Al wat saakmaak

 

Purpose

Of jy nou van Rick Warren se Purpose Driven Life verskil of nie – die konsep is reg:  ‘n mens kan nie traak-my-nie-agtig lewe nie.  Jy moet ‘n doel hê; iets waarvoor jy lewe.  Paulus het vir Timoteus gesê:  “You, however, have followed… my aim in life” (2 Timoteus 3:10, ESV).  Maak seker jou lewensdoel is Bybels.  Handelinge 20 illustreer wat vir Paulus saakgemaak het.

 

Paulus in Griekeland (v.1-4)

 

1 En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis. 2 En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom. 3 En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. 4 En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus.”

 

Toe die oproer in Efese bedaar het (hfst.19), het Paulus die dissipels na hom toe geroep en hulle bemoedig. Vandaar het hy deur noord en suid-Griekeland gereis om geld in te samel vir die brandarm gelowiges in Jerusalem (v.1-2, 2 Korintiërs 8-9).  Omdat Griekeland in die winter reën kry, wou hy seker nie dán op die see gewees het nie.  Dít mag die rede wees hoekom hy vir drie maande in Korinte, suid-Griekeland gebly het (v.2-3).  Uit Romeine 15:25-26 klink dit of hy in dié tyd Romeine geskryf het.  Toe hy uiteindelik wou vertrek, het die Jode beplan om hom dood te maak.  Hy het daarvan uitgevind en sy reisplanne verander.  In plaas van ‘n skeepsvaart, het hy deur Macedonië, noord-Griekeland gereis (v.3).  Hy het sewe mede-werkers gehad wat gehelp het om die geld te kollekteer (v.4).  Sopater word in Romeine 16:21 Sosipater genoem.  Aristarchus was saam met hom in die tronk (Kolossense 4:10).  Gauis het Paulus gehuisves en ook die kerk in sy huis verwelkom (Romeine 16:23).  Timoteus ken ons.  Tichikus was Paulus se boodskapper aan die gemeentes (Efesiërs 6:21, Kolossense 4:7), en Trofimus was saam met Paulus in Jerusalem (21:29).

 

Paulus se doel was om aan Jesus gehoorsaam te wees, Jerusalem toe te gaan, en sy bediening te vervul (v.21, 24, 19:21). Hy sou helpers kry, die Jode se planne fnuik, en enigiets doen om hierdie doel te bereik (v.3-4).

 

Paulus in Troas (v.5-16)

 

5 Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. 6 Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.

 

7 En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe. 8 En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. 9 En ‘n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ‘n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. 10 Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê:  Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. 11 En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. 12 En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos.

 

13 Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan. 14 Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. 15 En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom. 16 Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.”

 

Paulus se helpers het vooruitgegaan Troas toe en dáár vir hom gewag. Paulus en Lukas het vyf dae ná Paasfees Troas toe gevaar om hulle vriende te ontmoet, en sewe dae daar gewag tot die Sondag (v.6-7).  Die vroeë Christene het nie meer die sewendedag-Sabbat onderhou nie, maar op Sondae byeengekom om Jesus se opstanding te herdenk (Johannes 20:1, 19, 26, 1 Korintiërs 16:1-2, Openbaring 1:10).

 

Die gelowiges het bymekaargekom om nagmaal te hou en die Woord te hoor (v.7, 2:42). Omdat dit reeds middernag was en die olielampe se walms in die lug gehang het, het ‘n sekere jong Eutichus by die oop venster gesit om vars lug te kry (v.7-8, onthou dat hulle nie glas of rame in hulle vensters gehad het nie).  Paulus se lang boodskap en preekstyl het moontlik ook daartoe bygedra dat hy gesukkel het om wakker te bly (2 Korintiërs 10:10, 11:6).  Uiteindelik het moegheid die oorhand gekry.  Eutichus het by die venster uitgeval – 3 verdiepings ver.  Lukas was ‘n mediese dokter en het bevestig dat hy dood was (v.9).  Paulus het saam met die res ondertoe gegaan en hom uit die dood opgewek (v.10).  Hulle het teruggegaan boontoe en nagmaal gehou.  Paulus het sy preek afgesluit toe die son opkom (v.11).  Die gelowiges was vertroos dat Eutichus uit die dood opgewek was (v.12).

 

Paulus se helpers het op ‘n skip geklim en moes 64 km om die land se punt na Assos toe seil. Paulus wou seker nog preek, en het besluit om 32 km uit te sny en oor die land te reis (v.13).  Paulus het in Assos op die skip geklim en verby drie eilande gevaar (v.14-15).  Hulle het aan die suid-weskus van Turkye by Milete gestop (v.16).

 

Weer sien ons dat Paulus vasberade was en ‘n doel vooroë gehad het. Selfs ‘n jongman se dood sou hom nie keer om hierdie doel te bereik nie.  Hy was haastig oppad Jerusalem toe (v.7, 16).  Daarom het hy die jongman opgewek en verder gepreek (v.10-11).  Dit herinner my aan ‘n storie wat ek in Iain Murray se biografie oor Martyn Lloyd-Jones gelees het.  Terwyl Lloyd-Jones een Sondag besig was om te preek, het die Duitsers ‘n gebou naby Westminster Chapel (Lloyd-Jones se kerk) gebom.  As gevolg van die skokgolwe het stukke van die plafon uitgeval terwyl Lloyd-Jones gepreek het.  Hy het nie ‘n oog gewink nie, maar eenvoudig aangehou preek.  Mense was diep beïndruk met sy vertroue in God se soewereiniteit.  Paulus was so vasbeslote om in Jerusalem te kom dat hy die tyd uitgekoop het (Efesiërs 5:16).  Hy het kortpad gevat Assos toe en nie oorgestop in Efese nie (v.13, 16).

 

Paulus in Milete (v.17-38)

 

17 En van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep. 18 En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle:

 

Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het 19 en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode; 20 hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, 21 terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus. 22 En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23 behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 25 En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. 26 Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. 27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. 28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. 31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie. 32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. 33 Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; 34 maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. 35 Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het:  Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

 

36 En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid. 37 En daar het ‘n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen, 38 veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie.  En hulle het hom na die skip begelei.”

 

Toe Paulus die vorige keer uit Efese weg is, was sy lewe in gevaar (hfst.19). Hy het nie tyd gehad om deeglik instruksies vir die kerk se ouderlinge te gee nie (v.1).  Nou was hy haastig oppad Jerusalem toe.  Die ouderlinge moes hom in Milete ontmoet (v.17-18).

 

Hy het hulle herinner aan sy konstante lewe, sy nederige diens, sy trane van liefde vir die gelowiges, sy trane oor die ongelowige Jode en vals leraars, en hoe, ten spyte van vervolging, volhard het (v.18-19, 31, Romeine 9:2, Filippense 3:18). Hy het hulle herinner hoe hy die Woord in die saal van Tirannus en in huise vir hulle gepreek het (v.20).  Hy het vir Jode en heidene gesê dat hulle hulle moet bekeer en die evangelie moet glo (v.21).  Nou het die Heilige Gees hom Jerusalem toe gedryf, en gesê dat hy gedurig in die tronk sal beland (v.22-23).  Maar hy was bereid om sy lewe af te lê vir Jesus en die evangelie (v.24).  Paulus was duidelik liewer vir Jesus as vir homself:  “hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” (Openbaring 12:11).  Omdat hy seker was dat hy ‘n martelaar sou wees, het hy gedink dat hy nie weer sy Efesiër-vriende op aarde sou sien nie (v.25).  Maar volgens Filippense 1:19 is hy ná Handelinge 28 uit die tronk vrygelaat, en het hy baie waarskynlik weer die Efesiër-ouderlinge gesien (1 Timoteus 1:3).

 

Paulus het gesê dat sy hande skoon was van die Efesiërs se bloed (v.26). Niemand kon ‘n klag voor sy deur lê en sê:  ‘Nou is óns in die hel omdat jý ons nie gewaarsku het nie.’ Nee.  Paulus het die volle raad van God – die hele Skrif – aan hulle verkondig (v.27).  Nou was dit húlle taak om hierdie lering in die gemeente voort te sit.  Die Heilige Gees het hulle as herders en opsieners aangestel om die kudde te voed en versorg.  God het die kerk gekoop met die bloed van sy eie Seun (v.28, Johannes 10:11, Efesiërs 5:25).  Omdat die kerk vir Hóm so belangrik was moes die Efesiërs-ouderlinge dit nie afskeep nie.  Om dit reg te kry moes hulle heel eerste hulleself voed.  Voordat jy vir ander kan preek moet jy self die Bybel ken en doen (v.28, 1 Timoteus 4:16).  Daarná moes hulle ook die skape met God se waarheid voed en die wolwe in skaapsklere verdryf (v.29-30, Matteus 7:15).  Prediking en lering moet gebalanseerd wees:  ons moet positiewe waarheid gee, maar ook ons mense teen vals lering waarsku (Efesiërs 4:14, Titus 1:9, 1 Petrus 5:2-3).  Paulus het ‘n voorbeeld gestel van hoe ‘n mens die kudde moet liefhê.  Hy het vir drie jaar lank elke een van hulle met deernis geleer en beraad (v.31).  Hulle moes dieselfde doen.  God en sy Woord het hulle volkome toegerus vir die taak om die gelowiges op te bou en te heilig (v.32, Johannes 17:17, 2 Timoteus 3:16-17).  Ja, God sal sy kinders veilig in die hemel kry.  Maar Hy doen dit deur die prediking van sy Woord (v.32).  Mense wat opsetlik die prediking van God se Woord versaak sal ‘n skok kry op die oordeelsdag wanneer hulle nié ‘n plek het onder die heliges nie (v.32).  Dié wat die Woord preek moet dit doen om die gelowiges te help, en nie om geld te maak nie (v.33).  Inteendeel, hulle moet hard werk, sodat hulle iets kan hê om te deel met die armes (v.34-35).  Ná sy toespraak het die ouderlinge se liefde vir Paulus duidelik geword:  hulle het hom omhels, gesoen, gehuil, en saam met hom gebid (v.36-38).

 

Paulus se doel was om Jesus te gehoorsaam en sy bediening te vervul (v.24). Hy sou enigiets doen om daardie doel te bereik.  Het jy ‘n lewensdoel soos Paulus?  Dit waaroor jy dagdroom sal vir jou sê wat dit is.  Dit waaraan jy die meeste geld, tyd, en energie spandeer sal vir jou sê wat dit is.  Hoe jy die volgende vrae beantwoord sal jou ook help om te weet wat vir jou die belangrikste is in die lewe:

 

  • Wat bring vir jou vervulling?
  • Hoe sal jy die volgende sin voltooi: ‘Ek voel nutteloos en gefrustreerd as ek nie ____ kan doen nie’?
  • Wat is jy bang om te verloor wanneer jy doodgaan?
  • Wat is die doel wat jy wil hê jou kinders moet bereik?
  • Wat sal jy wens jy het bereik wanneer jy op jou sterfbed lê?

 

As dít waarvoor jy lewe verlore gaan wanneer jy sterf, dan is jou lewensdoel nie die moeitewerd nie. Sorg dat jou lewensdoel soos Paulus s’n is.  Dalk kan jy jou lewensdoel uitdruk, laat raam, en dit in jou huis ophang.  Verskeie Bybelverse kan jou help om ‘n God-gesentreerde lewensdoel te formuleer.  Paulus het syne op verskillende maniere opgesom.  Hiér som hy dit soos volg op:  “Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.” (v.24).  Ek het sy lewensdoel in 2 Korintiërs 5:9, 15 my eie gemaak:  “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe… om Hom welbehaaglik te wees… sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.”  In my eie woorde klink dit só:  ‘Delighted to please Him and not myself.’  Ánder verse waaruit jy kan opsom wat jy met jou lewe wil bereik, is:

 

“laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matteus 6:9-10). Lewensdoel: ‘Om God se Naam te vrees, te verkondig, en te gehoorsaam.’

 

“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun” (Romeine 8:29).  Lewensdoel:  ‘Om soos Jesus te wees.’

 

“Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” (1 Korintiërs 10:31).  Lewensdoel:  ‘Om God te verheerlik in alles wat ek doen.’

 

“en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” (Efesiërs 5:16-17).  Lewensdoel:  ‘Om met elke sekonde van my lewe God se wil te soek en te doen.’

 

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins… Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry… Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.  Maar een ding:  ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” (Filippense 1:21, 3:8, 12-14).  Lewensdoel: ‘Om Jesus te ken en vir Hom te lewe.’

 

“Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel” (Kolossense 1:28).  Lewensdoel:  ‘Om ander te help om Jesus te ken en soos Hy te wees.’

 

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” (Kolossense 3:2).  Lewensdoel:  ‘Om op aarde te lewe soos ‘n burger van die hemel.’

 

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Timoteus 4:7).  Lewensdoel:  ‘Om tot die einde toe getrou te wees.’

 

Die spreekwoord sê: ‘Don’t be so heavenly minded that you are of no earthly use.’  Maar dis verkeerd, want die mees hemelsgesinde mense doen die meeste vir God en hulle naaste.  Sulke mense koop die tyd uit (v.13, 16), want hulle weet Jesus kom amper.  Hulle lewe vir God en daarom is hulle nederig (v.19).  Hulle doel om God te eer, maak hulle getrou aan Hom en sy Woord (v.20, 27, 11:23).  Omdat hulle Hóm wil behaag, vrees hulle nie die dood, lyding, of wat ander mense van hulle dink nie (v.23-27).  Hulle mik na die hemel en gee nie om oor rykdom op aarde nie (v.33).  Hulle wil God verheerlik en werk hard en dien ander met hulle tyd en geld (v.31, 34-35).  Hulle wil soos Jesus wees:  as Hý met vasberadenheid die Vader se wil uitvoer, doen hulle dit ook (v.16, Lukas 9:53, 13:32, Johannes 17:4).

 

Die bekende musiekgroep Metallica sing ‘n lied wat sê:

 

So close no matter how far

Couldn’t be much more from the heart

Forever trusting who we are

And nothing else matters

 

Never opened myself this way

Life is ours, we live it our way

All these words I don’t just say

And nothing else matters

 

Trust I seek and I find in you

Every day for us something new

Open mind for a different view

And nothing else matters

 

Húlle lewensdoel is die wêreld s’n: om te lewe vir jouself en op jouself te vertrou.  Vir hulle is dít al wat saakmaak, ‘and nothing else matters’.  Op die oordeelsdag sal hulle spyt wees.  Christene dink anders.  Ons lewe om Hóm te verheerlik en ander te help om Hom te ken.  Vir ons is dít al wat saakmaak, ‘and nothing else matters.’