van die verbond afgesny word (17:14) en hel toe gaan.

 

Die kinderdoop kweek vals sekerheid.  Jy sê in effek vir ‘n kind dat hy of sy vóór geloof en bekering die hemel erf.  Hordes mense word as babas gedoop, op 17 voorgestel en aangeneem, en verdwyn dan soos mis voor die son.  Hulle het geen belang in die Here en sy kerk nie.

 

Die besnydenis was nooit ‘n skadubeeld van die doop nie.  Die doop vervang nie die besnydenis nie.  Die besnydenis van die hart is die vervulling van die besnydenis van die vlees.  Mense wie se harte besny is, moet gedoop word.  Paulus skryf van “[Jesus] in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” (Kolossense 2:11-12).

 

God het ‘n belofte gemaak aan Abraham en sy nageslag.  Maar wat help dit as jy uitgesluit is; as jy nie ‘n kind van Abraham is nie?  Sorg dat jy ‘n kind van Abraham is.  Dán kan jy die hemelse land erf.  Vra dat Jesus die sonde uit jou hart uitsny (besnydenis van die hart).  Haat jou sonde en bekeer jou daarvan.  Glo die evangelie:

 

[1] Jesus is die ewige God.  Hy het mens geword en is nou volkome God en volkome mens.

 

[2] Jesus het geen sonde gehad of gedoen nie.  Hy het God se wet volmaak onderhou.

 

[3] Jesus het die straf wat ons verdien op Homself geneem aan die kruis.

 

[4] Jesus is begrawe en het liggaamlik opgestaan uit die dood.

 

[5] Jesus belowe die ewige lewe vir almal wat volkome op Hom vertrou.  Ware geloof loop uit op goeie werke.

 

Teofanie (hfst.18)

‘n Teofanie is wanneer God in een of ander vorm aan mense verskyn.  In 18:1-2 het drie mans by Abram se tent aangekom.  Een van hulle was die Here en die ander twee was engele (sien 18:16, 22, 19:1, Hebreërs 13:2).  Abram het tipiese Midde-Oosterse gasvryheid aan hulle betoon.  Hy het voor hulle gebuig en vir hulle water gegee om hulle stowwerige voete te was (sandale in die woestyn).  Hy het hulle onder sy koeltebome laat rus.  Hy het vir Sara gevra om brood te bak en vir sy slaaf gesê om ‘n kalf te slag.  Hy het die sagte kalf vleis en warm brood met dikmelk en soetmelk bedien (18:2-8).

 

Die Here het vir Abram gevra oor Sara, sy vrou (18:9).  Hy het belowe dat sy ‘n jaar later ‘n seun sou hê (18:10).  Sara het saggies gelag en in haar kop gesê:  ‘Hoe kan dit wees?  Abram is oud en ek ook.  Ek het lankal opgehou met menstrueer en kán nie meer swanger word nie.  Buitendien is ek veels te oud om seksuele plesier te hê.’ (sien 18:11-12).  God het geweet wat Sara dink; dat sy gelag het en nie sy belofte geglo het nie.  Kan God dan nie enigiets doen nie?  Hy het bevestig dat sy inderdaad ‘n seun sou hê.  Sy moes hom Isak noem, omdat sy en Abram gelag het (18:13-14, 17:17, Isak beteken ‘hy lag’).  Sara was bang en het ontken dat sy gelag het.  Maar God weet alles en het gesien hoe sy agter ‘n toe tentflap lag (18:15).

 

Jy mag dalk soos Sara dink dat jou situasie onmoontlik is.  Dit voel vir jou of jy nooit weer die lig sal sien nie.  Jy het al opgehou bid omdat die antwoord nie moontlik is nie.  Jy dink dat dit nie meer help om te glo of te hoop nie.  Een man het ‘n astronomiese bedrag nodig gehad, omdat die mediese fonds nie die koste vir sy kind se diabetes wou dek nie.  Hy was agt maande agterstallig met sy huis se paaiement.  Hy het die situasie aan die bank verduidelik, maar hulle het gedreig om die huis terug te vat.  Moedeloos het hy by my kom sit.  Ons het na ‘n Bybelse oplossing gekyk.  Twee dae later het sy vrou my in trane gebel.  Iemand het die mediese onkostes gedek.  Sy pa het hom uit die bloute gebel:  ‘Ons het ‘n polis vir jou uitgeneem toe jy vyf was.  Dit het nóú uitbetaal.’  Hoeveel rand was dit?  Presies die bedrag wat hy nodig gehad het om die agterstallige paaiemente te betaal.

 

Dalk dink jy dat die Here nie jou gebroke verhouding of huwelik kan herstel nie.  Hy kan nie vir jou werk voorsien nie.  Hy kan nie jou ongelowige kind red nie.  Die Bybel leer vir ons die teendeel.

 

“Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees?  Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.” (18:14).

 

“Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.” (Lukas 1:37).

 

“Maar Hy antwoord:  Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.” (Lukas 18:27).

 

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20).

 

“Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.” (Jeremia 32:17).

 

“Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:  Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?” (Jeremia 32:26-27).

 

Glo dat God sy beloftes kan vervul en vra Hom om dit te doen.

 

In C.S. Lewis se Chronicles of Narnia het die White Witch ‘n ooreenkoms aangegaan met Aslan, die magtige leeu.  Nadat die verdrag gesluit is het die bose heks voor almal vir Aslan gevra:  ‘Hoe weet ek jy sal belofte hou?’  Onmiddellik het Aslan gebrul, sodat die heks op haar sitvlak beland en almal vir haar gelag het.  So is dit met God.  Hy sál sy beloftes hou.  Hy kán nie lieg nie (Titus 1:2, Hebreërs 6:18).  Hy sal sy beloftes hou.

Wees sterk en dapper

Male lion fighting

Op 16 Desember 1838 het 300 Voortrekkers ‘n veldslag by Bloedrivier teen 10 000 Zoeloes gewen.  Hulle het die Here se hulp gevra en dit gekry.  In Genesis 14 is daar ‘n soortgelyke storie.  Die Here het vir Abram gehelp om met ‘n paar honderd man vier magtige konings verslaan.

 

Oorlog (v.1-16)

 

1 En in die dae van Amrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, 2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar. 3 Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee. 4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword. 5 Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim 6 en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê. 7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon. 8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op, 9 teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Amrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf. 10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug. 11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek. 12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig. 13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram. 14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg—15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê. 16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.”

 

Die vier konings in v.1 was uit die gebiede van moderne Irak, Iran en Turkye.  Die eerste koning (Amrafel) was van Sinear.  Dit is waar mense vroeër die toring van Babel probeer bou het (11:2).  Sinear en Elam (v.1) was in die suide van Irak en Iran (Daniël 1:2, 8:2).  Die vier konings het geveg teen vyf konings suid van die Dooie See (v.2).  Die konings van Sodom en Gomorra se name is baie gepas:  Bera beteken ‘seun van boosheid’ en Bisra ‘sonde’.  Vir 12 jaar was die vyf konings onder die juk van Kedor-Laomer (een van die vier konings).  Hulle moes belasting betaal, maar in die 13de jaar het hulle gerebelleer.  In die 14de jaar het die vier konings weer opgetrek om oorlog te maak (v.4).  Hulle het oos van die Jordaan getrek en hulle pad deur die reuse geveg:  die Refaïete, Susiete, Emiete en Horiete (v.5-6).  In Deuteronomium 2:10-12 skryf Moses van hierdie selfde reuse:  “Die Emiete…‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.  Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.  Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon”.  Die Ammoniete se naam vir hierdie reuse was Samsummiete (Deuteronomium 2:20-21).  Dit lyk of húlle verwant is aan die Susiete van Genesis 14:5.  Die reuse se woonstreek het later bekend gestaan as Sirië, Ammon, Moab, en Edom – Israel se vyande!

 

Nadat die vier konings die reuse verslaan het, het hulle omgedraai en noord getrek na Kades en Haseson-Tamar toe (op die weskus van die Dooie See) om die Amalekiete en Amoriete te verslaan (v.7).  God sou uiteindelik die Amoriete en Amalekiete deur Israel straf (15:16, Eksodus 17, 2 Kronieke 20:2).  Ná hulle oorlog met dié groepe het die vier konings by Siddim (by die Dooie See, v.8-9, cf. v.3) teen die vyf konings te staan gekom en hulle oorwin.  Die vyf konings het gevlug.  Sommige van hulle het in teergate geval; die res het berge toe gevlug om dáár te skuil (v.10).  Die vyf konings het Sodom en Gomorra binnegeval en geplunder (v.11).  Hulle het ook vir Lot gevat (v.12).  Voorheen het hy náby Sodom gebly (13:12).  Nou het hy ín die stad gebly (v.12).  Dis amper ‘n klein gelykenis van hoe sonde werk:  moenie eers naby kom nie, want voordat jy jou kry het jy deel daarin.

 

Een van die vlugtelinge het vir Abram die Hebreër (cf. 11:16) vertel dat sy broerskind ontvoer is (v.13).  Abram het sy 318 man saamgeroep en ook vir Mamre, Eskol, en Aner (sy vriende) gevra om hom te help (v.13-14, 24).  Hy was dapper en het takties geveg.  Hy het sy manskappe in groepe verdeel en die vyand van verskeie kante verras in die nag (v.15).  Hy het hulle tot by Hoba gejaag, 400 km noord van Mamre (v.15)!  Hy het vir Lot en al die ‘gesteelde’ goedere terug gebring (v.16).

 

Die oorlog in hierdie hoofstuk het rondóm Abram gewoed, maar hy was veilig in die ‘oog van die storm’.  Die Here het hom beskerm.  God het die land aan hóm en sy nageslag belowe.  Onthou wie die eerste lesers van hierdie hoofstuk was:  die Israeliete in die woestyn, net voordat hulle die Beloofde Land ingeneem het.  Veertig jaar vroeër het hulle die reuse gevrees en geweier om die land in besit te neem (Numeri 13).  In Genesis 14 wys die Here vir hulle hoe vier magtige konings die reuse verslaan het, en hoe Abram met 318 man (en ‘n paar ekstra) die magtige konings oorwin het.  Die les is duidelik:  “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).  Gideon het met 300 man die Midianiete oorwin.  “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

 

Soos Abram moet ons sterk en dapper wees.  Party lesers sal geroep word om sendelinge te wees in kommunistiese Noord-Korea of Islamitiese Jemen.  Dalk moet jy die nes van dwelmhandel in Kemptonpark se middestad gaan uithaal met die Goeie Nuus van Jesus.  Of dalk moet jy ‘n medegelowige uit Satan se vangstrik van vals lering of sonde red.  Jy moet sterk en dapper wees en die adder van selfbejammering, ‘n kort humeur, angs, wellus, of bitterheid se kop vermorsel.  Miskien word jy ‘n kampvegter teen aborsie.  Daarvoor sal jy sterk en dapper moet wees.  Onthou dat jou wapens magtig is om die duiwel se vestings neer te werp (2 Korintiërs 10:4).  Jesus het reeds die sterk man (Satan) vasgebind en is besig om sy huis te plunder (Matteus 12:29).  Jesus het gekom om slawe van sonde te bevry (Lukas 4:18).  In Hom kan ons sterk en dapper wees.  Deur sy liefde is ons meer as oorwinnaars (Romeine 8:37).

 

Vrede (v.17-24)

 

17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê:  Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.  Toe gee hy hom die tiende van alles. 21 En die koning van Sodom sê vir Abram:  Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. 22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom:  Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, 23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie:  Ek het Abram ryk gemaak. 24 Niks vir my nie!  Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”

 

Toe Abram van die oorlog af terugkom, het koning Bera (‘seun van boosheid’), en koning Melgisedek (‘regverdige koning’) hom in die Koningslaagte buite [Jeru]Salem ontmoet (v.17-18, cf. 2 Samuel 18:18, Psalm 76:2).  Melgisedek het vir Abram en sy moeë soldate brood en wyn gebring, sodat hulle hul kon verfris (v.18).

 

Omdat Melgisedek die koning van Salem [shalom] was, kan sy naam ook ‘koning van vrede’ beteken.  Hy was ‘n koning en ‘n priester van die Allerhoogste God (v.18).  Soos Abram het hy die geseënde Verlosser en Skepper-God aanbid, en in Sý Naam vir Abram geseën  (v.19-20).  God het mos in 12:2-3 vir Abram belowe:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  Abram het ‘n tiende van die buit vir Melgisedek gegee (v.20).  Al hierdie dinge wys dat Melgisedek ‘n tipologie was van die Een wat groter sou wees as al die konings in Genesis 14:  Jesus Christus.  Die Hebreërskrywer sê:

 

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het—hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.  Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het.  Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.  Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.  En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.  En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het… Want Hy [God die Vader] getuig:  U [Jesus] is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.” (Hebreërs 7:1-10, 17).

 

Die koning van Sodom het besef dat Melgisedek ‘n groter koning is as hy, en het gewag totdat hy klaar gepraat het.  Toe hy sy beurt kry het die koning van Sodom gepraat asof alles in Abram se besit nog syne was (v.21).  Abram kon alles vir homself gehou het, maar was nederig.  Hy het vir God belowe dat hy niks vir homself sou vat nie, want anders sou Bera ‘n houvas op hom gehad het:  ‘Ék het jou ryk gemaak – jy skuld my!’ (v.22-23, cf. 12:16).  Abram het wel gesê dat hy en sy manne van die kos moes eet en het gevra dat Aner, Eskol, en Mamre húlle deel van die buit moes kry (v.24).

 

Bera het gehoor hoe Abram en Melgisedek van die Allerhoogste God praat, en tog het hy hom nie van sy boosheid bekeer nie.  Hy was ryp vir die oordeel (cf. hoofstuk 19).

 

Die Here het vir Abram geseën toe hy sterk en dapper was (v.19-20).  En hy sou vir Israel seën as hulle sterk en dapper was om die land in te neem (Josua 1:1-9).  Soos Abram moet ons Gód se seën ontvang.  Moenie die rykdom en beloning van die wêreld soek nie; hulle sal dit teen jou hou en dit sal in elk geval vergaan (v.21, 23).  As jy blydskap, vrede en troos begeer moet jy die ewige rykdom en lof van God soek (v.19-20, Hebreërs 12:2).  In drie woorde:  hunker na Jesus (Filippense 3:14).  En wanneer hy jou geseën het moet jy nie vergeet om dankie te sê nie (v.20, Abram het ‘n tiende gegee).

 

Martin Luther het 95 stellings teen Wittenberg se kerkdeur vasgespyker.  Hierin het hy die valshede van die Pous en die Rooms-Katoliekekerk uitgewys.  Die Here het vir Luther gebruik om miljoene mense van duisternis te bevry (ons ingesluit).  Mag die Here in ons tyd ‘n sterk en dapper Abram of Luther stuur om miljoene Suid-Afrikaners uit duisternis te bevry.

Onstuitbaar!

Unstopable wave

Die kerk is soos ‘n plant wat méér groei as jy dit snoei.  Handelinge 5 illustreer dit.

 

Kettings (v.17-26)

 

17 En die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was—dit is die party van die Sadduseërs—en hulle was met nydigheid vervul, 18 en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit. 19 Maar ‘n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: 20 Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe. 21 En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer.  Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal. 22 Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê: 23 Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie. 24 En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word. 25 En daar kom een en bring aan hulle berig en sê:  Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk. 26 Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.”

 

Jaloesie het gemaak dat die Joodse Raad vir Jesus laat kruisig het (Markus 15:10).  In Handelinge 5 gebeur dit weer.  Die Sadduseërs het nie in die opstanding geglo nie (4:2, 23:8) en uit jaloesie die apostels gearresteer (v.17).  Hierdie keer het hulle nie iemand gestuur nie.  Saam met die hoëpriester het hulle self gekom om die kerkleiers in hegtenis te neem (v.17-18).  In die nag het ‘n engel die twaalf apostels kom vrylaat (v.19).  Hy’t seker die wagte se oë blind gemaak, sodat hulle nie kon sien hoe die tronkdeure oop en toe maak nie (cf. hoofstuk 12).  Die engel het vir hulle gesê:  “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” (v.20).  Wat was ‘die woorde van hierdie lewe’wat hulle moes verkondig?  Dit was Jesus self – die Weg, die Waarheid, en die Lewe (Johannes 14:6).  Dit was die ewige lewe (Johannes 17:3).  Dit was die waarheid dat Jesus opgestaan het uit die dood (juis dít waarvoor hulle in 4:2 gearresteer is).  Toe hulle vrygelaat is het hulle nie gevlug nie, maar gepreek (v.21a).  Die Raad kon nie uitwerk hoe die apostels ontsnap het nie – die tronkdeure was dan gesluit en die soldate het waggestaan (v.21b-24).  Wat ‘n tragedie dat die Raad nie die wonderwerk erken het nie.  Al wat saakgemaak het was dat die apostels die wet oortree het en die evangelie gepreek het.  Die Raad het hulle laat haal.  Hierdie keer was hulle nie hardhandig nie.  Hulle het saggies gewerk, omdat hulle (soos nog altyd) mense gevrees het (v.25-26, cf. Lukas 22:2).  Maar kettings kon nie die apostels se prediking stuit nie.

 

Regering (v.27-32)

 

27 Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê: 28 Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie?  En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring. 29 En Petrus en die apostels antwoord en sê:  Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. 30 Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. 31 Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. 32 En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.”

 

Die hoëpriester wou weet hoekom hulle die Raad se opdrag geminag het; waarom die apostels húlle van Jesus se dood beskuldig het (v.27-28).  Die apostels was reg:  die Joodse leiers wás die voorbokke.  Jesus se bloed was op húlle hande; sy spykers in húlle sakke.  “Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring…En die hele volk antwoord en sê:  Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matteus 27:20, 25).  Petrus en die ander apostels kón nie anders as om Jesus te verkondig nie.  Toe die keuse voor hulle gestel is, het hulle geantwoord:  “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (v.29, cf. 4:19).

 

Die Joodse Raad het geweet dat iemand wat aan ‘n boom hang vervloek is (v.30, Deuteronomium 21:22-23).  Maar hulle moes leer dat God sy Seun tot Leidsman en Verlosser verhoog het (v.31).  Sy Naam – Jesus – beteken immers Verlosser (Matteus 1:21).  Van Hom sê Dawid:  “Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (Psalm 110:1).  Elke gelowige weet dis Hý wat vergifnis bied (v.31).  Maar hoeveel weet dat Hy ook die vereiste bekering skenk (v.31, cf. 11:18, 2 Timoteus 2:25)?  Die twaalf apostels was ooggetuies van sy opstanding (v.32).  Die Heilige Gees het saam getuig deur wonders en tekens (v.32, 15-16, 1:8).  Die Gees kom maak sy woning in almal wat in geloof gehoorsaam is aan die evangelie (v.32, 29, Romeine 1:5).  Die Joodse leiers wóú nie hoor nie.  Maar selfs húlle (of enige ander regering) kan nie God se werk stuit nie.

 

Dood (v.33-39)

 

33 Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring. 34 Maar ‘n Fariseër met die naam van Gamáliël, ‘n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels ‘n bietjie buitentoe moes bring. 35 Toe sê hy vir hulle:  Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; 36 want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was.  By hom het ‘n aantal mense—omtrent vier honderd—aangesluit.  Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. 37 En ná hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en ‘n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan.  Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. 38 En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; 39 maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”

 

Die Raad was briesend oor die apostels se klag, asook oor die getuienis dat Jesus die Messias is.  Hulle wou die apostels vermoor (v.33).  Maar het hulle dan nie die les geleer nie?  Hulle het Jesus vermoor en Hy het opgestaan.  Het hulle regtig gedink dat hulle beter sukses sou hê met die apostels?

 

Gamaliël was die kleinseun van die beroemde Rabbi Hillel, en ook die leermeester van Paulus (22:3).  Die hele Israel het hom gerespekteer.  Sonder sy wete het God hóm gebruik om die apostels te beskerm.  Sy beskermende raad was dalk ‘n poging teen die Sadduseërs, omdat hý (‘n Fariseër) skerp oor die opstanding van dooie mense verskil het (cf. 23:7-9).  Hoe dit ookal sy, hy het verwys na Theudas (nie dieselfde Theudas as die een van wie Josefus skryf nie) wat met 400 volgelinge teen Rome opgestaan het.  Toe hy ‘uitgehaal’ is, het sy volgelinge uitmekaar gespat (v.35-36).  Kort ná hom het Judas die Galileër teen die Keiser gerebelleer.  Tydens die tweede sensus onder Sirenius (6 n.C.) het hy mense opgesweep om nie belasting te betaal nie.  ‘Eer God alleen,’ het hy gesê.  Die Romeine het hom doodgemaak, en die Selote (sy party) het teruggetrek (v.37).  As die kerk ‘n mensgemaakte instansie was, sou ook dít ‘n natuurlike dood sou sterf (v.38).  Maar indien God in die saak was, sou niks en niemand daarteen kon staan nie (v.39).  Gamaliël was reg, want selfs toe die apostels en ander Christene gemartel is, het die kerk nie doodgeloop nie.  Inteendeel:  ‘The blood of the martyrs is the seed of the church.’ (Gregorius).

 

Stokke (v.40-42)

 

40 En hulle het na hom geluister.  En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. 41 Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. 42 En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”

 

Die apostels is gedreig en het 39 houe gekry (v.40, cf. Deuteronomium 25:2-3, 2 Korintiërs 11:24).  Ná die pakslae het hulle gejuig en aangehou om Jesus in die tempel en in kleiner huisgroepe te preek (v.41-42).  Hulle het geweet wat hulle lyding vir die evangelie beteken het:  “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).  “gemeenskap aan sy lyde” (Filippense 3:10).  Stokke kon hulle nie stuit nie.

 

In 1662 is twee duisend Engelse Puriteine uit hulle kerke uit verban (‘The Great Ejection’).  Hulle het in huise en velde begin preek, maar in 1664 het wetgewing hulle verbied.  In 1665 is hulle onder die Five Mile Act verbied om binne ‘n radius van 5 km van hulle gemeentes of enige stad of dorp te kom.  Baie van hulle (soos John Bunyan) is tronk toe gestuur.  Dank die Here hiervoor, want anders sou ons geestelik armer gewees het.  Honderde boeke is in hierdie jare geskryf (soos Bunyan se Pilgrim’s Progress).  Was dit nie dieselfde met Paulus nie?  Sekere boeke in ons Nuwe Testament bestaan omdat Paulus in die tronk was!  Die les is duidelik:  jy kan mense se monde toestop, maar jy kan nooit die evangelie stilmaak nie.  Paulus sê:  “ek [ly] verdrukking tot die boeie toe soos ‘n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie.” (2 Timoteus 2:9).

 

In Suid-Afrika is daar mense wat die evangelie wil stilmaak:

 

  • In die afgelope dekade was daar ten minste drie pogings om Radio Kansel se uitsaailisensie op te skort. ‘n Paar jaar gelede is hulle gedwing om op AM uit te saai.
  • RSG se opdrag aan hulle predikers is: ‘Jy mág nie sê Jesus is die enigste Weg nie.’
  • Die meeste uitgewers en koerante sal nie boeke druk of artikels plaas wat ‘n sterk standpunt vir die waarheid inneem nie.
  • ‘n Prediker in die Kaap het in die sop beland toe hy lyfstraf voorgestaan het. Moreletapark NG-Kerk is gedagvaar oor hulle standpunt teen homoseksualiteit.
  • Ek het gehoor hoe ‘n vrou van Loslip afgesny word toe sy oor die vrug van die Gees gepraat het. Ek het eenkeer ingebel toe hulle oor ‘pakslae’ gepraat het. My ‘Bybelse’ bydra was nie baie welkom nie.
  • ‘n Man het die evangelie by UCT (University of Cape Town) gepreek en is deur die sekuriteit verwyder. By Menlyn winkelsentrum word mense wat traktaatjies uitdeel deur die sekuriteit verwyder.
  • Moslems mag op Vrydae af kry om te bid, maar Christene wat weier om op ‘n Sondag te werk staan ‘n kans om hulle werk te verloor.
  • Dis aanvaarbaar om Jesus se Naam in films te laster. Maar probeer om teen Mohammed te laster en kyk wat gebeur!
  • Baie skole en besighede het regulasies téén die Bybel en gebed.

 

Die wêreld hou daarvan om Christene te spot, te dreig, uit te lag, en aan te val.  Ongelukkig kom die aanval dikwels van godsdienstige mense af (soos in Handelinge 5).  Maar die Here sal jou help.  Hy sal by jou wees.  Kyk na Jesus en na die beloning wat kom:

 

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.  Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” (Matteus 5:10-12).

 

“die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (Hebreërs 12:2).

 

Moenie stilbly omdat jy die vrede wil bewaar nie.  Moenie bang wees nie.  Jesus sal sy kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18).  Hy is onstuitbaar.

 

Een man het gesê dat nie eers Gód die Titanic kon sink nie.  Hoe verkeerd was hy nie.  Maar van die skip van die Kerk kan ons met vrymoedigheid sê:  ‘Dit sal nooit sink nie, want as God vir ons is, wie kan teen ons wees?’

Wat is ’n effektiewe kerk?

Effective church

Wat sou jý antwoord?  Sê jy ‘n kerk wat op jongmense fokus of ‘n kinderkerk het is effektief?  Of dalk ‘n kerk wat die kansel vervang met ‘n sitkamerstel op die verhoog; wat 40-minuut lange preke vervang met dialoë wat nie langer as ‘n 20 minute duur nie?  Miskien ‘n kerk waar mense gemaklik aantrek?  ‘n Kerk met ‘n koffie winkel?  Handelinge 4 wys vir ons wat ‘n effektiewe kerk is.  Gebed en prediking is bo-aan die lys (4:31).  En dan is daar nog drie kenmerke in hiérdie teks (sekerlik is daar nóg kenmerke op ander plekke in die Bybel).  Kyk of jy dit kan raaksien.

 

4:32 En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. 4:33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. 4:34 Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 4:35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. 4:36 En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was—wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting—’n Leviet, van geboorte uit Ciprus, 4:37 het ‘n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

 

5:1 Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 5:2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 5:3 Toe sê Petrus:  Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 5:4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie?  En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?  Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het?  Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5:5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. 5:6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. 5:7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. 5:8 En Petrus het haar aangespreek:  Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het?  En sy sê:  Ja, vir soveel. 5:9 En Petrus sê vir haar:  Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek?  Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. 5:10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe.  En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. 5:11 En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.

 

5:12 En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. 5:13 En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. 5:14 En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, 5:15 sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. 5:16 En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.”

 

Eenheid (4:32-37)

Daar was nou al heelwat meer as 5000 gelowiges (v.4).  Die hele lot van hulle was een van hart en siel (v.32).  Volgens v.31, 2:42 is hierdie eenheid versterk deur gebed, die Woord, gereelde samekomste en die nagmaal.  Hulle het hulle besittings met mekaar gedeel, sodat niemand onder hulle behoeftig was nie (v.32, 34-35).  Wat God in Deuteronomium 15:4 gesê het was waar van húlle:  “Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want die HERE sal jou ryklik seën in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem”.  Niemand het hulle verplig om te gee nie – hulle wóú gee (cf. 5:4).  Hierdie was nie kommunisme nie, maar ‘n werk van die Gees.  Hulle eenheid en liefde het steun gegee aan die apostels se getuienis oor die opstanding:  “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” (v.33).  Jesus het voor sy dood gebid “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21).

 

Daar was ‘n man uit die stam van Levi.  Hy was van die Griekse eiland Siprus.  Sy naam was Josef (Joses in die Ou Vertaling).  Omdat hy baie ander bemoedig het, het die apostels hom Barnabas (seun van vertroosting) genoem (v.36).  Die Leviete het nie grond in Israel besit nie (Josua 14:14).  Barnabas het dan waarskynlik die grond wat hy op Siprus besit het, verkoop.  Hy was ‘n wonderlike voorbeeld vir die gelowiges en het later saam met Paulus ‘n kragtige prediker, sendeling, en apostel van die evangelie geword (11:24-26, 13:1-2, 14:3-4, 14).

 

Geloof in die evangelie is die basis vir die tipe eenheid waarvan ons in hierdie verse lees:  “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel” (v.32).  Ons kan dus nie eenheid hê met mense wat die Bybelse evangelie ontken nie:  Katolieke, liberales, Mormone, Moslems, mense wat ‘n voorspoed-teologie (Prosperity Gospel) verkondig, ensovoorts.  Ons mag nie saam met sulke mense bid en aanbid nie.  Maar indien iemand ‘n ware gelowige is, moet ons hulle in liefde omhels – al verskil ons dalk oor dinge soos die doop, geestelike gawes, doping met die Heilige Gees, Calvinisme.  Ons moet slegs eenheid breek met mense wat in sonde volhard of ‘n vals evangelie glo.  Ons eenheid word onder andere uitgedruk in mededeelsaamheid.  Ons hoef nie ons besittings te verkoop en die geld te verdeel nie.  Onthou dat Jerusalem binnekort verwoes sou word (70 n.C.).  Dit is hoekom baie van húlle eiendom verkoop het.  Maar ons moet mededeelsaam wees – veral as jy ryk is.  Die Skrif sê:

 

“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (1 Timoteus 6:17-19).

 

‘n Kerk waar eenheid heers sal effektief wees in die samelewing:  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).  Die kerk waarin ek groot geword het, het hierdie tipe eenheid gehad.  Ons het ‘n effektiewe getuienis in ons dorp gehad.  John MacArthur vertel van ‘n Joodse vrou wat hulle gemeente besoek het.  Sy vertel later dat sy nie die preek kan onthou nie.  Wat haar aandag getrek het was die eenheid en liefde onder die mense.  Sy het weer gekom en ‘n paar weke later tot bekering gekom.

 

Reinheid (5:1-11)

Die voegwoord ‘maar’ in v.1 wys ‘n kontras tussen Barnabas aan die een kant, en Ananias en Saffira aan die ander kant.  Barnabas het gegee omdat hy ander wou help.  Ananias en Saffira wou ‘n naam hê; hulle wou hê almal moes hulle gelukwens (cf. Matteus 6:1-4).  Hulle het ‘n stuk grond verkoop en saam gekonkel om te lieg oor die wins (v.1-2).  Die Heilige Gees het hulle bedrog aan Petrus bekend gemaak (v.3).  Die eiendom was húlle s’n; hulle kon dit gehou het.  Selfs nadat hulle dit verkoop het kon hulle ál die geld gehou het.  Die probleem was dat hulle vir Satan, die vader van leuens, geluister en vir God die Heilige Gees gelieg het (v.3-4).  God het vir Ananias geoordeel.  Hy het dood neergeslaan en is begrawe (v.5-6).  Sy dood laat ons baie dink aan Nadab en Abihu se dood in Levitikus 10.  God het ook vir Ussa doodgeslaan toe hy gesondig het (2 Samuel 6).  Sommige van die Korintiërs het gesterf toe hulle die nagmaal misbruik het (1 Korintiërs 11:30).  Ek het eenkeer vir ‘n vrou wat in sonde volhard het, gesê om haar te bekeer.  Sy het geweier en is twee weke later dood.  Ek sal dit nooit vergeet nie.

 

Saffira het nie geweet dat haar man gesterf het nie (v.7).  Sy het geleentheid gekry om haar te bekeer, maar het besluit om saam te lieg (v.8).  Sy het die Heilige Gees getoets:  ‘Weet Hy regtig alles…Ek wonder of Hy regtig sonde ernstig opneem?’ (v.9).  Die Skrif waarsku dat ons nie die Here moet toets nie (Matteus 4:7, 1 Korintiërs 10:9).  Saffira het dood neergeslaan op dieselfde plek waar hulle hul vuil geld neergesit het:  by Petrus se voete (v.10, 2).  Sy is langs haar man begrawe.  Almal wat hiervan gehoor het, het gevrees (v.5, 11).  Dit is dan één doel van kerktug.  Paulus skryf:  “Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.” (1 Timoteus 5:20).

 

Sommige van my lesers en hoorders volhard in sonde.  Hoekom wíl jy sterf?  Vrees eerder en bekeer jou.  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petrus 4:17).  Kerke wat nie tug toepas nie is onrein en onheilig.  Sulke kerke sal nie baie effektief wees in die samelewing nie.  Hoe kan ‘n onheilige kerk ‘n onheilige wêreld bereik?  God gebruik heilige kerke om die wêreld van sonde te oortuig.  ‘n Kerk wat sonde verdra en nie tug toepas nie sal self getug word (Openbaring 2:20).

 

Krag (5:12-16)

‘n Kerk waar eenheid heers is kragtig (v.12).  Die tug in v.1-11 het nie die kerk se groei gestuit nie.  Inteendeel:  “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (v.14).  Mense wat in sonde wou volhard, het nie gedurf om aan te sluit by ‘n kerk waar sondaars sterf nie.  Hulle het die kerk gevrees (v.13).  Baie siekes wou genees word en het dus gehoop dat Petrus se skaduwee op hulle sou val (v.15).  Maar dis baie duidelik dat nie net húlle genees is nie:  almal is genees (v.16).  Die kerk se gebed in 4:29-30 is beantwoord:  “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.”

 

Twee lesse staan uit:

 

[1] Tug sorg vir gelowige kerklidmaatskap (v.13-14).  Jy het nie ‘n kerk vol ongelowiges wat moles maak nie.  So ‘n kerk is kragtig en effektief.

 

[2] Daar is nie meer apostels nie.  Sekere gawes was ook uniek tot die apostels.  Maar ons het steeds hulle kragtige evangelie-getuienis wat in die Skrif opgeteken is (v.33).  Bid dat die Here sy krag sal toon in die redding van sondaars, genesing van siekes, en verlossing van mense wat in die bande van Satan is (v.14-16).  Die volgende storie illustreer hierdie krag.

 

‘n Waarseêr het een aand na Martyn Lloyd-Jones gaan luister.  Sy het tot bekering gekom, en het later gesê:  ‘The moment I entered your chapel and sat down on a seat amongst the people, I was conscious of a supernatural power.  I was conscious of the same sort of supernatural power I was accustomed to in our spiritist meetings, but there was one big difference; I had the feeling that the power in your chapel was a clean power.’ (Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years, p.221).

 

Wat dink jy van dié stelling:  Dit maak nie veel saak of die metodes van wiskunde verander nie (ons gebruik deesdae sakrekenaars); die formules bly dieselfde en dis al wat saakmaak?  Die stelling is verkeerd, want die metodes máák ‘n verskil.  Ou mense wat nie sakrekenaars gehad het nie, kan beter optel as jong mense wat net met sakrekenaars geleer tel het.  Net so kan ons nie sê:  Die kerk se metodes moet met die tye verander – solank ons boodskap nie verander nie.  ‘n Effektiewe kerk behou die Bybel se boodskap en metodes.

God is getrou

Faithful

Ons leer vir ons kinders karaktertrekke.  Laasmaand se karaktertrek was betroubaarheid:  doen wat jy belowe.  Na middagete hou ons huisgodsdiens.  ‘Was jy vandag betroubaar?’ het ek vir elkeen gevra.  Ons moes gereeld bely dat ons nié betroubaar was nie.  God is anders as ons.  Hy hoef nooit te erken dat Hy onbetroubaar was nie.  Hy is altyd getrou.  Genesis 12-13 wys dit.

 

Kanaän toe (12:1-9)

 

12:1 En die HERE het aan Abram gesê:  Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. 12:2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 12:3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. 12:4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek.  En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. 12:5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom. 12:6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More.  Die Kanaäniete was toe in die land. 12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê:  Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.  Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het. 12:8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. 12:9 Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.”

 

God het in Ur reeds vir Abram geroep (Handelinge 7:2-4).  In Haran het Hy die roeping bevestig (v.1, 11:31-32).  Abram het in die geloof getrek sonder om te weet waarheen hy gaan (v.1, Hebreërs 11:8).  In v.2-3 het God ses dinge aan hom belowe:

 

  • ‘n Groot nageslag (al was sy vrou onvrugbaar, cf. 11:30).
  • Seën.
  • ‘n Groot naam. Kontrasteer dit met 11:4 waar mense self vir hulle ‘n groot naam wou maak.
  • Seën vir hulle wat guns aan Abram bewys.
  • Vervloeking vir hulle wat Abram vyandig gesind is. Toe Farao Abram se vrou gevat het, het God hom en sy huis met plae getref (v.17).
  • Seën vir sy nageslag. Christus is sy nageslag. Almal wat met Christus verbind is deel in hierdie seën. Paulus sê: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus…En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:16, 29).

 

God kan enigiemand roep – ook ‘n ou man van 75 (v.4).  Abram het uit Haran (op die grens van Sirië en Turkye) vertrek en suid beweeg (v.4-5).  Hy het in die middel van Kanaän afgepak, in die koelte van die terpentynboom van More by Segem (v.6).  Dit was reg teen berg Gerisim en Ebal (Deuteronomium 11:29-30).  Dáár het God aan hom verskyn en die land aan sy nageslag belowe.  Abram het ‘n altaar gebou en die Here aanbid (v.7, hy het voorheen afgode aanbid, cf. Josua 24:2).  Hy het verder suid getrek, tussen Bet-el en Ai kamp opgeslaan, en weer ‘n altaar gebou om die Here te aanbid (v.8).  Op hierdie selfde plek het Jakob later gesien hoe engele op ‘n leer tussen hemel en aarde beweeg (hoofstuk 28).  Abram het nóg verder suid getrek na die Negeb woestyn toe (v.9).  Volgens argeoloë was daar in Abram se tyd (2090 v.C.) weiding hier.  Abram het dus die Beloofde Land van noord tot suid deurkruis.

 

Let op hoe die frase ‘Ek sal’ in v.2-3 herhaal word:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  God is soewerein – Hy sal dit doen.  God is getrou – Hy sal dit doen.  Steun op Hom as jý in areas van jou lewe ‘onvrugbaar’ is:

 

  • Jy sukkel om finansieel kop bo water te hou.
  • Jy stagneer geestelik.
  • Daar is nie arbeiders in die oes nie; sendingwerk kwyn.
  • Jy sien geen bekerings in die kerk nie.
  • Jy begeer die vrug van die Gees in jou hart, maar kom hopeloos kort in liefde, blydskap, vrede, en selfbeheersing.
  • Jou hart voel koud.
  • Jou gebede bly onbeantwoord.

 

Pasop dat jy nie ‘seën’ tot materiële dinge soos gesondheid en geld beperk nie.  Moet ook nie dink dat jy ongeseënd en verloek is as jy siek of arm is nie.  Die Bybel sê:

 

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.” (Galasiërs 3:13-14). 

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efesiërs 1:3). 

 

Hoe moet jy reageer op die seën wat God vir jou gegee het?  Jy moet die Here gehoorsaam (v.3), sy beloftes glo (v.7), en Hom aanbid (v.7-8).  Jy moet God liefhê, selfs bo jou eie familie:  “En die HERE het aan Abram gesê:  Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” (v.1).  Jesus het gesê:  “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”(Lukas 14:26).

 

Egipte toe (12:10-20)

 

12:10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 12:11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek:  Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. 12:12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê:  Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. 12:13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 12:14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. 12:15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys.  En die vrou is na die paleis van Farao geneem. 12:16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. 12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. 12:18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê:  Wat het jy my nou aangedoen?  Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? 12:19 Waarom het jy gesê:  Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het?  Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. 12:20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.”

 

In Abram se ondervinding sien ons ‘n voorskou van wat met Israel sou gebeur:

 

[1] ‘n Hongersnood het gemaak dat Abram weiding en water in die ryk Nyl-Delta van Egipte gaan soek het (v.9).  Deur ‘n hongersnood het Israel in Egipte geeïndig (hoofstuk 42-43).

 

Sarai was 65; tien jaar jonger as Abram (v.11-12, 4, 17:17).  Sy was baie mooi.  Op 65 was sy nog jonk, veral as ons onthou dat sy dubbel so oud was toe sy dood is (23:1).  Abram het gevrees dat die Egiptenare hom sou doodmaak vir sy vrou.  Hy het gevra dat sy moet lieg en sê dat sy Abram se suster is (v.13).  Sy was wel sy halfsuster (20:12), maar Abram het nie die volle waarheid vertel nie.  Hoekom nie?  God het dan in v.7 belowe dat Abram se nageslag die land sou besit.  As God ‘n nageslag belowe het sou hulle hom mos nie kon doodmaak nie.  Farao het vir Sarai gevat om sy vrou te wees en aan Abram ‘n bruidprys van kleinvee, beeste, donkies, kamele, slawe en slavinne betaal (v.14-16).

 

[2] God het plae gestuur om Farao en sy huis te teister.  Farao was kwaad en het vir Abram met sy vrou en baie rykdom, uit die land weggestuur (v.17-20).  Dieselfde het later met Israel gebeur:  God het plae gestuur om vir Farao en die Egiptenare gestraf (Eksodus 8-12).  Farao het die Israeliete met baie rykdom uit sy land weggestuur (Eksodus 12:31-36).

 

Moenie bang word, twyfel, en sondig as dit lyk of jou omstandighede God se beloftes verhinder nie.  Vir Abram het dit gelyk of sy tyd in Egipte teen God se planne werk:  hy was nie meer in Kanaän nie en sy vrou was in ‘n ander man se arms.  Wat het nou geword van die belofte van die land en ‘n groot nageslag?  God het vir Abram ryk laat word tydens die hongersnood (v.16, 20).  God het sy vrou vir hom teruggegee (v.17).  God kan ook sake wat vir jou onmoontlik en vreesagtig lyk vir die goeie laat uitwerk.  John Paton is ‘n goeie voorbeeld.  Hy was ‘n Skotse sendeling na die kanibaal-eiland van Tanna.  Daar het hy noue ontkomings gehad en min vrug op sy arbeid gesien.  Hy het vir ander daarvan vertel.  In reaksie hierop het baie mense sendelinge geword.  Paton het na Aniwa (‘n ander kanibaal-eiland) toe geskuif.  Die hele eiland het tot bekering gekom.

 

Partykeer is ons ontrou.  In hierdie tye moet 2 Timoteus 2:13 ons skaam maak en tot bekering lei:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”

 

Mamre toe (13:1-18)

 

13:1 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. 13:2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. 13:3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, 13:4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het.  En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep. 13:5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. 13:6 En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. 13:7 En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot.  Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.

 

13:8 Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. 13:9 Lê die hele land nie voor jou oop nie?  Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. 13:10 Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. 13:11 En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek.  So het hulle dan die een van die ander geskei. 13:12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. 13:13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.

 

13:14 En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het:  Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; 13:15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. 13:16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. 13:17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee. 13:18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE ‘n altaar gebou.”

 

Toe Abram uit Egipte weg is, het hy weer na die Negeb woestyn toe getrek.  Vandaar het hy teruggekeer na sy kampplek tussen Bet-el en Ai.  Daar het hy die Here weer by die altaar aanbid (v.1-4).  Toe ontstaan daar ‘n probleem.

 

Saam was Abram en Lot se vee te veel en die weiding te min.  Hulle veewagters het onder mekaar begin twis (v.5-7).  Abram het voorgestel dat hy en Lot paaie skei; dat elkeen sy eie blyplek kry.  Hierdie keer het hy nie sy eie voordeel gesoek nie (soos in 12:13).  Hy het sy les geleer.  Hy was nederig en het gesê dat Lot eerste kan kies waar hy wil bly.  Lot het gesien dat die Jordaan-vallei groen was soos die Nyl-Delta in Egipte, soos die tuin van Eden (dit was natuurlik vóórdat God die stede in die vallei uitgewis het, want daarná het die sout en swawel gemaak dat die gebied onvrugbaar was – cf. v.10, hoofstuk 19).

 

Lot het getrek en naby Sodom (suid van die Dooie See) gaan bly.  Dit was ‘n fout, omdat die mense van Sodom goddeloos was en later uitgewis sou word (v.11-13, hoofstuk 19).  Abram het op die berge tussen Bet-el en Ai gestaan (v.14, 3-4, 12:8).  Van daar af sou hy ver kon sien toe God die land aan sy nageslag belowe (v.15).  God het belowe om Abram se nageslag soos die stof van die aarde te maak (v.16).  Wat ‘n belofte – veral as jy onthou dat daar baie stof in die Midde-Ooste is!  Abram het deur die hele land gestap (v.17).  Hy moes die land sien wat God aan sy nageslag belowe het.  Sy sole op die grond was simbolies dat sy nageslag die land in besit sou neem.  Later sê die Here immers vir Israel:  “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.” (Josua 1:3).  Abram het hom uiteindelik onder die koeltebome van Marme naby Hebron gevestig.  Daar het hy weer ‘n altaar gebou en die Here aanbid (v.18).

 

Watse lesse leer ons uit hoofstuk 13?

 

[1] In Egipte het Abram geen altaar gebou nie.  Eers toe hy weer in Kanaän kom het hy die Here aanbid (v.4, 18).  Hy het dus vir ‘n tyd eintlik van die Here af weggedwaal.  In Kanaän het hy hom bekeer.  Soos Abram moet ons na die Here toe terugdraai as ons afgedwaal het.  Jesus sê:  “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.” (Openbaring 2:4-5).

 

[2] Lot het buite Sodom gaan bly.  ‘n Tyd later het die Here Sodom verwoes (v.10).  Abram het in Kanaän gebly.  Dit sou vir ewig aan sy nageslag gegee word (v.15).  Moenie soos Lot wees wat tydelike en vleeslike dinge gesoek het nie.  Wees soos Abram wat geestelike en ewige dinge gesoek het.  Doen dit veral wanneer jy ‘n nuwe skool vir jou kinders kies, op ‘n werk besluit, na ‘n nuwe dorp toe trek, ‘n nuwe huis koop, of die regte huweliksmaat soek.  Moenie trek omdat jou nuwe werk baie betaal nie.  Sorg dat daar ‘n goeie kerk in die omgewing is.  Onthou dat die wêreld en alles daarin vergaan; die Here en sy Koninkryk bly vir ewig (1 Johannes 2:15-17).

 

Voor ‘n nasionale verkiesing maak elke politieke party groot beloftes.  Ná die verkiesing is hulle egter onbetroubaar en kom nie hulle beloftes na nie.  God is nie so nie.  Hy is getrou.  Hy hou sy beloftes.