’n Christen se persoonlike lyfwag

Body guards

Lewendige beeldmateriaal op YouTube wys hoe John F. Kennedy se lyfwagte aangesê is om van die Amerikaanse president se motor af weg te tree.  Kort daarna het Lee Harvey Oswald vir Kennedy doodgeskiet.

 

Sal ‘n Christen ooit sonder ‘n lyfwag wees?  Die gebeure in Handelinge 21:23-23:35 roep ‘n definitiewe ‘nee’.

 

Beskerm deur die wet (22:23-29)

Een van my vriende het in die grensoorlog geveg.  Hy vertel hoe hulle SWAPO (South West African People’s Orginization) terroriste gevang en ondervra het.  As die terroriste nie die inligting wou gee nie, is hulle kop-eerste begrawe.  As hulle opgehou skop het, is hulle oopgegrawe en wéér ondervra.  Nóg ‘n manier hoe hulle inligting gekry het, was om die terroriste tussen twee perde vas te maak en die perde te laat hardloop.  Ja, dis wreed.  Maar in Paulus se tyd was dit erger.

 

Die kommandant wou uitvind hoekom die skare so teen Paulus gekant was.  Om die inligting te kry het hy beveel dat Paulus gegesel moes word.  Paulus het al voorheen dié straf gekry (2 Korintiërs 11:23-25):  slae oor sy bene en rug met ‘n kort sweep wat stukke yster of been aan die punte gehad het.  Hy wou dit vermy en het van sy Romeinse regte gebruik gemaak:  “Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?” (22:25).  Volgens wet kon ‘n Romeinse burger nie geboei word, voordat hy nie regverdig verhoor is nie.  En selfs dán kon hy nie op só ‘n skandelike wyse gestraf word nie.  Toe die kaptein gehoor dat Paulus ‘n Romeinse burger was, het hy dadelik vir die kommandant gaan sê.  Die kommandant was bang; hy kon in groot moeilikheid beland het.  Hy moes seker maak en het vir Paulus gevra:  “Sê vir my of jy ‘n Romein is?  En hy antwoord:  Ja.  Toe sê die owerste oor duisend:  Ek het hierdie burgerreg vir ‘n groot som verkry (deur omkopery)!  En Paulus sê vir hom:  Maar ek het dit deur geboorte.” (22:27-28).

 

Kan ons God se beskerming verwag as ons martelaarskap soek, sodat ons beroemd kan wees?  Wil jy bejammer of geprys word as ‘n martelaar?  Ek praat nie net van fisiese marteling nie.  Party mis etes, slaap min, raak siek, brand uit, of sterf omdat hulle hard werk vir Jesus.  Maar eintlik doen party dit omdat hulle lof soek.  In Matteus 10 wys Jesus vir ons die balans.  Ja, as jy die Here dien sal jou lewe soms in gevaar wees (v.16).  Tog sê Jesus in dieselfde konteks:  “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” (v.23).  Geld dié beginsel nie in al ons diens vir Jesus nie?  Moet jy siek raak, min slaap, of uitbrand as jy dit kan help?  God het ons geroep om so lank as moontlik te lewe.  Om martelaarskap te soek is selfmoord en ‘n oortreding van die sesde gebod.  Die kannibale op Tanna eiland wou vir John Paton doodmaak.  Hy en Mnr. en mev. Mathieson het bootjies gereed gekry om te vlug.  Toe besluit Mnr. Mathieson om te bly.  Hy het hom in sy studeerkamer toegesluit en gesê dat hy op die eiland wou sterf.  Paton skryf:

 

‘We tried to show him the inconsistency of praying to God to protect us or grant us means of escape, and then refusing to accept a rescue sent to us in our last extremity.  We argued that it was surely better to live and work for Jesus than to die a self-made martyr, who, in God’s sight, was guilty of self-murder.  His wife wept aloud and pled with him, but all in vain!  He refused to leave or to unlock his door.  I then said, ‘It is now getting dark.  Your wife must go with the vessel, but I will not leave you alone.  I shall send a note explaining why I am forced to remain; and as it is certain that we shall be murdered whenever the vessel leaves, I tell you that God will charge you with the guilt of our murder.’[1]

 

Genadiglik het Mnr. Mathieson tot sy sinne gekom en kon hulle die eiland veilig verlaat.

 

God sal ons beskerm, maar Hy red ons dikwels deurdat ons – soos Paulus (22:25) – ons gesonde verstand gebruik.

 

Beskerm deur die kommandant (22:30-23:10)

In die laat 1800’s het liberale teologie in Engeland se Baptiste Unie ingesluip.  Predikante het die liggaamlike opstanding van Jesus, sy maagdelike geboorte, die sondeval, die inspirasie van die Skrif, en ander sentrale leerstellings in twyfel getrek.  Charles Spurgeon het dit teëgestaan.  In ‘n preek op 16 Oktober 1887 het hy gesê:  ‘Truth is usually in the minority in this evil world… what I believe I shall believe, even if I believe it alone.’[2]  Op 28 Oktober 1887 het hy die Unie bedank.  By die Unie se vergadering in April 1888, het hulle Spurgeon uitgestem:  2000 teen 7!  Sy eie broer is mislei en het teen hom gestem.  Spurgeon het vir ‘n vriend geskryf:  ‘Pray for me, that my faith fail not.’[3]  Vyf jaar later, op 26 Oktober 1891 het Spurgeon sy vriende by Herne Hill stasie gegroet met dié woorde:  ‘The fight is killing me.’[4]  Dit was die laaste keer wat hy hulle gesien het.  Hy het siek geword, en op 31 Januarie 1892 die hemelse kus bereik.

 

Soos Spurgeon het Paulus in Handelinge 23 alleen gestaan.  Tog was hulle nie heeltemal alleen nie.  Die Here het by hulle gestaan.

 

Die kommandant kon nogsteeds nie agterkom hoekom die Jode vir Paulus wou doodmaak nie.  Wat sou hy doen om uit te vind?  Hy het die Joodse Raad bymekaar geroep.  Paulus het homself verdedig en dadelik aangedui dat hy onskuldig was:  “Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (23:1).  Die hoëpriester, Ananias, was bekend vir sy kort humeur.  Hy het beveel dat hulle Paulus op die mond moes klap (cf. Johannes 18:22).  Paulus het kwaad geword:  “God sal u slaan, gewitte muur!  U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word?” (23:3).  Die implikasie van sy woorde was duidelik:  ‘Van buite af lyk jy mooi soos ‘n wit muur, maar binne jou is die stene van modder gemaak.  Jy is skynheilig.  Jy maak of ék die wet oortree, maar eintlik is dit jý wat die wet oortree en straf uitdeel sonder dat ek skuldig bevind is.  Het jy vergeet dat die wet sê:  “Julle mag geen onreg doen in die gereg nie… Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.” (Levitikus 19:15)?  Het jy Spreuke 17:26 mis gelees:  “Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie—om edeles te slaan is onbetaamlik.”?’

 

Hoe het die Raad gereageer toe hy dít sê?  “Skel jy die hoëpriester van God uit?  Daarop sê Paulus:  Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe:  Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” (23:4-5).  Hoe het Paulus dan nie geweet Ananias is die hoëpriester nie?  Miskien het sy swak sig hom verhinder om dit te weet (Galasiërs 4:13-15, 6:11).  Of dalk het die hoëpriester nie sy ‘uniform’ aangehad nie, omdat die kommandánt die vergadering byeengeroep en gelei het (22:30).  Wat die rede ookal was, Paulus het Eksodus 22:28 geken en bely dat hy verkeerd was.

 

Paulus het besef dat hy geen geregtigheid in dié vergadering sou kry nie.  Hy het uitgeroep:  “Broeders, ek is ‘n Fariseër, die seun van ‘n Fariseër.  Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.” (23:6).  Die Sadduseërs was teologies liberaal.  Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament aanvaar.  Volgens hulle was daar niks van die opstanding of lewe na die dood in Genesis tot Deuteronomium nie.  Jesus het hulle reeds in Lukas 20:27-40 verkeerd bewys.  Die Fariseërs was teologies konserwatief.  Hulle het in die opstanding, asook in lewe na die dood geglo.  Hulle het die hele Ou Testament geglo, maar ook die oorlewerings van hulle voorvaders as gesaghebbend aanvaar.  Toe hulle besef dat Paulus, soos hulle, in die opstanding glo, het hulle hom verdedig:  “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ‘n gees met hom gespreek het, of ‘n engel, laat ons nie teen God stry nie.” (23:9).  Paulus het in die vorige hoofstuk vertel hoe hy die opgestane Jesus gesien het, maar hulle het gedink dat dit dalk ‘n engel was (Johannes 12:29).  Toe die vergadering warm raak, het die kommandant gesien dat Paulus verskeur gaan word.  Sy soldate het gekom en vir Paulus gered.  Hulle het hom na die Fort toe geneem en daar bewaar.

 

Moes jy al ooit alleen stand inneem by die werksplek, skool, of in jou familie?  Het dit al gebeur dat jy die enigste een was wat teen aborsie, homoseksualiteit en seks buite die huwelik moes staan; wat Bybelse tugtiging verdedig het; wat Genesis 1 as geskiedenis, en Jesus as die enigste Weg na die Vader toe aanvaar het?  Jesus sal jou help, vertroos en verdedig.  Paulus se woorde geld ook vir jóú:  “In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat.  Mag dit hulle nie toegereken word nie!  Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.  En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.  Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid!  Amen.” (2 Timoteus 4:16-18).

 

‘n Rein gewete sal help wanneer almal teen jou staan.  Is daar iets waaroor jou gewete jou pla?  Net deur Jesus se kruisdood kan jy ‘n rein gewete hê.  Jy moet jou bekeer, jou sonde bely, en op Jesus vertrou.  Jy moet glo dat Hy God is, mens geword het, en die straf gedra het wat óns verdien.  Jy moet bely dat Hy die Here is, en Hom gehoorsaam.  Hoor wat die Bybel oor ‘n rein gewete sê:

 

  • “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (24:16).
  • “want ek is my van geen ding bewus [teen my] nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.” (1 Korintiërs 4:4).
  • “Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle.” (2 Korintiërs 1:12).
  • “Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.” (2 Korintiërs 5:11).
  • “Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien” (2 Timoteus 1:3).
  • “laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.” (Hebreërs 10:22).

 

Wat sal gebeur as jy aanhoudend jou gewete ignoreer?  Jy sal jy dit skroei, sodat dit soos ‘n eelt geen gevoel meer het nie.  Wanneer die Gees jou gewete waarsku en sê:  ‘Daar is ‘n afgrond voor!’, sal jy dit nie hoor nie.  Iemand wat sy gewete skroei het sy waarskuwings- en beskermingsisteem beskadig.

 

Beskerm deur sy susterskind (23:11-22)

In Alfred Hitchcock se film, The man who knew too much, het Doris Day gesing:

 

When I was just a little girl

I asked my mother, what will I be

Will I be pretty, will I be rich

Here’s what she said to me.

Que Sera, Sera,

Whatever will be, will be

The future’s not ours, to see

Que Sera, Sera

What will be, will be.

When I was young, I fell in love

I asked my sweetheart what lies ahead

Will we have rainbows, day after day

Here’s what my sweetheart said.

Now I have children of my own

They ask their mother, what will I be

Will I be handsome, will I be rich

I tell them tenderly.

 

Stem die Bybel saam met hierdie woorde?  God is die Een wat “alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).  Teoloë noem dit predestinasie.  Die lied wat ek aangehaal het leer nie predestinasie nie, maar fatalisme.  Wat is die verskil?  Fatalisme sê dat toeval die oorsaak van alles is.  Mense wat dít glo is geneig om passief te wees en depressief te raak:  ‘Whatever will be, will be,’ en jy kan níks daaraan doen nie.  Paulus het in predestinasie geglo:  God bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele.  Ja, God het bepaal dat Paulus Rome toe sou gaan (23:11), maar dit het nie gemaak dat Paulus passief is nie.  Inteendeel, dit het hom vertroos.  Hy was bly dat sy wens om Rome toe te gaan, vervul kon word (Romeine 15:31-32).  Hy was bly dat die evangelie deur hóm, die eindes van die aarde sou bereik (1:8).  Toe die nuus kom dat die Jode hom wou doodmaak, het hy aksie geneem en gesorg dat hulle plan omver gegooi word (23:17).

 

Om in God se Naam te sweer dat jy sonde sal doen, is om sy Naam ydelik te gebruik.  Dit is wat 40 Jode gedoen het.  Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink, totdat hulle vir Paulus doodgemaak het nie.  Hulle het vir die Joodse Raad gesê:  “Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie.  Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen.  En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.” (23:14-15).  God het gesorg dat Paulus se susterskind dit uitgevind het.  Hy het dadelik vir Paulus gaan sê.  Paulus het hom na die kommandant toe gestuur.  Die kommandant sou sorg dat Paulus veilig is.

 

As jy nie onderskeid maak tussen Bybelse predestinasie en heidense fatalisme nie, sal jy jou God-gegewe verantwoordelikheid ignoreer.  ‘n Paar voorbeelde sal duidelik maak wat ek bedoel.

 

[1] Jy móét glo dat die dag van jou dood bepaal is (Job 14:5), maar jy moenie sê:  ‘Ek hoef nie medisyne te gebruik as ek siek is nie; ek kan in elk geval nie voor my tyd sterf nie.’  ‘n Vrou in Nelspruit het kanker gekry en gesterf.  Ek het vir die predikant gevra:  ‘Hoekom laat die Here dit toe?’  Sy antwoord was Bybels en wys:  ‘Wel Ivor, sy het vir 47 jaar gerook.’

 

[2] Jy móét glo dat die Here jou veilig in die hemel sal uitbring (Filippense 1:6), maar jy moenie sê:  ‘Ek kan nie my redding verloor nie; daarom kan ek sondig soos ek wil’ nie.  As jy onheilig is sal jy nie hemel toe gaan nie (Hebreërs 12:14).

 

[3] Jy móét glo dat God jou teen versoeking sal beskerm (Matteus 6:13), maar jy moenie daarmee speel en sê:  ‘Ek verstaan nie hoekom het ek in sonde geval nie – die Here het dan belowe om my te beskerm?’ nie.

 

[4] Jy móét glo dat God in jou behoeftes sal voorsien (Hebreërs 13:5), maar jy kan nie sê:  ‘God het belowe om in sy kinders se behoeftes te voorsien, en daarom kan ek lui wees en heeldag voor die TV lê en ontspan’ nie.

 

God wil hê ons moet sy bepaalde middele gebruik, en só sal Hy sy planne tot vervulling bring.  As jy bid sal jy ontvang; as jy nie bid nie sal jy nié ontvang nie (Jakobus 4:2).  Maar natuurlik moet ons nie die middele verafgod, sodat ons dáárop begin vertrou nie.  “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1).  Sê dié vers jy moenie wagte op die mure plaas, medisyne drink, hard werk vir ‘n inkomste, en teen sonde stry nie?  Óf sê dit jy moenie op hierdie dinge vertrou nie?

 

Beskerm deur soldate (23:23-35)

Maggie is ‘n Amerikaanse vrou.  Een nag stap sy om 23:00 in Hillbrow se strate.  Die stad se naglewe gons.  Sy sien ‘n groep van twintig Nigeriese dwelm-base buite ‘n shebeen.  Hulle staar haar aan.  Hoekom is sy nie bang nie?  Want saam met haar is 450 Navy Seals.  Die wat vír ons is, is baie sterker en meer as die wat téén ons is.  Die Here het vir Paulus hieraan herinner.

 

Die kommandant het twee van sy kapteins opdrag gegee om 200 voetsoldate, 70 ruiters, en 200 spiesvegters gereed te kry, sodat hulle vir Paulus Sesarea toe kon vat.  Die Here het 472 soldate gebruik om één man te beskerm!  Die soldate het in die nag vertrek (21:00), sodat hulle minder sigbaar sou wees.  Hulle het 64 km noord-wes gereis tot in Antipatris (vernoem na Herodes die Grote se pa, Antipater).  Die voetsoldate en spiesvegters het teruggedraai Jerusalem toe, en die ruiters het Paulus verder begelei tot in Sesarea.  Herodes Agrippa II se paleis en die goewerneur (Felix) se amptelike woning was hier.  Hier het hulle Paulus saam met die kommandant (Claudius Lisias) se brief aan Felix oorhandig.

 

Felix was ‘n wrede man.  Hy het omkoopgeskenke aanvaar.  Hy het rowery en geweld geïgnoreer.  Hy het honderde Joodse selote (‘n regse politieke party) gekruisig.  Hy het ‘n groep sluipmoordenaars oorwin, maar later van hulle gehuur om die Joodse hoëpriester Jonatan te vermoor.  As dit van sy karakter afgehang het, sou Felix nooit goewerneur geword het nie.  Sy broer Pallas was goed bevriend met die keiser.  Dít het gehelp dat hy goewerneur geword het.  Felix se lelike karakter verduidelik hoekom die kommandant, in sy brief, sekere feite uitgelaat en verdraai het.  In sy brief sê Claudius Lisias dat hy vir Paulus gered omdat hy uitgevind het hy is ‘n Romeinse burger.  Maar uit hfst.22 weet ons dat hy eers later uitgevind het dat Paulus ‘n Romeinse burger was.  Lisias sê ook nie ‘n dooie woord oor die feit dat hy vir Paulus gebind het nie.  As Felix dít moes uitvind was daar perde.  Felix het gesorg dat Paulus in Herodes se paleis bewaak word.

 

Jy hoef nie bang te wees vir die vyand nie.  Bid en vertrou dat God hulp sal stuur – selfs meer as wat jy nodig het (23:23).  Dink jy genoeg daaraan dat God sy engele opdrag gee om jou te beskerm?  Hoor die Woord van die Here:

 

  • Engele het vir Jakob beskerm toe hy vir Esau gevlug het (Genesis 28:12).
  • Toe die Siriese weermag vir Elisa omsingel het, het God duisende strydwaens van vuur gestuur om hom te beskerm (2 Konings 6:15-17).
  • In 2 Konings 19:35 het God ‘n engel gestuur om vir Hiskia en Jerusalem teen die Assiriërs te beskerm. Dié engel het in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak.
  • Psalm 34:8 sê: “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”
  • Psalm 91:11-12 sê: “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.”
  • In Daniël 6:22 het ‘n engel die leeus se bekke gesluit, sodat Daniël nie verskeur is nie.
  • Jesus het gesê: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 18:10).
  • Toe die apostels in die tronk was, het ‘n engel hulle kom uithaal (Handelinge 5:19).
  • In Handelinge 12:7-11 het ‘n engel vir Petrus uit die tronk bevry.
  • Hebreërs 1:14 sê van die engele: “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”

 

Moenie bang wees nie.  God is jou persoonlike lyfwag.  En as Hý vir jou is, wie kan teen jou wees?

 

Het jy al gehoor hoe die gedagte van bruidsmeisies onstaan het?  Party sê dat mense in sekere kulture bygelowig was.  Hulle het geglo dat bose geeste geluk gehaat het, en enige bruid ongelukkig wou maak.  ‘n Paar ander vroue het dus dieselfde rokke as die bruid aangetrek, sodat die bose gees nie geweet het wie die bruid was nie.  So kon hulle die gees flous, sodat dit nie iets aan die bruid kon doen nie.

 

Bose geeste weet wie die hemelse Bruid is.  Beteken dit ons moet bygelowig raak en bang wees?  Hoekom nie?  Want die Almagtige Bruidegom self is ons lyfwag, en daarom is ons altyd veilig.

[1] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, p.217

[2] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.138

[3] Ibid, p.148

[4] Ibid, p.163

Advertisements

’n Rotsvaste belofte

Pushing rock

’n Paar weke gelede was ek by die see.  Twee of drie keer het ek op die rotse gaan staan, terwyl die branders 3 meter onder my gewoel het.  Ek was veilig.  God se belofte aan Abraham was rotsvas:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” (Genesis 12:2).  En so ook is sy belofte aan ons:  “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).  Ja, daar was en is hindernisse wat lyk of dit teen die belofte indruis.  Maar God se beloftes is rotsvas en daarom is ons veilig.

 

Die dood (v.1-7)

In die sestiende eeu het ‘Bloody’ Mary 300 evangeliese Christene verbrand.  Haar plan was om die Protestante uit te roei en Katolisisme in Engeland te vestig.  In 1555 het sy vir Hugh Latimer en Nicholas Ridley saam verbrand.  Latimer het gou gesterf.  Ridley was nie so gelukkig nie.  Aan sy kant was die hout nie so mooi gepak nie.  Sy bene is afgebrand voordat die vuur sy middel bereik het.  Dié aaklige gesig het honderde toeskouers tot trane gedryf.  Mary se wreedheid het die teenoorgestelde effek gehad as dit waarvoor sy gehoop het.  Die volk het Katolisisme met tirranie vereenselwig.  Hulle het Mary se godsdiens gehaat.  Toe sy dood is het ‘n gety van wit-warm, anti-Katolieke vlugtelinge die Engelse kus getref.[1]  Die dood self kon Jesus se belofte nie keer nie.[2]  Ook in Eksodus 1 het die Here se belofte aan Abraham rotsvas gestaan.[3]

 

‘En…’  Hoekom begin Eksodus so?  Moses, die outeur, wil wys dat die boek op Genesis volg.  Die eerste verse van Eksodus is ‘n opsomming van Genesis se laaste hoofstukke:

 

1 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: 2 Ruben, Símeon, Levi en Juda; 3 Issaskar, Sébulon en Benjamin; 4 Dan en Náftali, Gad en Aser. 5 En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele.  Maar Josef was in Egipte. 6 En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.”

 

Hoekom word Jakob se seuns in dié spesifieke volgorde genoem?  Die eerste ses is Lea s’n.  Benjamin is Ragel se seun (Josef was reeds in Egipte).  Die volgende twee is Ragel s’n deur haar slavin, en die laaste twee Lea s’n deur háár slavin.  Altesaam het sewentig mense Egipte toe gekom.  Die jare het verbygegaan.  Josef, sy broers, en daardie hele geslag het uitgesterf.  Maar die dood kon nie die belofte keer nie.  Die familie van 70 het vermeerder tot ‘n magtige nasie van ‘n paar miljoen (Numeri 1:46).  Nou was hulle soos die sterre in die hemel (Genesis 15:5).  Die werkwoorde in v.7 beklemtoon dit:  “Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.”

 

Is die dood in die 21ste eeu anders as in die tyd van Moses en ‘Bloody’ Mary?  Kan dit in 2014 God se belofte keer?  Ons moet God en Christelike leiers in die regte perspektief plaas.  Ons is slawe (1 Korintiërs 3).  God is die Meester.  Daarom sê Jesus:  “wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10).  Sal die kerk tot niet gaan, omdat die ou steun pilare van jou kerkgroep nie meer daar is nie (in ons geval, die Odendaals, Venters, en Raubenheimers van die ABK)?  Wat van jou gemeente:  sal dit vou as die huidige leraar wegval?  Sal die Christelike wêreld ineenstort as jou gunsteling prediker of outeur sterf (John MacArthur, John Piper…)?  Het die Here se werk opgehou toe Moses dood is?  “En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê:  My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee.” (Josua 1:1-2).

 

Hoekom moet jy nie jou hoop in mense plaas nie?  Want mense vergaan soos gras.  Om jou hoop op ‘n mens te plaas is om hom te aanbid.  Jy sien ‘n mens, en nie vir Jesus en sy belofte nie, as die rotsvaste fondasie waarop jy moet bou.  Maak jy te veel van ‘n predikant of ander Christelike leier, en te min van Jesus en sy rotsvaste belofte?

 

Slawerny (v.8-14)

Lank gelede was daar ‘n boom genaamd ‘Kerk’.  ‘n Stormwind genaamd ‘Wêreld’ het daarteen gewaai.  Dit het takke afgeruk en die boom se blare gestroop.  Maar die saad het versprei.  ‘n Magtige haelstorm genaamd ‘Satan’ het die boom getref en erg beskadig.  Tog het dit die boom verkwik en baie van die dooie takke genaamd ‘Vals Gelowiges’, afgebreek.  God gebruik sy vyande om die kerk te laat groei.  “Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.  En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” (Handelinge 8:3-4).  In Eksodus 1 is dit nie anders nie.

 

Jare nadat Josef dood is het ‘n nuwe Farao het aan bewind gekom.  Hy het nie vir Josef erken of iets gevoel vir sy geliefde volk nie.  Maar hy het hierdie groot volk gevrees.  Hy het alles in sy vermoeë gedoen om oorlog te voorkom, want as hulle teen hom moes opstaan, sou hy dit nie oorleef nie.  En as hulle die land verlaat het, sou die ekonomie in duie gestort het.  Die land was afhanklik van hulle.  Watse afskrikmiddel kon Farao gebruik?  Hy het hulle met dwangarbeid onderdruk en opsigters oor hulle aanstel.  Deur die eeue het God se vyande soos hý gedink:  “Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.  Hulle sê:  Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” (Psalm 83:4-5).

 

Die Israeliete het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.  Pitom is vernoem na die songod van noord-Egipte, en beteken ‘huis van Tum’.  Raämses is na Farao se seun, Rameses vernoem.

 

Farao se plan het nie gewerk nie.  Ten spyte van die onderdrukking het Israel vermeerder.  Die Egiptenare moes ‘n nuwe plan uitdink.  Wat sou dit wees?  Onmenslike slawerny!  Die mans sou min by hulle vroue wees, en ás hulle hul vroue gesien het, sou hulle te moeg gewees het vir seks.  Te moeg vir seks?  ‘n Man!?  Gmf…  Weer het die Egiptenare se plan misluk.

 

Dink Bybels oor vervolging en lyding.  In ons gemaksugtige samelewing is dit nie maklik nie.  Wanneer vervolging en lyding kom wil ons dit so gou as moontlik weg bid:  ‘Here, laat die Moslems in Irak asseblief ophou om die Christene te vervolg… Here, moenie dat die ateïste Christenskap uit ons skole wegvat nie… Here, keer asseblief die EFF om aan bewind te kom.  As húlle die land regeer sal Christene binnekort vervolg word.’  Ons moet leer om éérs te bid:  ‘Here, dankie dat U ook hiérdie vervolging en lyding vir die goeie gaan uitwerk.  Gebruik dit asseblief om ons meer soos Jesus te maak.  Dankie dat U belofte rotsvas staan:  U sal U kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.’  As jy dit nié doen nie sal jy in vrees lewe.  Kort voor lank sal jy die wêreld en die duiwel as gelyke opponente teen God beskou.  Jy sal die waarheid van verse soos Psalm 2:4 vergeet:  “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle [sy vyande].”

 

Kindermoord (v.15-22)

Wat doen sonde met jou verstand?  Dit laat jou onderstebo dink – soveel so dat mense hulpelose babas sal doodmaak sonder dat hulle verskroeide gewete kriewel.  In Jeremia 32:35 het die Israeliete hulle kinders vir Molog geoffer.  Koning Hasael van Sirië het Israel se swangervroue oopgesny en die ongebore kinders verpletter (2 Konings 8:12).  In Matteus 2 het Herodes die Grote al die babas in Betlehem geslag.  Oor die inwoners van Carthage sê Plutarch:  ‘[They] offered up their own children, and those who had no children would buy little ones from poor people and cut their throats as if they were…lambs or young birds; meanwhile the mother stood by without a tear or moan.’[4]  China se ‘one child policy’ lei daartoe dat miljoene kinders doodgemaak word.  In die weste word daar elke jaar net soveel ongebore kinders vermoor.  Om ons gewete te sus noem ons dit nie moord nie, maar ‘aborsie’.

 

Vir Farao was dit geen probleem om die Israeliete se seuntjies te vermoor nie.  So kon hy die potensiële bedreiging verwyder.  Hy het die vroedvroue opdrag gegee om die seuntjies dood te maak.  Wanneer hulle die kind gevang het kon hulle net maak of dit ‘n stilgeboorte was.  Niemand sou weet nie.  Wat het die vroedvroue gedoen?  Hulle het God gevrees, want Hý sou weet.  Hulle het gedoen wat elke gelowige in sulke omstandighede behoort doen:

 

  • “deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad.” (Spreuke 16:6).
  • “Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18).
  • “En Petrus en die apostels antwoord en sê [vir die Joodse Raad]: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Handelinge 5:29).

 

Farao het gou besef dat die vroedvroue nie sy opdrag uitgevoer het nie.  Hy het nie ma’s gehoor huil nie, maar babas.  Hy het die vroedvroue laat roep:  “Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?  En die vroedvroue sê vir Farao:  Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.” (v.18-19).  Moet ons aanneem dat die vroedvroue vir Farao gejok het?  Of het die Here gemaak dat die ma’s gou geboorte gee, sodat Hy die volk vermeerder en die vroedvroue se lewens beskerm het?  God het die vroedvroue beloon deur vir hulle gesinne te gee.  Die Skrif sê mos “dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees” (Prediker 8:12).

 

Farao was woedend.  Wat sou hy volgende doen?  Hy het vir die Egiptenare gesê:  “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.” (v.22).  In Egipte het hulle die Nyl tot ‘n god vereer (Hapi).  Farao se plan het hom nie net teen die Israeliete beskerm nie, maar ook Hapi se guns gewen.  Maar is dit nie ironies dat Jahwe later Egipte se mans in die Rooisee laat verdrink het nie (15:1)?

 

Hoe moet jy reageer op die leerstelling van God se getrouheid?

 

[1] Glo die verse wat daaroor praat.

 

  • “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).
  • “in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2).
  • “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 6:17-18).

 

[2] Glo dit as jy dié vraag antwoord:  Geld Jesus se belofte in Matteus 16:18 vir die vervolgde kerk in Irak; vir die sukkelende kerk in Suid-Afrika; vir jóú klein gemeente?

 

[3] Maak dubbel seker dat die belofte jou insluit.  Is jy deel van die kerk?  Is jy deel van God se volk?  Jy kan dit net wees deur Jesus Christus.  Jy moet glo dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars en weer opgestaan het uit die dood; dat Hy die ewige God is wat mens geword het.  Jy moet op Hom vertrou en nie op jou eie pogings, godsdiens, of goeie werke nie.  Jy moet jou van jou sonde bekeer en by Hom pleit om jou te vergewe.  Anders kan die belofte mos nie vir jóú geld nie, of hoe?

 

[4] Ten spyte van Farao se sonde het God sy belofte vervul.  Die Nuwe Testament sê:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Timoteus 2:13).  Maar beteken dit jy kan sonde doen omdat God getrou is?

 

[5] Moenie hoop verloor as die ergste gebeur nie:  as Farao seuntjies in die Nyl verdrink of ISIS kinders onthoof (v.22).  “How often have men said, ‘This is the end,’ then a revival has come.” (Martyn Lloyd-Jones).

 

God se getrouheid, sy rotsvaste belofte, gee hoop in ons donkerste uur.

 

My beste vriend is groot en sterk.  Toe hy nog groter was het hy eenkeer in Nelspruit vir my kom kuier.  Ons was op ‘n plaas en het ‘n rots ontdek wat omtrent so groot soos ‘n klein kind was.  Drie van ons het probeer om die rots met ons bene teen die helling af te rol.  Selfs met die hulp van my groot vriend was dit nie maklik nie.  God se belofte is ontelbaar keer groter as ‘n klein kind.  Wees gerus.  Niemand sal hiérdie rots skuif nie.

[1] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, B&H Publishing, NASHVILLE, 2009, pp.136-140

[2] Matteus 16:18

[3] Genesis 12:2

[4] Alvin Schmidt, How Christianity changed the world, Zondervan, GRAND RAPIDS, 2001, 2004, p.49

Hoe om mense vir Jesus te vang

Bass and lure

Het jy al ooit visgevang?  In Desember ‘97 het ek vir die eerste keer by die see gaan hengel.  Voor dit het ek al paar keer in riviere en damme vis gevang.  ‘Maar om by die see te vang is heeltemal anders,’ het my vriend my verseker.  Hy het vir my die regte stokke, lyn, hoeke, en sinkers gegee.  Ek is aangesê om die aas met gare en karton aan die hoek vasmaak.  Ek het geleer dat ‘n lyn wat effens beweeg nie ‘n vis is nie, maar golwe.  My lyn hét ‘n bietjie beweeg.  En nóg ‘n bietjie, en ‘n bietjie, en ‘n bietjie… totdat die aas skoon van my hoek afgeëet is.  Ek het niks gevang nie en geleer:  ‘Om vis te vang is ‘n kuns.’

 

Is dit nie maar dieselfde as jy mense vir Jesus wil vang nie?  Om ‘n visser van mense te wees is ‘n kuns.  In Handelinge 21:37-22:22 wys Paulus vir ons hoe dit gedoen word.

 

Gebruik hulle taal

Hoe voel jy as iemand van ‘n ander land ‘n bietjie Afrikaans kan praat?  Of as so iemand Afrikaans vlót kan praat?  Ons huishulp was baie beïndruk met ‘n blanke man wat wat Zoeloe gepraat het soos ‘n swart man.  Ek ken ‘n predikant wat baie goed Xhosa praat.  Toe ek een keer saam met hom by MAKRO was en hy Xhosa praat, het kassiere van oor tot oor geglimlag.  Daar is ‘n swart man wat al ‘n paar kere ons kerk besoek het.  Hy het my onlangs gebel en gesê:  ‘Goeie môre leraar.  Ek bel om te sê dat ek baie aan jou dink.  Ek is dankbaar dat God altyd by my is.  Groet die gemeente.’  Sy Afrikaans het my beïndruk.  Wyle dr. Martin Holdt het ‘n paar Zoeloe woorde geleer om die evangelie beter te deel.  Sy pogings het ‘n wêreldse verskil gemaak.

 

Het jy al gesien hoe mense se respek verdubbel as jy nie net die taal van hulle tong nie, maar die taal van hulle hart ken; as jy hulle kultuur, gebruike, en ‘slang’ ken?  Ons het ‘n Amerikaanse vrou in ons kerk.  Sy verstaan Afrikaans en praat ook redelik goed.  Mense in ons kerk is mal daaroor om te hoor dat sy Afrikaanse musiek konserte bywoon.  Het Paulus nie presies dít gedoen nie:  die taal van mense se tonge én harte gepraat?

 

19 Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. 20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; 22 vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. 23 En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.” (1 Korintiërs 9).

 

Let op hoe Paulus hierdie verse in Handelinge 22 toegepas het.

 

In Handelinge 21:27-36 was daar ‘n opstand onder die skare.  Hulle het gedink dat Paulus ‘n Griek in die tempel ingebring het.  So iets was strafbaar met die dood.  As gevolg van die skare se geweld moes die soldate Paulus na die Antoinia Fort toe dra.  Paulus het Grieks gebruik toe hy met die kommandant praat (21:37).  Hoekom was die kommandant so verbaas?  Was dit dalk omdat Grieks ‘n klassieke taal was, en hy gedink het Paulus is ‘n ongeleerde misdadiger?  Volgens die Joodse geskiedkundige, Josefus, was daar ‘n Egiptiese vals profeet wat met sy soldate op die Olyfberg gesit en oor Jerusalem uitgekyk het.  ‘As ek die bevel gee sal die stad se mure platval.  Dan sal ons die stad binnestorm en die Romeine uitdryf.’  Hy het 4000 rowers in die woestyn ingelei.  Die Griekse woord vir rowers [sikarioi] beteken letterlik ‘dolk manne’.  Hulle was sluipmoordenaars wat kort messe [dolke] in hulle klere gedra het.  Waar mense in massas bymekaar gekom het, sou hulle Romeine of dié Jode hulle goed gesind was, doodsteek.  Goewerneur Felix het Romeinse troepe gelei om teen hulle geveg.  Talle rowers is doodgemaak en ander is gevang.  Hulle leier het egter weggekom.

 

Die kommandant het seker gedink dat Paulus hierdie vals profeet was, en dat die skare hom vasgetrek het.  Paulus het dit ontken:  “Ek is ‘n Joodse man van Tarsus, ‘n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.” (21:39).  Hoekom was Tarsus so belangrik?  Tarsus was lojaal en Julius Caesar het hulle hiervoor beloon.  Keiser Augustus het Tarsus tot ‘n vry stad verklaar.  Hulle het nie belasting betaal nie en het hulle eie wette gehad.  Paulus het dus slim gewerk en in meer as een sin die kommandant se ‘taal’ gepraat.  So het hy toestemming gekry om met die skare te praat.  Hoekom het hy op die Fort se trappe gaan staan?  Hy wou gesien en gehoor word.  Hy het die skare in Hebreeus (Aramees) toegespreek.  Toe die mense hulle eie taal hoor, was hulle tjoepstil.  Baie van dit wat Paulus gesê het was hulle hartstaal:

 

  • ‘Broeders en vaders’ (22:1).
  • ‘Ek is ‘n Jood’ (22:3).
  • ‘Ek is gebore in Tarsus, maar opgelei in Jerusalem’ (22:3).
  • ‘Ek het onderrig ontvang aan die voete van Gamaliel’ (22:3). Gamaliel was die kleinseun van die bekende Rabbi Hillel. Hy het bekend gestaan as die ‘heerlikheid van die wet’ en ‘ons meester’. Lukas het hom reeds in hfst. 5 in ‘n goeie lig geplaas.
  • ‘Ek is opgevoed volgens die streng wyse van die wet van ons vaders’ (22:3). Paulus was ‘n Fariseër (26:5, Filippense 3:5).
  • ‘Ek was ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is’ (22:3).
  • ‘Ananias was ‘n baie vroom man volgens die wet. Die Jode in Damaskus het goeie dinge van hom te sê gehad. Hý het vir my kom bid’ (22:12-13).
  • ‘Die God van ons vaders’ (22:14).
  • ‘God het my voorbeskik om sy wil te ken’ (22:14).
  • ‘God het my voorbeskik om die Regverdige te sien’ (22:14). In die Ou Testament verwys ‘die Regverdige’ na God en sy Messias (Jesaja 53:11, Spreuke 21:12).

 

Wil jy mense vir Jesus vang?  Sal dit nie wys wees om soos Paulus, met mense in hulle eie ‘taal’ te praat nie?  Hoe kan jy dit regkry?

 

[1] Jy moet seker maak jy weet hoe om die evangelie op ‘n eenvoudige wyse met mense te deel.  God is heilig en haat sonde.  Waar God sonde sien sal Hy dit straf.  Jy is ‘n sondaar wat vir jouself lewe en teen Hom rebelleer.  Jou gewete sê vir jou dat jy sy heilige wet geminag het.  Christus is die ewige God en het mens geword om sondaars te red.  Ons móés die wet perfek onderhou, maar het nie.  Jesus het dit in ons plek kom doen.  Ons verdien God se straf vir ons sonde.  Deur sy kruisdood het Jesus óns straf ontvang.  Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood.  God beveel jou om hierop te reageer:  jy moet jou sonde haat, berou hê daaroor, en ophou daarmee; jy moet op Jesus vertrou om jou van jou sonde te red.

 

[2] Wil jy met mense van ‘n ander kultuur werk?  Leer hulle gebruike en taal.  Leer byvoorbeeld hoe om iemand in Zoeloe te groet.  Leer hoe om in hulle kultuur respek te betoon:  kyk af, buig effens, en skud hand soos húlle dit doen.

 

[3] Gaan jy meestal met Afrikaners die evangelie deel?  Praat hulle ‘taal’.  Kan jy aanneem dat die ouer, kerkgaande geslag die evangelie ken?  ‘n ‘Kerkvrou’ het my in die week kom sien.  Sy is al vir jare in die kerk, besit ‘n Bybel, maar het nie die vaagste idee van die evangelie nie.  Kan jy aanneem dat die jonger, kerklose geslag ‘n basiese Bybel agtergrond het?  Toe ek in Nelspruit bedien het was daar jongmense wat gedink het Josef se boeties het hom in ‘n leeukuil gegooi.  Hoeveel Afrikaners weet van Jesus se kruisdood, maar weet nie wat dit beteken nie?  Jy moet dit vir hulle verduidelik:  ‘Ons verdien om gestraf te word vir ons sonde, maar Jesus het ons straf op Homself geneem.’

 

[4] Om mense se ‘taal’ te praat, sal jy terme soos geregtigheid, toorn, geloof, bekeer, bely, versoening, regverdigmaking, weergeboorte moet verduidelik.  Beteken dit jy moet die evangelie afwater?  Of beteken dit jy moet gewone Afrikaans praat en illustrasies gebruik om die evangelie te verduidelik?

 

Hoekom is dit belangrik om mense se ‘taal’ te praat?  Kan iemand ‘n Christen word omdat hy ‘n helder lig in ‘n droom gesien het; omdat die sagte musiek haar tot trane gedryf het; omdat sy die Gees ‘gevoel’ het toe almal gelyk in tale praat?  ‘n Mens kan nie die evangelie absorbeer nie.  Jy moet dit verstaan.  Kan jy dit verstaan as dit in moeilike woorde (taal) oorgedra word – al is dit ook akkuraat?

 

Gebruik jou getuienis

Ek het die Bybel op ‘n jong ouderdom leer ken.  Ek het geweet dat Jesus God is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes, en dat Hy weer opgestaan het op die derde dag.  Ek het ook vroeë herinneringe van my sonde.  Ek het ‘n obsessiewe self-liefde gehad.  Ek het my sussie geslaan, gelieg, gevloek, mense gevrees en probeer om hulle te beïndruk.  Ek het selfs pornografie gekyk toe ek 8 was.  Toe ek 8 was het ek een aand in die bed gelê en huil, omdat ek bang was vir die hel.  My ma het my getroos.  Op 9 het ek by ‘n Sondagskool kamp gereageer op die uitnodiging.  Ek het die Here ‘aangeneem’.  Maar dit was ‘n vals bekering.  Hoe weet ek dit?  Ek het glad nie verander nie.  Ek het nóg sondes op my ou hoop gelaai.  Ek was hoogmoedig, het verkeerd gedoen om guns te wen, twee keer in ‘n toets gekul, arm en lelike kinders gespot, slegte vriende gehad, baklei, gesteel, en meer.  Ek het by bidure gebid, sodat mense van my sou hou.  Ek het my sonde aan mense bely om goed te voel.

 

Toe kom daar ‘n verandering.  Op 13 het die Here ‘n preek gebruik om my van my sonde te oortuig.  Ek het huistoe gegaan, by my bed gekniel, en die Here gesmeek om my te red en vergewe.  Ek die volgende dag vir my pa vertel.  Die volgende jaar is ek gedoop.  My liefde vir die kerk het toegeneem.  Die liefde, waarheid, eenheid, geestelike gesondheid, gemeenskap, dissipline, gebed, lofprysing, getuienisse, en leierskap het my diep beïndruk.  Ek het my Bybel gelees en gebid.  Met die verloop van jare het ek ‘n beter begrip van die evangelie gekry.

 

Dit is mý persoonlike getuienis.  In Handelinge 22 gee Paulus sýne.  Hoe het sy lewe gelyk voor sy bekering?  Hy was baie ywerig vir God; soveel so dat hy ‘die Weg’ (Christene) vervolg het.  Die hoëpriester en Joodse Raad kon getuig dat dit so is.  Hy het selfs buiteland toe gereis om Christene te vervolg.  Maar ten spyte van sy ywer, was hy ongered.  Wat!?  Is dit moontlik om ywerig te wees, sonder om gered te wees?

 

  • “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.” (Johannes 16:2).
  • “Want ek getuig van hulle [die Jode] dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.” (Romeine 10:2).
  • “wat ywer betref, [was ek] ‘n vervolger van die gemeente” (Filippense 3:6).

 

Dis wat Paulus wás.  Hoe het hy verander?  Hy was oppad Damaskus toe.  Skielik het daar ‘n helder lig uit die hemel geskyn.  In vergelyking het die son soos ‘n kers gebrand.  Dit was Jesus wat aan Paulus verskyn het.  Paulus het besef dat Jesus regtig uit die dood uit opgestaan het.  Nou het hy verstaan dat Jesus verhewe en verheerlik is, dat Hy kragtig is.  Het hy geweet Jesus is God?  Natuurlik.  Hoe anders het Hy Paulus se naam geken?  Paulus het geweet Jesus is die Regverdige, die Messias.  Hy het erken dat Jesus die Here is:  “Wat moet ek doen, Here?” (22:10).  Hy het geweet Jesus is nogsteeds ‘n mens.  Hoe weet ons dit?  Jesus praat van Homself as ‘Jesus van Nasaret’ (22:8).  Hy het geweet Jesus is die Verlosser van sondaars, want Jesus beteken ‘Jahwe verlos’ (Matteus 1:21).  Hy het geweet Jesus is die Hoof van die kerk, en as jy die kerk vervolg, vervolg jy Hóm:  ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ (22:7).  Hoe sou Paulus geweet het Hy is soewerein?  Het Hy nie take vir Paulus voorbeskik nie (22:10, 14)?

 

Die mense wat saam gereis het, kon bevestig dat Paulus regtig ‘n lig gesien en ‘n stem gehoor het; dat hy vir drie dae blind was.  Ananias kon bevestig dat dit Jesus se stem was.  Het Jesus nie met hom ook gepraat nie (22:14)?

 

Wat het ná Paulus se bekering gebeur?  Sy sonde is weggewas toe hy die Here se Naam aangeroep het.  Hy is gedoop om dit uit te beeld (22:16, 2:38).  Paulus, wat eens ‘n vervolger van die kerk was, is verander in ‘n Christen, apostel, ooggetuie, en kragtige evangelie-prediker (22:15).  “Is ek nie ‘n apostel nie?  Is ek nie vry nie?  Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie?  Is julle nie my werk in die Here nie?” (1 Korintiërs 9:1).

 

Was die Jode se aantyging in 21:21 (dat Paulus hulle gebruike wou verander) waar?  Glad nie.  Drie jaar ná sy bekering (Galasiërs 1:17-18) het Paulus tempel toe gegaan om te bid (22:17).  Jesus het vir Paulus gesê dat Jode nie die evangelie sou aanvaar nie.  Hy was egter oortuig dat sy ondervinding, ywer, en vervolging van die kerk hom die perfekte kandidaat gemaak het om die evangelie aan die Jode te verkondig.  Maar Jesus het hom weggestuur na die heidene toe.  Húlle sou luister.  Wat het die Jode gedoen toe hulle dít hoor?  Hulle was woedend.  “Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!,” het hulle uitgeroep (22:22, cf. Lukas 23:18).  Hulle het hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi (7:58, 2 Samuel 16:13).  Hoekom het hulle dit gedoen?  Die idee dat ‘n heiden gered kon word sonder om eers ‘n Jood te word, was belaglik.  Die Jode was jaloers dat God guns aan die heidene bewys het.  Hulle wou vir Paulus “verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word” (1 Tessalonisense 2:16).  Het Paulus aanstoot gegee?  Of het die Jode aanstoot geneem?

 

Wil jy weet hoe om, soos Paulus, jou getuienis met wysheid te deel?

 

[1] Maak seker jy hét ‘n ware getuienis van redding.  Om lidmaat van ons gemeente te wees móét jy gered wees.  Maar party mense wat aansoek doen het nie ‘n getuienis van redding nie.  Beteken dit jy moet ‘n spesifieke dag en datum van bekering kan gee?  Nee.  Maar jy móét weet jy was verlore en is nie meer dieselfde nie:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Korintiërs 5:17).  In John Newton se woorde:  ‘I am not what I want to be.  I am not what I ought to be.  I am not what I will be.  But I am not what I was.’

 

[2] Jy moet ‘n goeie begrip hê van wat bekering is:  Jy het besef wie Jesus is en wat Hy aan die kruis gedoen het.  Jy het besef jy kan nie jóúself ‘n Christen maak nie; net Hý kan (Handelinge 22, Johannes 1:12-13).  Jy het gesien hoe lelik jou sonde is.  Dit het jou hartseer gemaak.  Jy het by die Here gepleit vir genade.  Hy het jou vergewe.  Jy het Hom geprys.  Jy het ‘n begeerte gekry om Hom te ken, sy Woord te gehoorsaam, en saam met gelowiges te wees.

 

[3] Vind ‘n balans tussen wat jy was, wat met jou gebeur het, en wat jy nou is.

 

  • As jy vertel wat jy was, kan mense sien hoe goed en sterk Jesus is om slegte sondaars te red (1 Timoteus 1:12-16). Maar het jy al getuienisse gehoor waar mense byna nét vertel hoe sleg hulle was? Hoekom is dit gevaarlik? Want dit fokus op die sondaar en nie op Jesus nie; op sonde en nie op sy kruisdood nie.
  • As jy van jou bekering vertel sien mense dat die evangelie wonderlik en relevant is. Maar wat sal gebeur as jy nét van jou bekering praat en niks van jou verlede sê nie? Mense sal die idee kry dat Jesus mense red wat ‘okay’ is.
  • As jy deel hoe Jesus jou verander het, sal mense verstaan dat bekering nie net ‘n status verandering is nie, maar dat jy van binne af nuut word. Hoekom sal dit nie werk om nét daarop te fokus nie; om nie ook te vertel van jou bekering en van wat jy was nie? As jy dít doen sal mense dink jy ‘n Christen word deur beter te lewe.

 

Dis nie maklik om teen iemand se persoonlike getuienis te stry nie, is dit?  Veral nie as ‘n paar honderd miljoen mense so ‘n getuienis het nie.

 

Het jy al van John Blanchard gehoor?  Hy is ‘n evangelis in Engeland.  Een Goeie Vrydag het hy gery om by ‘n kerk te gaan preek.  Oppad het ‘n paar jong sokker spelers duim gegooi.  Hy het hulle opgelaai.  In die kar het hy gevra:  ‘Weet julle watse dag is dit?’  ‘Goeie Vrydag,’ het hulle geantwoord.  ‘Weet julle wat op hierdie dag gebeur het?’  ‘Jesus het aan die kruis gesterf,’ was hulle antwoord.  ‘Weet julle hoekom?’  ‘Sodat ons vry kan wees van ons sonde,’ het hulle gesê.  ‘En… is julle?’ het hy gevra.

 

‘n Jaar later het Blanchard by dieselfde kerk gaan preek.  Ná die diens het ‘n jong man vir hom gesê:  ‘Onthou jy my?’  Hy was een van die drie jong seuns wat die vorige jaar in Blanchard se kar gery het.  Wat het met hom gebeur?  Hy het oor Blanchard se vraag gedink en tot bekering gekom.

 

Het jý ‘n persoonlike getuienis.  As jy nóg nie een het nie, hoop ek dat jy ná vanoggend se preek een sal hê.

Hoe om in vrede te sterf

Deathbed

John Sim was ‘n Skotse seuntjie in die 1800’s. Toe hy 8 was het hy op sy sterfbed gelê.  Hy was vol van blydskap omdat hy binnekort by Jesus sou wees.  Met ‘n swak stem het hy gesê:

 

I lay my sins on Jesus,

The spotless Lamb of God.

 

Kort voordat hy dood is het hy vir sy ouers gesê: ‘I am going soon to be with Jesus; but I sometimes fear that I may not see you there.’  Sy ma het gehuil:  ‘Why so, my child?’  Sy antwoord het hulle diep gesny:  ‘Because, if you were set upon going to heaven and seeing Jesus there, you would pray about it, and sing about it; you would talk about Jesus to others, and tell them of that happy meeting with Him in Glory.  All this my dear Sunday School teacher taught me, and she will meet me there.  Now why did not you, my father and mother, tell me all these things about Jesus, if you are going to meet Him too?’

 

Op ‘n dag het ‘n tannie sy ma besoek. Die predikant was ook daar.  John het gehoor hoe sy ma en die tannie praat.  Hy het vir die predikant gesê:  ‘Sit you down and talk with me about Jesus; I am tired of hearing so much talk about everything else but Jesus; I am going soon to be with Him.  Oh, do tell me everything you know or have ever heard about Jesus, the spotless Lamb of God!’[1]

 

Hoe kan ‘n mens in vrede sterf soos John Sim? Genesis 49-50 leer vir ons.

 

Jakob se dood en begrafnis (49:29-50:14)

‘n Ateïs in Glasgow het baie siek geword. Sy vrou het vir John Paton gevra om hom te besoek.  Vir jare het hierdie man, alhoewel hy nie die evangelie verstaan het nie, hom daarteen uitgespreek.  Nou was hy vreesbevange vir die dood.  Na ‘n paar besoeke het die man ‘n diep belang in die evangelie ontwikkel en met trane uitgeroep om gered te word.  Hy was bitter spyt oor die skade wat hy gedoen het.  Hy het sy ou vriende bymekaar geroep en vertel wat hy in Jesus gevind het.  Saam met sy vrou en dogter het hy sy ateïstiese boeke geskeur en verbrand.  Vir die res van sy lewe het hy vurig van Jesus getuig en uiteindelik in vrede gesterf.[2]

 

‘n Ander ateïs in die omgewing was bekend vir sy lastering teen God. Sy vrou, ‘n Rooms-Katoliek, het vir Paton gevra om hom te besoek.  Die man wou nie ‘n woord van geestelike dinge hoor nie.  Toe Paton oor Jesus gepraat het, het die man op hom gespoeg.  Hy het aangehou om die man te besoek, maar die man het so geskreeu dat mense buite die huis saamgedrom het.  Hy het sy nagklere geskeur en aangehou met laster.  Paton het hom gesmeek om in Jesus te glo en gevra of hy saam met die man kon bid.  Die man het sy kragte bymekaar geskraap en geskreeu:  ‘Pray for me to the devil!’  Paton het die man herinner hoe hy altyd gesê het dat daar nie ‘n duiwel is nie.  Die man het woedend uitgeskreeu:  ‘Yes, I believe there is a devil, and a God, and a just God, too; but I have hated Him in life, and I hate Him in death!’  Met dié woorde het die man die ewigheid ingegaan.[3]

 

Wat was die verskil tussen die twee mans? Hoekom het die een in vrede gesterf en die ander een nie?  Dié wat in geloof vashou aan God se belofte van die toekoms kan in vrede sterf – soos Jakob.

 

Jakob het nou nie meer vir Josef voorgetrek nie, maar het vir al sy seuns gevra om hom te begrawe – in die grot wat Abraham by die Hetiete gekoop het. Hoekom wou hy dáár begrawe word?  Dié stuk grond in die Beloofde Land het wettiglik aan hom en sy nageslag behoort.  Oupa-Abraham, ouma-Sara, pa-Isak, ma-Rebekka, en vrou-Lea was dáár begrawe, en daar wou hý begrawe word.  Hy het geweet dat God die res van die land vir sy nageslag sou gee.  Hy het sy voete opgetrek, sy laaste asem uitgeblaas, en in vrede gesterf.  Nog voor sy liggaam in die familie-begraafplaas neergelê is, is hy saam met sy volksgenote versamel (49:33).  In gewone Afrikaans:  hy is hemel toe.

 

Josef het sy pa sy lewelose gesig gesoen en gehuil. God het sy belofte aan Jakob vervul:  “Josef sal jou oë toedruk.” (46:4).  Josef wou godsdienstige toordery vermy, en het dus vir die dokters gevra om sy pa se liggaam te balsem.  Die proses het 40 dae gevat.  Hulle het ‘n snit in die sy en skedel gemaak, sodat die ingewande en brein verwyder kon word.  Hulle het die holtes met speserye, mirre, en cassia gevul en met boomgom gesmeer.  Daarna het hulle die liggaam gewas en in fyn linne toegedraai.  Laastens is die liggaam in ‘n mummy-kis neergelê en regop laat staan.[4]

 

Ongelukkig het antieke mense dikwels die dooies aanbid, maar dit is ook so dat hulle die dooie met meer waardigheid behandel het as wat ons dit vandag doen.

 

Nadat die dokters Jakob se liggaam gebalsem het, het die Egiptenare vir 70 dae gehuil. Op dié manier sou hulle na die dood van ‘n geliefde deeglik deur die rouproses werk.  Hulle het nie maar net ‘n minuut van stilte gehad nie.  Tog mag die uitgerekte rouproses ook wys dat hulle nie die hoop gehad het wat ons het nie.  Ek het onlangs gehoor hoe ‘n vrou sê:  ‘Sjoe, dis hartseer dat so-en-so dood is.  Die ergste is om te weet ons sal mekaar nooit weer sal sien nie.’  Klink dit nie vir jou soos iemand wat nie die Nuwe Testamentiese hoop verstaan nie?

 

Josef het Farao vir toestemming gevra om sy pa in Kanaän te gaan begrawe. Hy het belowe om terug te keer.  ‘n Menigte het saam met Josef uit Egipte vertrek om Kanaän toe te gaan (waaraan laat dít jou dink?).  Die kinders, beeste, en kleinvee het agtergebly.  Iémand moes die diere oppas.  Verder was dit ‘n waarborg dat Josef en sy broers sou terugkeer Egipte toe.  Kontrasteer dit met die uittog onder Moses, toe nie één van die Israeliete se kinders of diere in Egipte agtergebly het nie (Eksodus 10:8-11, 24-27, 12:32).  Josef en sy party het nie reguit tot by die begraafplaas in Hebron getrek nie.  Hulle het regs van die Dooie See verbygetrek tot by die Steekdoring-dorsvloer oos van die Jordaan.  Hoekom sou hulle dit doen?  Later sou die Israeliete ook só om trek en die Jordaan oorsteek.  Josef en sy party dít gedoen om oorlog in die suide van Kanaän te voorkom.  Hulle het vir sewe dae gehuil sodat die Kanaäniete kon sien dis ‘n begrafnis en nie ‘n bende nie.  Josef het natuurlik ook gehuil omdat hy na 39 jaar vir die eerste keer die Beloofde Land gesien het.  Die Kanaäniete het die plek Abel-misraim genoem:  ‘die gehuil van Egipte’.

 

Glo jy dis belangrik om voor te berei vir die dood; om seker te maak jy sal in vrede sterf? Hoe doen ‘n mens dit?  Jy moet ‘n Bybelse siening hê van wat gebeur na jy dood is.  Hebreërs 9:27 sê:  ”die mense [is] bestem om een maal te sterwe en daarna die oordeel”.  Is dit moontlik om in vrede te sterf as jy ‘n verkeerde siening van die dood het?  Ja, dit is.  Maar jy sal ‘n verskriklike verrassing kry as jy nie Nirvana bereik of terugkeer as ‘n heilige koei nie.  Dis meer waarskynlik dat ‘n verkeerde verstaan van die dood sal maak dat jy vreesbevange is op jou sterfbed.  Hoe moet dit wees om te glo jy gaan uitgewis word, in die vagevuur brand, of vir duisende jare ‘n sieleslaap moet deurmaak?

 

Om in vrede te sterf moet jy ‘n regte verstaan van God se vereistes hê om hemel toe te gaan. Hoe kan jy in vrede sterf as jy onseker is hiervan?  Wat is God se vereistes?  Jy moet geen sonde op jou rekord hê nie.  Dit help nie jou goeie dade is meer as jou slegte dade nie.  God vereis ‘n perfekte rekord van geregtigheid (Matteus 5:48, Galasiërs 3:10).  Jy sal dit nooit regkry deur net harder te probeer nie.  Moenie staatmaak op jou eie onvolmaakte geregtigheid nie.  Vertrou op Jesus se perfekte lewe, kruisdood, en opstanding.  Dan is dit ook belangrik dat jy jou gewete skoon moet hou.  Jesus se kruisdood kan jou gewete reinig.  Bely jou sonde, bekeer jou daarvan, en ontvang sy vergifnis.  As jy met ‘n besoedelde gewete op jou sterfbed lê sal jy nagmerries hê.  Moenie die dood ignoreer in die hoop dat dit sal weggaan nie.  Mary Baker Eddy, die stigter van Christian Science, het gedink dit sou.  Daarom het sy van die dood gepraat as ‘passing away’.  Was sy reg?

 

Berei jouself voor om te sterf. Moet jy hoop om in jou slaap te sterf as jy nie voorbereid is nie?  In sulke gevalle is ‘n uitgerekte sterfbed ‘n genade.  Jý mag dalk nie so gelukkig wees nie.  Vir jou mag die dood skielik kom, en dit terwyl jy onvoorbereid was.  Besef asseblief dat hierdie nie iets is wat jy kan uitstel of waarmee jy kan speel nie.  Ewigheid is op die spel.

 

Josef se dood en begrafnis (50:15-26)

Voor Margaret dood is het sy haar seuns laat belowe dat hulle die helfte van haar geld vir sending sou gee, haar by haar man sou begrawe, en hulle verstandelik-gestremde sussie sou oppas. Hulle het belowe en sy het in vrede gesterf.  Maar sou sy in vrede gesterf het as sy geweet het die regering het ‘n nuwe wet ingebring wat verbied dat twee persone in een graf begrawe word, dat haar seuns nie na hulle sussie omgesien het nie, dat die ekonomie ineen gestort het en sy al haar geld verloor het?  Ja, sy sou, want haar vrede was nie gebou op haar seuns se belofte nie.  Sy het vasgehou aan Gód se belofte van die hemel, ‘n nuwe liggaam wanneer Jesus weer kom, en die vaste hoop dat God sy planne op die aarde sou volbring.  Net so het Josef hom op Gód se getrouheid berus en in vrede gesterf.

 

Sy broers se gewetens het hulle vir 39 jaar gery. Hulle was te bang om self met Josef te praat en het ‘n boodskapper gestuur om namens hulle vergifnis te vra.  Maar het hy nie reeds in hfst.45 gesê dat hy hulle vergewe nie?  Het hy nie tóé reeds gesê dat God in beheer van die hele afvêre was nie?  Het hulle nie reeds in 44:16 hulle sonde erken nie:  “Wat kan ons aan my heer sê?  Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig?  God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind.”?

 

Die broers het weer Josef se drome van hfst.37 vervul en hulle voor hom neergebuig. Hulle het bely dat hulle God se diensknegte was en ook Josef se slawe sou wees.  Josef het gehuil.  Hy was nederig en het duidelik gestel dat hy hom nie in God se plek sou stel nie.  Hy het nie die bose daad van hfst.37 ontken nie, maar het gesê dat God dit vir almal se voordeel uitgewerk het:  “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (50:20, sien Romeine 8:28).  Josef het herhaal wat hy in 45:11, 47:12 gesê het:  “Wees dan nou nie bevrees nie:  ék sal julle en julle kinders onderhou.” (50:21).  So het die Here sy uitverkore volk aan die lewe gehou.  Soos Jesus na hom, het Josef dié wat hom kwaad aangedoen het, vertroos en vergewe (50:21, Lukas 23:34).

 

Josef het gesterf toe hy 110 jaar oud was. Hy was vir 93 jaar in Egipte.  Hy het sy agter-kleinkinders gesien.  So is die beloftes van hfst.48 vervul waar God ‘n groot nageslag vir hom belowe het.  Magir (een van Josef se kleinseuns by Manasse) se kinders is op Josef se knieë gebore (50:23).  Dié Hebreeuse spreekwoord beteken dat Josef hulle as sy eie aangeneem het.  ‘n Vrou wat op iemand se knieë gesit het om geboorte te gee, het daardeur gesê dat dié persoon die kinders aanneem.  Dit mag wees dat die pasgebore kinders op Josef se knieë neergelê is, en dat hy hulle aangeneem het.

 

Op sy sterfbed het Josef geglo dat God die land aan Abraham, Isak, Jakob, en hulle nageslag gegee het. Hy het dus ook geglo dat God die volk uit Egipte sou bring.  “Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente.”(Hebreërs 11:22).  Het dit gebeur soos Josef gesê het?  “En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê:  God sal eindelik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op.” (Eksodus 13:19).  “Ook die gebeente van Josef wat die kinders van Israel uit Egipte saamgebring het, het hulle begrawe in Sigem, op die stuk grond wat Jakob van die kinders van Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke gekoop het, en wat die kinders van Josef as erfdeel ontvang het.” (Josua 24:32).

 

Josef het nie die Nuwe Testament gehad nie. Ons het.  Behoort ons dan nie groter hoop te hê as wat Josef gehad het nie?  Ons hoop nie net dat ons kis na die Beloofde Land oorgeplaas sal word nie.  Ons hoop dat ons liggame eendag uit die dood sal opstaan.

 

[1] Ons liggame sal onmiddellik verheerlik word wanneer Jesus terugkeer en ons uit die dood opwek: “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” (1 Korintiërs 15:52).

 

[2] God sal nie ‘n hele nuwe jý maak nie. Dieselfde liggaam wat begrawe is sal opgewek en verheerlik word.  Hoe weet ons dit?

 

  • Uit die saadjie wat geplant is groei die boom; uit die mens wat in die grond geplant is kom die nuwe jý: “Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.” (1 Korintiërs 15:35-37).
  • Toe Jesus dood is het dieselfde liggaam wat begrawe is weer uit die dood uit opgestaan.
  • Job het gesê: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë—en geen vreemde nie—sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.” (Job 19:25-27). Moet asseblief nie vir Job sê: ‘Jammer vriend. Jou liggaam wat nóú so siek en vol swere is sal nooit opgewek word nie.’ Met sulke woorde is jy net soos sy vriende: jou teologie is skeef en jy bied vir hom geen troos nie.

 

[3] Jou verheerlikte liggaam sal sterk, jonk, en gesond wees. Jou gesig sal 10 000 keer meer blink as iemand wat vir maande siek was, weer gesond word, kleur kry, en perdfris voel.  Jy sal nie meer moeg en uitgeput raak nie.  C.S. Lewis beskryf dit treffend:  ‘Everyone else began to run, and they found, to their astonishment, that they could keep up with him [Aslan, die leeu]:  not only the dogs and the humans but even fat little Puzzle [die donkie] and short-legged Poggin the Dwarf.  The air flew in their faces as if they were driving fast in a car without a windscreen.  The country flew past as if they were seeing it from the windows of an express train.  Faster and faster they raced, but no one got hot or tired or out of breath.’[5]  Ons nuwe liggame word nie deur vleeslike begeertes beheer nie, maar deur die Heilige Gees.  En dan weet ons natuurlik dat dit onsterflik is.  “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.  ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek.  Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.” (1 Korintiërs 15:42-44).

 

As jy soos Tukkies se teologie professors glo dat die dooies nie opgewek word nie, dan wen die dood. Jy kan onmoontlik in vrede sterf.  Sonder die opstanding is Christenskap hopeloos en kan dit nie bestaan nie.  “As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.  En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.” (1 Korintiërs 15:13-18).

 

Genesis begin sonder die dood in die Tuin van Eden. Dit eindig met Jakob en Josef wat sterf – weg van die Beloofde Land af.  Tog het hulle ‘n hoop gehad dat hulle in die land begrawe sou word.  En ons het ‘n groter hoop as dit.

 

[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides; The Banner of Truth Trust; EDINBURGH; 1965, 2007; pp.47-48

[2] Ibid, pp.43-44

[3] Ibid, p.44

[4] Fausset; A.R.; Fausset’s Bible Dictionary; e-sword Bybelprogram; inskrywing ‘Embalm’.

[5] The Chronicles of Narnia: The Last Battle; Harper-Collins Publishers; NEW YORK; 1956; p.760

Beskerming vir pelgrims

Pilgrim's Progress

Het jy al The Pilgrim’s Progress van John Bunyan gelees?  Die boek gaan oor ‘n man wat sy rug op die Stad van Verwoesting draai en na die Hemelse Stad toe vlug.  Oppad kom hy baie gevare teë:  Berg Sinaï, die Moedverloor Moeras, Apollion, die Dal van Doodskaduwee, die Vallei van Vernedering, leeus, Ydelheidskermis, Reus Wanhoop, ongelowiges, skynheilige en vals Christene, die Rivier van die Dood, en meer.  Die Here het hom egter teen al hierdie gevare beskerm.  Is jy ‘n pelgrim wat oppad is na die Hemelse Stad?  Watse gevare is daar op jou pad?  Die Here sal jou teen al hierdie gevare beskerm.  Mag Psalm 121 jou gerusstel.

 

1 ‘n Bedevaartslied.

Ek slaan my oë op na die berge:

waar sal my hulp vandaan kom?

2 My hulp is van die HERE

wat hemel en aarde gemaak het.

3 Hy kan jou voet nie laat wankel nie;

jou Bewaarder kan nie sluimer nie.

4 Kyk, die Bewaarder van Israel

sluimer of slaap nie.

5 Die HERE is jou Bewaarder;

die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.

6 Die son sal jou bedags nie steek nie,

die maan ook nie by nag nie.

7 Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil;

jou siel sal Hy bewaar.

8 Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar,

van nou af tot in ewigheid.

 

Wie sal ons beskerm? (v.1-2)

Onthou jy die TV program ‘Highlander’? Die karakter se naam was Duncan Macleod.  Hy is 400 jaar tevore in die Skotse hoogland gebore.  Hy was onsterflik.  Wel, byna.  ‘n Koël, kar of meswond kon hom nie doodmaak nie.  Maar hy kon doodgaan as sy kop met ‘n swaard afgekap word.  En sommige van sy vyande het dit geweet.  Daarom het hy dikwels by kerke en begraafplase – ‘heilige grond’ – rondgehang.  Dáár was sy kop veilig.

 

Kan God net sy kinders beskerm by die tempel of op ander ‘heilige grond’? Die psalmis was van sy huis af oppad Jerusalem toe vir een van die jaarlikse Feeste (daarom noem v.1 dié Psalm ‘n bedevaarts- of pelgrimslied).  Om te reis was gevaarlik.  Rowers en wilde diere kon jou doodmaak (23:4, Esra 8:21-23, Lukas 10:30).  Wie sou hom beskerm?

 

Die tempel was op ‘n berg gebou (daarom praat sommige Engelse vertalings van dié Psalm as ‘A Song of Ascents’).  Soos wat hy nader gekom het, sou hy die berg sien en vra:  “Ek slaan my oë op na die berge:  waar sal my hulp vandaan kom?” (v.1).  Hoe sou Duncan Macleod dié vraag antwoord?  ‘Sodra ek by die tempel aankom sal ek op heilige grond wees en kan die vyand my geen skade aandoen nie.’  Was dit die Psalmis se antwoord?  “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.” (v.2).

 

Jahwe is geen berggod wat tot ‘n berg of tempel op ‘n berg beperk is nie. Toe Israel afgode gedien het, het die Here gesê:  “Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil.” (Jeremia 3:23).  Jare voor dit het Sirië op die berge teen Israel geveg en verloor.  Wat was hulle slotsom?  “Hulle gode is berggode; daarom was hulle vir ons te sterk; maar as ons met hulle op die vlakte veg, sal ons sekerlik sterker wees as hulle.” (1 Konings 20:23).  Hulle het gou geleer dat hulle verkeerd was; dat Israel se God hemel en aarde besit.  Hy kan op enige plek sy volk beskerm.

 

Moenie van Jesus ‘n berggod maak wat jou net op sekere plekke en in sekere omstandighede kan beskerm nie. Kan God jou in die aand beskerm as jou huis se alarm gebreek het?  Die hekslot van die huis waar ons onlangs vakansie gehou het kon nie sluit nie.  Die eerste dag of twee was ek angstig, totdat ek die beginsel in Psalm 127:1 ter harte geneem het:  “as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.”  Kan die Here jou toekoms beskerm as jy jou pensioenfonds verloor het?  Is jy onder die Here se beskerming as jou man oorsee is vir besigheid en jy alleen by die huis is met die kinders?  Kan Hy jou maat en kinders beskerm as jy doodgaan en hulle alleen agterbly?  Kan Hy jou veilig hou as versoeking en beproewing soos bomme om jou val?  Ons moenie bang wees nie.  Vrees sal jou lamlê.  Nee, dis erger:  dit verneder God tot die status van ‘n berggod wat ons net op sekere plekke en tye kan beskerm.

 

Hoe sal Hy ons beskerm? (v.3-4)

In 2011 het ek en my vrou deur die nag Kaapstad toe gery. Terwyl sy bestuur het, het ek geslaap en andersom.  Ek kon rustig slaap omdat ek geweet het sy is agter die wiel.

 

God is altyd wakker. Hy slaap nooit nie.  Omdat dít so is sal Hy toesien dat sy pelgrim nie ‘n voet swik op die los klippe in die woestyn nie:  “Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.” (v.3).  “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.  Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.” (91:11-12).  Het dit al vir jou gevoel of die hemel stil is wanneer jy bid; of die Here slaap?  “Ontwaak!  Waarom slaap U, Here?  Word tog wakker!  Verstoot nie vir ewig nie!” (44:24).  Moenie bang wees nie:  dit lýk net of Hy slaap, maar Hy is wakker:  “Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (v.4).[1]  Hy is nie ‘n afgod wat (vir ewig!) slaap nie:  “En hulle [die Baälpriesters] het… die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê:  o Baäl, gee ons antwoord!  Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie.  En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.  En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê:  Roep hard; hy is mos ‘n god!  Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.” (1 Konings 18:26-27).  Raak God ooit moeg of uitgeput?  “‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie” (Jesaja 40:28).  Sal jy rustiger slaap as jy weet dat God nooit slaap nie; dat Hý oor jou waak?

 

Moenie lewe asof God slaap en onbewus is van jou probleme nie. Moenie wakker lê oor jou kinders, werk, toekoms, geld, en veiligheid nie.  Laat God toe om God te wees.  Werp jou sorge op Hom (1 Petrus 5:7) en slaap rustig.  Sal jou probleme verdwyn omdat jy angstig is en wakker lê?  Kan die Here jou probleme wegvat?

 

Waarteen sal Hy ons beskerm? (v.5-6)

‘n Mens kry sonsteek as jy vir lang tye in die warm son is. Jou liggaam word te warm en kan homself nie afkoel nie.  Dit oorverhit tot 40.6˚C. Dis nie ‘n gewone koors wat deur inflammasie of infeksie veroorsaak word nie.  Sonsteek kan dodelik wees.  Jou liggaam begin verskriklik sweet en hou dan ewe skielik op.  Jy dehidreer en jou vel raak droog.  Jy voel duislig en naar.  Jy kry hoofpyne en stuiptrekkings.  Jou hart klop baie vinnig.  Jou spiere kramp.  Jy is verward en hallusineer.  Hou dít in gedagte wanneer jy v.5-6 lees:

 

“Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.”

 

Die gemiddelde soldaat het ‘n skild in sy linkerhand gehad. Sy regterkant was onbeskerm.  Dit is wat die psalmis in v.5 bedoel:  “die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.”  Onthou ook dat groot dele van Israel woestyn is.  Om vir ure in die bloedige son te loop is gevaarlik (sien Jona 4:8).  Daarom sê hy:  “die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.  Die son sal jou bedags nie steek nie”  Die psalmskrywer onthou seker ook hoe die wolkkolom die volk oorskadu het toe hulle deur die woestyn getrek het:  “Hy het ‘n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.” (105:39).

 

Wat bedoel die psalmis as hy sê dat die maan jou snags nie sal steek nie (v.6)? Ons weet nie presies watse effek die maan op mense het nie.  Party glo dat mal mense deur die maan geaffekteer is (vandaar die Engelse term ‘lunatics’).  Dit mag wees dat v.6 eenvoudig beteken:  ‘Die Here sal jou teen alle gevare van die dag en die nag beskerm.’  Só sê Psalm 91:5-6 dit:  “Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!”  Onthou ook dat baie mense in dié tyd geglo het dat die son en maan gode is.  Die psalmis sê dus:  ‘Jahwe is die enigste God.  Jy hoef nie bang te wees vir afgode nie.  Die Here sal jou beskerm.’

 

Is God nogsteeds die skaduwee aan ons regterhand? Hoor die Woord van die Here:

 

  • “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” (91:1).
  • “Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees. En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en oevlug teen die stortbui en die reën.” (Jesaja 4:5-6).
  • “En elkeen sal wees soos ‘n toevlug teen die wind en ‘n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ‘n dor streek, soos die skaduwee van ‘n swaar rots in ‘n land wat versmag.” (Jesaja 32:2).
  • “Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” (Openbaring 7:15-16). Kontrasteer dit met 16:8: “En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.”

 

Die enigste manier hoe jy in God se skaduwee kan skuil is deur geloof in Jesus. Is geloof net om die feite van die evangelie te glo:  ‘Jesus is God en het mens geword; Hy was sondeloos in sy lewe, maar het die straf van sondaars op Homself geneem in sy kruisdood; Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan’?  Geloof is nie minder as dit nie, maar dis verseker meer as dit (sien Jakobus 2:19).  Geloof is om onder Jesus se ‘vlerke’ te skuil, sodat die roofvoël van God se oordeel jou nie sien nie (Matteus 23:37).  In Alec Motyer se woorde:  ‘The only way to flee from God is to flee to Him.’

 

Wanneer sal Hy ons beskerm? (v.7-8)

John Witherspoon het vir jare elke dag te perd van sy huis in Rock Hill na New Jersey College se kampus toe gery. Een dag het ‘n kollega in sy kantoor in gestorm:  ‘Dr. Witherspoon, dr. Witherspoon!  Ek wil jou vertel van die Here se verstommende beskerming!  Ek was oppad tussen Rock Hill en die kampus.  My perdekar het omgeslaan en is teen die rotse verpletter!  Ek het nie ‘n skrapie opgedoen nie!’  Dr. Witherspoon het nie ‘n oog gewink nie, maar gesê:  ‘Laat ek jou iets méér verstommend vertel.  Ek het al honderde kere op daardie pad gery.  My perdekar het nog nooit omgeslaan nie; dis nog nooit teen die rotse verpletter nie.  Die Here het my nog élke keer beskerm.’

 

Beskerm die Here ons net as ons na ons asem hyg, hoendervleis kry, en dit naelskraap was? Die Here het sy pelgrim bewaar teen wilde diere, rowers, elke onheil, en selfs teen die dood:  “Die HERE sal jou bewaar vir [teen] elke onheil; jou siel [lewe] sal Hy bewaar.” (v.7).  “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie… Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.” (91:10, 13).

 

Wat bedoel die psalmis as hy in v.8 sê: “Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar”?  Dié frase word gebruik van soldate wat uitgaan om te veg en dan terugkeer huistoe; van mense wat soos skape uitgaan weiveld toe en in die aand terugkeer na die kraal toe (2 Samuel 5:2, Numeri 27:17).  Die Here sal sy weermag teen die vyand beskerm, sy skape veilig hou teen wolwe.  Aan dié wat Hom gehoorsaam sê Hy:  “Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.” (Deuteronomium 28:6).  God sal jou nie net in dié lewe bewaar nie, maar “van nou af tot in ewigheid.” (v.8).

 

Hoe moet jy hierop reageer? Glo hierdie leerstelling.  Moenie twyfel dat die Here jou tot die einde toe en vir ewig sal bewaar nie.  Die duiwel sal jou nie steel nie.  Jy sal nie jou redding verloor nie.  Die Bybel sê:

 

  • “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.” (Johannes 10:28-29).
  • “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Romeine 8:38-39).
  • “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).
  • “En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan.” (2 Timoteus 4:18).
  • “Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

 

Beteken hierdie leerstelling jy kan geestelik lui wees en sondig soos jy wil? Sal jy nie in elk geval veilig in die hemel aanland nie?  Dalk nie.  Moet dit nie vanselfsprekend aanvaar nie.  Jy móét aanhou om die evangelie te glo en onder Jesus se vlerke te skuil.  Moenie ophou bid dat God jou teen die bose sal bewaar nie (Matteus 6:13).  ‘Eens-gered-altyd-gered’ moet in balans gebring word met “wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 10:22).  God bewaar jou deurdat jy glo:  “‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis… wat in die hemele bewaar is vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof…” (1 Petrus 1:4-5).

 

Hoe het Pelgrimsrus sy naam gekry? In die 1872 het Alec Patterson spoelgoud hier ontdek.  Van oraloor het prospekteerders daarheen gestroom.  Soos wat die myners aangekom het, het die nuwe inwoners vir mekaar gesê:  ‘Another pilgrim has come to rest.’  In 1972 het Pelgrimsrus ‘n spookdorp geword.  Later het die regering dit herstel en tot ‘n lewende museum verklaar.  Jy het ‘n beter erfenis as spoelgoud:  ‘n ewige stad wat nooit ‘n spookdorp of museum sal word nie.  Die Here sal jou beskerm tot jy daar kom.  Dan sal die psalmis en ander gelowiges wat reeds daar is sê:  ‘Another pilgrim has come to rest.’

 

[1] Maar wat van Jesus: volgens Matteus 8:24 het Hy in die boot aan die slaap geraak?  Dié vers sê nie vir ons dat Hy nie God is nie, maar dat Hy volkome mens is.  Vir die tydjie wat Hy op aarde was het Hy die onafhanklike gebruik van sy Goddelike eienskappe prysgegee (Filippense 2:6-7).