God is getrou

Faithful

Ons leer vir ons kinders karaktertrekke.  Laasmaand se karaktertrek was betroubaarheid:  doen wat jy belowe.  Na middagete hou ons huisgodsdiens.  ‘Was jy vandag betroubaar?’ het ek vir elkeen gevra.  Ons moes gereeld bely dat ons nié betroubaar was nie.  God is anders as ons.  Hy hoef nooit te erken dat Hy onbetroubaar was nie.  Hy is altyd getrou.  Genesis 12-13 wys dit.

 

Kanaän toe (12:1-9)

 

12:1 En die HERE het aan Abram gesê:  Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. 12:2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 12:3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. 12:4 Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek.  En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. 12:5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom. 12:6 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More.  Die Kanaäniete was toe in die land. 12:7 Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê:  Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee.  Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het. 12:8 En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. 12:9 Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.”

 

God het in Ur reeds vir Abram geroep (Handelinge 7:2-4).  In Haran het Hy die roeping bevestig (v.1, 11:31-32).  Abram het in die geloof getrek sonder om te weet waarheen hy gaan (v.1, Hebreërs 11:8).  In v.2-3 het God ses dinge aan hom belowe:

 

  • ‘n Groot nageslag (al was sy vrou onvrugbaar, cf. 11:30).
  • Seën.
  • ‘n Groot naam. Kontrasteer dit met 11:4 waar mense self vir hulle ‘n groot naam wou maak.
  • Seën vir hulle wat guns aan Abram bewys.
  • Vervloeking vir hulle wat Abram vyandig gesind is. Toe Farao Abram se vrou gevat het, het God hom en sy huis met plae getref (v.17).
  • Seën vir sy nageslag. Christus is sy nageslag. Almal wat met Christus verbind is deel in hierdie seën. Paulus sê: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus…En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Galasiërs 3:16, 29).

 

God kan enigiemand roep – ook ‘n ou man van 75 (v.4).  Abram het uit Haran (op die grens van Sirië en Turkye) vertrek en suid beweeg (v.4-5).  Hy het in die middel van Kanaän afgepak, in die koelte van die terpentynboom van More by Segem (v.6).  Dit was reg teen berg Gerisim en Ebal (Deuteronomium 11:29-30).  Dáár het God aan hom verskyn en die land aan sy nageslag belowe.  Abram het ‘n altaar gebou en die Here aanbid (v.7, hy het voorheen afgode aanbid, cf. Josua 24:2).  Hy het verder suid getrek, tussen Bet-el en Ai kamp opgeslaan, en weer ‘n altaar gebou om die Here te aanbid (v.8).  Op hierdie selfde plek het Jakob later gesien hoe engele op ‘n leer tussen hemel en aarde beweeg (hoofstuk 28).  Abram het nóg verder suid getrek na die Negeb woestyn toe (v.9).  Volgens argeoloë was daar in Abram se tyd (2090 v.C.) weiding hier.  Abram het dus die Beloofde Land van noord tot suid deurkruis.

 

Let op hoe die frase ‘Ek sal’ in v.2-3 herhaal word:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  God is soewerein – Hy sal dit doen.  God is getrou – Hy sal dit doen.  Steun op Hom as jý in areas van jou lewe ‘onvrugbaar’ is:

 

  • Jy sukkel om finansieel kop bo water te hou.
  • Jy stagneer geestelik.
  • Daar is nie arbeiders in die oes nie; sendingwerk kwyn.
  • Jy sien geen bekerings in die kerk nie.
  • Jy begeer die vrug van die Gees in jou hart, maar kom hopeloos kort in liefde, blydskap, vrede, en selfbeheersing.
  • Jou hart voel koud.
  • Jou gebede bly onbeantwoord.

 

Pasop dat jy nie ‘seën’ tot materiële dinge soos gesondheid en geld beperk nie.  Moet ook nie dink dat jy ongeseënd en verloek is as jy siek of arm is nie.  Die Bybel sê:

 

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe:  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang—sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.” (Galasiërs 3:13-14). 

 

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efesiërs 1:3). 

 

Hoe moet jy reageer op die seën wat God vir jou gegee het?  Jy moet die Here gehoorsaam (v.3), sy beloftes glo (v.7), en Hom aanbid (v.7-8).  Jy moet God liefhê, selfs bo jou eie familie:  “En die HERE het aan Abram gesê:  Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” (v.1).  Jesus het gesê:  “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.”(Lukas 14:26).

 

Egipte toe (12:10-20)

 

12:10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 12:11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek:  Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. 12:12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê:  Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. 12:13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 12:14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. 12:15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys.  En die vrou is na die paleis van Farao geneem. 12:16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. 12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. 12:18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê:  Wat het jy my nou aangedoen?  Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? 12:19 Waarom het jy gesê:  Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het?  Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. 12:20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.”

 

In Abram se ondervinding sien ons ‘n voorskou van wat met Israel sou gebeur:

 

[1] ‘n Hongersnood het gemaak dat Abram weiding en water in die ryk Nyl-Delta van Egipte gaan soek het (v.9).  Deur ‘n hongersnood het Israel in Egipte geeïndig (hoofstuk 42-43).

 

Sarai was 65; tien jaar jonger as Abram (v.11-12, 4, 17:17).  Sy was baie mooi.  Op 65 was sy nog jonk, veral as ons onthou dat sy dubbel so oud was toe sy dood is (23:1).  Abram het gevrees dat die Egiptenare hom sou doodmaak vir sy vrou.  Hy het gevra dat sy moet lieg en sê dat sy Abram se suster is (v.13).  Sy was wel sy halfsuster (20:12), maar Abram het nie die volle waarheid vertel nie.  Hoekom nie?  God het dan in v.7 belowe dat Abram se nageslag die land sou besit.  As God ‘n nageslag belowe het sou hulle hom mos nie kon doodmaak nie.  Farao het vir Sarai gevat om sy vrou te wees en aan Abram ‘n bruidprys van kleinvee, beeste, donkies, kamele, slawe en slavinne betaal (v.14-16).

 

[2] God het plae gestuur om Farao en sy huis te teister.  Farao was kwaad en het vir Abram met sy vrou en baie rykdom, uit die land weggestuur (v.17-20).  Dieselfde het later met Israel gebeur:  God het plae gestuur om vir Farao en die Egiptenare gestraf (Eksodus 8-12).  Farao het die Israeliete met baie rykdom uit sy land weggestuur (Eksodus 12:31-36).

 

Moenie bang word, twyfel, en sondig as dit lyk of jou omstandighede God se beloftes verhinder nie.  Vir Abram het dit gelyk of sy tyd in Egipte teen God se planne werk:  hy was nie meer in Kanaän nie en sy vrou was in ‘n ander man se arms.  Wat het nou geword van die belofte van die land en ‘n groot nageslag?  God het vir Abram ryk laat word tydens die hongersnood (v.16, 20).  God het sy vrou vir hom teruggegee (v.17).  God kan ook sake wat vir jou onmoontlik en vreesagtig lyk vir die goeie laat uitwerk.  John Paton is ‘n goeie voorbeeld.  Hy was ‘n Skotse sendeling na die kanibaal-eiland van Tanna.  Daar het hy noue ontkomings gehad en min vrug op sy arbeid gesien.  Hy het vir ander daarvan vertel.  In reaksie hierop het baie mense sendelinge geword.  Paton het na Aniwa (‘n ander kanibaal-eiland) toe geskuif.  Die hele eiland het tot bekering gekom.

 

Partykeer is ons ontrou.  In hierdie tye moet 2 Timoteus 2:13 ons skaam maak en tot bekering lei:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”

 

Mamre toe (13:1-18)

 

13:1 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. 13:2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. 13:3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, 13:4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het.  En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep. 13:5 En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. 13:6 En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. 13:7 En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot.  Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.

 

13:8 Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. 13:9 Lê die hele land nie voor jou oop nie?  Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. 13:10 Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. 13:11 En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek.  So het hulle dan die een van die ander geskei. 13:12 Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. 13:13 En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.

 

13:14 En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het:  Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; 13:15 want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. 13:16 En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. 13:17 Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee. 13:18 Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE ‘n altaar gebou.”

 

Toe Abram uit Egipte weg is, het hy weer na die Negeb woestyn toe getrek.  Vandaar het hy teruggekeer na sy kampplek tussen Bet-el en Ai.  Daar het hy die Here weer by die altaar aanbid (v.1-4).  Toe ontstaan daar ‘n probleem.

 

Saam was Abram en Lot se vee te veel en die weiding te min.  Hulle veewagters het onder mekaar begin twis (v.5-7).  Abram het voorgestel dat hy en Lot paaie skei; dat elkeen sy eie blyplek kry.  Hierdie keer het hy nie sy eie voordeel gesoek nie (soos in 12:13).  Hy het sy les geleer.  Hy was nederig en het gesê dat Lot eerste kan kies waar hy wil bly.  Lot het gesien dat die Jordaan-vallei groen was soos die Nyl-Delta in Egipte, soos die tuin van Eden (dit was natuurlik vóórdat God die stede in die vallei uitgewis het, want daarná het die sout en swawel gemaak dat die gebied onvrugbaar was – cf. v.10, hoofstuk 19).

 

Lot het getrek en naby Sodom (suid van die Dooie See) gaan bly.  Dit was ‘n fout, omdat die mense van Sodom goddeloos was en later uitgewis sou word (v.11-13, hoofstuk 19).  Abram het op die berge tussen Bet-el en Ai gestaan (v.14, 3-4, 12:8).  Van daar af sou hy ver kon sien toe God die land aan sy nageslag belowe (v.15).  God het belowe om Abram se nageslag soos die stof van die aarde te maak (v.16).  Wat ‘n belofte – veral as jy onthou dat daar baie stof in die Midde-Ooste is!  Abram het deur die hele land gestap (v.17).  Hy moes die land sien wat God aan sy nageslag belowe het.  Sy sole op die grond was simbolies dat sy nageslag die land in besit sou neem.  Later sê die Here immers vir Israel:  “Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.” (Josua 1:3).  Abram het hom uiteindelik onder die koeltebome van Marme naby Hebron gevestig.  Daar het hy weer ‘n altaar gebou en die Here aanbid (v.18).

 

Watse lesse leer ons uit hoofstuk 13?

 

[1] In Egipte het Abram geen altaar gebou nie.  Eers toe hy weer in Kanaän kom het hy die Here aanbid (v.4, 18).  Hy het dus vir ‘n tyd eintlik van die Here af weggedwaal.  In Kanaän het hy hom bekeer.  Soos Abram moet ons na die Here toe terugdraai as ons afgedwaal het.  Jesus sê:  “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.  Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.” (Openbaring 2:4-5).

 

[2] Lot het buite Sodom gaan bly.  ‘n Tyd later het die Here Sodom verwoes (v.10).  Abram het in Kanaän gebly.  Dit sou vir ewig aan sy nageslag gegee word (v.15).  Moenie soos Lot wees wat tydelike en vleeslike dinge gesoek het nie.  Wees soos Abram wat geestelike en ewige dinge gesoek het.  Doen dit veral wanneer jy ‘n nuwe skool vir jou kinders kies, op ‘n werk besluit, na ‘n nuwe dorp toe trek, ‘n nuwe huis koop, of die regte huweliksmaat soek.  Moenie trek omdat jou nuwe werk baie betaal nie.  Sorg dat daar ‘n goeie kerk in die omgewing is.  Onthou dat die wêreld en alles daarin vergaan; die Here en sy Koninkryk bly vir ewig (1 Johannes 2:15-17).

 

Voor ‘n nasionale verkiesing maak elke politieke party groot beloftes.  Ná die verkiesing is hulle egter onbetroubaar en kom nie hulle beloftes na nie.  God is nie so nie.  Hy is getrou.  Hy hou sy beloftes.