Wees heilig

Snow white

Heilig beteken ‘afgesonder’:  God het ons afgesonder van die wêreld vir Homself.  Die eerste lesers – die Israeliete in die woestyn – was oppad om die Beloofde Land in te neem.  Kort voor die intog het God deur Moses vir hulle gesê:

 

“As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.  Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.  Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.” (Deuteronomium 7:1-5). 

 

God se opdragte in hierdie verse staan uit soos ‘n paal bo water:  [1] Moenie met die nasies om jou trou nie, want [2] hulle sal jou leer om afgode te dien – raak ontslae van hulle vuil afgode.  In Genesis 34:1-35:14 gee God vir hulle hierdie lesse in storievorm.  ‘n Storie het trefkrag en is makliker om te onthou.

 

Sonder jou af van die wêreld (hfst.34)

Jong Dina wou weet wat in die wêreld aangaan.  Sy was nuuskierig en het uitgegaan om te sien wat ánder jong meisies doen (v.1).  Sigem, die prins van die land, was wellustig.  Toe Dina eenkant was het hy haar gegryp en verkrag.  Hy het verlief geraak en teer woorde met haar gepraat om haar gewonde hart te probeer wen. Hy het haar in sy huis ingeneem en saam met haar begin bly (v.26).  In ou Israel het ouers hulle kinders se troues gereël.  Sigem het vir sy pa gevra om die bruidprys aan Dina se pa te betaal en die troue te reël (v.2-4).

 

Toe Jakob hoor dat sy dogter verkrag is het hy stilgebly.  Hy het sy hoofskap versaak.  Sy seuns was briesend en het leiding geneem in hierdie saak (v.5-7).  Sigem se pa, Hemor, het voorgestel dat sy familie en Jakob s’n ondertrou, die grond deel, en so een volk word.  Sy voorstel het die belofte van die land aan Abraham en sy nageslag bedreig (15:18):  in die toekoms sou Hemor en die Hewiete saam met Israel die land besit, en die Here se belofte verongeluk.  Iemand moes dringend intree.

 

Sigem was smoorverlief op Dina en sou enige bruidprys betaal (v.8-12).  Jakob se seuns het hulle kans gesien om hom te manipuleer:  om met Dina te trou, moes hy en sy stad besny word.  Indien hulle dit nie wou doen nie, sou hulle vir Dina vat, oppak en trek.  Soos hulle pa en oupa (Jakob en Laban), het hulle mense bedrieg.  Jakob het hulle misleiding gehoor, maar niks gesê nie.  Hy het sy vaderlike verantwoordelikheid versaak en toegelaat dat sy seuns die leiding neem (v.13-17).  Hemor en Sigem het Jakob se rykdom gesien en was al te gierig om ryk skoonfamilie te hê (v.23).  Hulle het vir die misleiding geval en die res van die stad oortuig om besny te word (v.18-24).  Drie dae na die operasie was die mans seer en buite aksie.  Twee van Dina se volbroers,  Simeon en Levi, het die stad se mans vermoor.  Hulle het vir Dina uit Sigem se huis gaan haal.  Die res van Dina se vol- en halfbroers het die stad geplunder –vee, geld, besittings, vroue en kinders (v.25-29).  Hemor, Sigem en die res van die mans het gedink dat hulle Jakob se rykdom sou kry, maar nou het Jakob húlle rykdom gekry.  Toe Jakob hiervan hoor was hy bang.  Hy het sy seuns aangespreek, nie oor hulle sonde nie, maar omdat hy bang was hy tel moles op met die bure (v.30).  Jakob het God se beloftes betwyfel, want hoe kon die vyand sy gesin uitwis as God aan hom ‘n groot nageslag belowe het?  Dina se broers het nie omgegee wat die bure dink nie:  ‘Ons suster is nie ‘n prostituut nie!’ (v.31), het hulle vir Jakob gesê.

 

Jakob het sy belofte van hfst.28 vergeet:  “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet.  En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.  En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê:  As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.  En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.” (28:18-22).  Die Here het sý belofte gehou en Jakob veilig teruggebring.  Jakob móés Betel toe gaan, maar het nagelaat om sy belofte te hou.  Hy het Sigem toe getrek (33:18) en groot probleme vir sy gesin veroorsaak.

 

Hierdie hoofstuk leer vir ons om nie met ongelowiges uit te gaan of te trou nie (cf. 1 Korintiërs 7:39).  Ongelowiges dink anders as Christene oor Sondae, geld, kinderopvoeding, en die res van die lewe.  Moet veral nie uit desperaatheid met ‘n ongelowige trou, omdat jy na ‘n lang gewag nog nie ‘n Christen-maat ontmoet het nie.  Leer ook dat pa’s verantwoordelik is vir hulle dogters.  Jakob moes leiding neem, maar het nie.  Weereens dink die wêreld anders as ons oor hierdie saak.  Films soos Romeo & Juliet skep die idee dat ouers alewig in die pad staan van ware liefde.  In die wêreld het die ouers nie veel van ‘n sê nie:  die kinders moet vir hulleself besluit.  Volgens die Bybel moet ouers (veral die pa) betrokke wees in hulle dogters se keuse van ‘n huweliksmaat (Eksodus 22:16-17).  Pa’s moenie eers betrokke wil raak as hulle dogters 19 of 25 is nie, maar moet hulle dogters se harte bewaak wanneer hulle 5 en 12 is.  As jy jou kinders van kleins af help om die regte vriende te kies (v.1, 1 Korintiërs 15:33), sal hulle jou hulp verwelkom wanneer hulle die dag lewensmaats moet kies.

 

Sonder jou af van afgode (hfst.35)

Jakob het sy les geleer en sy gesin Betel toe gelei om die Here te aanbid (v.1, 3, 28:20-22).  Hy het hulle beveel om hulle afgode weg te gooi en hulle oorbelle af te haal (v.2).  Nie dat daar iets fout is met oorbelle nie, maar vir hulle kon dit maklik ‘n versoeking word om die oorbelle te smelt en goue godjies te maak (Eksodus 32:2-4, 33:5-6).  Ragel het afgode gehad (31:19) en dalk het Jakob se seuns afgode gekry by die vroue van Sigem (34:29).  Jakob het vir sy gesin gesê om hulle van hulle sonde te reinig (Jakobus 4:8), hulle te bekeer, en skoon klere aan te trek om hulle reiniging uit te beeld (v.2, Galasiërs 3:26-27).  Jakob het die afgode en oorbelle onder ‘n boom begrawe (v.4).  Hy wou uitbeeld dat hierdie dooie gode is, en dat sy gesin finaal klaar was met afgode.

 

Die Here het vir Jakob beskerm, sodat die omliggende stede hom nie aangeval het soos hy gevrees het nie (v.5, 34:30).  Daar aangekom, het Jakob sy belofte vervul, die plek herbenoem as Betel, en sy trou aan die Here herbevestig (v.6-7, 14-15).  God was tevrede met Jakob se poging.  Hy het aan Jakob verskyn, sy nuwe naam (Israel) en die beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het, herhaal (v.9-13).

 

Wat sal jou reaksie wees as iemand kerk toe kom met ‘n Hindu afgod onder sy arm, en die afgod se kop streel terwyl hy lofliede aan die Here sing?  As jy ‘n ware Christen is sal jy geskok wees.  En tog bring ons afgode in ons harte saam kerk toe as ons kom om die Here te aanbid.  Paulus sê gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Hoe weet ‘n mens wat die afgod in jou hart is?  Vra vir jouself:

 

  • Wat oorheers my lewe?
  • Wat vul my dagdrome?
  • Wat maak my woedend en angstig?
  • Wat is vir my so belangrik, dat ek maklik stiltetyd of kerk daarvoor sal mis?
  • Waaraan spandeer ek die meeste van my tyd en geld?

 

Antwoorde sal wissel van TV tot kos, musiek, lekkergoed, geld, rook, werk, oefen, troeteldiere, ‘n sekere persoon, stokperdjies, jouself, sekuriteit, en vele meer.  Die Bybel sê:  “alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” (1 Korintiërs 6:12).  “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.” (1 Korintiërs 10:14).

 

Hoe moet jy hierdie afgode begrawe?  Moenie vir jouself geleenthede skep waar jy versoek kan word nie.  Verwyder dit wat jou versoek.  As sjokolade vir jou ‘n probleem is, moet jy nie sjokolade in jou yskas hou nie (Romeine 13:14).  Moet ook nie sê:  ‘Ek sal môre ophou rook’ nie.  Los dadelik dit wat vir jou ‘n probleem is.  Moenie uitsonderings toelaat of vir jouself ‘n agterdeur ooplos nie.  Begrawe die afgod heeltemal en moenie dat sy blink goue pens uitsteek nie.  Moenie jou verslawing verskoon of regverdig, sodat jy sê:  ‘Dis nie vir my ‘n probleem nie.’  Almal om jou kan sien dat kos vir jou ‘n probleem is.  Hoe gouer jý dit erken, hoe beter.  Los jou afgode.  Aanbid die ware God.  En as jy iets aan Hom belowe het, betaal jou beloftes.

 

The dearest idol I have known,

whate’er that idol be,

help me to tear it from Thy throne,

and worship only Thee

 

-William Cowper-

 

Om heilig te wees beteken nie dat jy ‘n strak gesig het, jouself afsonder soos ‘n monnik, of ‘n stel reëls navolg wat sê:  ‘Jy mag nie TV kyk, rook, ensovoorts’ nie.  Heiligheid is om afgesonder en rein te wees vir God in ‘n donker en bose wêreld:  “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” (Johannes 17:15).