Wees sterk en dapper

Male lion fighting

Op 16 Desember 1838 het 300 Voortrekkers ‘n veldslag by Bloedrivier teen 10 000 Zoeloes gewen.  Hulle het die Here se hulp gevra en dit gekry.  In Genesis 14 is daar ‘n soortgelyke storie.  Die Here het vir Abram gehelp om met ‘n paar honderd man vier magtige konings verslaan.

 

Oorlog (v.1-16)

 

1 En in die dae van Amrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, 2 het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Bisra, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar. 3 Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee. 4 Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword. 5 Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Asterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim 6 en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê. 7 Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon. 8 Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op, 9 teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Amrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf. 10 Maar die laagte Siddim was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sodom en Gomorra wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug. 11 En hulle het al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggetrek. 12 Hulle het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek—want hy was in Sodom woonagtig. 13 Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram. 14 Toe Abram hoor dat sy broer as gevangene weggevoer is, het hy sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, drie honderd en agtien, en hulle tot by Dan agtervolg—15 hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê. 16 En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe.”

 

Die vier konings in v.1 was uit die gebiede van moderne Irak, Iran en Turkye.  Die eerste koning (Amrafel) was van Sinear.  Dit is waar mense vroeër die toring van Babel probeer bou het (11:2).  Sinear en Elam (v.1) was in die suide van Irak en Iran (Daniël 1:2, 8:2).  Die vier konings het geveg teen vyf konings suid van die Dooie See (v.2).  Die konings van Sodom en Gomorra se name is baie gepas:  Bera beteken ‘seun van boosheid’ en Bisra ‘sonde’.  Vir 12 jaar was die vyf konings onder die juk van Kedor-Laomer (een van die vier konings).  Hulle moes belasting betaal, maar in die 13de jaar het hulle gerebelleer.  In die 14de jaar het die vier konings weer opgetrek om oorlog te maak (v.4).  Hulle het oos van die Jordaan getrek en hulle pad deur die reuse geveg:  die Refaïete, Susiete, Emiete en Horiete (v.5-6).  In Deuteronomium 2:10-12 skryf Moses van hierdie selfde reuse:  “Die Emiete…‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.  Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.  Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon”.  Die Ammoniete se naam vir hierdie reuse was Samsummiete (Deuteronomium 2:20-21).  Dit lyk of húlle verwant is aan die Susiete van Genesis 14:5.  Die reuse se woonstreek het later bekend gestaan as Sirië, Ammon, Moab, en Edom – Israel se vyande!

 

Nadat die vier konings die reuse verslaan het, het hulle omgedraai en noord getrek na Kades en Haseson-Tamar toe (op die weskus van die Dooie See) om die Amalekiete en Amoriete te verslaan (v.7).  God sou uiteindelik die Amoriete en Amalekiete deur Israel straf (15:16, Eksodus 17, 2 Kronieke 20:2).  Ná hulle oorlog met dié groepe het die vier konings by Siddim (by die Dooie See, v.8-9, cf. v.3) teen die vyf konings te staan gekom en hulle oorwin.  Die vyf konings het gevlug.  Sommige van hulle het in teergate geval; die res het berge toe gevlug om dáár te skuil (v.10).  Die vyf konings het Sodom en Gomorra binnegeval en geplunder (v.11).  Hulle het ook vir Lot gevat (v.12).  Voorheen het hy náby Sodom gebly (13:12).  Nou het hy ín die stad gebly (v.12).  Dis amper ‘n klein gelykenis van hoe sonde werk:  moenie eers naby kom nie, want voordat jy jou kry het jy deel daarin.

 

Een van die vlugtelinge het vir Abram die Hebreër (cf. 11:16) vertel dat sy broerskind ontvoer is (v.13).  Abram het sy 318 man saamgeroep en ook vir Mamre, Eskol, en Aner (sy vriende) gevra om hom te help (v.13-14, 24).  Hy was dapper en het takties geveg.  Hy het sy manskappe in groepe verdeel en die vyand van verskeie kante verras in die nag (v.15).  Hy het hulle tot by Hoba gejaag, 400 km noord van Mamre (v.15)!  Hy het vir Lot en al die ‘gesteelde’ goedere terug gebring (v.16).

 

Die oorlog in hierdie hoofstuk het rondóm Abram gewoed, maar hy was veilig in die ‘oog van die storm’.  Die Here het hom beskerm.  God het die land aan hóm en sy nageslag belowe.  Onthou wie die eerste lesers van hierdie hoofstuk was:  die Israeliete in die woestyn, net voordat hulle die Beloofde Land ingeneem het.  Veertig jaar vroeër het hulle die reuse gevrees en geweier om die land in besit te neem (Numeri 13).  In Genesis 14 wys die Here vir hulle hoe vier magtige konings die reuse verslaan het, en hoe Abram met 318 man (en ‘n paar ekstra) die magtige konings oorwin het.  Die les is duidelik:  “by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.” (1 Samuel 14:6).  Gideon het met 300 man die Midianiete oorwin.  “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:31).

 

Soos Abram moet ons sterk en dapper wees.  Party lesers sal geroep word om sendelinge te wees in kommunistiese Noord-Korea of Islamitiese Jemen.  Dalk moet jy die nes van dwelmhandel in Kemptonpark se middestad gaan uithaal met die Goeie Nuus van Jesus.  Of dalk moet jy ‘n medegelowige uit Satan se vangstrik van vals lering of sonde red.  Jy moet sterk en dapper wees en die adder van selfbejammering, ‘n kort humeur, angs, wellus, of bitterheid se kop vermorsel.  Miskien word jy ‘n kampvegter teen aborsie.  Daarvoor sal jy sterk en dapper moet wees.  Onthou dat jou wapens magtig is om die duiwel se vestings neer te werp (2 Korintiërs 10:4).  Jesus het reeds die sterk man (Satan) vasgebind en is besig om sy huis te plunder (Matteus 12:29).  Jesus het gekom om slawe van sonde te bevry (Lukas 4:18).  In Hom kan ons sterk en dapper wees.  Deur sy liefde is ons meer as oorwinnaars (Romeine 8:37).

 

Vrede (v.17-24)

 

17 Ná sy terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê:  Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het.  Toe gee hy hom die tiende van alles. 21 En die koning van Sodom sê vir Abram:  Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. 22 Toe antwoord Abram die koning van Sodom:  Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, 23 dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie:  Ek het Abram ryk gemaak. 24 Niks vir my nie!  Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”

 

Toe Abram van die oorlog af terugkom, het koning Bera (‘seun van boosheid’), en koning Melgisedek (‘regverdige koning’) hom in die Koningslaagte buite [Jeru]Salem ontmoet (v.17-18, cf. 2 Samuel 18:18, Psalm 76:2).  Melgisedek het vir Abram en sy moeë soldate brood en wyn gebring, sodat hulle hul kon verfris (v.18).

 

Omdat Melgisedek die koning van Salem [shalom] was, kan sy naam ook ‘koning van vrede’ beteken.  Hy was ‘n koning en ‘n priester van die Allerhoogste God (v.18).  Soos Abram het hy die geseënde Verlosser en Skepper-God aanbid, en in Sý Naam vir Abram geseën  (v.19-20).  God het mos in 12:2-3 vir Abram belowe:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.  En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  Abram het ‘n tiende van die buit vir Melgisedek gegee (v.20).  Al hierdie dinge wys dat Melgisedek ‘n tipologie was van die Een wat groter sou wees as al die konings in Genesis 14:  Jesus Christus.  Die Hebreërskrywer sê:

 

“Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het—hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.  Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het.  Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het; maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.  Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.  En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.  En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee; want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het… Want Hy [God die Vader] getuig:  U [Jesus] is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.” (Hebreërs 7:1-10, 17).

 

Die koning van Sodom het besef dat Melgisedek ‘n groter koning is as hy, en het gewag totdat hy klaar gepraat het.  Toe hy sy beurt kry het die koning van Sodom gepraat asof alles in Abram se besit nog syne was (v.21).  Abram kon alles vir homself gehou het, maar was nederig.  Hy het vir God belowe dat hy niks vir homself sou vat nie, want anders sou Bera ‘n houvas op hom gehad het:  ‘Ék het jou ryk gemaak – jy skuld my!’ (v.22-23, cf. 12:16).  Abram het wel gesê dat hy en sy manne van die kos moes eet en het gevra dat Aner, Eskol, en Mamre húlle deel van die buit moes kry (v.24).

 

Bera het gehoor hoe Abram en Melgisedek van die Allerhoogste God praat, en tog het hy hom nie van sy boosheid bekeer nie.  Hy was ryp vir die oordeel (cf. hoofstuk 19).

 

Die Here het vir Abram geseën toe hy sterk en dapper was (v.19-20).  En hy sou vir Israel seën as hulle sterk en dapper was om die land in te neem (Josua 1:1-9).  Soos Abram moet ons Gód se seën ontvang.  Moenie die rykdom en beloning van die wêreld soek nie; hulle sal dit teen jou hou en dit sal in elk geval vergaan (v.21, 23).  As jy blydskap, vrede en troos begeer moet jy die ewige rykdom en lof van God soek (v.19-20, Hebreërs 12:2).  In drie woorde:  hunker na Jesus (Filippense 3:14).  En wanneer hy jou geseën het moet jy nie vergeet om dankie te sê nie (v.20, Abram het ‘n tiende gegee).

 

Martin Luther het 95 stellings teen Wittenberg se kerkdeur vasgespyker.  Hierin het hy die valshede van die Pous en die Rooms-Katoliekekerk uitgewys.  Die Here het vir Luther gebruik om miljoene mense van duisternis te bevry (ons ingesluit).  Mag die Here in ons tyd ‘n sterk en dapper Abram of Luther stuur om miljoene Suid-Afrikaners uit duisternis te bevry.