Hoe om suksesvol te wees

Key to success

In die wêreld word sukses dikwels in $ gemeet.  Volgens Prosperity predikers is gesondheid + geld = sukses.  Maar hoe suksesvol is dit om ryk te word ten koste van jou huwelik, gesin, en vriendskappe?  Die grense van die Christen se sukses eindig nie by geld nie.  Soos Josef in Genesis 39, is hy suksesvol in alles wat hy aanpak (v.2-3, 5, 23).  God se seën en guns kan alleen verkry word deur Jesus.  As jy dus hoop om sonder die evangelie suksesvol te wees, is hierdie preek nie vir jou nie.  Jy moet jou eers van jou sonde bekeer, op Jesus vertrou, glo dat Hy namens sondaars aan die kruis gesterf het, begrawe is, en uit die dood uit opgestaan het.  Jy moet bereid wees om Hom te volg en gehoorsaam.  As jy dit nié doen nie bou jy jou huis op sand.  Wanneer die finale storm van God se oordeel kom sal jou huis inmekaar tuimel.

 

Sukses in jou werk (v.1-6a)

 

1 En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ‘n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. 2 En die HERE was met Josef, sodat hy ‘n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. 3 En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, 4 het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. 5 En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld. 6 En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het.”

 

Wil jy suksesvol wees in jou in werk?

 

[1] Moet jouself nie bejammer omdat jy in ‘n beter posisie kon gewees het nie (v.1).  Die Here het vir Josef voorberei vir die toekoms.  Hy sou binnekort ‘n regeerder in Egipte word.  Hoe sou hy die vaardighede ontwikkel het as hy nie éérs vir Potifar gewerk het nie?

 

[2] Werk hard en moenie so min as moontlik wil doen nie.  Dit is duidelik dat Josef hard gewerk het.  Hoe anders het hy so sterk en fris geword (v.6b)?  Josef se harde werk het gemaak dat hy twee keer bevorder is:  van ‘n slaaf wat buite gewerk het tot een wat binne die huis gewerk het (v.2); van ‘n gewone slaaf  tot Potifar se hoofslaaf (v.3-4).

 

[3] Werk om jou baas te bevoordeel.  Laat jou goeie werk van die Here getuig.  Josef het so gewerk.  Die Here het Josef se werk geseën, sodat Potifar daardeur bevoordeel is (v.5-6a).  In sy belofte aan Abraham het die Here gesê dat ander deur hom geseën sou word (12:2-3).  Die Here het hierdie belofte in Josef se werk vervul.  As Christene moet ons sout en lig wees.  Hóé ons werk moet ‘n lig skyn en ander positief beïnvloed (Matteus 5:16).  Paulus se opdrag aan slawe geld ook vir ons:  “Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie; hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.” (Titus 2:9-10).

 

[4] Wees betroubaar.  Potifar het vir Josef vertrou en was nie bekommerd oor sy besittings nie (v.6a).

 

[5] Moenie net hard werk wanneer jou baas kyk nie.  Josef het God gevrees (v.9) en daarom hard gewerk – of Potifar nou gekyk het of nie (v.6a).  Paulus sê:  “Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.  En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kolossense 3:22-23).

 

[6] Moenie sondig as jou baas of sy vrou jou beveel nie.  Toe Potifar se vrou vir Josef gevra het om te sondig het hy geweier (v.7).  Laat Handelinge 5:29 vir jou die algemene reël wees:  “En Petrus en die apostels antwoord en sê:  Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

 

[7] Wees versigtig vir seksuele versoekings by die werk (v.7).

 

[8] Wees eties; moenie dinge doen wat jy nie mág doen nie (v.8-9).

 

[9] Wees soos Josef en moenie jou posisie of voorregte misbruik nie (v.8-9).

 

[10] Erken dat dit God is wat jou suksesvol maak (v.2).

 

Dis waar dat jy finansiële sukses kan hê deur oneerlik en skelm te wees.  Maar die Here se guns en seën sal nie daarop rus nie (v.2).  Jy sal nie sukses hê in elke area van jou lewe nie (v.3).  Jy sal nie ‘n kragtige getuienis hê nie (v.3).  Jy sal nie jou baas se guns hê, voordele geniet, of sy vertroue wen nie (v.4-6a).  Dit sal uiteindelik bekend word dat jy skynheilig is:  jy máák of jy betroubaar is, maar eintlik is jy ‘n skelm.

 

Sukses in versoeking (v.6b-12)

 

“En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. 7 Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê:  Kom hou gemeenskap met my. 8 Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê:  Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. 9 Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? 10 En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, 11 kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. 12 Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê:  Kom hou gemeenskap met my.  Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop.”

 

Potifar se vrou het gesien dat Josef mooi gebou is.  Sy was wellustig en het gevra dat hy met haar moes slaap (v.6b-7, cf. 38:15).  Sukses in versoeking beteken nie dat jy op ‘n plek kom wat jy nie meer (of baie min) versoek word nie.  Dit beteken eerder dat jy versoeking weerstaan.  Om suksesvol te wees in versoeking moet jy:

 

  • God vrees en ander respekteer. Josef het sy baas se huweliksbed eerbiedig. Hy wou ook nie teen God sondig nie (v.8-9). Soos Dawid het hy besef dat alle sonde teen God is (Psalm 51:6). Hy het die beginsel van Hebreërs 13:4 verstaan en toegepas: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”
  • Sonde ontmasker en dit sien vir wat dit werklik is. Josef het besef dat seks met sy baas se vrou groot kwaad is (v.9).
  • Besef dat Satan nie rus nie. Daarom moet jy ook nie rus nie. Potifar se vrou het dag na dag vir Josef gesê om met haar te slaap, maar hy het nie toegegee nie (v.10, cf. Rigters 14:17, 16:16-17).
  • Weier om sonde te doen. Josef was nie soos Juda wat toegegee het nie, maar soos Jesus wat aangehou het om ‘nee’ te sê (v.10, 38:18, Matteus 4:1-11).
  • Nie sonde bespreek met die persoon wat jou versoek nie (3:1b). Josef het geweier om na Potifar se vrou te luister (v.10).
  • So ver as moontlik van die versoeking af wegbly. Josef was ‘n slaaf en kon nie sy werk los nie. Maar hy kon van Potifar se vrou af wegbly (v.10-11). Salomo het gesê: “Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie” (Spreuke 5:8). Jesus sê dat ons radikale stappe moet neem om van sonde ontslae te raak: “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie.” (Matteus 5:29-30). Paulus sê dat jy nie ‘n geleentheid moet skep waarin jy moontlik versoek kan word nie: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Romeine 13:14).
  • Vlug. Josef het uit die huis uit gevlug (v.12, 1 Korintiërs 6:8). Moenie dom wees en wil kyk hoe sterk jy kan wees nie. Vlug.

 

Sukses in beproewing (v.13-23)

 

13 Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, 14 roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle:  Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; 15 en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop. 16 En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het. 17 En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê:  Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer; 18 en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug.

 

19 Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek:  So en so het jou kneg aan my gedoen—het hy baie kwaad geword; 20 en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. 21 Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. 22 En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hy gedoen. 23 Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die HERE met hom was; en wat hy doen, het die HERE voorspoedig laat wees.”

 

In 38:18 het Tamar Juda se seëlring, bandjie en staf as bewys teen hom gebruik (38:18).  Nou het Potifar se vrou dieselfde met Josef gedoen en sy kleed as ‘bewys’ teen hom gebruik (v.12-18).  Sy klere is al voorheen as ‘vals getuie’ teen hom gebruik (hfst.37).  Mev. Potifar het haar man beskuldig en gesê dat hý vir Josef in die huis ingebring het (v.14, 17).  Dit was dus sý skuld dat Josef haar amper ‘verkrag’ het.  Potifar het sy vrou se storie geglo en vir Josef in die tronk laat toesluit (v.19-20).  Sy voete was in kettings en sy nek in ‘n ysterhals (Psalm 105:18).  In die toekoms sou hy ‘n belangrike posisie beklee.  Om te keer dat hy hoogmoedig sou word, moes die Here hom leer om nederig te wees.

 

Die wêreld kan nooit suksesvol wees in beproewing nie.  Prosperity predikers se teologie sê dat iemand wat siek is, arm is, of swaarkry onsuksesvol is.  Net die ware Christen kan soos Josef sukses hê in sonskyn en reën, in ‘n groot huis of in die tronk (v.2-6, 19-23).  Vir die persoon wat gered is en die Here liefhet, werk alles ten goede mee (Romeine 8:28).  Vir ons (soos vir Josef) lê sukses nie in ons omstandighede nie, maar in ons God (v.3, 23).  Jaag daarom na die Here en nie na voorspoed nie.  Voorspoed is die gevolg van ‘n gesonde verhouding met die Here, en moet nooit die motief wees nie.

 

Hoe moet ons reageer in beproewing?  Moenie bitter of kwaad wees vir die Here nie.  Moenie kla, angstig, depressief wees, hopeloos raak, jouself bejammer, ongeduldig wees, van die Here af wegdraai, of sy wysheid, goedheid, en almag betwyfel nie.  Onderwerp jou aan die Here, wag op Hom, vertrou en bid dat Hy jou sal help, wees versigtig vir die duiwel (1 Petrus 5:6-8).

 

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.  En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” (Psalm 1:1-3).

Advertisements

Hoe moet ons dink oor geld?

Throwing money

Op ons R1-munt staan:  Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer).  Op Amerika se $1-noot staan:  In God we trust.  Ironies vertrou ons nie meer op God nie, maar het geld ons god geword.  In Lukas 12 sê Jesus hoe ons oor geld behoort te dink.

 

Gierige denke? (v.13-21)

 

13 En een van die skare sê vir Hom:  Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. 14 Maar Hy antwoord hom:  Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel? 15 En Hy sê vir hulle:  Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. 16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis:  ‘n Ryk man se grond het goed gedra. 17 En hy het by homself geredeneer en gesê:  Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? 18 Toe sê hy:  Dit sal ek doen:  ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. 19 En ek sal vir my siel sê:  Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. 20 Maar God het aan hom gesê:  Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? 21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”

 

Jesus was besig om te preek (v.1-12).  ‘n Man in die skare het oor geld gedink en nie na die preek geluister nie.  Hy het geweet Jesus is ‘n Rabbi.  Omdat Rabbi’s wetlike aspekte kon uitklaar het hy gesê:  “Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (v.13).  Die wet het gesê ‘n pa “moet die eersgeborene…erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit” (Deuteronomium 21:17).  Die jonger broer sou dus 1/3 van die besittings erf.  Jesus het die man geantwoord:  “Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?” (v.13).  Jesus was wel die Regter van die hele aarde (Johannes 5:22), maar God het menslike regters aangestel om kleiner dispute te hanteer.  Jesus was tog bereid om ‘n Bybelse perspektief op die saak te gee.

 

Pasop vir gierigheid (v.15).  Die lewe gaan nie oor hoeveel geld jy het nie.  Geld moenie jou meter vir geluk wees nie.  Baie ryk mense is ongelukkig.  Toe Stuart Olyott op skool was het hy ‘n pessimistiese vriend gehad.  Dié vriend het vir hom gesê:  ‘When I grow up I want to be rich, because at least I can be miserable in comfort!’

 

Daar was ‘n ryk man wie se boerdery baie voorspoedig was.  Sy skure was te klein vir sy groot oeste.  Hy het beplan om groter skure te bou, al sy oeste vir homself op te gaar, af te tree en te ontspan vir die res van sy lewe (v.16-19).  Dít was sy sekuriteit.  Hy was oortuig dat niks kon skeefloop nie.  Hy was selfgesentreerd en het glad nie die Here erken of gedank nie (die woorde my en ek kom altesaam 12 keer voor in hierdie verse).  Die boer het nie oorweeg dat vuur, natuurrampe, pes, siekte, of diewe sy rykdom kon vernietig nie.  Hy het nie daaraan gedink dat die dood hom kaal kon uittrek nie.  Hy het inderdaad gesterf voordat hy groter skure kon bou (v.20).  Op aarde het hy baie gehad, maar in die hel sou hy niks hê nie (v.21, 16:25).

 

Hoe dink jy oor geld?  Is jy gierig soos die ryk boer?  Toets jouself:

 

  • Is jy ontevrede met jou posisie, sodat jy iemand anders s’n begeer?
  • Kla jy gedurig oor wat jy nié het nie?
  • Dagdroom jy oor hoe jy die LOTTO wen en hoe almal jou beny oor jou duur kar en groot huis?
  • Fantaseer jy oor hoe iemand sterf of ‘n nuwe ___ kry, en jy sy ou een kry?
  • Is jy jaloers op iemand?
  • Baklei jy met iemand (miskien jou huweliksmaat) oor geld (v.13)?
  • Steel, lieg, en kul jy om nóg geld te kry?
  • Dink, beplan, en praat jy gedurig oor geld?
  • Is jy suinig of mededeelsaam?
  • Verkies jy ryk mense se geselskap?
  • Is jou lewensdoel om op te beweeg in die samelewing, of af te tree en te ontspan totdat jy doodgaan?
  • Is jy gedurig besig om op te gradeer na dit wat nuuter en beter is (v.17)?
  • Staan daar duur ‘speelgoed’ in jou stoorkamer of garage wat roes en stof opgaar?
  • Het luukshede vir jou ‘n behoefte geword? Is jy lief vir luuksheid (v.19)?
  • Wens jy Jesus moenie nóú kom nie, omdat jy eers wil ryk word en dinge doen?
  • Vergelyk jy jou kar, huis, klere met ander mense s’n?
  • Is daar hope klere in jou kas wat jy nooit dra nie?
  • Het jy ‘n obsessie met nuwe goed?
  • Is jy verslaaf aan advertensies (blaadjies of infomercials)?
  • Raak jy angstig, onsteld of depressief oor die aandelemark, die swak ekonomie, die wisselkoers, die goudprys?
  • Het jy meer skuld as wat jy kan bekostig?

 

Wat is die oplossing vir gierigheid?  Niks is belangriker as die evangelie nie.  Gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Net die evangelie kan jou hart reinig, sodat jy ‘n dankbare mens is.  Dankbaarheid is ‘n baie goeie teenmiddel vir gierigheid.  Werk hard, maar dank God en berus jou in 1 Samuel 2:7:  “Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.”  Vermy mense en advertensies wat jou versoek om ondankbaar en materialisties te wees.  As jy gierigheid in ander areas van jou lewe oorkom, sal dit makliker wees om nee te sê vir geldgierigheid.  Wees dus tevrede met wat jy het en moenie iemand anders se huweliksmaat, posisie, kos, of omstandighede begeer nie.  Moenie skuld maak as jy dit nie gemaklik kan terugbetaal nie.  As jy jouself in die skuld moet dompel om iets te koop het jy dit nie nodig nie.  As jy dit nodig gehad het sou die Here dit vir jou gegee het.

 

Angstige denke? (v.22-34)

 

22 En Hy het aan sy dissipels gesê:  Daarom sê Ek vir julle:  Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. 23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. 24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle.  Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! 25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? 27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. 28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! 29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. 33 Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. 34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

 

God gee vir sy kinders lewe en ‘n liggaam.  Sal Hy dan nie ook vir ons kos en klere gee om ons onderhou en ons liggame te bedek nie?  Moet dan nie angstig wees nie (v.22-23).  As God onrein kraaie voed sonder dat hulle plant, oes en in skure opgaar, sal Hy nie vir sy eie kinders kos gee nie (v.24)?  Ons is meer werd as kraaie.  Iemand wat angstig is kan nie eers een el (45 cm) by sy lengte voeg nie (v.25).  As jy nie eers iets klein soos dít kan regkry nie, hoe wil jy deur angstig te wees meer kos kry om 10 jaar langer te lewe (v.26)?  Hooglied sê dat Salomo (of sy vrou?) die lelie van die dale is (Hooglied 2:1).  Tog sweet en spin lelies nie, en nogsteeds is hulle mooier as Salomo met sy mooiste klere aan (v.27-28).  As gras vir God belangrik is, moet jy nie kleingelowig wees en sê dat Hy jou nie wíl of kán help nie (v.28).  Moenie angstig wees en soos die heidene (wat nie God as hulle Vader het nie) na hierdie dinge jaag nie (v.29-30).  Gód sal Hom oor jou bekommer – jý hoef nie (v.30).

 

Jy is soos ‘n Amerikaner wat vir 25 jaar Japan toe gestuur word om jou land te verteenwoordig.  Jy hoef nie oor kos en blyplek te bekommer nie.  Jy moet net jou werk doen – die Amerikaanse regering sal vir jou sorg.  Net so moet jy God se Koninkryk verteenwoordig op aarde (v.31a).  God sal sorg dat jy kos, klere en ‘n blyplek het (v.31b).  Moet dus nie bang wees dat jy nie sal oorleef nie.  As God vir jou ‘n Koninkryk gegee het, sal Hy die res ook gee (v.32, Romeine 8:32).  Soek sy Koninkryk, gee vir sy saak, en belê jou geld in die hemel (v.33).  Vreugde oor aardse rykdom sal saam met jou skatte verdwyn.  Maar as jy ‘n ewige skat in die hemel het, sal jou blydskap vir altyd aanhou.  Dalk sê jy:  ‘Maar my hart is nie in die saak nie.’  Begin om vir die Here se saak te gee (v.33).  Jou hart sal binnekort volg (v.34).  As jy baie geld in aandele belê, begin jy daarin belangstel.  Jy hou die nuus dop en lees die koerant.  Jy wil wéét wat in die mark gebeur.  In God se Koninkryk werk dit dieselfde.  As jy duisende rande sendingveld toe stuur, prikkel dit jou belangstelling.  Skielik wil jy weet wat in die sendingveld aangaan.

 

Om angstig te wees is  ongehoorsaamheid en sonde (Filippense 4:6).  As jy angstig is betwyfel jy God se wysheid, goedheid, sorg, liefde, en krag.  Hier is dan ‘n paar voorstelle om angs te oorkom.

 

[1] As angs sonde is, is die oplossing bekering en nie Xanax of ander pille nie.

 

[2] Onthou hoe God in die verlede vir jou gesorg het.  Laat dit jou aanspoor om te bid dat Hy dit wéér sal doen.

 

[3] Kyk na die voëls, blomme en die res van die skepping (v.24, 27).  Sien hoe die Here vir hulle sorg en omgee.  Onthou dat die mens die kroon van God se skepping is.  Jy is na God se beeld gemaak.  Hy sal vir jou sorg.

 

[4] God is jou Vader.  Dink ná oor wat dit beteken:

  • Hy is goed en gaaf.
  • Hy sorg vir ons.
  • Hy is geduldig met ons.
  • Hy is lief vir ons.
  • Hy voorsien vir ons.
  • Hy tugtig ons vir ons beswil.
  • Hy lei en leer ons.
  • Hy beskerm ons.
  • Hy ontferm Hom oor ons.
  • Hy begeer om geestelike gemeenskap met ons te hê.
  • Hy is gasvry en geniet dit om te gee.
  • Hy is sagmoedig.
  • Hy is betrokke in ons lewens.
  • Hy is altyd met ons.

 

[5] Kry ‘n regte beskouing oor jou geld en besittings op aarde.  Dit sal nie vir altyd hou nie.  Diewe kan dit steel, vismotte kan dit eet, en roes kan dit verniel (v.33).  In vergelyking met hemelse rykdom is aardse rykdom niks (v.33).  Dis swakker as die Zimbabwe dollar teen die Amerikaanse dollar.

 

Prosperity predikers het hulle sekulêre wêreldbeskouing oor geld en besittings in die kerk ingebring.  Ons moet met mag en mening daarvan ontslae raak.  Ons denke oor geld en besittings moet wees soos Jesus s’n in Lukas 12.

God is soewerein oor sonde

Sunlight cross

As ons sê God is soewerein oor sonde, reageer baie mense verkeerd.  Party sê:  ‘As God soewerein is oor sonde is Hý die outeur daarvan en is dit sý skuld.’  Óf:  ‘God is nie verantwoordelikheid vir sonde nie, en daarom kan Hy nie soewerein wees daaroor nie.  Die duiwel is soewerein oor sonde.’  Ander sê:  ‘God is nie alwetend nie, want as Hy was sou Hy nie toegelaat het dat die duiwel en die mens gesondig het nie.’  En nóg ander:  ‘God kan nie goed en almagtig wees nie.  ‘n Goeie God sal nie sonde toelaat nie, en ‘n almagtige God kan dit keer.  Óf God is goed, óf Hy is almagtig – Hy kan nie beide wees nie.’  Maar volgens die Bybel is God goed en almagtig.  Hy is soewerein oor sonde, maar nie die oorsaak daarvan nie.  Dit is wat ons in Genesis 38 sien.

 

Wêreldsgesindheid (v.1-11)

 

1 In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na ‘n man van Adúllam met die naam van Hira. 2 En Juda het daar die dogter van ‘n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan. 3 En sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar, en sy het hom Er genoem. 4 Daarna het sy weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Onan genoem. 5 En sy het nog weer ‘n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het.

 

6 En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ‘n vrou geneem, en haar naam was Tamar. 7 Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag.  Daarom het die HERE hom laat sterwe. 8 Toe sê Juda vir Onan:  Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ‘n nageslag. 9 Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. 10 En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe. 11 Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter:  Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is.  Want hy het gedink:  Anders sterwe hy ook soos sy broers!  So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.”

 

Juda het van sy broers af weggetrek.  Sy gewete het hom gepla nadat hy vir Josef verkoop het (37:26-28).  Hy het die wêreld liefgekry en noord-wes getrek Adullam toe.  Daar het hy vriende gemaak met Hira en met ‘n Kanaänitiese vrou getrou (v.1-2, kontrasteer 28:1).  Soos Simson, het Juda volgens die luste van sy oë gelewe (v.2, 15, Rigters 14:2-3, 16:1, gesien).  Juda het met Sua se dogter geslaap en drie seuns gehad:  Er, Onan, en Sela (v.3-5).  Juda was in Kesib toe Sela gebore is.  Kesib beteken ‘vals’ en pas mooi in by die leuens en bedrog van Jakob en sy familie.

 

Juda het ‘n vrou vir Er gekies:  Tamar.  Omdat Er boos was het die Here hom doodgemaak (v.6-7).  Juda het skuld gedra, omdat hý sy gesin in ‘n goddelose samelewing grootgemaak het en self ook seksueel losbandig was en ‘n slegte voorbeeld gestel het (v.1-2).  Deur sy seun dood te maak het die Here vir Juda gestraf vir wat hy in 37:26-28 gedoen het.  Juda het vir Onan gevra om met Tamar te trou, en namens sy broer kinders te verwek (Deuteronomium 25:5-6).  Onan was boos en selfsugtig:  hy wou nie kinders in sy broer se naam grootmaak nie, en het gesorg dat Tamar nie swanger word nie.  God het hom ook doodgemaak (v.8-10).  Juda wou nie gehad het dat Sela met Tamar moes trou nie, want hy was bang dat God sy jongste seun óók sou doodmaak.  Daarom het hy vir Tamar bedrieg en gesê dat sy moes wag om met Sela te trou:  “Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is.” (v.11).

 

Onsedelikheid (v.12-30)

 

12 En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe.  En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet. 13 En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê:  Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer. 14 Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met ‘n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê.  Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie. 15 Toe Juda haar sien, het hy haar vir ‘n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het; 16 en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie.  En sy vra:  Wat sal jy my gee as jy by my ingaan? 17 En hy antwoord:  Ek sal jou ‘n boklam van die kleinvee af stuur.  Toe sê sy:  As jy ‘n pand gee totdat jy dit stuur. 18 En hy sê:  Wat is die pand wat ek jou moet gee?  Toe antwoord sy:  Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is.  Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword. 19 En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.

 

20 En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal.  Maar hy het haar nie gevind nie. 21 Toe vra hy die mense van haar woonplek:  Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was?  En hulle antwoord:  Hier was geen hoer nie. 22 Daarop gaan hy na Juda terug met die berig:  Ek het haar nie gevind nie.  En die mense van die plek het ook gesê:  Hier was geen hoer nie. 23 Toe sê Juda:  Laat sy dit hou, dat ons nie ‘n bespotting word nie.  Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.

 

24 Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê:  Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery!  En Juda sê:  Bring haar uit, dat sy verbrand kan word. 25 Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet:  By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger.  En sy het gesê:  Kyk tog mooi aan wie hierdie seëlring en bandjies en staf behoort. 26 En Juda het dit herken en gesê:  Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie.  En hy het haar verder nie meer beken nie.

 

27 En toe sy sou baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. 28 En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en ‘n rooi draad om sy hand gebind en gesê:  Hierdie een is eerste gebore. 29 Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore!  En sy sê:  Hoe kragtig het jy deurgebreek!  En hulle het hom Peres genoem. 30 En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was.  En hulle het hom Serag genoem.”

 

Juda se vrou het gesterf.  Ná die begrafnis het die tyd gekom om skape te skeer.  Tamar het geweet dat dít ‘n tyd van feestelikheid en dronkenskap was (1 Samuel 25), en dat seksuele losbandigheid dikwels op dronkenskap volg.  Daarom het sy haar weduwee-kleed uitgetrek en soos ‘n prostituut aangetrek.  Sy wou graag ‘n kind hê en het gesien dat sy nie met Sela gaan trou nie (v.12-14).  Sy was seker dat Juda vir haar sou val – veral omdat sy vrou dood was en gebrand het van begeerte.  Juda het gedink Tamar is ‘n prostituut en het vir haar geval.  Hy het ‘n boklam aangebied as betaling.  Omdat Juda nie die betaling by hom gehad het nie, het Tamar sy staf en seëlring met die bandjie as waarborg geneem.  Hy het met haar geslaap.  Sy het swanger geword.  By die huis het sy weer haar weduwee-kleed aangetrek.  Noudat sy swanger was, was sy tevrede om ongetroud te bly (v.15-19).

 

Juda het sy vriend Hira met ‘n boklam gestuur om sy staf en seëlring terug te kry.  Hira het oral gesoek en selfs rondgevra, maar kon haar nie kry nie.  Juda het vir Hira gesê:  ‘Ons het probeer en haar nie gekry nie.  Los liewer die hele saak, want net-nou lag die mense vir ons.’ (v.20-23).  Drie maande later het mense gesien dat Tamar ‘n swanger maag onder haar weduwee-kleed gehad het.  Hulle het geweet wat dít beteken:  sy het rondgeslaap.  Toe hulle dit vir Juda vertel het hy gesê:  ‘Verbrand haar.’ (v.24).  Hy het nie omgegee dat die ongebore babas ook verbrand sal word nie.  Vandag nog slaap ma’s rond en straf hulle die ongebore kinders deur hulle te vermoor (aborsie).  En dit terwyl die Skrif sê:  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” (Deuteronomium 24:16).  Juda het nie daaraan gedink dat hy óók losbandig was en die doodstraf verdien het nie.  Tamar het die staf en seëlring vir Juda gestuur.  Juda het dit herken en onthou dat hy nie sy belofte oor Sela nagekom het nie (v.11).  Tamar is nie verbrand nie.  Juda het nie weer met haar geslaap nie, omdat hy bang was dat die Here hom ook sou doodmaak (v.7, 10, 25-26).

 

Ses maande later was Tamar in kraam met ‘n tweeling.  Een van die babas het sy hand uitgesteek.  Die vroedvrou het ‘n rooi tou om sy gewrig vasgebind om te wys dat hy eerste gebore is.  Die baba het sy hand teruggetrek, sodat die ánder baba eerste gebore is.  Omdat hý deurgebreek het, het hulle hom Peres genoem.  Die baba met die rooi tou om sy gewrig is tweede gebore en Serag genoem (v.27-30).

 

Watse lesse leer ons uit Genesis 38?  Ons leer ‘n les oor Jesus.  Juda en Tamar was Jesus se voorsate (Matteus 1:3).  Alhoewel Jesus se voorsate groot sondaars was, was Hý sonder sonde.  Job het gevra:  “Wat is die mens, dat hy rein sou wees?  En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?” (Job 15:14).  Van almal wat uit ‘n vrou gebore is was net Jesus rein.  Jesus se voovaders was groot sondaars om te wys dat Hy groot sondaars red.  Tamar was ‘n heiden om te wys dat Jesus nie net vir Jode gesterf het nie, maar vir die hele wêreld:  Jode en heidene (Johannes 3:16, Openbaring 5:9).

 

God is soewerein oor aakligste sondes soos moord, verkragting, prostitusie, en die kruisiging van God se Seun:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.” (Handelinge 2:23).

 

[1] God is soewerein en kan sonde keer.  Hy het gekeer dat Abimeleg met Sara slaap (20:6), dat Israel se vyande hulle besittings begeer (Eksodus 34:24), dat Bileam sondig (Numeri 22).  Hy het Jerobeam se hand laat uitdroog toe hy kwaad geword het en die profeet wou gryp (1 Konings 13:4).  Die Jode kon nie vir Jesus arresteer nie, omdat God hulle gekeer het (Johannes 7:30).  God het vir Paulus gekeer toe hy oppad was om Christene te arresteer (Handelinge 9).  In die V.S.A. het ‘n ateïs toesprake gelewer waarin hy God se Naam gelaster het.  Toe hy in ‘n sekere dorp sou optree, het die Christene gebid dat die Here hom moet keer.  Toe hy die aand opstaan om te praat het sy keel skielik toegetrek.  Hy kon nie ‘n woord uitkry nie.  God het hom gekeer.  Dalk het die Here jou al gekeer toe jy wou sondig.  Jy wou ‘n lelike film kyk toe die krag skielik uitgaan.  Jy was oppad om sonde te doen toe jy skielik in verkeer vassit.  Jy wou iemand bel en slegsê toe die selfoon netwerk skielik wegraak.

 

[2] God is soewerein en kan sonde wegvat.  Hy het dit gedoen deur Jesus se kruisdood.  Die Bybel sê:  “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Psalm 103:12).  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9).

 

[3] God is soewerein en kan sonde gebruik om sy Naam te eer.  God het die sonde in hierdie hoofstuk gebruik, sodat die Messias gebore kon word.  Josef se boeties het hom as ‘n slaaf verkoop.  God het dit gebruik sodat Josef koring kon opgaar in Egipte, en sodoende sy familie van die honger kon red (50:20).  Farao het sy hart teen God verhard.  God het dit gebruik, sodat Hy plae op Egipte kon stuur om sy krag te toon (Eksodus 9:16).  Ester het met die koning geslaap om ‘n skoonheidskompetisie te wen.  God het dit gebruik, sodat sy koningin kon word en die Joodse volk kon red.  Judas het vir Jesus verraai en so die Skrif vervul.  Israel het God as hulle koning verwerp en ‘n aardse koning gekies.  God het hulle besluit omgekeer en die Messias uit die koninklike geslag voortgebring.  Dawid het egbreuk gepleeg met Batseba en later met haar getrou.  God het die Messias uit háár nageslag laat voortkom (Matteus 1:6).  Paulus het die kerk vervolg.  Toe die Christene uitmekaar uit spat, het hulle die evangelie versprei (Handelinge 8:1-4).

 

[4] God is soewerein en kan sonde straf.  God het Sodom en Gomorra vir hulle sonde gestraf (hfst.19).  Hy het sy Seun aan die kruis gestraf vir ons sondes.  Hy sal sondaars in die hel straf.

 

Hoe moet jy reageer as God soewerein is oor sonde?

 

  • Moenie dink God is hard en koud oor dinge soos moord en verkragting nie; oor die dinge wat in Genesis 38 gebeur nie.
  • God het Satan en die mens geskep. Moet egter nie daaruit aflei dat Hý die Skepper van sonde is nie. Nee, Hy haat sonde en versoek niemand nie (Habakkuk 1:13, Jakobus 1:13). Dalk sê jy: ‘Hoekom het God vir Satan en die mens gemaak as Hy sonde haat en geweet het hulle gaan sondig?’ Hy het dit gedoen om sy liefde, genade, geduld, krag, toorn, en regverdigheid duideliker te wys teen die donker agtergrond van sonde (Romeine 5:20, 9:22-23, 11:32, 1 Timoteus 1:16).
  • Moenie fatalisties wees en sê: ‘God sal doen wat hy bepaal het, of ek nou sondig of nie.’ (Romeine 6:1). Dis waar dat God ten spyte van ons sonde werk, maar weet ook dat daar bitter gevolge sal wees vir dié wat sonde doen (v.1-11). Onthou dat God nie net soewerein is om sonde te gebruik nie, maar ook om dit te straf (v.6, 10).
  • Het jy ernstig gesondig en moet jy nou die gevolge dra? Is jy jammer oor jou sonde? God is soewerein en kan jou sonde ten goede laat meewerk (hfst.3, Romeine 8:28).
  • Het iemand vreeslik teen jou gesondig? God is soewerein en kan dit ten goede laat meewerk (45:5, 8, 50:20).
  • Voel jy moedeloos en hopeloos oor die boosheid van ons land en wêreld? Die Here is soewerein. Hy kan mense se sondes vir die goeie gebruik en sal die slegte mense straf.
  • Is daar ‘n sonde wat jy haat, maar sukkel om te oorwin? Die Here is soewerein oor sonde. Moet dan nie sê: ‘Ek kan nie hierdie sonde oorwin nie,’ maar glo dat God groter en sterker is as jou sonde.
  • Is jy bang dat jy in die hemel dalk soos die duiwel sal sondig, sodat die Here jou óók sal uitskop? Dit sal nooit gebeur nie. Die Here is soewerein oor sonde en kan jou vir ewig in die hemel behou en bewaar.

 

Abraham Kuyper het gesê:  “There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry, ‘Mine!’”  Jesus het alle mag in hemel en op aarde (Matteus 28:18).  Omdat dít so is is Hy ook soewerein oor sonde.  Dit moet jou laat vrees en wegdraai van jou sonde.  Of dit moet jou vertroos.

God se helpers

Strong grip

By ‘n konferensie het Paul Tripp gesê:  ‘Ek bid elke dag drie versoeke.  [1] Ek is behoeftig.  [2] Here, stuur U helpers oor my pad.  [3] Gee my die nederigheid om die hulp te aanvaar as dit kom.’  In Handelinge 18 sien ons hoe die Here verskeie helpers gestuur het om vir Paulus, Apollos, en ander gelowiges te bemoedig.

 

In Agaje (v.1-18a)

 

1 En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. 2 En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek.  Na hulle toe het hy gegaan; 3 en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag. 4 En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.

 

5 En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is. 6 Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê:  Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.  Van nou af sal ek na die heidene gaan. 7 En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. 8 En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. 9 En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê:  Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10 want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. 11 En hy het daar gebly ‘n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.

 

12 En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring 13 en gesê:  Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. 14 En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode:  As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; 15 maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. 16 En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. 17 En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie. 18 En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het…”

 

Paulus het uit Atene vertrek en 80 km wes gereis Korinte toe (v.1).  Hier het hy ‘n Joodse paar ontmoet:  Aquila en Priscilla.  Aquila was afkomstig van Pontus aan die suidkus van die Swartsee.  Hy het moontlik die evangelie gehoor by iemand wat in 2:9 tot bekering gekom het.  Hy het Rome toe getrek.  Dalk het hy sy vrou dáár ontmoet of geskuif vir besigheid (v.2).  Aquila en sy vrou het Korinte toe getrek omdat keiser Claudius die Jode uit Rome verdryf het.  In sy biografie oor Claudius se lewe sê Suetonius:  ‘Claudius expelled the Jews from Rome, as they were constantly raising disturbances under the instigation of one Chrestus [Christus].’  Dit blyk of die ongelowige Jode gedurig moles gemaak het oor Jesus as die Christus/Messias.  Daarom het Claudius alle Jode beveel om die stad te verlaat.

 

Aquila en Priscilla was, soos Paulus, tentmakers.  Daarom het Paulus by hulle gebly en saam met hulle gewerk.  Paulus het geen ander bron van inkomste gehad nie, en moes vir homself ‘n salaris verdien.  Hy wou nie die kerke belas nie en wou ook vir hulle ‘n voorbeeld stel van harde werk:

 

“Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (20:33-35). 

 

Hy wou ook vir die gelowiges ‘n voorbeeld stel van harde werk:  “Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.  Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.  Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel:  as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:7-10).

 

Aquila en Priscilla was getroue helpers wat hulle huis tot sy beskikking gestel het (v.3).  Hulle het seker baie by Paulus geleer (v.4).  Toe die Jode kon terugtrek Rome toe, het dié twee helpers hulle huis vir die kerk oopgestel.  So beskryf Paulus hulle:  “Groet Priscílla en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.  Groet ook die gemeente by hulle aan huis.” (Romeine 16:3-5).

 

Twee ánder helpers, Silas en Timoteus, het teruggekom van Berea af (v.5, 17:14).  Paulus het nie meer nodig gehad om tente te maak vir ‘n inkomste nie.  Hy was nou amper elke dag besig met die Woord.  Silas en Timoteus het vir hom ‘n geskenk van Macedonië af gebring (2 Korintiërs 11:9, Filippense 4:15).  Paulus het dadelik vir Timoteus Tessalonika toe gestuur om die gelowiges te help (1 Tessalonisense 3:1-6).

 

Paulus het uit die Skrifte bewys dat Jesus die Messias is (v.5).  Toe die Jode hom teëstaan, het hy sy klere uitgeskud om te wys dat God hulle uit sy Koninkryk sal uitskud (v.6, 13:51).  Voortaan sou hy na die heidene toe gaan.  Hy het vir die Jode gesê:  “Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.” (v.6, 20:26, Esegiël 3:18-21).  Paulus het nie meer sinagoge toe gegaan nie, maar langsaan in Justus se huis gepreek (v.7).  Crispus, die hoof van die sinagoge, het saam met sy huisgesin tot bekering gekom.

 

Onthou dat Korinte ‘n goddelose en immorele stad was.  Die tempel van Venus, die godin van liefde, was in Korinte.  Elke nag het ‘n duisend prostitute as seksslawe by die tempel gaan ‘werk’.  Baie van die Korintiërs was voorheen moordenaars, dronkaards, diewe, leuenaars, afgodsdienaars, homoseksueles, egbrekers (1 Korintiërs 6:9-11).  Hiérdie agtergrond maak v.8 indrukwekkend:  “En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.”

 

Paulus was bang vir die vyandige Jode.  Jesus het hom vertroos:  “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (v.9-10).  Jesus gebruik uitverkiesing as ‘n motivering vir evangelisasie:  ‘Ek het baie mense in hierdie stad.’  Paulus moet aanhou preek, omdat baie van die uitverkorenes nog tot geloof moet kom.  Verskeie tekste leer hierdie selfde waarheid:

 

“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie [die heidene].  Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder… Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” (Johannes 10:16, 26-27).  Mense wat nie na Jesus se stem luister nie is nie sy skape nie.  Die ware uitverkorenes sal na sy stem luister.

 

“Paul, a servant of God and an apostle of Jesus Christ, for the sake of the faith of God’s elect and their knowledge of the truth” (Titus 1:1, ESV).  Jesus het vir Paulus geroep, sodat die uitverkorenes tot geloof kon kom en die waarheid ken.

 

“Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10).  Paulus was bereid om enige lyding te verduur, sodat die uitverkorenes gered kon word.

 

God se volk het nie net uit Jode bestaan nie, maar ook uit heidene wat die evangelie geglo het (v.10, 1 Petrus 2:9-10).  Ná Jesus se bemoediging het Paulus vir 18 maande aangehou preek (v.11).

 

In dié tyd was Gallio goewerneur van Agaje.  Sy broer Seneca sê oor hom:  ‘there is none who does not love Gallio’.  Die Jode het vir Paulus gegryp om hom voor die hof te daag.  Hulle het vir Gallio gesê dat Paulus se evangelie nie ‘n wettige godsdiens van die Romeinse Ryk was nie.  Gallio wou nie hulle klag aanhoor nie en het hulle weggejaag.  In effek het hy gesê:  ‘Van wanneer af moet almal volgens júlle godsdiens aanbid?’  Die toeskouers het Sosthenes, die hoof van die sinogoge (Crispus se opvolger), gegryp en geslaan (v.12-17).  Hulle het besef dat hý die hofsaak teen Paulus aangehits het.  Paulus het hom vergewe, en volgens 1 Korintiërs 1:1 het hy tot bekering gekom.  Jesus het sy belofte nagekom:  “niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie” (v.10).  Die Here het vir Gallio as helper gebruik om vir Paulus te beskerm en die evangelie wettig te maak.  Paulus het vir ‘n lang tyd in Korinte aangebly (v.18a).

 

Evangelie-werkers is gedurig besig om te preek en te bedien, en kry baie min kans om preke te hoor en bedien te word.  So raak hulle maklik leeggetap.  Daarom gee die Here verskeie vorme van hulp om hulle te verfris:

 

  • Hulle word verfris deur Jesus en sy Woord (v.9-10). ‘n Sendeling of predikant wat nie tyd met Jesus spandeer nie; wat nie tyd maak vir die Woord en gebed nie, sal baie gou uitbrand.
  • Om hulle te bemoedig red die Here sondaars; dalk selfs hulle vyande (v.8, 17).
  • Die Here gee helpers en mede-werkers om hulle te versterk (v.2, 5).
  • Die Here stuur mense om hulle te help met blyplek, geld, vaardighede, vriendskap, tyd, gawes, invloed (v.1-3, 5, 7, 15). ‘n Paar voorbeelde sal jou help om te verstaan wat ek bedoel. ‘n Afgetrede predikant in Wallis gebruik sy tyd om jong predikante te besoek en te bemoedig. ‘n Man in Krugerdorp gebruik sy drukkery om Christelike literatuur vir sy kerk te druk – gratis. ‘n Ryk sakeman betaal vir sendelinge om Rusland toe te gaan. ‘n Ryk man in Midrand het vir jare ‘n Predikante-konferensie in Magaliesburg geborg. ‘n 90-Jarige tannie in Nelspruit bel en bemoedig sendelinge en predikante op hulle verjaarsdae. ‘n Gawe man in Bronkhorstspruit het sy huis omskep in ‘n plek waar arm mense Christen kampe kan bywoon. Hy voorsien die kos, beddens en kapel.

 

In Asië (v.18b-28)

 

18 hy [het] van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila.  En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen. 19 En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. 20 En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, 21  maar van hulle afskeid geneem en gesê:  Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil.  En hy het van Éfese afgevaar. 22 En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë. 23 En nadat hy ‘n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.

 

24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte. 25 Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het. 26 En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê. 27 En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang.  En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut; 28 want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.”

 

Paulus het Korinte verlaat om sy tuiskerk in Sirië te besoek (v.18).  Hy het vir Priscilla en Aquila saamgevat.  In Kenchreë het hy sy hare afgeskeer (Numeri 6:18).  Hy het waarskynlik ‘n Nasireërgelofte gemaak (Numeri 6) om dankie te sê dat die Here hom volgens die belofte van v.9-10 beskerm het.

 

Toe Paulus in Efese kom het hy in die sinagoge gaan preek en vir Priscilla en Aquila in die stad gelos (v.19).  Hulle het ‘n huis gekry en dáár kerk gehou (1 Korintiërs 16:19, 8).  Die Jode in Efese het gretig na Paulus geluister – dalk omdat hy volgens Joodse gebruik sy geskeer het (v.20, 1 Korintiërs 9:20).  Hulle wou gehad het Paulus moes langer bly, maar hy het gesê:  “ek sal weer na julle terugkom as God wil.” (v.21).  Hy het die beginsel van Jakobus 4:13-16 verstaan:  As die Here wil.

 

Paulus het Sesarea toe gegaan en toe ‘opgegaan’ Jerusalem toe om sy gelofte te vervul en sy geskeerde hare te verbrand (Numeri 6:18).  Hy is Antiochië toe (sy tuiskerk) en het na ‘n geruime tyd vertrek om die kerke te besoek wat hy in hfst.13-14 geplant het (v.22-23).

 

Apollos, ‘n Jood uit Alexandrië het intussen Efese toe gekom.  Apollos was vaardig, wys, vlot, logies, kragtig, gesagvol, geleerd, vurig, moedig, en akkuraat in die Skrif.  Hy het egter nie die Gees- of waterdoop van Jesus geken nie (v.24-25).  Priscilla en Aquila het baie by Paulus geleer en vir Apollos eenkant toe geneem om Jesus se doop aan hom te verduidelik (v.26).  Apollos het nóg sterker geword, sodat hy die Korintiër-Christene beter kon help en die ongelowige Jode maklik kon weerlê (v.27-28).

 

Die predikant of sendeling is nie alleen verantwoordelik om die kerk te bedien, versterk, en bemoedig nie.  Elke gelowige is verantwoordelik om ander te ondersteun en te versorg (soos Priscilla en Aquila vir Paulus gehelp het).  Kyk uit en vra:  ‘Wie kort hulp?’  Dalk kort jy hulp uit God se Woord:  ‘Hoe kan ek gered word?… Hoe kan ek hierdie sonde oorkom?… Ek is angstig en het Bybelse raad nodig… Hoe moet ek nee sê vir versoeking?… Ek is verward… Ek twyfel… Ek is siek en het vertroosting nodig… Ek het antwoorde nodig… Ek gaan deur ‘n swaar beproewing… Ek weet nie hoe om hierdie verse toe te pas nie… Ek kort wysheid’.  Ek is bereid om te help as ek kan.  Bel of e-pos my:  i4@absamail.co.za of 084 699 2030.

 

Leer uit Priscilla en Aquila se voorbeeld hoe om iemand tereg te wys:  vat die persoon eenkant; wees sagmoedig; staaf jou argumente uit die Bybel.  Leer uit Apollos se voorbeeld hoe om teregwysing te aanvaar:  wees nederig genoeg om teregwysing te aanvaar; wees bereid om by leke te leer.  Moenie jou leraar aanbid nie, maar erken dat selfs die mees geleerde teoloë voete van klei het (v.26, 1 Korintiërs 1:12, 3:6-7).

 

God se helpers is soos ‘n yskoue Coke op ‘n warm dag, soos ‘n tydige wind in ‘n skip se seile.  As jy ‘n Christen is kan jy verseker wees dat die Here hulp sal stuur as jy dit nodig het.  Vra net:  “roep My aan in die dag van benoudheid:  Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).

God en jou familie probleme

Joseph and his brothers

In die Tweede Wêreld Oorlog het Duitsland ‘n Spaanse spioen Engeland toe gestuur.[i]  Hulle wou weet hoeveel Hurricanes en Spitfires (vliegtuie) die Britte gehad het.  Toe die spioen in Engeland kom het hy hulle gevra om hom Skotland toe te vat.  Hulle het geweet hy is ‘n spioen.  Omdat hulle nie baie vliegtuie gehad het nie, het hulle ‘n slim plan gemaak.  Hulle het hom Skotland toe gevlieg en onder die wolke gebly.  ‘n Paar honderd Britse vliegtuie het bo die wolke gevlieg.  Hulle het afgesak tot onder die wolke.  Toe die spioen se vliegtuig verby is, het hulle weer bo die wolke uitgestyg, vooruit gevlieg, en weer deur die wolke afgesak.  So het hulle aangehou tot by Skotland.  Die spioen het dus oor en oor dieselfde vliegtuie gesien, maar gedink dat dit elke keer ander vliegtuie is.  Hy het teruggegaan Duitsland toe en gerapporteer:  ‘Die Britte het derduisende vliegtuie.’  Soms is ons so.  Ons weet nie wat bo die wolke (in die hemel) aangaan nie, en maak dan ‘n verkeerde opsomming van ons omstandighede op grond van wat ons sien.  Dit is wat Jakob in Genesis 37 gedoen het.

 

Jaloesie (v.2-11)

 

2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader.  En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring. 3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

 

5 Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het.  Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. 6 Hy het naamlik vir hulle gesê:  Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. 7 Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. 8 Toe sê sy broers aan hom:  Wil jy miskien oor ons regeer?  Of wil jy miskien oor ons heers?  En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.”

 

9 Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê:  Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. 10 Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê:  Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? 11 En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”

 

Josef was 17 jaar oud (v.22).  Die outeur gee vir ons hierdie inligting, omdat Josef vir 22 jaar nie sou pa sou sien nie.  Dit leer vir ons dat God dikwels lank vat om sy planne uit te werk.  Moenie ongeduldig raak as jy na 18 maande nie ‘n antwoord kry nie.  Josef het kleinvee opgepas saam met die seuns van sy pa se byvroue, Bilha en Silpa (v.2).  Leer tog hoeveel probleme poligamie veroorsaak!  Josef het nuus van sy broers aangedra (v.2).  Het sy pa hom hierin aangehits (v.14)?  Ons weet dat sy pa hom voorgetrek het.  Hy het vir hom ‘n spesiale kleed gemaak (v.3).  Dit mag wees dat hy dié kleed gekry het om te wys dat die geboortereg nou aan hóm behoort het (35:22, 49:3-4, 1 Kronieke 5:1).  As kind is Jakob voorgetrek (25:28).  Hy het een van sy vroue voorgetrek (29:30).  Noudat sy gunsteling vrou dood was (35:19), het hy vertroosting in haar seun Josef gevind.  Josef se broers was jaloers en bitter.  Net soos wat hulle ma’s onder mekaar baklei het (30:15), het die broers mekaar gehaat (v.4).

 

Hulle het hom meer gehaat toe hy sy drome met hulle gedeel het – veral omdat hy gesê het hulle sal voor hom buig (v.5-11).  Selfs Jakob het sy seun hieroor aangespreek:  “Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?” (v.10).  Sy pa het egter nie net die drome afgeskryf nie, maar daaroor nagedink (v.11).  Later het die drome waar geword en het sy broers voor hom gebuig (42:6, 9, 43:26, 28, 44:14, 50:18).  Die feit dat Josef twee soortgelyke drome gehad het, wys dat hulle twee keer Egipte toe sou kom om voor hom te buig, en dat dit verseker sou gebeur (sien 41:32).  Drome het ‘n baie belangrike rol in Josef se lewe gespeel (hfst.37, 40-41).  Omdat ons God se volle openbaring in die Skrif het, hoef Hy nie meer deur drome met ons te praat nie (Hebreërs 1:1).

 

Slawerny (v.12-28)

 

12 En sy broers het die kleinvee van hulle vader by Sigem gaan oppas. 13 Toe sê Israel vir Josef:  Pas jou broers nie die vee op by Sigem nie?  Kom, laat ek jou na hulle toe stuur.  En hy antwoord hom:  Hier is ek! 14 Toe sê hy vir hom:  Gaan tog verneem na die welstand van jou broers en die welstand van die vee, en bring vir my berig terug.  So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom. 15 Daarop kry ‘n man hom terwyl hy in die veld ronddwaal, en die man vra hom:  Wat soek jy? 16 En hy antwoord:  Ek soek my broers.  Vertel my tog waar hulle die vee oppas. 17 Toe sê die man:  Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê:  Laat ons na Dotan gaan.  En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.

 

18 En hulle het hom van ver af gesien.  Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. 19 En hulle het vir mekaar gesê:  Daar kom daardie dromer aan! 20 Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê:  ‘n Wilde dier het hom opgeëet.  Dan sal ons sien wat van sy drome word. 21 Toe Ruben dit hoor, het hy hom uit hulle hand gered deur te sê:  Laat ons hom nie doodslaan nie. 22 Ruben het ook vir hulle gesê:  Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die woestyn is, maar moenie die hand aan hom slaan nie—sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring. 23 En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het, 24 en hulle neem hom en gooi hom in die put.  Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.

 

25 Daarna het hulle gaan sit om brood te eet; en toe hulle hul oë opslaan, sien hulle meteens ‘n reisgeselskap Ismaeliete wat uit Gílead kom—hulle kamele gelaai met speserye en balsem en gom op pad om dit na Egipte af te bring. 26 Toe sê Juda aan sy broers:  Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? 27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees.  En sy broers het na hom geluister. 28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer.  En húlle het Josef na Egipte gebring.”

 

Jakob het geweet dat sy ander seuns jaloers was op Josef.  Hy was bang dat hulle hom iets sou aandoen.  Daarom het hy hom in die tent gehou:  hulle moes alleen buite in die warm son werk (v.12, 25:27).  Jy kan jou verbeel hoeveel hulle hom nóú gehaat het.  Jakob het vir Josef gestuur om te kyk hoe dit met die veeboerdery in Sigem gaan (v.13-14).  Sigem was 80 km noord van Hebron.  Toe Josef by Sigem kom was sy broers nie daar nie.  ‘n Man het vir hom gesê dat sy broers nóg 25 km noord in Dotan was (v.15-17).  Josef se boeties het hom op ‘n afstand aan sy nuwe kleed herken.  Hulle het besluit om die dromer dood te maak, sy lyk in ‘n droë put te gooi, en te sê dat ‘n leeu of ‘n beer hom verskeur het (v.18-20).  Hulle bitter gedagtes het nou in moordlus verander (1 Johannes 3:15).

 

Ruben (die oudste) het hulle plan probeer keer.  Hy het voorgestel dat hulle hom eerder net in ‘n droë put moes gooi.  Hy het beplan om hom later uit te help en huis toe te stuur (v.21-22).  Hoekom het Ruben dit gedoen?  Was hy net besorg oor Josef, of het hy geweet dat sy optrede in 35:22 sy geboortereg in gedwang gebring het? (v.21-22).  Wou hy weer sy pa se guns wen?  Die boeties het Ruben se raad gevolg.  Hulle het Josef se kleed gevat en hom in ‘n droë put gegooi (v.23-24).  Klere het ‘n groot rol gespeel in Josef se lewe.  Potifar se vrou wou met Josef slaap en het hom aan sy kleed gegryp.  Hy het gevlug en sy kleed in haar hand gelos.  Sy het gesê dat hy háár wou verkrag (39:12-13, 15-16).  Arme Josef het in die tronk beland.  Toe Josef uiteindelik uit die tronk uitkom, het hulle vir hom nuwe klere aangetrek (41:14).  Farao het hom oor die land aangestel en vir hom koninklike klere aangetrek (41:42).  Josef sou ook weer in ‘n put beland en uitgehelp word (40:15, 41:14, die Hebreeus vir ‘gevangenis’ is dieselfde woord wat in 37:20, 22-24, 28 met ‘put’ vertaal word).

 

Terwyl Josef in die put was het sy boeties alleen geëet en niks vir hom gegee nie.  Hulle het gesien hoe handelaars met hulle kamele aankom.  Juda het voorgestel dat hulle nie vir Josef doodmaak nie – hy was immers hulle broer.  Hulle moes hom eerder aan die handelaars verkoop.  Ten minste sou hulle dan ‘n bietjie wins gemaak het.  Hulle het hom vir 20 stukke silwer verkoop (v.25-28).  Dwarsdeur sy lewensverhaal word dit duidelik dat Josef ‘n tipologie van Christus is:

 

  • Josef se broers sou voor hom buig. Elke knie sal voor Jesus buig (Filippense 2:10).
  • Josef se broers het hom verwerp. Jesus se broers het nie in Hom geglo nie (Johannes 7:5).
  • Josef se pa het wel met hom geraas, maar hy het Josef se drome in sy hart oordink. Maria het nagedink oor dít wat van Jesus gesê is (Lukas 2:19).
  • Josef se broers het hom vir silwer verkoop. Een van Jesus se eie dissipels het Hom vir silwer verkoop (Matteus 26:14-15).
  • Josef se broers het sy klere gevat. Die soldate het Jesus se klere gevat en onder mekaar verdeel (Matteus 27:31, 35).

 

Tragedie (v.29-36)

 

29 Toe Ruben by die put terugkom, was Josef nie in die put nie!  Daarop skeur hy sy klere, 30 en hy gaan na sy broers terug en sê:  Die seun is nie daar nie!  En ek, waar moet ek heen? 31 Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag ‘n bok en steek die rok in die bloed, 32 en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde:  Dit het ons gevind.  Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie. 33 En hy het dit herken en gesê:  Die rok van my seun!  ‘n Wilde dier het hom opgeëet.  Verskeur, verskeur is Josef! 34 Toe skeur Jakob sy klere en trek ‘n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. 35 En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê:  Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal!  So het sy vader hom dan beween. 36 En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.”

 

Ruben was nie daar toe die boeties vir Josef verkoop het nie.  Toe hy terugkom en besef wat gebeur het, het hy sy klere geskeur.  As oudste broer sou sy pa hóm verantwoordelik gehou het (v.29-30).  Wat moes hy doen?  Hy het besluit om saam met sy broers te lieg.  Hulle het ‘n bok geslag en Josef se kleed in die bloed gedoop.  Jakob het sý pa met ‘n bok bedrieg (27:16), en nou het sy seuns hóm met ‘n bok bedrieg (v.31-33).  Hulle het die bebloede kleed vir hulle pa gestuur:  “Dit het ons gevind.  Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie.” (v.32).  Let op dat hulle nie sê:  ‘Kyk of dit Josef s’n is nie,’ maar ‘Kyk of dit u seun s’n is.’  Hulle het hulle broer afgeskryf.  Hy is nie ‘ons broer’ nie, maar ‘u seun’ (sien Lukas 15:30).  Toe Jakob die kleed sien, het hy sy klere geskeur en ‘n roukleed aangetrek (v.34-35).  Drie keer in hierdie hoofstuk word klere geskeur:  Ruben s’n, Josef s’n, en Jakob s’n (v.29, 31, 34).  Jakob het geweier om vertroos te word.  Gelowiges mag huil, maar dit is verkeerd en ongesond om só te treur.  Jakob het nie so getreur toe Dina verkrag is of Ragel en Isak dood is nie (34:5, 35:19, 29).  Josef was vir hom ‘n afgod.  Christene treur nie soos heidene wat geen hoop het nie (1 Tessalonisense 4:13).  As Jakob net geweet het dat Josef nie dood was nie.  Hy was in Egipte en het ‘n slaaf geword van Potifar, die kaptein van Farao se lyfwag (v.36).

 

Lyk jou huis soos Jakob s’n in Genesis 37?

 

  • Stief familie.
  • Enkel ouers (35:19).
  • Voortrekkery.
  • Boelies.
  • Jaloesie.
  • Bitterheid.
  • Bakleiery.
  • Onvriendelikheid.
  • Nuusdraers.
  • Gedagtes van moord. Julle wens mekaar weg. Jy wens jou broer wil in ‘n koshuis bly, of jy wens jou halfsuster wil by haar regte ma gaan bly.
  • Haat.
  • Leuens.
  • Nydigheid, sodat mense jaloers is op mekaar se besittings en dit nie respekteer nie.
  • Mense maak mekaar seer (Josef het sekerlik seergekry toe hulle hom in die droë put gegooi het).
  • Mishandeling. Jy word dalk nie as ‘n slaaf verkoop nie, maar jy word gemolesteer of aangerand.
  • Boosheid.
  • Tragedie.
  • Trane.
  • ‘n Stywe atmosfeer (v.35).

 

Dit is tragies dat die familie in Genesis 37 God se uitverkore geslag was.  En dis tragies dat Christen-gesinne en kerke dikwels so lyk.  Is jy skuldig aan enige van die dinge in die lys hierbo?  God wil hê jy moet jou van jou sonde bekeer.  Is jy miskien ‘n slagoffer van hierdie dinge?  Josef was ‘n slagoffer, maar die Here het alles vir die goeie uitgewerk.  Josef was betyds in Egipte om koring op te gaar, sodat sy familie die hongersnood kon oorleef (45:5, 8, 50:20).  As sy familie uitgesterf het, sou die Messias nie gekom het nie – die Messias is mos uit hiérdie nageslag gebore (Matteus 1:2).  God kan ook jou slegte omstandighede vir die goeie uitwerk en jou meer soos Jesus maak (Romeine 8:28-29).

 

God se Naam mag miskien in hierdie hoofstuk ontbreek, maar dit beteken nie dat Hy afwesig is nie.  God verskoon nie die boeties se sonde nie, maar werk ten spyte van, bo-oor en deur hulle sonde (Handelinge 2:23, 4:27-28).  God het die tragedie ten goede meegewerk vir Jakob.  Jakob kon nie God se groter plan raaksien nie (v.36).  Eers later het die Here vir hom gesê Josef lewe nog (46:3-4).  Wanneer dit met ons sleg gaan sien ons ook nie die groter prentjie nie (Job het nie geweet wat in Job 1-2 gebeur het nie).  Daarom moet ons eenvoudig vertrou God is wys, goed, getrou, sterk, en met ons.

 

‘n Vrou in Amerika het een Saterdagoggend kruideniers gaan doen.[ii]  Toe sy klaar was het iemand gesien hoe sy in die kar sit en haar hande agter haar kop hou.  Mense het gevra of alles reg is.  Sy het gesê hulle moet hulp kry:  ‘Iemand het my in die kop geskiet.  My breins is besig om uit te kom.  Ek sit al vir ‘n uur so om te keer dat dit uitkom.’  Die polisie het gekom en die kar oopgebreek.  Sy was nie geskiet nie en haar breins was nie besig om uit te kom nie.  ‘n Pillsbury buis (‘n muffin mengsel) het van die hitte ontplof en brooddeeg agter teen haar kop vasgeskiet.  Sy het gedink dis ‘n geweerskoot en het geglo dat die brooddeeg teen haar kop haar breins was.  Ons is baie keer soos dié vrou:  ons het nie ‘n akkurate beskouing van ons omstandighede nie, en dink dan die ergste.  Ons moet leer om die Here meer te vertrou – ook met ons familie probleme.

 

[i] Ek het die illustrasie gekry uit Dale Ralph Davis se boek, The Word became Fresh.

[ii] Ibid

Paulus se evangelisasie-metodes

Fish lure

‘n Hengelaar weet hy moet verskillende soorte aas gebruik:  platannas werk vir babers, pap vir karp, wurms vir kurpers, kunsmatige aas vir swartbaars.  ‘n Goeie visser van mense doen dieselfde:  hy gebruik altyd dieselfde evangelie (hoek), maar het verskillende soorte aas.  Dit is wat Paulus in Handelinge 17 gedoen het.

 

As mense die Bybel ken (v.1-15)

 

1 Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was. 2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte 3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê:  Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus. 4 En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue. 5 Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ‘n volksoploop te bewerk.  En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring. 6 Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu:  Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom, 7 en Jason het hulle ontvang.  En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus. 8 En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het. 9 Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.”

 

10 Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur.  En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. 11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. 12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne. 13 Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep. 14 Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly. 15 En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.”

 

Die Via Egnatia was ‘n hoofweg wat die oostelike en westelike dele van die Romeinse wêreld verbind het.  Paulus en sy span het op dié hoofweg gereis.  Hulle het uit Filippi vertrek, en Tessalonika toe gereis deur Amfipolis en Apollonië (v.1).  Dit was maar ‘n dag gelede wat hulle geslaan is (16:23).  Nou moes hulle 160 km reis.  Daar aangekom het hulle in die sinagoge ingegaan en vir drie Saterdae gepreek (v.2).  Volgens v.2-3 het hulle boodskap so iets geklink (natuurlik baie meer volledig):

 

Stelling A:  Tekste soos Jesaja 53 en Psalm 22 sê dat die Messias vir die volk se sondes sou ly.  Sy hande en voete sou deurboor word en sy klere verdeel word.  Hy sou tussen rowers gekruisig word.  In Psalm 16 sê Dawid dat die Messias se liggaam nie in die graf sou vergaan nie; God sou Hom uit die dood uit opwek.

 

Stelling B:  Jesus het vir die volk se sondes gely.  Hulle het sy hande en voete deurboor, sy klere verdeel, en Hom tussen rowers gekruisig.  Sy liggaam het nie in die graf vergaan nie, maar God het Hom uit die dood uit opgewek.

 

Stelling C:  Dus is Jesus die Messias.

 

Paulus het die Jode probeer oortuig deur noukeurige redenasie, Skrifuitleg, bewyse, en kragtige prediking (v.2-3).  ‘n Aantal Jode en Grieke het geglo en tot bekering gekom (v.4).  Baie van die Jode wat nié tot bekering gekom het nie was jaloers.  Hulle het ‘n klomp leeglêers opgesweep om onrus te veroorsaak.  Hulle het gedink Paulus en sy span was by Jason se huis, maar toe hulle hom nie kon kry nie het hulle vir Jason en ‘n paar broers na die owerhede toe gesleep.  Hulle klagte was dat Paulus en sy span opstande veroorsaak; dat hulle sê daar is ‘n ander koning:  Jesus (v.5-7).  Volgens die Romeinse wet was beide oortredinge baie ernstig.  Oortreders kon die doodstraf kry.  Barabbas het byvoorbeeld opstande veroorsaak (Markus 15:7), en die klagte teen Jesus was dat Hy gesê het Hy is ‘n koning (Johannes 19:19).  Toe die owerhede die klagtes gehoor het, was hulle ontstook.  Hulle het vir Jason en die broers gedreig.  Jason moes ‘n groot boete betaal.  As Jason weer vir Paulus in sy huis ontvang het, sou hy gestraf word.  Paulus-hulle moes die stad verlaat (v.8-9, 1 Tessalonisense 2:17).  Die gelowiges het vir Paulus in die donker weggestuur.  Sodoende sou hulle hom nie maklik kon vang nie.

 

Hy het in Berea gekom en singoge toe gegaan.  Die Jode in Berea was opgevoed en ywerig om die Skrif te ontvang.  Hulle het Paulus se noukeurige redenasies aan die Skrif gemeet en daagliks die Skrif bestudeer.  Uiteindelik het hulle gesien dat Paulus reg was oor Jesus.  God het hulle harte deur die Woord verander (v.10-12, Jakobus 1:18, 21).  Die Jode uit Tessalonika het gehoor dat Paulus in Berea gepreek het.  Hulle het soontoe gekom om moles te maak.  Timoteus en Silas het agtergebly om die nuwe gelowiges te leer en te bemoedig, maar Paulus is weggeneem Atene toe (v.13-15).

 

Wyle Martin Holdt het eenkeer gesê:  ‘Baptiste is Bybels ongeletterd.’  Die persoon vir wie hy dit gesê het was baie kwaad.  Maar hy was reg:  ons mense ken nie hulle Bybels nie.  Dit is ‘n skande dat die Jehova’s Getuies hulle Bybels beter as ons ken.  ‘n Kollega het my vertel van ‘n ateïs wat die Bybel beter ken as baie Christene.  ‘n Vrou het my vertel van haar seun wat nie die Here dien nie, maar die Bybel verskriklik goed ken.  Hoe sal jy ongelowiges se strikvrae beantwoord as jy nie die Bybel goed ken nie?  Petrus sê:  “wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (1 Petrus 3:15).  Die godsdienstige leiers in Jesus se dag het die Bybel goed geken.  Maar daar was tekste wat hulle nié geken óf verstaan het nie.  Daarom kon Jesus vir hulle sê:  “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie” (Matteus 22:29).  Wat kan jy doen om die Bybel beter te ken?

 

  • Het jy al ooit die Bybel deurgelees? Doen dit.
  • Bestudeer die Bybel. Gebruik goeie kommentare en studie-Bybels om jou te help (verkrygbaar by Augustine Bookroom in Pretoria).
  • Memoriseer en oordink Bybelverse.
  • Pas die Bybel toe. Gehoorsaam wat jy daarin leer.
  • Lees goeie Christelike boeke. Kyk op Augustine Bookroom se webwerf.
  • Luister preke van John MacArthur, John Piper, Steve Lawson en ander eksposerende predikers. Hulle preke is gratis op die internet beskikbaar.
  • Skryf in vir konferensies en kursusse by Grace Fellowship in Pretoria (Google ‘Grace Fellowship Pretoria’).

 

Sommige ongelowiges sal met vrae kom en jou boodskap aan die Skrif toets (v.11).  Moenie bang wees as jy nie dadelik hulle vrae kan beantwoord nie.  Sê vir hulle jy sal uitvind.  Vat dan die Bybel en soek die antwoord.  ‘Master the Bible and be mastered by it.’ (John Piper).  Leer vir jou die kinders die Bybel.  Rus hulle toe sodat hulle die waarheid kan deel en nie so maklik deur valsheid ingetrek word nie.

 

As mense nie die Bybel ken nie (v.16-34)

 

16 En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. 17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. 18 En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê:  Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?  Ander weer:  Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. 19 En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê:  Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? 20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore.  Ons wil dan weet wat dit tog kan wees. 21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

 

22 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê:  Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. 23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is:  Aan ‘n onbekende God.  Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. 24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. 26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;

 

28  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons,

 

soos sommige van julle digters ook gesê het:

 

Want ons is ook sy geslag.

 

29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. 30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

 

32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê:  Ons sal u weer hieromtrent hoor. 33 En so het Paulus van hulle weggegaan. 34 Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.”

 

Paulus was omgeroer oor al die afgode in Atene.  Dit het hom gedryf om die ware God en sy evangelie te verkondig (v.16-17).  Hy het met Jode en Grieke gepraat; met almal wat wou luister.  Toe die Epikureërs en Stoïsyne hom hoor, het hulle met hom gestry.

 

[1] Die Epikureërs het geglo dat die wêreld ontstaan het toe atome teen mekaar gebots het.  Dit klink amper soos die moderne Big Bang teorie.  Vir hulle was die hoogste doel om ‘n pynvrye bestaan te hê (byna soos Buddhisme en Hinduïsme se Nirvana).  Hulle het geglo dat die liggaam en siel sterf wanneer ‘n mens doodgaan.  Volgens hulle was die gode onbetrokke in die wêreld en het hulle geen invloed op die gehad mens nie.

 

[2] Die Stoïsyne het geglo dat die wêreld ontstaan het toe aktiewe en passiewe materie vermeng het.  Vir hulle was aktiewe materie god, Zeus, logos.  Hulle het dus geglo dat god in elke deel van die skepping was (panteïsme) en dat alles dus aanbid kon word.  Vir hulle was die hoogste doel om ‘n plek te bereik waar jy heeltemal selfstandig was, sodat jy apaties was teenoor plesier of pyn.  Hulle het geglo dat die siel ‘n kort tydjie na die liggaam doodgaan.

 

Dit was waarskynlik die Epikureërs wat gesê het Paulus is ‘n praatjiesmaker (v.18).  Volgens die Griekse teks het hulle hom ‘n saadpikker genoem – soos ‘n mossie wat stukkies brood en pap in die straat oppik, of ‘n boemelaar wat in die mark rondhang om kos op te tel wat mense laat val het.  Volgens hulle het Paulus sy lering opgemaak uit stukkies wat hy hier en daar gekry het.  Die Stoïsyne het gesê dat Jesus en die Opstanding twee vreemde gode was (v.18).  Die inwoners van Atene het hulleself besig gehou met allerhande praatjies oor nuwe gode.  Hulle wou meer oor Paulus se ‘teorieë’ leer en het hom genooi om in die Areopagus te kom praat (v.19-21).  Areopagus beteken ‘heuwel van Ares’.  Ares was die Griekse god van donderweer en oorlog.  Sy Romeinse naam was Mars.  Volgens Griekse mitologie het Mars Neptunus se seun vermoor, en is hy op hiérdie heuwel verhoor.

 

In v.16 het Paulus al hulle afgode gesien.  Om hulle aandag te kry het hy sy preek met dié woorde begin:  “Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.” (v.22).  Hy het verwys na ‘n altaar wat hy in die stad gesien het.  Onderaan die altaar was daar ‘n inskripsie:  aan ‘n onbekende god.  Paulus het gesê dat Hy dié God se boodskap verkondig het.  Sommige meen hieruit dat mense uit ander godsdienste die ware God aanbid sonder dat hulle dit weet.  Hulle sê dit om die lering te regverdig dat opregte Hindus, Moslems en ateïste ook hemel toe gaan.  Maar dit is nie wat Paulus bedoel nie.  Hy bedoel eerder dat hulle nie die ware God ken nie, en dat hý Hom aan hulle verkondig (v.23).

 

Sy preek begin by die skepping.  God het die wêreld en alles daarin gemaak (v.24).  Die wêreld het nie ontstaan toe atome met mekaar gebots het nie (Epikureërs).  Paulus se God was die Here van hemel en aarde (v.24).  Hy kon duidelik van die skepping onderskei word, en daarom moes mense nie die skepping aanbid het nie (Stoïsyne).  God was nie soos die Griekse gode wat in tempels gewoon het nie.  Hy het ook nie die wêreld gemaak omdat Hy eensaam was nie.  Ons het Hóm nodig en nie Hy vir óns nie (v.24-25).  Hy het vir Moses gesê:  ‘EK IS wat EK IS’ (Eksodus 3:14).  Die vuur in die brandende bos het nie hout nodig gehad om te brand nie.  Net so het God nie sy skepping nodig om te bestaan nie.  God is onafhanklik en selfstanding.  Die mens is nie (Stoïsyne).  Die Grieke het geglo dat hulle beter as die res van die wêreld is.  ‘Barbare’ was hulle naam vir almal wat nie Grieke was nie.  Paulus het gesê dat geen nasie beter as ‘n ander is nie:  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het” (v.26).  Alle mense kom van Adam af (Genesis 1-2).  Al die nasies het uit Noag en sy seuns versprei (Genesis 10-11).  God, nie toeval nie, het bepaal waar die nasies moet bly en hoe lank hulle sal bestaan (v.26, Epikureërs).  God het sy goedheid, krag en wysheid in die skepping geopenbaar, sodat die mens Hom sou soek en aanbid (v.27).  Maar sonde het gemaak dat niemand God soek nie (Romeine 3:11).  Daarom het God sy Seun aarde toe gestuur om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10).

 

Niemand kan egter die verskoning gebruik dat hulle nie van God geweet het nie, “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (v.28).  Ons lewe is in en deur God; God is nie in alle skepsels sodat ons húlle moet aanbid nie (Stoïsyne).  God het die mens na sy beeld gemaak (v.28, Genesis 1:26); daarom moet ons nie ‘n god na ons beeld probeer maak nie (v.29).  Vir 4000 jaar was God geduldig met die heidene en het Hy hulle nie summier uitgewis oor hulle afgodery nie.  Hy het Homself nét aan Israel geopenbaar en nie aan al die nasies nie (Psalm 147:19-20).  Maar in Paulus se tyd het die evangelie die heidene bereik.  Nou was God se opdrag aan hulle:  ‘Bekeer julle, want die oordeelsdag is oppad!  Indien julle nie glo daar ís ‘n oordeelsdag nie:  God het ‘n oordeelsdag vasgestel en bewys daarvan gelewer deur ‘n man uit die dood uit op te wek.  Jesus wat God en mens is, sal jou Regter wees.’ (v.30-31).  In Johannes 5:22-24, 27 sê Jesus:

 

“Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe… En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.”

 

Die Epikureërs het gehoor hoe Paulus oor die opstanding preek en het hom gespot.  Die Stoïsyne het gevra hulle wou nog hoor.  Sommige van Paulus se hoorders het geglo.  Dionisius was een van die regters van die Areopagus.  Hy het besef dat daar ‘n Regter bo hóm is, en het die evangelie geglo.  Damaris, ‘n belangrike Griekse vrou, het die evangelie geglo (v.32-34).

 

Selfs as mense nié die Bybel ken nie, moet jy die Skrif gebruik om hulle van die waarheid te oortuig.  ‘Maar wat as hulle sê:  Ek glo nie die Bybel nie?’ vra iemand.  Dan gebruik jy nogsteeds die Bybel.  God se woorde is lewend en kragtig.  Joune is nie.  Jy hoef nie ‘n leeu te verdedig nie; hy sal homself verdedig.  En jy hoef nie die Bybel te verdedig nie; die Skrif sal homself verdedig.  ‘n Ateïs het teen ‘n Christen gedebatteer en gesê:  ‘Bewys God se bestaan sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het geantwoord:  ‘Romeine 1 sê…’  Die ateïs het dadelik gereageer:  ‘Ek het gesê sonder om die Bybel te gebruik.’  Weer het die Christen gesê:  ‘Romeine 1 sê…’  Weer het die ateïs ingespring:  ‘Jy luister nie wat ek sê nie.  Ek het gesê jy moet God se bestaan bewys sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het gesê:  ‘Goed.  Romeine 1 sê…’  Die ateïs het kwaad geword:  ‘Sonder om die Bybel te gebruik.’  Die Christen het gesê:  ‘Die Bybel is my hoogste bron van gesag.  Jou eie denke is jóú hoogste gesag.  Wat sal jy doen as ek jóú vra:  bewys jou punt sonder om jou denke gebruik?’

 

Wanneer jy die evangelie deel met mense wat nie die Bybel ken nie:

 

  • Wys vir hulle wat die Bybel leer oor die wese van God: Hy is Gees en pas nie in by mense se vreemde idees oor Hom nie (Johannes 4:24).
  • Maak duidelik dat God die Skepper van alle dinge is. Die skepping bewys God se bestaan (Romeine 1:19-21). Hoe anders kan daar harmonie en orde wees in die skepping? Creation.com sal jou baie help.
  • Leer vir hulle dat Adam die eerste mens was. Hierdie lering druis direk in teen evolusie. Daar is geen soliede bewyse vir die evolusie van die mens nie. Net soos ons glo Adam is die eerste mens, glo hulle in evolusie. God se Woord is meer betroubaar as mense se teorieë.
  • Sê vir hulle dat die mens se gewete bewys hy is ‘n sondaar (Romeine 2:14-15). Gebruik God se wet om ‘n sondebesef in hulle wakker te maak.
  • Preek die boodskap van Jesus se kruisdood en opstanding.
  • Sê vir hulle dat God geloof en bekering vereis.
  • Waarsku hulle dat daar ‘n oordeelsdag oppad is; dat daar ‘n ewige hemel en ewige hel is.

 

Hoe staan die saak met jou en God?  Is ander dinge vir jou belangriker as die God wat jou en die wêreld gemaak het; wat vir jou asem gegee het?  Dalk is jy godsdienstig, maar jy lewe in sonde soos die res van die wêreld.  Jy het God nie gedank vir sy voorsiening in jou lewe nie.  God het Homself in die skepping geopenbaar en vir jou ‘n geleentheid gegee om Hom te soek.  Maar jy was liewer vir jou sonde as vir Hom, en het Hom nie gesoek nie.  Hy is geduldig en het jou nog nie gestraf nie.  Hy beveel jou om jou te bekeer en na Jesus toe te draai.  Jesus het die straf vir sonde betaal en uit die dood uit opgestaan.  Glo in Hom.  As jy dit doen Hy jou vergewe en jou nie oordeel nie (Romeine 8:1).  As jy jou nie bekeer nie sal jy geoordeel word vir alles wat jy gesê, gedink, begeer, gevoel, gedoen het.  Jy sal geoordeel word vir jou sondige natuur.  Óf jy bekeer jou en word vergewe, of jy hou aan in jou sonde en gaan hel toe.  Daar is nie ‘n derde opsie nie.  Kies wat jy wil doen.

Wag op die Here

Hourglass

Ek het al voorheen verwys na twee karakters in John Bunyan se Pilgrim’s Progress:  Passion en Patience.  Passion wou dadelik al sy speelgoed hê.  Hy het dit gekry en vir Patience gelag, omdat hy niks gehad het nie.  Patience het geduldig gewag, omdat hy geweet het dat hy ‘n erfenis in die hemel het.  Kort voor lank was Patience se speelgoed gebreek en sy klere geskeur.  Hy het niks oorgehad nie.  Genesis 35:16-37:1 leer vir ons dieselfde les.

 

Jakob (hfst.35)

Toe Jakob klaar sy belofte nagekom het, het hy weggetrek uit Bet-el.  Naby Efrat (Betlehem) het Ragel in kraam gegaan.  God het haar gebed vir nog ‘n seun beantwoord (30:24).  Sy het moeilik geboorte gegee, en net voordat sy dood is, het sy die kind Ben-Oni genoem:  seun van my smarte (Benoni is na hóm vernoem).  Vir Jakob was hierdie kind spesiaal.  Van al sy kinders is net Benjamin in Kanaän gebore.  Benjamin is die naam wat Jakob hom gegee het.  Benjamin beteken ‘seun van my regterhand’.  Hy is ‘n tipe van Christus.  Jesus is ook by Betlehem gebore en is die Seun van sy Vader se regterhand (Matteus 2:1, Psalm 110:1).  Jakob het vir Ragel naby Betlehem begrawe (v.16-20).

 

Jakob het verder gereis tot by die Migdal-Eder (toring van Eder).  Hierdie was seker ‘n tipe wagtoring waaruit hulle veediewe kon raaksien.  Toe hulle daar gebly het, het Ruben met sy pa se byvrou geslaap.  Hy het dit gedoen omdat hy wellustig was, maar het ook probeer om só sy pa se hoofskap oor te neem – hy was immers die eersgeborene (v.21-22).  Soos in 34:5, 13 het Jakob sy hoofskap versuim en stilgebly.  Hy het eers op sy sterfbed die saak met Ruben opgeneem:  “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!  Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.” (49:3-4).  Hy het ook sy tweede en derde oudste seuns aangespreek, omdat hulle in 34:25-26 ‘n hele stad se mans uitgemoor het:  “Símeon en Levi is broers.  Hulle wapens is werktuie van geweld.  Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.  Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard.  Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.” (49:5-7).  Die vierde oudste seun, Juda, het dus die belangrikste geword (49:8-12, 1 Kronieke 5:1-2).  So het God hulle sonde gebruik om sy planne te volbring, want uit Juda se nageslag moes die Messias gebore word.

 

Moses (die outeur) het eers nuus oor die jongste en oudste seun gegee, en daarna ‘n volledige lys van Jakob se twaalf seuns gegee:

 

“En die seuns van Jakob was twaalf.  Die seuns van Lea was:  Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Sébulon.  Die seuns van Ragel:  Josef en Benjamin.  En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel:  Dan en Náftali.  En die seuns van Silpa, die slavin van Lea:  Gad en Aser.  Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.” (v.22-26).

 

Jakob het Hebron toe getrek om sy pa te gaan sien (v.27, 13:18).  In 28:21 het God belowe om hom na sy pa se huis toe terug te bring, en in 31:18 was dit sy eie voorneme.  Isak was 180 toe hy dood is (v.28).  Sy twee seuns, Jakob en Esau, het hom begrawe (v.29, 25:9).  Hulle was 120 jaar oud (25:26).  Dit is ironies hoe begrafnisse dikwels vervreemde geliefdes met mekaar herenig.  Noudat Isak dood was, het Jakob oorgeneem as hoof van die aardsvaders.

 

Esau (hfst.36-37)

Hierdie hoofstuk wys op die verskille tussen Jakob en Esau.

 

Hulle vroue

[1] Esau het sy vroue by die Kanaäniete gekry (v.2-3).  Sy een vrou was Ismael se dogter.  Alhoewel die Horiete sy vyande was, het hy en sy seun Elifas met hulle dogters getrou (v.12, 20, 22, 25).

 

[2] Soos sy pa, het Jakob met familie getrou en sy vroue uit Haran gekry (hfst.24, 28:1).  Hy het nie, soos Esau, met die Kanaäniete ondertrou nie (34:9).

 

Hulle kinders

[1] Esau het vyf seuns en tien kleinseuns gehad (v.4-5, 9-13).  Elifas was die oudste en sý seun was Teman (v.10-11).  In Job 2:11 lees ons van Elifas die Temaniet.  Hy het dus van hier af gekom.  Us was ook ‘n inwoner van Seïr (v.28).  Volgens Job 1:1 was Job uit die land Us.  Amalek was ook een van Elifas se seuns (v.12).  Die Amalekiete het later vir Israel probleme veroorsaak (Eksodus 17).

 

[2] Jakob het twaalf seuns gehad en nog geen kleinseuns nie.  Sy nageslag moes baie vermeerder voordat hulle soos die sterre van die hemel en die stof van die aarde kon wees.  In hfst.35 het hy drie geliefdes aan die dood afgestaan:  Debora (sy ma se oppasser), Ragel (sy geliefde vrou), en Isak (sy pa).

 

Hulle lande

[1] Daar was te min weiding in Kanaän vir Jakob en Esau se baie vee (v.7, 13:6).  Esau het Seïr toe getrek.  Die Here het vir Seïr die Horiet voor Esau verdryf (Deuteronomium 2:22).  Hy het sy gesin in die land gevestig (v.6-8).  Esau het sy broer se juk afgegooi (27:40).  Die Here het hom laat trek, omdat Hy die land Kanaän aan Jakob belowe het.

 

[2] God het wel die land aan Jakob en sy nageslag belowe (35:12), maar hy was nog ‘n vreemdeling in die land (37:1).

 

Hulle konings

[1] Esau het stamhoofde gehad (v.15-19, 40-43).  Daar was ook reeds konings in Edom.  Daar was nie ‘n koninklike familie nie; die konings is deur stamhoofde ingestem (v.31-39).

 

[2] Al het God vir Jakob belowe dat konings uit hom sou voortkom (35:11), was daar nog geen koning in Israel nie (v.31).

 

Hulle nasies

[1] God het belowe dat Jakob en Esau twee nasies sou word (25:23).  Esau was reeds ‘n nasie:  Edom (v.43).  Edom het vir Israel gehaat (Obadja).

 

[2] Jakob was maar twaalf seuns en nog nie ‘n nasie nie (35:11, 22-26).  God het die Israeliete beveel om gaaf te wees met Edom (Deuteronomium 2:4-5, 23:7).

 

Soms lyk dit of Esau beter af is as Jakob, of die wêreld beter af is as God se kinders (Psalm 73):

 

  • Duisende mense daag op vir Michael Jackson se begrafnis. ‘n Paar hartseer gelowiges vergader om ‘n ou sendeling se graf. Niemand onthou die sendeling nie en daar is nie eers geld vir ‘n grafsteen nie.
  • ‘n Oneerlike Moslem-sakeman se besigheid gaan vooruit en hy word skatryk. Jy werk eerlik en probeer om die Here te verheerlik, maar jou besigheid sukkel.
  • Ons president en party parlementslede word ryk deur korrupsie. Twee vroue in ons gemeente sukkel om kop bo water te hou (Prosperity predikers is eenvoudig nie eerlik of realisties met die lewe nie!).
  • Benny Hinn en Joel Osteen het tienduisende mense in hulle kerke. Baie kerke wat die waarheid preek bestaan maar uit ‘n handjievol mense.
  • Die Mormone en Vatikaan het hope geld. Baie kerke wat ernstig is met die waarheid werk op ‘n stywe begroting.

 

Dit laat jou wonder of God sy kinders vergeet en verlaat het.  Dalk sê jy soos Asaf dat jy tevergeefs jou hart rein en jou hande skoon gehou het (Psalm 73:17).  Dis amper of die Here nie eers raaksien dat jy probeer om heilig te lewe nie.

 

Moenie so dink nie.  Jy mag dalk nie in hierdie wêreld voorspoedig wees nie.  Maar jy kan seker wees dat jy in die hemel voorspoedig sal wees – vir ewig.  Moenie soos Esau wees wat vir die hier-en-die-nou gelewe het nie (25:29-34, Hebreërs 12:16-17).  Onthou liewer wat die Bybel sê:

 

“En Hy sê vir almal:  As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.  Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?” (Lukas 9:23-25).

 

“Maar Abraham antwoord:  Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte.  En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” (Lukas 16:25).

 

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.” (2 Korintiërs 4:16-18).

 

Soms lyk dit vir ons of die koninkryke van hierdie wêreld in beheer is.  Maar die Here sê:  “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.” (Obadja 21).  Ons het ‘n vaste hoop dat die Here eendag dinge gaan omkeer, sodat ons voorspoedig mag wees.  Hierdie hoop help ons om te volhard en geduldig te wag op die Here:  “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?  Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” (Romeine 8:24-25).  Vir die gelowige is die lyding van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hel sal kom.  Vir die ongelowige is die vreugdes van hierdie wêreld die naaste wat hy aan die hemel sal kom.  Laat dít jou help om nie bitter te word, jouself te bejammer, te kla, selfmoord te oorweeg, of te wens jy’s dood wanneer ongelowiges voorspoed geniet, terwyl dit met jou sleg gaan nie.  Matthew Henry was reg:

 

“The children of this world have their all in hand, and nothing in hope (Luke 16:25); while the children of God have their all in hope, and next to nothing in hand.  But, all things considered, it is better to have Canaan in promise than Mount Seir in possession.”