Die evangelie volgens die apostels

The Gospel

Paulus en Barnabas was klaar met hulle eerste sendingreis en was terug by hulle tuiskerk in Antiochië (14:26-28).  In dié tyd het Petrus Antiochië toe gekom (Galasiërs 2:11).  Op ‘n dag het hy saam met gemeente-mense geëet.  Hulle was heidene.  Toe daar Jode uit Jerusalem opdaag was Petrus bang hulle dink sleg van hom.  Hy het gou van die tafel af opgestaan en gemaak of hy nie saam met die ‘onrein’ heidene geëet het nie.  Barnabas wou Petrus se voorbeeld volg (Galasiërs 2:12-13).  Toe Paulus dit sien het hy geweet dat dit ernstige nagevolge kan hê.  Deur sy optrede het Petrus gemaak asof die onbesnede heidene ‘onrein’, en dus ook ongered is.  Paulus kon nie stilbly nie en het vir Petrus in die openbaar aangevat:

 

“As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?  Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” (Galasiërs 2:14-16).

 

Paulus se woorde het vir Petrus reggeruk.  Hy is terug Jerusalem toe.  Handelinge 15 sê vir ons wat tóé gebeur het.

 

Die probleem (v.1-5)

 

1 En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer:  As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. 2 Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk. 3 En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf. 4 En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het. 5 Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê:  Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.”

 

Vals leraars het van Jerusalem af Antiochië toe gekom.  Hulle het gejok en gesê Jakobus het hulle gestuur (v.1, 2, Galasiërs 2:12).  Hulle boodskap aan die heidene was:  “As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.” (v.1).  Paulus en Barnabas het met hulle gestry, maar kon hulle nie oortuig nie.  Die kerk het besluit om vir Paulus, Barnabas en nog ‘n paar manne Jerusalem toe te stuur om hierdie saak saam met die apostels en ouderlinge uit te sorteer (v.2).  Oppad Jerusalem toe en in Jerusalem self, het hulle die gelowiges verbly deur te vertel hoe God op hulle sendingreis onbesnede heidene gered het (v.2-4).  Daar was egter ‘n sekere groep gelowiges in die kerk wat gesê het:  “Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.” (v.5).

 

Die besluit (v.6-21)

 

6 En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. 7 En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê:  Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. 8 En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. 9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. 10 Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? 11 Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.

 

12 En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. 13 En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê:  Broeders, luister na my! 14 Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. 15 En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:

 

16 Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 17 sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. 18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

 

19 Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, 20 maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. 21 Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.”

 

Die apostels, ouderlinge en lede van die Jerusalem-kerk het saam vergader.  Die vergadering het lank aangehou (v.6-7, 22).  In dié hoofstuk gee Lukas vir ons die opsommende toesprake van drie apostels:

 

[1] Petrus het vertel hoe God hom in hfst.10 gekies het om die evangelie met die heidene (Cornelius en sy huisgesin) te deel (v.7).  Hy het onthou hoe God sy Gees aan hierdie onbesnede heidene gegee het (v.8).  God self het dus gewys dat ‘n mens gered kan word sonder dat hy besny is.  Net soos met die Jode, het God die heidene se harte deur die geloof gereinig (v.9).  Hulle het dus die innerlike realiteit van ‘n besnede hart ontvang, selfs al het hulle nie die teken van reiniging (die besnydenis) op hulle liggame gehad nie.  Die Skrif sê:

 

“Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Galasiërs 6:15).  “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.  Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.” (Romeine 2:28-29).

 

Petrus het vir die vergadering gesê:  “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (v.10).  Die Jode kon nie eers die swaar juk van die wet dra nie.  Hoekom wou hulle dan hê dat die heidene dit moes doen?  Indien enigiemand deur wetsonderhouding gered wou word, moes hy die hele wet volmaak onderhou (Galasiërs 3:10).  Die wet was buitendien nooit gegee dat ‘n mens daardeur gered moes word nie.  Dit is gegee om sonde uit te wys (Galasiërs 3:24).  Mense moes na Jesus toe draai om gered te word – nie na die wet toe nie.  In teenstelling met die swaar juk van die wet, was Jesus se juk sag en sy las lig.  Hy het gesê:  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30).  God het sy wet op ons harte geskryf, en daarom kan Jode en heidene die wet gehoorsaam (Hebreërs 8:10).  Liefde, nie vrees nie, dryf ons om God te gehoorsaam (Johannes 14:15).  Dit maak dat God se gebooie nie ‘n swaar las is nie, maar ‘n vreugde (1 Johannes 5:3).

 

Petrus se slotsom was dat Jode en heidene gered word uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (v.9, 11).  Paulus het later vir die Christene in Rome gesê:  “Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie?  Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.” (Romeine 3:29-30).

 

[2] Paulus en Barnabas het vertel hoe God op hulle sendingreis wondewerke gedoen het om te bevestig dat hulle evangelie-boodskap (sonder besnydenis) waar was (v.12).  God sou dit nooit gedoen het as hulle ‘n vals boodskap verkondig het nie; as besnydenis deel van die boodskap moes wees nie.

 

[3] Jakobus het gesê dat Petrus reg was dat “God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.” (v.13-14).  Jode en heidene was God se uitverkore volk, nie net Jode nie (1 Petrus 2:9-10, Efesiërs 2:11-22).  Ou Testament profete soos Amos sou ‘amen!’ gesê het op Petrus se toespraak (v.15-18).  Die koningshuis van Dawid het verval tot ‘n ‘hut van Dawid’.  Die Messias sou egter kom om die vervalle hut te herbou.  Hierdie keer sou dit nie net Jode insluit nie, maar heidene ook (v.17, Amos 9:11-12).

 

As al hierdie dinge dan so is, as God die onbesnede heidene in sy Koninkryk ingesluit het – hoe kon sekere Jode sê die heidene moet besny word om gered te word? (v.19).  Die vergadering het ook besluit dat die heidene nie aspris dinge moes doen wat die Jode se gewetens sou pla nie.  Daarom moes hulle nie vleis eet wat aan afgode geoffer is nie.  Hulle moes nie seksueel losbandig lewe nie.  Hulle moes nie die vleis van verwurgte diere eet nie, omdat die bloed nie heeltemal uitgedreineer was nie.  Hulle moes ook nie bloed drink nie (v.20).  Al hierdie aksies was deel van hulle heidense aanbidding.  Jakobus sê dus dat hulle nie die ware God moet aanbid op dieselfde manier as wat hulle hul heidense afgode aanbid het nie.  Later kon hulle wel vleis eet wat aan afgode geoffer is (Romeine 14, 1 Korintiërs 8).  God het immers die bees gemaak, en die afgod aan wie dit geoffer is, is in elk geval ‘n dooie stuk hout.  Handelinge 15 leer dus nie dat dit verkeerd is om Halaal kos of nat biltong te eet nie.

 

Jakobus sluit sy toespraak af deur te sê:  “Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.” (v.21).  Met ander woorde:  ‘Julle Jode hoef nie bekommerd te wees dat Moses nou heeltemal vergete is nie.  Sy boeke word elke week in die singagoge voorgelees.  Jy kan dus nogstééds preke uit Eksodus en Deuteronomium hoor.’

 

Die brief (v.22-35)

 

22 Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was. 23 En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe:  Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië:  Groete! 24 Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, 25 het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus—26 manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. 27 Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring. 28 Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: 29 dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery.  As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen.  Vaarwel!

 

30 So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer. 31 En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging. 32 En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk. 33 En nadat hulle ‘n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan. 34 Maar Silas het besluit om daar te bly. 35 En Paulus en Bárnabas het in Antiochíë gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig.”

 

As jy ‘n belangrike brief vir iemand stuur, wil jy ‘n betroubare posman hê.  Paulus en Barnabas was betroubaar.  Hulle het dit bewys deurdat hulle bereid was om hulle lewens vir die Here te gee (v.26).  Maar as hulle alleen die brief afgelewer het, kon sommige mense hulle beskuldig het:  ‘Hoe weet ons die brief kom regtig van Jerusalem af?  Hoe weet ons julle het nie self die brief geskryf, sodat ons met júlle opinie moet saamstem nie?’  Daarom het die vergadering twee betroubare mense uit die Jerusalem-kerk saamgestuur:  Judas (sy ander naam was Barsabas; hy was heel moontlik die broer van Josef Barsabas, cf. 1:23) en Silas (v.22-27).

 

In die brief het hulle gesê:  “…die Heilige Gees en ons het besluit…” (v.28).  Hulle kon dít sê omdat hulle apostels was, en omdat hulle woorde deur die Heilige Gees geïnspireer was.  Hulle kon dit ook sê omdat die Gees-geïnspireerde Ou Testament hulle saak ondersteun het (v.15-18).  Die Gees en die vergadering het besluit dat besnydenis nie nodig was vir redding nie, maar dat die heidene nie hulle eie of die Jode se gewetens moes pla nie (v.28-29).  Soos wat vals lering hulle harte ontstel het (v.24, Galasiërs 1:7), het die waarheid hulle nou opgebou en bemoedig (v.30-35).

 

Die skeiding (v.36-41)

 

36 En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê:  Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan. 37 En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. 38 Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. 39 Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. 40 Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was. 41 En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.”

 

In hfst.13-14 het Paulus en Barnabas die evangelie in verskillende dorpe gepreek en kerke geplant.  Paulus wou weer die nuwe bekeerlinge sien en het vir Barnabas gevra om saam te kom.  Hulle kon dan sommer ook die vergadering se brief vir hulle voorlees (v.36).  Barnabas wou sy neef, Johannes Markus, saamvat (v.37, Kolossense 4:10).  Paulus het gedink dis ‘n slegte idee, omdat Markus dislojaal was op die vorige sendingreis (v.38, 13:13).  Watse waarborg was daar dat hy hulle nie wéér sou verlaat nie?  Paulus wou teleurstelling voorkom.  Ongelukkig kon Paulus en Barnabas nie tot ‘n vergelyk kom nie, en het hulle paaie geskei (v.39).  Die hoofstuk begin dus met ‘n geskil wat opgelos kon word, en eindig met een wat nié opgelos kon word nie.  Barnabas het vir Markus saamgevat Siprus toe (v.39, 4:36, 13:4) en Paulus het vir Silas saamgevat Sirië en Cilisië toe (v.40-41, 23).  Daar is darem goeie nuus.  Paulus het later van Barnabas as ‘n mede-arbeider gepraat (1 Korintiërs 9:6).  Aan die einde van sy lewe sê hy vir Timoteus:  “Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.” (2 Timoteus 4:11).

 

Watse lesse kan ons uit hierdie hoofstuk leer?

 

Daar is baie valse weergawes van die evangelie.  Jy kan onmoontlik elkeen van hulle in jou leeftyd bestudeer.  Maak dan seker dat jy die ware evangelie goed ken, sodat jy enige vals een onmiddellik kan uitken.  Die ware evangelie is ‘n boodskap van redding uit genade alleen deur geloof alleen in Jesus Christus alleen (v.9, 11).  Enige ander evangelie is ‘n vals boodskap (Galasiërs 1:8-9).  Pasop dat jy nie té bly raak as iemand sê:  ‘Ek glo ‘n mens word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Jesus Christus alleen’ nie.  Vra eers wat hulle bedoel met genade, geloof en Jesus?

 

  • As hulle genade met wetsonderhouding gemeng word, is dit vals genade. As hulle genade verdien kan word, is dit vals genade. As hulle die Sewendedag Sabbat, Joodse feeste, of ‘n vegetariese dieët moet volg om gered te word, is dit ‘n vals genade.
  • As hulle geloof ‘n bydra tot hulle redding (‘n goeie werk) word, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof op hulleself fokus (het ek genoeg geloof?) en nie op Jesus nie, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof nie tot goeie werke lei nie, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof hulle nie weglei van sonde nie, is dit ‘n vals geloof.
  • As hulle Jesus nie volkome God en volkome mens is nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie sondeloos is nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie in die plek van sondaars gesterf het nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie liggaamlik opgewek is uit die dood nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie die enigste Middelaar tussen God en sondaars is nie, is dit ‘n vals Jesus.

 

Maar as hulle die ware evangelie glo (soos beskryf in Efesiërs 2:1-10), moet ons hulle as mede-Christene aanvaar en omhels.  Moenie paaie skei oor verskille soos wat Paulus en Barnabas in v.37-40 gehad het nie.  Moenie paaie skei oor Romeine 14-kwessies, oor dinge wat nie in die Bybel staan nie.  Moenie gemeenskap weier op grond van verskille oor die eindtyd, geestelike gawes, die doop, en ander dinge wat die evangelie nie direk raak nie.  Wees soos George Whitefield wat Christene uit verskillende denominasies aanvaar en bevriend het.  Wees soos predikers by die T4G konferensie (Together for the Gospel):  hulle verskil wel oor klein dinge, maar wat die evangelie betref is hulle een.  John Wesley het wyse raad gegee:  ‘Provided that a man loves God and hates sin, I will have fellowship with him any day.’

Advertisements

God se hulp vir probleem-verhoudings

Problem relationship

Almal van ons het al probleem-verhoudings gehad.  Daarom is Genesis 31-33 ‘n baie relevante hulp.

 

Jakob vlug vir Laban (hfst.31)

Iemand het eenkeer vir my gesê:  ‘Wanneer jy by mense kuier, weet jy dis tyd om huistoe te gaan wanneer hulle die brood begin dun sny en die koppies hard neersit.’  Toe Jakob vir Laban gewerk het, het vier dinge vir hom gesê dis tyd om huistoe te gaan:

 

[1] God het Laban se rykdom vir Jakob gegee.  Laban se seuns was jaloers op hom en het besef dat hulle dalk nie meer hulle erfdeel sou kry nie (31:1).

 

[2] Laban was nie meer sy vriendelike self nie (31:2).

 

[3] God het in ‘n droom vir Jakob gesê om te trek (31:3, 10-13).

 

[4] Na ‘n private gesprek in die veld het Jakob se vroue met hom saamgestem.  Hulle het gesien dat hulle niks by hulle pa sou kry nie – hy het hulle erfdeel opgebruik.  Hulle het erken dat die Here Laban se rykdom weggevat en dit vir Jakob gegee het (31:4-7, 15-16).

 

Twintig jaar tevore het God belowe dat Hy Jakob veilig sou terugbring (28:15).  Nou het God sy belofte vervul.  God het vir Jakob gehelp, sodat hy, ten spyte van Laban se skelm streke, baie ryk geword het (31:3-12).  Jakob het sy kans gevat en gevlug toe Laban besig was om skape te skeer.  Ragel het haar pa se huisgode gesteel.  Sy het gehoop dat hulle haar vrugbaar kon maak of geluk sou bring.  Die een wat geregtig was op die erfdeel het ook die huisgode gekry (31:17-21).  Toe Jakob drie dae weg was het Laban daarvan uitgevind.  Woendend het hy sy skoonseun agterna gesit en na sewe dae ingehaal.  Die aand voordat hy vir Jakob wou aanval het God hom in ‘n droom gewaarsku:  ‘Moenie vir Jakob met mooi woorde en vleitaal probeer terugbring om vir jou te werk nie.  Moet ook nie hard wees met hom nie.’ (31:22-24).  Die volgende oggend het Laban vir Jakob tegemoet gegaan.  ‘Hoekom het jy my dogters en my huisgode gesteel?’ het hy gevra.  ‘As jy net mooi gevra het, sou ek ‘n partytjie gehou het en jou in vrede weggestuur het.’  Jakob het geantwoord:  ‘Ek wou nie totsiens sê nie, omdat ek bang was jy vat jou dogters van my af weg.  En wat jou huisgode betref:  ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie.  Deursoek maar ons tente en ons tasse; die een wat jou gode gesteel het sal doodgemaak word.’  Jakob het nie geweet dat sy gunsteling vrou, Ragel, haar pa se gode gesteel het nie (31:25-32).

 

Laban het die tente deursoek.  Die gode was nie in Jakob, die slavinne, of Lea se tent nie.  Laban het in Ragel se tent ingegaan.  Sy het egter die klein huisgode onder haar kameel se saal weggesteek.  Sê dit nie vir jou iets van Laban se magtelose huisgode nie?  As hulle regtig gode was moes hulle mos self navore gekom het!  Ragel was ‘n leuenaar net soos haar pa en haar man.  Sy het vir Laban gesê:  ‘Jammer dat ek nie opspring nie pa; dis daardie tyd van die maand [haar maandstonde].’ (31:33-35).  Skielik het Jakob se skoonfamilie probleme erger geword.  Hy was woedend omdat sy skoonpa hom valslik beskuldig het:  ‘Ek het twintig jaar lank vir jou gewerk.  Ek het in die bloedige woestynson en die ysige woestynnagte jou vee opgepas.  Dikwels het die koue my wakker gehou.  As ‘n skapie op ander plase deur roofdiere gevang word, moet die eienaar self die verlies dra.  Maar toe dit op jóú plaas gebeur het, moes ék die verlies dra.  By jou was my salaris nooit vas nie.  Één dag belowe jy my die wêreld, en die vólgende dag betaal jy my skaars.  Jy het my salaris al ‘n dosyn of meer kere verander.  As my pa en oupa se God my nie beskerm het nie, sou jy my seker verniet laat werk en met leë hande weggestuur het.  is die skelm, nie ék nie!’ (31:36-42).  Die Here het op die moeilike manier vir Jakob geleer om hard te werk en eerlik te wees (kontrasteer dit met 25:26-27).

 

Laban was gierig en het gesê dat al Jakob se besittings aan hóm behoort het.  Hy het egter geweet dat hy nie meer vir sy dogters kon sorg nie, en het dus maar toegegee (31:43, 15).  Hy het gevra om ‘n verbond met Jakob te sluit.  Hulle het toe klippe op ‘n hoop gepak en ‘n klippilaar in die sand geplant.  Hulle het dit Jegar-Sahadúta, Gal-ed en Mispa genoem.  Die eerste twee name is Aramese en Hebreeuse woorde wat ‘hoop van getuienis’ beteken.  Mispa beteken ‘wagpos’.  Die hoop klippe en pilaar sou as getuies dien dat Jakob nie Laban se dogters sou verdruk, en dat die mans nie hierdie grens sou oorsteek om mekaar aan te val nie.  Laban het by die God van Abraham, Nahor en Tera (Nahor en Abraham se pa) gesweer.  Jakob was nie tevrede nie, omdat Nahor en Tera nie dieselfde God as Abraham gedien het nie.  Hy het toe by die God van Isak gesweer.  Jakob het ‘n offer gebring en saam met sy skoonpa ‘n verbondsete gehad.  Daarna het die mans in vrede verdaag (31:43-55).

 

Jakob vrees vir Esau (hfst.32-33)

God se engele het vir Jakob ontmoet toe hy Haran toe gevlug het, en ook toe hy teruggekeer het Kanaän toe (32:1, hfst.28).  Jakob het die plek Mahanáim of ‘twee kampe’ genoem; God se kamp en sy eie (32:2).  Hy het boodskappers gestuur om vir Esau te sê hy’s oppad.  Sy boodskappers het egter nooit die kans gekry om met Esau te praat nie.  Hulle het die nuus teruggebring:  ‘Esau is oppad met 400 manne.’  Jakob was baie bang.  Wat moes hy doen?  Hy het…

 

  • Beplan (32:6-8). Hy het almal saam met hom in twee kampe verdeel. As Esau die een kamp aangeval het, kon die ander een wegkom.
  • Gebid (32:9-12). Hy het die Here aan sy beloftes herinner.
  • Beplan (32:13-21). Hy het ‘n geskenk van 550 vee vir Esau gestuur met die hoop dat dít hom tot bedaring sou bring.
  • Gebid (32:22-32). Hy het met ‘n Man gestoei en gesmeek dat die Here Hom moes seën. Hy het die Man nie laat gaan totdat Hy hom geseën het nie.
  • Beplan (33:1-3). Hy het sy gesin in vier groepe verdeel. Hy het voorgeloop en sewe keer gebuig totdat hy naby Esau gekom het. Agter hom was sy twee slavinne met húlle kinders. Daarna het Lea met haár kinders aangekom. Heel agter was sy gunsteling vrou Ragel, met haar seun Josef.

 

Selfs ná sy eerste gebed was Jakob nie gerus nie.  Hy het sy vroue en kinders oor die Jabbok rivier gestuur en alleen agtergebly.  In die nag het ‘n Man aan hom verskyn.  Hy en die Man het gestoei.  Die Man kon maklik vir Jakob wen.  Om dit te wys het Hy sy heup uit pootjie gesit.  Omdat Jakob volhard het, het die Man toegelaat dat hy wen.  Toe dit begin lig word het Hy vir Jakob gesê om Hom te laat gaan.  As Jakob sy gesig gesien het sou hy sterf, “want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Eksodus 33:20).  Jakob het nou nie meer op ‘n skelm manier die seën probeer kry nie, maar het dit direk van die Here self gevra en gekry (32:26, 29).  God het sy naam verander van Jakob (hakskeen-gryper, bedrieër) na Israel.  Israel beteken ‘stoei met God’.  Jakob het met mense (Esau en Laban) gestoei en oorwin.  Nou het hy ook met God gestoei en die oorwinning behaal.  Jy het seker agtergekom dat die Man met wie hy gestoei het, die Engel van die Here was – God self.  Die profeet sê:

 

“In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.  Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek.  By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.” (Hosea 12:4-5). 

 

Jakob het agtergekom dat hierdie Man God was.  Hy het die plek Peniël (of Peneul) genoem.  Peniël beteken ‘Gesig van God’.  Jakob het vir God gesien en bly lewe.  Jakob se mank heup sou hom altyd aan hierdie nag herinner.  God se seën kom nie goedkoop nie; dit kom teen ‘n prys.  Wanneer die Jode vleis geëet het, het hulle nie die heupsening geëet nie.  Sodoende sou hulle hierdie episode in Jakob se lewe onthou.

 

Toe Esau sy broer sien het hy hom tegemoet gehardloop, omhels, gesoen, en gehuil.  Hy het Jakob se geskenk ontvang, maar was beskeie en wou dit nie aanvaar nie.  Toe hy Jakob se gesin sien was hy verbaas:  ‘Wie se vroue en kinders is dit?’ het hy gevra.  Jakob het gesê:  ‘Ek het al hierdie dinge van die Here ontvang omdat sy guns oor my is.  Met hierdie geskenk vra ek nou ook jóú guns.  Sal jy dit asseblief aanvaar?’ (33:1-11).  Esau het vir Jakob vergewe en sy geskenk aanvaar.  In die twintig jaar wat Jakob weg was het die Here in Esau se hart gewerk.  Nou wou Esau graag vir Jakob help en ‘n paar van sy manne los om hom te beskerm.  Jakob het sy aanbod van die hand gewys en gesê:  ‘Ek sal stadig agter jou aantrek en jou in Seïr ontmoet.’  Jakob het volgens sy ou naam opgetree en weer vir sy broer gejok.  Hy het Sukkot toe getrek en daar krale vir sy vee gebou.  Daarna het hy Sigem toe getrek.  Jakob het van Bet-el vergeet.  Hy het nie die belofte gehou wat hy in hfst.28 gemaak het nie:

 

“En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê:  As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (28:19-22).

 

Jakob se vergete belofte en sy besluit om Sigem toe te trek, het reuse probleme veroorsaak.  Daarvan vertel ek julle in die volgende preek.

 

Die Here het belowe dat die land Jakob en sy nageslag s’n sou wees.  Nou het Jakob nóg ‘n stuk grond besit.  Die eerste stuk was die begraafplaas wat hy by sy oupa Abraham geërf het (hfst.23).  Nou het hy ‘n stuk grond by die seuns van Hemor gekoop (33:19).  Hier het Jakob ‘n altaar gebou en dit El-Elohe-Israel genoem.  Dit beteken:  Die God van Israel is God.  Tot nou toe het Jakob altyd gepraat van ‘die God van Abraham…die God van Isak…die God van my vader’ (31:5, 42, 53, 32:9).  Nóú het hy gesê dat die Here sy God is.  Hy het sy belofte gehou:  “As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.” (28:20-21).

 

Watse lesse leer ons uit hierdie hoofstukke?

 

  • Het dit al ooit met jou gebeur dat iemand wat altyd gaaf was, jou ewe skielik ignoreer of beskinder; jaloers, lelik, ongeskik, en kortaf is? Ek weet dis nie lekker nie, maar ten spyte van hulle lelike optrede is die Here met jou en kan hierdie mense nie verder gaan as wat Hý toelaat nie (31:3-7, 23-24, 42).
  • Moenie soos Jakob van die probleem probeer vlug nie – dit sal net die probleem uitstel en vererger (31:20-23). Sit eerder om ‘n tafel en praat die probleem uit (31:44-55).
  • Bid nederig tot die Here en erken dat jy niks is nie (32:10). Herinner die Here aan sy beloftes (32:9, 12). Dank die Here vir sy goedheid aan jou (32:10). Smeek die Here om jou te antwoord (32:11). Volhard in gebed totdat die Here jou seën (32:26).
  • Maak planne om dadelik die probleem reg te stel (32:13-21). Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is” (Matteus 5:23-25).
  • Maak jou planne, maar moenie meer dáárop vertrou as op die Here nie (33:1-3).
  • Glo dat die Here die ergste verhouding kan regstel: Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of selfs dink (31:55, 33:4, Efesiërs 3:20).
  • Moenie die fout herhaal nadat die verhouding herstel is nie (33:14, 16-17).
  • Onthou dat jou verhouding met God en jou naaste saam staan of val. Jakob se verhouding Laban en Esau kon eers regkom toe sy verhouding met God reg was. Jesus het gesê: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matteus 6:14-15). In sy eerste brief skryf Johannes: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Johannes 4:20).

 

Bo enige menslike verhouding wat reggestel moet word, móét jou verhouding met God herstel word.  Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus afgereken met dít wat skeiding tussen ons en God maak, naamlik sonde.  As jy jou van jou sonde bekeer en op Jesus vertrou, dan kan daar vrede en versoening wees tussen jou en God (Romeine 5:1).  As Jesus hiérdie verhouding kon herstel, kan Hy verseker jou probleem-verhoudings met ander mense uitsorteer.

Moenie ophou preek nie

Duct tape on man

Predikante, sendelinge, en evangeliste was al bang of ontmoedig, en wou ophou preek.  Maar Jesus het belowe om met ons te wees wanneer ons dissipels maak (Matteus 28:20).  In Handelinge 14 het Paulus en Barnabas sy belofte geglo en aangehou preek toe alles teen hulle was.

 

Ikonium (v.1-7)

 

1 En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het. 2 Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter. 3 Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind. 4 En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan. 5 Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, 6 het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. 7 En daar het hulle die evangelie verkondig.”

 

In die vorige hoofstuk was Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië.  Die Jode het hulle teëgestaan.  Hulle het 150 km suid-oos gereis Ikonium toe.  Hulle het weer sinagoge toe gegaan om eerste vir die Jode te preek (Romeine 1:16).  Baie Jode en heidene het hulle boodskap geglo.  Daar was Jode wat nié geglo het nie.  Hulle het die evangelie en die gelowiges belaster en leuens vertel, om sodoende die heidene teen hulle op te sweep (v.2).  As gevolg van die leuens moes die sendelinge langer bly om deur hulle prediking en lewens te bewys dat die aantygings vals is (v.3a).  Jare later het Paulus vir Titus gesê:  “Betoon jou in alles ‘n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.  Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.” (Titus 2:7-8).

 

Die Heilige Gees het die waarheid van die Woord met wondertekens bevestig (v.3b).  Baie mense het die evangelie geglo, maar ander het aan die leuens vasgehou.  Die stad was verdeeld; die waarheid bring skeiding (v.4, Matteus 10:34, Hebreërs 4:12).  Die teëparty wou vir Paulus en Barnabas stenig.  Hulle het 30 km suid-wes na Listre toe gevlug.  Daar het hulle verder gepreek (v.5-7, Matteus 10:23).

 

Moenie haastig wees om skindernuus oor predikers te glo nie, en moet ook nie betrokke raak om sommer so die stories oor te vertel nie (v.2).  Wat die Bybel met betrekking tot ouderlinge sê geld ook hier:  “Moenie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.” (1 Timoteus 5:19).  Iemand het ‘n vals brief in die dorp versprei oor my beste vriend.  ‘n Jong man en meisie het my ander vriend van verkragting beskuldig.  Lidmate van my skoonma se kerk het ‘n storie versprei dat die predikant nie in die wederkoms glo nie.  Hulle het die kerk verlaat en ánder lidmate gebel om hulle voorbeeld te volg.  ‘n Man in ons assosiasie van kerke stook moles op en dreig om sy leuens in Die Beeld te laat publiseer.  Mense skryf leuens oor predikers soos John Piper en C.J. Mahaney.  ‘n Goeie vriend in Pretoria se bediening is beeïndig toe ‘n ouderling leuens oor hom vertel het.  In sy dag is Charles Spurgeon gedurig in die koerante belaster.  Moenie saam met hierdie mense die evangelie beskadig nie.  Bid eerder dat hierdie predikers moed en krag sal hê om aan te hou preek.

 

Listre (v.8-23)

 

8 En in Listre het daar ‘n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. 9 Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word, 10 met ‘n groot stem gesê:  Staan regop op jou voete!  En hy het opgespring en begin rondloop. 11 En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies:  Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe. 12 En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was. 13 En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer. 14 Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep 15 en gesê:  Manne, waarom doen julle hierdie dinge?  Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. 16 Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, 17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. 18 Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.

 

19 Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was. 20 Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek. 21 En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë, 22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê:  Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. 23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.”

 

In Listre was daar ‘n man wat van geboorte af kreupel was in sy voete.  Toe Paulus die evangelie preek het hy die stories oor Jesus se wonders, soendood en opstanding geglo.  Hy het geglo dat Jesus lewe en mag het om hóm te genees.  Paulus het dit gesien en die man voor almal genees (v.8-10, 3:1-10).  Daar was ‘n oproer in die stad.  Die mense het uitgeroep dat Barnabas die oppergod Jupiter en Paulus Mercurius is (Zeus en Hermes is hulle Griekse name).  Die heidene het geglo dat Mercurius Jupiter se seun en spreekbuis was.  Daarom het hulle gesê dat die jong Paulus hý is.  Barnabas het seker ‘n sterk voorkoms gehad, en daarom het hulle hom Jupiter genoem.  Volgens Grieks- en Romeinse mitologie, het Jupiter en Mercurius per geleentheid in mensevorm verskyn, en die Listre-omgewing besoek.  Almal het hulle weggewys.  ‘n Arm man en sy vrou (Filemon en Baucis) het hulle ingeneem.  Hulle het die arm paartjie se huis in ‘n tempel verander en die res van die bevolking in ‘n vloed laat verdrink.

 

Toe die skare dus dink dat Paulus en Barnabas hierdie gode is, wou hulle nie in dieselfde strik trap as hulle voorvaders nie.  Hulle het gevrees en die ‘gode’ geprys en beplan om offers te bring (v.11-13).  Die apostels het nie Likaonies verstaan nie, en dus nie geweet wat aangaan nie (v.11).  Toe hulle hoor wat die skare wou doen, het hulle dit as lastering beskou en hulle klere geskeur (v.14, cf. Matteus 26:65).  Hulle het uitgeroep (sien v.15-17):

 

‘Ons is net mense, nie gode nie.’

 

‘Die skepping, God se voorsiening, en die evangelie wys vir ons wie die ware God is’

 

‘Afgode soos Jupiter en Mercurius is niks.  Hulle is kragteloos en het nog nooit iemand gesond gemaak nie (v.8-10).’

 

Hulle woorde het ook maar net-net die skare tot bedaring gebring (v.18).  Dit was egter nie lank voor dieselfde skare deur die Jode (uit Antiogië en Ikonium) aangehits is om Paulus te stenig nie (v.19).  Paulus was soos Jesus:  eers het die skare ‘Hosanna!’ geskreeu, en vyf dae later:  ‘Kruisig Hom!’  Paulus was nie dood nie.  Die nuwe dissipels het hom opgehelp (v.20).  Dalk was Timoteus een van hulle (cf. 2 Timoteus 3:10-11).  Paulus en Barnabas het die volgende dag 96 km oos gereis Derbe toe (v.20).  Sy lyf was seker baie seer na die steniging.  Maar hy het aangehou preek (v.21).

 

Die sendelinge is weer terug Listre, Ikonium en Antiogië toe.  Hulle het vir die nuwe dissipels gesê dat lyding en vervolging deel van die Christelike lewe is (v.22).  Jesus het gesê jy moet jou kruis opneem en Hom volg (Lukas 9:23).  Die sendelinge het ouderlinge aangestel om die nuwe gelowiges te leer en te troos.  Leer hieruit dat die leiers (nie die gemeente nie) ouderlinge moet aanstel (cf. Titus 1:5).  Leer ook dat elke gemeente meer as een ouderling moet hê.  Nadat hulle die leiers aangestel het, het hulle gevas, gebid, en hulle aan die Here opgedra (v.23, 13:3).

 

Moenie ophou preek as mense jou vervolg of kritiseer nie.  Jou slegte voorbeeld mag dalk nuwe Christene versoek om die Here te verloën.  As jy ‘n goeie voorbeeld stel, sal daar positiewe gevolge wees:

 

  • Nuwe gelowiges sal sien hoe ‘n mens lyding moet hanteer.
  • Hulle sal sien dat Jesus beter is as die lewe self.
  • Hulle sal leer dat die beloning wat kom baie groter is as die lyding wat ons nou moet deurmaak.
  • Mense sal nie sommer ‘n goedkoop belydenis maak nie. Hulle sal die koste bereken voordat hulle Jesus ‘aanneem’ of gou ‘n sondaarsgebed opsê. Jy sal baie hartseer en teleurstelling voorkom. Die mense wat geloof in Jesus bely sal eg wees en nie na drie weke wegval nie.

 

Antiochië (v.24-28)

 

24 Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië; 25 en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië. 26 En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het. 27 En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het. 28 En hulle het daar by die dissipels ‘n geruime tyd deurgebring.”

 

Paulus en Barnabas is terug Perge toe (v.24).  In 13:13 het Markus hulle hiér verlaat.  Paulus het waarskynlik hiér siek geword (Galasiërs 4:13).  Met die terugreis het hulle hiér gepreek.  Vandaar is hulle Attalië toe om ‘n skip na Antiochië in Sirië te kry (v.25-26).  Hulle wou terugkeer na die kerk wat hulle uitgestuur het (13:1-3).  Toe hulle daar aankom het hulle vertel van wat die Here op hulle sendingreis gedoen het (v.27, hfst.13-14).  Hulle het vir omtrent ‘n jaar in Antiochië gebly (v.28).  Hulle het seker, soos voorheen, die Woord in die gemeente gepreek (11:26, 13:1).  Dus het hulle, selfs toe hulle terug is, nie opgehou om te preek nie.

 

Het jy nuus van wat die Here in ‘n sekere area doen?  Deel dit, sodat die gemeente ingelig kan bid.  Het jy ‘n getuienis van hoe die Here mense tot bekering gebring het (v.27)?  Deel dit, sodat ander die Here saam met jou kan prys.  Ek het so ‘n storie om te vertel.

 

‘n Paar jaar gelede het ek die evangelie met ‘n man en vrou gedeel.  Hulle het eenkeer in ‘n bloumaan kerk toe gekom.  ‘n Paar maande gelede het hulle meer getrou begin kom (die vrou meer as die man).  Ses weke gelede het die vrou bitterlik gehuil na ‘n oggenddiens en gesê dat sy haar lewe met die Here wil regkry.  Ek het weer die evangelie met haar gedeel en gesê sy moet op Jesus vertrou.  Sy het gesê:  ‘Ek probeer, maar voel niks.’  Twee weke later toe bel sy om my te kom sien.  Sy het haar man saamgebring.  Hy het gesê:  ‘Ek soek Jesus in my lewe.’  Ek het weer die evangelie met hulle gedeel.  Ek het hulle huistoe gestuur en gesê hulle moet Johannes-evangelie lees.  ‘n Week later het hulle teruggekom.

 

Hulle het Johannes deurgelees en kon nie ophou praat oor hoe wonderlik Jesus is nie.  ‘Ons glo Hy is die Seun van God,’ het hulle gesê.  Hulle het vertel van hoe sleg en lelik hulle sonde is, en hoe Jesus aan die kruis gesterf het vir hulle sondes.  Hulle het vertel hoe verlig hulle is dat hulle sonde nou vergewe is.  Hulle het gepraat van Jesus se groot geduld en liefde, van ‘n begeerte om Christus meer te ken en sy Woord te verstaan.  Die man het gepraat van antwoorde op gebed.  Hulle het die begeerte uitgespreek om ander van die Here te vertel, en is besorg dat hulle vriende nie die Here ken nie.  Hulle het reeds met ander oor die Here gepraat.  Die man het gepraat van die jammerte wat hy oor sonde het, omdat sy Vader dit sien en ontevrede is daarmee.  Die vrou het gesê:  ‘Ek weet hoekom ek drie weke terug gebid het, maar nie anders gevoel het nie:  want ek het in my sonde gelewe.’  Hulle kon nie genoeg oor die wonder van die Bybel praat nie.  Beide het gesê:  ‘My lewe was altyd net ek, ek, ek.  Almal om my was verkeerd en moes verander.  Nou het die Here ons oë oopgemaak om te sien dat ons skuldig is.’  Die man het gesê dat sonde hom in die verlede nie gepla het nie, maar dat dit nou berou bring in hom.  Hy het gesê:  ‘Nou weet ek hierdie is die regte pad.  Ek verstaan nie hoekom mense so blind is nie.  Dis nou so eenvoudig is:  vertrou net die Here.’  Hy sê dat baie mense weet Jesus het aan die kruis gesterf, maar verstaan nie eintlik hoekom nie; hulle verstaan nie wat dit beteken nie.

 

Ek het intussen weekliks met hulle ontmoet.  Hulle het Matteus tot Lukas deurgelees en is baie opgewonde.  Hulle was Woensdag weer hier.  Hulle het vertel hoe lekker dit is om die Here se weë te volg en om Hom te gehoorsaam.  Hulle het duidelik nuwe begeertes.  Die man het gesê hoe hy antwoorde gehad het vir iemand wat die evangelie beledig het.  Hy het ook vertel hoe hy teen iemand gesondig het, en die persoon gebel het om vergifnis te vra.  Hulle het openlik gesê dat hulle die Here as hulle Verlosser ontvang het.   Hulle het gepraat van hoe hulle ‘n begeerte het om in die bidure te bid, maar nie mooi weet hoe nie.  Hulle het ook gesê dat hulle nie eers hulle ou vriende mis nie, maar ‘n begeerte het om saam met Christene te wees.  Hulle geniet die Bybel en probeer om dit toe te pas.uH

 

 

Ek hoop die storie bemoedig jou soos dit my bemoedig.

 

Ek het ‘n advertensie van ‘n SHURE mikrofoon gesien.  Mense het die mikrofoon uit ‘n helikopter laat val, in ‘n vrieskas gelos, vir ‘n lang tyd begrawe, dit opgeblaas, dit in water gesit, met ‘n trok daaroor gery, en ‘n spul ander goed gedoen.  Die mikrofoon het nogsteeds gewerk.  Jy moet so wees en in die moeilikste tye aanhou preek.  Die Here is met jou.

Moeilike mense en God se genade

Angry people

Charles Spurgeon het gesê dat moeilike mense God se staalwol is om ons blink te hou.  In Genesis 29-30 sien ons hoe God moeilike mense en omstandighede gebruik het om Jakob te verander.

 

Jakob se troue (29:1-30)

Na ‘n lang reis het Jakob Haran bereik.  ‘n Paar herders met hulle skape het by ‘n put gesit.  Daar was ‘n baie swaar klip oor die put om te keer dat die water sou verdamp, sand inwaai, of skelms die water sou steel.  Dit sou moeite wees as elke skaapwagter die klip moes wegrol en weer terug skuif.  Buitendien kon nie elke herder die klip alleen skuif nie.  Daarom het hulle gewag totdat al die herders byeen was, voordat hulle water geskep het om hulle vee te laat drink (29:1-3).  God het belowe om vir Jakob te lei (28:15), en in 29:4-12 bring Hy hom reguit tot by Ragel en Laban.  Jakob was ‘n sterk man en het sonder enige hulp die klip geskuif.  Hy het dit seker ook gedoen om vir Ragel te beïndruk!  Na al die probleme by sy huis was hy verlig om familie te sien, en het gehuil.  Hy het vir Ragel gesoen (soos die Arabiere mekaar vandag op beide wange soen) en homself as haar neef voorgestel.

 

Ragel het vir haar pa gaan sê.  Toe Laban die nuus hoor, het hy vir Jakob verwelkom en hom ingenooi (29:12-13, cf. 24:29-31).  Toe Laban die storie van Esau hoor, het hy gesê:  ‘Waarlik, jy is my been en my vlees.’ (29:13-14, cf. 2:23).  Sy bedoeling was meer as net:  ‘Ons is familie.’  Hy het bedoel dat hy, net soos Jakob, lieg en bedrieg.

 

Toe Jakob ‘n maand daar was het Laban vir hom ‘n salaris aangebied.  Jakob het een ‘salaris’ in gedagte gehad:  Laban se aantreklike dogter Ragel.  Lea was die oudste, maar haar oë was dof.  Die Hebreeuse woord kan ‘sag’ of ‘swak’ beteken.  Die implikasie is dus dat sy baie mooi en sagte oë gehad het, maar dis al wat sy gehad het.  Of dit kan beteken dat sy swak oë gehad het; dat sy in ons tyd ‘n baie dik bril sou moes dra.  Ragel was mooi gebou en het ‘n mooi voorkoms gehad.  Hy wou háár hê.  Vir hom was dit glad nie moeite om sewe jaar te werk om haar te kry nie (29:15-20).

 

Toe die sewe jaar verby is, het Laban ‘n groot huweliksfees gehou.  Volgens gebruik het die vrou ‘n sluier aangehad en ‘n slavin (Silpa) as trou-geskenk gekry (24:59, 65).  In die donker nag het Jakob sy nuwe vrou in sy tent ingevat en met haar geslaap (29:21-24).  Toe hy in die oggend wakker word was dit nie Ragel nie, maar Lea!  In hfst.27 het hy sy pa bedrieg om te dink hy is die eersgeborene.  Nou het Laban hom met sý eersgeborene bedrieg.  Jakob moes sy eie bitter medisyne drink.  Laban het ooreengekom om vir hom Ragel ook te gee.  ‘n Week later het hy met haar getrou (sy het Bilha as slavin gekry), maar hy moes sewe jaar terugwerk.  Hy was liewer vir Ragel as vir Lea (29:25-30).  Laban het hom ingedoen, maar ook hiérin was God vír Jakob.  God sou vinnig die belofte van 28:14 vervul, en vir hom baie kinders gee.  Hy het binne sewe jaar 12 kinders gehad (hfst.30)!

 

Het die Here moelike mense oor jou pad gebring:  ‘n moeilike huweliksmaat, kinders, ouers, broers, susters, skoonfamilie, kollegas, bure?  As jy ‘n Christen is, doen die Here dit omdat Hy vír jou is.  Hy sal hierdie mense gebruik om jou soos Jesus te maak:

 

  • Josef se broers het hom as slaaf verkoop. Hulle wou téén hom wees, maar op die einde het God dit vir hulle en sy voordeel gebruik. Hy het Josef Egipte toe gestuur om baie mense uit die hongersnood te red (50:20).
  • Paulus het in die tronk beland omdat hy die evangelie gepreek het. Dáár het hy kans gekry om vir die wagte van Jesus te vertel. Skielik het ander gelowiges moed gekry om die evangelie te deel. Selfs sy vyande het begin om Jesus te verkondig, omdat hulle Paulus dieper in die moeilikheid wou bring (Filippense 1:12-18).
  • In 2 Korintiërs 12:7-9 sê Paulus: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” ‘n Engel van Satan het gekeer dat Paulus hoogmoedig word. Die woord ‘engel’ beteken ‘boodskapper’ en verwys in 11:13-15 na die vals leraars. Die doring in Paulus se vlees was dus die vals leraars wat die lewe vir hom moeilik gemaak het. Hy het gevra dat die Here hierdie mense uit die kerk sou verwyder, maar die Here het hulle daar gelos om vir Paulus te laat groei.
  • Judas, Pilatus, die Jode, die Romeine, Herodes, en die soldate was teen Jesus en het Hom gekruisig. God het hulle boosheid vír ons gebruik om ons te red.
  • Martin Luther het gesê dat hy nooit so ‘n groot teoloog sou word as die duiwel en die Pous nie teen hom was nie.
  • In Rusland het die kommuniste ‘n pamflet laat druk met Bybelverse in. Hulle wou wys hoe dom en vol foute die Bybel is. Baie mense het daardeur tot bekering gekom.
  • In die vroeë kerk was daar baie vals leraars. In reaksie teen hulle het die apostles die Nuwe Testament geskryf.
  • In die vroeë kerk het vals leraars die wese van God, die Persoon van Christus, en die boeke van die Bybel bevraagteken. Die kerk moes ‘n geloofsbelydenis hieroor neerpen, en kon die Drie-Eenheid, Godheid van Christus, en 66 boeke van die Bybel deurdink en uitspel.
  • Ongelowige teologie-dosente het vir David Brainerd uit Yale Universiteit geskors. Brainerd het ‘n sendeling geword. Hy het joernaal-inskrywings gemaak. Na sy dood is sendelinge soos Henry Martyn, William Carey, en Jim Eliot daardeur geïnspireer.
  • In Frankryk is die Protestante (Hugenote) vervolg. Van hulle het Suid-Afrika toe gevlug en die evangelie saamgebring.

 

Hierdie voorbeelde onderstreep die waarheid van Romeine 8:28, 31:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is… Wat sal ons dan van hierdie dinge sê?  As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”

 

Jakob se kinders (29:31-30:23)

God het gesien dat Lea ongeliefd was en het haar bejammer.  Hy het Ragel se moederskoot gesluit en vir Lea kinders gegee.  Die Messias is uit háár nageslag gebore.  Ruben was die eersgeborene.  Sy naam beteken seun, want in ou Israel was dit ‘n groot voorreg om seuns te hê.  Simeon beteken hoor, want die Here het gehoor dat Jakob haar nie liefhet nie.  Levi beteken geheg, want sy het gehoop dat sy en haar man nou aan mekaar geheg sou wees.  Juda beteken lof, want sy het die Here geprys dat sy vier seuns gekry het (29:31-35).  Sy het opgehou baar.

 

Ragel was jaloers en het vir Jakob gesê:  ‘Gee vir my kinders of anders sterf ek.’ (30:1).  Haar woorde is tragies vervul toe sy Benjamin gebaar het en daarna dood is (35:16-19).  Jakob het geweet dat net God kinders kan gee en het sy vrou bestraf (30:2).  Sy het haar slavin vir Jakob gegee, sodat sy deur Bilha kinders kon hê (hfst.16!).  Bilha het twee seuns gebaar (30:3-8).  Dan beteken oordeel, omdat die Here tussen Ragel en Lea geoordeel het.  Naftali beteken stoei, omdat sy met Lea gestoei en oorwin het.  Lea was jaloers en het Silpa vir Jakob gegee, sodat dié namens haar kinders kon baar.  Bilha het twee seuns gehad.  Gad beteken voorspoed, omdat baie kinders ‘n bewys van voorspoed was.  Aser beteken gelukkig, omdat nóg ‘n seun haar bly gemaak het (30:9-13).

 

Ruben het tydens die koringseisoen liefdesappels gekry en dit vir sy ma gebring (30:14).  Die plant het donker groen blare, pers blomme, en oranje vrugte gehad wat soos tamaties lyk.  Antieke mense het geglo dat die skerp en soet aroma van die ‘appels’ vrugbaarheid bring en jou seksdryf laat toeneem (Hooglied 7:13).  Toe Ragel dit sien wou sy daarvan hê.  Lea was bitter:  “Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem?” (30:15).  Poligamie (om meer as een vrou te hê) veroorsaak altyd probleme.  God se oorspronklike plan was dat elke man een vrou moet hê (2:24).  Ragel het gewoonlik by Jakob geslaap, maar het gesê dat Lea, in ruil vir die liefdesappels, met hom kon slaap (30:14-16, 25:31).  Arme Jakob is amper soos ‘n prostituut uitverhuur.  Dit het gou duidelik geword dat God, en nie liefdesappels nie, ‘n mens vrugbaar maak.  Selfs met die hulp van ‘n plant het Ragel nie swanger geword nie.  Met die hulp van die Here (sonder ‘tower appels’) het Lea nog twee seuns gehad.  Issaskar beteken huur, omdat sy vir Jakob met liefdesappels gehuur het.  Sebulon beteken eer, omdat sy gehoop het dat haar man haar nóú sou eer (nadat sy ses seuns vir hom gebaar het).  Sy het ook ‘n dogter gebaar:  Dina (30:17-21).

 

Ragel het besef dat haar man reg was:  die Here gee kinders.  Sy het gebid en swanger geword met Josef.  Sy naam beteken wegvat, omdat die Here haar vernedering weggevat het (in Bybelse tye was dit ‘n skande om nie kinders te hê nie).  Josef se naam kan ook byvoeg beteken, want sy het gevra dat die Here nóg ‘n seun vir haar moes byvoeg.  God het haar verhoor en in 35:19 vir Benjamin in die lewe gebring (30:22-24).

 

Was jy al soos Lea:  jy het hard gewerk om ‘n goeie verhouding met jou maat, ouer, kind, broer, suster, skoonfamilie, kollega te hê, maar is verwerp?  Dank God dat jy in hierdie opsig soos Jesus is, want Hy is ook deur sy familie en skepsels verwerp (Jesaja 53:3, Johannes 1:11, 7:5).  God sal jou aanvaar in Jesus, selfs al verwerp mense jou (Johannes 6:37, Hebreërs 13:5).

 

Jakob se voorspoed (30:25-43)

Toe Josef gebore is het Jakob die tweede siklus van sewe jaar voltooi, en wou hy huistoe gaan (30:25-26).  Pa en skoonseun het besef dat God Laban vir Jakob se onthalwe geseën en verryk het.  Skelm Laban wou nóg ryker word en het vir Jakob gevra om nog ‘n rukkie te bly (30:27-30).  As betaling wou Jakob al die bont vee hê.  Hy was bereid om eerlik hiervoor te werk (dis ironies, omdat Jakob voorheen ‘n bedrieër was).  Laban was al te bly, omdat hy geweet het daar was nie baie bont vee nie.  Die paar wat daar was het hy, sonder Jakob se wete, onders sy seuns se sorg geplaas en hulle weggestuur (30:31-36).

 

Jakob het stokke gevat en wit stroke daarin geskil.  Hy het dit voor die drinkbakke neergesit, sodat die vee dit kon sien as hulle paar (hulle het by die drinkbakke gepaar).  Jakob het geglo dat die vee die strepe sou sien, en bont kleintjies sou hê (30:37-39).  Omdat God se hand in die saak was, het die vee bont kleintjies gehad (31:10-12).  Jakob het die bont vee eenkant laat wei, sodat hulle nie weer sou uitbaster nie.  Wanneer die gesonde diere gepaar het, het hy die stokke neergesit.  Hy het dit weer weggeneem as die swakker diere gepaar het.  Sy plan was nie skelm nie, maar slim.  Oor ‘n tydperk van ses jaar het Jakob skatryk geword (30:40-43, 31:41).

 

Het iemand jou met geld gekul?  Dalk is jy beroof?  Iemand het leë beloftes gemaak en met jou geld verdwyn?  Iemand het aspris ‘n stukkende produk of kar aan jou verkoop?  Jou baas skuld jou geld?  ‘n Skelm maatskappy of mediesefonds sê jy skuld hulle geld en het jou aan die prokureurs oorhandig?  Iemand het bedrog met jou bankkaart gepleeg?  ‘n Werker het geld uit die besigheid gesteel?  Jou huishulp steel by jou?  God is vír jou en sal vir jou veg.  Dalk sal jy nie in hierdie wêreld vir die skade vergoed word nie.  Maar God sal jou in die hemel vergoed.  Een uur in die hemel sal opmaak vir al die verlies wat jy op aarde gely het.

God se keuse word duidelik

Clear vision

Het dit al met jou gebeur dat jy skielik ‘n waarheid in die Skrif verstaan – iets wat jy al baie keer vantevore gelees het, maar nog nooit só duidelik verstaan het nie?  Dit voel sommer of jy opnuut tot bekering kom.  Dit is wat in Genesis 27-28 met Isak en Jakob gebeur het:  God se keuse van die jongste bo die oudste seun (25:23) het skielik duidelik geword.

 

Vir Isak (27:1-28:9)

Isak was nou al oud en byna blind.  Hy het gedink dat sy dood naby was.  Die waarheid was dat hy vir nog 40 jaar sou lewe (27:1, 31:41, 35:28).  Sy fisiese blindheid was eintlik maar ‘n prentjie van sy blindheid vir God se keuse.  Hy het vir Esau gevra om ‘n bok te skiet, ‘n wildspot te maak, en daarna die seën te ontvang (27:2-4).  Esau was, soos hy, lief vir die veld en daarom sy gunsteling seun (25:27-28, 24:63).  Isak het die belofte van 25:23 geïgnoreer:  “die oudste sal die jongste dien.”  In 25:33 het Esau gesweer dat hy sy eersgebore reg aan Jakob verkoop het.  Hy was oppad om sy belofte te breek.

 

Rebekka het afgesluister en na Jakob toe gegaan:  “Kyk, ek het jou vader met jou broer Esau hoor spreek en sê:  Bring vir my ‘n stuk wild en maak vir my lekker ete, dat ek kan eet en jou kan seën voor die aangesig van die HERE voor my dood.  My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel.  Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan ‘n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê.  Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood.  Toe sê Jakob vir sy moeder Rebekka:  Kyk, my broer Esau is ‘n harige man [sy naam beteken ‘harig’, cf. 25:25] en ek is ‘n gladde man.  Miskien sal my vader my betas, en ek sal in sy oë wees soos ‘n spotter; so sou ek dan ‘n vloek oor my bring en nie ‘n seën nie.  Maar sy moeder antwoord hom:  Laat jou vloek op my wees, my seun!  Luister net na my en gaan haal dit vir my.” (27:6-13).

 

Hierdie was ‘n gebroke huwelik en gesin.  Die broers het nie veel in mekaar belang gestel nie.  Die ouers het hulle kinders voorgetrek.  Rebekka het haar man bedrieg.  Sy het ‘n beter verhouding met haar seun gehad as met haar man.  Dieselfde geld vir Rebekka:  sy het ‘n beter verhouding met Jakob gehad as met Isak.  Jakob was wel Rebekka se gunsteling seun (25:28), maar sy het darem die belofte van 25:23 onthou.  Jakob het gedoen wat sy ma gevra het (27:14).  Sy het Esau se beste klere vir Jakob aangetrek en sy gladde vel met bokhare bedek (27:15-16).  Die beste klere is gehou vir spesiale geleenthede soos hierdie (Lukas 15:22).

 

Jakob het die kos vir sy pa gevat.  Hy het drie keer gelieg.  Sy pa kon hoor dis nie Esau se stem nie.  Maar Jakob het sy pa se ander vier sintuie geflous.  Jakob was blind en kon nie sien nie (27:1).  Jakob het soos Esau gevoel en geruik (27:21-23, 27).  Sy potjie het soos Esau se wildsvleis gesmaak (27:25).  Jakob het soos ‘n Judas nader gekom en vir Isak met ‘n soen bedrieg (27:26, Matteus 26:49).  Hy was inderdaad ‘n ‘hakskeen-gryper’ en bedrieër soos wat sy naam impliseer (25:26).

 

Isak het vir Jakob geseën met ryk en vrugbare simbole soos dou, koring, wyn, en sy broer wat voor hom buig (27:27-29, Spreuke 3:10).  Hy het hom die seën van 12:3 toegebid:  “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”  Toe Jakob nét weg is het Esau van sy jagtog af teruggekeer.  Hy het die bokkie geslag, gaargemaak, en vir sy pa gebring.  Toe Isak sy stem hoor het hy verskriklik gebewe.  Eweskielik het die belofte van 25:23 ingesink:  “die oudste sal die jongste dien.”  Hy het geen seën vir Esau oorgehad nie.  Hy het vir Jakob “geseën—ook sal hy geseënd bly!” (27:33).  Esau het gehuil, maar hy het nie daaraan gedink dat hy sy geboortereg aan Jakob afgesweer het nie.  “Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.  Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.” (Hebreërs 12:16-17).  Esau was nie regtig jammer oor sy sonde nie, maar wou net die gevolge van sy dom besluit terugdraai.  Hy het wêreldse, en nie goddelike berou gehad nie (2 Korintiërs 7:10).

 

Daar was geen seën vir Esau nie.  Daarom het hy sy broer gehaat en wou hy hom doodmaak.  Rebekka was bang dat Esau vir Jakob sou doodmaak, en dat God wraak sou neem en vir Esau doodmaak.  Sy het geweet hoe om haar man om haar pinkie te draai.  Soos Rebekka, het Isak ook nie van sy skoondogters gehou nie (26:34-35).  Daarom het sy vir hom gesê:  “Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het.  As Jakob ‘n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?” (27:46).  Rebekka het ‘n kans gevat, want sy sou nooit weer haar ‘blou-oog’ seun sien nie.  Jakob was baie lief vir die huis (25:27), maar moes nou na sy oom toe vlug.

 

Isak het God se keuse (25:23) ten volle aanvaar.  Hy het nou met ‘oop oë’ vir Jakob geseën en hom Haran toe gestuur om ‘n vrou te kry (28:1-5, cf. 24:4).  Esau het gehoor dat sy pa vir Jakob Haran toe gestuur het om ‘n vrou te kry.  Hy wou sy pa tevrede stel en het met Ismael se dogter getrou (28:6-9).  Dit het hom niks in die sak gebring nie, want Ismael was nie ingesluit in God se belofte nie (21:10).

 

Isak was verblind deur sy vasbeslote idees, sy kultuur (die oudste seun moet die geboortereg en erfenis ontvang), en sy voortrekkery.  Is jy soos Isak, sodat nie eers duidelike bewyse uit die Bybel jou van opinie sal laat verander nie?

 

  • Jy glo so vas dat pille die oplossing vir angs en depressie is, dat jy die genoegsaamheid van die Skrif afgeskryf het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”(2 Timoteus 3:16-17).
  • ‘n Feministiese samelewing het gemaak dat jy net nie 1 Timoteus 2:12, Efesiërs 5:23, en Titus 2:5 kan aanvaar nie: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou… Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente… [younger women must be] working at home (ESV)”. Soos Esau Isak se gunsteling seun was, is Joyce Meyer jou gunsteling prediker (ek hoop nie so nie). Jy sê: ‘Hoe kan ons sê vroue predikers is verkeerd – Joyce Meyer is dan ‘n vroue prediker.’ Skielik is die Bybel verkeerd en Joyce Meyer reg.
  • Die goddelose wêreld het jou oortuig dat evolusie wetenskap is. Jy glo nie meer in ‘n ses dag skepping of jong aarde soos wat Genesis 1-2, 5 leer nie.
  • Jy verwerp pakslae as die Bybelse manier van tugtiging. Verse soos Spreuke 22:15, 22:19 is ouderwets. In jou huis het die metodes van sielkunde die Bybel vervang. Kinders is nie meer stout nie, maar het ‘n lae selfbeeld.
  • Jy sien niks verkeerd met bikinis nie. Jy is blind vir verse soos 1 Timoteus 2:9-10 wat praat van beskeidenheid wanneer dit by kleredrag kom.
  • Ons leef in ‘n samelewing waar alles kits is; waar rekenaars die somme vir jou doen en die TV vir jou dink. Dit is moeilik om onsself te onderwerp aan verse wat praat van die noodsaaklikheid vir selfdissipline en diep denke wanneer dit by geestelike groei kom (1 Timoteus 4:7, Psalm 1:2).
  • Ons samelewing is individualisties. Om aan die regering, onderwysers, base en ander gesagsfigure te onderwerp is iets van die verlede (Romeine 13:1).
  • Facebook en e-kerk het jou beïnvloed om tevrede te wees met oppervlakkige vriendskappe en om weg te bly van die kerk af. Jy sien nie die nut van diep vriendskappe en omgee in ‘n liggaam nie (1 Korintiërs 12:25). Al sê Hebreërs 10:25 jy moenie van die kerk af wegbly nie, sien jy dit nie in nie.

 

Jy moet Psalm 119:18 bid:  “Open my oë”.  Jy moet God se Woord glo bo jou opinies, tradisie, en gunsteling mense.

 

Vir Jakob (28:10-22)

Jakob, die man wat graag binne sy tent wou wees, moes nou buite slaap met ‘n klip onder sy kop (28:10-11, 25:27).  Jakob het al baie van die Here gehoor, maar nou sou hy vir die eerste keer die Here ontmoet.  In sy droom het hy ‘n leer gesien.  Engele het tussen hemel en aarde beweeg.  God het vir hom ses beloftes gegee:

 

“Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak.  [1] Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; [2] en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; [3] en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.  [4] En kyk, Ek is met jou, [5] en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, [6] en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” (28:13-15).

 

Die Here was nie ‘n plaaslike god nie, maar sou oral saam met hom gaan.  Hy sou hom teen Esau se haat en Laban se streke beskerm.  Jakob was bang toe hy wakker word.  Hy het ‘n altaar gebou, die Here aanbid, en die plek Betel genoem (Betel beteken ‘huis van God’).  Hy het belowe om ‘n tiende van al sy besittings vir die Here te gee, en het belowe dat die Here sy God sou wees (28:16-22).

 

Enkele lesse uit hierdie verse:

 

  • God is hoog en verhewe (soos in Jakob se droom), maar die leer in Jakob se droom wys dat God omgee oor sy kinders op aarde. Hy sal neerdaal om hulle te help.
  • Toe Isak (die hoof van die huis) die Here se keuse aanvaar, het die Here vir Jakob geseën. Net so sal die Here jóú vrou en kinders seën as jy (die hoof van die huis) buig en sy Woord aanvaar.
  • Die oomblik toe Jakob die Here se wil uitvoer, het die Here hom geseën. As jy die Here se Woord gehoorsaam sal Hy jou seën.
  • Die openbaring aan Jakob het gekom toe hy in die woestyn lê met ‘n klip onder sy kop. Soms kom jou wonderlikste tye met die Here wanneer jy een of ander ongemak moet verduur.
  • Ten spyte van Jakob se leuens het die Here hom op die regte weg gehelp en hom geseën. Die Here haat jou sonde, maar is bereid om jou te verander en te seën.
  • Jesus is die leer wat hemel en aarde met mekaar verbind: “En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.” (Johannes 1:52). Deur Hom het God na ons toe gekom, sodat ons na God toe kan kom.
  • Gee jouselfvir die Here (v.21) voordat jy jou geld en besittings vir Hom gee (v.22).

 

Thomas het op ‘n stadium te gou gepraat en gesê:  ‘Ek sal nooit glo nie.’ (Johannes 20:25).  Hy hét geglo.  Moenie soos Thomas wees en teen die waarheid skop nie.  Moenie sê:  ‘Ek sal nooit glo nie.’  Buig jou neer voor God se wil en waarheid.

Goeie Nuus vir die wêreld

Good News 2

Jesus het nie net vir die Jode gekom nie, maar vir die hele wêreld; Jode en heidene.  Die Bybel sê:  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16).  “hy [het] geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.  En nie alleen vir die volk nie, maar ook om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg.” (Johannes 11:51-52).  “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.” (1 Johannes 2:2).  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê:  U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9).  Handelinge 13 beeld vir ons hierdie leerstelling uit in ‘n storie.

 

Antiochië in Sirië (v.1-3)

Daar was vyf profete en leraars in die gemeente van Antiochië (v.1, cf. 1 Korintiërs 12:28).  Ons het reeds met Barnabas te doen gekry.  Saam met Saulus het hy vir ‘n jaar die gemeente onderrig (11:26).  Simeon se bynaam was Niger, ‘n Latynse woord wat ‘swart’ beteken.  Hy was waarskynlik ‘n swart man uit Afrika.  Lucius was van Cirene in Libië.  Dalk het hy in 11:20 tot bekering gekom.  Manaen was Herodes Antipas se pleegbroer.  Hulle het saam grootgeword.  Hierdie was die Herodes wat vir Johannes die Doper laat onthoof het, en wat koning was toe Jesus gekruisig is.  Die Heilige Gees het deur die profete gesê dat die kerk vir Barnabas en Saulus as sendelinge moes uitstuur.

 

Ons moenie sendelinge as tweedeklas burgers van die koninkryk beskou nie.  Hier het die Here die bestes in die sendingveld uitgestuur.  Sendelinge is die Navy Seals en Green Berets van die Here se weermag.  Ons moet uitkyk vir mense wat reeds in die gemeente besig is met prediking en dienswerk (v.1-2).  Ons moenie sommer enigiemand wat bereidwillig is ‘n sendeling of evangelis maak nie.  Ons moet mense uitstuur wat deur die Heilige Gees geroep is.  Hiervoor het ons 1 Timoteus 3:1-13 in die Bybel.  Let tog op dat die Heilige Gees mense deur die kerk uitstuur (vergelyk v.3 en 4).  Die kerk, nie sendingorganisasies nie, is die beste manier om sendelinge uit te stuur.  Dit is immers die patroon wat ons in Handelinge 13 sien.  In 14:26-28 moes Paulus en Barnabas aan die kerk terugvoer gee.  Ek ken ‘n kerk wat so funksioneer.  Verskeie getroue mense in hierdie gemeente het later sendelinge geword.  Een man en sy vrou wou sendelinge word en het met die ouderlinge gepraat.  Die kerk het geweier om hulle uit te stuur:  ‘Julle dien nie eers getrou in hierdie gemeente nie.  Hoe wil julle dan oorsee gaan en getrou dien?’  Hierdie kerk het maar 400 mense en spandeer byna ‘n miljoen rand per jaar aan sending.  Hulle ondersteun hulle sendelinge.  Die sendelinge moet gereeld terugvoer gee aan die gemeente.  Die gemeente bid getrou vir hulle.  Die predikant en verskeie lidmate besoek elke jaar die sendelinge.  Dít is hoe dit behoort te wees.  Sendelinge wat self oorsee gaan is buite God se wil.  As die kerk van die Here Jesus nie agter jou staan nie, is jy nie deur die Here gestuur nie.  Ons teks wys duidelik hoe die Gees mense deur die kerk gestuur het.  Sendelinge op die veld het één taak:  verkondig die Goeie Nuus.  Hulle taak is nie sosiaal nie, maar geestelik.  Volgens die Bybel is iemand wat oorsee gaan om komberse uit te deel of huise te bou nie ‘n sendeling nie.  Doen jou werk om die Here te verheerlik, maar moet dit nie met sendingwerk verwar nie.

 

Siprus (v.4-12)

Barnabas en Saulus het 25 km wes gereis tot by die hawe van Seleucië.  Daar het hulle ‘n skip gekry en na Barnabas se tuisland, die eiland van Siprus, geseil.  Hulle het afgepak op die ooskus, by die hawestad van Salamis (v.4-5).  Daar was reeds Christene hier (11:19) en ook ‘n klomp Jode.  Barnabas en Saulus het eers in die sinagoges gepreek.  Die Jode moes eers die evangelie hoor (Romeine 1:16).  As dit eers aan die heidene verkondig was, sou die Jode waarskynlik nie geluister het nie.  Markus het die sendelinge vergesel (v.5).  Hulle het oral rondgepreek, totdat hulle by Pafos aan die suid-weskus gekom het (v.5).  Daar het hulle ‘n Joodse vals profeet en towenaar teëgekom.  Sy naam was Bar-Jesus.  Sy naam beteken ‘seun van verlossing’.  Sy ander naam, Elimas, is ‘n Arabiese woord wat ‘towenaar’ beteken.  Hy het die sendelinge teëgestaan en die evangelie probeer swartsmeer.  Die goewerneur wat geluister het (Sergius Paulus) was ‘n slim man.  Bar-Jesus wou hom wegrokkel.  Hy het gevrees.  ‘As Sergius hulle boodskap glo, sal ek my werk verloor,’ het hy gedink (v.6-8).

 

Saulus se naam is na Paulus verander, om te wys dat hy ‘n apostel na die heidene sou wees (Saulus is ‘n Hebreeuse naam en Paulus ‘n Romeinse naam).  Hy was gevul met die Gees en het gesien dat Bar-Jesus vir die duiwel werk.  Hy het hom bestraf en gesê dat hy vir ‘n tyd lank blind sou wees (v.9-11).  Dit het inderdaad so gebeur (Paulus het in 9:8-9 dieselfde ondervinding gehad).  Bar-Jesus moes die boodskap kry:  hy was in geestelike duisternis.  Sergius het die evangelie geglo toe hy hierdie wonderteken sien (v.12).  Nou het hy geweet dat alles wat hulle van Jesus se wonderwerke, soendood en opstanding gesê het, waar was.

 

Soos Barnabas, is ons eerste verantwoordelikheid om die evangelie vir ons eie mense te preek:  familie, vriende, bure, en landgenote (4:36).  Gee vir hulle ‘n Christelike boek of audio Bybel persent.  Deel wat jy in jou stiltetyd of preke geleer het.  Sit hulle name op jou gebedslys en sê vir hulle dat jy vir hulle bid.  Wees daar wanneer hulle swaarkry en gebruik die kans om die evangelie met hulle te deel.  Mense is mos meer oop vir die evangelie wanneer hulle swaarkry.  Skryf die evangelie in verjaarsdag boodskappe.  Vertel vir hulle van God se werk in jou lewe.

 

Ons moenie sendelinge oorsee stuur, terwyl ons van ons eie mense vergeet nie.  Ons moet ook nie net hiér werk, en nooit sendelinge na die res van die wêreld toe stuur nie.  Operation World gee inligting oor die godsdienstige toestand van verskillende lande.  Gebruik dit om vir die lande van die wêreld te bid.  Hoe word ‘n mens ‘n sendinggedrewe kerk?  Jy sorg dat jy eers Woord-gedrewe is (11:26).  Só ‘n kerk sal evangelies word en sendelinge uitstuur (13:1-3).

 

Antiochië in Pisidië (v.13-52)

Toe die sendelinge by Perge kom (aan die suidkus van Turkye) het Markus teruggedraai Jerusalem toe (v.13).  Hierdie was ‘n ernstige saak; so ernstig dat Paulus en Barnabas in 15:37-39 paaie geskei het hieroor.  Hoekom het Markus teruggedraai?  Ons weet nie.  Daar is verskeie moontlikhede:

 

  • Tot nou toe het ons gelees van Barnabas en Saulus (byvoorbeeld v.2). Van hier af lees ons van Paulus en Barnabas. Die feit dat Paulus se naam eerste staan, wys dat hy voortaan die leiding geneem het. Dalk was Markus bitter omdat sy neef, Barnabas, nie meer die leier was nie (cf. Kolossense 4:10).
  • Daar was baie steil berge (die Taurus-gebergte) naby Perge. Dalk was dit ‘n bietjie intimiderend vir jong Markus.
  • Dalk het Markus sy ma se kos en ruim huis gemis en daarom teruggedraai (v.13).

 

Uiteindelik kan ons nie presies sê nie.  Paulus en Barnabas en alleen verder gereis.  Hulle het ‘n paar honderd kilometer noord gereis tot by Antiochië in Pisidië.  Pisidië was ‘n streek in die Galasië provinsie.  Hier het Paulus siek geword (sien Galasiërs 4:13).  Tog het hy op die Sabbat sinagoge toe gegaan.  Binne het die sinagoge ‘n ry pilare aan elke kant gehad.  In die middel was daar ‘n spasie van 3.1 meter waar die gemeente gesit het.  Voor op die platvorm was daar ‘n houtboks (ark) met boekrolle in.  Hierdie rolle het die wet en die profete bevat.  Voor die ark (op die platvorm) was daar hoofsitplekke waar die geestelike leiers gesit het (cf. Matteus 23:6).  Daar was ook ‘n kansel waar die Skrifte gelees is.  Na die Skriflesing het die prediker gesit en die mense geleer.  Die mans en vroue was geskei, sodat die mans eenkant en die vroue anderkant van die sinagoge gesit het.  Die orde van ‘n sinagoge diens het soos volg gelyk[i]:

 

[1] Die Shema is opgesê uit Deuteronomium 6:4-9, 11:13-21, Numeri 15:37-41.

 

[2] Verskeie gebede is opgesê.  Die gemeente het met ‘n hoorbare ‘amen!’ gereageer.

 

[3] Dele is voorgelees uit die wet en die profete.

 

[4] Die hoof van die sinagoge het vir iemand gevra om die gelese gedeeltes te verduidelik en toe te pas.  Hy kon selfs ‘n besoeker gevra het.

 

[5] Die seënbede van Numeri 6:24-26 is opgesê:  “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.”  Die gemeente het gereageer met ‘n ‘amen!’

 

Hierdie agtergrond help ons om v.14-15 beter te verstaan.  In die singagoe het die sendelinge vir die Jode en godvresendes gepreek (v.16).  Godvresendes was heidene wat nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem het.  Paulus het gepreek van God wat vir Israel uitverkies het, uit Egipte verlos het, in die woestyn gelei het, hulle vyande uit die Beloofde Land verdryf het, en Rigters aangestel het om hulle te lei (v.17-25).  God het vir Israel ‘n koning gegee; Saul.  Saul het God se Woord verwerp, en daarom het God hóm verwerp.  God het ‘n ander koning in Saul se plek gegee; ‘n goeiekoning.  Uit Dawid se nageslag is die Messias gebore.  Johannes die Doper het die weg vir die Messias voorberei.  Mense moes hulle bekeer en gereed maak vir die Messias se koms.  Hierdie Messias sou die volk van hulle sondes verlos.  Jesus beteken mos ‘Jahwe verlos’ (Matteus 1:21).

 

Die Joodse volk en leiers was blind vir die profesieë oor die Messias.  Hulle het hom nie herken nie, maar gekruisig, van die kruis afgehaal, en begrawe.  So het hulle, sonder dat hulle dit wóú doen, die profesieë aangaande Jesus vervul (cf. Jesaja 53, Deuteronomium 21:22-23, Psalm 22, ensovoorts).  Daar was bewyse vir Jesus se opstanding.  Hy het aan baie mense verskyn.  Die Ou Testament het dit ook voorspel.  Deur sy kruisdood en opstanding was daar nou vergifnis en regverdigmaking, nie vir dié wat die wet probeer nakom het nie, maar vir almal wat in Hom glo (v.26-39, Romeine 4:25, 3:28, 5:1).  Vir die wat die evangelie verwerp en aangehou het in hulle sonde, was daar straf (v.40).

 

Toe Paulus klaar gepreek het, wou die mense nóg hoor.  Hulle het gevra dat Paulus die volgende Sabbat wéér die Woord moes preek.  Paulus en Barnabas het die nuwe gelowiges aangemoedig om in die genade te volhard (v.42-43).  Hulle moes nie dat vervolging hulle van die waarheid af wegdraai nie.  ‘n Week later het daar ‘n massiewe skare opgedaag – byna die hele stad.  Die Jode was jaloers.  Hulle was besig om volgelinge te verloor.  Hulle het die evangelie gelaster en die Woord van God verwerp (v.44-46) – net soos wat Paulus in v.41 gewaarsku het!  Paulus het gesê dat hulle nie verder die Woord vir lasterende Jode sou preek nie, maar dat hulle voortaan vir die heidene sou preek.  God het immers die Messias gestuur om ook ‘n lig vir die heidene te wees, en nou het Paulus en Barnabas sy werk voortgesit (v.47, Jesaja 49:6).  Toe die heidene dít hoor het hulle die lof besing van hierdie boodskap wat húlle ingesluit het.  Almal wat vir die ewige lewe bestem was het geglo (v.48).  Die passiewe werkwoord dui aan dat God verantwoordelik was vir hulle redding.  Hulle is nie uitverkies omdat hulle geglo het nie, maar het geglo omdat hulle uitverkies was (cf. Johannes 10:26).  Efesiërs 2:8-9 en Filippense 1:29 wys ook dat geloof ‘n gawe van God is.  Jesus het gesê dat verlossing ‘n soewereine werk van God is:  “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44).

 

Die Jode se jaloesie het erger geword toe die Woord van God versprei het.  Hulle het die sendelinge vervolg (v.49-50).  Paulus en Barnabas het die stof van hulle sandale afgeskud en suid-wes gereis tot in Ikonium (v.51, Matteus 10:14).  Die Heilige Gees het die nuwe gelowiges met blydskap gevul (v.52).

 

Daar is drie groot lesse in hierdie verse:

 

  • Paulus se geleentheid vir die evangelie het op ‘n skinkbord na hom toe gekom: “En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ‘n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!” (v.15). Moenie sulke kanse verbeur nie. Partykeer sal mense jóú vra oor God, die Bybel, die kerk, die lewe, lyding. Sorg dat jy die Bybel goed genoeg ken om hulle vrae te beantwoord.
  • Hou aan om die evangelie te preek wanneer vriende jou verlaat (v.13), jy siek word (Galasiërs 4:13), mense jou boodskap verwerp (v.46), vyande jou teëstaan en vervolg (v.50).
  • Beskou uitverkiesing as ‘n hulp vir evangelisasie en nie as ‘n struikelblok nie: “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (v.48). Paulus se evangelisasie is gedryf deur die wete dat God die uitverkorenes sou red: “En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (18:9-10). “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10). Die grootste sendelinge en evangeliste in die geskiedenis het geglo in onvoorwaardelike uitverkiesing: John Paton, Hudson Taylor, William Carey, David Brainerd, George Whitefield, Charles Spurgeon, en vele meer. Hierdie voorbeelde, v.48, en die res van Paulus se bediening wys dat dit vals is om te sê: ‘Calvinisme verhinder sending en evangelisasie.’

 

Die Goeie Nuus het ons land bereik deur Van Riebeeck, die Hugenote, die Britse Setlaars, en Skotse sendelinge.  Ons moenie die Goeie Nuus vir onsself hou nie, maar verder vat na die res van die wêreld toe.

 

[i] Inligting oor die sinagoge verkry uit Alfred Edersheim, Sketches of the Jewish Life, pp.120-134

Die Here sal jou seën

Blessed

Die Christelike lewe is ‘n lewe van seën.  Die Nuwe Testament begin hiermee (Matteus 5:3-12).  In Genesis 26 vind ons hierdie seën in storievorm.

 

God belowe seën (v.1-5)

Genesis 26 is byna ‘n herhaling van Genesis 20.  Dit het egter ‘n honderd jaar later gebeur (v.34, 21:5, 25:26).  In hoofstuk 20 het Abraham Gerar toe getrek.  Hy was bang dat die inwoners van die land hom sou doodmaak om sy mooi vrou te kry.  Hy het gejok en gesê dat Sara sy suster is.  In hoofstuk 21 het hy ‘n verbond met Abimeleg en Pigol gesluit.  In hoofstuk 26 gebeur presies dieselfde dinge met Isak.  Toe die hongersnood in Abraham se tyd tref het hy Egipte toe getrek (hfst.12).  Daar kon hy darem kos en water kry langs die lewegewende Nyl.  Die Here het vir Isak gesê om nie dieselfde te doen nie.  Hy moes in die land bly, want dít was die land wat God aan hom en sy nageslag sou gee.  Ten spyte van die droogte het God belowe om hom te seën (v.1-5).

 

Die Here se kinders is nie aan hulle omstandighede onderworpe nie, maar aan Hom.  Selfs wanneer daar ‘n droogte is kan die Here ons seën.  Wanneer die resessie slaan kan die Here sy kinders aan die lewe hou.  Wanneer jou baas net die helfte van jou salaris betaal, sal die Here jou versorg.  Wanneer werk skaars is, sal jou Vader na jou omsien.  Wanneer jy kliënte verloor, sal die Here jou help.  Wanneer jy ‘retrench’ word, sal die Here by jou wees en jou ondersteun.  Wanneer jou salaris gesny word, sal die Here jou onderhou.  Wanneer jy ‘n klein pensioen kry, sal die Here sorg dat dit met jou goed gaan.  Jy mag miskien nie rykdom hê nie, maar die Here sal gee wat jy nodig het.  Die Bybel sê:  “Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.” (Psalm 33:18-19).  “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.  Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.” (Psalm 37:18-19).  Wees egter versigtig dat jy nie seën tot materiële dinge beperk nie.  Efesiërs 1:3 sê:  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus”.

 

Isak betwyfel seën (v.6-11)

Isak was bang dat die mense van Gerar hom sou doodmaak om sy mooi vrou te kry.  Soos Abraham het hy gejok en gesê sy is sy suster (v.6-7).  Hy het nie die belofte van v.3 geglo nie:  “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën”.  Hoe kon hulle hom doodmaak as die Here belowe het om hom te seën?

 

Abimeleg het deur sy venster gekyk en gesien hoe Isak met sy vrou speel.  Die Hebreeuse woord is eintlik ‘lag’, en sinspeel op Isak se naam (Isak beteken ‘lag’).  Die woord impliseer ‘n intieme verhouding.  Abimeleg het geweet dat ‘n man nie sy suster soen nie!  Abimeleg het vir Isak bestraf en sy onderdane met die dood gedreig indien enige van hulle iets aan Isak of Rebekka sou doen (v.8-11).

 

Was jy al, soos Isak, ontrou?  Het jy al God se beloftes betwyfel, sodat jy nóú sê:  ‘Ek verdien nie die Here se seën nie’?  Niemand van ons verdien sy seën nie – al lewe jy ook hóé goed.  En as jy ontrou is, bly die Here getrou (2 Timoteus 2:13).  Die Here seën jou en vervul sy beloftes omdat Jesus goed is, nie omdat jy goed is nie (2 Korintiërs 1:20).  As jy bang is betwyfel jy God se goedheid en dink jy dat Hy nie die beste vir jou in gedagte het nie.  Jy betwyfel sy getrouheid en dink Hy kan nie sy beloftes nakom nie.  Jy betwyfel sy wysheid en dink Hy moes dit anders gedoen het.  Jy betwyfel sy almag en dink Hy kan jou nie uit hiérdie een help nie.  Bely jou vrees as sonde, en vertrou op Hom.

 

Filistyne beny seën (v.12-22)

God het sy belofte nagekom en vir Isak geseën:  “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.  En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was:  hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.” (v.12-14).  God het bewys dat rykdom uit sy hand kom, en nie as gevolg van die mens se kundigheid of vaardigheid nie (Deuteronomium 8:18, 1 Samuel 2:7).  God kan ‘n mens ryk maak in hongersnood.

 

Die Filistyne het vir Isak beny.  Hulle het die putte toegestop en vir Isak weggestuur omdat hulle hom gevrees het (v.14-16).  In v.7 het hy húlle gevrees, maar nou het hulle hóm gevrees.  Isak wou nie nuwe putte grawe en die kans staan om niks te kry nie.  Daarom het hy die ou putte oopgegrawe; hy het geweet daar sou water wees.  Hy het baie diere gehad en het dus baie water nodig gehad.  Rykdom kom teen ‘n prys.  Hy het water gekry, maar die Filistyne het sy putte gesteel.  Hy het nie baklei nie, maar aanbeweeg om nóg water te soek (v.17-21, 1 Petrus 2:23).  Toe hulle dit óók vat het hy nóg ‘n put gegrou.  Hulle het nie daaroor baklei nie.  Nou kon hy in vrede lewe.  Daar was genoeg plek vir almal.  Daarom het hy die plek Rehobot genoem – dit beteken ‘ruimte’ (v.22).

 

Partykeer wonder ons hoekom dit goedgaan met ongelowiges, terwyl ons, die kinders van die Here, so sukkel.  Jy het die Fontein wat nooit opraak nie.  Moet dan nie jaloers wees oor die ‘Filistyne’ se strome wat gou droogloop nie (cf. Psalm 73).

 

God bevestig seën (v.23-25)

Wanneer dit lyk of alles teen jou is (die Filistyne steel jou putte), bevestig die Here sy seën:  “Daarna het hy vandaar opgetrek na Berséba.  En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê:  Ek is die God van Abraham, jou vader.  Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.  Toe bou hy daar ‘n altaar, en hy het die Naam van die HERE aangeroep en daar sy tent opgeslaan; en die dienaars van Isak het daar ‘n put gegrawe.” (v.23-25).  Is baie dinge teen jou in die lewe, sodat jy die Here se beloftes begin betwyfel?  Laat die Here opnuut sy seën aan jou bevestig:

 

  • Gaan dit so sleg dat jy wonder of die Here jou liefhet? Sy Woord sê: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jeremia 31:3).
  • Het jy ver afgedwaal en wonder jy of die Here jou sal vergewe? Sy Woord sê: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:9).
  • Wonder jy of die Here jou wil red? Sy Woord sê: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13).
  • Sukkel jy finansieel? Lyk dit of die Here nie uitkoms gaan gee nie? Sy Woord sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matteus 6:33).
  • Is jy fisies, emosioneel of geestelik moeg? Sy Woord sê: “maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jesaja 40:31).
  • Is jy bang? Sy Woord sê: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” (Jesaja 41:10).
  • Is jy moedeloos omdat jou gebede nie beantwoord word nie? Sy Woord sê: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” (Matteus 7:7).

 

Moenie met vrees reageer op die Here se belofte van seën nie.  Dit is wat Isak in v.7 gedoen het.  Reageer eerder met aanbidding soos wat Isak in v.25 gedoen het.

 

Abimeleg beaam seën (v.26-33)

Abimeleg het beaam dat die Here vir Isak geseën het.  Hy het vir Isak gevrees.  Hy het in v.16 vir Isak weggestuur, maar het gesê dat dit in vrede was.  Hy wou ‘n verbond met Isak sluit om te verseker dat Isak hom nie kwaad sou aandoen nie.  Hulle het ‘n verbondsete gedeel en toe beloftes uitgeruil.  Dieselfde dag het Isak se slawe die put wat Abraham in v.21 gegrawe het (Berseba) weer oopgegrou en water gekry (v.26-33).

 

As die wêreld sien dat jy jou lyding met vrede en vertroue verduur, sal hulle beaam dat Here met jou is.  Hulle sal vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).  As die wêreld sien dat jou lewe en boodskap ‘n kragtige getuienis is, sal hulle beaam dat die Here met jou is.  “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek.  So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê:  Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.” (Sagaria 8:22-23).  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).

 

Esau bedreig seën (v.34-35)

God sal bitter dissipline in jou lewe bring, sodat jy die dinge los wat sy seën terughou.  Isak het vir Esau voorgetrek (25:28) en so die belofte van 25:23 geïgnoreer:  “die oudste [Esau] sal die jongste [Jakob] dien.”  Omdat Isak dit nie wou aanvaar nie, het die Here hom getugtig:  “Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet.  En hulle was vir Isak en Rebekka ‘n bitter verdriet.” (v.34-35).

 

Is daar dinge in jou lewe wat die Here se seën terughou; dinge wat jy moet los?  ‘n Geheime of gunsteling sonde?  ‘n Sekere vriendskap?  Liefde vir geld en besittings?  Iets wat vir jou belangriker geword het as die Here?  ‘n Christelike boek of TV kanaal wat ongesonde lering gee?  Iets waaraan jy verslaaf is?  Die Here wil jou seën en sal jou tugtig, sodat jy die dinge los wat sy seën verhinder.

 

“Die HERE sal jou seën en jou behoed;

die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn

en jou genadig wees;

die HERE sal sy aangesig oor jou verhef

en aan jou vrede gee.”

(Numeri 6:24-26).