God is soewerein oor sonde

Sunlight cross

As ons sê God is soewerein oor sonde, reageer baie mense verkeerd.  Party sê:  ‘As God soewerein is oor sonde is Hý die outeur daarvan en is dit sý skuld.’  Óf:  ‘God is nie verantwoordelikheid vir sonde nie, en daarom kan Hy nie soewerein wees daaroor nie.  Die duiwel is soewerein oor sonde.’  Ander sê:  ‘God is nie alwetend nie, want as Hy was sou Hy nie toegelaat het dat die duiwel en die mens gesondig het nie.’  En nóg ander:  ‘God kan nie goed en almagtig wees nie.  ‘n Goeie God sal nie sonde toelaat nie, en ‘n almagtige God kan dit keer.  Óf God is goed, óf Hy is almagtig – Hy kan nie beide wees nie.’  Maar volgens die Bybel is God goed en almagtig.  Hy is soewerein oor sonde, maar nie die oorsaak daarvan nie.  Dit is wat ons in Genesis 38 sien.

 

Wêreldsgesindheid (v.1-11)

 

1 In dié tyd het Juda afgetrek, van sy broers af weg, en uitgedraai na ‘n man van Adúllam met die naam van Hira. 2 En Juda het daar die dogter van ‘n Kanaänitiese man gesien met die naam van Sua; en hy het met haar getrou en by haar ingegaan. 3 En sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar, en sy het hom Er genoem. 4 Daarna het sy weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Onan genoem. 5 En sy het nog weer ‘n seun gebaar en hom Sela genoem; en hy was in Kesib toe sy hom gebaar het.

 

6 En Juda het vir Er, sy eersgeborene, ‘n vrou geneem, en haar naam was Tamar. 7 Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag.  Daarom het die HERE hom laat sterwe. 8 Toe sê Juda vir Onan:  Gaan in by die vrou van jou broer en sluit die swaershuwelik met haar en verwek vir jou broer ‘n nageslag. 9 Maar Onan het geweet dat die nageslag nie syne sou wees nie; daarom het hy, elke keer as hy by die vrou van sy broer ingaan, dit op die grond verderwe om vir sy broer geen nageslag te gee nie. 10 En dit was verkeerd in die oë van die HERE wat hy gedoen het; daarom het Hy hom ook laat sterwe. 11 Toe sê Juda vir Tamar, sy skoondogter:  Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is.  Want hy het gedink:  Anders sterwe hy ook soos sy broers!  So het Tamar dan gaan woon in die huis van haar vader.”

 

Juda het van sy broers af weggetrek.  Sy gewete het hom gepla nadat hy vir Josef verkoop het (37:26-28).  Hy het die wêreld liefgekry en noord-wes getrek Adullam toe.  Daar het hy vriende gemaak met Hira en met ‘n Kanaänitiese vrou getrou (v.1-2, kontrasteer 28:1).  Soos Simson, het Juda volgens die luste van sy oë gelewe (v.2, 15, Rigters 14:2-3, 16:1, gesien).  Juda het met Sua se dogter geslaap en drie seuns gehad:  Er, Onan, en Sela (v.3-5).  Juda was in Kesib toe Sela gebore is.  Kesib beteken ‘vals’ en pas mooi in by die leuens en bedrog van Jakob en sy familie.

 

Juda het ‘n vrou vir Er gekies:  Tamar.  Omdat Er boos was het die Here hom doodgemaak (v.6-7).  Juda het skuld gedra, omdat hý sy gesin in ‘n goddelose samelewing grootgemaak het en self ook seksueel losbandig was en ‘n slegte voorbeeld gestel het (v.1-2).  Deur sy seun dood te maak het die Here vir Juda gestraf vir wat hy in 37:26-28 gedoen het.  Juda het vir Onan gevra om met Tamar te trou, en namens sy broer kinders te verwek (Deuteronomium 25:5-6).  Onan was boos en selfsugtig:  hy wou nie kinders in sy broer se naam grootmaak nie, en het gesorg dat Tamar nie swanger word nie.  God het hom ook doodgemaak (v.8-10).  Juda wou nie gehad het dat Sela met Tamar moes trou nie, want hy was bang dat God sy jongste seun óók sou doodmaak.  Daarom het hy vir Tamar bedrieg en gesê dat sy moes wag om met Sela te trou:  “Bly ‘n weduwee in die huis van jou vader totdat my seun Sela groot is.” (v.11).

 

Onsedelikheid (v.12-30)

 

12 En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe.  En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet. 13 En hulle het Tamar te kenne gegee en gesê:  Kyk, jou skoonvader gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer. 14 Toe trek sy die klere van haar weduweeskap uit en bedek haar met ‘n sluier en draai haar toe; en sy het gaan sit by die ingang van Enaim wat op die pad na Timna lê.  Want sy het gesien dat Sela groot geword het, maar sy was aan hom nie as vrou gegee nie. 15 Toe Juda haar sien, het hy haar vir ‘n hoer gehou, omdat sy haar gesig toegebind het; 16 en hy het na haar uitgedraai by die pad en gesê: Kom tog, laat my by jou ingaan; want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter was nie.  En sy vra:  Wat sal jy my gee as jy by my ingaan? 17 En hy antwoord:  Ek sal jou ‘n boklam van die kleinvee af stuur.  Toe sê sy:  As jy ‘n pand gee totdat jy dit stuur. 18 En hy sê:  Wat is die pand wat ek jou moet gee?  Toe antwoord sy:  Jou seëlring met die bandjie en jou staf wat in jou hand is.  Hy gee dit toe aan haar en gaan by haar in, en sy het by hom swanger geword. 19 En sy het opgestaan en weggegaan en haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.

 

20 En Juda het die boklam gestuur deur middel van sy vriend, die Adullamiet, om die pand uit die hand van die vrou te gaan haal.  Maar hy het haar nie gevind nie. 21 Toe vra hy die mense van haar woonplek:  Waar is daardie hoer wat in Enaim by die pad was?  En hulle antwoord:  Hier was geen hoer nie. 22 Daarop gaan hy na Juda terug met die berig:  Ek het haar nie gevind nie.  En die mense van die plek het ook gesê:  Hier was geen hoer nie. 23 Toe sê Juda:  Laat sy dit hou, dat ons nie ‘n bespotting word nie.  Kyk, ek het hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gevind nie.

 

24 Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê:  Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery!  En Juda sê:  Bring haar uit, dat sy verbrand kan word. 25 Terwyl sy uitgebring word, laat sy haar skoonvader dit weet:  By die man aan wie hierdie dinge behoort, is ek swanger.  En sy het gesê:  Kyk tog mooi aan wie hierdie seëlring en bandjies en staf behoort. 26 En Juda het dit herken en gesê:  Sy het reg teenoor my, want ek het haar mos nie aan my seun Sela gegee nie.  En hy het haar verder nie meer beken nie.

 

27 En toe sy sou baar, was daar ‘n tweeling in haar skoot. 28 En terwyl sy baar, het een die hand uitgesteek; en die vroedvrou het dit gegryp en ‘n rooi draad om sy hand gebind en gesê:  Hierdie een is eerste gebore. 29 Maar toe hy sy hand teruggetrek het, word sy broer gebore!  En sy sê:  Hoe kragtig het jy deurgebreek!  En hulle het hom Peres genoem. 30 En daarna is sy broer gebore aan wie se hand die rooi draad was.  En hulle het hom Serag genoem.”

 

Juda se vrou het gesterf.  Ná die begrafnis het die tyd gekom om skape te skeer.  Tamar het geweet dat dít ‘n tyd van feestelikheid en dronkenskap was (1 Samuel 25), en dat seksuele losbandigheid dikwels op dronkenskap volg.  Daarom het sy haar weduwee-kleed uitgetrek en soos ‘n prostituut aangetrek.  Sy wou graag ‘n kind hê en het gesien dat sy nie met Sela gaan trou nie (v.12-14).  Sy was seker dat Juda vir haar sou val – veral omdat sy vrou dood was en gebrand het van begeerte.  Juda het gedink Tamar is ‘n prostituut en het vir haar geval.  Hy het ‘n boklam aangebied as betaling.  Omdat Juda nie die betaling by hom gehad het nie, het Tamar sy staf en seëlring met die bandjie as waarborg geneem.  Hy het met haar geslaap.  Sy het swanger geword.  By die huis het sy weer haar weduwee-kleed aangetrek.  Noudat sy swanger was, was sy tevrede om ongetroud te bly (v.15-19).

 

Juda het sy vriend Hira met ‘n boklam gestuur om sy staf en seëlring terug te kry.  Hira het oral gesoek en selfs rondgevra, maar kon haar nie kry nie.  Juda het vir Hira gesê:  ‘Ons het probeer en haar nie gekry nie.  Los liewer die hele saak, want net-nou lag die mense vir ons.’ (v.20-23).  Drie maande later het mense gesien dat Tamar ‘n swanger maag onder haar weduwee-kleed gehad het.  Hulle het geweet wat dít beteken:  sy het rondgeslaap.  Toe hulle dit vir Juda vertel het hy gesê:  ‘Verbrand haar.’ (v.24).  Hy het nie omgegee dat die ongebore babas ook verbrand sal word nie.  Vandag nog slaap ma’s rond en straf hulle die ongebore kinders deur hulle te vermoor (aborsie).  En dit terwyl die Skrif sê:  “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” (Deuteronomium 24:16).  Juda het nie daaraan gedink dat hy óók losbandig was en die doodstraf verdien het nie.  Tamar het die staf en seëlring vir Juda gestuur.  Juda het dit herken en onthou dat hy nie sy belofte oor Sela nagekom het nie (v.11).  Tamar is nie verbrand nie.  Juda het nie weer met haar geslaap nie, omdat hy bang was dat die Here hom ook sou doodmaak (v.7, 10, 25-26).

 

Ses maande later was Tamar in kraam met ‘n tweeling.  Een van die babas het sy hand uitgesteek.  Die vroedvrou het ‘n rooi tou om sy gewrig vasgebind om te wys dat hy eerste gebore is.  Die baba het sy hand teruggetrek, sodat die ánder baba eerste gebore is.  Omdat hý deurgebreek het, het hulle hom Peres genoem.  Die baba met die rooi tou om sy gewrig is tweede gebore en Serag genoem (v.27-30).

 

Watse lesse leer ons uit Genesis 38?  Ons leer ‘n les oor Jesus.  Juda en Tamar was Jesus se voorsate (Matteus 1:3).  Alhoewel Jesus se voorsate groot sondaars was, was Hý sonder sonde.  Job het gevra:  “Wat is die mens, dat hy rein sou wees?  En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?” (Job 15:14).  Van almal wat uit ‘n vrou gebore is was net Jesus rein.  Jesus se voovaders was groot sondaars om te wys dat Hy groot sondaars red.  Tamar was ‘n heiden om te wys dat Jesus nie net vir Jode gesterf het nie, maar vir die hele wêreld:  Jode en heidene (Johannes 3:16, Openbaring 5:9).

 

God is soewerein oor aakligste sondes soos moord, verkragting, prostitusie, en die kruisiging van God se Seun:  “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring.” (Handelinge 2:23).

 

[1] God is soewerein en kan sonde keer.  Hy het gekeer dat Abimeleg met Sara slaap (20:6), dat Israel se vyande hulle besittings begeer (Eksodus 34:24), dat Bileam sondig (Numeri 22).  Hy het Jerobeam se hand laat uitdroog toe hy kwaad geword het en die profeet wou gryp (1 Konings 13:4).  Die Jode kon nie vir Jesus arresteer nie, omdat God hulle gekeer het (Johannes 7:30).  God het vir Paulus gekeer toe hy oppad was om Christene te arresteer (Handelinge 9).  In die V.S.A. het ‘n ateïs toesprake gelewer waarin hy God se Naam gelaster het.  Toe hy in ‘n sekere dorp sou optree, het die Christene gebid dat die Here hom moet keer.  Toe hy die aand opstaan om te praat het sy keel skielik toegetrek.  Hy kon nie ‘n woord uitkry nie.  God het hom gekeer.  Dalk het die Here jou al gekeer toe jy wou sondig.  Jy wou ‘n lelike film kyk toe die krag skielik uitgaan.  Jy was oppad om sonde te doen toe jy skielik in verkeer vassit.  Jy wou iemand bel en slegsê toe die selfoon netwerk skielik wegraak.

 

[2] God is soewerein en kan sonde wegvat.  Hy het dit gedoen deur Jesus se kruisdood.  Die Bybel sê:  “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Psalm 103:12).  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9).

 

[3] God is soewerein en kan sonde gebruik om sy Naam te eer.  God het die sonde in hierdie hoofstuk gebruik, sodat die Messias gebore kon word.  Josef se boeties het hom as ‘n slaaf verkoop.  God het dit gebruik sodat Josef koring kon opgaar in Egipte, en sodoende sy familie van die honger kon red (50:20).  Farao het sy hart teen God verhard.  God het dit gebruik, sodat Hy plae op Egipte kon stuur om sy krag te toon (Eksodus 9:16).  Ester het met die koning geslaap om ‘n skoonheidskompetisie te wen.  God het dit gebruik, sodat sy koningin kon word en die Joodse volk kon red.  Judas het vir Jesus verraai en so die Skrif vervul.  Israel het God as hulle koning verwerp en ‘n aardse koning gekies.  God het hulle besluit omgekeer en die Messias uit die koninklike geslag voortgebring.  Dawid het egbreuk gepleeg met Batseba en later met haar getrou.  God het die Messias uit háár nageslag laat voortkom (Matteus 1:6).  Paulus het die kerk vervolg.  Toe die Christene uitmekaar uit spat, het hulle die evangelie versprei (Handelinge 8:1-4).

 

[4] God is soewerein en kan sonde straf.  God het Sodom en Gomorra vir hulle sonde gestraf (hfst.19).  Hy het sy Seun aan die kruis gestraf vir ons sondes.  Hy sal sondaars in die hel straf.

 

Hoe moet jy reageer as God soewerein is oor sonde?

 

  • Moenie dink God is hard en koud oor dinge soos moord en verkragting nie; oor die dinge wat in Genesis 38 gebeur nie.
  • God het Satan en die mens geskep. Moet egter nie daaruit aflei dat Hý die Skepper van sonde is nie. Nee, Hy haat sonde en versoek niemand nie (Habakkuk 1:13, Jakobus 1:13). Dalk sê jy: ‘Hoekom het God vir Satan en die mens gemaak as Hy sonde haat en geweet het hulle gaan sondig?’ Hy het dit gedoen om sy liefde, genade, geduld, krag, toorn, en regverdigheid duideliker te wys teen die donker agtergrond van sonde (Romeine 5:20, 9:22-23, 11:32, 1 Timoteus 1:16).
  • Moenie fatalisties wees en sê: ‘God sal doen wat hy bepaal het, of ek nou sondig of nie.’ (Romeine 6:1). Dis waar dat God ten spyte van ons sonde werk, maar weet ook dat daar bitter gevolge sal wees vir dié wat sonde doen (v.1-11). Onthou dat God nie net soewerein is om sonde te gebruik nie, maar ook om dit te straf (v.6, 10).
  • Het jy ernstig gesondig en moet jy nou die gevolge dra? Is jy jammer oor jou sonde? God is soewerein en kan jou sonde ten goede laat meewerk (hfst.3, Romeine 8:28).
  • Het iemand vreeslik teen jou gesondig? God is soewerein en kan dit ten goede laat meewerk (45:5, 8, 50:20).
  • Voel jy moedeloos en hopeloos oor die boosheid van ons land en wêreld? Die Here is soewerein. Hy kan mense se sondes vir die goeie gebruik en sal die slegte mense straf.
  • Is daar ‘n sonde wat jy haat, maar sukkel om te oorwin? Die Here is soewerein oor sonde. Moet dan nie sê: ‘Ek kan nie hierdie sonde oorwin nie,’ maar glo dat God groter en sterker is as jou sonde.
  • Is jy bang dat jy in die hemel dalk soos die duiwel sal sondig, sodat die Here jou óók sal uitskop? Dit sal nooit gebeur nie. Die Here is soewerein oor sonde en kan jou vir ewig in die hemel behou en bewaar.

 

Abraham Kuyper het gesê:  “There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry, ‘Mine!’”  Jesus het alle mag in hemel en op aarde (Matteus 28:18).  Omdat dít so is is Hy ook soewerein oor sonde.  Dit moet jou laat vrees en wegdraai van jou sonde.  Of dit moet jou vertroos.