Bemoediging vir Christen-werkers

Lashing Paul

In die kerk waarin ek grootgeword het, was ons predikant op ‘n tyd baie ontmoedig en wou hy bedank.  Een Sondag het hy vir die kerk gesê hoe die Here hom bemoedig het, sodat hy kans gesien het om aan te gaan.  Dit is wat in Handelinge 16 gebeur het:  die Here het die sendelinge bemoedig, sodat hulle kon aanhou werk.

 

Spanmaats en kerkgroei (v.1-5)

 

1 En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader. 2 Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. 3 Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ‘n Griek was. 4 En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. 5 En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”

 

Paulus het teruggegaan Listre en Derbe toe om die nuwe bekeerlinge te bemoedig (sien hfst.14).  In Listre was daar ‘n jong bekeerling genaamd Timoteus.  Sy ma, Eunice, was ‘n gelowige Jood en sy pa ‘n ongelowige Griek (v.1, 2 Timoteus 1:5).  Sy ma en ouma het die evangelie met hom gedeel, maar Paulus was die geestelike vader deur wie hy tot bekering gekom het (2 Timoteus 1:2, 5, 3:14-15, 1 Korintiërs 4:15, 17).  Die gemeentes het net goeie dinge van Timoteus te sê gehad (v.2).  Dít is die tipe mense wat jy in jou span soek:  nie net mense wat gretig en bereidwillig is nie, maar mense met karakter wat geskik is vir die taak.

 

‘n Mens hoef nie besny te wees om gered te word nie, en Paulus het dit geweet (hfst.15).  Maar as hy nie vir Timoteus besny het nie, sou die Jode nie na hulle prediking geluister het nie.  Dit was dan vir evangelisasie doeleindes wat hy hom besny het (v.3):  “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.  Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.  Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.  En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.” (1 Korintiërs 9:19-23).

 

In hfst.15 het die Jerusalem-Raad ‘n brief geskryf om te sê dat die heidene gered kon word sonder dat hulle besny is.  Toe Paulus en Silas dié brief vir die gemeentes voorgelees het, was hulle bemoedig.  Buiten dat hulle geestelik versterk is, het nóg mense tot bekering gekom en by die gemeentes aangesluit (v.4-5).

 

Ek het twee Amerikaanse vriende op die sendingveld.  Hulle het al dikwels gesê hoe hulle bemoedig word deur mekaar se teenwoordigheid.  Jesus het goed geweet dat sy werkers hierdie tipe bemoediging nodig het.  Daarom het hy hulle twee-twee uitgestuur (Lukas 10:1).  Om dieselfde rede het Paulus spanmaats soos Silas en Timoteus gekies.  Kies vir jou iemand van dieselfde geslag wat jou sal aanmoedig om heilig te lewe en getrou te dien.  Bid ook dat die Here sy kerk sal bemoedig deur numeriese en geestelike groei (v.5).

 

Leiding en voorsienigheid (v.6-10)

 

6 En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig. 7 En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. 8 So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom. 9 En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê:  Kom oor na Macedónië en help ons! 10 En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.”

 

Paulus en sy span wou in Asië preek, maar die Heilige Gees het hulle gekeer.  Hulle wou in Bithinië preek, maar vir ‘n tweede maal het die Gees hulle gekeer.  Van Bithinië af is hulle Troas toe in Noord-Wes Turkye (v.6-8).  Daar het Paulus ‘n visioen gehad van ‘n Macedoniese man wat wou hê dat hy en sy span hulle moes help.  Nóú het Paulus verstaan hoekom die Gees hulle planne gekeer het.  In v.10 word ‘hulle’ vervang met ‘ons’, wat aandui dat Lukas by Paulus en sy span aangesluit het.

 

Drie lesse staan uit in hierdie verse:

 

[1] Die Heilige Gees is soewerein om te werk waar en wanneer Hy wil; in Macedonië eerder as in Asië of Bithinië:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.  So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).

 

[2] Die Heilige Gees lei ons deur voorsienigheid; deur oop en toe deure.  Hy maak deure toe om ons te verhinder en maak deure oop om ons vorentoe te neem.  Hy lei ons deur die direkte openbaring van die Skrif.  Anders as Paulus het ons ‘n volkome Bybel.  Ons hoef nie te wag dat die Gees ons deur drome of visioene hoef te lei nie.  Hy lei ons wanneer ons die betrokke saak met ander gelowiges bespreek het (‘ons was versekerd’, v.10).  Hy lei ons wanneer ons aktief gehoorsaam is, en nie wanneer ons passief rondsit nie.  Om die Here se wil te ken moet al hierdie faktore saamwerk.  As ons een van hulle uitlos, beland ons in dieselfde gemors as Jona wat ‘n oop deur gehad het, maar buite God se wil was.

 

[3] Die Here stuur soms Christene oor ons pad wat ons help om meer effektief te dien.  Hy het vir Lukas oor Paulus se pad gestuur.  Lukas was ‘n mediese dokter wat die span kon help.  Hy het ‘n joernaal van Paulus se sendingreise gehou en die boek Handelinge geskryf.  Hy het ook inligting versamel om Lukas-evangelie te skryf.

 

Weergeboorte en voorsiening (v.11-15)

 

11 Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, 12 en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ‘n kolonie.  En ons het in hierdie stad ‘n paar dae deurgebring. 13 En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. 14 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. 15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê:  As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar.  En sy het ons gedwing.”

 

Die span wou nie in die nag seil en tussen rotse beland nie.  Daarom het hulle op die eiland van Samothráce oornag.  Die volgende dag het hulle Neapolis toe geseil en die paar kilometer na Filippi toe afgelê (v.11-12).  Filippi was ‘n baie belangrike stad in Griekeland; een van die vier belangrikstes in die Macedonië provinsie.  Die Gees wou die evangelie soontoe neem, sodat dit maklik na die res van die omgewing toe kon versprei.  Die stad is vernoem na Alexander die Grote se pa, Filippus II.  Hy het in 359 v.C. koning van Macedon geword.  Hy het gesien dat die omgewing groen en vrugbaar was, en dat daar baie goud was.  In 31 v.C. het Octavius en Mark Antony hiér teen Julius Caesar se moordenaars, Brutus en Cassius, geveg.  Ná hulle oorwinning het Octavius (later Augustus genoem) Filippi tot ‘n Romeinse kolonie verklaar.  Die inwoners van die stad was Romeinse burgers wat self kon stem, hulle eie regters kon aanstel, en geen belasting betaal het nie (v.21).

 

Toe die Sabbat aanbreek het Paulus en sy span na die Gangites rivier buite Filippi gegaan (v.13).  Omdat daar nie genoeg Joodse mans was nie, was daar nie ‘n sinagoge nie, maar het dít die gebedsplek geword.  ‘n Klompie vroue het bymekaar gekom.  Een van hulle se name was Lidia.  Sy was ‘n godvresende vrou wat nie-amptelik die Joodse geloof aangeneem het.  Sy het duur purper klere uit Tiatire aan die rykes en adelikes verkoop (v.14).  Terwyl Paulus besig was om te preek het God haar hart en verstand geopen om te verstaan (v.14).  Weereens is dit duidelik dat God soewerein is in die redding van sondaars.  Petrus praat van God wat “ons die wedergeboorte geskenk het” (1 Petrus 1:3, cf. Johannes 3:8).  Jesus se woorde was:  “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.  Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).  Lidia en haar huisgesin is gedoop.  Haar gasvryheid en mededeelsaamheid was tekens dat sy waarlik weergebore was (v.15).

 

God red nie altyd 3000 mense op een dag nie (2:41).  Partykeer red Hy een persoon of ‘n gesin (v.14-15).  Moenie dink dat ‘n klein begin niks is nie (Sagaria 4:10).  Moenie mense se wil of emosies manupileer, omdat jy getalle najaag nie.  Jy kan niemand se hart verander nie.  Net Gód kan.  Moet dan nie alewig nuwe metodes uitdink om mense tot bekering te probeer manupileer nie, maar bid en bid en bid en preek.  Moenie bekering in ‘n blik wil druk, sodat jy dink dat iemand wat nie volgens jóú reëls gered is, nie ‘n ware Christen is nie.  Nie almal huil as hulle tot bekering kom nie.  Nie almal het ‘n dag en datum nie.  Nie almal verander soos dag en nag nie.  Daar was ‘n groot verskil tussen Lidia en die tronkwag se bekerings.  Lidia was ‘n ryk morele vrou wat die waarheid gesoek het.  Die tronkwag was ‘n middelklas geharde man.  Lidia se bekering was soos die son wat opkom:  dit het geleidelik lig geword vir haar.  Die tronkwag se bekering was soos wanneer mens ‘n lig aanskakel:  een oomblik was dit donker en die volgende oomblik het die lig in sy hart geskyn.  Die tronkwag het die presiese oomblik van sy bekering geken.  Lidia kon waarskynlik nie dieselfde gedoen het nie.

 

Ons is nie almal predikers nie.  Maar al preek jy nie kan jy nogsteeds vir die Here werk.  Jy kan jou geld, kos, huis, tyd, vervoer, ensovoorts gebruik om die Here se werk te ondersteun (v.15).  As jy dalk gedink het om op te gee met Jesus, die lewe, die kerk, jou gesin, jou huwelik, jou werk, ensovoorts, hoop ek hierdie preek bemoedig jou.  Moenie opgee nie, maar hou aan in die Here se werk.  In Joel Beeke se woorde:  ‘Don’t resign, but re-sign.’

 

* Ek sal volgende week verse 16-40 by hierdie preek byvoeg.