Jou probleme en God se beloftes

Moving mountain

Vir jou is dit niks om ‘n klip die grootte van ‘n golfbal op te tel nie.  Vir ‘n mier is dieselfde klip ‘n berg.  In jou oë is jou probleme reusagtig.  Maar voor God se beloftes is jou probleme niks.  “Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik:  Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sagaria 4:6-7).  Genesis 20-22 illustreer hierdie beginsel.

 

Abimeleg (hfst.20)

Abraham het rondgetrek vir weiding.  Hy was steeds ‘n vreemdeling in die land wat aan hom en sy nageslag belowe is (v.1).  Soos in hoofstuk 12 was hy bang dat die inwoners van die land hom sou doodmaak om sy mooi vrou te vat.  Ja, sy was 90 maar sou nog 37 jaar lewe (23:1).  Sy was maar twee derdes van haar totale ouderdom, en sou in ons tyd gelyk het soos ‘n mooi vrou van 50 of 55.  Abraham het gesê dis sy suster.  Abimeleg (‘n titel, nie ‘n naam nie) het vir Sara gevat.  Nou was die vervulling van God se belofte bedreig.  God het belowe dat Abraham ‘n seun deur Sara sou hê (17:19), maar hoe kón hy as iemand anders sy vrou gevat het?

 

God het vir Abimeleg met die dood gedreig, maar hy het onskuldig gepleit:  ‘Ek het nie geweet dis sy vrou nie.  Hy het self gesê dis sy suster.  Buitendien het ek nie aan haar gevat nie.’ (v.3-5).  Dit was Gód wat hom van sonde weerhou het.  God het belowe om sy lewe te spaar indien hy vir Sara sou teruggee.  Abraham was ‘n profeet en sou vir hom intree (v.6-7).  Abimeleg het bang geraak en God se bevel uitgevoer.  Hy was kwaad vir Abraham:  ‘Jy het byna veroorsaak dat ek my lewe verloor.  Hoekom het jy gelieg en gesê Sara is jou suster?’ (v.8-10).  Abraham het drie verskonings gehad.  [1] Ek het gedink julle vrees glad nie die Here nie (soos Sodom en Gomorra).  [2] Ek was bang julle maak my dood om my vrou te kry.  [3] Sara is my half-suster.  Ons het dieselfde pa, maar nie dieselfde ma nie (v.11-13).

 

Abimeleg het sy verskonings aanvaar.  Hy het vir hom diere en ‘n duisend silwer stukke gegee om jammer te sê en te bewys dat Sara onskuldig was (v.14-16).  Toe Abraham vir hom gebid het, het die Here hom genees en gegee dat sy vrou en slavinne weer swanger kon word (v.17-18).

 

Was jy al ooit soos Abraham?  Deur sy leuen het hy homself in die sop laat beland, en tog het die Here hom uitgehelp.  Wat dink jy as jy drooggemaak het?  ‘Ek kan nie die Hére se hulp vra nie; ek het mysélf in die moeilik laat beland… Ek het geld nodig maar kan nie vir die Here vra nie, want toe ek die geld gehad het, het ek dit gemors… Ek kan nie vir die Here vra om my te vergewe nie; ek het willens en wetens gesondig… Ek weet nie wat om te doen oor my slegte huwelik nie.  Voor ek getrou het het my ouers my gewaarsku, maar ek wou nie luister nie.  Nou sit ek.  Ek kan nie nóú stert tussen die bene teruggaan en vra vir hulp nie.’

 

As die Here kan kéér dat iemand sondig (v.6), kan Hy sekerlik ook sonde wegvat – selfs nádat jy opgemors het (1 Johannes 1:7).  Die Here wil hê ons moet ons sonde bely en laat staan (1 Johannes 1:9, Spreuke 28:13).  Die verlore seun het bewustelik gesondig, en steeds het die vader hom vergewe (Lukas 15).  Die Here kan jou ook vergewe.  Glo dit of nie, Hy kan selfs jou grootste blapse vir die goeie laat uitwerk (Romeine 8:28).

 

Ismael (hfst.21)

God het sy belofte aan Abraham en Sara vervul (v.1-2).  Hulle het die kind Isak genoem (Isak beteken ‘hy lag’).  Hulle het nie meer in ongeloof gelag nie (hfst.17-18), maar met blydskap (v.3-7).  Abaham het sy seun op die agtste dag besny soos God beveel het (v.4, 17:12).  Toe Isak omtrent drie jaar oud was het hy opgehou om aan sy ma te drink.  Abraham het ‘n groot partytjie gehou en klein Isak kon saam eet (v.8).  Isak se halfbroer, Ismael, was 14 jaar ouer as hy (v.5, 16:26).  By die fees het hy jaloers geraak omdat Abraham ‘n groot fees vir Isak hou.  Die 17-jarige Ismael het sy 3-jarige halfbroer geterg, gespot en geboelie (v.9, Galasiërs 4:29).  Sara het dit gesien en besef dat Ismael in die belofte sou deel.  Sy het gesê dat Abraham hom moes wegstuur.  Hy wou nie – Ismael was immers sy seun.  Maar God het Sara se versoek bevestig en gesê dat die belofte aan Isak alleen gemaak is; nie aan Ismael nie (v.10-13).  Abraham het geluister en vir Ismael en sy ma, Hagar, weggestuur met ‘n bietjie padkos (v.14).  Na ‘n tyd het Hagar en Ismael se water opgeraak.  Hagar het haar sterwende seun na ‘n koeltebos toe gehelp.  Sy het op ‘n afstand gaan sit en huil omdat sy nie wou sien hoe haar seun sterf nie.  God het gehoor hoe Ismael treur en vir Hagar belowe dat haar seun ‘n groot nageslag sou word.  God het dadelik vir haar ‘n put gewys.  Sy en Ismael het water gedrink en oorleef (v.15-19).  Ismael het ouer geword en ‘n knap boogjagter geword in die Paran woestyn.  So is die belofte van 16:12 vervul:  “En hy sal ‘n wilde-esel van ‘n mens wees:  sy hand teen almal, en almal se hand teen hom!  En hy sal teenoor al sy broers woon.”  Hagar was ‘n Egiptenaar (v.9) en het daarom vir Ismael ‘n Egiptiese vrou gekry (v.20-21).

 

By die fees het Abimeleg en sy generaal, Pigol, ‘n verbond met Abraham gesluit.  Hulle het gesien dat Abraham ryk, sterk, en invloedryk was.  Hulle het gevrees.  Hulle wou hê hy moes belowe dat hy hulle en hul nageslag nie kwaad sou aandoen nie.  Abraham het belowe, maar het vir hulle gevra:  ‘Hoekom het julle mý dan kwaad aangedoen?  Ek het ‘n put gegrawe, en julle slawe het dit by my herders gesteel.’ (vir ‘n veeboer in die woestyn is water ‘n groot saak!).  Abimeleg was verbaas:  ‘Ek weet niks hiervan nie.’  Hulle het ‘n verbond gemaak om te erken dat die put aan Abraham behoort.  Omdat hierdie ‘n verbond was is die diere sekerlik geoffer.  Die put is ‘Berseba’ genoem.  Dit beteken ‘put van sewe’ of ‘put van die eed’.  Abraham het sewe lammers vir Abimeleg gegee.  Abraham het ‘n immergroen boom geplant om aan te dui dat daar water was, en ook as ‘n teken dat die Here hom gehelp het (v.22-34).

 

God het belowe dat Abraham en sy nageslag (almal wat glo) die aarde as erfdeel sal verkry (Romeine 4:13, Matteus 5:3).  Daarom hoef Christene nie bang te raak as dit lyk of Islam (die Arabiere is Ismael se nageslag!) besig is om die wêreld oor te neem nie.  Ons hoef nie die Illuminati en hulle ‘nuwe wêreld orde’ te vrees nie.  God het vir Ismael uitgedryf en sal dit weer doen.  Ons sal kry wat aan Abraham en sy nageslag belowe is.

 

Isak (hfst.22)

Abraham was voorspoedig:  hy was ryk, het ‘n seun gehad, het niks vyande gehad nie, en Isak het nie ‘n mededinger gehad nie.  Dis tóé wat Here vir Abraham getoets het.  Wat was vir hom die belangrikste:  die Here of Isak, die Here of die geskenke wat Hy gee?  Soos wat die hoofstuk ontwikkel sien ons dat Isak ‘n tipologie van Christus is.

 

  • Die Here het vir Abraham gesê om sy enigste seun, vir wie hy lief is, te offer (v.1-2). God het sy enigste Seun, vir wie Hy lief is, geoffer (Johannes 3:16).
  • Abraham moes sy seun op een van die berge by Moria offer (v.1-2). Om die plaag oor Israel te keer het Dawid hier ‘n offer gebring. Later het Salomo die tempel op Moria gebou (2 Kronieke 3:1). Jesus is op een van hierdie heuwels geoffer.
  • Wat sou nou van die Here se belofte word? Hoe kon Abraham ‘n groot nageslag deur Isak hê, as hy vir Isak moes offer? Abraham het geglo dat die Here sy seun uit die dood kon opwek, en daarom het hy die donkie gelaai en die volgende oggend vroeg vertrek (v.3, Hebreërs 11:17-19).
  • Toe hulle na drie dae by die plek aankom, het Abraham vir sy slawe gesê: ‘Wag hier. Ek en Isak gaan daar aanbid. As ons klaar is kom ons terug na julle toe.’ (v.4-5). Dís geloof! Abraham het geweet hy en Isak sou terugkom.
  • Isak het die hout vir die brandoffer gedra (v.6). Jesus het die kruishout waarop Hy geoffer sou word self gedra (Johannes 19:17).
  • Abraham het die vuur en die mes gedra (v.6). God die Vader het sy Seun doodgemaak (Jesaja 53:10).
  • Abraham en Isak het saamgeloop (v.6, 8). Die Vader en die Seun het saam ‘n plan beraam om ons te red, en saam gewandel tot by die plek waar Jesus sy lewe vir ons gegee het.
  • Isak het die vuur en die hout gesien. ‘Waar is die lam?’ het hy vir Abraham gevra. Abraham het gesê dat God ‘n lam in Isak se plek sou voorsien – nóg ‘n stelling van geloof (v.7-8). God het in die verre toekoms ‘n Lam in ons plek voorsien (Johannes 1:29).
  • Abraham het sy seun op die altaar vasgebind. Toe hy die mes vat het God hom gekeer. Dit was duidelik dat Abraham die Here bo sy eie seun liefhet (v.9-13).
  • God het inderdaad ‘n ram in Isak se plek voorsien (v.13, 8). Jesus het in ons plek gesterf – ‘n plaasvervangende soendood (Jesaja 53:4-6).
  • Abraham het die plek genoem: ‘Die Here sal voorsien.’ (v.14). Jare ná Abraham het die Here baie sondeoffers op die tempel-berg voorsien. ‘n Duisend jaar na Salomo het die Here verlossing voorsien deur sy Seun.

 

God het sy belofte bevestig.  Hy sou vir Abraham met ‘n groot nageslag seën (v.15-18).  Deur Jesus deel ons in hierdie seën (Galasiërs 3:14, 16, 29).  Soos Abraham belowe het, het hy en Isak het na die slawe toe teruggekeer (v.19, 5).  Abraham het gehoor dat sy broer Nahor baie kinders gekry het – twaalf om presies te wees.  Twaalf is ‘n klompie, maar nie naastenby so baie soos die sterre van die hemel of die sandkorrels op die strande van die see nie (v.17).  Een van Nahor se kleinkinders was Rebekka (v.20-24).  Dit is deur haar wat Abraham se groot nageslag sou kom.  Sy het immers Isak se vrou geword (hfst.24).

 

In hierdie hoofstuk het alles teen God se belofte ingegaan.  ‘n Dooie seun kan nie juis ‘n groot nageslag verwek nie.  Ons moet die Here vertrou wanneer dit lyk of alles teen sy beloftes inwerk.  Die Here belowe om sy kerk te bou, maar sodra mense in my sendeling-vriend, Seth, se village tot bekering kom, sterf hulle, trek hulle, of val hulle in sonde.  God belowe om jou gebede te beantwoord, maar na maande en jare is die hemel stil.  God belowe om in jou behoeftes te voorsien, maar as jy nie vir kliënte lieg nie, staan jy ‘n kans om jou werk te verloor.  Na twee jaar se gesoek het jy uiteindelik ‘n werk gekry, maar hulle verwag dat jy op Sondae moet werk.  Moenie vrees nie.  God kan die onmoontlike doen – al lyk dit ook of alles teen sy beloftes werk.  Moses het gedink die Here kan nie vleis vir ‘n paar miljoen mense voorsien nie.  God het ‘n maand se voorraad voorsien, en vir 40 jaar gesorg dat daar elke dag genoeg brood is.  God gee nie net genoeg sodat jy versadig is nie.  Hy kan sorg dat daar twaalf mandjies vol oorbly (Matteus 14:20).  Die Here kan inderdaad doen ver bo wat jy kan bid of selfs dink (Efesiërs 3:20).  Vertrou Hom.

Advertisements