Hoe moet ons dink oor geld?

Throwing money

Op ons R1-munt staan:  Soli Deo Gloria (Aan God alleen die eer).  Op Amerika se $1-noot staan:  In God we trust.  Ironies vertrou ons nie meer op God nie, maar het geld ons god geword.  In Lukas 12 sê Jesus hoe ons oor geld behoort te dink.

 

Gierige denke? (v.13-21)

 

13 En een van die skare sê vir Hom:  Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel. 14 Maar Hy antwoord hom:  Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel? 15 En Hy sê vir hulle:  Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie. 16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis:  ‘n Ryk man se grond het goed gedra. 17 En hy het by homself geredeneer en gesê:  Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? 18 Toe sê hy:  Dit sal ek doen:  ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. 19 En ek sal vir my siel sê:  Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. 20 Maar God het aan hom gesê:  Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? 21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”

 

Jesus was besig om te preek (v.1-12).  ‘n Man in die skare het oor geld gedink en nie na die preek geluister nie.  Hy het geweet Jesus is ‘n Rabbi.  Omdat Rabbi’s wetlike aspekte kon uitklaar het hy gesê:  “Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (v.13).  Die wet het gesê ‘n pa “moet die eersgeborene…erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit” (Deuteronomium 21:17).  Die jonger broer sou dus 1/3 van die besittings erf.  Jesus het die man geantwoord:  “Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?” (v.13).  Jesus was wel die Regter van die hele aarde (Johannes 5:22), maar God het menslike regters aangestel om kleiner dispute te hanteer.  Jesus was tog bereid om ‘n Bybelse perspektief op die saak te gee.

 

Pasop vir gierigheid (v.15).  Die lewe gaan nie oor hoeveel geld jy het nie.  Geld moenie jou meter vir geluk wees nie.  Baie ryk mense is ongelukkig.  Toe Stuart Olyott op skool was het hy ‘n pessimistiese vriend gehad.  Dié vriend het vir hom gesê:  ‘When I grow up I want to be rich, because at least I can be miserable in comfort!’

 

Daar was ‘n ryk man wie se boerdery baie voorspoedig was.  Sy skure was te klein vir sy groot oeste.  Hy het beplan om groter skure te bou, al sy oeste vir homself op te gaar, af te tree en te ontspan vir die res van sy lewe (v.16-19).  Dít was sy sekuriteit.  Hy was oortuig dat niks kon skeefloop nie.  Hy was selfgesentreerd en het glad nie die Here erken of gedank nie (die woorde my en ek kom altesaam 12 keer voor in hierdie verse).  Die boer het nie oorweeg dat vuur, natuurrampe, pes, siekte, of diewe sy rykdom kon vernietig nie.  Hy het nie daaraan gedink dat die dood hom kaal kon uittrek nie.  Hy het inderdaad gesterf voordat hy groter skure kon bou (v.20).  Op aarde het hy baie gehad, maar in die hel sou hy niks hê nie (v.21, 16:25).

 

Hoe dink jy oor geld?  Is jy gierig soos die ryk boer?  Toets jouself:

 

  • Is jy ontevrede met jou posisie, sodat jy iemand anders s’n begeer?
  • Kla jy gedurig oor wat jy nié het nie?
  • Dagdroom jy oor hoe jy die LOTTO wen en hoe almal jou beny oor jou duur kar en groot huis?
  • Fantaseer jy oor hoe iemand sterf of ‘n nuwe ___ kry, en jy sy ou een kry?
  • Is jy jaloers op iemand?
  • Baklei jy met iemand (miskien jou huweliksmaat) oor geld (v.13)?
  • Steel, lieg, en kul jy om nóg geld te kry?
  • Dink, beplan, en praat jy gedurig oor geld?
  • Is jy suinig of mededeelsaam?
  • Verkies jy ryk mense se geselskap?
  • Is jou lewensdoel om op te beweeg in die samelewing, of af te tree en te ontspan totdat jy doodgaan?
  • Is jy gedurig besig om op te gradeer na dit wat nuuter en beter is (v.17)?
  • Staan daar duur ‘speelgoed’ in jou stoorkamer of garage wat roes en stof opgaar?
  • Het luukshede vir jou ‘n behoefte geword? Is jy lief vir luuksheid (v.19)?
  • Wens jy Jesus moenie nóú kom nie, omdat jy eers wil ryk word en dinge doen?
  • Vergelyk jy jou kar, huis, klere met ander mense s’n?
  • Is daar hope klere in jou kas wat jy nooit dra nie?
  • Het jy ‘n obsessie met nuwe goed?
  • Is jy verslaaf aan advertensies (blaadjies of infomercials)?
  • Raak jy angstig, onsteld of depressief oor die aandelemark, die swak ekonomie, die wisselkoers, die goudprys?
  • Het jy meer skuld as wat jy kan bekostig?

 

Wat is die oplossing vir gierigheid?  Niks is belangriker as die evangelie nie.  Gierigheid is afgodery (Kolossense 3:5).  Net die evangelie kan jou hart reinig, sodat jy ‘n dankbare mens is.  Dankbaarheid is ‘n baie goeie teenmiddel vir gierigheid.  Werk hard, maar dank God en berus jou in 1 Samuel 2:7:  “Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.”  Vermy mense en advertensies wat jou versoek om ondankbaar en materialisties te wees.  As jy gierigheid in ander areas van jou lewe oorkom, sal dit makliker wees om nee te sê vir geldgierigheid.  Wees dus tevrede met wat jy het en moenie iemand anders se huweliksmaat, posisie, kos, of omstandighede begeer nie.  Moenie skuld maak as jy dit nie gemaklik kan terugbetaal nie.  As jy jouself in die skuld moet dompel om iets te koop het jy dit nie nodig nie.  As jy dit nodig gehad het sou die Here dit vir jou gegee het.

 

Angstige denke? (v.22-34)

 

22 En Hy het aan sy dissipels gesê:  Daarom sê Ek vir julle:  Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. 23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. 24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle.  Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! 25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? 27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. 28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! 29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; 30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.  32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. 33 Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. 34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

 

God gee vir sy kinders lewe en ‘n liggaam.  Sal Hy dan nie ook vir ons kos en klere gee om ons onderhou en ons liggame te bedek nie?  Moet dan nie angstig wees nie (v.22-23).  As God onrein kraaie voed sonder dat hulle plant, oes en in skure opgaar, sal Hy nie vir sy eie kinders kos gee nie (v.24)?  Ons is meer werd as kraaie.  Iemand wat angstig is kan nie eers een el (45 cm) by sy lengte voeg nie (v.25).  As jy nie eers iets klein soos dít kan regkry nie, hoe wil jy deur angstig te wees meer kos kry om 10 jaar langer te lewe (v.26)?  Hooglied sê dat Salomo (of sy vrou?) die lelie van die dale is (Hooglied 2:1).  Tog sweet en spin lelies nie, en nogsteeds is hulle mooier as Salomo met sy mooiste klere aan (v.27-28).  As gras vir God belangrik is, moet jy nie kleingelowig wees en sê dat Hy jou nie wíl of kán help nie (v.28).  Moenie angstig wees en soos die heidene (wat nie God as hulle Vader het nie) na hierdie dinge jaag nie (v.29-30).  Gód sal Hom oor jou bekommer – jý hoef nie (v.30).

 

Jy is soos ‘n Amerikaner wat vir 25 jaar Japan toe gestuur word om jou land te verteenwoordig.  Jy hoef nie oor kos en blyplek te bekommer nie.  Jy moet net jou werk doen – die Amerikaanse regering sal vir jou sorg.  Net so moet jy God se Koninkryk verteenwoordig op aarde (v.31a).  God sal sorg dat jy kos, klere en ‘n blyplek het (v.31b).  Moet dus nie bang wees dat jy nie sal oorleef nie.  As God vir jou ‘n Koninkryk gegee het, sal Hy die res ook gee (v.32, Romeine 8:32).  Soek sy Koninkryk, gee vir sy saak, en belê jou geld in die hemel (v.33).  Vreugde oor aardse rykdom sal saam met jou skatte verdwyn.  Maar as jy ‘n ewige skat in die hemel het, sal jou blydskap vir altyd aanhou.  Dalk sê jy:  ‘Maar my hart is nie in die saak nie.’  Begin om vir die Here se saak te gee (v.33).  Jou hart sal binnekort volg (v.34).  As jy baie geld in aandele belê, begin jy daarin belangstel.  Jy hou die nuus dop en lees die koerant.  Jy wil wéét wat in die mark gebeur.  In God se Koninkryk werk dit dieselfde.  As jy duisende rande sendingveld toe stuur, prikkel dit jou belangstelling.  Skielik wil jy weet wat in die sendingveld aangaan.

 

Om angstig te wees is  ongehoorsaamheid en sonde (Filippense 4:6).  As jy angstig is betwyfel jy God se wysheid, goedheid, sorg, liefde, en krag.  Hier is dan ‘n paar voorstelle om angs te oorkom.

 

[1] As angs sonde is, is die oplossing bekering en nie Xanax of ander pille nie.

 

[2] Onthou hoe God in die verlede vir jou gesorg het.  Laat dit jou aanspoor om te bid dat Hy dit wéér sal doen.

 

[3] Kyk na die voëls, blomme en die res van die skepping (v.24, 27).  Sien hoe die Here vir hulle sorg en omgee.  Onthou dat die mens die kroon van God se skepping is.  Jy is na God se beeld gemaak.  Hy sal vir jou sorg.

 

[4] God is jou Vader.  Dink ná oor wat dit beteken:

  • Hy is goed en gaaf.
  • Hy sorg vir ons.
  • Hy is geduldig met ons.
  • Hy is lief vir ons.
  • Hy voorsien vir ons.
  • Hy tugtig ons vir ons beswil.
  • Hy lei en leer ons.
  • Hy beskerm ons.
  • Hy ontferm Hom oor ons.
  • Hy begeer om geestelike gemeenskap met ons te hê.
  • Hy is gasvry en geniet dit om te gee.
  • Hy is sagmoedig.
  • Hy is betrokke in ons lewens.
  • Hy is altyd met ons.

 

[5] Kry ‘n regte beskouing oor jou geld en besittings op aarde.  Dit sal nie vir altyd hou nie.  Diewe kan dit steel, vismotte kan dit eet, en roes kan dit verniel (v.33).  In vergelyking met hemelse rykdom is aardse rykdom niks (v.33).  Dis swakker as die Zimbabwe dollar teen die Amerikaanse dollar.

 

Prosperity predikers het hulle sekulêre wêreldbeskouing oor geld en besittings in die kerk ingebring.  Ons moet met mag en mening daarvan ontslae raak.  Ons denke oor geld en besittings moet wees soos Jesus s’n in Lukas 12.

Advertisements