’n Christen se sterfbed

Man on deathbed

Op sy sterfbed het wyle Martin Holdt met uitgestrekte arms vir sy bediende gesê: ‘Maria, ek gaan hemel toe!’  Só moet ‘n Christen sterf:  triomfantelik.  Christene hoef nie bang te wees om te sterf nie.  Ons gaan nie in die dal van doodskaduwee nie, maar deur dit.  Die vers oor die dood in Psalm 23 is nie aan die einde van die Psalm nie, maar in die middel.  Daar is iets ná die dood.  Vir gelowiges het die dood nie meer ‘n angel nie (1 Korintiërs 15:55).  Dít leer ons by Jakob op sy sterfbed (Genesis 48:1-49:28).

 

Josef se seuns (hfst.48)

Josef het nuus ontvang dat Jakob op sy laaste was. Hy het sy twee seuns gevat om vir Jakob te gaan groet.  Jakob het onthou hoe God in hfst.28, 35 ‘n groot nageslag en land aan hom belowe het.  Sy oudste twee seuns, Ruben en Simeon, sou nie die erfgename wees nie.  Josef se twee seuns sou.  Jakob het gehoop dat Ragel nóg seuns vir hom kon baar, maar noudat sy dood was het hy Josef se seuns as sy eie beskou (v.1-7).

 

Jakob kon nie meer mooi sien nie, en daarom het hy nie vir Manasse en Efraim herken toe Josef hulle nader gebring het nie. Jakob was soos blinde Isak wat ook nie sý seuns herken het nie (hfst.27).  Jakob het die Here gedank vir al die seën wat hy ontvang het:  “Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.” (v.11).  Jakob het die tweeling op sy knieë laat sit – ‘n amptelike bewys dat hy hulle as sy eie aangeneem het (v.8-12).  Teen dié tyd was hulle al 20 jaar oud (vergelyk 41:50, 45:6, 47:9, 28).  Josef het hulle na Jakob toe gebring, sodat hy hulle kon seën.  Jakob het sy hande gekruis en die jongste bo die oudste geseën (v.13-14, 25:23, hfst.27).  Hy het gesê (v.15-16):

 

Die God voor wie se aangesig my vaders

Abraham en Isak gewandel het,

die God wat my as Herder

my lewe lank gelei het tot vandag toe,

die Engel wat my uit elke

teëspoed verlos het—

mag Hy die seuns seën,

en mag deur hulle my naam genoem word

en die naam van my vaders

Abraham en Isak,

en mag hulle vermeerder

in die land in menigte.

 

Jakob het besef dat die Here hom deur elke teëspoed gelei het (47:9). Die Here was sy Herder (Psalm 23).  Die Here se Boodskapper of Engel (Christus voor sy vleeswording) het hom bewaar.  Die Here sou sy nageslag vermeerder soos visse [Heb. dâgâh].  Jakob het vasgehou aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” (12:2).

 

Josef was nie tevrede toe Jakob sy hande kruis en die jongste bo die oudste seën nie. Maar Jakob het vasgestaan:  Efraim sou groter wees as Manasse.  Efraim sou later sinoniem wees vir Israel (v.17-20, Jesaja 7:2, Hosea).  Jakob het ook Israel se uittog uit Egipte voorspel.  Josef (sy nageslag in Efraim en Manasse) sou die berg in Sigem kry wat Jakob met sy swaard en boog by die Amoriete gevat het (v.21-22).

 

Jakob het wel sy nageslag gesien, maar toe hy dood is was hulle nog nie soos stof nie. Daar het nog nie ‘n menigte nasies uit hom voorgekom nie.  Daar was nog nie konings in Israel nie.  Sy nageslag het nog nie die land in besit geneem nie (28:13-14, 35:11-12).  Maar Jakob het geglo dat die beloftes ná sy dood vervul sou word (v.4, 11, 16, 19-20, 21).  Moenie bang wees dat God se beloftes saam met mense sal sterf nie.  Moenie angstig sê:  ‘As __ sterf, sal die visie en passie vir gesonde teologie, suiwer prediking, sendingwerk, kerkplanting, evangelisasie, goeie teologiese opleiding, stabiele kerkfinansies, administrasie, jeugwerk, ens. saam met hom sterf.’  Nee.  Mense is soos gras en blomme wat vrek en verlep.  Maar die Woord van die Here bly vir ewig (Jesaja 40:8).  Dalk dink jy:  ‘Maar wie sal my gesin en weduwee-ma versorg as ek dood is?  Wie sal vir ongeredde geliefdes bid en met hulle die evangelie deel as ___ weg is?  Wie sal teen die onreg in ons land opstaan as __ dood is?’  God het niemand nodig nie.  Hy kan beter vir jou gesin sorg as wat jy kan.  Hy sal vir die weduwees sorg.  Hy sal sorg dat geregtigheid seëvier.  Hy sal bidders en evangeliste opwek.

 

Jakob se seuns (hfst.49)

Toe Jakob klaar Josef se seuns geseën het, het hy sy eie seuns bymekaar geroep. Hy het oor hulle en hul nageslagte geprofeteer (v.1-2).

 

Ruben (v.3-4) was Jakob se oudste en sterkste seun. Maar hy was onstuimig soos die wit skuim op ‘n brander.  Sy nageslag is deur besluitloosheid gekenmerk (Rigters 5:15-16).  Toe Ruben in 35:22 met sy pa se byvrou geslaap het, het Jakob stilgebly.  Maar nou het sy pa hom voor almal aangespreek.  Moses moes bid dat Ruben se nageslag nie uitsterf nie (Deuteronomium 33:6).

 

Simeon en Levi (v.5-7) het ‘n hele stad se mans uitgemoor (34:25).  Hulle het beeste vermink vir die lekker daarvan.  Nie een van hulle sou die erfgenaam wees nie.  Jakob wou hom nie met hulle toorn assosieer nie.  Sy voorspelling dat hulle versprei sou word het inderdaad so gebeur (Josua 19, 21, 2 Kronieke 34:6).

 

Juda (v.8-12) het die leier geword. In 37:5-11 was hy jaloers dat die broers voor Josef sou buig, maar nou het Jakob gesê dat almal voor hóm sou buig.  Hy sou regeer en sy vyande soos ‘n leeu verskeur (cf. Openbaring 5:5).  Juda was die voorvader van Dawid en sy koninklike nageslag.  Die Messias sou uit Juda se nageslag voortkom en vir ewig regeer.  Al die nasies sou voor Hom buig (Psalm 2).  In v.10 het Jakob gesê:  “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”  Die Hebreeuse naam Silo beteken ‘hy aan wie dit behoort’.  Jakob se bedoeling was dan:  ‘Die heerserstaf sal nie van Juda wyk totdat Hy aan wie dit behoort, kom nie.’  Die een aan wie dit [die Koninkryk] behoort, is Jesus die Messias.  Esegiël 21:27 bevestig dit:  “Ook dit [koning Sedekia se kroon] sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het [die Messias], en aan Hom sal Ek dit gee.”  Jakob het sy profesie oor Juda afgesluit:  “Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.  Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.”  In Juda se nageslag (die Messias) sou die Paradys herstel word.  Onder sy heerskappy sou daar rykdom en gesondheid wees.  Donkies sou in die wingerde wei en nie in die woestyn leef nie.  Mense sou nie bloot in water hoef te bad nie, maar in wyn.  Die Messias en sy nageslag sou donker oë en wit tande hê; hulle sou sterk en gesond wees.

 

Sebulon (v.13) het wel nie teen die kus gebly nie, maar sy gebied was tussen die Middellandse See en die See van Galilea. Hy sou handeldryf tot by Sidon, bo die noordkus van Israel.  Moses het gesê:  “En van Sébulon het hy gesê:  Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Issaskar, oor jou tente.  Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.” (Deuteronomium 33:18-19).

 

Issaskar (v.14) was soos ‘n donkie wat tussen die skape rus. Toe hy móés werk wou hy rus en gemak hê.  Daarom sou hy later ‘n slaaf word en soos ‘n pakesel werk.

 

Dan se naam beteken ‘oordeel’ (v.16-18). Hy sou ‘n regter oor sy volk word.  Dit is vervul in Simson wat een van die rigters was (Rigters 13-16).  Dan sou ook aggressief wees (Rigters 18) – soos ‘n adder wat langs die pad lê en na ‘n perd se hakskene pik.

 

Gad (v.19) het oos van die Jordaan gebly met geen stam regs van hulle om hulle te beskerm nie. Vyande het hulle aangeval, maar hulle het terug geveg.

 

Aser (v.20) het by die see gebly. Met ‘n hawe naby het hulle koninklike lekkernye uit die see en uit die buiteland gekry.

 

Naftali (v.21) sou ‘n tyd van vryheid geniet – vry soos ‘n wildsbok. Dit het inderdaad gebeur onder die leierskap van Debora en Barak (Rigters 4:6).

 

Josef (v.22-26) was soos ‘n vrugteboom langs waterstrome. Sy takke sou oor die muur groei.  Hierdie beeld dui op Efraim wat baie vrugbaar sou wees en sy woongebied sou uitbrei (48:19, Joshua 17:14-18).  Die Almagtige (Shaddai), die Herder, die Rots het Josef se arms versterk toe sy broers hom aangeval het.  Hy het sy boog stewig vasgehou.  Die Here sou hom seën met reën uit die hemel, met baie kinders, met gesonde vee, met dou wat op die ewige berge afloop en die vallei groen maak, en met die eersgeboorte reg onder sy broers (1 Kronieke 5:1-2).

 

Benjamin (v.27) was so wreed soos ‘n wolf wat sy prooi verskeur (Rigters 19-21). Die manne van Benjamin was magtige krygsmanne (1 Kronieke 12:2).  Koning Saul was uit die stam van Benjamin.  Voor sy bekering was Paulus ‘n moordenaar (Handelinge 9).  Ook hý was uit Benjamin (Filippense 3:5).

 

Die seën en profesieë van Jakob oor sy seuns was heeltemal regverdig. Sy woorde aan elke seun het perfek by hulle karakter en nageslagte gepas (v.28).

 

Op sy sterfbed het Jakob nie vir homself gelewe nie. Sy seuns, sy nageslag, en God se raadsplan was vir hom die belangrikste (v.1, 28).  In sy laaste ure het Jesus nie aan Homself gedink nie, maar aan ander (Lukas 23:34, 43, Johannes 19:26-27). Ons moet ook so wees:  “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.  Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Romeine 14:7-8).  “[ek hoop] dat Christus… groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.” (Filippense 1:20).  Op jou sterfbed moet die verre toekoms vir jou belangriker wees as begrafnisreëlings en die wysiging van jou testament.  Jakob het nie net aan die hier-en-nou gedink nie, maar aan die Messias wat kom (v.10).  Sal die dood alles wegvat waarvoor jy gelewe het, of is daar ‘n groter hoop waarna jy uitsien?

 

Ruben, Simeon, en Levi het skaam gekry by hulle pa se sterfbed (v.3-7).  Sal jy op jou sterfbed skaam kry oor sondes wat jou inhaal?  John MacArthur vertel hoe hy by ‘n 78-jarige man se sterfbed gestaan het.  Die man het gehuil en vir hom gesê:  ‘Ek het nooit werklik oorwinning oor pornografie gekry nie.’  Bid vir genade om nie so te wees nie.  Simeon en Levi het seker gehoop vir seën, maar is vervloek (v.7).  Sal die seën wat jy dán verwag in ‘n vloek verander?  Miskien hoop jy om op jou sterfbed seënwense uit te deel, maar dit mag wees dat jy opslag dood is.  Sal jy in vrede kan doodgaan soos Jakob?  Dit kan net gebeur as jy ‘n rein gewete het, in ‘n regte verhouding met God staan, en die evangelie glo:

 

God is heilig en haat jou sonde. Jy is ‘n rebel wat lieg en steel, hoogmoedig en wellustig is, rondslaap en bitter is, jaloers en geldgierig is.  Jy dink te veel van jouself en veg met ander.  Jy dra haat in jou hart.  Jy skinder en word dronk.  Jy het nie selfbeheersing nie.  Jy lewe vir jouself.  God sal jou oordeel en in die hel werp.  Jou enigste hoop is om na God toe te kom, jou sonde te bely, jou daarvan te bekeer, en op sy Seun te vertrou.  Jesus het aan die kruis gesterf en die straf vir sondaars op Homself geneem.  Hy is begrawe en het uit die dood uit opgestaan.  Hy sal die ewige lewe gee vir almal wat Hom liefhet en vra dat Hy hulle sal red.

 

As jý een van Jakob se seuns was en ‘n profesie moes ontvang wat by jou pas (v.28), sou dit goed of sleg gewees het?  Is jy soos sommige van Jakob se seuns wat deur jou slegte leefwyse jou nageslag benadeel (v.1)?  Sal jy die Here op jou sterfbed aanbid soos wat Jakob gedoen het:  “Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.” (Hebreërs 11:21)?

 

Stel nóú al hierdie dinge reg – vóórdat jy sterf. Spyt kom altyd te laat.

 

In die ou dae was baie grafte in die kerk se gronde. Deesdae word grafte tot buite die dorp geskuif.  Dit is ‘n klein gelykenis van hoe ons die dood probeer wegwens en wegpraat.  Maar die dood sal nie weggaan nie.  Die dood is ‘n realiteit waarvan jy nie kan wegkom nie.  Maak gereed om te sterf en jou God te ontmoet.  Jesus het opgestaan uit die dood en is jou enigste hoop:  “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).

Advertisements

Hoe ver sal jy Jesus volg?

Cross on cobblestone

In een lied sing Third Day:  ‘I’ve heard it said that a man would climb a moutain, just to be with the one he loves.  And I’ve heard it said that a man would swim the ocean for the one that he loves.’  Maar wat ‘n man en doen is twee verskillende dinge.  Wanneer ek vra:  ‘Hoe ver sal jy Jesus volg?’ is dit nie mooi praatjies wat saakmaak nie, maar wat jy regtig doen.  In Handelinge 21 stel Paulus vir ons die voorbeeld.

 

Na Jerusalem (v.1-16)

 

1 En nadat ons ons van hulle losgeskeur het, het ons afgevaar en reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan by Pátara. 2 En ons het ‘n skip gevind wat na Fenícië sou oorseil, en daarop gegaan en afgevaar. 3 En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai. 4 En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie. 5 Maar toe ons die dae uitgebly het, het ons vertrek en op reis gegaan, terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid. 6 En nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord gegaan, en hulle het teruggegaan huis toe.

 

7 Maar ons het die seereis van Tirus af voltooi en by Ptolemáis gekom; en ons het die broeders gegroet en een dag by hulle gebly. 8 En die volgende dag het ons, die geselskap van Paulus, vertrek en in Cesaréa aangekom; en ons het ons intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was, en by hom gebly. 9 En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het. 10 En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het ‘n sekere profeet met die naam van Agabus van Judéa afgekom. 11 En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê:  Dít spreek die Heilige Gees:  So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer. 12 En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie. 13 Maar Paulus het geantwoord:  Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak?  Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus. 14 Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê:  Laat die wil van die Here geskied!

 

15 En ná hierdie dae het ons vir die reis klaargemaak en na Jerusalem opgegaan. 16 En sommige van die dissipels van Cesaréa het ook saam met ons gegaan en ons by ‘n sekere Mnason van Ciprus gebring, ‘n ou dissipel, by wie ons sou tuis gaan.”

 

Paulus was so lief vir die Efesiër-ouderlinge, dat hy homself moes losskeur om totsiens te sê (v.1). Paulus-hulle het verby die eiland Kos geseil (Hippocrates, die vader van medisyne, is hier gebore).  Daarna het hulle tot by die eiland Rhodus gevaar.  Jare tevore het ‘n 35 meter hoë beeld van Apollo hier gestaan.  Dit was een van die sewe wonders van die antieke wêreld.  Van Rhodus af het hulle na die mees suidelike punt van Turkye gevaar:  Patara.  Hier het hulle ‘n skip gekry wat na Fenicië toe gevaar het (in Paulus se dae was Fenicië deel van Sirië, maar vandag is dit deel van Libanon).  Hulle het verby die eiland Siprus gevaar en in Tirus gekom (v.2-3).  Hulle het sewe dae daar gebly, seker omdat hulle vir ‘n skip moes wag.  Hulle het rondgevra of daar Christene was en by hulle tuisgegaan (v.4).  Die Ou Testament het voorspel dat mense in Tirus die Here sou dien (Psalm 87:4, Jesaja 23:18).  Reeds toe Jesus op aarde was het ‘n vrou uit Tirus tot bekering gekom (Markus 7:24-31).  Nou was daar nóg inwoners van die stad wat die Here gedien het.

 

Net soos wat die Heilige Gees vir Paulus gesê het dat hy vir die evangelie sou ly, het Hy dit nou vir die gelowiges in Tirus gesê (v.4, 20:22-23). Toe hulle dit hoor het hulle hom gesmeek om nié Jerusalem toe te gaan nie (v.4).  Paulus was egter vasberade (19:21, 20:22).  Hy en sy span het vertrek.  Die hele groep gelowiges – mans, vroue, en kinders – het hulle tot by die skip vergesel.  Hulle het saam met die sendelinge op die strand gekniel en gebid (v.5).  Wat ‘n wonderlike prentjie van Christelike gemeenskap – dat daar so ‘n diep liefde en eenheid kan ontstaan tussen mense wat mekaar sewe dae gelede ontmoet het!  Die sendingspan het ‘n skip gekry wat oppad was Ptolemais toe (v.6).  Daar aangekom het hulle dadelik die gelowiges gaan groet (v.7).  Ná Ptolemais het Paulus-hulle Sesarea toe gevaar.  Hulle het in Filippus se huis gebly.  Hy was ‘n evanglis en ook een van die diakens van 6:5 – ‘n man vol van die Heilige Gees en geloof (v.8, Efesiërs 4:11).  Hy het reeds vir 20 jaar in Sesarea gebly (8:40).  Cornelius het ook eens hier gebly, maar of hy steeds hier was weet ons nie (hfst.10).  Filippus het vier ongetroude dogters gehad wat geprofeteer het (v.9).  Het hulle vir individue geprofeteer?  Het hulle vir vroue geprofeteer?  Die teks sê nie vir ons nie.  Ons weet dat hulle nie leraars in die gemeente was nie, omdat die Skrif sê dat ‘n vrou kan nie ‘n ouderling of predikant kan wees nie (1 Korintiërs 14:33-35, 1 Timoteus 2:11-12).

 

Terwyl Paulus en sy span daar was het ‘n profeet van Jersualem, Agabus by naam, Sesarea toe gekom. Hy het in hfst.11 voorspel dat daar ‘n wêreldwye hongersnood sou kom.  Dit het gebeur soos hy gesê het.  Agabus het weer geprofeteer en dié keer sy profesie gedramatiseer (Ou Testamentiese profete soos Esegiël het dit dikwels gedoen).  Hy het Paulus se gordel gevat en sy eie hande en voete daarmee vasgebind.  Hy het voorspel dat die eienaar van dié gordel (Paulus) só vasgebind sou word.  Die Jode sou hom vang en aan die Romeine oorgee.  Sy profesie was akkuraat.  Dit was nie sy eie woorde nie, maar die Here s’n (v.11, ‘So sê die Heilige Gees).  Paulus het later aan die Jode in Rome bevestig dat Agabus reg geprofeteer het:  “Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.” (28:17).  Volgens v.32-33, 22:29 het die Romeine Paulus uit die Jode se hande gered, en het die Romeine hom gebind.  Lukas se punt was egter dat Paulus eers in die Jode se hande sou wees, en daarna in die Romeine s’n.  Hierin was Paulus soos Jesus:  “Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene” (Lukas 18:32).

 

Omdat profete geïnspireerde woorde spreek, is daar nie vandag meer profete nie. God het gesê dat niemand by sy Woord mag byvoeg of wegneem nie (Deuteronomium 4:2, Spreuke 30:6, Openbaring 22:18-19).  Indien daar vandag profete is, is hulle woorde op dieselfde vlak as die Skrif en oortree ons die genoemde verse.  Soos die apostles, was profete nodig om die fondasie van die kerk te lê (Efesiërs 2:20).  Wat is hierdie fondasie?  Die Skrif was nog nie voltooi nie.  God het hulle gebruik om dit neer te pen.  Noudat die Skrif voltooi is het ons nie meer apostels en profete nodig nie.  Hebreërs 1:1 sê:  “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun”.  Die profete se tyd om te spreek is verby.  Jesus se woorde is ook afgehandel en deur die apostels in die Skrifte opgeteken.  Ons het geen nuwe woorde van God af nodig nie.  Alles wat ons moet weet is vir ons in die Bybel neergeskryf.

 

Toe die gelowiges en Paulus se spanmaats Agabus se woorde hoor, het hulle hom afgeraai om Jerusalem toe te gaan (v.12). Paulus was baie lief vir hulle (v.13), maar Hy was liewer vir Jesus (v.13, 20:24).  Die gelowiges het besef dat Paulus, soos Jesus, die Vader se wil sal doen (v.14, Lukas 22:42, Jakobus 4:13-15).  Die span het Jerusalem toe vertrek om betyds te wees vir die Pinksterfees (v.15, 20:16).  Hulle het oppad by Mnason van Siprus gebly (v.16, 11:20).

 

In Jerusalem (v.17-36)

 

17 En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. 18 En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19 En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het. 20 En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê:  U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. 21 En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie. 22 Wat staan ons dan te doen?  Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. 23 Doen dan wat ons vir u sê.  Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het; 24 neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou. 25 Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. 26 Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

 

27 Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan 28 en geskreeu:  Israeliete, help!  Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek.  Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig. 29 Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het. 30 Toe kom die hele stad in beweging, en daar was ‘n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit. 31 En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het ‘n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was. 32 En hy het meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan. 33 Daarop kom die owerste oor duisend nader en neem hom gevange en gee bevel dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het. 34 En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word. 35 En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare. 36 Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu:  Weg met hom!”

 

Die Christene in Jerusalem was bly om vir Paulus-hulle te sien (v.17). Hulle was ook bly oor die geldelike bydrae van die heiden-gemeentes (2 Korintiërs 8-9).  Paulus het in detail vertel wat die Here deur sy prediking in Asië gedoen het.  Jakobus (Jesus se broer) en die Jerusalem-ouderlinge was bly en het die Here hiervoor geprys (v.18-20).  Jakobus het vertel hoe duisende Jode in Jerusalem die evangelie geglo het.  Daar is gerugte versprei dat Paulus die verstrooide Jode teen die wet van Moses, die besnydenis, en Joodse gebruike geleer het (v.20-21, 6:14).  Dit was natuurlik vals.  Paulus het dan sy hare afgeskeer om die Nasireër-gelofte na te kom en ook vir Timoteus besny (16:3, 18:18, Numeri 6).  Al wat Paulus gesê het is dat die wet van Moses, Joodse gebruike, en die besnydenis niks tot ‘n mens se redding kan bydra nie:  “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk… Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Galasiërs 5:6, 6:15).  In hierdie opsig was Jode nie beter af as heidene nie.  Beide moes op Jesus alleen vertrou vir redding:  sy Persoon, lewe, kruisdood, en opstanding.

 

Jakobus het ‘n plan gehad om die situasie te beredder en die gerugte te smoor. Daar was ‘n paar Joodse gelowiges wat die Nasireër-gelofte afgelê het.  Ná so ‘n gelofte moes hulle hul hare afskeer en offers bring.  As Paulus uit sy sak hiervoor betaal het, sou die Joodse Christene gou agterkom dat die gerugte vals was.  Jakobus het nie bedoel dat offers ‘n mens red nie.  Hulle het reeds in hfst.15 gesê dat ‘n mens gered word uit genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen.  Hulle hét op die vergadering gesê dat die heidene nie opsetlik dinge moes doen wat ‘n Joodse Christen se gewete sou skend nie (soos om bloederige vleis te eet).  Die heidene kon nie die Here aanbid soos hulle voorheen hul afgode aanbid het nie (bv. deur losbandige seks).  Die heidene moes ook nie hulle eie gewetens skade aandoen nie (soos om afgodsoffer vleis te eet).  Net so moes Paulus nou alles doen om ander Jode vir Jesus te wen, en niks doen wat ‘n Joodse Christen se gewete sou pla nie (v.22-26, 1 Korintiërs 8:1-13, 9:19-23).  Hy het ingestem.

 

‘n Klomp Jode van Efese in die provinsie Asië, het Jerusalem toe gekom vir die Pinksterfees. Toe hulle vir Paulus sien, het hulle die skare teen hom opgesweep:  ‘Ons ken hierdie man en het gehoor hoe hy in Asië teen die wet en die tempel preek!  Boonop het hy ‘n Griek in die tempel ingebring!’ (v.27-29).  Om teen die wet en die tempel te laster, of om ‘n heiden in die tempel in te bring, was strafbaar met die dood (6:13, Markus 14:57-58, Esegiël 44:9).  Die massas het saamgestorm, vir Paulus gegryp, en die tempel se deure toegemaak.  Hulle was gereed om hom te vermoor.  Die kommandant het berig ontvang.  Hy en sy kapteins het met ‘n paar honderd soldate na die tempel terrein toe gehardloop.  Hulle het vir Paulus uit die skare se hande gered en hom vasgebind.  Die kommandant het vir skare gevra wat aangaan.  Die skare het so tekere gegaan dat hy niks kon uitvind nie.  Die soldate het Paulus na die Antoinia Fort (dié fort het oor die tempelterrein uitgekyk) toe gevat.  Toe hulle by die trappe kom was die skare so ontstoke dat die soldate vir Paulus moes dra. ‘Weg met hom!’, het hulle geskreeu (v.30-36, Lukas 23:18).

 

Sal jy Jesus so ver volg soos wat Paulus Hom gevolg het? “Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” (1 Korintiërs 8:13).  In hierdie hoofstuk was Paulus bereid om offers te bring, sodat hy nie die Joodse Christene sou laat struikel nie (v.26).  Sal jy rooivleis opgee as dit ‘n ander Christen laat struikel?  Sal jy jou kersboom afslaan as ‘n swakker gelowige ‘n gewetensbeswaar daarteen het?  ‘n Jonger Christen het gedink dis verkeerd dat ek vir my seun ‘n Spiderman hemp aantrek.  Sal jy jou kind se superhero beddegoed afhaal as so ‘n Christen by jou huis oorbly?  Drink jy bier of wyn saam met jou kos?  Sal jy dit opgee vir ‘n Christen wat dink dis sonde om alkohol te gebruik?  Sal jy sigarette opgee en tattoërmerke bedek om ander Christene in ag te neem?  Sal jy ‘n Saterdag-rugby wedstryd opgee as ‘n jong Christen beswaard voel oor die pom-pom meisies?  Is jy bereid om ander grys areas op te gee vir jou swakker broer en vir Jesus?  Of is wat vir jóú belangrik is al wat saakmaak?  Is jy die tipe persoon wat sê:  ‘As jy ‘n probleem het met wat ek doen, kom oor dit of kry vir jou ‘n ander kerk!’?  Die Skrif sê:

 

“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees… Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet as dit tot aanstoot is.  Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.” (Romeine 14:17, 20-21).  “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.  Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Filippense 2:3-5).

 

Sal jy Jesus volg as dit self-dissipline, opoffering, verwerping deur ander, die leuens en haat van ander mense teen jou, lyding, armoede, of die dood vereis (v.4, 11-14, 27-36, 20:22-24)? Ons is bereid om op te offer, slaap te mis, kos op te gee, onsself te dissiplineer, en geld uit te gee om:

 

  • Die beste te wees in iets.
  • Fiks te raak.
  • Gewig te verloor.
  • Ons kinders se toekoms te bevorder.
  • Ryk te word.
  • Te ontspan.
  • Ons stokperdjie te geniet.

 

Maar ons nie bereid om dieselfde te doen vir Jesus nie. Ons sal nie slaap mis om gereeld stiltetyd te hou nie.  Ons sal nie onsself dissiplineer om meer gereeld by die kerk te wees nie.  Ons sal nie opoffer om meer betrokke te raak in die Here se diens nie.  Ons sal nie geld afknyp om ‘n bydrae te gee nie.  Ons sal nie kos opgee om te vas nie.  Ons sal nie tyd en geld uitgee om ander te dien nie.  Let op hoe gasvry en mededeelsaam die Christene in hierdie hoofstuk was (v.4-5, 7, 8, 16-17).  Ons het dosyne verskonings vir waarom ons nie opoffer vir Jesus nie:  ‘Ek is te moeg en te besig om Bybel te lees… My kinders moet vroeg in die bed wees, en daarom kan ek nie biduur of aanddiens toe kom nie… Dis te koud om in die aande uit te kom… My familie kom Sondag kuier, en daarom kan ek nie by die kerk wees nie… ens.’  Maar baie mense wat sulke verskonings gebruik sal nie twee keer dink om op te offer vir die dinge wat vir hulle belangrik is nie.  Die waarheid is nie dat hulle te besig of te moeg is nie, maar dat Jesus, sy Woord, en sy mense nie vir hulle prioriteit is nie.  As jy nie eers klein dinge soos tyd en geld vir Jesus kan opgee nie, hoe sal jy jou lewe vir Hom gee?  Sommige Christene is bang dat hulle die Here sal verloën as ‘n geweer teen hulle koppe gedruk word.  Maar as jy elke dag jou kruis opneem hoef jy nie bang te wees nie.  Wanneer die vervolging kom sal die Here jou die krag gee om vas te staan en nie sy Naam te verloën nie (Matteus 10:19, 1 Petrus 4:14).

 

Jesus soek nie ‘n soldaat in sy weermag wat sy ma se lekker kos en sagte bed mis nie. Hy sê:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.” (Lukas 9:23-24).  “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie… So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.” (Lukas 14:26, 33).  “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” (Lukas 9:62).  Iemand wat die Comrades maraton vir 10 km hardloop en dan opgee, kry nie ‘n medalje nie.  En iemand wat 2 km voor die einde stop kry ook nie ‘n medalje nie.  Soos met die Comrades is dit met Jesus:  alles of niks.  “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 10:22).

Al wat saakmaak

 

Purpose

Of jy nou van Rick Warren se Purpose Driven Life verskil of nie – die konsep is reg:  ‘n mens kan nie traak-my-nie-agtig lewe nie.  Jy moet ‘n doel hê; iets waarvoor jy lewe.  Paulus het vir Timoteus gesê:  “You, however, have followed… my aim in life” (2 Timoteus 3:10, ESV).  Maak seker jou lewensdoel is Bybels.  Handelinge 20 illustreer wat vir Paulus saakgemaak het.

 

Paulus in Griekeland (v.1-4)

 

1 En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. 2 En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom. 3 En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. 4 En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus.”

 

Toe die oproer in Efese bedaar het (hfst.19), het Paulus die dissipels na hom toe geroep en hulle bemoedig. Vandaar het hy deur noord en suid-Griekeland gereis om geld in te samel vir die brandarm gelowiges in Jerusalem (v.1-2, 2 Korintiërs 8-9).  Omdat Griekeland in die winter reën kry, wou hy seker nie dán op die see gewees het nie.  Dít mag die rede wees hoekom hy vir drie maande in Korinte, suid-Griekeland gebly het (v.2-3).  Uit Romeine 15:25-26 klink dit of hy in dié tyd Romeine geskryf het.  Toe hy uiteindelik wou vertrek, het die Jode beplan om hom dood te maak.  Hy het daarvan uitgevind en sy reisplanne verander.  In plaas van ‘n skeepsvaart, het hy deur Macedonië, noord-Griekeland gereis (v.3).  Hy het sewe mede-werkers gehad wat gehelp het om die geld te kollekteer (v.4).  Sopater word in Romeine 16:21 Sosipater genoem.  Aristarchus was saam met hom in die tronk (Kolossense 4:10).  Gauis het Paulus gehuisves en ook die kerk in sy huis verwelkom (Romeine 16:23).  Timoteus ken ons.  Tichikus was Paulus se boodskapper aan die gemeentes (Efesiërs 6:21, Kolossense 4:7), en Trofimus was saam met Paulus in Jerusalem (21:29).

 

Paulus se doel was om aan Jesus gehoorsaam te wees, Jerusalem toe te gaan, en sy bediening te vervul (v.21, 24, 19:21). Hy sou helpers kry, die Jode se planne fnuik, en enigiets doen om hierdie doel te bereik (v.3-4).

 

Paulus in Troas (v.5-16)

 

5 Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. 6 Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.

 

7 En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe. 8 En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. 9 En ‘n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ‘n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. 10 Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê:  Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. 11 En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. 12 En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos.

 

13 Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan. 14 Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. 15 En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom. 16 Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.”

 

Paulus se helpers het vooruitgegaan Troas toe en dáár vir hom gewag. Paulus en Lukas het vyf dae ná Paasfees Troas toe gevaar om hulle vriende te ontmoet, en sewe dae daar gewag tot die Sondag (v.6-7).  Die vroeë Christene het nie meer die sewendedag-Sabbat onderhou nie, maar op Sondae byeengekom om Jesus se opstanding te herdenk (Johannes 20:1, 19, 26, 1 Korintiërs 16:1-2, Openbaring 1:10).

 

Die gelowiges het bymekaargekom om nagmaal te hou en die Woord te hoor (v.7, 2:42). Omdat dit reeds middernag was en die olielampe se walms in die lug gehang het, het ‘n sekere jong Eutichus by die oop venster gesit om vars lug te kry (v.7-8, onthou dat hulle nie glas of rame in hulle vensters gehad het nie).  Paulus se lang boodskap en preekstyl het moontlik ook daartoe bygedra dat hy gesukkel het om wakker te bly (2 Korintiërs 10:10, 11:6).  Uiteindelik het moegheid die oorhand gekry.  Eutichus het by die venster uitgeval – 3 verdiepings ver.  Lukas was ‘n mediese dokter en het bevestig dat hy dood was (v.9).  Paulus het saam met die res ondertoe gegaan en hom uit die dood opgewek (v.10).  Hulle het teruggegaan boontoe en nagmaal gehou.  Paulus het sy preek afgesluit toe die son opkom (v.11).  Die gelowiges was vertroos dat Eutichus uit die dood opgewek was (v.12).

 

Paulus se helpers het op ‘n skip geklim en moes 64 km om die land se punt na Assos toe seil. Paulus wou seker nog preek, en het besluit om 32 km uit te sny en oor die land te reis (v.13).  Paulus het in Assos op die skip geklim en verby drie eilande gevaar (v.14-15).  Hulle het aan die suid-weskus van Turkye by Milete gestop (v.16).

 

Weer sien ons dat Paulus vasberade was en ‘n doel vooroë gehad het. Selfs ‘n jongman se dood sou hom nie keer om hierdie doel te bereik nie.  Hy was haastig oppad Jerusalem toe (v.7, 16).  Daarom het hy die jongman opgewek en verder gepreek (v.10-11).  Dit herinner my aan ‘n storie wat ek in Iain Murray se biografie oor Martyn Lloyd-Jones gelees het.  Terwyl Lloyd-Jones een Sondag besig was om te preek, het die Duitsers ‘n gebou naby Westminster Chapel (Lloyd-Jones se kerk) gebom.  As gevolg van die skokgolwe het stukke van die plafon uitgeval terwyl Lloyd-Jones gepreek het.  Hy het nie ‘n oog gewink nie, maar eenvoudig aangehou preek.  Mense was diep beïndruk met sy vertroue in God se soewereiniteit.  Paulus was so vasbeslote om in Jerusalem te kom dat hy die tyd uitgekoop het (Efesiërs 5:16).  Hy het kortpad gevat Assos toe en nie oorgestop in Efese nie (v.13, 16).

 

Paulus in Milete (v.17-38)

 

17 En van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep. 18 En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle:

 

Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het 19 en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode; 20 hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, 21 terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. 22 En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23 behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 25 En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. 26 Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. 31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. 32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. 33 Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; 34 maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. 35 Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

 

36 En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid. 37 En daar het ‘n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen, 38 veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie.  En hulle het hom na die skip begelei.”

 

Toe Paulus die vorige keer uit Efese weg is, was sy lewe in gevaar (hfst.19). Hy het nie tyd gehad om deeglik instruksies vir die kerk se ouderlinge te gee nie (v.1).  Nou was hy haastig oppad Jerusalem toe.  Die ouderlinge moes hom in Milete ontmoet (v.17-18).

 

Hy het hulle herinner aan sy konstante lewe, sy nederige diens, sy trane van liefde vir die gelowiges, sy trane oor die ongelowige Jode en vals leraars, en hoe, ten spyte van vervolging, volhard het (v.18-19, 31, Romeine 9:2, Filippense 3:18). Hy het hulle herinner hoe hy die Woord in die saal van Tirannus en in huise vir hulle gepreek het (v.20).  Hy het vir Jode en heidene gesê dat hulle hulle moet bekeer en die evangelie moet glo (v.21).  Nou het die Heilige Gees hom Jerusalem toe gedryf, en gesê dat hy gedurig in die tronk sal beland (v.22-23).  Maar hy was bereid om sy lewe af te lê vir Jesus en die evangelie (v.24).  Paulus was duidelik liewer vir Jesus as vir homself:  “hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” (Openbaring 12:11).  Omdat hy seker was dat hy ‘n martelaar sou wees, het hy gedink dat hy nie weer sy Efesiër-vriende op aarde sou sien nie (v.25).  Maar volgens Filippense 1:19 is hy ná Handelinge 28 uit die tronk vrygelaat, en het hy baie waarskynlik weer die Efesiër-ouderlinge gesien (1 Timoteus 1:3).

 

Paulus het gesê dat sy hande skoon was van die Efesiërs se bloed (v.26). Niemand kon ‘n klag voor sy deur lê en sê:  ‘Nou is óns in die hel omdat jý ons nie gewaarsku het nie.’ Nee.  Paulus het die volle raad van God – die hele Skrif – aan hulle verkondig (v.27).  Nou was dit húlle taak om hierdie lering in die gemeente voort te sit.  Die Heilige Gees het hulle as herders en opsieners aangestel om die kudde te voed en versorg.  God het die kerk gekoop met die bloed van sy eie Seun (v.28, Johannes 10:11, Efesiërs 5:25).  Omdat die kerk vir Hóm so belangrik was moes die Efesiërs-ouderlinge dit nie afskeep nie.  Om dit reg te kry moes hulle heel eerste hulleself voed.  Voordat jy vir ander kan preek moet jy self die Bybel ken en doen (v.28, 1 Timoteus 4:16).  Daarná moes hulle ook die skape met God se waarheid voed en die wolwe in skaapsklere verdryf (v.29-30, Matteus 7:15).  Prediking en lering moet gebalanseerd wees:  ons moet positiewe waarheid gee, maar ook ons mense teen vals lering waarsku (Efesiërs 4:14, Titus 1:9, 1 Petrus 5:2-3).  Paulus het ‘n voorbeeld gestel van hoe ‘n mens die kudde moet liefhê.  Hy het vir drie jaar lank elke een van hulle met deernis geleer en beraad (v.31).  Hulle moes dieselfde doen.  God en sy Woord het hulle volkome toegerus vir die taak om die gelowiges op te bou en te heilig (v.32, Johannes 17:17, 2 Timoteus 3:16-17).  Ja, God sal sy kinders veilig in die hemel kry.  Maar Hy doen dit deur die prediking van sy Woord (v.32).  Mense wat opsetlik die prediking van God se Woord versaak sal ‘n skok kry op die oordeelsdag wanneer hulle nié ‘n plek het onder die heliges nie (v.32).  Dié wat die Woord preek moet dit doen om die gelowiges te help, en nie om geld te maak nie (v.33).  Inteendeel, hulle moet hard werk, sodat hulle iets kan hê om te deel met die armes (v.34-35).  Ná sy toespraak het die ouderlinge se liefde vir Paulus duidelik geword:  hulle het hom omhels, gesoen, gehuil, en saam met hom gebid (v.36-38).

 

Paulus se doel was om Jesus te gehoorsaam en sy bediening te vervul (v.24). Hy sou enigiets doen om daardie doel te bereik.  Het jy ‘n lewensdoel soos Paulus?  Dit waaroor jy dagdroom sal vir jou sê wat dit is.  Dit waaraan jy die meeste geld, tyd, en energie spandeer sal vir jou sê wat dit is.  Hoe jy die volgende vrae beantwoord sal jou ook help om te weet wat vir jou die belangrikste is in die lewe:

 

  • Wat bring vir jou vervulling?
  • Hoe sal jy die volgende sin voltooi: ‘Ek voel nutteloos en gefrustreerd as ek nie ____ kan doen nie’?
  • Wat is jy bang om te verloor wanneer jy doodgaan?
  • Wat is die doel wat jy wil hê jou kinders moet bereik?
  • Wat sal jy wens jy het bereik wanneer jy op jou sterfbed lê?

 

As dít waarvoor jy lewe verlore gaan wanneer jy sterf, dan is jou lewensdoel nie die moeitewerd nie. Sorg dat jou lewensdoel soos Paulus s’n is.  Dalk kan jy jou lewensdoel uitdruk, laat raam, en dit in jou huis ophang.  Verskeie Bybelverse kan jou help om ‘n God-gesentreerde lewensdoel te formuleer.  Paulus het syne op verskillende maniere opgesom.  Hiér som hy dit soos volg op:  “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (v.24).  Ek het sy lewensdoel in 2 Korintiërs 5:9, 15 my eie gemaak:  “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe… om Hom welbehaaglik te wees… sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”  In my eie woorde klink dit só:  ‘Delighted to please Him and not myself.’  Ánder verse waaruit jy kan opsom wat jy met jou lewe wil bereik, is:

 

“laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matteus 6:9-10). Lewensdoel: ‘Om God se Naam te vrees, te verkondig, en te gehoorsaam.’

 

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Romeine 8:29).  Lewensdoel:  ‘Om soos Jesus te wees.’

 

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Korintiërs 10:31).  Lewensdoel:  ‘Om God te verheerlik in alles wat ek doen.’

 

“en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” (Efesiërs 5:16-17).  Lewensdoel:  ‘Om met elke sekonde van my lewe God se wil te soek en te doen.’

 

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins… Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry… Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.  Maar een ding:  ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Filippense 1:21, 3:8, 12-14).  Lewensdoel: ‘Om Jesus te ken en vir Hom te lewe.’

 

“Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel” (Kolossense 1:28).  Lewensdoel:  ‘Om ander te help om Jesus te ken en soos Hy te wees.’

 

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (Kolossense 3:2).  Lewensdoel:  ‘Om op aarde te lewe soos ‘n burger van die hemel.’

 

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Timoteus 4:7).  Lewensdoel:  ‘Om tot die einde toe getrou te wees.’

 

Die spreekwoord sê: ‘Don’t be so heavenly minded that you are of no earthly use.’  Maar dis verkeerd, want die mees hemelsgesinde mense doen die meeste vir God en hulle naaste.  Sulke mense koop die tyd uit (v.13, 16), want hulle weet Jesus kom amper.  Hulle lewe vir God en daarom is hulle nederig (v.19).  Hulle doel om God te eer, maak hulle getrou aan Hom en sy Woord (v.20, 27, 11:23).  Omdat hulle Hóm wil behaag, vrees hulle nie die dood, lyding, of wat ander mense van hulle dink nie (v.23-27).  Hulle mik na die hemel en gee nie om oor rykdom op aarde nie (v.33).  Hulle wil God verheerlik en werk hard en dien ander met hulle tyd en geld (v.31, 34-35).  Hulle wil soos Jesus wees:  as Hý met vasberadenheid die Vader se wil uitvoer, doen hulle dit ook (v.16, Lukas 9:53, 13:32, Johannes 17:4).

 

Die bekende musiekgroep Metallica sing ‘n lied wat sê:

 

So close no matter how far

Couldn’t be much more from the heart

Forever trusting who we are

And nothing else matters

 

Never opened myself this way

Life is ours, we live it our way

All these words I don’t just say

And nothing else matters

 

Trust I seek and I find in you

Every day for us something new

Open mind for a different view

And nothing else matters

 

Húlle lewensdoel is die wêreld s’n: om te lewe vir jouself en op jouself te vertrou.  Vir hulle is dít al wat saakmaak, ‘and nothing else matters’.  Op die oordeelsdag sal hulle spyt wees.  Christene dink anders.  Ons lewe om Hóm te verheerlik en ander te help om Hom te ken.  Vir ons is dít al wat saakmaak, ‘and nothing else matters.’

Wie kan ons van God se liefde skei?

Loves me, loves me not

Om iets te perserveer beteken dat jy dit bewaar, sodat dit nie sleg word nie (byvoorbeeld vrugte in ‘n bottel). God het belowe om sy kinders tot die einde toe te bewaar of perseveer.  Engelse teologie-handboeke praat van ‘the doctrine of preservation’.  Genesis 46-47 illustreer dit.

 

Jakob se nageslag (46:1-27)

Jakob het Egipte toe gegaan en by Berseba gestop om ‘n offer te bring (46:1). Hy het seker die Here gedank dat Josef nog lewendig was, en vergifnis gevra vir die twis en voortrekkery in sy familie.  Jare voor hom het sy pa en oupa hier offers gebring vir die Here (21:31-33, 26:32-33).  Jakob was bang om Egipte toe te gaan.  Tydens die hongersnood in Abraham se dae het hy moeilikheid opgetel toe hy Egipte toe is (12:10).  Tydens die hongersnood in Isak se tyd het God hom verbied om Egipte toe te gaan (26:1-4).  Die Here het egter vir Jakob verseker en gesê hy moet Egipte toe gaan.  Dáár sou die Here sy belofte vervul om hom ‘n groot nasie te maak en terug te bring na die Beloofde Land toe (26:2-4, 12:2-3, 35:11).  Jakob het op die wa geklim en getrek met alles wat hy besit het:  sy rykdom, vee, seuns, dogters, skoondogters, en kleinkinders.  Sonder Juda se twee seuns wat dood was, en Josef se seuns wat in Egipte gebore is, was Jakob se nageslag 66 mense.  Saam met Jakob, Josef, en sy twee seuns was hulle 70 mense (46:5-27).  Volgens 1 Kronieke 7 en die Griekse vertaling van Genesis 46 (die Septuaginta), het Josef vier kleinseuns en een agterkleinseun gehad.  Daarom sê Stefanus in Handelinge 7:14 dat Jakob se nageslag 75 mense was.

 

Deur te sê dat daar altesaam 70 mense was, wil Moses (die skrywer) vir ons twee lesse leer:

 

[1] Die belofte van ‘n groot nageslag was reeds besig om vervul te word. Jakob het so vasgekyk teen die tragedie met Josef, dat hy vergeet het om die seën raak te sien (46:6-7, 26-27).

 

[2] Die eerste lesers van Genesis 46 het gesien dat Jakob se nageslag gegroei het van 70 mense tot ‘n paar miljoen! “Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het die HERE jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.” (Deuteronomium 10:22).

 

Jakob se woonplek (46:28-47:31)

Juda was verantwoordelik vir die skeiding tussen Josef en Jakob (37:26-27). Nou was hý die een wat Josef en sy pa met mekaar herenig het (46:28).  Toe Josef sy pa sien, het hy hom omhels en vir ‘n lang tyd gehuil (46:29).  Noudat Jakob sy seun gesien het, kon hy in vrede sterf en nie swaarmoedig graf toe gaan nie (46:30, 37:35).

 

Josef het sy broers nader geroep en vir hulle voorgesê hoe hulle vir Farao moes antwoord. As hulle in Gosen (die beste deel van die land) wou bly, moes hulle vir Farao gesê het dat hulle bok- en skaapwagters was.  Omdat die Egiptenare gedink het dat dit ‘n laeklas werk was, sou Farao Gosen vir Josef se familie gegee het.  Josef het dít gedoen, sodat sy familie gemaklik kon lewe tydens die hongersnood, sodat hulle nie met die Egiptenare sou ondertrou nie, en sodat hulle nie Farao se godsdiens sou aanneem nie (46:31-34).  Josef het vyf van sy broers voor Farao gebring.  Toe hy gehoor het dat hulle herders was, het hy gesê dat hulle in Gosen moes bly en sommer ook sý vee moes oppas (47:1-6).  Josef het sy pa voor die koning gebring.  Jakob het vir Farao geseën (seker omdat Farao so goed was vir sy seun).  Farao kon sien dat hy oud was.  Jakob het gesê dat sy lyding in die lewe hom ouer laat lyk het as wat hy werklik was.  Hy was maar 130 jaar oud.  Dit was niks in vergelyking met sy oupa se 175 jaar, of sy pa se 180 jaar nie (47:7-10).  Jakob het toe weer vir Farao geseën.  Die belofte aan Abram was besig om vervul te word:  deur hóm en sy nageslag sou al die nasies van die aarde geseën word (12:3).  Josef het sy gesin in Raämses gevestig en vir hulle gesorg (47:11-12).  Dié naam was meer bekend vir die eerste lesers as Gosen (Eksodus 1:11).

 

Die hongersnood was erg. Die Egiptenare se geld was op.  Hulle het hulle vee, plase, en uiteindelik hulleself aangebied in ruil vir koring en saad.  Josef het hulle aanbod aanvaar, sodat die hele land nou aan Farao behoort het.  Die volk moes 20% van hulle oeste vir Farao gee.  Net die priesters was vrygeskeld (47:13-26).  Die Egiptenare het net-net die hongersnood oorleef, maar God se volk was voorspoedig (47:27).  Die Skrif sê:  “Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.” (Psalm 37:19).  “Wie sal ons skei van die liefde van Christus: …honger…?” (Romeine 8:35).  Jakob het vir nog 17 jaar in Egipte gebly (47:9, 28).  Op sy sterfbed het hy gevra dat Josef hom in die Beloofde Land moes begrawe; in die grot wat Abraham in hfst.23 by die Hetiete gekoop het.  Josef het belowe.  Jakob het in lof voor die Here gebuig (47:29-31).

 

Selfs in droogte kan God sy kinders seën, behou, en die heel beste vir hulle gee (47:6, 11-12, 27). Op soortgelyke wyse kan God sy kinders deur die moeilikste tye op aarde seën en behou vir die hemel.  Hy sal ons tot die einde toe bewaar.  Nie ‘n enkele gelowige sal die hemel mis nie.  God sal daarvoor sorg.  Die Skrif sê:

 

“En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:39).

 

“En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Johannes 10:28-29).

 

“Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.” (Johannes 17:12).

 

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Romeine 8:29-30).  Die wat Hy gekies, bestem, geroep, en geregverdig het, sal Hy ook verheerlik.

 

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).

 

“in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.” (Efesiërs 1:13-14). Elke Christen het die Heilige Gees (Romeine 8:9). As één Christen nie die hemel maak nie, was die Heilige Gees ‘n slegte waarborg van ons verlossing.

 

“omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6).

 

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).

 

“Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.” (2 Timoteus 1:12).

 

“En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.” (2 Timoteus 4:18).

 

“Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” (Hebreërs 7:25).

 

“sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5).

 

“En dit is die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.” (1 Johannes 2:25). Almal wat in Jesus glo het reeds die ewige lewe (Johannes 3:36).  Indien een Christen sy redding verloor is God ‘n leuenaar, omdat Hy ewige lewe belowe het, maar dit kortgeknip het.

 

“aan die wat geroep… en vir Jesus Christus bewaar is… Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 1, 24).

 

Openbaring 7:3-4 praat van 144 000 gelowiges op aarde (‘n simboliese getal). In Openbaring 14:1, 3 lees ons van 144 000 gelowiges in die hemel.  Elkeen van hulle het dit tot in die hemel gemaak.  Nie één het verlore gegaan nie.  Spurgeon het gesê dat daar nie in die hemel krone met stof en spinnerakke op sal wees nie.  Elke gelowige sal dit maak.  Hiermee sê ons nie dat almal wat hulle is Christene, dit tot in die hemel sal maak nie.  Duidelik bestaan daar vals Christene soos Matteus 7:21-23, Hebreërs 6:4-10, 2 Petrus 2:20-22, en Judas Iskariot (Johannes 6:70-71, 12:4-6, 13:10-11, 18, 17:12).  1 Johannes 2:19 praat van sulke mense as dit sê:  “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”  Ons sê ook nie dat ware gelowiges nie vir ‘n tydjie kan afdwaal soos Dawid en Petrus nie.  Weer sê Spurgeon:  ‘The believer, like a man on shipboard, may fall again and again on the deck, but he will never fall overboard.’ (aangehaal in A.H. Strong, Systematic Theology, p.885).

 

Iemand mag wonder: ‘Maar moedig hierdie leerstelling van ‘preservation’ nie sonde en geestelike luiheid aan nie?  As jy vir iemand sê dat hy nie sy redding kan verloor nie, sal hy dit as ‘n verskoning gebruik om te sê:  Omdat ek nie my redding kan verloor nie, kan ek sondig soos ek wil.  Ek hoef nie my Bybel te lees, te bid, of heilig te wees nie.’  Nee.  God behou sy kinders deur hulle volharding in geloof, heiligheid, die Woord, en gebed:  “werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:12-13).  “sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” (1 Petrus 1:4-5).  Volharding bewys of iemand waarlik gered is of nie (Matteus 10:22, Kolossense 1:23, Hebreërs 3:14).

 

Maak deur geloof in die ware evangelie, asook ‘n gehoorsame en heilige lewe seker of jy regtig gered is (2 Korintiërs 13:5, Hebreërs 12:14, 2 Petrus 1:10). As jy dan waarlik gered is, moet jy nie dink dat God ontrou is of sy beloftes kan breek nie.  Net soos wat ‘n swaar anker ‘n skip deur ‘n magtige storm behou, sal die Here jou behou tot in die hemel.

Wat doen God in my lyding?

Why am I suffering

‘n Man op sy sterfbed het vir my gevra: ‘Hoekom ly ek so?’  Vir duisende jare al probeer mense om dié vraagstuk te beantwoord.  Genesis 42-45 gee vir ons lig op die onderwerp.

 

Die eerste besoek (42:1-43:14)

Die hongersnood was erg in Kanaän. Jakob het tien van sy seuns Egipte toe gestuur om koring te koop.  Die tragedie van hfst.37 was nog vars in sy gedagtes, en daarom wou hy nie vir Benjamin – Josef se broer – saamstuur nie (42:1-5).  Toe die broers in Egipte kom het hulle hul voor Josef, die goewerneur van die land, neergebuig.  Uiteindelik het God die drome wat Josef in 37:5-11 gedroom het, vervul:

 

Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.  Hy het naamlik vir hulle gesê:  Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.  Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.  Toe sê sy broers aan hom:  Wil jy miskien oor ons regeer?  Of wil jy miskien oor ons heers?  En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.  Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê:  Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.  Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê:  Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?  En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”

 

Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie. Hy was 17 toe hy as slaaf verkoop is (37:2) en was nou amper 39 (41:46, 53, 45:6).  Sy hare was afgeskeer en hy was soos ‘n Egiptenaar aangetrek (41:14, 42).  Hy het Egipties gepraat en deur ‘n tolk met hulle gekommunikeer (42:23).  Hy het by Farao gesweer (42:15).  Hy was baie kwaai met hulle (42:6-12).  Hy het hulle vir drie dae in die tronk gesit.  Ruben was wel die oudste, maar was onskuldig (42:22).  Omdat Simeon die tweede oudste was (29:33) het hy hóm agtergehou, terwyl die res vir Benjamin gaan haal het. (42:13-24).  As hulle jongste boetie Egipte toe gekom het sou Josef vir Benjamin vrylaat.  Oppad het een van die broers sy sak oopgemaak om sy donkie te voer.  Sy geld was in sy sak.  Die broers was verskrik.  Toe hulle sonder Simeon by die huis aankom het hulle die storie met hulle pa gedeel.  Hulle het gou agtergekom dat almal se geld in hulle sakke was.  Hulle was vreesbevange.  Het die goewerneur dit gedoen om hulle uit te vang; om te sê:  ‘Ek het geweet julle is spioene!’? (42:25-36).  Wat kon hulle doen?  As hulle weer vir Simeon wou sien móés hulle vir Benjamin Egipte toe vat.  Maar Jakob wou nie toegee nie:  ‘My seun sal nié saam met julle gaan nie.  Ek is doodbang iets gebeur met hom.’

 

Ruben, die oudste, het navore getree: ‘Ék sal vir Benjamin oppas.  As iets met hom gebeur kan pa mý seuns doodmaak.’  Dit was maklik om só ‘n aanbod van die hand te wys.  Hoekom sou enige oupa sy kleinseuns wou doodmaak?  Toe die kos uiteindelik opgeraak het moes hulle teruggaan Egipte toe.  Hierdie keer het Juda sin in sy pa se kop ingepraat:  ‘As ons nie vir Benjamin saamvat nie, kan ons nie nog koring koop nie.  En as ons nie nog koring kan koop nie gaan Benjamin – én die res van ons! – in elk geval doodgaan van die honger.  Stuur hom saam met my.  Ek sal hom met my lewe bewaar.  As iets met hom gebeur sal ek vir die res van my lewe die skuld dra.  Asseblief pa.’  Jakob het Juda se aanbod aanvaar.  Soos wat hy jare tevore met sy broer Esau gedoen het, het hy het nou ‘n geskenk saamgestuur om die goewerneur se guns te wen (42:37-43:14, 32:13).

 

Die tweede besoek (43:15-45:28)

Die broers het saam met Benjamin in Egipte aangekom. Hulle was bang toe hulle na Josef se huis toe genooi is.  Hulle het dadelik vir sy dienskneg gesê dat hulle nie die geld wat in hulle sakke was gesteel het nie.  Die kneg het hulle gerusgestel:  ‘Ek hét julle geld ontvang.’  Toe hulle in Josef se huis kom het hulle weer voor hom neergebuig.  Hy was baie bly om vir Benjamin te sien en was gaaf teenoor sy broers.  Die volgende oggend het Josef hulle met sakke vol koring huistoe gestuur.  Hy het sy silwer beker in Benjamin se sak gesit om hulle te toets.  Kort na hulle weg is het hy sy dienskneg agter hulle aangestuur.  ‘Julle het my meester se silwer beker gesteel!’ het hy gesê.  Hulle het nie geweet waarvan die man praat nie.  ‘Ons sal nooit so iets doen nie,’ het hulle geantwoord.  ‘Die een in wie se sak julle die beker vind sal doodgemaak word, en die res van ons sal die goewerneur se slawe wees.’  Die dienskneg het egter die straf versag en gesê:  ‘Die een wat die beker gesteel het sal die goewerneur se slaaf wees.  Die res van julle is vry om huistoe te gaan.’  Josef se kneg het die beker in Benjamin se sak gevind (44:1-12).  Jare tevore het die broers Josef se klere geskeur (37:31).  Nou het hulle hul eie klere geskeur (44:13).

 

Hulle is terug stad toe. Juda kon dit nie aan sy pa doen om sonder Benjamin by die huis aan te kom nie.  Hy sou opstaan vir Benjamin en was bereid om in sy plek die straf van slawerny te ontvang (44:14-34).  Hierin is hy ‘n skadubeeld van Christus wat in ons plek die straf vir sonde ontvang het.  Josef kon nie meer die spanning vat nie.  Hy het homself aan sy broers bekend gemaak.  Hulle was doodbang maar hy het hulle verseker dat hy nie vir hulle kwaad was nie.  Hy het vir hulle gesê dat hy ‘n leier in Egipte was.  Hulle moes dit vir hulle pa vertel en hom Egipte toe bring.  Farao was bly om te hoor dat Josef se broers in Egipte was.  Josef het hulle met ‘n vrag padkos huistoe gestuur (45:1-23).  Hy het sterk vermoed dat hulle oppad sou baklei:  ‘Wat gaan ons vir pa sê?  Ons gaan móét uitkom met die ware storie.  Ons sal vir hom moet sê dat ons vir 22 jaar gejok het.  Wie gaan sê dat ons eintlik vir Josef as ‘n slaaf verkoop het?’  Daarom het Josef vir hulle gesê:  “Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.” (45:24).  Toe hulle by die huis aankom en die nuus breek was hulle pa stomgeslaan.  Hy kon dit nie glo nie.  Toe hulle vir hom die geskenke wys wat Josef saamgestuur het, het hy dadelik uit die gat van depressie opgestaan.  Hy sou Egipte toe gaan om sy geliefde seun Josef te sien (45:25-28).

 

Daar het jy dit: die storie in ‘n neutedop.  Maar hoe help dit jou?  Wat doen God in jóú lyding as Christen?

 

[1] Wanneer ‘n mens goud in die smeltoond sit dryf daar onsuiwerhede op die oppervlak. Die dros was nog altyd daar.  Die vuur het dit net sigbaar gemaak.  Net so gebruik God lyding om jou slapende gewete te laat ontwaak.  Wanneer jy ly bring God jou versteekte sonde navore:  “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons.” (42:21).  Deuteronomium 8:2 sê:  “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.”

 

[2] God verneder ons tot ons voordeel. Josef het sy broers vir drie dae in die tronk gesit om hulle te verneder (42:17).  God doen dieselfde met ons:  “wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronomium 8:16).  “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:11).

 

[3] Josef het gedurig sy broers getoets om te sien of hulle verander het. Wanneer ons ly doen die Here dieselfde met ons.

 

  • Josef het hulle beskuldig dat hulle spioene is (42:7, 9, 12).
  • Josef het vir Simeon gebind. In hfst.37 het hulle gelieg toe hulle sonder Josef by die huis aankom. Wat sou hulle dié keer vir hulle pa sê as Simeon nie by hulle was nie?
  • Josef het vir Benjamin vyf keer meer kos ingeskep as vir hulle (43:34). Sou hulle weer soos in 37:4 jaloers wees?
  • Josef het gesê dat hy in die toekoms kan sien (44:15). Sou dit hulle gewete prik om te besef dat God regtig alles wees?
  • Josef het gesê dat Benjamin alleen sy slaaf sou wees (44:17). Sou hulle vir hom opkom, of sou hulle traak-my-nie-agtig toekyk hoe hy ‘n slaaf gemaak word (soos in hfst.37 toe hulle Josef as slaaf verkoop het)?
  • Josef het vir Benjamin meer geskenke gegee as vir hulle (45:22). Hoe sou hulle dit hanteer?

 

[4] Die Here verander ons om meer soos Jesus te wees. God het vir Juda verander.  In 37:26 het hý die broers aangehits om vir Josef as ‘n slaaf te verkoop.  In hfst.38 het hy immoreel opgetree.  Nou, in 43:9, het hy gesê dat hý vir Benjamin sou beskerm.  In 44:14-34 het hy gesê dat hý Benjamin se plek sou inneem om ‘n slaaf te word.  Hy het ook sy pa bejammer en wou nie sien dat hy moes treur soos in hfst.37 nie.

 

Moenie dink dat God lekker kry as ons ly nie. Hy’s nie ‘n sadis nie.  Moenie dink Hy’s teen jou in jou lyding nie.  Hy is eerder soos ‘n pa wat nie plesier daarin het om sy kind pak te gee nie:  “want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” (Klaagliedere 3:33).  God is vir jou wanneer jy ly (Romeine 8:31).  Toe die boeties sonder Simeon by die huis aankom en sê dat hulle opdrag ontvang het om vir Benjamin Egipte toe te vat, het Jakob gesê:  “Julle beroof my van kinders.  Josef is weg!  En Símeon is weg!  En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!” (42:36).  Hy kon nie meer verkeerd gewees het nie.  Alles was eintlik besig om vir die goeie uit te werk.  En dit is presies wat God in jóú lyding doen:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).

 

Vertrou die Here wanneer jy ly. Vertrou dat die Almagtige vir jou sal deurkom en sal doen wat die beste is.  Jakob het dit gedoen:  “En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek!  En ek—as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.” (43:14, cf. Ester 4:16).  William Cowper het geskryf:

 

Behind a frowning providence,

He hides smiling face.

 

Josef het kwaai gelyk, maar eintlik het hy sy broers baie liefgehad. Ons sien dit toe hy oor hulle gehuil het (42:24).  Ons sien dit toe hy vir hulle sakke vol padkos gepak het én hulle geld teruggegee het (42:25, 44:1).  Ons sien dit toe hy hulle vir ete genooi het (43:16).  Ons sien dit toe sy kneg vir hulle gesê het:  “Vrede vir julle!  Moenie bang wees nie!  Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee.” (43:23).  Ons sien dit toe die kneg water gebring het om hulle voete te was; toe hy vir hulle donkies kos gegee het (43:24).  Ons sien dit toe Josef belanggestel het om toe hoor hoe dit met sý en húlle pa gaan (43:27).  Ons sien dit toe Josef sy broer Benjamin geseën, liefgehad en oor hom gehuil het (43:29-30).  Ons sien dit toe Josef wéér oor sy broers gehuil het (45:2).  Ons sien dit toe hy hulle genooi het om by hom in Egipte te kom bly, in die beste deel van die land (45:10).  Ons sien dit toe hy vir hulle geskenke gegee het (45:21-23).  In jou lyding lýk dit soms vir jou of die Here, soos Josef, kwaai is.  Hy is nie.  Hy is lief vir jou.  Moenie die leidrade van sy goedheid en liefde miskyk nie.  Josef se boeties het dit gemis.  In 42:18 het die ‘kwaai Egiptiese goewerneur’ vir hulle gesê:  “ek vrees God!”  In 43:23 het sy kneg gesê:  “Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee.”  In 43:33 het hy hulle van oudste na jongste aan tafel laat sit, en in 44:12 van oudste na jongste deursoek.  Hulle moes agtergekom het dat God se hand hierin is, dat iets goeds besig is om te gebeur.  Maar hulle het nie.  Moenie soos hulle wees nie.

 

Wanneer ons onbelyde sonde het, raak ons agterdogtig in ons lyding. Ons dink God is daarop uit om ons te straf.  Josef se boeties was so.  Hulle het ‘n donker geheim gehad wat hulle nie bely het nie.  Toe dinge begin skeefloop het hulle gesê:  “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons.  Daarop antwoord Ruben hulle:  Het ek nie vir julle gesê nie:  Besondig julle nie aan die seun nie?  Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.” (42:21-22).  Iemand wat ‘n skuldige gewete het hardloop al jaag niemand hom nie:  “Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is” (Spreuke 28:1).  As jy ‘n skuldige gewete het verdink jy God selfs wanneer Hy goeie dinge oor jou pad bring.  Jy kry snuf in die neus en dink Hy probeer jou uitvang.  Toe Josef se boeties die geld in hulle sakke sien, het hulle dit nie as ‘n geskenk waardeer nie, maar gedink God wil hulle uitvang (42:28, 35).  Toe Josef hulle vir ete nooi het hulle gedink hy wil hulle oorval en aanrand (43:16-22).  Sorg dan dat jy jou sonde bely, sodat jy ‘n rein gewete kan hê.  In 44:16 het Juda uiteindelik sy sonde bely en erken:  “Wat kan ons aan my heer sê?  Wat kan ons spreek?  En waarmee kan ons ons regverdig?  God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind.”  As jy jou sonde bely, sal jou lyding baie makliker wees om te hanteer.  Jy sal nie heeltyd wil omkyk om te sien of God jou dalk jaag nie.

 

Ly jy? Huil vrylik – al is jy ‘n man.  Josef het (42:24, 43:30, 45:2, 14-15).  Maar moenie soos Jakob wees en jouself bejammer of in ‘n gat van depressie beland nie (37:35, 42:38).  Glo dat God soewerein is in jou lyding en dat Hy goeie dinge daaruit kan voortbring:  “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie.  Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.  Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.” (45:5-8).  As jy glo dat God soewerein is in jou lyding, sal dit jou help om te vergewe en nie bitter te wees nie (45:4-5); om gaaf te wees met jou vyande (45:9-10, 15, 22).  Jesus het geweet dat die bitter beker wat Hy moes drink uit sy Vader se hand gekom het (Johannes 18:11).  Daarom het Hy die lyding verduur en selfs sy vyande vergewe (Lukas 23:34).

 

Wanneer jy ly is die Skrynwerker van Nasaret besig om aan jou te skaaf en te skuur, sodat jy meer soos Hý kan word (Romeine 8:28-29).

Kan die evangelie misluk?

Failure

‘n Verkeerde verstaan van die boek Openbaring maak dat sommige mense bang is die Antichris, Illuminati, Islam, of ander vyande die evangelie sal laat misluk.  In Handelinge 19 oorkom die evangelie vier hindernisse.  Dit sal elke ander hindernis oorkom en kán eenvoudig nie misluk nie.

 

Onkunde (v.1-7)

 

1 En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind 2 en hulle gevra:  Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?  En hulle antwoord hom:  Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. 3 En hy vra hulle:  Met watter doop is julle dan gedoop?  En hulle antwoord:  Met die doop van Johannes. 4 Daarop sê Paulus:  Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die  Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. 5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. 6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer. 7 En altesaam was hulle omtrent twaalf manne.”

 

Die Volle Evangeliekerk se naam beteken presies wat dit sê: hulle verkondig die volle evangelie.  Hulle bedoeling is dat die evangelie ook doping met die Heilige Gees insluit.  Hulle verstaan is dat Christene êrens ná hulle bekering met die Gees gedoop moet word.  Die bewys hiervan word gesien in gawes soos tale, profesie en genesing.  Is dít wat in v.1-7 geleer word?  Nee.

 

Apollos was in Efese, maar het Korinte toe gegaan (v.1, 18:24-28). Paulus het sy belofte gehou om terug te kom Efese toe (v.1, 18:19-21).  Priscilla en Aquila het vir Apollos gehelp om die doop van Jesus (doping met die Heilige Gees en waterdoop wat die uiterlike teken daarvan is) beter te verstaan (18:25-26).  Dit is waarskynlik dat die dissipels in v.1-7 sý lering oor die onderwerp geglo het (voor hy reggehelp is).  Die manne in v.1-7 was dissipels van Johannes die Doper (v.3).  Johannes het gesê:  “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.  Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.” (Matteus 3:11).  Hulle het egter nie geweet dat Jesus daardie Messias is, of dat Hy gekruisig en opgewek is nie.  Paulus moes hulle van Jesus vertel (v.4).  Hulle het wel Johannes se bekeringsdoop ondergaan, maar was nog nie in Jesus se begrafnis en opstanding ingedoop nie (v.3-5, Romeine 6:3-4).  Hulle het ook nie geweet dat die beloofde Heilige Gees uitgestort is nie (v.2, 1:5, Johannes 7:39).  Hulle moes met die Gees gedoop word en dit uitbeeld in die waterdoop (v.5-6).  Die Gees het hulle instaat gestel om in ander lande se tale te praat en te profeteer (v.6).  Die tale was ‘n teken dat God se Woord nie meer tot Israel beperk was nie, maar na alle volke en tale toe versprei het (2:5-13, 1 Korintiërs 14:21-22).  Op dié stadium was daar maar twaalf manne in Efese wat dissipels van Jesus geword het (v.7).  Later sou massas mense in die stad en omgewing tot bekering kom (v.10, 20, 26).

 

Sommige van my hoorders en lesers is soos hierdie manne: jy is opreg, gedoop, ‘n kerklidmaat, of selfs ‘n dissipel[i], maar misverstaan die evangelie en het nog nie die Heilige Gees ontvang nie.  Hoor die evangelie en reageer daarop:

 

God is volmaak heilig en vereis dat jy volmaak heilig moet wees (Matteus 5:48, 1 Petrus 1:15-16). As jy nie volmaak heilig is nie is jy vervloek (Galasiërs 3:10).  Met ander woorde, jy gaan hel toe.  God het jou lief en het ‘n plan gemaak dat jy nie hoef hel toe te gaan nie.  Hy het mens geword in Jesus Christus.  Hy het volmaak heilig gelewe (1 Petrus 2:22).  Aan die kruis het Hy die straf en vervloeking gekry wat óns verdien (Galasiërs 3:13).  As jy jou van jou sonde bekeer en op Hom vertrou vir redding, sal Hy jou vergewe en in sy Koninkryk ontvang.  Hy sal Jesus se volmaakte rekord van heiligheid aan jou toereken.  Sodra Hy jou red sal Hy ook sy Heilige Gees aan jou gee (Romeine 8:9, Titus 3:5-6).  Die doop dra nie by tot jou redding nie, maar is ‘n belangrike stap om uit te beeld dat jy met die Gees gedoop is; dat jy een is met Jesus in sy kruisdood, begrafnis en opstanding (10:44-48, Romeine 6:3-4).

 

Opposisie (v.8-10)

 

8 En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan. 9 Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ‘n sekere Tiránnus samesprekinge gehou. 10 En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.”

 

Vir drie maande het Paulus in die sinagoge gepreek (v.8). Uiteindelik het die Jode hom teëgestaan en die evangelie belaster.  Hy het die sinagoge verlaat en elke dag vir twee jaar in die saal van Tirannus gepreek (v.9).  Geskiedkundiges sê dat Tirannus in die koel oggende klas gegee het, en die saal van 11:00-16:00 vir Paulus beskikbaar gestel het.  Oor ‘n tydperk van twee jaar sou Paulus vir meer as  3300 ure gepreek het!  So het die hele provinsie Asië die evangelie gehoor (v.10).  Efese was die provinsie se hoofstad, maar in dié tyd het Paulus se helpers die evangelie gepreek in stede soos Laodisea, Smirna, Sardis, Pergamus, Filadelfia, Tiatire, Hierapolis, Kolosse (Openbaring 2-3, Kolossense 4:13).

 

Moenie jou tyd mors as mense, soos die Jode in Efese is, en die evangelie nie wil hoor nie (v.9, Matteus 7:6).  Onttrek jouself en deel die evangelie met mense wat wíl luister.  Dalk sal só ‘n aksie hulle nugter maak om te sien wat hulle verloor het en tot hulle sinne bring (Romeine 11:13-14).  Moenie opgee as mense nie na die eerste poging tot bekering kom nie.  Wees geduldig.  Paulus het vir twee jaar aangehou preek (v.10).  Probeer om soveel mense as moontlik te beïnvloed.  Moenie in die kleinste dorp ‘n evangelie uitreik hou of ‘n kerk plant nie.  Begin in groter stede (soos Efese), sodat die evangelie van dáár af kan versprei (v.10).

 

Okkultisme (v.11-20)

 

11 En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, 12 sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het. 13 En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê:  Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig! 14 Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het. 15 Maar die bose gees het geantwoord en gesê:  Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle? 16 Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het. 17 En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak. 18 En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak; 19 en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwerstukke was. 20 So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.”

 

God het met wonderwerke gewys dat die evangelie kragtig en waar is, en dat Hý vir Paulus gestuur het (v.11, 2 Korintiërs 12:12). Die wonders was uitermate kragtig.  Mense het Paulus se sakdoeke en voorskote gevat (seker dié wat hy in sy tentmaak bedryf gebruik het) en dit op die siekes en besetenes gelê, sodat hulle genees is (v.12).  Sekere rondreisende Jode het Efese toe gekom om duiwels uit te dryf en geld te maak (v.13).  Dalk wou hulle ook wys dat Christenskap (en spesifiek Paulus) nie uniek is in hierdie verband nie.  Hulle het gedink hulle kan Jesus se Naam as ‘n towerformule gebruik (v.13).  Sewe seuns van ‘n sekere Skeva (hy het valslik gesê hy is ‘n hoëpriester) het dit gedoen.  Die man met die bose gees het gesê:  ‘Ek weet wie Jesus is en erken dat Paulus ‘n kragtige apostel is, maar wie is julle?’ (v.15).  Die man het hulle uitmekaar uit gevoeter, sodat hulle kaal en bebloed uit die huis gevlug het (v.15-16).  Die storie het soos ‘n veldbrand versprei.  Almal in Efese het gehoor dat die duiwel vir Jesus en Paulus erken het.  Nou het hulle geglo dat Paulus die ware boodskap verkondig het.  Omdat Paulus regtig duiwels kon uitdryf het hulle besef dat Jesus sterker is as die duiwel.  Baie mense het hulle van hul towery bekeer.  Hulle het boeke ter waarde van 50 000 stukke silwer verbrand.  Vir ‘n gehuurde werker is dit 137 jaar se salaris (teen een silwer muntstuk per dag)!  Weereens het die evangelie oorwin – hierdie keer oor Satan (v.17-20).

 

Moenie met die duiwel speel nie. Moenie dink jy speel net as jy betrokke raak met okkultiese speletjies of rituele nie.  Moenie dink dis onskuldig om demoniese films te kyk nie.  Moet ook nie gretig wees om demone te wil uitdryf nie.  In Deuteronomium 18:9-14 waarsku God sy volk:  “As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.  Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.  Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.  Opreg moet jy wees met die HERE jou God.  Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie.”

 

Party mense (veral in charismatiese kringe) dink soos die Joodse besweerders in v.13-16: hulle dink hulle kan Jesus se Naam as ‘n towerformule gebruik:  ‘In Jesus Naam bestraf ek jou Satan!’  Hulle glo dat jy professionele besweerders moet huur om duiwels uit te dryf.  Maar volgens v.11-12, 18-20 is God se oplossing vir duiwel-besetenheid:  Geesvervulde Christene, die evangelie, en bekering.  Die waarheid van sy Woord is wat mense hiervan vrymaak (v.20, Johannes 8:32, 36).  ‘n Hospitaal in Pretoria het ‘n toewyde prediker gebel:  ‘Ds., jy moet nóú kom!  Ons het toetse op ‘n vrou gedoen.  Medies gesproke is daar niks fout nie, en tog is daar GROOT fout.  Ons dink die probleem is geestelik.’  Die vrou was demoon besete.  Die vrou het soos ‘n dier tekere gegaan.  Die prediker het geskreeu:  ‘Bly stil!’  Die vrou het bedaar.  Hy het teks op teks op teks op teks vir haar gelees.  Sy het kalm geword en gesê:  ‘Dankie ds.  Dankie ds.  Dankie ds.’

 

Opstande (v.21-41)

 

21 En toe hierdie dinge verby was, het Paulus hom voorgeneem om deur Macedónië en Acháje te gaan en na Jerusalem te reis.  Hy het gesê:  Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien. 22 Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timótheüs en Erástus, na Macedónië, terwyl hy self nog ‘n tyd lank in Asië gebly het.

 

23 En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie. 24 Want iemand met die naam van Demétrius, ‘n silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het ‘n aansienlike verdienste aan die ambagsmanne verskaf. 25 En toe hy hulle en die werkers in daardie soort bedrywe bymekaargeroep het, sê hy:  Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is, 26 en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie. 27 Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.

 

28 En toe hulle dit hoor, is hulle met woede vervul en het geskreeu en gesê: Groot is die Diana van die Efésiërs! 29 Daarop raak die hele stad heeltemal in verwarring, en hulle storm soos een man na die skouburg en sleep Gajus en Aristárchus saam, Macedóniërs wat reisgenote van Paulus was. 30 En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie. 31 En sommige van die owerstes van Asië wat sy vriende was, het ook na hom gestuur en hom gesmeek dat hy hom nie in die skouburg moes begeef nie. 32 Hulle het dan aangehou skreeu, sommige dit en ander dat; want die vergadering was in die war, en die meeste het nie geweet waarvoor hulle bymekaargekom het nie. 33 En hulle het Alexander uit die skare vorentoe laat kom, omdat die Jode hom vorentoe gestoot het; en Alexander het met die hand gewink en wou hom by die volk verdedig. 34 Maar toe hulle verstaan dat hy ‘n Jood is, gaan daar een geroep van almal op terwyl hulle omtrent twee uur lank skreeu:  Groot is die Diana van die Efésiërs!

 

35 Maar die stadsklerk het die skare tot bedaring gebring en gesê: Efésiërs, watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efésiërs die tempelbewaarder is van die groot godin Diana en van die beeld wat uit die hemel geval het nie? 36 Terwyl dit dan nie weerspreek kan word nie, behoort julle rustig te wees en niks onbedags te doen nie. 37 Want julle het hierdie manne gebring, wat geen tempelrowers is nie en ook nie julle godin laster nie. 38 As Demétrius en sy ambagsmanne dan ‘n saak teen iemand het, die hofsittings word gehou, en daar is regters:  laat hulle mekaar aanklaag. 39 Maar as julle nog iets anders verlang, dit sal in die wettige vergadering beslis word. 40 Want ons loop gevaar om oor die oproer van vandag aangeklaag te word, aangesien daar geen grond is waarop ons sal kan rekenskap gee van hierdie oploop nie.  En met hierdie woorde het hy die vergadering ontbind.”

 

Paulus het vir Timoteus en Erastus (die stadstesourier volgens Romeine 16:23) Macedonië toe gestuur om hulle voor te berei vir hulle bydra aan die arm Christene in Jerusalem (v.22, 2 Korintiërs 8-9). Hy self sou later volg en daarna ook Achaje toe gaan met dieselfde doel (v.21).  Daarná wou hy Rome toe gaan (v.21).  Paulus het nie lukraak gewerk nie.  Hy het ‘n plan gehad om sy loopbaan en bediening wat Jesus hom gegee het, te voltooi (20:24).  So moet ons ook wees, omdat die tyd min is.  Ons moet werk terwyl dit dag is, want die nag kom wanneer geen mens kan werk nie (sien Johannes 9:4).

 

Toe Paulus sy helpers Macedonië toe gestuur het, het ‘n sekere silwersmid genaamd Demterius ‘n opstand teen die Weg gelei (v.23, 9, Johannes 14:6).  Hy het agtergekom dat die verkope van hulle model tempeltjies drasties afgeneem het vandat Paulus die evangelie gepreek het.  Omdat massas mense Christene geword het, het die aanbidding van Diana (Artemis) ook afgeskaal (v.24-27).  Haar tempel met sy 127 pilare was een van die Sewe Wonders van die antieke wêreld.  Demetrius was ontsteld omdat Paulus gesê het gode wat met hande gemaak word is nie gode nie (v.26).  Dit wys net weer hoe dom afgodery is.  Dat iemand kan dink ‘n god wat met hande gemaak is het hóm gemaak (cf. Jesaja 44, 46)!  As Diana regtig ‘n god was, hoef Demetrius haar nie te verdedig het nie – sy kon haarsélf verdedig het (cf. Rigters 6:31)!

 

Demetrius se toespraak aan die vakbond was suksesvol. Hulle het twee van Paulus se helpers na die 25 000-sitplek teater toe gesleep.  Die skare het soos een man saamgedrom.  Paulus wou die evangelie voor die skare verdedig, maar sy vriende in die kerk en stadsraad het geweet die skare sou hom uitmekaar skeur, en het hom afgeraai (v.28-32).  Die Jode was bang dat die skare sou dink hulle glo dieselfde as die Christene.  Hulle het vir Alexander gevra om hulle saak te verdedig, maar die skare was gekant teen almal wat nie vir Diana wou aanbid nie (v.33-34).

 

Na twee ure van geskreeu het die burgemeester of stadsklerk het die skare tot bedaring gebring. Hy het gesê dat die hele wêreld Diana as ‘n godin erken.  Volgens hom het almal geweet dat Efese die tempelwagter vir Diana was, en dat die oppergod Jupiter (Zeus) ‘n meteor van Diana uit die hemel laat val het.  Die skare was dus verniet ontsteld dat Paulus se prediking hulle godsdiens bedreig het (v.35-36).  Buitendien het Paulus se helpers nie die tempel beroof of vir Diana belaster nie.  As Demetrius en die vakbond ‘n hofsaak teen Paulus wou maak was hulle welkom.  Maar hulle was nie geregverdig om soos hooligans aan te gaan en die stad in rep en roer te bring nie.  As Rome daarvan moes hoor sou daar groot moles wees. Die stadsklerk het die vergadering verdaag (v.37-40).

 

Ateïste in Suid-Afrika wil skole verbied om die Bybel en die evangelie te leer. In Irak en Sirië staan ISIS op teen Christene.  In Noord-Korea is Christenskap en die evangelie verbode.  Hierdie vyande mag dalk vir ‘n tydjie suksesvol lyk, maar hulle sal nooit die evangelie kan keer nie.  Uiteindelik sal hulle soos Demetrius moet sê:  “en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie.” (v.26).  Aan die kruis het Jesus reeds sonde, die wêreld en die duiwel oorwin (Johannes 19:30, Kolossense 2:15).  Op die einde sal sy Koninkryk die oorwinning behaal (Daniël 2, Openbaring 11:15).  Dus lê ons hoop nie in ‘n politieke party of leier nie.  God kan politieke leiers gebruik om sy saak te bevorder en te beskerm (v.40b), maar Paulus se helpers het nie die evangelie deur politieke opstande bevorder nie (v.37).  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Spreuke 29:26).  “Jesus antwoord:  My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” (Johannes 18:36).  Ons hoop lê in Jesus en sy evangelie.  Jy kan water nie keer nie.  Dit sal ‘n manier deur, bo-oor, onderdeur of rondom vind.  Net so is dit met die evangelie:  dit kan nie misluk nie.

[i] Die Griekse woord vir dissipel [mathetes] beteken eenvoudig ‘leerder’.  In die Nuwe Testament verwys dit meestal na gelowiges, maar daar is enkele gevalle waar dit na ongelowiges verwys wat lering ontvang het (Lukas 5:33, Johannes 6:66).

Het God sy beloftes vergeet?

Alzheimer's

Mense met Alzheimer’s vergeet later bekende feite, die onlangse verlede, geliefdes se name en gesigte.  God kan nie Alzheimer’s kry nie; Hy kan nie sy beloftes en sy kinders vergeet nie.  Genesis 40-41 praat drie keer van mense wat vergeet:  “En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.” (40:23).  “Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word” (41:29-30).  “En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.” (41:51).  Mense mag vergeet, maar God het nie van Josef in die tronk vergeet nie.  God het nie vergeet om in die hongersnood vir Josef en sy familie te sorg nie.  God het nie van Josef se familie vergeet nie.

 

Drome in die tronk (hfst.40)

In ou Egipte het ‘n bakker en skinker nie net die koning se wyn en kos vir gif getoets nie, maar ook politieke ampte beklee.  Op ‘n dag het Farao se bakker en skinker teen hom oortree, sodat hy hulle in die tronk gegooi het.  Hiér het Josef hulle ontmoet.  Josef is in 39:21-23 aangestel om sake in die tronk te administreer.  Potifar (v.4, 39:1, die owerste van die lyfwag) het opnuut besef dat Josef betroubaar is, en hom gevra om na die bakker en skinker om te sien (v.1-4).

 

Een nag het die bakker en skinker gedroom.  Die volgende dag was hulle baie teneergedruk en depressief.  Omdat hulle in die tronk was, kon hulle nie ‘n towenaar besoek om hulle drome uit te lê nie.  Josef het duidelik gemaak dat dit Gód is wat drome uitlê (v.5-8, Daniël 2:28).  Die skinker het sy droom aan Josef vertel.  Hy het gedroom van ‘n druiwerank met drie takke.  Die takke het gebot, bloeisels gekry, en uiteindelik ryp druiwe gedra.  Die skinker het die druiwe in Farao se beker uitgedruk en dit in sy hand gesit.  Josef het die droom uitgelê:  ‘Die drie takke verteenwoordig drie dae.  Oor drie dae sal Farao jou kop, wat nou hang, weer optel en jou in ere herstel’ (v.9-13).  Josef het aan die skinker verduidelik dat hy niks gedoen het om tronkstraf te verdien nie; dat hy onskuldig as ‘n slaaf verkoop is.  Hy het gevra dat die skinker ‘n goeie woordjie by Farao vir hom moes insit, sodat hy vrygelaat kon word (v.14-15).

 

Toe die bakker die gunstige uitleg hoor was hy gretig om sy droom te deel.  Hy het gedroom van drie mandjies op sy kop.  Die boonste mandjie was vol van allerhande brode en ander lekker gebakte eetgoed.  Die voëls het die brood geëet.  Josef het die droom uitgelê:  ‘Die drie mandjies verteenwoordig drie dae.  Oor drie dae sal Farao jou kop, wat nou hang, optel – van jou lyf af!  Hy sal jou onthoof en jou liggaam aan ‘n boom hang.  Jy sal nie as ‘n mummy in ‘n mooi graf begrawe word nie.  Die voëls (seker aasvoëls en kraaie) sal die vrot vleis van jou lyk afeet’ (v.16-19).  Alles het gebeur presies soos God deur Josef gesê het.  (v.20-22).  Die skinker het egter van Josef vergeet – vir twee jaar (v.23, 41:1).

 

Het jy al soos Josef gevoel:  dit voel of die Here vir jou hoop gee net om jou weer plat te slaan (v.13-15, 23)?  Die moontlikheid van werk, kanker wat in remissie is, ‘n huweliksmaat, swangerskap, ‘n geskenk, ‘n geliefde wat oor die Here begin vra, lyk belowend.  Maar dan val alles weer op die grond en dinge gebeur nie soos wat jy gehoop het nie.  Jy raak depressief.  “‘n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12).  Jy wonder of God sy kinders en beloftes vergeet het (v.23)?  Jy kan assosieer met Dawid, Asaf, en Jerusalem:

 

“Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet?  Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?  Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag?  Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?” (Psalm 13:1-2).

 

“Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?  Hou sy goedertierenheid vir altyd op?  Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?  Het God vergeet om genadig te wees?  Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (Psalm 77:8-10).

 

“Maar Sion sê:  Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!” (Jesaja 49:14).

 

Die Here het jou nie vergeet nie.  Hy het ook nie sy beloftes vergeet nie.   Soos in Josua 21:45 sal nie een van sy beloftes op die grond val of onvervuld bly nie.  Sy woorde aan Jerusalem geld ook vir jou:  “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?  Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” (Jesaja 49:15-16).  God vergeet nie eers ‘n mossie nie.  Hoe sal Hy dan sy kinders vergeet (Lukas 12:6-7)?  As God sy kinders kan vergeet, beteken dit Hy kan Homself en sy Seun vergeet (Johannes 17:23, 2 Timoteus 2:13).

 

Omdat God ons nie kan vergeet nie, moet jy nie:

 

  • Bang wees dat jy jou redding kan verloor nie. God het jou by die naam geroep, jy is syne (Jesaja 43:1). Hy ken jou en niemand sal jou uit sy hand uitruk nie (Johannes 10:27-29).
  • Dink dat God jou goeie werke miskyk nie. God is nie soos ‘n aardse koning wat jou dade opteken maar daarvan vergeet nie (Ester 6). God hou rekord van jou goeie werke (Maleagi 3:16-18). Wanneer Jesus kom sal Hy jou beloon.
  • Wonder of Hy jou gebede vergeet het nie. God weet presies wat jy bid en sal jou op die regte tyd antwoord.
  • Dink Hy sien nie jou trane, beproewing, eensaamheid, en pyn nie. “U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8).
  • Dink dat terugslae beteken Hy het jou vergeet nie.
  • Sê Hy het sy vervolgde kinders vergeet en verlaat nie.
  • Wonder of Hy ooit weer sal terugkom aarde toe nie.

 

Daar is wel een ding wat God gekies het om nie te onthou nie.  Hy het akkuraat rekord gehou van ons sonde.  Maar daardie rekord van skuld het Hy aan Jesus se kruis vasgespyker (Kolossense 2:14).  Hy sal nooit weer ons sondes ophaal of teen ons gebruik nie.  In hierdie opsig het Hy dit ‘vergeet’ (Hebreërs 8:12, 10:17).  As iemand egter in sy sonde volhou en hom nie bekeer nie, sal God dit opteken en teen hom hou.  Die sondaar mag dink:  “God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.” (Psalm 10:11).  Maar op die oordeelsdag sal hy gou agterkom dat hy verkeerd was:  “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen.  En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openbaring 20:12).

 

Drome in die paleis (hfst.41)

Een aand het Farao gedroom.  In sy droom het sewe vet koeie uit die Nylrivier gekom.  In Egipte was dit algemeen vir koeie om nekdiepte in die Nyl te ‘swem’, om van die son en insekte af weg te kom.  Ná die sewe vet koeie het sewe maer en uitgeteerde koeie uit die Nyl gekom en die vet koeie opgevreet.  Farao het wakker geskrik (v.1-4).  Na ‘n tydjie het hy weer aan die slaap geraak.  In sy droom was daar sewe gesonde koringare.  Daar was ook sewe koringare wat deur die warm oostewind (die sirocco) geskroei is.  Die sewe maer en geskroeide are het die gesonde koringare verteer.  Farao het wakker geskrik uit sy nagmêrrie (v.5-7).  Hy kon nie weer aan die slaap raak nie.  In die oggend het hy sy wyse manne en towenaars laat roep om die drome uit te lê.  Met al hulle gode kon die Egiptiese wysmanne hom nie help nie (v.8, cf. Daniël 2:10-11).

 

Toe die skinker Farao se drome hoor het hy skielik van Josef onthou.  Josef het sý en die bakker se drome uitgelê, en dit het waar geword (v.9-13).  Toe Farao dit hoor het hy dadelik vir Josef laat haal.  Josef het, volgens Egiptiese gebruik, sy baard en hare afgeskeer.  Hy moes natuurlik ook skoon klere aantrek om voor die koning te verskyn (v.14).  Josef het dadelik erken dat sy gawe om drome uit te lê van Gód af kom; Gód sou vir Farao ‘n gunstige uitleg gee (v.15-16).  Farao het sy drome met Josef gedeel.  Maar hierdie keer het hy iets bygevoeg:  die maer koeie het glad nie vetter gelyk nadat hulle die gesonde koeie opgevreet het nie (v.17-24).

 

Josef het gesê dat God deur Farao se drome vir hom die toekoms wou wys.  God het wel twee drome gegee, maar hulle eendersheid het gewys hulle dra dieselfde boodskap.  Die sewe vet koeie en sewe gesonde koringare simboliseer sewe jare van voorspoed.  Die sewe maer koeie en sewe geskroeide koringare simboliseer sewe jare van verskriklike hongersnood.  Die sewe maer koeie wat so gebly het nadat hulle die vet koeie opgevreet het, beteken dat die hongersnood so erg sou wees, dat die sewe jare van voorspoed heeltemal vergete sou raak.  Tydens die hongersnood sou daar geen teken van vroeëre voorspoed wees nie.  Die rede hoekom God twee eenderse drome gegee het, was om te bevestig dat die droom verseker en ook gou vervul sou word (v.25-32).

 

Josef het toe ‘n plan voorgestel.  Farao moes ‘n wyse man aanstel om tydens die goeie jare 1/5 van die oeste op te gaar, sodat daar kos kon wees tydens die hongersnood (v.33-36).  Farao en sy knegte het gedink dis ‘n uitstekende plan en het ook erken dat God se Gees vir Josef hierdie wysheid gegee het (v.37-39).  In sy Genesis kommentaar (p.196) sê Derek Kidner:  ‘[Pharaoh] was not the last man in Scripture to speak more wisely than he knew (cf. John 11:49-52).’  Soos Nelson Mandela het Josef van die tronk na die troon beweeg (Prediker 4:14).  Hierin was Josef ‘n tipologie van Christus wat ook van die laagste na die hoogste plek verhef is (Filippense 2:8-9).  Josef was nou tweede in bevel.  Volgens v.40, 43 van die Hebreeuse teks moes die volk die grond voor Josef soen en die knie voor hom buig.  Ook hiérin was hy ‘n skadubeeld van Christus:  “Kus [soen] die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.” (Psalm 2:12).  “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is” (Filippense 2:10).  Farao het vir Josef sy seëlring gegee, Egiptiese linne aangetrek, en ‘n goue hals om sy nek gesit (v.42, sien Ester 3:10, 6:11, Daniël 5:29).  Josef het ook ‘n Egiptiese naam en vrou gekry (v.45).  Oor die betekenis van sy Egiptiese naam is daar onsekerheid.  Sy vrou se naam was Asenat.  Haar naam beteken ‘een wat behoort aan Neith [die godin van wysheid]’.  Sy was die dogter van Potifera.  Sý naam beteken ‘gegee deur Ra [die son-god]’.  Potifera was ‘n afgodspriester van die stad On, 15 km noord-wes van moderne Kaïro.  On is ook Heliopolis genoem en was die hoofstad van son-god aanbidding.

 

Josef was 30 jaar oud toe hy aan bewind gekom het (v.46).  Weer is hy ‘n tipe van Christus wat óók 30 was toe Hý begin bedien het (Lukas 3:23).  Die land was inderdaad vrugbaar soos wat Josef voorspel het.  Hy het dadelik aan die werk gespring om oeste in te samel en op te gaar (v.45-49).  Soos die vrugbare lande was Josef se vrou ook vrugbaar.  Sy het twee seuns gehad.  Die eerste het hy Manasse genoem, omdat sy naam klink soos die Hebreeuse woord vir ‘vergeet’.  Josef het van sy swaarkry en ook sy familie vergeet.  Sy tweede seun het hy Efraim genoem, omdat sy naam klink soos die Hebreeuse woord vir ‘vrugbaar’.  Josef se vrou en Egipte was vrugbaar (v.50-52).  Maar die vrugbare jare was gou vergete.  Josef was reg in sy voorspelling van ‘n verskriklike hongersnood.  Derek Kidner sê:  ‘How severe a famine could be in Egypt…is twice indicated by records of its inhabitants resorting to cannibalism.  But because Palestine was watered by rainfall and Egypt by the Nile, the harvest seldom failed simultaneously in both (cf. 12:10, 26:1-2).  This time it was only the exertions of one man that averted a multiple disaster.’ (p.198).  Die Nyl het nie soos gewoonlik sy kante oorstroom nie, maar het opgedroog.  Lae reënval in die res van die antieke wêreld het gemaak dat almal na Egipte en na Josef toe gekom het om kos te kry (v.53-57).  Nóg ‘n keer is Josef ‘n skadubeeld van Christus.  Jesus is die brood van die lewe (Johannes 6:35).  Die hele wêreld kom na Jesus toe om deur Hom versadig te word.

 

Die bakker en skinker se drome is vervul.  Farao se drome is vervul.  Josef s’n was nog nie heeltemal vervul nie (37:5-11).  Dalk voel dit soms vir jou of dinge uitwerk vir almal rondom jou, terwyl jóú ‘drome’ nie vervul word nie.  Buig die knie voor God se soewereine besluit en wag geduldig.  Hy sal jou op die regte tyd verhoog (1 Petrus 5:6).  God het sy Seun op die regte tyd gestuur en laat sterf (Galasiërs 4:4, Romeine 5:6).  Soms vat God lank om sy planne te vervul (13 jaar in Josef se geval, v.46, 37:2).  William Carey het na ses jaar op die sendingveld sy eerste bekeerling gesien.  Adoniram Judson (sendeling na Burma) moes sewe jaar wag vir sý eerste bekeerling.  Bob Dickey het vir 20 jaar nie veel vrug gesien op sy bediening nie, en Tom Carson het na hy 60 was eers vrug gesien.

 

Josef se drome was nog net halfpad vervul.  Hy was nou ‘n regeerder in Egipte, maar sy broers het nog nie voor hom kom buig nie (dit gebeur eers in 42:6, 9).  Miskien lyk dit of jou gebede net halfpad beantwoord word.  Maar God se halwe antwoord is ‘n deposito dat die res ook vervul sal word.

 

Ons leer ook uit hierdie hoofstuk dat die Here meestal in die normale gang van die lewe werksaam is.  Moenie altyd bid of wag vir ‘n wonderwerk nie.  Die Here bewerk sy planne deur normale dinge soos:

 

[1] Familie-twis (hfst.37).  Josef se broers het hom Egipte toe verkoop om God se planne uit te voer (45:5, 8, 50:20).

 

[2] Leuens (hfst.38).  Potifar se vrou het gelieg, sodat Josef in die tronk beland het.  Hiér het hy die skinker ontmoet, sodat hy uiteindelik uit die tronk sou kom.

 

[3] Slegte drome (hfst.40-41).  Josef het hierdie drome uitgelê.  God het dít gebruik om hom in bewind te kry.

 

[4] Mense wat van jou vergeet (40:23).  As Josef dadelik uit die tronk gekom het, sou hy nooit voor Farao gekom het om sy drome uit te lê nie.  Dan sou hy nooit aan bewind gekom het nie.

 

[5] Droogte (hfst.41).  God het die hongersnood gebruik om Josef se familie Egipte toe te bring.

 

[6] Iemand wat water skep (hfst.24).  So het Abraham se slaaf ‘n vrou vir Isak gekry, sodat die beloofde nageslag kon voortgaan.

 

[7] ‘n Baba wat huil (Eksodus 2).  God het baba-Moses se trane gebruik om die prinses se hartsnare te roer, sodat sy hom nie sou doodmaak nie.

 

[8] ‘n Vrou wat werk toe gaan (Rut 2).  Is dit toevallig dat Rut by Boas se lande uitgekom het, en dat Jesus uit haar nageslag gebore is?

 

[9] ‘n Sensus-opname (Lukas 2:1-7).  Keiser Augustus se bevel het gemaak dat Jesus in Betlehem gebore is, sodat die Skrif vervul kon word.

 

[10] Slaaploosheid (Ester 6).  Toe die koning nie kon slaap nie het hy gevra dat sy knegte vir hom uit die kronieke moes voorlees.  Hy gelees hoe Mordegai hom gehelp het, maar geen beloning ontvang het nie.  God het dit gebruik om vir Mordegai te verhoog, die Jode te spaar, en bose Haman te vernietig.

 

[11] Siekte (Galasiërs 4:13).  Paulus se siekte het gemaak dat hy die evangelie vir die Galasiërs gepreek, en hulle tot bekering gekom het.

 

[12] ‘n Voertuig wat verdwaal.  Charles Spurgeon het ‘n probleem gehad.  Net een man in Engeland kon sy probleem oplos, maar hy kon hom nie kry nie.  Toe hy een aand in die noorde van London moes preek het die koets ‘n straat te vroeg afgedraai.  Voor in die pad was die man wat sy probleem kon oplos.

 

[13] Slegte weer.  Spurgeon was oppad kerk toe.  Hy is in ‘n sneeustorm vasgevang en moes in ‘n klein Metodiste kapel skuiling soek.  Dáár het hy die evangelie gehoor en tot bekering gekom.

 

[14] Johannes Calvyn wou Strasbourg toe gaan.  Soldate het die pad geblok.  Cavlyn moes in Geneve bly en het ‘n kragtige bediening daar gehad.

 

[15] Stuart Olyott se seun het aansoek gedoen om by ‘n fabriek sy ambag te loop.  Plekke was reeds vol bespreek en hy het nie plek gekry nie.  ‘n Tydjie later het Olyott iemand gebel, maar per ongeluk een nommer verkeerd gedruk.  ‘n Stem aan die anderkant het gesê:  ‘Jy klink soos mnr. Olyott wat twee weke gelede by die fabriek was.  Ek het jou nommer gesoek maar kon dit nie kry nie.  Laasweek het een van die aansoekers onttrek.  Ons het plek vir jou seun.’

 

Die Afrikaanse spreekwoord sê:  ‘Uit die oog, uit die hart.’  Ons sal dit nooit van God kan sê nie.  Hy sien ons altyd en daarom sal Hy ons nooit vergeet nie.