’n Deposito van God se belofte

Deposit stamp

Toe ek my kar gekoop het moes ek ‘n 10% deposito neersit as waarborg dat ek die res sou betaal.  God gee ook vir sy kinders ‘n deposito as waarborg dat Hy sy belofte finaal en volkome sal vervul.  Dit is waaroor Genesis 23 en 24 gaan.

 

Die belofte van die land (hfst.23)

Toe Sara 127 was het sy gesterf (v.1).  Van al die vroue in die Bybel is net háár sterwensouderdom opgeteken.  Sy het gesterf by Hebron, waar sy vir baie jare gebly het (hfst.13-18, cf. 13:18).  Op hierdie stadium was Isak 37 (17:17).  Abraham was nogsteeds ‘n vreemdeling in die land wat God aan hom en sy nageslag belowe het.  Hy het nie eers ‘n klein stukkie grond besit om vir Sara te begrawe nie.

 

Toe hy klaar getreur het, wou hy grond by die Hetiete koop (v.2-4).  Hulle was bereid om die grond vir hom te gee.  Hy wou dit egter nie aanvaar nie, want hy het geweet dat hulle dit dan maklik kon terugvat.  Daarom het hy aangebied om die grot op Efron se stuk land te koop (v.5-9).  Efron wou die grond met die grot verkoop, maar Abraham het geweet wat dít beteken:  hy sou ‘erfbelasting’ moes betaal.  As hy net die grot gekoop het, kon Efron self die belasting betaal.  Efron was dus bereid om voor getuies die grond met die grot vir Abraham te gee, en dus ook die belasting oor te dra (v.10-11).  Abraham het vasgestaan.  Hy sou die stuk grond en die grot koop, sodat hulle dit nie later sou terugvat nie (v.12-13).  Efron het besef dat Abraham desperaat was en gou ‘n stuk grond nodig gehad het om sy vrou te begrawe.  Hy het sy prys gemaak:  400 stukke silwer.  Dit was rowery (soos wat die motor handelaars doen met parte wat jy net by húlle kan kry).  1500 jaar later het Jeremia maar 17 stukke silwer vir ‘n stuk grond betaal (Jeremia 32:9).  Maar Abraham het die grond nodig gehad en die geld voor getuies in die stadspoort (die plek waar transaksies plaasgevind het) uitgeweeg (v.14-16).  Die eiendom is aan Abraham oorgemaak as ‘n deposito van God se belofte; as ‘n waarborg dat die res van die land syne sou word.  Hy het Sara op sy eie stuk grond begawe (v.17-20).

 

Die eerste lesers van Genesis (die Israeliete in die woestyn) het aansporing nodig gehad.  Genesis 23 sou help.  Die begraafplaas was God se deposito dat die res van die land ook aan hulle behoort het.  Hulle moes dit net inneem.  God het ook die hemel belowe aan elkeen wat in Jesus glo.  Hy het die Heilige Gees as deposito gegee (Efesiërs 1:13-14, Romeine 8:23).  Jy hoef nie bang te wees dat jy gered is, maar nie die hemelse erfenis sal verkry nie.  God gee nie swak waarborge of deposito’s nie.  Hy maak nie leë beloftes nie.  Het die Here een bekering gegee, ‘n bietjie geld voorsien, jou teen een versoeking gehelp, ‘n tydelike werk voorsien, vir jou ‘n voorsmaak van die hemel gegee?  Dank Hom hiervoor.  Beskou dit as ‘n deposito dat die res sal volg.

 

Die belofte van ’n groot nageslag (hfst.24)

Soos wat Hy in 12:1-3 belowe het, het die Here vir Abraham in alle dinge geseën (v.1).  Tog het Abraham nog nie ‘n groot nageslag gehad nie.  Sy seun was al 40, maar het nog nie ‘n vrou gehad nie (25:20).  Abraham het sy betroubare slaaf (waarskynlik Eliëser van 15:2) nader geroep.  Hy moes sy hand onder Abraham se heup sit en sweer dat hy nie vir Isak ‘n vervloekte Kanaänitiese vrou sou kry nie (v.2-4, 9:25-26).  Vandag nog is dit so dat gelowiges nie met ongelowiges moet trou nie (1 Korintiërs 7:39).  Eliëser moes nie vir Isak terugvat Haran toe nie.  God het belowe om vir hom Kanaän te gee, en dis waar hy moes bly.  Abraham het vir Eliëser verseker dat God se engel hom sou help en lei (v.5-9).

 

Eliëser het 10 kamele gevat om kos te dra, asook die gekenke wat hy as bruidprys moes betaal.  Hy het 720 km noord-oos gereis tot by Haran, die stad van Nahor (v.10, 29:4-5).  Toe hy by die stad aankom het hy by die put buite die stad gerus.  Die vroue het in die koel laatmiddag kom water skep (v.11).  Hy het die Here vir hulp gevra.  Hy wou nie sommer enige vrou hê nie, maar een wat meer as die gewone gasvryheid sou bewys.  Sy moes vir hom en sy kamele water gee (v.12-14).  ‘n Kameel kan maklik 100 liter water op ‘n slag drink.  Dus sou sy 1000 liter water vir sy 10 kamele moes skep!

 

Nog voordat hy klaar gebid het was Rebekka daar.  Sy was ‘n maagd en ‘n baie mooi vrou.  Sy het presies gedoen volgens wat hy gebid het (v.15-21).  Hy het geweet dat sy die regte een was.  Hy het vir haar duur juwele gegee.  Sy het gesê dat hy, sy party en die kamele by hulle huis kon oornag.  Toe sy haar identiteit bekend maak, het hy besef dat sy familie van Abraham was.  Hy het dadelik die Here geprys (v.22-28).

 

Haar broer Laban het die juwele gesien en na Eliëser toe gehardloop (ons sal hom later leer ken as ‘n bedrieglike skelm).  Hy het vir Eliëser en sy karavaan ingenooi om hulle voete te was, saam te eet, en te oornag (v.29-32).  Eliëser wou sy storie vertel voordat hulle eet.  Hy het vertel hoe die Here vir Abraham geseën het, hoe Isak die erfgenaam was, en hoe God se engel hom na Rebekka toe gelei het (v.33-48).  Hy wou nou die pa en broer se goedkeuring hê, sodat hy kon weet of hy moes ry of bly (v.49, ‘regs of links’).  Hulle het besef dat die Here se hand in die saak was, en het as’t ware gesê:  ‘Die Here het dit bewerk, en daarom tel ons opinie nie.’  Eliëser het weer die Here gedank.  As bruidprys het hy vir Laban en sy ma geskenke gegee (v.50-53).

 

Die volgende oggend was Eliëser haastig om sy taak af te handel.  Die familie wou egter hê dat Rebekka nog 10 dae moes bly.  ‘Wat wil sý hê?’ het hulle gevra.  Sy was bereid om dadelik saam te gaan (v.54-58).  Hulle het haar laat gaan en die oppasser wat haar grootgemaak het, saamgestuur (v.59).  Sonder dat hulle dit geweet het, het hulle haar geseën met dieselfde seën wat God in 22:17 aan Abraham belowe het:

 

“Ons suster, mag jy duisende van tien duisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” (v.60). 

 

“[Ek belowe] dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.” (22:17).

 

Isak was in die veld toe Eliëser en Rebekka daar aankom.  Hy was besig om te peins; te bid en aan die Here te dink (v.62-63).  Toe sy hoor dis haar man, het sy volgens die antieke huweliksgebruik ‘n sluier oor haar gesig getrek (v.64-65).  Eliëser het vir Isak die hele storie vertel.  Hy het Isak ‘meester’ genoem en so erken dat Isak die erfgenaam was en by Abraham sou oorneem (v.66).  Isak het vir Rebekka na sy tent toe gevat.  Sy het sy vrou geword.  Hy was vertroos na sy ma se dood (v.67).  Rebekka was waarlik vir hom ‘n helper (2:18).

 

Geloof is nie ‘n passiewe ding nie.  Dis aktief.  Abraham het nie op sy agterstewe gesit en wag vir die Here om sy beloftes te vervul nie.  Hy het ‘n stuk grond gekoop en ‘n vrou vir sy seun uitgesoek.  Die Israeliete (die eerste lesers van Genesis 24) moes ook leer:  ‘Ja, die land is julle s’n, maar julle moet nogsteeds veg om die land in besit te neem.’  Ora et labora:  bid en werk.  ‘n Nuwe bekeerling het vir John Paton gesê:  ‘Missi, ek wil so graag hê dat Nasi tot bekering moet kom.  Ek bid en huil vir sy bekering.’  Paton se reaksie was:  ‘Litsi, as ek in Skotland vir jou bekering gebid en gehuil het, maar nooit Aniwa toe gekom het nie, sou jy vandag ‘n Christen gewees het?’  ‘Nee,’ het sy geantwoord.  ‘Net so help dit nie net jy bid en huil vir Nasi se bekering nie – jy moet die evangelie met hom déél.’ (John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, p.411).

 

So, bid vir arbeiders in die oes, maar wees dan self bereid om ‘n sendeling of evangelis te word.  Kyk uit vir moontlike helpers in die groot oes.  Bid vir ‘n inkomste, maar jy moet ook hard werk en wys wees met jou geld.  Bid vir ‘n huweliksmaat, maar maak ook vriende en pas Bybelse beginsels toe.  Bid vir werk, maar soek ook hard daarna.  Bid dat die Here jou teen versoeking sal beskerm, maar vlug ook van situasies waarin jy weet jy versoek sal word.  Bid vir geestelike groei, maar gebruik ook die genademiddele wat die Here tot jou beskikking stel (die Woord, gebed, ensovoorts).  Bid vir wysheid om God se wil te ken, maar deursoek ook die Bybel vir antwoorde en vra raad van volwasse Christene.  Bid vir genesing, maar besoek ook die dokter en drink jou medisyne.  Bid vir bekerings, maar deel dan ook die evangelie met die mense vir wie se bekering jy bid.  Bid vir jou slegte huwelik, maar gehoorsaam ook tekste soos 1 Petrus 3 en Efesiërs 5.  Bid vir jou kinders se bekering, maar leer hulle ook die evangelie en stel vir hulle ‘n voorbeeld.  Bid dat God jou sal red, maar jy moet jou ook van jou sonde bekeer en die evangelie glo.

 

My skoonma se werk behels onder andere dat sy mense moet bel wat ‘n deposito betaal het, maar nooit die res van die geld oorbetaal het nie.  Sy sukkel.  Mense het allerhande verskonings en probeer haar ontduik.  God is nie soos hierdie mense nie.  As Hy ‘n deposito gegee het, kan jy verseker weet dat die res oppad is.