Die kerk: wie is ingesluit?

Black and white hand

Operation World is ‘n boek wat onder andere syfers van verskillende Christelike kerke gee.  By die syfers sluit Patrick Johnstone, die outeur, kultusse soos die Jehova’s Getuies, Sewendedag Adventiste, Mormone, en Rooms-Katolieke in.  Enige kultus sê dat net mense wat by húlle aansluit, hemel toe gaan.  Johnstone sluit dus kultusse in, terwyl kultusse die res uitsluit.  Maar wat die Skrif:  wie is deel van die kerk; wie is ingesluit?  Handelinge 10:1-11:18 sal vir ons sê.

 

Die visioen (10:1-33)

Sesarea was op die kus, 112 km noord-wes van Jerusalem.  Cornelius was ‘n offisier van die Italiaanse leërafdeling, kaptein oor 100 soldate.  Hy was vroom en opreg.  Hy het nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem.  Hy was dus nie ‘n proseliet nie, maar ‘n godvresende.  Hy het baie gebid en veral die armes onder die Jode gehelp (v.1-3, 22).  Een middag om 15:00, tydens die Joodse gebedstyd, het ‘n engel aan hom verskyn.  Hy was vreesbevange, maar die engel het hom vertroos:  ‘Jou gebede en sorg vir die armes het as ‘n gedenkoffer voor die Here opgestyg. [v.3-4, Levitikus 2:2].  Stuur iemand Joppe toe om vir Simon Petrus te haal.  Hy bly teen die kus by Simon die leerlooier se huis.  Hy sal vir jou sê hoe om gered te word.’  Cornelius was gehoorsaam en het twee slawe en ‘n getroue soldaat gestuur.  Vroeg die volgende oggend het hulle die 48 km reis na die suidkus toe aangedurf (v.5-8).  Teen 12:00 was hulle naby Joppe.  Petrus was op die huis se plat dak, besig om te bid.  Hy het geruik hoe die bediendes kos kook.  Sy mond het gewater.  Skielik het daar ‘n laken vol van rein en onrein diere uit die hemel neergesak (v.9-12).  Jesus het vir Petrus gesê om te slag en te eet.  Hy het kapsie gemaak:  ‘Ek kan nie Levitikus 11 oortree nie Here.’  Maar reeds in Markus 7:19 het Jesus alle kos rein verklaar.  Om sy punt te beklemtoon het Jesus sy opdrag aan Petrus drie keer herhaal.  Die laken is teruggeneem hemel toe (v.13-16).

 

Petrus het gewonder wat die visioen tog kon beteken.  Die Heilige Gees het vir hom gesê dat daar drie mans by die hek is.  Hy moes nie huiwer om saam met hierdie heidene te gaan nie.  Petrus het teen sy Joodse tradisie ingegaan en die heidene ingenooi! (v.17-23).  Cornelius het solank sy vriende en familie bymekaar gemaak en vir Petrus gewag.  Toe Petrus daar aankom het Cornelius by sy voete neergeval om hom te aanbid.  Petrus het hom reggehelp en gesê dat geen skepsel aanbid moet word nie.  God alleen is waardig om aanbid te word.  Petrus het by die ‘onrein’ heiden se huis ingegaan.  Met woord en daad het hy erken dat die heidene rein is (v.24-26).  John Stott sê:  ‘Peter refused both to be treated by Cornelius as if he were a god, and to treat Cornelius as if he were a dog.’ (The Message of Acts, p.189).  Cornelius het dadelik sy visioen met Petrus gedeel (v.30-33).

 

Soek jy God opreg?  Jy het al verskillende dinge probeer om ‘n regte stand voor God te hê.  Jy vas, bid, is gedoop, gebruik nagmaal, het by ‘n kerk aangesluit, doen goed aan ander, lees jou Bybel, lees net geestelike boeke, luister geestelike musiek, probeer ophou met jou sonde.  Jy is soos Cornelius en George Whitefield.  Hulle was opreg in hul soeke na God.  Maar hulle was ongered.  Whitefield het alles probeer om die Here te behaag.  Hy het growwe klere gedra en droë brood geëet.  Hy het gedurig gevas en in die woud gaan bid.  Hy het in die koue uitgegaan om homself te verloën en frost bite gekry.  Net die evangelie kan jou in ‘n regte stand voor God bring.  Eers dán kan jy deel wees van die kerk; eers dán is jy ingesluit.

 

Die evangelie (10:34-48)

God trek niemand voor op uiterlike gronde nie.  Die Jode word nie voorgetrek omdat hulle besny is nie.  God kyk na die hart (v.34-35).  Lukas sê nie in v.35 dat goeie werke ‘n mens red nie.  As dit so was dan was dit nie nodig dat Petrus die evangelie met Cornelius moes deel nie.

 

Petrus het ingespring:  ‘Jesus het ‘n boodskap van vrede kom preek – vrede tussen God en mens, asook tussen Jode en heidene [cf. Efesiërs 2:11-22].  By sy doop is Jesus met die Heilige Gees gesalf.  Die ‘salwing’ bewys dat Hy die Messias is:  Messias beteken immers ‘gesalfde’ [cf. Jesaja 61].  Jesus het krag ontvang om siekes te genees en duiwels uit te dryf.  Oral waar Hy gegaan het, het Hy goed gedoen.  Die apostels was ooggetuies van sy wonderwerke.  Jesus het ‘n vervloekte dood gesterf aan ‘n kruis [cf. Deuteronomium 21:22-23].  Op die derde dag na sy dood het God Hom uit die graf opgewek.  Weereens was die apostels ooggetuies van sy opstanding.  Die feit dat hulle ná sy opstanding saam met hom geëet en gedrink het bewys sy liggaamlike opstanding.  Jesus het die apostels gestuur om ‘n evangelie van bekering en vergifnis te preek.  Daar is ‘n oordeelsdag wat kom, maar God is bereid om elkeen wat glo te vergewe –ook heidene.  Die Ou Testament profete en Nuwe Testament apostels getuig almal van hierdie vergifnis.’ (v.36-43).

 

Terwyl die ‘onrein’ heidene na Petrus se boodskap luister, het die Heilige Gees soos reën op hulle geval.  Hy het hulle instaat gestel om ander lande se tale te praat.  Die Jode kon hulle oë en ore nie glo nie.  Die heidene se ondervinding was soortgelyk aan die Jode s’n in hoofstuk 2 (v.44-46).  Petrus het beveel dat die nuwe dissipels gedoop moes word.  Die doop van dissipels was immers deel van Jesus se laaste opdrag(Matteus 28:19).  Petrus het vir ‘n tydjie gebly om vir hulle die Bybel te leer (v.47-48).

 

Wat gebeur as iemand doodgaan, as hy God opreg gesoek het maar nooit die evangelie gehoor het nie?  Mense soos C.S. Lewis, Billy Graham en William P. Young (die outeur van The Shack) glo dat so iemand hemel toe gaan.  Maar hoe kan ‘n opregte Moslem of Hindu hemel toe gaan, as Johannes 14:6 sê dat niemand na die Vader toe kom behalwe deur Jesus nie?  Niemand kan sonder die evangelie gered word nie (Romeine 10:13-17).  ‘Maar wat van mense wat nie van God geweet het nie?’ vra iemand.  Almal weet God bestaan:  die skepping en hulle gewete sê dit vir hulle (Romeine 1:18-21, 2:14-15).  As iemand regtig die waarheid wil ken, sal die Here ‘n ‘Petrus’na hulle toe stuur.  Net as hulle hierdie evangelie glo is hulle ingesluit.

 

Die verslag (11:1-18)

Toe Petrus terugkom in Jerusalem het die Jode hom gekritiseer, omdat hy by ‘onrein’ heidene geëet het (v.1-3).  Petrus het vier argumente aangevoer om sy saak te verdedig:

 

[1] Jesus het in ‘n visioen vir hom gewys om nie te sê dat dit wat God rein gemaak het, onrein is nie (v.4-10).

 

[2] Die Heilige Gees het vir hom gesê om saam met die heiden te gaan (v.11-12).

 

[3] Die engel het vir Corneluis gesê dat Petrus soontoe moes kom (v.13-14).

 

[4] Toe die heidene die evangelie glo het hulle die Heilige Gees ontvang (v.15-17).

 

Skielik het die Jode se kritiek in lofprysing verander.  Hulle het die Here geloof, omdat Hy bekering en die ewige lewe aan die heidene geskenk het (v.18, cf. 5:31).

 

Ons mag nie enige Christen op grond van uiterlike kriteria by die kerk uitsluit nie.  Sommige denominasies en gemeentes weier om swart Christene in hulle midde te verwelkom.  ‘n Predikant wat ek ken het gesê:  ‘Ek sal nie ‘n k#&$!@r in my kerk toelaat nie!’  Wat sal jy doen as ‘n Zulu Christen wat goed Afrikaans kan praat, by ons/julle gemeente wil aansluit?

 

  • Sal jy vra dat daar eers ‘n vergadering gehou moet word?
  • Sal jy wil hê dat daar ‘n paar ekstra vereistes vir lidmaatskap moet wees?
  • Sal jy sê hy of sy kan ‘n lidmaat word, maar nie ‘n ouderling of diaken nie: hulle mag nie met die geld werk, kos aan die armes versprei, of die vrouebediening lei nie?
  • Sal jy en jou kinders wegbly as hy preek of ‘n Bybelstudie lei; as sy Sondagskool gee?
  • Sy jy ophou om die nagmaalbeker te gebruik as hy daaruit drink?
  • Sy jy hom as lidmaat aanvaar, maar apart sit by gemeente etes; apart staan by tee?
  • Sal jy verleë voel as hy jou in die hospitaal kom besoek?
  • Sal jy uiteindelik die kerk verlaat en jou kinders uit die Sondagskool neem as die gemeente 70% swart en 30% wit is?
  • Laat sulke vrae jou ongemaklik voel?
  • Sê jy in jou gedagtes: ‘Ja, maar…’?

 

Jy moet jou van jou sonde bekeer.  Jy kan nie mense uitsluit as God hulle insluit, regverdig, aanneem, en vergewe nie:  “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?” (v.17).

 

Is jy moeg vir die kwota sisteem in ons land?  Hierdie week het die koerant opskrif gesê dat ons krieketspan ten minste vyf ‘gekleurde’ spelers moet hê.  Ons sal seker saamstem dat die beste spelers in die span moet wees – al is almal swart.  Laat ons nie hierdie euwel, die kwota sisteem, in die kerk inbring nie.  Moenie mense wat Bybels diskwalifiseer insluit nie.  En moenie mense wat Bybels kwalifiseer uitsluit nie.

Advertisements

God kies wie Hy wil

Not fair

Ek is ‘n leerstelling.  Baie mense haat my en sê ek is onregverdig.  Ander loop draaie om my en sê ek is te moeilik.  Nóg ander het my baie lief, prys die Here, en vind baie berusting in my.  My naam?  Uitverkiesing.  In Genesis 25 vind jy my in storievorm.

 

Ketura se nageslag (v.1-11)

 

1 En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra. 2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar. 3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete. 4 En die seuns van Mídian was:  Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä.  Hulle almal was seuns van Ketúra. 5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, 6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. 7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het:  honderd vyf en sewentig jaar. 8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef.  En hy is by sy volksgenote versamel. 9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, 10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het.  Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. 11 Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.”

 

Abraham is nou alleen.  Sara is dood (hfst.23) en Isak het getrou (hfst.24).  Om sy eensaamheid te oorkom het Abraham met Ketura getrou.[1]  Dit was ‘n wonderwerk dat hy op 100 ‘n seun kon hê, maar lank ná sy 100ste verjaarsdag het die Here vir hom nog ses seuns gegee! (v.1-2).  Isak was die erfgenaam (24:35), en daarom het Abraham vir Ketura se seuns geskenke gegee en hulle weggestuur (cf. 21:10-11).  Hulle en Ismael se nageslag het die stamvaders van die Arabiere geword (v.3-6).  Nou was Abraham inderdaad die vader van baie nasies (17:5).

 

Abraham was 75 toe hy in die land aankom, en het gesterf toe 175 is (v.7-8, 12:4).  Hy het dus vir 100 jaar in die land gewoon sonder dat hy dit as erfdeel verkry het.  “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.  En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” (Hebreërs 11:13-16).  Isak was 75 en Ismael 89 toe hulle vir Abraham begrawe het (sien 16:16, 21:5).  Hulle het hom langs Sara begrawe in die grot wat hy by Efron die Hetiet gekoop het (v.9-10, hfst.23).  Ná Abraham se dood het Isak by die put van Lagai-Roï gaan bly (v.11).  Die Here het vir Isak ryklik geseën (v.11):  “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.  En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:  hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.” (26:12-14).

 

God gee baie gawes aan mense wat nie uitverkies is nie:  “aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee” (v.6).  God gee vir hulle die vreugde van lewe, sonskyn, reën, liefde, die huwelik, huisgesinne, vriende, geld, kos, drinkgoed, rus, vakansie, werk, natuur, skuiling, klere, en baie meer.  Maar hulle deel nie in die spesiale seën van die uitverkorenes nie:  “En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het… Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën” (v.5, 11).  Aan die wat Hy uitverkies het gee God die Heilige Gees, regverdigmaking, heiligmaking, verheerliking, die hemel, aanneming, vergifnis, verlossing, genade, Christus, en nog baie meer (Romeine 8:28-30, Efesiërs 1:3-14).  Hoe moet jy hierop reageer?

 

  • Prys die Here vir hierdie genade (Efesiërs 1:3-14).
  • Moenie hoogmoedig raak nie, maar wees nederig. Jy verdien nie hierdie dinge nie. Die feit dat jy dit gekry het is genade.
  • Moet nooit God se liefde betwyfel nie. Sal Hy jou uitverkies en dan los wanneer jy in die dal van doodskaduwee is (Romeine 8:28-32, 37-39)?
  • Volhard en wees geduldig in verdrukking. Vir iemand wat die prys voor sy oë sien is die laste van hierdie lewe lig (Romeine 8:17-18).
  • Moet vir niks vrees nie, want niks kan jou van die Here se liefde skei nie (Romeine 8:38-39). Ook op die oordeelsdag kan jy vrymoedigheid hê – die Here self het jou immers uitverkies.
  • Wees heilig, want hiertoe het God jou uitverkies (Efesiërs 1:4-5).

 

Ismael se nageslag (v.12-18)

 

12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het—13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming:  die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam 14 en Misma en Duma en Massa, 15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. 17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. 18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur.  Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.”

 

Soos Jakob ná hom, het Ismael 12 seuns gehad (v.12-16, 17:20).  Hy is dood op 137 (v.17).  Sy nageslag het gewoon tussen moderne Etiopië (Hawila) en die noord-westelike hoek van die Sinaï-skiereiland.  Daar was vyandskap tussen sý nageslag en Isak s’n (v.18, ‘teenoor sy broers’).

 

Ismael was die voorvader van die Arabiere.  Moslems glo dat Mohammed uit Ismael se tweede oudste seun, Kedar voortspruit (v.13).  Maar baie mense wat fisies uit Ismael kom, is geestelik aan Isak verbind omdat hulle in Jesus glo (Galasiërs 3:7, 16, 29, 4:28, Romeine 9:6-8).  Jesaja 60:6-7 sê dat baie mense uit Ketura en Ismael se nageslag die Messias sal aanbid:  “‘n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die HERE.  Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nebájot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak [cf. Genesis 25:3-4, 13].”  Op Pinksterdag was daar mense uit Arabië wat Petrus se preek gehoor het (Handelinge 2:11).  Daar is hoop dat baie Moslems na Jesus toe sal draai en gered word.

 

Isak se nageslag (v.19-34)

 

19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham:  Abraham was die vader van Isak. 20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. 21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. 22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar.  Toe sê sy:  As dit so gaan, waarvoor leef ek dan?  Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. 23 En die HERE het haar geantwoord:  Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. 24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. 25 En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare.  Daarom het hulle hom Esau genoem. 26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou.  Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte. 27 En die seuns het opgegroei:  Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het. 28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.

 

29 En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. 30 Toe sê Esau vir Jakob:  Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg.  Daarom het hulle hom Edom genoem. 31 En Jakob antwoord:  Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. 32 En Esau sê:  Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? 3  Toe antwoord Jakob:  Sweer eers vir my.  En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. 34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan.  So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.”

 

Isak het getrou toe hy 40 is (v.19-20).  Sy vrou was onvrugbaar en kon vir 20 jaar nie swanger word nie.  Isak het vir sy vrou gebid.  Sy het swanger geword met ‘n tweeling (v.21).  Die seuntjies het in haar baarmoeder gestoei.  ‘Hoekom gebeur dít?’ het sy gewonder.  Die Here het vir haar gesê dat daar twee nasies in haar is, en dat die jongste een die sterkste sou wees (v.22-23).  Toe die kinders gebore is, het die oudste een baie hare gehad.  Hy was rooi.  Sy naam, Esau, beteken harig (cf. 27:11!).  Sy bynaam, Edom, beteken rooi.  Die tweede baba het sy boetie se hakskeen vasgehou toe hy gebore is.  Sy naam, Jakob, beteken hakskeen-gryper – simboliese taal vir iemand wat lieg en bedrieg (v.24-26).  Jakob was inderdaad ‘n leuenaar en het vir sy gesin geleer om dieselfde te doen (27:19-20, 24, 35-36, 31:20, 27, 35, 34:13, 37:31-32).  Esau het ‘n jagter geword, terwyl Jakob saam met Isak en Abraham in tente gebly het (v.27, Hebreërs 11:9).  Isak het vir Esau voorgetrek en Rebekka vir Jakob (v.28).  In hoofstuk 27 het dit reuse probleme veroorsaak, en in hoofstuk 37 het Jakob sy ouers se voorbeeld gevolg en vir Josef voorgetrek.

 

Op ‘n dag het Esau gaan jag.  Hy het niks gekry nie en flou by die huis aangekom waar Jakob besig was om rooi lensiesop te maak.  Toe Esau dit ruik het hy gevra dat Jakob ‘n bietjie daarvan vir hom sou opskep.  Jakob sou sy sop vir Esau se geboortereg ruil (v.29-31).  Sy ma het seker die belofte van v.23 oorvertel:  “die oudste sal die jongste dien”.  Esau het sy geboortereg verag.  Hy het nie oor die toekoms gedink nie, maar het vir die hier-en-nou gelewe.  Hy het dit aan Jakob afgesweer en so sy geboortereg verkoop vir sop en brood (v.32-34).  Hebreërs 12:16 praat van “onheilige..Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.”

 

God het ons nie uitverkies oor enige deug in ons nie:  “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep is vir haar gesê:  Die oudste sal die jongste dien.  Soos geskrywe is:  Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Romeine 9:11-13).  Het God ons gekies omdat Hy vooruit geweet het ons sou glo?  Nee.  God se keuse is soewerein.  Hy kies wie Hy wil.  Wanneer die Bybel van voorkennis praat beteken dit nie Hy het ons gekies, omdat Hy vooruit geweet het wie sou glo en wie nie.  Voorkennis beteken dat God ons voor die skepping van die wêreld as sy eie geken het.  In hierdie konteks verwys kennis na ‘n intieme verhouding (cf. Amos 3:2).  God het nie bloot geweet wie sou glo en wie nie, maar het dit bepaal.  So gebruik Petrus die woord voorkennis:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is” (Handelinge 2:23).  God het nie net geweet dat Jesus gekruisig sou word nie, maar het dit bepaal.  “[ons is] uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader… [Jesus] wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld” (1 Petrus 1:2, 20).  Weereens het God nie net vooruit geweet dat Jesus sou sterf nie – Hy het dit bepaal.  Net so het God nie net vooruit geweet wie sou glo en wie nie – Hy het dit bepaal.  Lukas sê:  “daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48).  Met ander woorde:  jy is nie uitverkies omdat jy glo nie, maar glo omdat jy uitverkies is.  Jesus sê:  “Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.”  Die teks sê nie dat hulle nie sy skape is, omdat hulle nie glo nie.  Eerder:  hulle glo nie, omdat hulle nie sy skape is nie. In Romeine 8:29 sê Paulus dat God ons vantevore geken het.  Weer beteken dit nie bloot dat God sekere feite vooruit geken het nie (wie sou glo nie en wie nie), maar sekere mense.

 

Sê jy:  ‘Dis onregverdig!’?  Paulus antwoord:

 

“Wat sal ons dan sê?  Is daar miskien onreg by God?  Nee, stellig nie!  Want aan Moses sê Hy:  Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.  Want die Skrif sê aan Farao:  Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.  So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.  Jy sal dan vir my sê:  Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid” (Romeine 9:14-23).

 

God het die gevalle engele in hulle sonde gelos, en nie een van hulle gered nie.  Hy kon dieselfde met die mens gedoen het.  Die feit dat Hy enigiemand red is genade.  Moenie sê:  ‘As uitverkiesing waar is, is die hel onregverdig.  God kan my nie verantwoordelik hou vir my sonde as ek nie kon kies nie.’  Gestel vyf mans verkrag en vermoor jou dogter.  Die polisie vang hulle.  Jy is die pa en ook die regter.  Jy vonnis al vyf mans tot die dood.  Jy is ‘n baie liefdevolle man en besluit om een van die misdadigers se doodstraf op jouself te neem.  Na drie dae staan jy op uit die dood, vergewe die man, verander sy hart, laat hom in jou paleis woon, gee vir hom al jou besittings, en sê dat hy jou kan dien en liefhê.  Die ander vier misdadigers kan nie sê:  ‘Dis onregverdig dat onsmet die dood gestraf moet word, want ons kon nie kies om in die paleis te bly nie.’  Nee, hulle verdien die dood.  Die feit dat jy een gespaar het was genade en liefde.  Niemand kan sê dis onreg dat één misdadiger nie gesterf het nie, want jý het sy dood op jouself geneem – geregtigheid het geskied.  As God iemand red (‘sy paleis gee… vir Jakob kies’), moet ons Hom eer en dank.  As iemand hel toe gaan (‘die doodstraf kry… sy geboortereg verruil vir ‘n bord sop’) is dit sy eie skuld.

 

Toe ek in Nelspruit oor die uitverkiesing gepreek het, het een vrou geweier om my hand by die deur te skud.  Ek hoop regtig nie dat dít jou reaksie op hierdie preek sal wees nie.  Ek hoop eerder dat jy die Here vir hierdie leerstelling sal prys.

 

 

[1] Sommige kommentators meen dat Ketura voor Sara se dood Abraham se byvrou geword het (v.6, 1 Kronieke 1:32).

’n Deposito van God se belofte

Deposit stamp

Toe ek my kar gekoop het moes ek ‘n 10% deposito neersit as waarborg dat ek die res sou betaal.  God gee ook vir sy kinders ‘n deposito as waarborg dat Hy sy belofte finaal en volkome sal vervul.  Dit is waaroor Genesis 23 en 24 gaan.

 

Die belofte van die land (hfst.23)

Toe Sara 127 was het sy gesterf (v.1).  Van al die vroue in die Bybel is net háár sterwensouderdom opgeteken.  Sy het gesterf by Hebron, waar sy vir baie jare gebly het (hfst.13-18, cf. 13:18).  Op hierdie stadium was Isak 37 (17:17).  Abraham was nogsteeds ‘n vreemdeling in die land wat God aan hom en sy nageslag belowe het.  Hy het nie eers ‘n klein stukkie grond besit om vir Sara te begrawe nie.

 

Toe hy klaar getreur het, wou hy grond by die Hetiete koop (v.2-4).  Hulle was bereid om die grond vir hom te gee.  Hy wou dit egter nie aanvaar nie, want hy het geweet dat hulle dit dan maklik kon terugvat.  Daarom het hy aangebied om die grot op Efron se stuk land te koop (v.5-9).  Efron wou die grond met die grot verkoop, maar Abraham het geweet wat dít beteken:  hy sou ‘erfbelasting’ moes betaal.  As hy net die grot gekoop het, kon Efron self die belasting betaal.  Efron was dus bereid om voor getuies die grond met die grot vir Abraham te gee, en dus ook die belasting oor te dra (v.10-11).  Abraham het vasgestaan.  Hy sou die stuk grond en die grot koop, sodat hulle dit nie later sou terugvat nie (v.12-13).  Efron het besef dat Abraham desperaat was en gou ‘n stuk grond nodig gehad het om sy vrou te begrawe.  Hy het sy prys gemaak:  400 stukke silwer.  Dit was rowery (soos wat die motor handelaars doen met parte wat jy net by húlle kan kry).  1500 jaar later het Jeremia maar 17 stukke silwer vir ‘n stuk grond betaal (Jeremia 32:9).  Maar Abraham het die grond nodig gehad en die geld voor getuies in die stadspoort (die plek waar transaksies plaasgevind het) uitgeweeg (v.14-16).  Die eiendom is aan Abraham oorgemaak as ‘n deposito van God se belofte; as ‘n waarborg dat die res van die land syne sou word.  Hy het Sara op sy eie stuk grond begawe (v.17-20).

 

Die eerste lesers van Genesis (die Israeliete in die woestyn) het aansporing nodig gehad.  Genesis 23 sou help.  Die begraafplaas was God se deposito dat die res van die land ook aan hulle behoort het.  Hulle moes dit net inneem.  God het ook die hemel belowe aan elkeen wat in Jesus glo.  Hy het die Heilige Gees as deposito gegee (Efesiërs 1:13-14, Romeine 8:23).  Jy hoef nie bang te wees dat jy gered is, maar nie die hemelse erfenis sal verkry nie.  God gee nie swak waarborge of deposito’s nie.  Hy maak nie leë beloftes nie.  Het die Here een bekering gegee, ‘n bietjie geld voorsien, jou teen een versoeking gehelp, ‘n tydelike werk voorsien, vir jou ‘n voorsmaak van die hemel gegee?  Dank Hom hiervoor.  Beskou dit as ‘n deposito dat die res sal volg.

 

Die belofte van ’n groot nageslag (hfst.24)

Soos wat Hy in 12:1-3 belowe het, het die Here vir Abraham in alle dinge geseën (v.1).  Tog het Abraham nog nie ‘n groot nageslag gehad nie.  Sy seun was al 40, maar het nog nie ‘n vrou gehad nie (25:20).  Abraham het sy betroubare slaaf (waarskynlik Eliëser van 15:2) nader geroep.  Hy moes sy hand onder Abraham se heup sit en sweer dat hy nie vir Isak ‘n vervloekte Kanaänitiese vrou sou kry nie (v.2-4, 9:25-26).  Vandag nog is dit so dat gelowiges nie met ongelowiges moet trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Eliëser moes nie vir Isak terugvat Haran toe nie.  God het belowe om vir hom Kanaän te gee, en dis waar hy moes bly.  Abraham het vir Eliëser verseker dat God se engel hom sou help en lei (v.5-9).

 

Eliëser het 10 kamele gevat om kos te dra, asook die gekenke wat hy as bruidprys moes betaal.  Hy het 720 km noord-oos gereis tot by Haran, die stad van Nahor (v.10, 29:4-5).  Toe hy by die stad aankom het hy by die put buite die stad gerus.  Die vroue het in die koel laatmiddag kom water skep (v.11).  Hy het die Here vir hulp gevra.  Hy wou nie sommer enige vrou hê nie, maar een wat meer as die gewone gasvryheid sou bewys.  Sy moes vir hom en sy kamele water gee (v.12-14).  ‘n Kameel kan maklik 100 liter water op ‘n slag drink.  Dus sou sy 1000 liter water vir sy 10 kamele moes skep!

 

Nog voordat hy klaar gebid het was Rebekka daar.  Sy was ‘n maagd en ‘n baie mooi vrou.  Sy het presies gedoen volgens wat hy gebid het (v.15-21).  Hy het geweet dat sy die regte een was.  Hy het vir haar duur juwele gegee.  Sy het gesê dat hy, sy party en die kamele by hulle huis kon oornag.  Toe sy haar identiteit bekend maak, het hy besef dat sy familie van Abraham was.  Hy het dadelik die Here geprys (v.22-28).

 

Haar broer Laban het die juwele gesien en na Eliëser toe gehardloop (ons sal hom later leer ken as ‘n bedrieglike skelm).  Hy het vir Eliëser en sy karavaan ingenooi om hulle voete te was, saam te eet, en te oornag (v.29-32).  Eliëser wou sy storie vertel voordat hulle eet.  Hy het vertel hoe die Here vir Abraham geseën het, hoe Isak die erfgenaam was, en hoe God se engel hom na Rebekka toe gelei het (v.33-48).  Hy wou nou die pa en broer se goedkeuring hê, sodat hy kon weet of hy moes ry of bly (v.49, ‘regs of links’).  Hulle het besef dat die Here se hand in die saak was, en het as’t ware gesê:  ‘Die Here het dit bewerk, en daarom tel ons opinie nie.’  Eliëser het weer die Here gedank.  As bruidprys het hy vir Laban en sy ma geskenke gegee (v.50-53).

 

Die volgende oggend was Eliëser haastig om sy taak af te handel.  Die familie wou egter hê dat Rebekka nog 10 dae moes bly.  ‘Wat wil sý hê?’ het hulle gevra.  Sy was bereid om dadelik saam te gaan (v.54-58).  Hulle het haar laat gaan en die oppasser wat haar grootgemaak het, saamgestuur (v.59).  Sonder dat hulle dit geweet het, het hulle haar geseën met dieselfde seën wat God in 22:17 aan Abraham belowe het:

 

“Ons suster, mag jy duisende van tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” (v.60). 

 

“[Ek belowe] dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.” (22:17).

 

Isak was in die veld toe Eliëser en Rebekka daar aankom.  Hy was besig om te peins; te bid en aan die Here te dink (v.62-63).  Toe sy hoor dis haar man, het sy volgens die antieke huweliksgebruik ‘n sluier oor haar gesig getrek (v.64-65).  Eliëser het vir Isak die hele storie vertel.  Hy het Isak ‘meester’ genoem en so erken dat Isak die erfgenaam was en by Abraham sou oorneem (v.66).  Isak het vir Rebekka na sy tent toe gevat.  Sy het sy vrou geword.  Hy was vertroos na sy ma se dood (v.67).  Rebekka was waarlik vir hom ‘n helper (2:18).

 

Geloof is nie ‘n passiewe ding nie.  Dis aktief.  Abraham het nie op sy agterstewe gesit en wag vir die Here om sy beloftes te vervul nie.  Hy het ‘n stuk grond gekoop en ‘n vrou vir sy seun uitgesoek.  Die Israeliete (die eerste lesers van Genesis 24) moes ook leer:  ‘Ja, die land is julle s’n, maar julle moet nogsteeds veg om die land in besit te neem.’  Ora et labora:  bid en werk.  ‘n Nuwe bekeerling het vir John Paton gesê:  ‘Missi, ek wil so graag hê dat Nasi tot bekering moet kom.  Ek bid en huil vir sy bekering.’  Paton se reaksie was:  ‘Litsi, as ek in Skotland vir jou bekering gebid en gehuil het, maar nooit Aniwa toe gekom het nie, sou jy vandag ‘n Christen gewees het?’  ‘Nee,’ het sy geantwoord.  ‘Net so help dit nie net jy bid en huil vir Nasi se bekering nie – jy moet die evangelie met hom déél.’ (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, p.411).

 

So, bid vir arbeiders in die oes, maar wees dan self bereid om ‘n sendeling of evangelis te word.  Kyk uit vir moontlike helpers in die groot oes.  Bid vir ‘n inkomste, maar jy moet ook hard werk en wys wees met jou geld.  Bid vir ‘n huweliksmaat, maar maak ook vriende en pas Bybelse beginsels toe.  Bid vir werk, maar soek ook hard daarna.  Bid dat die Here jou teen versoeking sal beskerm, maar vlug ook van situasies waarin jy weet jy versoek sal word.  Bid vir geestelike groei, maar gebruik ook die genademiddele wat die Here tot jou beskikking stel (die Woord, gebed, ensovoorts).  Bid vir wysheid om God se wil te ken, maar deursoek ook die Bybel vir antwoorde en vra raad van volwasse Christene.  Bid vir genesing, maar besoek ook die dokter en drink jou medisyne.  Bid vir bekerings, maar deel dan ook die evangelie met die mense vir wie se bekering jy bid.  Bid vir jou slegte huwelik, maar gehoorsaam ook tekste soos 1 Petrus 3 en Efesiërs 5.  Bid vir jou kinders se bekering, maar leer hulle ook die evangelie en stel vir hulle ‘n voorbeeld.  Bid dat God jou sal red, maar jy moet jou ook van jou sonde bekeer en die evangelie glo.

 

My skoonma se werk behels onder andere dat sy mense moet bel wat ‘n deposito betaal het, maar nooit die res van die geld oorbetaal het nie.  Sy sukkel.  Mense het allerhande verskonings en probeer haar ontduik.  God is nie soos hierdie mense nie.  As Hy ‘n deposito gegee het, kan jy verseker weet dat die res oppad is.

’n Advertensie vir die evangelie

Peter and Dorcas

‘n Slegte advertensie is so snaaks dat jy die advervensie onthou, maar vergeet wat geadverteer is.  ‘n Goeie advertensie, daarenteen, vestig jou aandag op die produk, en nie op die advertensie self nie.  Genesings, wonderwerke, en ander kragtige werke van God is veronderstel om ‘n advertensie vir die evangelie te wees.  Die aandag moet op die evangelie wees en nie op die genesing self nie.

 

32 En onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; 33 en hy het daar ‘n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. 34 En Petrus sê vir hom:  Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op!  En hy het dadelik opgestaan. 35 En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.

 

36 En in Joppe was daar ‘n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas.  Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. 37 En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê. 38 En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. 39 En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan.  En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. 40 En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid.  En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê:  Tabíta, staan op!  En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. 41 En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan.  Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. 42 En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. 43 En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.” (Handelinge 9).

 

Enas word genees (v.32-35)

Die kerk in Jerusalem het in 8:1-4 uitmekaar gespat.  Die apostels het in Jerusalem agtergebly om die Christene wat in die tronk was te vertroos.  Toe hulle tereggestel is, was daar skaars Christene in Jerusalem oor.  Petrus, die leier van die twaalf, het rondgereis om die verspreide Christene te onderrig en te bemoedig.  Hy het 40 km noord-wes gereis tot in Lidda (v.32).  In Lidda was Enas vir 8 jaar bedlêend; hy was verlam (v.33).  Petrus het vir Enas gesê:  ‘Jesus genees jou.  Staan op en trek jou bed reg.’ (v.34).  Die mense in Lidda en die Saron-vlakte noord van die dorp het vir Enas geken.  Hulle het geweet dat hy vir 8 jaar verlam was.  Hulle het ook die Christene se boodskap en lewe geken.  Toe hulle vir Enas sien, het hulle die evangelie geglo en tot bekering gekom (v.35).

 

Moderne genesings op TV is selfgerig, kragteloos, en ‘n swak advertensie vir die evangelie.  Die genesing in Handelinge 9 is kragtig en fokus op Jesus.  Petrus het geen lof ontvang nie.  Die teks sê:  “En Petrus sê vir hom:  Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op!  En hy het dadelik opgestaan.  En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.” (v.34-35).  Met die opwekking van Dorkas het Petrus en die skare ook op die Here gefokus:  “En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid.  En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê:  Tabíta, staan op!  En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit… En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo.” (v.40, 42).  Nóg verskille tussen Handelinge 9 en moderne genesings op TV is:

 

  • Enas se siekte was ‘n sigbare probleem. Syne was nie bloot ‘n rugpyn of maagsweer nie.
  • Enas is volkome genees; hy het opgestaan. Hy het nie nog ‘n bietjie mank geloop nie.
  • Enas se genesing was permanent. Hy moes sy bed opmaak, omdat hy, behalwe om te rus, nie weer daarop sou lê nie (v.34a).
  • Enas het dadelik opgestaan; sy genesing het onmiddellik plaasgevind (v.34b). Hy het nie geleidelik beter begin word nie.
  • Daar was ooggetuies wat kon sien dat Enas gesond was (v.41). Moderne genesings is moeilik om te bewys.
  • Enas se genesing is deur ‘n mediese dokter, Lukas, op rekord geplaas. Ek sal graag wil hoor van moderne genesings wat medies bewys kan word.

 

Wonderwerke was uniek tot die apostels en hulle helpers.  In 2 Korintiërs 12:12 sê Paulus:  “Die kentekens tog van ‘n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade.”  Maar ten spyte hiervan adverteer God vandag steeds evangelie.  Hoe doen Hy dit?

 

Dorkas word opgewek (v.36-43)

Joppe, ‘n dorp aan die kus, was 20 km noord-wes van Lidda.  Daar was ‘n gelowige met die naam Tabita.  In Grieks is haar naam Dorkas.  Beide name (Tabita is Hebreeus) beteken ‘gazelle’.  Sy was vol van goeie werke en sorg vir die armes.  Sy het veral die weduwees gehelp (v.36, 39).  Haar lewe was ‘n kommentaar op die evangelie.  ‘n Christen se lewe behoort soos hare te lyk:

 

“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Efesiërs 2:10).

 

“[Jesus het] Homself vir ons gegee om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” (Titus 2:14).

 

“Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít:  om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” (Jakobus 1:27).

 

“Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie?” (Jakobus 2:14).

 

Tabita het siek geword en gesterf.  Volgens Joodse gebruik het die gelowiges haar lyk gewas.  Dit bewys ook vir ons dat sy regtig dood was.  Hulle het haar liggaam in die bo-vertrek neergelê (v.37).  Hulle het gehoor dat Petrus in Lidda was (hoe kon hulle na die genesing van Enas nié weet nie).  Hulle het hom Lidda toe gebring (v.38).  Wou hulle hê Petrus moes hulle troos, of het hulle geglo dat hy vir Tabita uit die dood kon opwek?  Toe Petrus daar aankom het die weduwees gehuil en vir hom gewys wat Tabita vir hulle gemaak het (v.39, Hoe gebruik jy jóú vaardigheid in die Here se diens?).  Hulle trane was die bewys dat hulle haar liefgehad het, en dat sy regtig dood was.  Petrus wou privaatheid en stilte hê, en het die weduwees gevra om die vertrek te verlaat (cf. Markus 5:40-41).  Hy het gekniel (cf. 2 Konings 4:33) en vir die opstane Jesus gevra om vir Tabita op te wek.  God het sy gebed verhoor.  Tabita is uit die dood opgewek (v.40).  Sy het regop gesit.  Sy was nie net lewendig nie, maar gesond ook (v.40, 37).  Baie mense in Joppe het in Jesus geglo (v.42).  Petrus het vir ‘n lang tyd in Joppe gebly om die nuwe Christene te leer en te help (v.43).  Hy het in Simon die leerlooier se huis gebly (v.43).  In die Jode se oë was iemand wat met dooie diere se velle gewerk het, onrein.  Petrus was nie veel gepla nie.  Die Here was besig om hom voor te berei, omdat hy binnekort moes leer dat heidene nie onrein is nie (cf. hfst.10).

 

Vandag nog doen die Here kragtige werke om sy evangelie te adverteer; om die kollig op Jesus te skyn:

 

[1] Hy verander slegte persone in liewe mense.  Min dinge is so ‘n effektiewe advertertensie vir die evangelie.

 

[2] ‘n Sagmoedige, liefdevolle, en onderdanige Christen-vrou in ‘n moeilike huwelik is ‘n kragtige advertensie vir die evangelie (1 Petrus 3:1-2, Titus 2:5).  Alvin Schmidt skryf:  ‘the pagan Libanius said when the lauded the Christian womens’ high level of commitment and dedication to their role as wives and mothers:  ‘What women these Christians have!’ (How Christianity Changed the World, p.85).

 

[3] Wonderwerke in antwoord op gebed roep uit:  ‘Kyk na die evangelie!’  In die vroeë 90’s het my ma galstene gehad.  Dit kon duidelik op die sonar gesien word.  Die huisdokter het haar na die snydokter toe verwys.  By die biduur het sy haar situasie verduidelik en voorbidding gevra.  Toe sy vier dae later by die snydokter kom het hy haar getoets en gevra:  ‘Waar is die galstene?’  God het haar genees.

 

John Howie skryf in The Scots Worthies:  ‘those who were past all recovery with epileptic disease, or falling sickness, were brought to [Robert Bruce], and were, after prayer by him in their behalf, fully restored from that maladay.  This may seem strange, but it is true, for he was such a wrestler with God, and had more than ordinary familiarity with Him.’ (The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 2001, p.148).

 

Howie vertel ook van ‘n jong man wat na ‘n tyd van siekte in John Welch se huis gesterf het.  Twaalf ure later het die oorledene se vriende ‘n kis gebring om hom daarin te plaas.  Welch het geweier en gesê:  ‘Hy is nie dood nie.’  Vir 36 uur het Welch by die jong man gebly en voortdurend gebid.  Die familie het gevra om die man te begrawe, maar Welch het vir nog 12 ure gevra.  Na 48 uur het Welch aangedring dat die man nie dood is nie.  Die dokters het gekom en allerhande toeste gedoen.  Hulle het gesê dat hy morsdood is.  Welch het aangehou dat die man nie dood is nie, en het vir nog 2 ure alleen gevra.  Howie skryf:  ‘Then Mr Welch fell down before the pallet, and cried to the Lord with all his might, and sometimes looked upon the dead body, continuing to wrestle with the Lord, till at length the dead youth opened his eyes, and cried out to Mr Welch, whom he distinctly knew, ‘O sir, I am all whole, but my head and legs;’ and these were the places [the doctors] had sorely hurt with their pinching.  When Mr Welch perceived this, he called upon his friends; and showed them the dead young man restored to life again, to their great astonishment.” (Ibid, p.133).

 

[4] Antwoorde op alledaagse gebede plaas die evangelie op die verhoog.  Na ‘n antwoord op gebed het my jongste dogter gesê:  ‘Nou wéét ek God is waar!’

 

[5] Buitengewone voorsienigheid, soos wanneer ‘n tornado elke gebou in die dorp, behalwe die kerk, verwoes, adverteer die evangelie.

 

[6] Christene se liefde is ‘n sterk getuienis vir die evangelie.  Jesus het gesê:  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).  Op Aniwa het Nasi een van die Christene vermoor.  Die vermoorde se vrou en ander Christene het hom liefgehad.  John Paton skryf:  “So they began to show him every possible kindness, and one after another helped him in his daily tasks, embracing every opportunity of pleading with him to yield to Jesus and take the new path of life.  At first he repelled them, and sullenly held aloof.  But their prayers never ceased, and their patient affections continued to grow. At last, after long waiting, Nasi broke down, and cried to one of the Teachers, ‘I can opose your Jesus no longer.  If He can make you treat me like that, I yield myself to Him and to you.  I want Him to change me too.  I want a heart like that of Jesus.’ (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, p.413).

 

[7] Eenheid onder Christene verhef die evangelie.  Mark Dever vertel van ‘n sielkundige wat sy kerk besoek het.  Toe hy sien hoe jonk en oud, ryk en arm, swart en wit, man en vrou in liefde en harmonie saamlewe, was hy verbaas.  Dit het hom na die evangelie toe aangetrek.  Jesus het gebid:  “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” (Johannes 17:23).

 

[8] ‘n Heilige lewe is ‘n goeie advertensie vir die evangelie.  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  ‘n Jaar ná hulle bekering het ‘n Swiss paar vir Stuart Olyott gesê:  ‘Nou wéét ons die evangelie is waar.  Oor die afgelope jaar het ons nie gehoor dat een persoon in hierdie kerk ‘n ander slegpraat nie.’  ‘n Man in Nelspruit het in sy weermag dae nie gelag toe een van die ander troepe ‘n vuil grap vertel nie.  Iemand het gesien hy lag nie en het hom voor almal gespot:  ‘Oooo, julle!  Ons het ‘n dominee onder ons!’  Ná ete het die man wat hom gespot het gesê:  ‘Hoekom het jy nie vir die vuil grap gelag nie?’  Hy het verduidelik dat hy ‘n Christen is, en het die evangelie gedeel.  Die man het sy vriende geroep en vir die Christen gesê:  ‘Vertel vir hulle ook.’  Voordat hy klaar was het hulle ander geroep en gesê:  ‘Vertel dit weer.’  Uiteindelik het hy op ‘n stoel gestaan en vir ‘n tent vol troepe die evangelie gepreek.

 

[9] Dankbaarheid skyn ‘n groot kollig op die evangelie.  Paulus skryf:  “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:14-15).

 

[10] ‘n Christen wat eerlik werk, sy werk met vreugde doen, en kwaliteit werk lewer trek mense se aandag na Jesus en die evangelie toe:  “Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.” (Titus 2:9-10).  Oorlede Martin Holdt sê dat hy voor sy bekering lui was.  Ná sy bekering het hy begin om hard te werk.  Kort daarna het sy baas hom ingeroep en gevra:  ‘Holdt, wat het met jou gebeur?’  Hy het die geleentheid gebruik om die evangelie te deel.

 

[11] As jy, soos Dorkas, goeie werke met die regte motiewe doen, sal mense se aandag op die evangelie gefokus word (cf. Matteus 5:16).

 

[12] ‘n Christen wat te midde van lyding vreugde het, adverteer die evangelie (1 Petrus 3:15).  Moenie die TV-predikers glo nie.  Hulle sê hulle rykdom skep ‘n geleentheid om te sê:  ‘Ons God maak sy kinders ryk.’  Dis onsin.  Rykdom fokus mense se aandag op geld en hulle vleeslike begeertes, en nie op die evangelie nie.

 

Laat Handelinge 9 jou aandag op die evangelie fokus; op die geestelike lewe en genesing wat die evangelie bring.  Wonderwerke en die res is maar net die voetheuwels, aptytwekker, en winkelpop.  Die evangelie is berg Everest, die liplekker hoofgereg, en die peperduur ontwerpersklere.  Laat ons gemeente en jou lewe die evangelie aan die wêreld adverteer.

God se trofee van genade

Saul on Damascus road

Waneer ‘n jagter ‘n buitegewone of rekordgrootte dier skiet, word dit ‘n trofee genoem.  In Handelinge 9 spog Lukas met God se trofee van genade.

 

Saulus se bekering (v.1-19)

 

1 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan 2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. 3 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; 4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê:  Saul, Saul, waarom vervolg jy My? 5 En hy sê:  Wie is U, Here?  En die Here antwoord:  Ek is Jesus wat jy vervolg.  Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. 6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy:  Here, wat wil U hê moet ek doen?  En die Here antwoord hom:  Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. 7 En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. 8 Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. 9 En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.

 

10 En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê:  Ananías!  En hy antwoord:  Hier is ek, Here. 11 Toe sê die Here vir hom:  Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; 12 en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. 13 Maar Ananías antwoord:  Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; 14 en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. 15 Maar die Here sê vir hom:  Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. 16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. 17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê:  Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. 18 En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. 19 En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword.  En Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus.”

 

In 7:58 het Saulus die moord op Stefanus goedgekeur en in 8:3 het hy die kerk uitmekaar geskeur.  In 9:1 het hy nogsteeds moord geblaas teen die kerk.  So sterk was die haat dat hy Christene wat van die Weg was(v.2, Johannes 14:6), in die buiteland gejag het – so ver as Damaskus wat 256 km noord van Jerusalem was (v.2, 26:11).  Hy het toestemmingsbriewe gekry om in die singagoges in te gaan en Christene te arresteer (v.2).  Toe Hy nog op aarde was het Jesus gesê:  “Hulle sal julle uit die sinagoges ban.  Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.” (Johannes 16:2).

 

Toe Saulus en sy party naby Damaskus kom het ‘n helder lig uit die hemel geskyn.  Dit het die 12:00 son soos kerslig laat lyk (v.3, 22:6, 26:13).  Saulus het die heerlikheid van God gevrees, sodat hy en sy span op die grond geval het (v.4, 26:14, cf. Openbaring 1:16-17).  ‘n Stem uit die hemel het gesê:  ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’(v.4-5).  Saulus het gou geleer dat enigiemand wat ‘n Christen vervolg ook vir Jesus vervolg (1 Korintiërs 12:27, Sagaria 2:8).  Die stem het sy naam geken!  Sekerlik moes dit vir hom iets gesê het.  Nou het hy geweet dat Jesus regtig lewe en dat Hy die Here is (v.4-5).  Jesus het hom beveel om Damaskus toe te gaan.  Hy was gehoorsaam.  Die mense wat saam met Saulus was het die stem gehoor, maar niks verstaan nie; die helder lig gesien, maar niemand in die lig gesien nie (v.6-8, 22:9, 26:14).  Saulus het vir Jesus gesien (1 Korintiërs 9:1).  Dit is hoekom hy blind geword het.  Daar was iets soos skubbe wat oor sy oë gevorm het (v.18).  Sy vriende het hom aan die hand gelei (v.8-9).  Vir drie dae het hy by Judas in Reguitstraat (dit bestaan vandag nog en is bekend as Darb el-Mustaqim) gebly waar hy gevas en gebid het (v.9-12).  Dat hy gebid het het die egtheid van sy bekering bewys.  Ja, Fariseërs het gebid, maar net op straathoeke en in die tempel (Matteus 6:5-6).  Waaroor het hy gebid?  Ons weet nie, maar ek is seker dat hy sy sonde bely het en die Here gepryshet vir sy groot verlossing, vergifnis en genade.  Ananias was bang en wou nie vir Saulus sien nie.  Dit sou wees soos iemand wat homself aan die polisie oorhandig (v.13-14).  Jesus het vir Ananias gerus gestel.  Saulus is uitgekies om die evangelie aan heidene, Jode en konings te verkondig (v.15, 26:1, 25:11-12).  Saulus het ander vervolg, maar sou nou self bereid wees om vir Jesus te lei en selfs sy lewe te gee (v.16).  Met alles in hom wou hy deel in Jesus se lyding (Filippense 3:10).  Sy lyding was inderdaad groot:

 

“Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.  Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.  Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.” (2 Korintiërs 11:24-28).

 

Ananias was gehoorsaam.  Hy het sy hande op Saulus gelê.  Saulus is met die Gees gedoop en sy oë het oopgegaan.  Hy was geestelik blind en kon weer sien.  Die fisiese blindheid het dit uitgebeeld.  Hy sou ander uit geestelike blindheid en duisternis na sig en die lig van God toe lei (26:18).  Daarom moes hy hierdie ondervinding van blindheid deurmaak.  Ananias het gesê hy moet opstaan en gedoop word.  In die doopwater het Saulus uitgebeeld dat Jesus sy sonde weggewas het:  “En nou, waarom versuim jy?  Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.” (22:16).  Saulus het die vas gebreek.  Hy het geëet en is versterk (v.17-19).  Hy het ook dadelik by die dissipels aangesluit (v.19).

 

Wie is die slegste persoon wat jy ken?  God kan die slegste persoon red en hom die grootste prediker maak.  In 1 Timoteus 1:12-17 skryf Paulus:  “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was.  Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof.  En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is.  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.  Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.  Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.  Amen.”

 

Voor sy bekering het John Bunyan ‘n vloekwoord voor en na elke gewone woord gebruik, om vir die middelste woord gesag te gee.  God het hom gered.  Hy het ‘n kragtige prediker geword en die bekendste boek ter wêreld geskryf (naas die Bybel, natuurlik):  The Pilgrim’s Progress.  John Newton was ‘n vuilbek matroos, ‘n slawehandelaar en ‘n dronkaard.  God het hom gered.  Hy het ‘n sagmoedige man geword.  Hy het die bekendste Christelike lied in die Engelse taal geskryf:  Amazing Grace.  God kan homoseksueles, seks- en dwelmverslaafdes, dronklappe, lasteraars, ateïste, hoogmoedige en arrogante mense, en enige ander sondaar red.  Ja, Hy kan selfs mense red wat nie belangstel of beplan om gered te word nie (soos Saulus).  Jy sal seker nie ‘n stem hoor of lig sien nie.  Maar jy moet besef jy is verlore.  Jy moet bid dat die Here jou genadig sal wees.  Jy moet ‘n ontmoeting met die lewende Jesus hê.  Jy moet ‘n 180˚ draai maak.  En dan moet die vrug van ware bekering sigbaar wees in jou lewe:

 

  • Jy bid en sien antwoorde op jou gebede (v.11).
  • Jy het geestelike sig (v.18). Jy verstaan die Bybel. Die prediking van God se Woord maak vir jou sin.
  • Jy is gevul met die Heilige Gees (v.17). Sy werk in jou lewe is sigbaar: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).
  • Jy is bereid om vir die Here se Naam te ly (v.16). Jy is liewer vir die Here as vir jou eie lewe.
  • Jy gehoorsaam Hom. Die eerste stap van gehoorsaamheid is dat jy gedoop word (v.18).
  • Jy wil saam met ander Christene wees (v.19).
  • Jy vertel vir ander wat die Here vir jou gedoen het (v.20).

 

Meet jouself hieraan.  Is jy regtig ‘n Christen?  Indien nie, moet jy jou van jou sonde bekeer en die evangelie glo.  So klink die evangelie:

 

God is heilig.  Jy is ‘n sondaar.  Jy is ‘n dief.  Jy misbruik die lewe van God vir jou gee.  Jy gebruik jou asem om vir jouself te lewe.  Jy gee nie om oor die Here nie.  Jy is selfsugtig.  Jy is net goed vir ander mense as dit vir jóú iets in die sak kan bring.  Jy haat ander en wil hulle uit jou lewe hê.  Jy is seksueel immoreel.  Jy is ‘n leuenaar.  Jy maak beloftes wat jy nie hou nie en vergroot jou storie, sodat mense van jou sal hou.  Jy belowe om 15:00 êrens te wees, maar is altyd laat.  Jy gee net om oor jouself – almal kan maar vir jóú wag.  God is kwaad vir jou en sal jou in die ewige hel straf.  Maar Hy is ook lief vir jou.  Hy het aarde toe gekom en mens geword.  Hy het gekom om namens jou die wet volmaak te onderhou.   Hy het die straf gekry wat jý verdien.  Ná sy vervloekte kruisdood is Hy begrawe en het Hy uit die dood opgestaan.  Hy belowe die ewige lewe vir almal wat wegdraai van hulle sonde, en nie meer op hulle eie pogings vertrou nie, maar op sý kruisdood en opstanding.

 

Saulus se prediking (v.20-31)

 

20 En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. 21 En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê:  Is hy nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie? 22 Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is. 23 En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. 24 En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring; 25 maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in ‘n mandjie te laat afsak. 26 En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie. 27 Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het. 28 En hy het saam met hulle in— en uitgegaan in Jerusalem 29 en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak. 30 En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur. 31 En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.”

 

Voorheen wou Saulus mense in die sinagoges arresteer (v.2), maar nou het hy hiér gepreek dat Jesus die Messias en die Seun van God is (v.20).  Almal wat dit gehoor het was stomgeslaan (v.21).  Saulus het geestelik sterker geword.  Sy kennis van die Skrif het verskerp.  Uit die Ou Testament het hy vir die Jode gewys dat Jesus die Messias is (v.22):

 

Stelling #1:  Hier is wat Jesaja 53, Psalm 22, Daniël 7, Sagaria 9, Miga 5, ensovoorts oor die Messias sê.

 

Stelling #2:  Hier is wat Jesus alles gedoen het.

 

Gevolgtrekking:  Jesus is die Messias.

 

Drie jaar verloop tussen v.22 en 23 (‘Na geruime tyd’).  In hierdie tyd was Saulus vir drie jaar in Arabië (Galasiërs 1:17-18).  Wat het hy in Arabië gaan doen?  Ons weet nie.  Dalk het hy, soos die ander apostels, drie jaar se opleiding by Jesus gekry.  Dit was immers ‘n vereiste vir ‘n apostel (1:21-22).  Na die drie jaar het Saulus terugkom Damaskus toe (volgens Galasiërs 1).  Koning Aretas, sy goewerneur, en die Jode het saamgespan om vir Saulus dood te maak.  Toe die gelowiges dit hoor het hulle vir Saulus in ‘n mandjie weggesteek en hom deur ‘n venster in die stadsmuur laat afsak (v.23-25, 2 Korintiërs 11:32-33).

 

In Jerusalem aangekom het Saulus dadelik by die kerk probeer aansluit.  Die Christene was bang en het gedink dis ‘n lokval.  Barnabas het vir Saulus na die apostels toe gevat.  Net Petrus en Jesus se halfbroer, Jakobus, was teenwoordig (Galasiërs 1:18-19).  Hy het vir hulle vertel hoe Saulus tot bekering gekom en die evangelie in Damaskus gepreek het (v.26).  Saulus het vir 15 dae by Petrus in Jerusalem gebly (Galasiërs 1:18).  Hy het vrymoedig die evangelie verkondig en met die Griekssprekende Jode geredeneer (v.28-29).  Jesus het gewaarsku dat die Jode hom wou doodmaak (v.29, 22:17-18).  Die broers het hom tot by Sesarea vergesel.  Dáár het hy ‘n skip gekry en na sy tuisdorp, Tarsus, gevaar (v.30, 11).  Die vervolger van die kerk was nou ‘n vriend.  Die kerk het vrede gehad en is deur die Heilige Gees vertroos.  Dit het aangehou groei (v.31).

 

In die kerk is getalle seker nie al wat saakmaak nie, maar moenie sê dat dit glad nie saakmaak nie.  Dwarsdeur Handelinge wys Lukas vir ons dat die kerk toegeneem het in getalle:

 

“hulle [het] vermeerder.” (v.31).

 

“Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.” (2:41).

 

“En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” (2:47).

 

“En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyf duisend geword.” (4:4).

 

“En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (5:14).

 

“die dissipels [het] vermeerder” (6:1).

 

“En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” (6:7).

 

“En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.” (11:21).

 

‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring.” (11:24).

 

“Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.” (12:24).

 

“En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.” (14:1).

 

“En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.” (16:5).

 

Ons wil mos hê dat baie mense vir Jesus moet ken en aanbid.  In die hemel sal dit ook so wees:  “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande” (Openbaring 7:9).  Ons moet bid dat baie mense tot bekering kom; dat die kerk in getalle sal groei.  Ons moet bid vir geleenthede en idees om die evangelie te deel:

 

  • Nooi iemand kerk toe.
  • Lees saam met ‘n ongelowige deur Romeine.
  • Gee vir iemand ‘n traktaatjie.
  • Sit ongelowiges se name op jou gebedslys en bid dat hulle tot bekering kom.
  • Vleg die evangelie deur jou persoonlike getuienis en deel dit met iemand.
  • Nooi ongelowige vriende vir ete en lees ‘n Skrifgedeelte oor die evangelie as julle klaar geëet het.
  • Soek ‘n geestelike konneksie in gesprekke. Jesus begin by water vir die keel en lei die gesprek na geestelike dors toe (Johannes 4).

 

Saam met George Whitefield se lewensverhaal (deur Arnold Dallimore) is John Paton se autobiografie seker die beste boek wat ek in my lewe gelees het.  Paton was ‘n sendeling na die New Hebrides – ‘n groep eilande waar kanibale gebly het.  My gunsteling storie in die boek is van ‘n put wat hy op die eiland (Aniwa) gegrawe het.  Daar was geen varswater op die eiland nie.  Om vloeistof in te kry moes die mense kokosneutmelk drink of suikerriet kou.  Toe Paton besluit het om ‘n put te grawe het die mense gedink hy’s mal.  ‘Reën kom uit die wolke; jy kan nie reën onder die aarde kry nie,’ het hulle gesê.  Hy het eenvoudig geantwoord:  ‘My God het reën onder die aarde gesit en sal water uit die aarde laat opkom.’  Hulle het hom nie geglo nie… totdat hulle self die water gesien en geproe het.  Hulle was in ekstase.  Hulle kon dit nie glo nie.  Watse tipe God is dit wat reën onder die aarde kan laat opkom?  Die hoofman, Namakei, het gevra om die volgende Sondag in die kerk te praat.  Toe die dag kom het hy gesê:

 

“Friends of Namakei, men and women and children of Aniwa, listen to my words.  Since Missi [John Paton se bynaam – kort vir Missionary] came here he has talked many strange things we could not understand – things all too wonderful; and we said regarding many of them that they must be lies.  White people might believe such nonsense, but we said that the black fellow knew better than to receive it.  But of all his wonderful stories, we thought the strangest was about sinking down through the earth to get rain!  Then we said to each other, The man’s head is turned; he’s gone mad.  But the Missi prayed on and wrought on, telling us that Jehovah God heard and saw, and that his God would give him rain.  Was he mad?  Has he not got rain deep down in the earth?  We mocked at him; but the water was there all the same.  We have laughed at other things which the Missi told us, because we could not see them.  But from this day I believe all he tells us about his Jehovah God is true.  Some day our eyes will see it.  For today we have seen the rain from the earth.

 

My people, the people of Aniwa, the world is turned upside down since the Word of Jehovah came to this land!  Who ever expected to see rain coming up through the earth?  It has always come from the clouds!  Wonderful is the work of this Jehovah God.  No god of Aniwa ever answered prayers as the Missi’s God has done… Something here in my heart tells me that the Jehovah God does exist, the Invisible One, whom we never heard of nor saw till the Missi brought Him to our knowledge… [The water was] invisible till this day, yet all the same it was there, though our eyes were too weak.  So I, your Chief, do now firmly believe that when I die, when the bits of coral and the heaps of dust are removed which now blind my old eyes, I shall then see the Invisible Jehovah God with my soul, as Missi tells me, not less surely than I have seen the rain from the earth below.  The gods of Aniwa cannot hear, cannot help us, like the God of Missi.  Henceforth I am a follower of Jehovah God.  Let every man that thinks with me go now and fetch the idols of Aniwa, the gods which our fathers feared, and cast them down at Missi’s feet.  Let us burn and bury and destroy these things of wood and stone, and let us be taught by the Missi how to serve the God who can hear, the Jehovah who gave us the well, and who will give us every other blessing, for He sent His Son Jesus to die for us and bring us to Heaven.  This is what the Missi has been telling us every day since he landed on Aniwa.  We laughed at him, but now we believe him.  The Jehovah God has sent us rain from the earth.  Why should he not also send us His Son from heaven?  Namakei stands up for Jehovah!” (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, The Banner of Truth Trust, EDINBURGH, 1965, 2007, pp.354-355).

 

Paton sê dat die put en hierdie toespraak die rug van afgodery op die eiland gebreek het.  Paton skryf:  “Heathen Worship was gradually extinguished; and, though no one was compelled to come to church, every person on Aniwa, without exception, became an avowed worshipper of Jehovah God.  Again, ‘O Galilean, Thou hast conquered!’” (Ibid, p.358).

 

Saulus is God se trofee van genade.  Namakei en die inboorlinge van Aniwa is trofees van genade.  Laat ons bid, in die krag van die Heilige Gees preek, en die Here vertrou vir nóg trofees van genade.

Jou probleme en God se beloftes

Moving mountain

Vir jou is dit niks om ‘n klip die grootte van ‘n golfbal op te tel nie.  Vir ‘n mier is dieselfde klip ‘n berg.  In jou oë is jou probleme reusagtig.  Maar voor God se beloftes is jou probleme niks.  “Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik:  Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sagaria 4:6-7).  Genesis 20-22 illustreer hierdie beginsel.

 

Abimeleg (hfst.20)

Abraham het rondgetrek vir weiding.  Hy was steeds ‘n vreemdeling in die land wat aan hom en sy nageslag belowe is (v.1).  Soos in hoofstuk 12 was hy bang dat die inwoners van die land hom sou doodmaak om sy mooi vrou te vat.  Ja, sy was 90 maar sou nog 37 jaar lewe (23:1).  Sy was maar twee derdes van haar totale ouderdom, en sou in ons tyd gelyk het soos ‘n mooi vrou van 50 of 55.  Abraham het gesê dis sy suster.  Abimeleg (‘n titel, nie ‘n naam nie) het vir Sara gevat.  Nou was die vervulling van God se belofte bedreig.  God het belowe dat Abraham ‘n seun deur Sara sou hê (17:19), maar hoe kón hy as iemand anders sy vrou gevat het?

 

God het vir Abimeleg met die dood gedreig, maar hy het onskuldig gepleit:  ‘Ek het nie geweet dis sy vrou nie.  Hy het self gesê dis sy suster.  Buitendien het ek nie aan haar gevat nie.’ (v.3-5).  Dit was Gód wat hom van sonde weerhou het.  God het belowe om sy lewe te spaar indien hy vir Sara sou teruggee.  Abraham was ‘n profeet en sou vir hom intree (v.6-7).  Abimeleg het bang geraak en God se bevel uitgevoer.  Hy was kwaad vir Abraham:  ‘Jy het byna veroorsaak dat ek my lewe verloor.  Hoekom het jy gelieg en gesê Sara is jou suster?’ (v.8-10).  Abraham het drie verskonings gehad.  [1] Ek het gedink julle vrees glad nie die Here nie (soos Sodom en Gomorra).  [2] Ek was bang julle maak my dood om my vrou te kry.  [3] Sara is my half-suster.  Ons het dieselfde pa, maar nie dieselfde ma nie (v.11-13).

 

Abimeleg het sy verskonings aanvaar.  Hy het vir hom diere en ‘n duisend silwer stukke gegee om jammer te sê en te bewys dat Sara onskuldig was (v.14-16).  Toe Abraham vir hom gebid het, het die Here hom genees en gegee dat sy vrou en slavinne weer swanger kon word (v.17-18).

 

Was jy al ooit soos Abraham?  Deur sy leuen het hy homself in die sop laat beland, en tog het die Here hom uitgehelp.  Wat dink jy as jy drooggemaak het?  ‘Ek kan nie die Hére se hulp vra nie; ek het mysélf in die moeilik laat beland… Ek het geld nodig maar kan nie vir die Here vra nie, want toe ek die geld gehad het, het ek dit gemors… Ek kan nie vir die Here vra om my te vergewe nie; ek het willens en wetens gesondig… Ek weet nie wat om te doen oor my slegte huwelik nie.  Voor ek getrou het het my ouers my gewaarsku, maar ek wou nie luister nie.  Nou sit ek.  Ek kan nie nóú stert tussen die bene teruggaan en vra vir hulp nie.’

 

As die Here kan kéér dat iemand sondig (v.6), kan Hy sekerlik ook sonde wegvat – selfs nádat jy opgemors het (1 Johannes 1:7).  Die Here wil hê ons moet ons sonde bely en laat staan (1 Johannes 1:9, Spreuke 28:13).  Die verlore seun het bewustelik gesondig, en steeds het die vader hom vergewe (Lukas 15).  Die Here kan jou ook vergewe.  Glo dit of nie, Hy kan selfs jou grootste blapse vir die goeie laat uitwerk (Romeine 8:28).

 

Ismael (hfst.21)

God het sy belofte aan Abraham en Sara vervul (v.1-2).  Hulle het die kind Isak genoem (Isak beteken ‘hy lag’).  Hulle het nie meer in ongeloof gelag nie (hfst.17-18), maar met blydskap (v.3-7).  Abaham het sy seun op die agtste dag besny soos God beveel het (v.4, 17:12).  Toe Isak omtrent drie jaar oud was het hy opgehou om aan sy ma te drink.  Abraham het ‘n groot partytjie gehou en klein Isak kon saam eet (v.8).  Isak se halfbroer, Ismael, was 14 jaar ouer as hy (v.5, 16:26).  By die fees het hy jaloers geraak omdat Abraham ‘n groot fees vir Isak hou.  Die 17-jarige Ismael het sy 3-jarige halfbroer geterg, gespot en geboelie (v.9, Galasiërs 4:29).  Sara het dit gesien en besef dat Ismael in die belofte sou deel.  Sy het gesê dat Abraham hom moes wegstuur.  Hy wou nie – Ismael was immers sy seun.  Maar God het Sara se versoek bevestig en gesê dat die belofte aan Isak alleen gemaak is; nie aan Ismael nie (v.10-13).  Abraham het geluister en vir Ismael en sy ma, Hagar, weggestuur met ‘n bietjie padkos (v.14).  Na ‘n tyd het Hagar en Ismael se water opgeraak.  Hagar het haar sterwende seun na ‘n koeltebos toe gehelp.  Sy het op ‘n afstand gaan sit en huil omdat sy nie wou sien hoe haar seun sterf nie.  God het gehoor hoe Ismael treur en vir Hagar belowe dat haar seun ‘n groot nageslag sou word.  God het dadelik vir haar ‘n put gewys.  Sy en Ismael het water gedrink en oorleef (v.15-19).  Ismael het ouer geword en ‘n knap boogjagter geword in die Paran woestyn.  So is die belofte van 16:12 vervul:  “En hy sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees:  sy hand teen almal, en almal se hand teen hom!  En hy sal teenoor al sy broers woon.”  Hagar was ‘n Egiptenaar (v.9) en het daarom vir Ismael ‘n Egiptiese vrou gekry (v.20-21).

 

By die fees het Abimeleg en sy generaal, Pigol, ‘n verbond met Abraham gesluit.  Hulle het gesien dat Abraham ryk, sterk, en invloedryk was.  Hulle het gevrees.  Hulle wou hê hy moes belowe dat hy hulle en hul nageslag nie kwaad sou aandoen nie.  Abraham het belowe, maar het vir hulle gevra:  ‘Hoekom het julle mý dan kwaad aangedoen?  Ek het ‘n put gegrawe, en julle slawe het dit by my herders gesteel.’ (vir ‘n veeboer in die woestyn is water ‘n groot saak!).  Abimeleg was verbaas:  ‘Ek weet niks hiervan nie.’  Hulle het ‘n verbond gemaak om te erken dat die put aan Abraham behoort.  Omdat hierdie ‘n verbond was is die diere sekerlik geoffer.  Die put is ‘Berseba’ genoem.  Dit beteken ‘put van sewe’ of ‘put van die eed’.  Abraham het sewe lammers vir Abimeleg gegee.  Abraham het ‘n immergroen boom geplant om aan te dui dat daar water was, en ook as ‘n teken dat die Here hom gehelp het (v.22-34).

 

God het belowe dat Abraham en sy nageslag (almal wat glo) die aarde as erfdeel sal verkry (Romeine 4:13, Matteus 5:3).  Daarom hoef Christene nie bang te raak as dit lyk of Islam (die Arabiere is Ismael se nageslag!) besig is om die wêreld oor te neem nie.  Ons hoef nie die Illuminati en hulle ‘nuwe wêreld orde’ te vrees nie.  God het vir Ismael uitgedryf en sal dit weer doen.  Ons sal kry wat aan Abraham en sy nageslag belowe is.

 

Isak (hfst.22)

Abraham was voorspoedig:  hy was ryk, het ‘n seun gehad, het niks vyande gehad nie, en Isak het nie ‘n mededinger gehad nie.  Dis tóé wat Here vir Abraham getoets het.  Wat was vir hom die belangrikste:  die Here of Isak, die Here of die geskenke wat Hy gee?  Soos wat die hoofstuk ontwikkel sien ons dat Isak ‘n tipologie van Christus is.

 

  • Die Here het vir Abraham gesê om sy enigste seun, vir wie hy lief is, te offer (v.1-2). God het sy enigste Seun, vir wie Hy lief is, geoffer (Johannes 3:16).
  • Abraham moes sy seun op een van die berge by Moria offer (v.1-2). Om die plaag oor Israel te keer het Dawid hier ‘n offer gebring. Later het Salomo die tempel op Moria gebou (2 Kronieke 3:1). Jesus is op een van hierdie heuwels geoffer.
  • Wat sou nou van die Here se belofte word? Hoe kon Abraham ‘n groot nageslag deur Isak hê, as hy vir Isak moes offer? Abraham het geglo dat die Here sy seun uit die dood kon opwek, en daarom het hy die donkie gelaai en die volgende oggend vroeg vertrek (v.3, Hebreërs 11:17-19).
  • Toe hulle na drie dae by die plek aankom, het Abraham vir sy slawe gesê: ‘Wag hier. Ek en Isak gaan daar aanbid. As ons klaar is kom ons terug na julle toe.’ (v.4-5). Dís geloof! Abraham het geweet hy en Isak sou terugkom.
  • Isak het die hout vir die brandoffer gedra (v.6). Jesus het die kruishout waarop Hy geoffer sou word self gedra (Johannes 19:17).
  • Abraham het die vuur en die mes gedra (v.6). God die Vader het sy Seun doodgemaak (Jesaja 53:10).
  • Abraham en Isak het saamgeloop (v.6, 8). Die Vader en die Seun het saam ‘n plan beraam om ons te red, en saam gewandel tot by die plek waar Jesus sy lewe vir ons gegee het.
  • Isak het die vuur en die hout gesien. ‘Waar is die lam?’ het hy vir Abraham gevra. Abraham het gesê dat God ‘n lam in Isak se plek sou voorsien – nóg ‘n stelling van geloof (v.7-8). God het in die verre toekoms ‘n Lam in ons plek voorsien (Johannes 1:29).
  • Abraham het sy seun op die altaar vasgebind. Toe hy die mes vat het God hom gekeer. Dit was duidelik dat Abraham die Here bo sy eie seun liefhet (v.9-13).
  • God het inderdaad ‘n ram in Isak se plek voorsien (v.13, 8). Jesus het in ons plek gesterf – ‘n plaasvervangende soendood (Jesaja 53:4-6).
  • Abraham het die plek genoem: ‘Die Here sal voorsien.’ (v.14). Jare ná Abraham het die Here baie sondeoffers op die tempel-berg voorsien. ‘n Duisend jaar na Salomo het die Here verlossing voorsien deur sy Seun.

 

God het sy belofte bevestig.  Hy sou vir Abraham met ‘n groot nageslag seën (v.15-18).  Deur Jesus deel ons in hierdie seën (Galasiërs 3:14, 16, 29).  Soos Abraham belowe het, het hy en Isak het na die slawe toe teruggekeer (v.19, 5).  Abraham het gehoor dat sy broer Nahor baie kinders gekry het – twaalf om presies te wees.  Twaalf is ‘n klompie, maar nie naastenby so baie soos die sterre van die hemel of die sandkorrels op die strande van die see nie (v.17).  Een van Nahor se kleinkinders was Rebekka (v.20-24).  Dit is deur haar wat Abraham se groot nageslag sou kom.  Sy het immers Isak se vrou geword (hfst.24).

 

In hierdie hoofstuk het alles teen God se belofte ingegaan.  ‘n Dooie seun kan nie juis ‘n groot nageslag verwek nie.  Ons moet die Here vertrou wanneer dit lyk of alles teen sy beloftes inwerk.  Die Here belowe om sy kerk te bou, maar sodra mense in my sendeling-vriend, Seth, se village tot bekering kom, sterf hulle, trek hulle, of val hulle in sonde.  God belowe om jou gebede te beantwoord, maar na maande en jare is die hemel stil.  God belowe om in jou behoeftes te voorsien, maar as jy nie vir kliënte lieg nie, staan jy ‘n kans om jou werk te verloor.  Na twee jaar se gesoek het jy uiteindelik ‘n werk gekry, maar hulle verwag dat jy op Sondae moet werk.  Moenie vrees nie.  God kan die onmoontlike doen – al lyk dit ook of alles teen sy beloftes werk.  Moses het gedink die Here kan nie vleis vir ‘n paar miljoen mense voorsien nie.  God het ‘n maand se voorraad voorsien, en vir 40 jaar gesorg dat daar elke dag genoeg brood is.  God gee nie net genoeg sodat jy versadig is nie.  Hy kan sorg dat daar twaalf mandjies vol oorbly (Matteus 14:20).  Die Here kan inderdaad doen ver bo wat jy kan bid of selfs dink (Efesiërs 3:20).  Vertrou Hom.

My kind vra oor die doop en die nagmaal (riglyne vir ouers en grootouers)

Child baptism

Elke ouer wil die beste vir sy kind hê.  Daarom kyk ons maklik hullefoute mis.  ’n Vrou in Nelspruit het vir my gesê:  ‘Ek weet my 13-jarige is nóú rebels, maar hy het sy hart vir die Here gegee toe hy 5 was.’  As dit jóú kind is, erken jy moeilik dat syne waarskynlik ’n vals bekering was.  Ons glo gou dat kinders wat die sondaarsgebed opsê of ‘hulle harte vir die Here gee’ (‘n frase wat nêrens in die Bybel voorkom nie) tot bekering gekom het.  Dit is reg om bly te wees as hulle ’n sondebesef het – dit is immers noodsaaklik vir ware bekering.

 

Maar sonde oortuiging op sy eie is nie genoeg nie.  Ongelowige Feliks het gesidder toe Paulus van God se oordeel gepraat het.[i]  Die demone self glo God is Een, en sidder.[ii]  Iain Murray is reg:  ‘to be awakened is not the same as to be saved.’[iii]  Eers as jou kind weergebore is, die evangelie glo, en weggedraai van sonde, is hy of sy reg om gedoop te word en die nagmaal te gebruik.  Oorweeg gerus die volgende riglyne om te sien of jou kind gereed is:

 

Jou kind hoef nie handboek antwoorde te gee nie, maar hy moet ’n basiese begrip van die evangelie hê.

 

  • Weet hy hy gaan nie hemel toe omdat hy ‘sy hart vir die Here gegee het’, in God glo, die Bybel lees, bid, kerk toe gaan, die Tien Gebooie gehoorsaam, of opreg is nie?
  • Weet hy ’n mens gaan hemel toe omdat Jesus aan die kruis gesterf het vir sondaars, begrawe is en opgestaan het uit die dood?
  • Weet hy hy ontvang vergifnis en verlossing deur dít te glo en op Jesus te vertrou?

 

Dit moet duidelik wees dat jou kind die vrug van bekering dra.

 

  • Is hy regtig jammer as hy gesondig het – jammer dat dit God bedroef en nie net omdat hy die gevolge wil vryspring of skuldgevoelens haat nie?
  • Bekeer hy hom van sy sonde?
  • Is hy lief vir die Bybel en verstaan hy as dit gelees en gepreek word?
  • Bid hy? Word sy gebede beantwoord?
  • Sien hy uit om kerk toe te kom om met maatjies te speel, of omdat hy die Here wil aanbid, die Woord wil hoor en ander Christene wil sien?
  • Sien ander mense die vrug van bekering in sy lewe?

 

Jou kind moet verstaan waaroor die doop en die nagmaal gaan.

 

  • Weet hy dat die doop en die nagmaal niks tot sy saligheid bydra nie?
  • Weet hy dat die doop die reiniging van sy sondes, asook sy begrafnis en opstanding saam met Jesus uitbeeld?
  • Weet hy dat die nagmaal ons aan Jesus se soendood herinner: die brood spreek van sy liggaam wat vir ons gebreek is en die druiwesap van sy bloed wat ons sondes weg was?
  • Weet hy dat die doop en die nagmaal, sonder geloof, geen waarde vir sy siel het nie?
  • Weet hy dat hy sy sonde moet haat en laat staan as hy na die nagmaaltafel toe wil kom?

 

Wat sal gebeur as jou kind nog nie gered is nie, maar gedoop word en die nagmaal gebruik?

 

  1. Hy sal vals sekerheid hê en dínk hy is gered, omdat hy gedoop is. Dalk word hy een van dié wat vir Jesus sê: ‘Here, Here!’, maar nie die koninkryk van God sal ingaan nie.[iv]
  2. Omdat sy getuienis en leefwyse nie ooreenstem nie, sal Hy die Here se Naam beskadig.
  3. Sy aksie in die doopbad en by die nagmaaltafel bely dat hy gered is, maar sy lewe lyk nie soos ‘n Christen s’n nie. Hy leer om skynheilig te wees en bring sodoende ‘n swaarder oordeel oor homself.
  4. In jare wat kom sal hy ‘n lidmaat van die kerk of dalk selfs ‘n ouderling word. As ongelowige sal hy eindelose probleme veroorsaak.
  5. As dinge sleg gaan sal hy ‘n weersin kry in die Here en die kerk: ‘Hoekom help die Here my nie – my doop bewys dan dat ek gered is?’
  6. Hy maak ‘n bespotting van die doop en die nagmaal, omdat hy deelneem aan heilige dinge, maar nie sy sonde wil los nie. God sal hom met siekte of selfs die dood straf.[v]
  7. Ander kinders sal sy slegte voorbeeld volg. Hulle sal vra om gedoop te word en die nagmaal te gebruik, terwyl hulle nog ongered is. Hulle sal die gevolge van hulle verkeerde keuses moet dra.
  8. Wanneer hy eendag groot is sal hy sý kinders in die kerk groot maak. Hulle sal sy dubbele lewe sien, dink dat dít Christenskap is, en die Here en sy kerk verafsku.
  9. In die toekoms sal hy toelaat dat sý ongeredde kinders gedoop word en die nagmaal gebruik. Hulle sal dieselfde bitter vrugte pluk as hy.Die Here beskou die doop en die nagmaal as ernstige sake. Ons moet ook, en ons kinders moet dit weet. As jy jou kinders reg leer en self die voorbeeld stel, glo ek dat die Here hulle sal red.[vi] As jy hulle dán doop en toelaat by die nagmaal tafel, sal jy én jou kinders julle in die Here verbly.

 

[i] Handelinge 24:25

[ii] Jakobus 2:19

[iii] Revival and Revivalism, p.209.

[iv] Matteus 7:21-23

[v] 1 Korintiërs 11:27-30

[vi] Genesis 18:19, Maleagi 2:15, 1 Korintiërs 7:14