God se helpers

Strong grip

By ‘n konferensie het Paul Tripp gesê:  ‘Ek bid elke dag drie versoeke.  [1] Ek is behoeftig.  [2] Here, stuur U helpers oor my pad.  [3] Gee my die nederigheid om die hulp te aanvaar as dit kom.’  In Handelinge 18 sien ons hoe die Here verskeie helpers gestuur het om vir Paulus, Apollos, en ander gelowiges te bemoedig.

 

In Agaje (v.1-18a)

 

1 En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom. 2 En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek.  Na hulle toe het hy gegaan; 3 en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag. 4 En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.

 

5 En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is. 6 Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê:  Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.  Van nou af sal ek na die heidene gaan. 7 En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. 8 En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop. 9 En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê:  Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; 10 want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad. 11 En hy het daar gebly ‘n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.

 

12 En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring 13 en gesê:  Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. 14 En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode:  As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; 15 maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. 16 En hy het hulle van die regterstoel weggedryf. 17 En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie. 18 En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het…”

 

Paulus het uit Atene vertrek en 80 km wes gereis Korinte toe (v.1).  Hier het hy ‘n Joodse paar ontmoet:  Aquila en Priscilla.  Aquila was afkomstig van Pontus aan die suidkus van die Swartsee.  Hy het moontlik die evangelie gehoor by iemand wat in 2:9 tot bekering gekom het.  Hy het Rome toe getrek.  Dalk het hy sy vrou dáár ontmoet of geskuif vir besigheid (v.2).  Aquila en sy vrou het Korinte toe getrek omdat keiser Claudius die Jode uit Rome verdryf het.  In sy biografie oor Claudius se lewe sê Suetonius:  ‘Claudius expelled the Jews from Rome, as they were constantly raising disturbances under the instigation of one Chrestus [Christus].’  Dit blyk of die ongelowige Jode gedurig moles gemaak het oor Jesus as die Christus/Messias.  Daarom het Claudius alle Jode beveel om die stad te verlaat.

 

Aquila en Priscilla was, soos Paulus, tentmakers.  Daarom het Paulus by hulle gebly en saam met hulle gewerk.  Paulus het geen ander bron van inkomste gehad nie, en moes vir homself ‘n salaris verdien.  Hy wou nie die kerke belas nie en wou ook vir hulle ‘n voorbeeld stel van harde werk:

 

“Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (20:33-35). 

 

Hy wou ook vir die gelowiges ‘n voorbeeld stel van harde werk:  “Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie.  Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.  Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel:  as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:7-10).

 

Aquila en Priscilla was getroue helpers wat hulle huis tot sy beskikking gestel het (v.3).  Hulle het seker baie by Paulus geleer (v.4).  Toe die Jode kon terugtrek Rome toe, het dié twee helpers hulle huis vir die kerk oopgestel.  So beskryf Paulus hulle:  “Groet Priscílla en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.  Groet ook die gemeente by hulle aan huis.” (Romeine 16:3-5).

 

Twee ánder helpers, Silas en Timoteus, het teruggekom van Berea af (v.5, 17:14).  Paulus het nie meer nodig gehad om tente te maak vir ‘n inkomste nie.  Hy was nou amper elke dag besig met die Woord.  Silas en Timoteus het vir hom ‘n geskenk van Macedonië af gebring (2 Korintiërs 11:9, Filippense 4:15).  Paulus het dadelik vir Timoteus Tessalonika toe gestuur om die gelowiges te help (1 Tessalonisense 3:1-6).

 

Paulus het uit die Skrifte bewys dat Jesus die Messias is (v.5).  Toe die Jode hom teëstaan, het hy sy klere uitgeskud om te wys dat God hulle uit sy Koninkryk sal uitskud (v.6, 13:51).  Voortaan sou hy na die heidene toe gaan.  Hy het vir die Jode gesê:  “Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.” (v.6, 20:26, Esegiël 3:18-21).  Paulus het nie meer sinagoge toe gegaan nie, maar langsaan in Justus se huis gepreek (v.7).  Crispus, die hoof van die sinagoge, het saam met sy huisgesin tot bekering gekom.

 

Onthou dat Korinte ‘n goddelose en immorele stad was.  Die tempel van Venus, die godin van liefde, was in Korinte.  Elke nag het ‘n duisend prostitute as seksslawe by die tempel gaan ‘werk’.  Baie van die Korintiërs was voorheen moordenaars, dronkaards, diewe, leuenaars, afgodsdienaars, homoseksueles, egbrekers (1 Korintiërs 6:9-11).  Hiérdie agtergrond maak v.8 indrukwekkend:  “En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.”

 

Paulus was bang vir die vyandige Jode.  Jesus het hom vertroos:  “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (v.9-10).  Jesus gebruik uitverkiesing as ‘n motivering vir evangelisasie:  ‘Ek het baie mense in hierdie stad.’  Paulus moet aanhou preek, omdat baie van die uitverkorenes nog tot geloof moet kom.  Verskeie tekste leer hierdie selfde waarheid:

 

“Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie [die heidene].  Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder… Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” (Johannes 10:16, 26-27).  Mense wat nie na Jesus se stem luister nie is nie sy skape nie.  Die ware uitverkorenes sal na sy stem luister.

 

“Paul, a servant of God and an apostle of Jesus Christ, for the sake of the faith of God’s elect and their knowledge of the truth” (Titus 1:1, ESV).  Jesus het vir Paulus geroep, sodat die uitverkorenes tot geloof kon kom en die waarheid ken.

 

“Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.” (2 Timoteus 2:10).  Paulus was bereid om enige lyding te verduur, sodat die uitverkorenes gered kon word.

 

God se volk het nie net uit Jode bestaan nie, maar ook uit heidene wat die evangelie geglo het (v.10, 1 Petrus 2:9-10).  Ná Jesus se bemoediging het Paulus vir 18 maande aangehou preek (v.11).

 

In dié tyd was Gallio goewerneur van Agaje.  Sy broer Seneca sê oor hom:  ‘there is none who does not love Gallio’.  Die Jode het vir Paulus gegryp om hom voor die hof te daag.  Hulle het vir Gallio gesê dat Paulus se evangelie nie ‘n wettige godsdiens van die Romeinse Ryk was nie.  Gallio wou nie hulle klag aanhoor nie en het hulle weggejaag.  In effek het hy gesê:  ‘Van wanneer af moet almal volgens júlle godsdiens aanbid?’  Die toeskouers het Sosthenes, die hoof van die sinogoge (Crispus se opvolger), gegryp en geslaan (v.12-17).  Hulle het besef dat hý die hofsaak teen Paulus aangehits het.  Paulus het hom vergewe, en volgens 1 Korintiërs 1:1 het hy tot bekering gekom.  Jesus het sy belofte nagekom:  “niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie” (v.10).  Die Here het vir Gallio as helper gebruik om vir Paulus te beskerm en die evangelie wettig te maak.  Paulus het vir ‘n lang tyd in Korinte aangebly (v.18a).

 

Evangelie-werkers is gedurig besig om te preek en te bedien, en kry baie min kans om preke te hoor en bedien te word.  So raak hulle maklik leeggetap.  Daarom gee die Here verskeie vorme van hulp om hulle te verfris:

 

  • Hulle word verfris deur Jesus en sy Woord (v.9-10). ‘n Sendeling of predikant wat nie tyd met Jesus spandeer nie; wat nie tyd maak vir die Woord en gebed nie, sal baie gou uitbrand.
  • Om hulle te bemoedig red die Here sondaars; dalk selfs hulle vyande (v.8, 17).
  • Die Here gee helpers en mede-werkers om hulle te versterk (v.2, 5).
  • Die Here stuur mense om hulle te help met blyplek, geld, vaardighede, vriendskap, tyd, gawes, invloed (v.1-3, 5, 7, 15). ‘n Paar voorbeelde sal jou help om te verstaan wat ek bedoel. ‘n Afgetrede predikant in Wallis gebruik sy tyd om jong predikante te besoek en te bemoedig. ‘n Man in Krugerdorp gebruik sy drukkery om Christelike literatuur vir sy kerk te druk – gratis. ‘n Ryk sakeman betaal vir sendelinge om Rusland toe te gaan. ‘n Ryk man in Midrand het vir jare ‘n Predikante-konferensie in Magaliesburg geborg. ‘n 90-Jarige tannie in Nelspruit bel en bemoedig sendelinge en predikante op hulle verjaarsdae. ‘n Gawe man in Bronkhorstspruit het sy huis omskep in ‘n plek waar arm mense Christen kampe kan bywoon. Hy voorsien die kos, beddens en kapel.

 

In Asië (v.18b-28)

 

18 hy [het] van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila.  En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen. 19 En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. 20 En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, 21  maar van hulle afskeid geneem en gesê:  Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil.  En hy het van Éfese afgevaar. 22 En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë. 23 En nadat hy ‘n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.

 

24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte. 25 Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het. 26 En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê. 27 En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang.  En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut; 28 want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.”

 

Paulus het Korinte verlaat om sy tuiskerk in Sirië te besoek (v.18).  Hy het vir Priscilla en Aquila saamgevat.  In Kenchreë het hy sy hare afgeskeer (Numeri 6:18).  Hy het waarskynlik ‘n Nasireërgelofte gemaak (Numeri 6) om dankie te sê dat die Here hom volgens die belofte van v.9-10 beskerm het.

 

Toe Paulus in Efese kom het hy in die sinagoge gaan preek en vir Priscilla en Aquila in die stad gelos (v.19).  Hulle het ‘n huis gekry en dáár kerk gehou (1 Korintiërs 16:19, 8).  Die Jode in Efese het gretig na Paulus geluister – dalk omdat hy volgens Joodse gebruik sy geskeer het (v.20, 1 Korintiërs 9:20).  Hulle wou gehad het Paulus moes langer bly, maar hy het gesê:  “ek sal weer na julle terugkom as God wil.” (v.21).  Hy het die beginsel van Jakobus 4:13-16 verstaan:  As die Here wil.

 

Paulus het Sesarea toe gegaan en toe ‘opgegaan’ Jerusalem toe om sy gelofte te vervul en sy geskeerde hare te verbrand (Numeri 6:18).  Hy is Antiochië toe (sy tuiskerk) en het na ‘n geruime tyd vertrek om die kerke te besoek wat hy in hfst.13-14 geplant het (v.22-23).

 

Apollos, ‘n Jood uit Alexandrië het intussen Efese toe gekom.  Apollos was vaardig, wys, vlot, logies, kragtig, gesagvol, geleerd, vurig, moedig, en akkuraat in die Skrif.  Hy het egter nie die Gees- of waterdoop van Jesus geken nie (v.24-25).  Priscilla en Aquila het baie by Paulus geleer en vir Apollos eenkant toe geneem om Jesus se doop aan hom te verduidelik (v.26).  Apollos het nóg sterker geword, sodat hy die Korintiër-Christene beter kon help en die ongelowige Jode maklik kon weerlê (v.27-28).

 

Die predikant of sendeling is nie alleen verantwoordelik om die kerk te bedien, versterk, en bemoedig nie.  Elke gelowige is verantwoordelik om ander te ondersteun en te versorg (soos Priscilla en Aquila vir Paulus gehelp het).  Kyk uit en vra:  ‘Wie kort hulp?’  Dalk kort jy hulp uit God se Woord:  ‘Hoe kan ek gered word?… Hoe kan ek hierdie sonde oorkom?… Ek is angstig en het Bybelse raad nodig… Hoe moet ek nee sê vir versoeking?… Ek is verward… Ek twyfel… Ek is siek en het vertroosting nodig… Ek het antwoorde nodig… Ek gaan deur ‘n swaar beproewing… Ek weet nie hoe om hierdie verse toe te pas nie… Ek kort wysheid’.  Ek is bereid om te help as ek kan.  Bel of e-pos my:  i4@absamail.co.za of 084 699 2030.

 

Leer uit Priscilla en Aquila se voorbeeld hoe om iemand tereg te wys:  vat die persoon eenkant; wees sagmoedig; staaf jou argumente uit die Bybel.  Leer uit Apollos se voorbeeld hoe om teregwysing te aanvaar:  wees nederig genoeg om teregwysing te aanvaar; wees bereid om by leke te leer.  Moenie jou leraar aanbid nie, maar erken dat selfs die mees geleerde teoloë voete van klei het (v.26, 1 Korintiërs 1:12, 3:6-7).

 

God se helpers is soos ‘n yskoue Coke op ‘n warm dag, soos ‘n tydige wind in ‘n skip se seile.  As jy ‘n Christen is kan jy verseker wees dat die Here hulp sal stuur as jy dit nodig het.  Vra net:  “roep My aan in die dag van benoudheid:  Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).

Advertisements