God se hulp vir probleem-verhoudings

Problem relationship

Almal van ons het al probleem-verhoudings gehad.  Daarom is Genesis 31-33 ‘n baie relevante hulp.

 

Jakob vlug vir Laban (hfst.31)

Iemand het eenkeer vir my gesê:  ‘Wanneer jy by mense kuier, weet jy dis tyd om huistoe te gaan wanneer hulle die brood begin dun sny en die koppies hard neersit.’  Toe Jakob vir Laban gewerk het, het vier dinge vir hom gesê dis tyd om huistoe te gaan:

 

[1] God het Laban se rykdom vir Jakob gegee.  Laban se seuns was jaloers op hom en het besef dat hulle dalk nie meer hulle erfdeel sou kry nie (31:1).

 

[2] Laban was nie meer sy vriendelike self nie (31:2).

 

[3] God het in ‘n droom vir Jakob gesê om te trek (31:3, 10-13).

 

[4] Na ‘n private gesprek in die veld het Jakob se vroue met hom saamgestem.  Hulle het gesien dat hulle niks by hulle pa sou kry nie – hy het hulle erfdeel opgebruik.  Hulle het erken dat die Here Laban se rykdom weggevat en dit vir Jakob gegee het (31:4-7, 15-16).

 

Twintig jaar tevore het God belowe dat Hy Jakob veilig sou terugbring (28:15).  Nou het God sy belofte vervul.  God het vir Jakob gehelp, sodat hy, ten spyte van Laban se skelm streke, baie ryk geword het (31:3-12).  Jakob het sy kans gevat en gevlug toe Laban besig was om skape te skeer.  Ragel het haar pa se huisgode gesteel.  Sy het gehoop dat hulle haar vrugbaar kon maak of geluk sou bring.  Die een wat geregtig was op die erfdeel het ook die huisgode gekry (31:17-21).  Toe Jakob drie dae weg was het Laban daarvan uitgevind.  Woendend het hy sy skoonseun agterna gesit en na sewe dae ingehaal.  Die aand voordat hy vir Jakob wou aanval het God hom in ‘n droom gewaarsku:  ‘Moenie vir Jakob met mooi woorde en vleitaal probeer terugbring om vir jou te werk nie.  Moet ook nie hard wees met hom nie.’ (31:22-24).  Die volgende oggend het Laban vir Jakob tegemoet gegaan.  ‘Hoekom het jy my dogters en my huisgode gesteel?’ het hy gevra.  ‘As jy net mooi gevra het, sou ek ‘n partytjie gehou het en jou in vrede weggestuur het.’  Jakob het geantwoord:  ‘Ek wou nie totsiens sê nie, omdat ek bang was jy vat jou dogters van my af weg.  En wat jou huisgode betref:  ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie.  Deursoek maar ons tente en ons tasse; die een wat jou gode gesteel het sal doodgemaak word.’  Jakob het nie geweet dat sy gunsteling vrou, Ragel, haar pa se gode gesteel het nie (31:25-32).

 

Laban het die tente deursoek.  Die gode was nie in Jakob, die slavinne, of Lea se tent nie.  Laban het in Ragel se tent ingegaan.  Sy het egter die klein huisgode onder haar kameel se saal weggesteek.  Sê dit nie vir jou iets van Laban se magtelose huisgode nie?  As hulle regtig gode was moes hulle mos self navore gekom het!  Ragel was ‘n leuenaar net soos haar pa en haar man.  Sy het vir Laban gesê:  ‘Jammer dat ek nie opspring nie pa; dis daardie tyd van die maand [haar maandstonde].’ (31:33-35).  Skielik het Jakob se skoonfamilie probleme erger geword.  Hy was woedend omdat sy skoonpa hom valslik beskuldig het:  ‘Ek het twintig jaar lank vir jou gewerk.  Ek het in die bloedige woestynson en die ysige woestynnagte jou vee opgepas.  Dikwels het die koue my wakker gehou.  As ‘n skapie op ander plase deur roofdiere gevang word, moet die eienaar self die verlies dra.  Maar toe dit op jóú plaas gebeur het, moes ék die verlies dra.  By jou was my salaris nooit vas nie.  Één dag belowe jy my die wêreld, en die vólgende dag betaal jy my skaars.  Jy het my salaris al ‘n dosyn of meer kere verander.  As my pa en oupa se God my nie beskerm het nie, sou jy my seker verniet laat werk en met leë hande weggestuur het.  is die skelm, nie ék nie!’ (31:36-42).  Die Here het op die moeilike manier vir Jakob geleer om hard te werk en eerlik te wees (kontrasteer dit met 25:26-27).

 

Laban was gierig en het gesê dat al Jakob se besittings aan hóm behoort het.  Hy het egter geweet dat hy nie meer vir sy dogters kon sorg nie, en het dus maar toegegee (31:43, 15).  Hy het gevra om ‘n verbond met Jakob te sluit.  Hulle het toe klippe op ‘n hoop gepak en ‘n klippilaar in die sand geplant.  Hulle het dit Jegar-Sahadúta, Gal-ed en Mispa genoem.  Die eerste twee name is Aramese en Hebreeuse woorde wat ‘hoop van getuienis’ beteken.  Mispa beteken ‘wagpos’.  Die hoop klippe en pilaar sou as getuies dien dat Jakob nie Laban se dogters sou verdruk, en dat die mans nie hierdie grens sou oorsteek om mekaar aan te val nie.  Laban het by die God van Abraham, Nahor en Tera (Nahor en Abraham se pa) gesweer.  Jakob was nie tevrede nie, omdat Nahor en Tera nie dieselfde God as Abraham gedien het nie.  Hy het toe by die God van Isak gesweer.  Jakob het ‘n offer gebring en saam met sy skoonpa ‘n verbondsete gehad.  Daarna het die mans in vrede verdaag (31:43-55).

 

Jakob vrees vir Esau (hfst.32-33)

God se engele het vir Jakob ontmoet toe hy Haran toe gevlug het, en ook toe hy teruggekeer het Kanaän toe (32:1, hfst.28).  Jakob het die plek Mahanáim of ‘twee kampe’ genoem; God se kamp en sy eie (32:2).  Hy het boodskappers gestuur om vir Esau te sê hy’s oppad.  Sy boodskappers het egter nooit die kans gekry om met Esau te praat nie.  Hulle het die nuus teruggebring:  ‘Esau is oppad met 400 manne.’  Jakob was baie bang.  Wat moes hy doen?  Hy het…

 

  • Beplan (32:6-8). Hy het almal saam met hom in twee kampe verdeel. As Esau die een kamp aangeval het, kon die ander een wegkom.
  • Gebid (32:9-12). Hy het die Here aan sy beloftes herinner.
  • Beplan (32:13-21). Hy het ‘n geskenk van 550 vee vir Esau gestuur met die hoop dat dít hom tot bedaring sou bring.
  • Gebid (32:22-32). Hy het met ‘n Man gestoei en gesmeek dat die Here Hom moes seën. Hy het die Man nie laat gaan totdat Hy hom geseën het nie.
  • Beplan (33:1-3). Hy het sy gesin in vier groepe verdeel. Hy het voorgeloop en sewe keer gebuig totdat hy naby Esau gekom het. Agter hom was sy twee slavinne met húlle kinders. Daarna het Lea met haár kinders aangekom. Heel agter was sy gunsteling vrou Ragel, met haar seun Josef.

 

Selfs ná sy eerste gebed was Jakob nie gerus nie.  Hy het sy vroue en kinders oor die Jabbok rivier gestuur en alleen agtergebly.  In die nag het ‘n Man aan hom verskyn.  Hy en die Man het gestoei.  Die Man kon maklik vir Jakob wen.  Om dit te wys het Hy sy heup uit pootjie gesit.  Omdat Jakob volhard het, het die Man toegelaat dat hy wen.  Toe dit begin lig word het Hy vir Jakob gesê om Hom te laat gaan.  As Jakob sy gesig gesien het sou hy sterf, “want geen mens kan My sien en bly lewe nie.” (Eksodus 33:20).  Jakob het nou nie meer op ‘n skelm manier die seën probeer kry nie, maar het dit direk van die Here self gevra en gekry (32:26, 29).  God het sy naam verander van Jakob (hakskeen-gryper, bedrieër) na Israel.  Israel beteken ‘stoei met God’.  Jakob het met mense (Esau en Laban) gestoei en oorwin.  Nou het hy ook met God gestoei en die oorwinning behaal.  Jy het seker agtergekom dat die Man met wie hy gestoei het, die Engel van die Here was – God self.  Die profeet sê:

 

“In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.  Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek.  By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.” (Hosea 12:4-5). 

 

Jakob het agtergekom dat hierdie Man God was.  Hy het die plek Peniël (of Peneul) genoem.  Peniël beteken ‘Gesig van God’.  Jakob het vir God gesien en bly lewe.  Jakob se mank heup sou hom altyd aan hierdie nag herinner.  God se seën kom nie goedkoop nie; dit kom teen ‘n prys.  Wanneer die Jode vleis geëet het, het hulle nie die heupsening geëet nie.  Sodoende sou hulle hierdie episode in Jakob se lewe onthou.

 

Toe Esau sy broer sien het hy hom tegemoet gehardloop, omhels, gesoen, en gehuil.  Hy het Jakob se geskenk ontvang, maar was beskeie en wou dit nie aanvaar nie.  Toe hy Jakob se gesin sien was hy verbaas:  ‘Wie se vroue en kinders is dit?’ het hy gevra.  Jakob het gesê:  ‘Ek het al hierdie dinge van die Here ontvang omdat sy guns oor my is.  Met hierdie geskenk vra ek nou ook jóú guns.  Sal jy dit asseblief aanvaar?’ (33:1-11).  Esau het vir Jakob vergewe en sy geskenk aanvaar.  In die twintig jaar wat Jakob weg was het die Here in Esau se hart gewerk.  Nou wou Esau graag vir Jakob help en ‘n paar van sy manne los om hom te beskerm.  Jakob het sy aanbod van die hand gewys en gesê:  ‘Ek sal stadig agter jou aantrek en jou in Seïr ontmoet.’  Jakob het volgens sy ou naam opgetree en weer vir sy broer gejok.  Hy het Sukkot toe getrek en daar krale vir sy vee gebou.  Daarna het hy Sigem toe getrek.  Jakob het van Bet-el vergeet.  Hy het nie die belofte gehou wat hy in hfst.28 gemaak het nie:

 

“En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê:  As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (28:19-22).

 

Jakob se vergete belofte en sy besluit om Sigem toe te trek, het reuse probleme veroorsaak.  Daarvan vertel ek julle in die volgende preek.

 

Die Here het belowe dat die land Jakob en sy nageslag s’n sou wees.  Nou het Jakob nóg ‘n stuk grond besit.  Die eerste stuk was die begraafplaas wat hy by sy oupa Abraham geërf het (hfst.23).  Nou het hy ‘n stuk grond by die seuns van Hemor gekoop (33:19).  Hier het Jakob ‘n altaar gebou en dit El-Elohe-Israel genoem.  Dit beteken:  Die God van Israel is God.  Tot nou toe het Jakob altyd gepraat van ‘die God van Abraham…die God van Isak…die God van my vader’ (31:5, 42, 53, 32:9).  Nóú het hy gesê dat die Here sy God is.  Hy het sy belofte gehou:  “As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.” (28:20-21).

 

Watse lesse leer ons uit hierdie hoofstukke?

 

  • Het dit al ooit met jou gebeur dat iemand wat altyd gaaf was, jou ewe skielik ignoreer of beskinder; jaloers, lelik, ongeskik, en kortaf is? Ek weet dis nie lekker nie, maar ten spyte van hulle lelike optrede is die Here met jou en kan hierdie mense nie verder gaan as wat Hý toelaat nie (31:3-7, 23-24, 42).
  • Moenie soos Jakob van die probleem probeer vlug nie – dit sal net die probleem uitstel en vererger (31:20-23). Sit eerder om ‘n tafel en praat die probleem uit (31:44-55).
  • Bid nederig tot die Here en erken dat jy niks is nie (32:10). Herinner die Here aan sy beloftes (32:9, 12). Dank die Here vir sy goedheid aan jou (32:10). Smeek die Here om jou te antwoord (32:11). Volhard in gebed totdat die Here jou seën (32:26).
  • Maak planne om dadelik die probleem reg te stel (32:13-21). Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe. Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is” (Matteus 5:23-25).
  • Maak jou planne, maar moenie meer dáárop vertrou as op die Here nie (33:1-3).
  • Glo dat die Here die ergste verhouding kan regstel: Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of selfs dink (31:55, 33:4, Efesiërs 3:20).
  • Moenie die fout herhaal nadat die verhouding herstel is nie (33:14, 16-17).
  • Onthou dat jou verhouding met God en jou naaste saam staan of val. Jakob se verhouding Laban en Esau kon eers regkom toe sy verhouding met God reg was. Jesus het gesê: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” (Matteus 6:14-15). In sy eerste brief skryf Johannes: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Johannes 4:20).

 

Bo enige menslike verhouding wat reggestel moet word, móét jou verhouding met God herstel word.  Deur sy kruisdood en opstanding het Jesus afgereken met dít wat skeiding tussen ons en God maak, naamlik sonde.  As jy jou van jou sonde bekeer en op Jesus vertrou, dan kan daar vrede en versoening wees tussen jou en God (Romeine 5:1).  As Jesus hiérdie verhouding kon herstel, kan Hy verseker jou probleem-verhoudings met ander mense uitsorteer.