God kies wie Hy wil

Not fair

Ek is ‘n leerstelling.  Baie mense haat my en sê ek is onregverdig.  Ander loop draaie om my en sê ek is te moeilik.  Nóg ander het my baie lief, prys die Here, en vind baie berusting in my.  My naam?  Uitverkiesing.  In Genesis 25 vind jy my in storievorm.

 

Ketura se nageslag (v.1-11)

 

1 En Abraham het weer ‘n vrou geneem met die naam van Ketúra. 2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar. 3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete. 4 En die seuns van Mídian was:  Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä.  Hulle almal was seuns van Ketúra. 5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, 6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. 7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het:  honderd vyf en sewentig jaar. 8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef.  En hy is by sy volksgenote versamel. 9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, 10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het.  Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. 11 Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.”

 

Abraham is nou alleen.  Sara is dood (hfst.23) en Isak het getrou (hfst.24).  Om sy eensaamheid te oorkom het Abraham met Ketura getrou.[1]  Dit was ‘n wonderwerk dat hy op 100 ‘n seun kon hê, maar lank ná sy 100ste verjaarsdag het die Here vir hom nog ses seuns gegee! (v.1-2).  Isak was die erfgenaam (24:35), en daarom het Abraham vir Ketura se seuns geskenke gegee en hulle weggestuur (cf. 21:10-11).  Hulle en Ismael se nageslag het die stamvaders van die Arabiere geword (v.3-6).  Nou was Abraham inderdaad die vader van baie nasies (17:5).

 

Abraham was 75 toe hy in die land aankom, en het gesterf toe 175 is (v.7-8, 12:4).  Hy het dus vir 100 jaar in die land gewoon sonder dat hy dit as erfdeel verkry het.  “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.  En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse.  Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” (Hebreërs 11:13-16).  Isak was 75 en Ismael 89 toe hulle vir Abraham begrawe het (sien 16:16, 21:5).  Hulle het hom langs Sara begrawe in die grot wat hy by Efron die Hetiet gekoop het (v.9-10, hfst.23).  Ná Abraham se dood het Isak by die put van Lagai-Roï gaan bly (v.11).  Die Here het vir Isak ryklik geseën (v.11):  “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.  En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:  hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.” (26:12-14).

 

God gee baie gawes aan mense wat nie uitverkies is nie:  “aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee” (v.6).  God gee vir hulle die vreugde van lewe, sonskyn, reën, liefde, die huwelik, huisgesinne, vriende, geld, kos, drinkgoed, rus, vakansie, werk, natuur, skuiling, klere, en baie meer.  Maar hulle deel nie in die spesiale seën van die uitverkorenes nie:  “En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het… Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën” (v.5, 11).  Aan die wat Hy uitverkies het gee God die Heilige Gees, regverdigmaking, heiligmaking, verheerliking, die hemel, aanneming, vergifnis, verlossing, genade, Christus, en nog baie meer (Romeine 8:28-30, Efesiërs 1:3-14).  Hoe moet jy hierop reageer?

 

  • Prys die Here vir hierdie genade (Efesiërs 1:3-14).
  • Moenie hoogmoedig raak nie, maar wees nederig. Jy verdien nie hierdie dinge nie. Die feit dat jy dit gekry het is genade.
  • Moet nooit God se liefde betwyfel nie. Sal Hy jou uitverkies en dan los wanneer jy in die dal van doodskaduwee is (Romeine 8:28-32, 37-39)?
  • Volhard en wees geduldig in verdrukking. Vir iemand wat die prys voor sy oë sien is die laste van hierdie lewe lig (Romeine 8:17-18).
  • Moet vir niks vrees nie, want niks kan jou van die Here se liefde skei nie (Romeine 8:38-39). Ook op die oordeelsdag kan jy vrymoedigheid hê – die Here self het jou immers uitverkies.
  • Wees heilig, want hiertoe het God jou uitverkies (Efesiërs 1:4-5).

 

Ismael se nageslag (v.12-18)

 

12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het—13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming:  die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam 14 en Misma en Duma en Massa, 15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. 17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. 18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur.  Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.”

 

Soos Jakob ná hom, het Ismael 12 seuns gehad (v.12-16, 17:20).  Hy is dood op 137 (v.17).  Sy nageslag het gewoon tussen moderne Etiopië (Hawila) en die noord-westelike hoek van die Sinaï-skiereiland.  Daar was vyandskap tussen sý nageslag en Isak s’n (v.18, ‘teenoor sy broers’).

 

Ismael was die voorvader van die Arabiere.  Moslems glo dat Mohammed uit Ismael se tweede oudste seun, Kedar voortspruit (v.13).  Maar baie mense wat fisies uit Ismael kom, is geestelik aan Isak verbind omdat hulle in Jesus glo (Galasiërs 3:7, 16, 29, 4:28, Romeine 9:6-8).  Jesaja 60:6-7 sê dat baie mense uit Ketura en Ismael se nageslag die Messias sal aanbid:  “‘n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die HERE.  Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nebájot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak [cf. Genesis 25:3-4, 13].”  Op Pinksterdag was daar mense uit Arabië wat Petrus se preek gehoor het (Handelinge 2:11).  Daar is hoop dat baie Moslems na Jesus toe sal draai en gered word.

 

Isak se nageslag (v.19-34)

 

19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham:  Abraham was die vader van Isak. 20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. 21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. 22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar.  Toe sê sy:  As dit so gaan, waarvoor leef ek dan?  Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. 23 En die HERE het haar geantwoord:  Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. 24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. 25 En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare.  Daarom het hulle hom Esau genoem. 26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou.  Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte. 27 En die seuns het opgegroei:  Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het. 28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.

 

29 En Jakob het ‘n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. 30 Toe sê Esau vir Jakob:  Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg.  Daarom het hulle hom Edom genoem. 31 En Jakob antwoord:  Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. 32 En Esau sê:  Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? 3  Toe antwoord Jakob:  Sweer eers vir my.  En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. 34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan.  So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.”

 

Isak het getrou toe hy 40 is (v.19-20).  Sy vrou was onvrugbaar en kon vir 20 jaar nie swanger word nie.  Isak het vir sy vrou gebid.  Sy het swanger geword met ‘n tweeling (v.21).  Die seuntjies het in haar baarmoeder gestoei.  ‘Hoekom gebeur dít?’ het sy gewonder.  Die Here het vir haar gesê dat daar twee nasies in haar is, en dat die jongste een die sterkste sou wees (v.22-23).  Toe die kinders gebore is, het die oudste een baie hare gehad.  Hy was rooi.  Sy naam, Esau, beteken harig (cf. 27:11!).  Sy bynaam, Edom, beteken rooi.  Die tweede baba het sy boetie se hakskeen vasgehou toe hy gebore is.  Sy naam, Jakob, beteken hakskeen-gryper – simboliese taal vir iemand wat lieg en bedrieg (v.24-26).  Jakob was inderdaad ‘n leuenaar en het vir sy gesin geleer om dieselfde te doen (27:19-20, 24, 35-36, 31:20, 27, 35, 34:13, 37:31-32).  Esau het ‘n jagter geword, terwyl Jakob saam met Isak en Abraham in tente gebly het (v.27, Hebreërs 11:9).  Isak het vir Esau voorgetrek en Rebekka vir Jakob (v.28).  In hoofstuk 27 het dit reuse probleme veroorsaak, en in hoofstuk 37 het Jakob sy ouers se voorbeeld gevolg en vir Josef voorgetrek.

 

Op ‘n dag het Esau gaan jag.  Hy het niks gekry nie en flou by die huis aangekom waar Jakob besig was om rooi lensiesop te maak.  Toe Esau dit ruik het hy gevra dat Jakob ‘n bietjie daarvan vir hom sou opskep.  Jakob sou sy sop vir Esau se geboortereg ruil (v.29-31).  Sy ma het seker die belofte van v.23 oorvertel:  “die oudste sal die jongste dien”.  Esau het sy geboortereg verag.  Hy het nie oor die toekoms gedink nie, maar het vir die hier-en-nou gelewe.  Hy het dit aan Jakob afgesweer en so sy geboortereg verkoop vir sop en brood (v.32-34).  Hebreërs 12:16 praat van “onheilige..Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.”

 

God het ons nie uitverkies oor enige deug in ons nie:  “Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep is vir haar gesê:  Die oudste sal die jongste dien.  Soos geskrywe is:  Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Romeine 9:11-13).  Het God ons gekies omdat Hy vooruit geweet het ons sou glo?  Nee.  God se keuse is soewerein.  Hy kies wie Hy wil.  Wanneer die Bybel van voorkennis praat beteken dit nie Hy het ons gekies, omdat Hy vooruit geweet het wie sou glo en wie nie.  Voorkennis beteken dat God ons voor die skepping van die wêreld as sy eie geken het.  In hierdie konteks verwys kennis na ‘n intieme verhouding (cf. Amos 3:2).  God het nie bloot geweet wie sou glo en wie nie, maar het dit bepaal.  So gebruik Petrus die woord voorkennis:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is” (Handelinge 2:23).  God het nie net geweet dat Jesus gekruisig sou word nie, maar het dit bepaal.  “[ons is] uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader… [Jesus] wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld” (1 Petrus 1:2, 20).  Weereens het God nie net vooruit geweet dat Jesus sou sterf nie – Hy het dit bepaal.  Net so het God nie net vooruit geweet wie sou glo en wie nie – Hy het dit bepaal.  Lukas sê:  “daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48).  Met ander woorde:  jy is nie uitverkies omdat jy glo nie, maar glo omdat jy uitverkies is.  Jesus sê:  “Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.”  Die teks sê nie dat hulle nie sy skape is, omdat hulle nie glo nie.  Eerder:  hulle glo nie, omdat hulle nie sy skape is nie. In Romeine 8:29 sê Paulus dat God ons vantevore geken het.  Weer beteken dit nie bloot dat God sekere feite vooruit geken het nie (wie sou glo nie en wie nie), maar sekere mense.

 

Sê jy:  ‘Dis onregverdig!’?  Paulus antwoord:

 

“Wat sal ons dan sê?  Is daar miskien onreg by God?  Nee, stellig nie!  Want aan Moses sê Hy:  Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.  Want die Skrif sê aan Farao:  Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.  So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.  Jy sal dan vir my sê:  Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord?  Die maaksel kan tog nie vir die maker sê:  Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid” (Romeine 9:14-23).

 

God het die gevalle engele in hulle sonde gelos, en nie een van hulle gered nie.  Hy kon dieselfde met die mens gedoen het.  Die feit dat Hy enigiemand red is genade.  Moenie sê:  ‘As uitverkiesing waar is, is die hel onregverdig.  God kan my nie verantwoordelik hou vir my sonde as ek nie kon kies nie.’  Gestel vyf mans verkrag en vermoor jou dogter.  Die polisie vang hulle.  Jy is die pa en ook die regter.  Jy vonnis al vyf mans tot die dood.  Jy is ‘n baie liefdevolle man en besluit om een van die misdadigers se doodstraf op jouself te neem.  Na drie dae staan jy op uit die dood, vergewe die man, verander sy hart, laat hom in jou paleis woon, gee vir hom al jou besittings, en sê dat hy jou kan dien en liefhê.  Die ander vier misdadigers kan nie sê:  ‘Dis onregverdig dat onsmet die dood gestraf moet word, want ons kon nie kies om in die paleis te bly nie.’  Nee, hulle verdien die dood.  Die feit dat jy een gespaar het was genade en liefde.  Niemand kan sê dis onreg dat één misdadiger nie gesterf het nie, want jý het sy dood op jouself geneem – geregtigheid het geskied.  As God iemand red (‘sy paleis gee… vir Jakob kies’), moet ons Hom eer en dank.  As iemand hel toe gaan (‘die doodstraf kry… sy geboortereg verruil vir ‘n bord sop’) is dit sy eie skuld.

 

Toe ek in Nelspruit oor die uitverkiesing gepreek het, het een vrou geweier om my hand by die deur te skud.  Ek hoop regtig nie dat dít jou reaksie op hierdie preek sal wees nie.  Ek hoop eerder dat jy die Here vir hierdie leerstelling sal prys.

 

 

[1] Sommige kommentators meen dat Ketura voor Sara se dood Abraham se byvrou geword het (v.6, 1 Kronieke 1:32).

Advertisements