Wat doen God in my lyding?

Why am I suffering

‘n Man op sy sterfbed het vir my gevra: ‘Hoekom ly ek so?’  Vir duisende jare al probeer mense om dié vraagstuk te beantwoord.  Genesis 42-45 gee vir ons lig op die onderwerp.

 

Die eerste besoek (42:1-43:14)

Die hongersnood was erg in Kanaän. Jakob het tien van sy seuns Egipte toe gestuur om koring te koop.  Die tragedie van hfst.37 was nog vars in sy gedagtes, en daarom wou hy nie vir Benjamin – Josef se broer – saamstuur nie (42:1-5).  Toe die broers in Egipte kom het hulle hul voor Josef, die goewerneur van die land, neergebuig.  Uiteindelik het God die drome wat Josef in 37:5-11 gedroom het, vervul:

 

Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.  Hy het naamlik vir hulle gesê:  Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het.  Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.  Toe sê sy broers aan hom:  Wil jy miskien oor ons regeer?  Of wil jy miskien oor ons heers?  En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.  Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê:  Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.  Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê:  Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het?  Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?  En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”

 

Josef het sy broers herken, maar hulle het hom nie herken nie. Hy was 17 toe hy as slaaf verkoop is (37:2) en was nou amper 39 (41:46, 53, 45:6).  Sy hare was afgeskeer en hy was soos ‘n Egiptenaar aangetrek (41:14, 42).  Hy het Egipties gepraat en deur ‘n tolk met hulle gekommunikeer (42:23).  Hy het by Farao gesweer (42:15).  Hy was baie kwaai met hulle (42:6-12).  Hy het hulle vir drie dae in die tronk gesit.  Ruben was wel die oudste, maar was onskuldig (42:22).  Omdat Simeon die tweede oudste was (29:33) het hy hóm agtergehou, terwyl die res vir Benjamin gaan haal het. (42:13-24).  As hulle jongste boetie Egipte toe gekom het sou Josef vir Benjamin vrylaat.  Oppad het een van die broers sy sak oopgemaak om sy donkie te voer.  Sy geld was in sy sak.  Die broers was verskrik.  Toe hulle sonder Simeon by die huis aankom het hulle die storie met hulle pa gedeel.  Hulle het gou agtergekom dat almal se geld in hulle sakke was.  Hulle was vreesbevange.  Het die goewerneur dit gedoen om hulle uit te vang; om te sê:  ‘Ek het geweet julle is spioene!’? (42:25-36).  Wat kon hulle doen?  As hulle weer vir Simeon wou sien móés hulle vir Benjamin Egipte toe vat.  Maar Jakob wou nie toegee nie:  ‘My seun sal nié saam met julle gaan nie.  Ek is doodbang iets gebeur met hom.’

 

Ruben, die oudste, het navore getree: ‘Ék sal vir Benjamin oppas.  As iets met hom gebeur kan pa mý seuns doodmaak.’  Dit was maklik om só ‘n aanbod van die hand te wys.  Hoekom sou enige oupa sy kleinseuns wou doodmaak?  Toe die kos uiteindelik opgeraak het moes hulle teruggaan Egipte toe.  Hierdie keer het Juda sin in sy pa se kop ingepraat:  ‘As ons nie vir Benjamin saamvat nie, kan ons nie nog koring koop nie.  En as ons nie nog koring kan koop nie gaan Benjamin – én die res van ons! – in elk geval doodgaan van die honger.  Stuur hom saam met my.  Ek sal hom met my lewe bewaar.  As iets met hom gebeur sal ek vir die res van my lewe die skuld dra.  Asseblief pa.’  Jakob het Juda se aanbod aanvaar.  Soos wat hy jare tevore met sy broer Esau gedoen het, het hy het nou ‘n geskenk saamgestuur om die goewerneur se guns te wen (42:37-43:14, 32:13).

 

Die tweede besoek (43:15-45:28)

Die broers het saam met Benjamin in Egipte aangekom. Hulle was bang toe hulle na Josef se huis toe genooi is.  Hulle het dadelik vir sy dienskneg gesê dat hulle nie die geld wat in hulle sakke was gesteel het nie.  Die kneg het hulle gerusgestel:  ‘Ek hét julle geld ontvang.’  Toe hulle in Josef se huis kom het hulle weer voor hom neergebuig.  Hy was baie bly om vir Benjamin te sien en was gaaf teenoor sy broers.  Die volgende oggend het Josef hulle met sakke vol koring huistoe gestuur.  Hy het sy silwer beker in Benjamin se sak gesit om hulle te toets.  Kort na hulle weg is het hy sy dienskneg agter hulle aangestuur.  ‘Julle het my meester se silwer beker gesteel!’ het hy gesê.  Hulle het nie geweet waarvan die man praat nie.  ‘Ons sal nooit so iets doen nie,’ het hulle geantwoord.  ‘Die een in wie se sak julle die beker vind sal doodgemaak word, en die res van ons sal die goewerneur se slawe wees.’  Die dienskneg het egter die straf versag en gesê:  ‘Die een wat die beker gesteel het sal die goewerneur se slaaf wees.  Die res van julle is vry om huistoe te gaan.’  Josef se kneg het die beker in Benjamin se sak gevind (44:1-12).  Jare tevore het die broers Josef se klere geskeur (37:31).  Nou het hulle hul eie klere geskeur (44:13).

 

Hulle is terug stad toe. Juda kon dit nie aan sy pa doen om sonder Benjamin by die huis aan te kom nie.  Hy sou opstaan vir Benjamin en was bereid om in sy plek die straf van slawerny te ontvang (44:14-34).  Hierin is hy ‘n skadubeeld van Christus wat in ons plek die straf vir sonde ontvang het.  Josef kon nie meer die spanning vat nie.  Hy het homself aan sy broers bekend gemaak.  Hulle was doodbang maar hy het hulle verseker dat hy nie vir hulle kwaad was nie.  Hy het vir hulle gesê dat hy ‘n leier in Egipte was.  Hulle moes dit vir hulle pa vertel en hom Egipte toe bring.  Farao was bly om te hoor dat Josef se broers in Egipte was.  Josef het hulle met ‘n vrag padkos huistoe gestuur (45:1-23).  Hy het sterk vermoed dat hulle oppad sou baklei:  ‘Wat gaan ons vir pa sê?  Ons gaan móét uitkom met die ware storie.  Ons sal vir hom moet sê dat ons vir 22 jaar gejok het.  Wie gaan sê dat ons eintlik vir Josef as ‘n slaaf verkoop het?’  Daarom het Josef vir hulle gesê:  “Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie.” (45:24).  Toe hulle by die huis aankom en die nuus breek was hulle pa stomgeslaan.  Hy kon dit nie glo nie.  Toe hulle vir hom die geskenke wys wat Josef saamgestuur het, het hy dadelik uit die gat van depressie opgestaan.  Hy sou Egipte toe gaan om sy geliefde seun Josef te sien (45:25-28).

 

Daar het jy dit: die storie in ‘n neutedop.  Maar hoe help dit jou?  Wat doen God in jóú lyding as Christen?

 

[1] Wanneer ‘n mens goud in die smeltoond sit dryf daar onsuiwerhede op die oppervlak. Die dros was nog altyd daar.  Die vuur het dit net sigbaar gemaak.  Net so gebruik God lyding om jou slapende gewete te laat ontwaak.  Wanneer jy ly bring God jou versteekte sonde navore:  “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons.” (42:21).  Deuteronomium 8:2 sê:  “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.”

 

[2] God verneder ons tot ons voordeel. Josef het sy broers vir drie dae in die tronk gesit om hulle te verneder (42:17).  God doen dieselfde met ons:  “wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronomium 8:16).  “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Hebreërs 12:11).

 

[3] Josef het gedurig sy broers getoets om te sien of hulle verander het. Wanneer ons ly doen die Here dieselfde met ons.

 

  • Josef het hulle beskuldig dat hulle spioene is (42:7, 9, 12).
  • Josef het vir Simeon gebind. In hfst.37 het hulle gelieg toe hulle sonder Josef by die huis aankom. Wat sou hulle dié keer vir hulle pa sê as Simeon nie by hulle was nie?
  • Josef het vir Benjamin vyf keer meer kos ingeskep as vir hulle (43:34). Sou hulle weer soos in 37:4 jaloers wees?
  • Josef het gesê dat hy in die toekoms kan sien (44:15). Sou dit hulle gewete prik om te besef dat God regtig alles wees?
  • Josef het gesê dat Benjamin alleen sy slaaf sou wees (44:17). Sou hulle vir hom opkom, of sou hulle traak-my-nie-agtig toekyk hoe hy ‘n slaaf gemaak word (soos in hfst.37 toe hulle Josef as slaaf verkoop het)?
  • Josef het vir Benjamin meer geskenke gegee as vir hulle (45:22). Hoe sou hulle dit hanteer?

 

[4] Die Here verander ons om meer soos Jesus te wees. God het vir Juda verander.  In 37:26 het hý die broers aangehits om vir Josef as ‘n slaaf te verkoop.  In hfst.38 het hy immoreel opgetree.  Nou, in 43:9, het hy gesê dat hý vir Benjamin sou beskerm.  In 44:14-34 het hy gesê dat hý Benjamin se plek sou inneem om ‘n slaaf te word.  Hy het ook sy pa bejammer en wou nie sien dat hy moes treur soos in hfst.37 nie.

 

Moenie dink dat God lekker kry as ons ly nie. Hy’s nie ‘n sadis nie.  Moenie dink Hy’s teen jou in jou lyding nie.  Hy is eerder soos ‘n pa wat nie plesier daarin het om sy kind pak te gee nie:  “want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” (Klaagliedere 3:33).  God is vir jou wanneer jy ly (Romeine 8:31).  Toe die boeties sonder Simeon by die huis aankom en sê dat hulle opdrag ontvang het om vir Benjamin Egipte toe te vat, het Jakob gesê:  “Julle beroof my van kinders.  Josef is weg!  En Símeon is weg!  En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!” (42:36).  Hy kon nie meer verkeerd gewees het nie.  Alles was eintlik besig om vir die goeie uit te werk.  En dit is presies wat God in jóú lyding doen:  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).

 

Vertrou die Here wanneer jy ly. Vertrou dat die Almagtige vir jou sal deurkom en sal doen wat die beste is.  Jakob het dit gedoen:  “En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek!  En ek—as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.” (43:14, cf. Ester 4:16).  William Cowper het geskryf:

 

Behind a frowning providence,

He hides smiling face.

 

Josef het kwaai gelyk, maar eintlik het hy sy broers baie liefgehad. Ons sien dit toe hy oor hulle gehuil het (42:24).  Ons sien dit toe hy vir hulle sakke vol padkos gepak het én hulle geld teruggegee het (42:25, 44:1).  Ons sien dit toe hy hulle vir ete genooi het (43:16).  Ons sien dit toe sy kneg vir hulle gesê het:  “Vrede vir julle!  Moenie bang wees nie!  Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee.” (43:23).  Ons sien dit toe die kneg water gebring het om hulle voete te was; toe hy vir hulle donkies kos gegee het (43:24).  Ons sien dit toe Josef belanggestel het om toe hoor hoe dit met sý en húlle pa gaan (43:27).  Ons sien dit toe Josef sy broer Benjamin geseën, liefgehad en oor hom gehuil het (43:29-30).  Ons sien dit toe Josef wéér oor sy broers gehuil het (45:2).  Ons sien dit toe hy hulle genooi het om by hom in Egipte te kom bly, in die beste deel van die land (45:10).  Ons sien dit toe hy vir hulle geskenke gegee het (45:21-23).  In jou lyding lýk dit soms vir jou of die Here, soos Josef, kwaai is.  Hy is nie.  Hy is lief vir jou.  Moenie die leidrade van sy goedheid en liefde miskyk nie.  Josef se boeties het dit gemis.  In 42:18 het die ‘kwaai Egiptiese goewerneur’ vir hulle gesê:  “ek vrees God!”  In 43:23 het sy kneg gesê:  “Julle God en die God van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee.”  In 43:33 het hy hulle van oudste na jongste aan tafel laat sit, en in 44:12 van oudste na jongste deursoek.  Hulle moes agtergekom het dat God se hand hierin is, dat iets goeds besig is om te gebeur.  Maar hulle het nie.  Moenie soos hulle wees nie.

 

Wanneer ons onbelyde sonde het, raak ons agterdogtig in ons lyding. Ons dink God is daarop uit om ons te straf.  Josef se boeties was so.  Hulle het ‘n donker geheim gehad wat hulle nie bely het nie.  Toe dinge begin skeefloop het hulle gesê:  “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons.  Daarop antwoord Ruben hulle:  Het ek nie vir julle gesê nie:  Besondig julle nie aan die seun nie?  Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.” (42:21-22).  Iemand wat ‘n skuldige gewete het hardloop al jaag niemand hom nie:  “Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is” (Spreuke 28:1).  As jy ‘n skuldige gewete het verdink jy God selfs wanneer Hy goeie dinge oor jou pad bring.  Jy kry snuf in die neus en dink Hy probeer jou uitvang.  Toe Josef se boeties die geld in hulle sakke sien, het hulle dit nie as ‘n geskenk waardeer nie, maar gedink God wil hulle uitvang (42:28, 35).  Toe Josef hulle vir ete nooi het hulle gedink hy wil hulle oorval en aanrand (43:16-22).  Sorg dan dat jy jou sonde bely, sodat jy ‘n rein gewete kan hê.  In 44:16 het Juda uiteindelik sy sonde bely en erken:  “Wat kan ons aan my heer sê?  Wat kan ons spreek?  En waarmee kan ons ons regverdig?  God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind.”  As jy jou sonde bely, sal jou lyding baie makliker wees om te hanteer.  Jy sal nie heeltyd wil omkyk om te sien of God jou dalk jaag nie.

 

Ly jy? Huil vrylik – al is jy ‘n man.  Josef het (42:24, 43:30, 45:2, 14-15).  Maar moenie soos Jakob wees en jouself bejammer of in ‘n gat van depressie beland nie (37:35, 42:38).  Glo dat God soewerein is in jou lyding en dat Hy goeie dinge daaruit kan voortbring:  “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie.  Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.  Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.” (45:5-8).  As jy glo dat God soewerein is in jou lyding, sal dit jou help om te vergewe en nie bitter te wees nie (45:4-5); om gaaf te wees met jou vyande (45:9-10, 15, 22).  Jesus het geweet dat die bitter beker wat Hy moes drink uit sy Vader se hand gekom het (Johannes 18:11).  Daarom het Hy die lyding verduur en selfs sy vyande vergewe (Lukas 23:34).

 

Wanneer jy ly is die Skrynwerker van Nasaret besig om aan jou te skaaf en te skuur, sodat jy meer soos Hý kan word (Romeine 8:28-29).

Advertisements