Het God sy beloftes vergeet?

Alzheimer's

Mense met Alzheimer’s vergeet later bekende feite, die onlangse verlede, geliefdes se name en gesigte.  God kan nie Alzheimer’s kry nie; Hy kan nie sy beloftes en sy kinders vergeet nie.  Genesis 40-41 praat drie keer van mense wat vergeet:  “En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.” (40:23).  “Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word” (41:29-30).  “En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.” (41:51).  Mense mag vergeet, maar God het nie van Josef in die tronk vergeet nie.  God het nie vergeet om in die hongersnood vir Josef en sy familie te sorg nie.  God het nie van Josef se familie vergeet nie.

 

Drome in die tronk (hfst.40)

In ou Egipte het ‘n bakker en skinker nie net die koning se wyn en kos vir gif getoets nie, maar ook politieke ampte beklee.  Op ‘n dag het Farao se bakker en skinker teen hom oortree, sodat hy hulle in die tronk gegooi het.  Hiér het Josef hulle ontmoet.  Josef is in 39:21-23 aangestel om sake in die tronk te administreer.  Potifar (v.4, 39:1, die owerste van die lyfwag) het opnuut besef dat Josef betroubaar is, en hom gevra om na die bakker en skinker om te sien (v.1-4).

 

Een nag het die bakker en skinker gedroom.  Die volgende dag was hulle baie teneergedruk en depressief.  Omdat hulle in die tronk was, kon hulle nie ‘n towenaar besoek om hulle drome uit te lê nie.  Josef het duidelik gemaak dat dit Gód is wat drome uitlê (v.5-8, Daniël 2:28).  Die skinker het sy droom aan Josef vertel.  Hy het gedroom van ‘n druiwerank met drie takke.  Die takke het gebot, bloeisels gekry, en uiteindelik ryp druiwe gedra.  Die skinker het die druiwe in Farao se beker uitgedruk en dit in sy hand gesit.  Josef het die droom uitgelê:  ‘Die drie takke verteenwoordig drie dae.  Oor drie dae sal Farao jou kop, wat nou hang, weer optel en jou in ere herstel’ (v.9-13).  Josef het aan die skinker verduidelik dat hy niks gedoen het om tronkstraf te verdien nie; dat hy onskuldig as ‘n slaaf verkoop is.  Hy het gevra dat die skinker ‘n goeie woordjie by Farao vir hom moes insit, sodat hy vrygelaat kon word (v.14-15).

 

Toe die bakker die gunstige uitleg hoor was hy gretig om sy droom te deel.  Hy het gedroom van drie mandjies op sy kop.  Die boonste mandjie was vol van allerhande brode en ander lekker gebakte eetgoed.  Die voëls het die brood geëet.  Josef het die droom uitgelê:  ‘Die drie mandjies verteenwoordig drie dae.  Oor drie dae sal Farao jou kop, wat nou hang, optel – van jou lyf af!  Hy sal jou onthoof en jou liggaam aan ‘n boom hang.  Jy sal nie as ‘n mummy in ‘n mooi graf begrawe word nie.  Die voëls (seker aasvoëls en kraaie) sal die vrot vleis van jou lyk afeet’ (v.16-19).  Alles het gebeur presies soos God deur Josef gesê het.  (v.20-22).  Die skinker het egter van Josef vergeet – vir twee jaar (v.23, 41:1).

 

Het jy al soos Josef gevoel:  dit voel of die Here vir jou hoop gee net om jou weer plat te slaan (v.13-15, 23)?  Die moontlikheid van werk, kanker wat in remissie is, ‘n huweliksmaat, swangerskap, ‘n geskenk, ‘n geliefde wat oor die Here begin vra, lyk belowend.  Maar dan val alles weer op die grond en dinge gebeur nie soos wat jy gehoop het nie.  Jy raak depressief.  “‘n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12).  Jy wonder of God sy kinders en beloftes vergeet het (v.23)?  Jy kan assosieer met Dawid, Asaf, en Jerusalem:

 

“Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet?  Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?  Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag?  Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?” (Psalm 13:1-2).

 

“Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?  Hou sy goedertierenheid vir altyd op?  Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?  Het God vergeet om genadig te wees?  Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit?” (Psalm 77:8-10).

 

“Maar Sion sê:  Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!” (Jesaja 49:14).

 

Die Here het jou nie vergeet nie.  Hy het ook nie sy beloftes vergeet nie.   Soos in Josua 21:45 sal nie een van sy beloftes op die grond val of onvervuld bly nie.  Sy woorde aan Jerusalem geld ook vir jou:  “Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie?  Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.” (Jesaja 49:15-16).  God vergeet nie eers ‘n mossie nie.  Hoe sal Hy dan sy kinders vergeet (Lukas 12:6-7)?  As God sy kinders kan vergeet, beteken dit Hy kan Homself en sy Seun vergeet (Johannes 17:23, 2 Timoteus 2:13).

 

Omdat God ons nie kan vergeet nie, moet jy nie:

 

  • Bang wees dat jy jou redding kan verloor nie. God het jou by die naam geroep, jy is syne (Jesaja 43:1). Hy ken jou en niemand sal jou uit sy hand uitruk nie (Johannes 10:27-29).
  • Dink dat God jou goeie werke miskyk nie. God is nie soos ‘n aardse koning wat jou dade opteken maar daarvan vergeet nie (Ester 6). God hou rekord van jou goeie werke (Maleagi 3:16-18). Wanneer Jesus kom sal Hy jou beloon.
  • Wonder of Hy jou gebede vergeet het nie. God weet presies wat jy bid en sal jou op die regte tyd antwoord.
  • Dink Hy sien nie jou trane, beproewing, eensaamheid, en pyn nie. “U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8).
  • Dink dat terugslae beteken Hy het jou vergeet nie.
  • Sê Hy het sy vervolgde kinders vergeet en verlaat nie.
  • Wonder of Hy ooit weer sal terugkom aarde toe nie.

 

Daar is wel een ding wat God gekies het om nie te onthou nie.  Hy het akkuraat rekord gehou van ons sonde.  Maar daardie rekord van skuld het Hy aan Jesus se kruis vasgespyker (Kolossense 2:14).  Hy sal nooit weer ons sondes ophaal of teen ons gebruik nie.  In hierdie opsig het Hy dit ‘vergeet’ (Hebreërs 8:12, 10:17).  As iemand egter in sy sonde volhou en hom nie bekeer nie, sal God dit opteken en teen hom hou.  Die sondaar mag dink:  “God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.” (Psalm 10:11).  Maar op die oordeelsdag sal hy gou agterkom dat hy verkeerd was:  “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen.  En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” (Openbaring 20:12).

 

Drome in die paleis (hfst.41)

Een aand het Farao gedroom.  In sy droom het sewe vet koeie uit die Nylrivier gekom.  In Egipte was dit algemeen vir koeie om nekdiepte in die Nyl te ‘swem’, om van die son en insekte af weg te kom.  Ná die sewe vet koeie het sewe maer en uitgeteerde koeie uit die Nyl gekom en die vet koeie opgevreet.  Farao het wakker geskrik (v.1-4).  Na ‘n tydjie het hy weer aan die slaap geraak.  In sy droom was daar sewe gesonde koringare.  Daar was ook sewe koringare wat deur die warm oostewind (die sirocco) geskroei is.  Die sewe maer en geskroeide are het die gesonde koringare verteer.  Farao het wakker geskrik uit sy nagmêrrie (v.5-7).  Hy kon nie weer aan die slaap raak nie.  In die oggend het hy sy wyse manne en towenaars laat roep om die drome uit te lê.  Met al hulle gode kon die Egiptiese wysmanne hom nie help nie (v.8, cf. Daniël 2:10-11).

 

Toe die skinker Farao se drome hoor het hy skielik van Josef onthou.  Josef het sý en die bakker se drome uitgelê, en dit het waar geword (v.9-13).  Toe Farao dit hoor het hy dadelik vir Josef laat haal.  Josef het, volgens Egiptiese gebruik, sy baard en hare afgeskeer.  Hy moes natuurlik ook skoon klere aantrek om voor die koning te verskyn (v.14).  Josef het dadelik erken dat sy gawe om drome uit te lê van Gód af kom; Gód sou vir Farao ‘n gunstige uitleg gee (v.15-16).  Farao het sy drome met Josef gedeel.  Maar hierdie keer het hy iets bygevoeg:  die maer koeie het glad nie vetter gelyk nadat hulle die gesonde koeie opgevreet het nie (v.17-24).

 

Josef het gesê dat God deur Farao se drome vir hom die toekoms wou wys.  God het wel twee drome gegee, maar hulle eendersheid het gewys hulle dra dieselfde boodskap.  Die sewe vet koeie en sewe gesonde koringare simboliseer sewe jare van voorspoed.  Die sewe maer koeie en sewe geskroeide koringare simboliseer sewe jare van verskriklike hongersnood.  Die sewe maer koeie wat so gebly het nadat hulle die vet koeie opgevreet het, beteken dat die hongersnood so erg sou wees, dat die sewe jare van voorspoed heeltemal vergete sou raak.  Tydens die hongersnood sou daar geen teken van vroeëre voorspoed wees nie.  Die rede hoekom God twee eenderse drome gegee het, was om te bevestig dat die droom verseker en ook gou vervul sou word (v.25-32).

 

Josef het toe ‘n plan voorgestel.  Farao moes ‘n wyse man aanstel om tydens die goeie jare 1/5 van die oeste op te gaar, sodat daar kos kon wees tydens die hongersnood (v.33-36).  Farao en sy knegte het gedink dis ‘n uitstekende plan en het ook erken dat God se Gees vir Josef hierdie wysheid gegee het (v.37-39).  In sy Genesis kommentaar (p.196) sê Derek Kidner:  ‘[Pharaoh] was not the last man in Scripture to speak more wisely than he knew (cf. John 11:49-52).’  Soos Nelson Mandela het Josef van die tronk na die troon beweeg (Prediker 4:14).  Hierin was Josef ‘n tipologie van Christus wat ook van die laagste na die hoogste plek verhef is (Filippense 2:8-9).  Josef was nou tweede in bevel.  Volgens v.40, 43 van die Hebreeuse teks moes die volk die grond voor Josef soen en die knie voor hom buig.  Ook hiérin was hy ‘n skadubeeld van Christus:  “Kus [soen] die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.” (Psalm 2:12).  “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is” (Filippense 2:10).  Farao het vir Josef sy seëlring gegee, Egiptiese linne aangetrek, en ‘n goue hals om sy nek gesit (v.42, sien Ester 3:10, 6:11, Daniël 5:29).  Josef het ook ‘n Egiptiese naam en vrou gekry (v.45).  Oor die betekenis van sy Egiptiese naam is daar onsekerheid.  Sy vrou se naam was Asenat.  Haar naam beteken ‘een wat behoort aan Neith [die godin van wysheid]’.  Sy was die dogter van Potifera.  Sý naam beteken ‘gegee deur Ra [die son-god]’.  Potifera was ‘n afgodspriester van die stad On, 15 km noord-wes van moderne Kaïro.  On is ook Heliopolis genoem en was die hoofstad van son-god aanbidding.

 

Josef was 30 jaar oud toe hy aan bewind gekom het (v.46).  Weer is hy ‘n tipe van Christus wat óók 30 was toe Hý begin bedien het (Lukas 3:23).  Die land was inderdaad vrugbaar soos wat Josef voorspel het.  Hy het dadelik aan die werk gespring om oeste in te samel en op te gaar (v.45-49).  Soos die vrugbare lande was Josef se vrou ook vrugbaar.  Sy het twee seuns gehad.  Die eerste het hy Manasse genoem, omdat sy naam klink soos die Hebreeuse woord vir ‘vergeet’.  Josef het van sy swaarkry en ook sy familie vergeet.  Sy tweede seun het hy Efraim genoem, omdat sy naam klink soos die Hebreeuse woord vir ‘vrugbaar’.  Josef se vrou en Egipte was vrugbaar (v.50-52).  Maar die vrugbare jare was gou vergete.  Josef was reg in sy voorspelling van ‘n verskriklike hongersnood.  Derek Kidner sê:  ‘How severe a famine could be in Egypt…is twice indicated by records of its inhabitants resorting to cannibalism.  But because Palestine was watered by rainfall and Egypt by the Nile, the harvest seldom failed simultaneously in both (cf. 12:10, 26:1-2).  This time it was only the exertions of one man that averted a multiple disaster.’ (p.198).  Die Nyl het nie soos gewoonlik sy kante oorstroom nie, maar het opgedroog.  Lae reënval in die res van die antieke wêreld het gemaak dat almal na Egipte en na Josef toe gekom het om kos te kry (v.53-57).  Nóg ‘n keer is Josef ‘n skadubeeld van Christus.  Jesus is die brood van die lewe (Johannes 6:35).  Die hele wêreld kom na Jesus toe om deur Hom versadig te word.

 

Die bakker en skinker se drome is vervul.  Farao se drome is vervul.  Josef s’n was nog nie heeltemal vervul nie (37:5-11).  Dalk voel dit soms vir jou of dinge uitwerk vir almal rondom jou, terwyl jóú ‘drome’ nie vervul word nie.  Buig die knie voor God se soewereine besluit en wag geduldig.  Hy sal jou op die regte tyd verhoog (1 Petrus 5:6).  God het sy Seun op die regte tyd gestuur en laat sterf (Galasiërs 4:4, Romeine 5:6).  Soms vat God lank om sy planne te vervul (13 jaar in Josef se geval, v.46, 37:2).  William Carey het na ses jaar op die sendingveld sy eerste bekeerling gesien.  Adoniram Judson (sendeling na Burma) moes sewe jaar wag vir sý eerste bekeerling.  Bob Dickey het vir 20 jaar nie veel vrug gesien op sy bediening nie, en Tom Carson het na hy 60 was eers vrug gesien.

 

Josef se drome was nog net halfpad vervul.  Hy was nou ‘n regeerder in Egipte, maar sy broers het nog nie voor hom kom buig nie (dit gebeur eers in 42:6, 9).  Miskien lyk dit of jou gebede net halfpad beantwoord word.  Maar God se halwe antwoord is ‘n deposito dat die res ook vervul sal word.

 

Ons leer ook uit hierdie hoofstuk dat die Here meestal in die normale gang van die lewe werksaam is.  Moenie altyd bid of wag vir ‘n wonderwerk nie.  Die Here bewerk sy planne deur normale dinge soos:

 

[1] Familie-twis (hfst.37).  Josef se broers het hom Egipte toe verkoop om God se planne uit te voer (45:5, 8, 50:20).

 

[2] Leuens (hfst.38).  Potifar se vrou het gelieg, sodat Josef in die tronk beland het.  Hiér het hy die skinker ontmoet, sodat hy uiteindelik uit die tronk sou kom.

 

[3] Slegte drome (hfst.40-41).  Josef het hierdie drome uitgelê.  God het dít gebruik om hom in bewind te kry.

 

[4] Mense wat van jou vergeet (40:23).  As Josef dadelik uit die tronk gekom het, sou hy nooit voor Farao gekom het om sy drome uit te lê nie.  Dan sou hy nooit aan bewind gekom het nie.

 

[5] Droogte (hfst.41).  God het die hongersnood gebruik om Josef se familie Egipte toe te bring.

 

[6] Iemand wat water skep (hfst.24).  So het Abraham se slaaf ‘n vrou vir Isak gekry, sodat die beloofde nageslag kon voortgaan.

 

[7] ‘n Baba wat huil (Eksodus 2).  God het baba-Moses se trane gebruik om die prinses se hartsnare te roer, sodat sy hom nie sou doodmaak nie.

 

[8] ‘n Vrou wat werk toe gaan (Rut 2).  Is dit toevallig dat Rut by Boas se lande uitgekom het, en dat Jesus uit haar nageslag gebore is?

 

[9] ‘n Sensus-opname (Lukas 2:1-7).  Keiser Augustus se bevel het gemaak dat Jesus in Betlehem gebore is, sodat die Skrif vervul kon word.

 

[10] Slaaploosheid (Ester 6).  Toe die koning nie kon slaap nie het hy gevra dat sy knegte vir hom uit die kronieke moes voorlees.  Hy gelees hoe Mordegai hom gehelp het, maar geen beloning ontvang het nie.  God het dit gebruik om vir Mordegai te verhoog, die Jode te spaar, en bose Haman te vernietig.

 

[11] Siekte (Galasiërs 4:13).  Paulus se siekte het gemaak dat hy die evangelie vir die Galasiërs gepreek, en hulle tot bekering gekom het.

 

[12] ‘n Voertuig wat verdwaal.  Charles Spurgeon het ‘n probleem gehad.  Net een man in Engeland kon sy probleem oplos, maar hy kon hom nie kry nie.  Toe hy een aand in die noorde van London moes preek het die koets ‘n straat te vroeg afgedraai.  Voor in die pad was die man wat sy probleem kon oplos.

 

[13] Slegte weer.  Spurgeon was oppad kerk toe.  Hy is in ‘n sneeustorm vasgevang en moes in ‘n klein Metodiste kapel skuiling soek.  Dáár het hy die evangelie gehoor en tot bekering gekom.

 

[14] Johannes Calvyn wou Strasbourg toe gaan.  Soldate het die pad geblok.  Cavlyn moes in Geneve bly en het ‘n kragtige bediening daar gehad.

 

[15] Stuart Olyott se seun het aansoek gedoen om by ‘n fabriek sy ambag te loop.  Plekke was reeds vol bespreek en hy het nie plek gekry nie.  ‘n Tydjie later het Olyott iemand gebel, maar per ongeluk een nommer verkeerd gedruk.  ‘n Stem aan die anderkant het gesê:  ‘Jy klink soos mnr. Olyott wat twee weke gelede by die fabriek was.  Ek het jou nommer gesoek maar kon dit nie kry nie.  Laasweek het een van die aansoekers onttrek.  Ons het plek vir jou seun.’

 

Die Afrikaanse spreekwoord sê:  ‘Uit die oog, uit die hart.’  Ons sal dit nooit van God kan sê nie.  Hy sien ons altyd en daarom sal Hy ons nooit vergeet nie.