Ons gemeente glo…*

1689 Confession

  1. Die 66 boeke van die Bybel (Ou- en Nuwe Testament) is deur die Heilige Gees geïnspireer, onfeilbaar en foutloos.[1] Dit is algenoegsaam en die enigste gesag vir geloof en lewe.[2] Dit is die finale en volkome openbaring van God.[3] Die eerste 11 hoofstukke van Genesis moet letterlik aanvaar word.[4] Ons verwerp evolusie of enige interpretasie wat sê dat die dae in Genesis 1 lang tydperke was.[5]
  2. God bestaan van ewigheid af as Vader, Seun en Heilige Gees – drie Persone maar een God.[6] Die Vader, Seun en Heilige Gees vervul verskillende rolle, maar is in elke opsig gelyk.[7]
  3. Die Vader het ons voor die grondlegging van die wêreld uitverkies in sy Seun, Jesus Christus.[8] God het ons nie uitverkies omdat Hy geweet het ons sou glo, of omdat Hy enigiets goed in ons raakgesien het nie. Sy verkiesing is gebasseer op sy soewereine keuse en genade.[9]
  4. Die Seun is deur die krag van die Heilige Gees gebore uit die maagd Maria, en is volkome God en mens.[10] Hy was sondeloos in sy lewe.[11] Hy het ’n plaasvervangende soendood vir sondaars gesterf.[12] Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood.[13] Hy het in sy liggaam opgevaar na die hemel en tree nou as Hoëpriester en Advokaat in vir sy kinders.[14]
  5. Die Heilige Gees is ’n Persoon en nie bloot ’n krag nie.[15] Die Vader en die Seun het Hom gestuur om die wêreld te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel.[16] Hy wederbaar, bewoon, heilig, vertroos en verseël God se kinders tot die ewige lewe.[17]
  6. Alle mense is met ’n sondige natuur gebore en is ook sondaars deur hulle eie keuse.[18] Om van sonde en God se oordeel gered te word moet ’n mens die feite van die evangelie glo, sy of haar sonde laat staan, en heelhartig op Jesus alleen vertrou vir vergifnis van sonde.[19] Ware geloof sal altyd lei tot goeie werke.[20]
  7. Dié wat Christus as Here en Verlosser ontvang sal vir ewig God se teenwoordigheid in die hemel geniet.[21] Dié wat Hom verwerp sal vir ewig van God geskei wees en onder sy toorn ly in die hel.[22] Beide die hemel en die hel is letterlik en ewig.[23]
  8. Jesus het twee sakramente ingestel: die doop en die nagmaal.[24] Beide sakramente mag slegs aan gelowiges bedien word.[25] Deur onderdompeling vereenselwig die gelowige hom- of haarself met Jesus se begrafnis en opstanding.[26] Deur die nagmaal onthou die gelowige Jesus se kruisdood vir sondaars.[27]
  9. Die kerk bestaan uit mense wat weergebore is en hulle redding bely deur onderdompeling.[28] Die kerk is die liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is.[29] Die kerk bestaan om God te aanbid,[30] Jesus se kruisdood en opstanding deur die sakramente te herdenk,[31] gelowiges deur Woordbediening vir dienswerk toe te rus,[32] die liggaam op te bou,[33] en die evangelie aan die wêreld te verkondig.[34] Elke plaaslike gemeente is onafhanklik en interafhanklik van ander gemeentes.[35] Die kerk en die staat is deur God aangestel om verskillende funksies te vervul, en daarom moet hulle nie in mekaar se sfeer van invloed inmeng nie.[36]
  10. Elke gelowige is ’n priester wat direkte toegang het tot God.[37] Jesus is die enigste Middellaar tussen God en mense.[38]
  11. Die gawe van apostelskap, asook die gawes wat die apostoliese amp uitwys het opgehou toe die laaste apostel dood is.[39] Omdat ons nie by die Skrif mag byvoeg of wegvat nie, het profesie en ander nuwe openbarings ook weggeval.[40]
  12. Elke gelowige is met die Heilige Gees verseël en word deur die krag van God in Christus bewaar word tot die einde.[41] Daarom bely ons dat niks ons van God se liefde kan skei nie, en dat geen ware gelowige sy redding kan verloor nie.[42]
  13. Jesus is die erfgenaam van alle dinge.[43] Hy regeer oor sy skepping.[44] Hy sal persoonlik en sigbaar terugkeer na die aarde toe volgens sy belofte.[45] By sy wederkoms sal almal wat gesterf het, gelowiges en ongelowiges, opstaan uit die dood.[46] Ongelowiges sal volgens hulle werke deur God geoordeel word om hulle verdiende straf te ontvang.[47] Gelowiges sal geoordeel word, nie om hulle eindbestemming te bepaal nie, maar om beloning te ontvang.[48] Daar is verskeie goeddeurdagte sienings oor die eindtyd. Dit is onnodig om skeuring hieroor in die kerk te veroorsaak.

 

 

* Sien die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis vir ’n meer volledige beskrywing van wat ons gemeente leer.

[1] Psalm 19:8, 2 Timoteus 3:16

[2] 2 Timoteus 3:17, 2 Petrus 1:3

[3] Hebreërs 1:1, Openbaring 22:18-19

[4] Matteus 19:4-5, 23:35, 24:37-39, Romeine 5:12-21, 2 Korintiërs 11:3, 1 Timoteus 2:13-14, Hebreërs 11:4-7, 1 Petrus 3:20, 2 Petrus 2:5, 3:5-6, 1 Johannes 3:12, Judas 11, 14-15

[5] Genesis 1:5, 8, 14, Eksodus 20:8-11

[6] Genesis 1:26, Matteus 3:16-17, 28:19, Johannes 1:1-3, Efesiërs 1:3-14, 4:4-6, Hebreërs 9:14

[7] Psalm 139:7, Johannes 5:23, Handelinge 5:3-4, Efesiërs 1:3-14, Hebreërs 1:3, 1 Petrus 1:2

[8] Romeine 8:29-30, Efesiërs 1:4-5, 1 Petrus 1:2

[9] Romeine 9:10-23, 11:5-6

[10] Lukas 1:34-35, Johannes 1:1-3, 14, 8:58, Filippense 2:6-8, Kolossense 1:19, 2:9

[11] Hebreërs 4:15, 1 Petrus 2:22

[12] Jesaja 53, Romeine 3:25, Galasiërs 3:13, 1 Petrus 3:18

[13] Matteus 28, Lukas 24, Johannes 20, 1 Korintiërs 15:1-11

[14] Handelinge 1:9-11, Romeine 8:34, Hebreërs 7:25, 1 Johannes 2:1

[15] Efesiërs 4:30

[16] Johannes 14:16, 26, 15:26, 16:7-11, Handelinge 2:33

[17] Johannes 3:5, Titus 3:5, Johannes 14:16-17, Efesiërs 1:13-14, 4:30

[18] Psalm 51:7, 58:4, Romeine 5:12

[19] Markus 1:15, 1 Korintiërs 15:1-4, Jakobus 2:19, Efesiërs 2:8-9

[20] Efesiërs 2:8-10, Jakobus 2:14-26

[21] Matteus 25:34, Johannes 6:39-40, Openbaring 21:3-4

[22] Matteus 25:41, 1 Tessalonisense 1:9, Openbaring 14:9-11, 20:15, 21:8

[23] Matteus 25:46, Markus 9:47-48, Lukas 16:19-31, Johannes 14:2-3, Judas 7, Openbaring 21-22, 14:9-11

[24] Matteus 26:26-29, 28:19

[25] Matteus 28:19, Romeine 6:3-4, 1 Korintiërs 11:17-34, Kolossense 2:11-12

[26] Romeine 6:3-5, Kolossense 2:11-12

[27] 1 Korintiërs 11:23-26

[28] Handelinge 2:38-41

[29] Efesiërs 1:22-23

[30] Johannes 4:23-24

[31] Sien teksverwysings by voetnotas 22-25

[32] Efesiërs 4:11-12

[33] 1 Korintiërs 14:12, Efesiërs 4:12

[34] Matteus 28:18-20

[35] 1 Korintiërs 1:2, Galasiërs 1:2

[36] Handelinge 4:18-20, Romeine 13:1-7, 1 Timoteus 2:1-2

[37] Hebreërs 4:16, 10:19-22, 1 Petrus 2:5, 9

[38] Johannes 14:6, 1 Timoteus 2:5

[39] Handelinge 1:21-22, 2 Korintiërs 12:12, Efesiërs 2:20, Hebreërs 2:3-4

[40] Hebreërs 1:1, Openbaring 21:18-19

[41] Efesiërs 1:13-14, 4:30, 1 Petrus 1:4-5

[42] Romeine 8:28-30, 38-39, Johannes 6:37-40, 10:28-29

[43] Hebreërs 1:2

[44] Hebreërs 1, Openbaring 4-5

[45] 1 Tessalonisense 4:16

[46] Daniël 12:2, Johannes 5:28-29, Openbaring 20:12-13

[47] Matteus 16:27, 25:41, 46, Romeine 2:6-11, Openbaring 20:12-13, 22:12

[48] Johannes 5:24, Romeine 2:6-11, 8:1, 1 Korintiërs 4:5, 2 Korintiërs 5:10, Judas 24

Advertisements

’n Christen se blink toekoms

Bright future

Nie lank gelede nie, was Joel Osteen se boek Your best life now op die top verkoper lys van verskeie Christelike boekwinkels.  Die titel alleen behoort rooi ligte in jou kop te laat flikker.  Was Jesus se tyd op aarde sy ‘best life now’?  Nie volgens Jesaja 53 nie.  Ook Paulus nie gedink dat boeie om sy enkels en wonde op sy rug sy ‘best life now’ is nie.  Vir ongelowiges is hierdie wêreld ‘Your best life now’.  Is dit dieselfde vir Christene?  Of lê die beste nog in die toekoms?

 

18 ek [sal] my ook verbly. 19 Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek, 20 volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is. 21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. 22 Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. 23 Want ek word van weerskante gedring:  ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. 25 En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof, 26 sodat julle roem oor my oorvloedig kan wees in Christus Jesus deur my teenwoordigheid weer by julle.” (Filippense 1).

 

Paulus se sekerheid van ’n blink toekoms (v.18b-20)

Die Koning stuur sy soldate uit om sekere take uit te voer. Oppad loop hulle in die vyand se lokval in.  Fred en Jac word gevang en die res ontsnap.  Dié wat vry gekom het gaan sê vir die Koning.  Fred weet dat die Koning almagtig is en graag sy soldate help.  Hierdie wete maak dat hy selfs in die tronk vrede en blydskap het.  Met Jac is dit anders.  Hy betwyfel die Koning se almag en goedheid.  Hy is depressief en angstig.

Soos Fred en Jac het Paulus in die tronk gesit (v.13). Maar hy het hom verbly, omdat hy geglo het dat die Here die Filippense se gebede kon en sou beantwoord, en dat die Gees hom uit die tronk sou bevry en uiteindelik ook veilig in die hemel sou bring (v.18b-19).  Vir Paulus – soos vir Fred – was geloof in die Koning se almag en goedheid die fondasie vir sy blydskap.  Die Bybel het ‘n spesifieke frase vir geloof in ‘n blink toekoms:  hoop (v.20).  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1).  Paulus se hoop op ‘n blink toekoms het hom vreesloos gemaak.  Hy sou van Jesus getuig; al moes dit sy lewe kos (v.20).  Hy sou nie skaam wees vir die evangelie of sy Here verloën het om uit die tronk uit te kom nie (v.20).

 

Is jy, soos Paulus, seker van ‘n blink toekoms in die hemel? Wat maak jou so seker?  Is dit omdat jy nie moord pleeg of rondslaap nie; omdat jy arm mense help en kerk toe gaan?  Jou hoop is gebou op sand en jou toekoms is donker.  Het jy vergeet van jou selfsug, disrespek vir jou ouers, bitterheid, wellus, wit leuentjies, hoogmoed, jaloesie, gekla, selfregverdigheid, en ander sondes wat net jý van weet?

 

Sê jy: ‘Ek weet ek is ongered en het nie blink toekoms nie, maar ek weet nie wat om te doen nie – my sonde is te groot’?  As Jesus se kruisdood miljoene ander sondaars kon red, is dit nie genoeg om jóú sondes te vergewe nie?  Kon Jesus ‘n moordenaar soos Paulus red en kan Hy jóú nie red nie?  Sê die Bybel nie dat Jesus homoseksueles, egbreukers, dronkaards, diewe, leuenaars red nie (1 Korintiërs 6:9-11)?  Sê vir Hom:  ‘Ek is hopeloos en kan nooit my eie hart verander nie.  Ek vertrou dat U gekruisig is om sondaars te vergewe.  U het opgestaan sodat ons kan lewe.  Ek kan nie op my eie swak pogings staatmaak nie.  Ek vra dat U my sal red en vergewe.  Sal U vir my ‘n blink toekoms in die hemel gee?’  Glo jy die Here sal so ‘n gebed hoor?  Hy sal, “Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Romeine 10:13).

 

Glo jy die bogenoemde evangelie, maar is onseker van ‘n blink toekoms? Jy glo dis vir ander, maar weet nie of jý dit sal hê nie?  Wat maak jou onseker:  het jy van die Here af weggedwaal?  Bekeer jou en kom terug; Hy sal jou vergewe (Jesaja 55:6-7, Lukas 15, 1 Johannes 1:9).  Wonder jy omdat ‘n kollega, DVD of boek jou deurmekaar gemaak het?  Lees jou Bybel biddend en baie.  Luister baie preke en skakel in by ‘n Bybelstudie.  Twyfel jy of die Here die blink toekoms vir jóú wil gee?  Glo jy Jesus is jou enigste hoop om in die hemel te kom?  As God tevrede is met sy Seun hoef jy nie bekommerd te wees nie.  Hy verwelkom almal wat op Jesus vertrou.  As Hy dit nié doen nie, draai Hy sy rug op sy eie Seun.  Dit sal Hy nooit doen nie, en daarom sal Hy jóú ook nie wegwys nie.  Jy kan seker wees van ‘n blink toekoms.  Hou op om depressief en angstig te wees soos Jac.  Wees eerder blymoedig soos Paulus en Fred.

 

Paulus se begeerte vir ’n blink toekoms (v.21-23)

John Flavel het gesê: ‘If Christ be not there, heaven would be hell to me.’

 

Vir Paulus was die lewe Christus (v.21a). Jesus het vir hom lewe gegee en deur geloof in Hóm kon Paulus reg lewe (Galasiërs 2:20, 2 Korintiërs 5:15).  Vir Paulus was die dood wins, omdat dit hom na Jesus toe sou vat (v.21b).  Het jy opgelet dat Paulus nie die dood begeer nie (‘n heidense idee), maar Jesus (v.21, 23)?  Het jy ook gesien dat Paulus nie hemel toe wil gaan om van sy swaarkry ontslae te raak nie, maar om by Jesus te wees (v.21, 23)?  Hy was in ‘n tweestryd gewikkel:  [1] Hy wou op aarde bly, sodat meer mense gered kon word en geestelik groei (v.22).  [2] Hy wou by Jesus in die hemel wees, want dit was die heel beste (v.23).

 

Hoeveel Christene begeer regtig soos Paulus om hemel toe te gaan en by Jesus te wees? Dalk dié wat siek of hartseer is.  Maar is hulle begeerte regtig om by Jesus te wees of net om van hulle lyding te ontsnap?  ‘n Studie of bepeinsing van Jesus se Persoon en die hemel sal jou help om hierdie begeerte te kry.  Oordink hoofstukke soos Hebreërs 1, Openbaring 21-22.  Dink daaraan dat Jesus se heerlikheid jou asem sal wegslaan; dat die krag van donderweer, die prag van Meiringspoort, die genot van Lindt sjokolade, die geselligheid van ’n kampvuur, die sekuriteit van liefdevolle gesin, die rustigheid van Desember aande net ‘n skadubeeld is van Jesus.  Het jy daaraan gedink dat dít die blink toekoms is wat die Bybel van praat?

 

Wat gebeur wanneer ‘n Christen doodgaan? Ek het ‘n DVD gekyk wat sê jou siel slaap saam met jou liggaam in die graf totdat Jesus kom.  Is dit wat die Bybel sê?  In v.23 gebruik Paulus die woord ‘heengaan’ vir dood.  Paulus was ‘n tentmaker en in die Grieks is die gedagte van v.23 letterlik:  ‘Ek wil graag my aardse tent opslaan [analuo] en na my hemelse huis toe trek.’  Die Griekse woord laat ons ook toe om die beeld te gebruik van ‘n skeepskaptein wat sy skip by die hawe losmaak en wegseil na die goue strand van die hemel toe.

 

So, as ‘n gelowige sterf slaap sy siel nie in die graf nie. Sy liggaam vergaan wel, maar sy siel gaan dadelik hemel toe.  Is dit nie wat Paulus bedoel as hy sê dat die sterwe ‘n wins is nie (v.21)?  Kan die dood ‘n wins wees as jou siel in die graf slaap?  Paulus sê duidelik dat hy by Jesus sal wees as hy sterf (v.23).  Daar is genoeg verse in die Bybel wat hierdie waarheid ondersteun:

 

  • “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” (2 Korintiërs 5:8). As jy doodgaan verlaat jou siel jou liggaam en gaan jy dadelik na die Here toe.
  • “En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring.” (Lukas 9:30-31). Moses en Elia het in heerlikheid verskyn. Het hulle uit die hemel neergedaal of uit die graf opgekom?
  • “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” (Lukas 16:22). Party sê: ‘Ja, toe Lasarus sterf is hy hemel toe. Maar Lukas 16 is ‘n gelykenis en jy kan dit nie gebruik om jou standpunt te ondersteun nie.’ Miskien is dit ‘n gelykenis, maar dit wys tog wat Jesus as vanselfsprekend aanvaar het: gelowiges se siele slaap nie in die graf nie, maar gaan dadelik hemel toe as hulle doodgaan.
  • “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees… En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” (Lukas 23:43, 46). Toe Jesus sy asem uitgeblaas het was Hy dadelik in die hemel. Hy het belowe dat die bekeerde moordenaar saam met Hom daar sou wees.
  • Net voor hy dood is het Stefanus vir Jesus in die hemel gesien. Sou dit ‘n vertroosting gewees het as sy siel binnekort in die graf sou slaap? Buitendien het hy met sy laaste asem gebid dat Jesus sy gees in die hemel sou ontvang (Handelinge 7:54-60). Die teks laat geen twyfel dat Stefanus dadelik hemel toe is toe hy sy asem uitgeblaas het nie.
  • Prediker 12:7 sê dat wanneer ‘n mens sterf “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” Die DVD wat ek gekyk het sê dat die ‘gees’ in hierdie vers eenvoudig na die mens se asem verwys, en dat die mens se siel tog in die graf slaap. Maar v.5 sê van so iemand se dood: “die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.” Met ander woorde, mense huil by die begrafnis want die mens is nie meer op aarde nie. Hy het na sy ewige huis toe gegaan. Wat is die gelowige se ewige huis: die graf of die hemel?
  • Openbaring 20:4 praat van gelowiges se siele in die hemel. Hebreërs 12:23 praat van hulle sondelose geeste wat in die hemel is. Jy kan dit nie wegredeneer nie. Jou siel slaap nie in die graf nie, maar gaan hemel toe.

 

Sarel Seemonster sê: ‘Roomys is my lewe!’  As roomys, geld, jou kinders, sport, die natuur, seks, vriende, jou hond, stokperdjies jou lewe is, dan sal die dood vir jou ‘n verlies wees.  Hoekom?  Want jy verloor dit as jy sterf en sal moontlik ook hel toe gaan.  Net as die lewe vir jou Christus is kan die dood vir jou ‘n wins wees.  Sê die manier waarop jy jou tyd en geld spandeer, die dinge waaroor jy dagdroom, jou toewyding aan die Woord dat die lewe vir jou Christus is?  Met die misdaad en korrupsie in ons land lyk dit of ons en ons kinders ‘n bleek toekoms het.  Ons hoop vir ‘n blink toekoms lê egter nie in Kanada of Nieu-Seeland nie, maar in ons hemelse huis by Jesus.  Daar moet ons begeerte wees.

 

Paulus se werk vir ’n blink toekoms (v.24-26)

‘n Brandarm man bly in ‘n klein hout huisie naby ‘n rotsagtige kus in Ierland. Een laatmiddag gaan vang hy vis om vir sy vrou en vier kinders kos te gee.  Terwyl hy op die rotse loop sien hy ‘n seegrot en ontdek hy ‘n ou geroeste skatkis vol van goud en edelstene.  Hy het haastig oor die rotse geklim, deur die vlakwater seewater geswem, en die paar kilometer in die donker huistoe gehardloop.  Hy kon nie wag om vir sy familie te sê nie.

 

Paulus het ‘n skat in die hemel ontdek. Maar hy was bereid om dit vir ‘n rukkie daar te los, omdat hy eers vir ander wou vertel sodat hulle daarin kon deel en saam kon bly wees.  Hulle sou bly wees dat God hulle gebed gehoor en vir Paulus uit die tronk bevry het (sien v.19).  Hulle sou bly wees dat die Here vir Paulus gestuur het sodat hulle nóg geestelik kon groei.  Hulle sou bly wees in Jesus (v.24-26).  Paulus was soos die arm man in Ierland.  Hy het nie net aan homself gedink nie, maar aan ander.  Hy was soos Jesus wat sy hemelse heerlikheid verlaat het en aarde toe gekom het, sodat ons daarin kan deel (2:3-8).

 

Ons moenie die skat van ‘n blink toekoms by Jesus vir onsself hou nie. Ons moet werk om vir ander vertel.  Ons moet oor die rotse hardloop.  Party moet ver hardloop Noord-Korea of Irak toe om vir ander te vertel.  Party moet by die werk en in hulle families vir ander vertel.  Party moet vir nuwe gelowiges die Bybel leer, sodat hulle kan bly wees oor hulle blink toekoms in Jesus.  Hoekom moet ons dit doen?  Sodat Afrikaners en mense uit alle nasies voor Jesus kan buig en Hom kan verheerlik (Openbaring 5:9). Jou vreugde lê in hulle s’n en in Sy eer.

 

Dié illustrasie het ek by Francis Chan gehoor. Gestel jy het ‘n tou wat ‘n begin het maar vir ewig aanhou.  Die beginpunt van die tou verf jy rooi.  Dit stel jou lewe op aarde voor.  Die res van die tou stel die ewige lewe of ewige dood voor.  Die meeste mense lewe vir die rooi punt en gee skaars ‘n gedagte aan die res van die tou.  Hulle werk en sweet om genoeg geld te spaar sodat, wanneer hulle aftree, hulle die laaste deel van die rooi punt in gemak kan deurbring.  Dink jy dis wys om vir die rooi punt te lewe:  ‘Your best life now’?  Of sal jy lewe vir die res van die tou wat vir ewig aanhou:  ‘n blink toekoms saam met Jesus in die hemel?

Ses vergete gebooie

Don't forget

Baie mense klop hulleself op die skouer omdat hulle die Tien Gebooie nakom. Maar hulle minag minder bekende gebooie soos dié in Filippense 4:4-9.

 

4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle! 5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.  Die Here is naby. 6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

 

8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. 9 En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.”

 

Verbly jou altyd in die Here (v.4)

Die Filippense het onthou wat met Paulus gebeur het toe hy in hulle stad was. Hy is geslaan en saam met sy vriend Silas in die tronk gegooi.  Middernag het hulle lofliede gesing (Handelinge 16:25).  Sal jy sing as dit met jou gebeur?  Hoe het hulle dit reggekry?

 

Paulus se blydskap was in die Here.  Nou sê hy vir die Filippense om hulle te verbly in die Here (v.4).  Wat beteken dit?  God het ons verlos en is die oorsprong van ons blydskap.  Hy verheug Hom in ons (Sefanja 3:17) en daarom kan ons onsself ook in Hom verheug (v.4).  Sy Gees wat in ons woon werk hierdie vreugde in ons (Galasiërs 5:22).  As ons in die Here bly is, dan lê ons blydskap nie ons omstandighede nie.  Daarom kan Paulus in die tronk wees (1:13) en nogsteeds bly wees.  As ons blydskap in ons omstandighede lê sal ons vandag bly wees en môre depressief.  Maar as ons blydskap in die Here is kan ons altyd bly wees.  Hoekom?  Want die Here se liefde vir ons bly konstant.  Let maar op hoe Paulus dwarsdeur hierdie brief blydskap het:

 

  • “ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap” (1:4).
  • “hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.” (1:18).
  • “Maar al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal; en om dieselfde rede moet julle ook bly wees en julle saam met my verbly.” (2:17-18).
  • “Verder, my broeders, verbly julle in die Here.” (3:1).
  • “Ek het my grootliks verbly in die Here” (4:10).

 

Wat moet jy doen om jou altyd in die Here te verbly?

 

[1] Begin elke dag met God. Moenie net die Bybel lees of bestudeer nie, maar oordink en deurbid dit totdat jou hart bly raak in die Here.  “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word… Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie.  Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” (Johannes 15:11, 16:24).

 

[2] Glo wat jy in die Bybel lees. God se blydskap kom na ons toe deur geloof:  “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof… vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap”(Romeine 15:13, 1 Petrus 1:8).

 

[3] Word gevul met die Gees, want die vrug van die Gees is blydskap (Galasiërs 5:22).

 

[4] Bely daagliks jou sonde, omdat dit sonde – en sonde alleen! – is wat blydskap steel. Nadat Dawid gesóndig het was sy gebed:  “Gee my weer die vreugde van u heil” (Psalm 51:14).

 

[5] Het jy opgelet dat die blydskap in hierdie vers ‘n opdrag is? Moet dan nie wag vir ‘n gevoel van blydskap nie, maar wees gehoorsaam:  “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!” (v.4).

 

Wees vriendelik met almal (v.5)

In ‘n Christelike film het Mr. Barnes dronk bestuur en ‘n ongeluk veroorsaak. Mr. Barnes het die ongeluk oorleef, maar die vrou in die ander voertuig is dood.  Die vrou se wewenaar, Jonathan Sperry, het uit sy pad gegaan om gaaf te wees met Mr. Barnes.  Sonder Mr. Barnes se wete het hy ‘n jong seun betaal om sy gras te sny.  Toe Jonathan Sperry dood is het Mr. Barnes dit uitgevind en gesê:  ‘If there was ever a Christian man in this town it was Jonathan Sperry.’

 

Christene moet vriendelik en gaaf wees met almal, en nie net met dié wat mooi is met húlle nie (v.5). Jesus het gesê:  “En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle?  Want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.  En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle?  Want die sondaars doen ook dieselfde.  En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle?  Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.  Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.  Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” (Lukas 6:32-36).

 

Jesus het sý vyande liefgehad (Romeine 5:10). Noudat sy Gees ons harte verander het kan ons sy voorbeeld volg.  In Lukas 6:27-31 wys Hy vir ons hoe om dit te doen:  “Maar Ek sê vir julle wat luister:  Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.  Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.  Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat dit neem nie.  En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”

 

As jy vriendelik is met ander help jy hulle en verheerlik jy die Here. Maar het jy al daaraan gedink dat ‘n gawe mens ook homself bevoordeel?  “‘n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel” (Spreuke 11:17).

 

Moenie angstig wees nie (v.6a)

By die ABK se jeugkamp het ek gesê dat angs sonde is en nie veroorsaak word deur ‘n chemiese wanbalans in die brein nie; dat die oplossing bekering is en nie Xanax of ander pille nie.  Na die tyd het ‘n verwarde meisie my hieroor uitgevra.  Hoe sou jý antwoord?

 

[1] Paulus sê in v.6a ons moet oor niks angstig wees nie. Jesus sê ten minste vier keer in Matteus 6:25-34 ons moenie angstig wees nie.  Om dus angstig te wees is ongehoorsaamheid, en ongehoorsaamheid is sonde.  Jesaja 41:10 sê:  “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God.  Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”  Iemand wat angstig is glo nie hierdie vers nie.  So iemand vertrou nie dat God hom of haar kán of wíl help nie.  ‘n Angstige mens betwyfel die Here se krag en goedheid om te beskut en te voorsien.  Hy of sy vrees mense, die duiwel, afgode en die skepping bo God.

 

[2] ‘n Chemiese wanbalans as die oorsaak vir angs of depressie is nog nooit medies bewys nie. Dit is ‘n teorie.  As ‘n dokter enigte siekte diagnoseer neem hy x-strale, ‘scans’, trek bloed, doen ‘n EKG, ensovoorts.  Angs word nie so getoets nie.  Die psigiater kyk na die simptome en sê (sonder enige mediese toets) dat jy angsaanvalle kry en pille moet drink.  Die pille kalmeer jou wel, maar sodra jy ophou om dit te gebruik is die angs terug.  Wat sê dit vir jou?  Hulle is besig om simptome te behandel en nie die wortel van die probleem aan te spreek nie.

 

Hoekom hoef jy nie angstig te wees nie? Want die Here is naby jou (v.5b).  Memoriseer dan verse, lees boeke en luister preke oor God se soewereine beheer in die wêreld – ook oor die dinge wat jou angstig maak.  Doen ook v.6b sê:  bid oor alles.  Angs maak tog nie jou situasie beter nie, of hoe?

 

Bid oor alles (v.6b-7)

‘n Kollega se vrou is ‘n graad 1 onderwyseres. Eendag toe vertel ‘n kind vir haar dat skelms by hulle huis ingebreek het.  Die vrou sê toe vir klas:  ‘Julle, ons moet vir leerling-X bid, dat die Here die polisie sal help om die skelms te vang.’  ‘n Seuntjie steek toe sy hand op en sê:  ‘Juffrou, ons hoef nie te bid nie want hulle het versekering.’

 

Wanneer ons angstig is moet ons nie op die versekering of enigiemand anders vertrou nie, maar op die Here. Bid tot Hom.  Stort jou hart uit in gebed.  Smeek Hom.  Werp jou sorge op Hom (1 Petrus 5:7).  En dank Hom dat Hy in beheer is en alles vir die beste sal uitwerk (v.6b, Romeine 8:28).  Wat sal gebeur as jy dít doen?  Jy sal te midde van jou slegte omstandighede vrede hê; vrede wat nie verklaar kan word nie (v.7).  Jesus het gesê:  “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.  Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Johannes 14:27).  God se vrede sal jou gedagtes teen die duiwel beskerm soos ‘n soldaat wat op die stadsmure wagstaan om dit te beskerm (v.7).  Dit sal jou gedagtes teen die sondige vlees beskerm soos ‘n tronkwag wat keer dat die gevangenes nie uitbreek nie (v.7).  Hoekom jou gedagtes?  Want saam met jou hart bepaal dit jou hele lewe (Spreuke 4:23).  Ons voel verkeerd omdat ons verkeerd dink.

 

Wanneer dinge skeefloop moet jy nie staatmaak op geld, mense, tegnologie, jou eie wysheid, of ander dinge nie. Maak staat op die Here.  Bid.  Maar pasop dat jy nie vir Jesus soos ‘n DISPRIN of ‘n genie misbruik, sodat jy net bid as jy in die moeilikheid is nie.  Bid oor alles.  So erken jy dat jý ‘n mens is en dat Hý God is; dat jý die skepsel is en Hý die Skepper.

 

Bedink wat goed is (v.8)

Dink jy die volgende stelling is waar: ‘Jy is jou gedagtes; jou gedagtes is jy’ (Stuart Olyott)?  Spreuke 23:7 in die KJV sê:  “For as he thinketh in his heart, so is he”.

 

Die Griekse woord vir ‘bedink’ [logizomai] in v.8 is ‘n rekenkundige term en beteken letterlik ‘hou boek’.  ‘n Rekenmeester werk noukeurig deur die syfers om seker te maak sy boeke klop.  Net so moet jy noukeurig let op wat jy dink.

 

  • Bedink wat waar is. Jesus en sy Woord is die definisie en oorsprong van alle waarheid (Johannes 14:6, 17:17).
  • Bedink wat eerbaar is en raak ontslae van gedagtes wat oneerbaar is.
  • Bedink wat regverdig is. Ongeregtigheid moenie ‘n plek in ons gedagtes hê nie.
  • Bedink wat moreel rein is. Gehoorsaam die Woord as jy onrein gedagtes wil vermy (Psalm 119:9). In ons samelewing moet ons veral wegbly van seksuele onreinheid (1 Tessalonisense 4:3).
  • Bedink wat lieflik is en God bly maak. Jesus is God se geliefde Seun in wie Hy Hom verbly (Matteus 3:17).
  • Bedink wat loflik is; dinge wat jy kan aanbeveel.
  • Bedink wat uitstekend is. God se karakter is uitstekend (1 Petrus 2:9).
  • Bedink wat lofwaardig is. God alleen is lofwaardig.

 

As jy jouself wil help om goeie dinge te bedink kan jy Bybelverse memoriseer en oordink. Kom in ‘n gewoonte om voortdurend v.8-tipe dinge neer te skryf.  Bly weg van verkeerde dinge wat van buite af deur jou oë en ore jou gedagtes binnedring:  slegte praatjies, lelike dinge op TV en in advertensies, konstante slegte nuus in die media, pornografie en ander vieslike dinge op die internet.  Hoekom moet jy so ernstig wees om jou gedagtes te beskerm?  Want wat jy dink is wat jy doen.  En wat jy doen is wat jy word.

 

Volg die regte voorbeeld (v.9)

Ek het eenkeer in ‘n restaurant gehoor hoe ‘n vrou wat agter ons gesit het met haar kind raas: ‘Moenie so vloek nie.’  Die kind het geantwoord:  ‘Maar júlle vloek dan.’

 

Die Filippense moes doen wat hulle by Paulus gehoor en gesien het (v.9).  Hy het reeds in 3:17 vir hulle gesê:  “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.”  Hulle moes probeer om te onthou wat hy vir hulle geleer en gewys het, en dit beoefen.  As hulle dit gedoen het sou die God van vrede – die God wat graag vrede maak deur Jesus se kruisdood – by hulle wees om hulle te help (v.9).

 

Volg jy die regte voorbeeld? Hier is ‘n paar voorstelle van hoe jy dit kan doen:

 

[1] Let op die voorbeeld van jou geestelike leiers en volg dit na (Hebreërs 13:7, 1 Petrus 5:3).

 

[2] Lees die lewensverhale van godvresende gelowiges – in die Bybel en in die geskiedenis (Hebreërs 6:12, hfst.11).

 

[3] Vra vir iemand na wie jy opsien om jou te dissipeleer (sien Titus 2:1-7). Deur so iemand se voorbeeld te volg volg jy vir Jesus:  “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (1 Korintiërs 11:1).

 

Toe ek op skool was het die meisies gesê dat hulle in die winter nie bo hulle knieë skeer nie – niemand sien dit in elk geval nie. Moenie so wees wanneer dit by gehoorsaamheid kom, sodat jy net die gebooie volg wat mense sien nie.  God sien alles.  Doen ook die gebooie wat net Hý sien – onder andere die ses vergete gebooie in Filippense 4:4-9.