Wat is ’n effektiewe kerk?

Effective church

Wat sou jý antwoord?  Sê jy ‘n kerk wat op jongmense fokus of ‘n kinderkerk het is effektief?  Of dalk ‘n kerk wat die kansel vervang met ‘n sitkamerstel op die verhoog; wat 40-minuut lange preke vervang met dialoë wat nie langer as ‘n 20 minute duur nie?  Miskien ‘n kerk waar mense gemaklik aantrek?  ‘n Kerk met ‘n koffie winkel?  Handelinge 4 wys vir ons wat ‘n effektiewe kerk is.  Gebed en prediking is bo-aan die lys (4:31).  En dan is daar nog drie kenmerke in hiérdie teks (sekerlik is daar nóg kenmerke op ander plekke in die Bybel).  Kyk of jy dit kan raaksien.

 

4:32 En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. 4:33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. 4:34 Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 4:35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. 4:36 En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was—wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting—’n Leviet, van geboorte uit Ciprus, 4:37 het ‘n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

 

5:1 Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop, 5:2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê. 5:3 Toe sê Petrus:  Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? 5:4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie?  En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie?  Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het?  Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. 5:5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. 5:6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe. 5:7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het. 5:8 En Petrus het haar aangespreek:  Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het?  En sy sê:  Ja, vir soveel. 5:9 En Petrus sê vir haar:  Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek?  Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. 5:10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe.  En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe. 5:11 En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.

 

5:12 En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo. 5:13 En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. 5:14 En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, 5:15 sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val. 5:16 En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.”

 

Eenheid (4:32-37)

Daar was nou al heelwat meer as 5000 gelowiges (v.4).  Die hele lot van hulle was een van hart en siel (v.32).  Volgens v.31, 2:42 is hierdie eenheid versterk deur gebed, die Woord, gereelde samekomste en die nagmaal.  Hulle het hulle besittings met mekaar gedeel, sodat niemand onder hulle behoeftig was nie (v.32, 34-35).  Wat God in Deuteronomium 15:4 gesê het was waar van húlle:  “Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want die HERE sal jou ryklik seën in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem”.  Niemand het hulle verplig om te gee nie – hulle wóú gee (cf. 5:4).  Hierdie was nie kommunisme nie, maar ‘n werk van die Gees.  Hulle eenheid en liefde het steun gegee aan die apostels se getuienis oor die opstanding:  “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” (v.33).  Jesus het voor sy dood gebid “dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21).

 

Daar was ‘n man uit die stam van Levi.  Hy was van die Griekse eiland Siprus.  Sy naam was Josef (Joses in die Ou Vertaling).  Omdat hy baie ander bemoedig het, het die apostels hom Barnabas (seun van vertroosting) genoem (v.36).  Die Leviete het nie grond in Israel besit nie (Josua 14:14).  Barnabas het dan waarskynlik die grond wat hy op Siprus besit het, verkoop.  Hy was ‘n wonderlike voorbeeld vir die gelowiges en het later saam met Paulus ‘n kragtige prediker, sendeling, en apostel van die evangelie geword (11:24-26, 13:1-2, 14:3-4, 14).

 

Geloof in die evangelie is die basis vir die tipe eenheid waarvan ons in hierdie verse lees:  “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel” (v.32).  Ons kan dus nie eenheid hê met mense wat die Bybelse evangelie ontken nie:  Katolieke, liberales, Mormone, Moslems, mense wat ‘n voorspoed-teologie (Prosperity Gospel) verkondig, ensovoorts.  Ons mag nie saam met sulke mense bid en aanbid nie.  Maar indien iemand ‘n ware gelowige is, moet ons hulle in liefde omhels – al verskil ons dalk oor dinge soos die doop, geestelike gawes, doping met die Heilige Gees, Calvinisme.  Ons moet slegs eenheid breek met mense wat in sonde volhard of ‘n vals evangelie glo.  Ons eenheid word onder andere uitgedruk in mededeelsaamheid.  Ons hoef nie ons besittings te verkoop en die geld te verdeel nie.  Onthou dat Jerusalem binnekort verwoes sou word (70 n.C.).  Dit is hoekom baie van húlle eiendom verkoop het.  Maar ons moet mededeelsaam wees – veral as jy ryk is.  Die Skrif sê:

 

“Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.” (1 Timoteus 6:17-19).

 

‘n Kerk waar eenheid heers sal effektief wees in die samelewing:  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).  Die kerk waarin ek groot geword het, het hierdie tipe eenheid gehad.  Ons het ‘n effektiewe getuienis in ons dorp gehad.  John MacArthur vertel van ‘n Joodse vrou wat hulle gemeente besoek het.  Sy vertel later dat sy nie die preek kan onthou nie.  Wat haar aandag getrek het was die eenheid en liefde onder die mense.  Sy het weer gekom en ‘n paar weke later tot bekering gekom.

 

Reinheid (5:1-11)

Die voegwoord ‘maar’ in v.1 wys ‘n kontras tussen Barnabas aan die een kant, en Ananias en Saffira aan die ander kant.  Barnabas het gegee omdat hy ander wou help.  Ananias en Saffira wou ‘n naam hê; hulle wou hê almal moes hulle gelukwens (cf. Matteus 6:1-4).  Hulle het ‘n stuk grond verkoop en saam gekonkel om te lieg oor die wins (v.1-2).  Die Heilige Gees het hulle bedrog aan Petrus bekend gemaak (v.3).  Die eiendom was húlle s’n; hulle kon dit gehou het.  Selfs nadat hulle dit verkoop het kon hulle ál die geld gehou het.  Die probleem was dat hulle vir Satan, die vader van leuens, geluister en vir God die Heilige Gees gelieg het (v.3-4).  God het vir Ananias geoordeel.  Hy het dood neergeslaan en is begrawe (v.5-6).  Sy dood laat ons baie dink aan Nadab en Abihu se dood in Levitikus 10.  God het ook vir Ussa doodgeslaan toe hy gesondig het (2 Samuel 6).  Sommige van die Korintiërs het gesterf toe hulle die nagmaal misbruik het (1 Korintiërs 11:30).  Ek het eenkeer vir ‘n vrou wat in sonde volhard het, gesê om haar te bekeer.  Sy het geweier en is twee weke later dood.  Ek sal dit nooit vergeet nie.

 

Saffira het nie geweet dat haar man gesterf het nie (v.7).  Sy het geleentheid gekry om haar te bekeer, maar het besluit om saam te lieg (v.8).  Sy het die Heilige Gees getoets:  ‘Weet Hy regtig alles…Ek wonder of Hy regtig sonde ernstig opneem?’ (v.9).  Die Skrif waarsku dat ons nie die Here moet toets nie (Matteus 4:7, 1 Korintiërs 10:9).  Saffira het dood neergeslaan op dieselfde plek waar hulle hul vuil geld neergesit het:  by Petrus se voete (v.10, 2).  Sy is langs haar man begrawe.  Almal wat hiervan gehoor het, het gevrees (v.5, 11).  Dit is dan één doel van kerktug.  Paulus skryf:  “Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.” (1 Timoteus 5:20).

 

Sommige van my lesers en hoorders volhard in sonde.  Hoekom wíl jy sterf?  Vrees eerder en bekeer jou.  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petrus 4:17).  Kerke wat nie tug toepas nie is onrein en onheilig.  Sulke kerke sal nie baie effektief wees in die samelewing nie.  Hoe kan ‘n onheilige kerk ‘n onheilige wêreld bereik?  God gebruik heilige kerke om die wêreld van sonde te oortuig.  ‘n Kerk wat sonde verdra en nie tug toepas nie sal self getug word (Openbaring 2:20).

 

Krag (5:12-16)

‘n Kerk waar eenheid heers is kragtig (v.12).  Die tug in v.1-11 het nie die kerk se groei gestuit nie.  Inteendeel:  “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (v.14).  Mense wat in sonde wou volhard, het nie gedurf om aan te sluit by ‘n kerk waar sondaars sterf nie.  Hulle het die kerk gevrees (v.13).  Baie siekes wou genees word en het dus gehoop dat Petrus se skaduwee op hulle sou val (v.15).  Maar dis baie duidelik dat nie net húlle genees is nie:  almal is genees (v.16).  Die kerk se gebed in 4:29-30 is beantwoord:  “En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.”

 

Twee lesse staan uit:

 

[1] Tug sorg vir gelowige kerklidmaatskap (v.13-14).  Jy het nie ‘n kerk vol ongelowiges wat moles maak nie.  So ‘n kerk is kragtig en effektief.

 

[2] Daar is nie meer apostels nie.  Sekere gawes was ook uniek tot die apostels.  Maar ons het steeds hulle kragtige evangelie-getuienis wat in die Skrif opgeteken is (v.33).  Bid dat die Here sy krag sal toon in die redding van sondaars, genesing van siekes, en verlossing van mense wat in die bande van Satan is (v.14-16).  Die volgende storie illustreer hierdie krag.

 

‘n Waarseêr het een aand na Martyn Lloyd-Jones gaan luister.  Sy het tot bekering gekom, en het later gesê:  ‘The moment I entered your chapel and sat down on a seat amongst the people, I was conscious of a supernatural power.  I was conscious of the same sort of supernatural power I was accustomed to in our spiritist meetings, but there was one big difference; I had the feeling that the power in your chapel was a clean power.’ (Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones:  The First Forty Years, p.221).

 

Wat dink jy van dié stelling:  Dit maak nie veel saak of die metodes van wiskunde verander nie (ons gebruik deesdae sakrekenaars); die formules bly dieselfde en dis al wat saakmaak?  Die stelling is verkeerd, want die metodes máák ‘n verskil.  Ou mense wat nie sakrekenaars gehad het nie, kan beter optel as jong mense wat net met sakrekenaars geleer tel het.  Net so kan ons nie sê:  Die kerk se metodes moet met die tye verander – solank ons boodskap nie verander nie.  ‘n Effektiewe kerk behou die Bybel se boodskap en metodes.