Die evangelie volgens die apostels

The Gospel

Paulus en Barnabas was klaar met hulle eerste sendingreis en was terug by hulle tuiskerk in Antiochië (14:26-28).  In dié tyd het Petrus Antiochië toe gekom (Galasiërs 2:11).  Op ‘n dag het hy saam met gemeente-mense geëet.  Hulle was heidene.  Toe daar Jode uit Jerusalem opdaag was Petrus bang hulle dink sleg van hom.  Hy het gou van die tafel af opgestaan en gemaak of hy nie saam met die ‘onrein’ heidene geëet het nie.  Barnabas wou Petrus se voorbeeld volg (Galasiërs 2:12-13).  Toe Paulus dit sien het hy geweet dat dit ernstige nagevolge kan hê.  Deur sy optrede het Petrus gemaak asof die onbesnede heidene ‘onrein’, en dus ook ongered is.  Paulus kon nie stilbly nie en het vir Petrus in die openbaar aangevat:

 

“As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?  Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” (Galasiërs 2:14-16).

 

Paulus se woorde het vir Petrus reggeruk.  Hy is terug Jerusalem toe.  Handelinge 15 sê vir ons wat tóé gebeur het.

 

Die probleem (v.1-5)

 

1 En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer:  As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. 2 Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk. 3 En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf. 4 En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het. 5 Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê:  Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.”

 

Vals leraars het van Jerusalem af Antiochië toe gekom.  Hulle het gejok en gesê Jakobus het hulle gestuur (v.1, 2, Galasiërs 2:12).  Hulle boodskap aan die heidene was:  “As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.” (v.1).  Paulus en Barnabas het met hulle gestry, maar kon hulle nie oortuig nie.  Die kerk het besluit om vir Paulus, Barnabas en nog ‘n paar manne Jerusalem toe te stuur om hierdie saak saam met die apostels en ouderlinge uit te sorteer (v.2).  Oppad Jerusalem toe en in Jerusalem self, het hulle die gelowiges verbly deur te vertel hoe God op hulle sendingreis onbesnede heidene gered het (v.2-4).  Daar was egter ‘n sekere groep gelowiges in die kerk wat gesê het:  “Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.” (v.5).

 

Die besluit (v.6-21)

 

6 En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. 7 En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê:  Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. 8 En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. 9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. 10 Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? 11 Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.

 

12 En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. 13 En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê:  Broeders, luister na my! 14 Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. 15 En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:

 

16 Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 17 sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. 18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

 

19 Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, 20 maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. 21 Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.”

 

Die apostels, ouderlinge en lede van die Jerusalem-kerk het saam vergader.  Die vergadering het lank aangehou (v.6-7, 22).  In dié hoofstuk gee Lukas vir ons die opsommende toesprake van drie apostels:

 

[1] Petrus het vertel hoe God hom in hfst.10 gekies het om die evangelie met die heidene (Cornelius en sy huisgesin) te deel (v.7).  Hy het onthou hoe God sy Gees aan hierdie onbesnede heidene gegee het (v.8).  God self het dus gewys dat ‘n mens gered kan word sonder dat hy besny is.  Net soos met die Jode, het God die heidene se harte deur die geloof gereinig (v.9).  Hulle het dus die innerlike realiteit van ‘n besnede hart ontvang, selfs al het hulle nie die teken van reiniging (die besnydenis) op hulle liggame gehad nie.  Die Skrif sê:

 

“Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Galasiërs 6:15).  “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.  Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.” (Romeine 2:28-29).

 

Petrus het vir die vergadering gesê:  “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (v.10).  Die Jode kon nie eers die swaar juk van die wet dra nie.  Hoekom wou hulle dan hê dat die heidene dit moes doen?  Indien enigiemand deur wetsonderhouding gered wou word, moes hy die hele wet volmaak onderhou (Galasiërs 3:10).  Die wet was buitendien nooit gegee dat ‘n mens daardeur gered moes word nie.  Dit is gegee om sonde uit te wys (Galasiërs 3:24).  Mense moes na Jesus toe draai om gered te word – nie na die wet toe nie.  In teenstelling met die swaar juk van die wet, was Jesus se juk sag en sy las lig.  Hy het gesê:  “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-30).  God het sy wet op ons harte geskryf, en daarom kan Jode en heidene die wet gehoorsaam (Hebreërs 8:10).  Liefde, nie vrees nie, dryf ons om God te gehoorsaam (Johannes 14:15).  Dit maak dat God se gebooie nie ‘n swaar las is nie, maar ‘n vreugde (1 Johannes 5:3).

 

Petrus se slotsom was dat Jode en heidene gered word uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen (v.9, 11).  Paulus het later vir die Christene in Rome gesê:  “Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie?  Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.” (Romeine 3:29-30).

 

[2] Paulus en Barnabas het vertel hoe God op hulle sendingreis wondewerke gedoen het om te bevestig dat hulle evangelie-boodskap (sonder besnydenis) waar was (v.12).  God sou dit nooit gedoen het as hulle ‘n vals boodskap verkondig het nie; as besnydenis deel van die boodskap moes wees nie.

 

[3] Jakobus het gesê dat Petrus reg was dat “God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.” (v.13-14).  Jode en heidene was God se uitverkore volk, nie net Jode nie (1 Petrus 2:9-10, Efesiërs 2:11-22).  Ou Testament profete soos Amos sou ‘amen!’ gesê het op Petrus se toespraak (v.15-18).  Die koningshuis van Dawid het verval tot ‘n ‘hut van Dawid’.  Die Messias sou egter kom om die vervalle hut te herbou.  Hierdie keer sou dit nie net Jode insluit nie, maar heidene ook (v.17, Amos 9:11-12).

 

As al hierdie dinge dan so is, as God die onbesnede heidene in sy Koninkryk ingesluit het – hoe kon sekere Jode sê die heidene moet besny word om gered te word? (v.19).  Die vergadering het ook besluit dat die heidene nie aspris dinge moes doen wat die Jode se gewetens sou pla nie.  Daarom moes hulle nie vleis eet wat aan afgode geoffer is nie.  Hulle moes nie seksueel losbandig lewe nie.  Hulle moes nie die vleis van verwurgte diere eet nie, omdat die bloed nie heeltemal uitgedreineer was nie.  Hulle moes ook nie bloed drink nie (v.20).  Al hierdie aksies was deel van hulle heidense aanbidding.  Jakobus sê dus dat hulle nie die ware God moet aanbid op dieselfde manier as wat hulle hul heidense afgode aanbid het nie.  Later kon hulle wel vleis eet wat aan afgode geoffer is (Romeine 14, 1 Korintiërs 8).  God het immers die bees gemaak, en die afgod aan wie dit geoffer is, is in elk geval ‘n dooie stuk hout.  Handelinge 15 leer dus nie dat dit verkeerd is om Halaal kos of nat biltong te eet nie.

 

Jakobus sluit sy toespraak af deur te sê:  “Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.” (v.21).  Met ander woorde:  ‘Julle Jode hoef nie bekommerd te wees dat Moses nou heeltemal vergete is nie.  Sy boeke word elke week in die singagoge voorgelees.  Jy kan dus nogstééds preke uit Eksodus en Deuteronomium hoor.’

 

Die brief (v.22-35)

 

22 Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was. 23 En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe:  Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië:  Groete! 24 Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, 25 het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus—26 manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. 27 Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring. 28 Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: 29 dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery.  As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen.  Vaarwel!

 

30 So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer. 31 En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging. 32 En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk. 33 En nadat hulle ‘n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan. 34 Maar Silas het besluit om daar te bly. 35 En Paulus en Bárnabas het in Antiochíë gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig.”

 

As jy ‘n belangrike brief vir iemand stuur, wil jy ‘n betroubare posman hê.  Paulus en Barnabas was betroubaar.  Hulle het dit bewys deurdat hulle bereid was om hulle lewens vir die Here te gee (v.26).  Maar as hulle alleen die brief afgelewer het, kon sommige mense hulle beskuldig het:  ‘Hoe weet ons die brief kom regtig van Jerusalem af?  Hoe weet ons julle het nie self die brief geskryf, sodat ons met júlle opinie moet saamstem nie?’  Daarom het die vergadering twee betroubare mense uit die Jerusalem-kerk saamgestuur:  Judas (sy ander naam was Barsabas; hy was heel moontlik die broer van Josef Barsabas, cf. 1:23) en Silas (v.22-27).

 

In die brief het hulle gesê:  “…die Heilige Gees en ons het besluit…” (v.28).  Hulle kon dít sê omdat hulle apostels was, en omdat hulle woorde deur die Heilige Gees geïnspireer was.  Hulle kon dit ook sê omdat die Gees-geïnspireerde Ou Testament hulle saak ondersteun het (v.15-18).  Die Gees en die vergadering het besluit dat besnydenis nie nodig was vir redding nie, maar dat die heidene nie hulle eie of die Jode se gewetens moes pla nie (v.28-29).  Soos wat vals lering hulle harte ontstel het (v.24, Galasiërs 1:7), het die waarheid hulle nou opgebou en bemoedig (v.30-35).

 

Die skeiding (v.36-41)

 

36 En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê:  Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan. 37 En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. 38 Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. 39 Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. 40 Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was. 41 En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.”

 

In hfst.13-14 het Paulus en Barnabas die evangelie in verskillende dorpe gepreek en kerke geplant.  Paulus wou weer die nuwe bekeerlinge sien en het vir Barnabas gevra om saam te kom.  Hulle kon dan sommer ook die vergadering se brief vir hulle voorlees (v.36).  Barnabas wou sy neef, Johannes Markus, saamvat (v.37, Kolossense 4:10).  Paulus het gedink dis ‘n slegte idee, omdat Markus dislojaal was op die vorige sendingreis (v.38, 13:13).  Watse waarborg was daar dat hy hulle nie wéér sou verlaat nie?  Paulus wou teleurstelling voorkom.  Ongelukkig kon Paulus en Barnabas nie tot ‘n vergelyk kom nie, en het hulle paaie geskei (v.39).  Die hoofstuk begin dus met ‘n geskil wat opgelos kon word, en eindig met een wat nié opgelos kon word nie.  Barnabas het vir Markus saamgevat Siprus toe (v.39, 4:36, 13:4) en Paulus het vir Silas saamgevat Sirië en Cilisië toe (v.40-41, 23).  Daar is darem goeie nuus.  Paulus het later van Barnabas as ‘n mede-arbeider gepraat (1 Korintiërs 9:6).  Aan die einde van sy lewe sê hy vir Timoteus:  “Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees.” (2 Timoteus 4:11).

 

Watse lesse kan ons uit hierdie hoofstuk leer?

 

Daar is baie valse weergawes van die evangelie.  Jy kan onmoontlik elkeen van hulle in jou leeftyd bestudeer.  Maak dan seker dat jy die ware evangelie goed ken, sodat jy enige vals een onmiddellik kan uitken.  Die ware evangelie is ‘n boodskap van redding uit genade alleen deur geloof alleen in Jesus Christus alleen (v.9, 11).  Enige ander evangelie is ‘n vals boodskap (Galasiërs 1:8-9).  Pasop dat jy nie té bly raak as iemand sê:  ‘Ek glo ‘n mens word gered uit genade alleen deur geloof alleen in Jesus Christus alleen’ nie.  Vra eers wat hulle bedoel met genade, geloof en Jesus?

 

  • As hulle genade met wetsonderhouding gemeng word, is dit vals genade. As hulle genade verdien kan word, is dit vals genade. As hulle die Sewendedag Sabbat, Joodse feeste, of ‘n vegetariese dieët moet volg om gered te word, is dit ‘n vals genade.
  • As hulle geloof ‘n bydra tot hulle redding (‘n goeie werk) word, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof op hulleself fokus (het ek genoeg geloof?) en nie op Jesus nie, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof nie tot goeie werke lei nie, is dit ‘n vals geloof. As hulle geloof hulle nie weglei van sonde nie, is dit ‘n vals geloof.
  • As hulle Jesus nie volkome God en volkome mens is nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie sondeloos is nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie in die plek van sondaars gesterf het nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie liggaamlik opgewek is uit die dood nie, is dit ‘n vals Jesus. As hulle Jesus nie die enigste Middelaar tussen God en sondaars is nie, is dit ‘n vals Jesus.

 

Maar as hulle die ware evangelie glo (soos beskryf in Efesiërs 2:1-10), moet ons hulle as mede-Christene aanvaar en omhels.  Moenie paaie skei oor verskille soos wat Paulus en Barnabas in v.37-40 gehad het nie.  Moenie paaie skei oor Romeine 14-kwessies, oor dinge wat nie in die Bybel staan nie.  Moenie gemeenskap weier op grond van verskille oor die eindtyd, geestelike gawes, die doop, en ander dinge wat die evangelie nie direk raak nie.  Wees soos George Whitefield wat Christene uit verskillende denominasies aanvaar en bevriend het.  Wees soos predikers by die T4G konferensie (Together for the Gospel):  hulle verskil wel oor klein dinge, maar wat die evangelie betref is hulle een.  John Wesley het wyse raad gegee:  ‘Provided that a man loves God and hates sin, I will have fellowship with him any day.’