’n Christen se sterfbed

Man on deathbed

Op sy sterfbed het wyle Martin Holdt met uitgestrekte arms vir sy bediende gesê: ‘Maria, ek gaan hemel toe!’  Só moet ‘n Christen sterf:  triomfantelik.  Christene hoef nie bang te wees om te sterf nie.  Ons gaan nie in die dal van doodskaduwee nie, maar deur dit.  Die vers oor die dood in Psalm 23 is nie aan die einde van die Psalm nie, maar in die middel.  Daar is iets ná die dood.  Vir gelowiges het die dood nie meer ‘n angel nie (1 Korintiërs 15:55).  Dít leer ons by Jakob op sy sterfbed (Genesis 48:1-49:28).

 

Josef se seuns (hfst.48)

Josef het nuus ontvang dat Jakob op sy laaste was. Hy het sy twee seuns gevat om vir Jakob te gaan groet.  Jakob het onthou hoe God in hfst.28, 35 ‘n groot nageslag en land aan hom belowe het.  Sy oudste twee seuns, Ruben en Simeon, sou nie die erfgename wees nie.  Josef se twee seuns sou.  Jakob het gehoop dat Ragel nóg seuns vir hom kon baar, maar noudat sy dood was het hy Josef se seuns as sy eie beskou (v.1-7).

 

Jakob kon nie meer mooi sien nie, en daarom het hy nie vir Manasse en Efraim herken toe Josef hulle nader gebring het nie. Jakob was soos blinde Isak wat ook nie sý seuns herken het nie (hfst.27).  Jakob het die Here gedank vir al die seën wat hy ontvang het:  “Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.” (v.11).  Jakob het die tweeling op sy knieë laat sit – ‘n amptelike bewys dat hy hulle as sy eie aangeneem het (v.8-12).  Teen dié tyd was hulle al 20 jaar oud (vergelyk 41:50, 45:6, 47:9, 28).  Josef het hulle na Jakob toe gebring, sodat hy hulle kon seën.  Jakob het sy hande gekruis en die jongste bo die oudste geseën (v.13-14, 25:23, hfst.27).  Hy het gesê (v.15-16):

 

Die God voor wie se aangesig my vaders

Abraham en Isak gewandel het,

die God wat my as Herder

my lewe lank gelei het tot vandag toe,

die Engel wat my uit elke

teëspoed verlos het—

mag Hy die seuns seën,

en mag deur hulle my naam genoem word

en die naam van my vaders

Abraham en Isak,

en mag hulle vermeerder

in die land in menigte.

 

Jakob het besef dat die Here hom deur elke teëspoed gelei het (47:9). Die Here was sy Herder (Psalm 23).  Die Here se Boodskapper of Engel (Christus voor sy vleeswording) het hom bewaar.  Die Here sou sy nageslag vermeerder soos visse [Heb. dâgâh].  Jakob het vasgehou aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” (12:2).

 

Josef was nie tevrede toe Jakob sy hande kruis en die jongste bo die oudste seën nie. Maar Jakob het vasgestaan:  Efraim sou groter wees as Manasse.  Efraim sou later sinoniem wees vir Israel (v.17-20, Jesaja 7:2, Hosea).  Jakob het ook Israel se uittog uit Egipte voorspel.  Josef (sy nageslag in Efraim en Manasse) sou die berg in Sigem kry wat Jakob met sy swaard en boog by die Amoriete gevat het (v.21-22).

 

Jakob het wel sy nageslag gesien, maar toe hy dood is was hulle nog nie soos stof nie. Daar het nog nie ‘n menigte nasies uit hom voorgekom nie.  Daar was nog nie konings in Israel nie.  Sy nageslag het nog nie die land in besit geneem nie (28:13-14, 35:11-12).  Maar Jakob het geglo dat die beloftes ná sy dood vervul sou word (v.4, 11, 16, 19-20, 21).  Moenie bang wees dat God se beloftes saam met mense sal sterf nie.  Moenie angstig sê:  ‘As __ sterf, sal die visie en passie vir gesonde teologie, suiwer prediking, sendingwerk, kerkplanting, evangelisasie, goeie teologiese opleiding, stabiele kerkfinansies, administrasie, jeugwerk, ens. saam met hom sterf.’  Nee.  Mense is soos gras en blomme wat vrek en verlep.  Maar die Woord van die Here bly vir ewig (Jesaja 40:8).  Dalk dink jy:  ‘Maar wie sal my gesin en weduwee-ma versorg as ek dood is?  Wie sal vir ongeredde geliefdes bid en met hulle die evangelie deel as ___ weg is?  Wie sal teen die onreg in ons land opstaan as __ dood is?’  God het niemand nodig nie.  Hy kan beter vir jou gesin sorg as wat jy kan.  Hy sal vir die weduwees sorg.  Hy sal sorg dat geregtigheid seëvier.  Hy sal bidders en evangeliste opwek.

 

Jakob se seuns (hfst.49)

Toe Jakob klaar Josef se seuns geseën het, het hy sy eie seuns bymekaar geroep. Hy het oor hulle en hul nageslagte geprofeteer (v.1-2).

 

Ruben (v.3-4) was Jakob se oudste en sterkste seun. Maar hy was onstuimig soos die wit skuim op ‘n brander.  Sy nageslag is deur besluitloosheid gekenmerk (Rigters 5:15-16).  Toe Ruben in 35:22 met sy pa se byvrou geslaap het, het Jakob stilgebly.  Maar nou het sy pa hom voor almal aangespreek.  Moses moes bid dat Ruben se nageslag nie uitsterf nie (Deuteronomium 33:6).

 

Simeon en Levi (v.5-7) het ‘n hele stad se mans uitgemoor (34:25).  Hulle het beeste vermink vir die lekker daarvan.  Nie een van hulle sou die erfgenaam wees nie.  Jakob wou hom nie met hulle toorn assosieer nie.  Sy voorspelling dat hulle versprei sou word het inderdaad so gebeur (Josua 19, 21, 2 Kronieke 34:6).

 

Juda (v.8-12) het die leier geword. In 37:5-11 was hy jaloers dat die broers voor Josef sou buig, maar nou het Jakob gesê dat almal voor hóm sou buig.  Hy sou regeer en sy vyande soos ‘n leeu verskeur (cf. Openbaring 5:5).  Juda was die voorvader van Dawid en sy koninklike nageslag.  Die Messias sou uit Juda se nageslag voortkom en vir ewig regeer.  Al die nasies sou voor Hom buig (Psalm 2).  In v.10 het Jakob gesê:  “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”  Die Hebreeuse naam Silo beteken ‘hy aan wie dit behoort’.  Jakob se bedoeling was dan:  ‘Die heerserstaf sal nie van Juda wyk totdat Hy aan wie dit behoort, kom nie.’  Die een aan wie dit [die Koninkryk] behoort, is Jesus die Messias.  Esegiël 21:27 bevestig dit:  “Ook dit [koning Sedekia se kroon] sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het [die Messias], en aan Hom sal Ek dit gee.”  Jakob het sy profesie oor Juda afgesluit:  “Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.  Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.”  In Juda se nageslag (die Messias) sou die Paradys herstel word.  Onder sy heerskappy sou daar rykdom en gesondheid wees.  Donkies sou in die wingerde wei en nie in die woestyn leef nie.  Mense sou nie bloot in water hoef te bad nie, maar in wyn.  Die Messias en sy nageslag sou donker oë en wit tande hê; hulle sou sterk en gesond wees.

 

Sebulon (v.13) het wel nie teen die kus gebly nie, maar sy gebied was tussen die Middellandse See en die See van Galilea. Hy sou handeldryf tot by Sidon, bo die noordkus van Israel.  Moses het gesê:  “En van Sébulon het hy gesê:  Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Issaskar, oor jou tente.  Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.” (Deuteronomium 33:18-19).

 

Issaskar (v.14) was soos ‘n donkie wat tussen die skape rus. Toe hy móés werk wou hy rus en gemak hê.  Daarom sou hy later ‘n slaaf word en soos ‘n pakesel werk.

 

Dan se naam beteken ‘oordeel’ (v.16-18). Hy sou ‘n regter oor sy volk word.  Dit is vervul in Simson wat een van die rigters was (Rigters 13-16).  Dan sou ook aggressief wees (Rigters 18) – soos ‘n adder wat langs die pad lê en na ‘n perd se hakskene pik.

 

Gad (v.19) het oos van die Jordaan gebly met geen stam regs van hulle om hulle te beskerm nie. Vyande het hulle aangeval, maar hulle het terug geveg.

 

Aser (v.20) het by die see gebly. Met ‘n hawe naby het hulle koninklike lekkernye uit die see en uit die buiteland gekry.

 

Naftali (v.21) sou ‘n tyd van vryheid geniet – vry soos ‘n wildsbok. Dit het inderdaad gebeur onder die leierskap van Debora en Barak (Rigters 4:6).

 

Josef (v.22-26) was soos ‘n vrugteboom langs waterstrome. Sy takke sou oor die muur groei.  Hierdie beeld dui op Efraim wat baie vrugbaar sou wees en sy woongebied sou uitbrei (48:19, Joshua 17:14-18).  Die Almagtige (Shaddai), die Herder, die Rots het Josef se arms versterk toe sy broers hom aangeval het.  Hy het sy boog stewig vasgehou.  Die Here sou hom seën met reën uit die hemel, met baie kinders, met gesonde vee, met dou wat op die ewige berge afloop en die vallei groen maak, en met die eersgeboorte reg onder sy broers (1 Kronieke 5:1-2).

 

Benjamin (v.27) was so wreed soos ‘n wolf wat sy prooi verskeur (Rigters 19-21). Die manne van Benjamin was magtige krygsmanne (1 Kronieke 12:2).  Koning Saul was uit die stam van Benjamin.  Voor sy bekering was Paulus ‘n moordenaar (Handelinge 9).  Ook hý was uit Benjamin (Filippense 3:5).

 

Die seën en profesieë van Jakob oor sy seuns was heeltemal regverdig. Sy woorde aan elke seun het perfek by hulle karakter en nageslagte gepas (v.28).

 

Op sy sterfbed het Jakob nie vir homself gelewe nie. Sy seuns, sy nageslag, en God se raadsplan was vir hom die belangrikste (v.1, 28).  In sy laaste ure het Jesus nie aan Homself gedink nie, maar aan ander (Lukas 23:34, 43, Johannes 19:26-27). Ons moet ook so wees:  “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie.  Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Romeine 14:7-8).  “[ek hoop] dat Christus… groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.” (Filippense 1:20).  Op jou sterfbed moet die verre toekoms vir jou belangriker wees as begrafnisreëlings en die wysiging van jou testament.  Jakob het nie net aan die hier-en-nou gedink nie, maar aan die Messias wat kom (v.10).  Sal die dood alles wegvat waarvoor jy gelewe het, of is daar ‘n groter hoop waarna jy uitsien?

 

Ruben, Simeon, en Levi het skaam gekry by hulle pa se sterfbed (v.3-7).  Sal jy op jou sterfbed skaam kry oor sondes wat jou inhaal?  John MacArthur vertel hoe hy by ‘n 78-jarige man se sterfbed gestaan het.  Die man het gehuil en vir hom gesê:  ‘Ek het nooit werklik oorwinning oor pornografie gekry nie.’  Bid vir genade om nie so te wees nie.  Simeon en Levi het seker gehoop vir seën, maar is vervloek (v.7).  Sal die seën wat jy dán verwag in ‘n vloek verander?  Miskien hoop jy om op jou sterfbed seënwense uit te deel, maar dit mag wees dat jy opslag dood is.  Sal jy in vrede kan doodgaan soos Jakob?  Dit kan net gebeur as jy ‘n rein gewete het, in ‘n regte verhouding met God staan, en die evangelie glo:

 

God is heilig en haat jou sonde. Jy is ‘n rebel wat lieg en steel, hoogmoedig en wellustig is, rondslaap en bitter is, jaloers en geldgierig is.  Jy dink te veel van jouself en veg met ander.  Jy dra haat in jou hart.  Jy skinder en word dronk.  Jy het nie selfbeheersing nie.  Jy lewe vir jouself.  God sal jou oordeel en in die hel werp.  Jou enigste hoop is om na God toe te kom, jou sonde te bely, jou daarvan te bekeer, en op sy Seun te vertrou.  Jesus het aan die kruis gesterf en die straf vir sondaars op Homself geneem.  Hy is begrawe en het uit die dood uit opgestaan.  Hy sal die ewige lewe gee vir almal wat Hom liefhet en vra dat Hy hulle sal red.

 

As jý een van Jakob se seuns was en ‘n profesie moes ontvang wat by jou pas (v.28), sou dit goed of sleg gewees het?  Is jy soos sommige van Jakob se seuns wat deur jou slegte leefwyse jou nageslag benadeel (v.1)?  Sal jy die Here op jou sterfbed aanbid soos wat Jakob gedoen het:  “Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf.” (Hebreërs 11:21)?

 

Stel nóú al hierdie dinge reg – vóórdat jy sterf. Spyt kom altyd te laat.

 

In die ou dae was baie grafte in die kerk se gronde. Deesdae word grafte tot buite die dorp geskuif.  Dit is ‘n klein gelykenis van hoe ons die dood probeer wegwens en wegpraat.  Maar die dood sal nie weggaan nie.  Die dood is ‘n realiteit waarvan jy nie kan wegkom nie.  Maak gereed om te sterf en jou God te ontmoet.  Jesus het opgestaan uit die dood en is jou enigste hoop:  “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.  Glo jy dit?” (Johannes 11:25-26).