Hoe om mense vir Jesus te vang

Bass and lure

Het jy al ooit visgevang?  In Desember ‘97 het ek vir die eerste keer by die see gaan hengel.  Voor dit het ek al paar keer in riviere en damme vis gevang.  ‘Maar om by die see te vang is heeltemal anders,’ het my vriend my verseker.  Hy het vir my die regte stokke, lyn, hoeke, en sinkers gegee.  Ek is aangesê om die aas met gare en karton aan die hoek vasmaak.  Ek het geleer dat ‘n lyn wat effens beweeg nie ‘n vis is nie, maar golwe.  My lyn hét ‘n bietjie beweeg.  En nóg ‘n bietjie, en ‘n bietjie, en ‘n bietjie… totdat die aas skoon van my hoek afgeëet is.  Ek het niks gevang nie en geleer:  ‘Om vis te vang is ‘n kuns.’

 

Is dit nie maar dieselfde as jy mense vir Jesus wil vang nie?  Om ‘n visser van mense te wees is ‘n kuns.  In Handelinge 21:37-22:22 wys Paulus vir ons hoe dit gedoen word.

 

Gebruik hulle taal

Hoe voel jy as iemand van ‘n ander land ‘n bietjie Afrikaans kan praat?  Of as so iemand Afrikaans vlót kan praat?  Ons huishulp was baie beïndruk met ‘n blanke man wat wat Zoeloe gepraat het soos ‘n swart man.  Ek ken ‘n predikant wat baie goed Xhosa praat.  Toe ek een keer saam met hom by MAKRO was en hy Xhosa praat, het kassiere van oor tot oor geglimlag.  Daar is ‘n swart man wat al ‘n paar kere ons kerk besoek het.  Hy het my onlangs gebel en gesê:  ‘Goeie môre leraar.  Ek bel om te sê dat ek baie aan jou dink.  Ek is dankbaar dat God altyd by my is.  Groet die gemeente.’  Sy Afrikaans het my beïndruk.  Wyle dr. Martin Holdt het ‘n paar Zoeloe woorde geleer om die evangelie beter te deel.  Sy pogings het ‘n wêreldse verskil gemaak.

 

Het jy al gesien hoe mense se respek verdubbel as jy nie net die taal van hulle tong nie, maar die taal van hulle hart ken; as jy hulle kultuur, gebruike, en ‘slang’ ken?  Ons het ‘n Amerikaanse vrou in ons kerk.  Sy verstaan Afrikaans en praat ook redelik goed.  Mense in ons kerk is mal daaroor om te hoor dat sy Afrikaanse musiek konserte bywoon.  Het Paulus nie presies dít gedoen nie:  die taal van mense se tonge én harte gepraat?

 

19 Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. 20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. 21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; 22 vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. 23 En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.” (1 Korintiërs 9).

 

Let op hoe Paulus hierdie verse in Handelinge 22 toegepas het.

 

In Handelinge 21:27-36 was daar ‘n opstand onder die skare.  Hulle het gedink dat Paulus ‘n Griek in die tempel ingebring het.  So iets was strafbaar met die dood.  As gevolg van die skare se geweld moes die soldate Paulus na die Antoinia Fort toe dra.  Paulus het Grieks gebruik toe hy met die kommandant praat (21:37).  Hoekom was die kommandant so verbaas?  Was dit dalk omdat Grieks ‘n klassieke taal was, en hy gedink het Paulus is ‘n ongeleerde misdadiger?  Volgens die Joodse geskiedkundige, Josefus, was daar ‘n Egiptiese vals profeet wat met sy soldate op die Olyfberg gesit en oor Jerusalem uitgekyk het.  ‘As ek die bevel gee sal die stad se mure platval.  Dan sal ons die stad binnestorm en die Romeine uitdryf.’  Hy het 4000 rowers in die woestyn ingelei.  Die Griekse woord vir rowers [sikarioi] beteken letterlik ‘dolk manne’.  Hulle was sluipmoordenaars wat kort messe [dolke] in hulle klere gedra het.  Waar mense in massas bymekaar gekom het, sou hulle Romeine of dié Jode hulle goed gesind was, doodsteek.  Goewerneur Felix het Romeinse troepe gelei om teen hulle geveg.  Talle rowers is doodgemaak en ander is gevang.  Hulle leier het egter weggekom.

 

Die kommandant het seker gedink dat Paulus hierdie vals profeet was, en dat die skare hom vasgetrek het.  Paulus het dit ontken:  “Ek is ‘n Joodse man van Tarsus, ‘n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.” (21:39).  Hoekom was Tarsus so belangrik?  Tarsus was lojaal en Julius Caesar het hulle hiervoor beloon.  Keiser Augustus het Tarsus tot ‘n vry stad verklaar.  Hulle het nie belasting betaal nie en het hulle eie wette gehad.  Paulus het dus slim gewerk en in meer as een sin die kommandant se ‘taal’ gepraat.  So het hy toestemming gekry om met die skare te praat.  Hoekom het hy op die Fort se trappe gaan staan?  Hy wou gesien en gehoor word.  Hy het die skare in Hebreeus (Aramees) toegespreek.  Toe die mense hulle eie taal hoor, was hulle tjoepstil.  Baie van dit wat Paulus gesê het was hulle hartstaal:

 

  • ‘Broeders en vaders’ (22:1).
  • ‘Ek is ‘n Jood’ (22:3).
  • ‘Ek is gebore in Tarsus, maar opgelei in Jerusalem’ (22:3).
  • ‘Ek het onderrig ontvang aan die voete van Gamaliel’ (22:3). Gamaliel was die kleinseun van die bekende Rabbi Hillel. Hy het bekend gestaan as die ‘heerlikheid van die wet’ en ‘ons meester’. Lukas het hom reeds in hfst. 5 in ‘n goeie lig geplaas.
  • ‘Ek is opgevoed volgens die streng wyse van die wet van ons vaders’ (22:3). Paulus was ‘n Fariseër (26:5, Filippense 3:5).
  • ‘Ek was ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is’ (22:3).
  • ‘Ananias was ‘n baie vroom man volgens die wet. Die Jode in Damaskus het goeie dinge van hom te sê gehad. Hý het vir my kom bid’ (22:12-13).
  • ‘Die God van ons vaders’ (22:14).
  • ‘God het my voorbeskik om sy wil te ken’ (22:14).
  • ‘God het my voorbeskik om die Regverdige te sien’ (22:14). In die Ou Testament verwys ‘die Regverdige’ na God en sy Messias (Jesaja 53:11, Spreuke 21:12).

 

Wil jy mense vir Jesus vang?  Sal dit nie wys wees om soos Paulus, met mense in hulle eie ‘taal’ te praat nie?  Hoe kan jy dit regkry?

 

[1] Jy moet seker maak jy weet hoe om die evangelie op ‘n eenvoudige wyse met mense te deel.  God is heilig en haat sonde.  Waar God sonde sien sal Hy dit straf.  Jy is ‘n sondaar wat vir jouself lewe en teen Hom rebelleer.  Jou gewete sê vir jou dat jy sy heilige wet geminag het.  Christus is die ewige God en het mens geword om sondaars te red.  Ons móés die wet perfek onderhou, maar het nie.  Jesus het dit in ons plek kom doen.  Ons verdien God se straf vir ons sonde.  Deur sy kruisdood het Jesus óns straf ontvang.  Hy is begrawe en het op die derde dag liggaamlik opgestaan uit die dood.  God beveel jou om hierop te reageer:  jy moet jou sonde haat, berou hê daaroor, en ophou daarmee; jy moet op Jesus vertrou om jou van jou sonde te red.

 

[2] Wil jy met mense van ‘n ander kultuur werk?  Leer hulle gebruike en taal.  Leer byvoorbeeld hoe om iemand in Zoeloe te groet.  Leer hoe om in hulle kultuur respek te betoon:  kyk af, buig effens, en skud hand soos húlle dit doen.

 

[3] Gaan jy meestal met Afrikaners die evangelie deel?  Praat hulle ‘taal’.  Kan jy aanneem dat die ouer, kerkgaande geslag die evangelie ken?  ‘n ‘Kerkvrou’ het my in die week kom sien.  Sy is al vir jare in die kerk, besit ‘n Bybel, maar het nie die vaagste idee van die evangelie nie.  Kan jy aanneem dat die jonger, kerklose geslag ‘n basiese Bybel agtergrond het?  Toe ek in Nelspruit bedien het was daar jongmense wat gedink het Josef se boeties het hom in ‘n leeukuil gegooi.  Hoeveel Afrikaners weet van Jesus se kruisdood, maar weet nie wat dit beteken nie?  Jy moet dit vir hulle verduidelik:  ‘Ons verdien om gestraf te word vir ons sonde, maar Jesus het ons straf op Homself geneem.’

 

[4] Om mense se ‘taal’ te praat, sal jy terme soos geregtigheid, toorn, geloof, bekeer, bely, versoening, regverdigmaking, weergeboorte moet verduidelik.  Beteken dit jy moet die evangelie afwater?  Of beteken dit jy moet gewone Afrikaans praat en illustrasies gebruik om die evangelie te verduidelik?

 

Hoekom is dit belangrik om mense se ‘taal’ te praat?  Kan iemand ‘n Christen word omdat hy ‘n helder lig in ‘n droom gesien het; omdat die sagte musiek haar tot trane gedryf het; omdat sy die Gees ‘gevoel’ het toe almal gelyk in tale praat?  ‘n Mens kan nie die evangelie absorbeer nie.  Jy moet dit verstaan.  Kan jy dit verstaan as dit in moeilike woorde (taal) oorgedra word – al is dit ook akkuraat?

 

Gebruik jou getuienis

Ek het die Bybel op ‘n jong ouderdom leer ken.  Ek het geweet dat Jesus God is, dat Hy aan die kruis gesterf het vir ons sondes, en dat Hy weer opgestaan het op die derde dag.  Ek het ook vroeë herinneringe van my sonde.  Ek het ‘n obsessiewe self-liefde gehad.  Ek het my sussie geslaan, gelieg, gevloek, mense gevrees en probeer om hulle te beïndruk.  Ek het selfs pornografie gekyk toe ek 8 was.  Toe ek 8 was het ek een aand in die bed gelê en huil, omdat ek bang was vir die hel.  My ma het my getroos.  Op 9 het ek by ‘n Sondagskool kamp gereageer op die uitnodiging.  Ek het die Here ‘aangeneem’.  Maar dit was ‘n vals bekering.  Hoe weet ek dit?  Ek het glad nie verander nie.  Ek het nóg sondes op my ou hoop gelaai.  Ek was hoogmoedig, het verkeerd gedoen om guns te wen, twee keer in ‘n toets gekul, arm en lelike kinders gespot, slegte vriende gehad, baklei, gesteel, en meer.  Ek het by bidure gebid, sodat mense van my sou hou.  Ek het my sonde aan mense bely om goed te voel.

 

Toe kom daar ‘n verandering.  Op 13 het die Here ‘n preek gebruik om my van my sonde te oortuig.  Ek het huistoe gegaan, by my bed gekniel, en die Here gesmeek om my te red en vergewe.  Ek die volgende dag vir my pa vertel.  Die volgende jaar is ek gedoop.  My liefde vir die kerk het toegeneem.  Die liefde, waarheid, eenheid, geestelike gesondheid, gemeenskap, dissipline, gebed, lofprysing, getuienisse, en leierskap het my diep beïndruk.  Ek het my Bybel gelees en gebid.  Met die verloop van jare het ek ‘n beter begrip van die evangelie gekry.

 

Dit is mý persoonlike getuienis.  In Handelinge 22 gee Paulus sýne.  Hoe het sy lewe gelyk voor sy bekering?  Hy was baie ywerig vir God; soveel so dat hy ‘die Weg’ (Christene) vervolg het.  Die hoëpriester en Joodse Raad kon getuig dat dit so is.  Hy het selfs buiteland toe gereis om Christene te vervolg.  Maar ten spyte van sy ywer, was hy ongered.  Wat!?  Is dit moontlik om ywerig te wees, sonder om gered te wees?

 

  • “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.” (Johannes 16:2).
  • “Want ek getuig van hulle [die Jode] dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.” (Romeine 10:2).
  • “wat ywer betref, [was ek] ‘n vervolger van die gemeente” (Filippense 3:6).

 

Dis wat Paulus wás.  Hoe het hy verander?  Hy was oppad Damaskus toe.  Skielik het daar ‘n helder lig uit die hemel geskyn.  In vergelyking het die son soos ‘n kers gebrand.  Dit was Jesus wat aan Paulus verskyn het.  Paulus het besef dat Jesus regtig uit die dood uit opgestaan het.  Nou het hy verstaan dat Jesus verhewe en verheerlik is, dat Hy kragtig is.  Het hy geweet Jesus is God?  Natuurlik.  Hoe anders het Hy Paulus se naam geken?  Paulus het geweet Jesus is die Regverdige, die Messias.  Hy het erken dat Jesus die Here is:  “Wat moet ek doen, Here?” (22:10).  Hy het geweet Jesus is nogsteeds ‘n mens.  Hoe weet ons dit?  Jesus praat van Homself as ‘Jesus van Nasaret’ (22:8).  Hy het geweet Jesus is die Verlosser van sondaars, want Jesus beteken ‘Jahwe verlos’ (Matteus 1:21).  Hy het geweet Jesus is die Hoof van die kerk, en as jy die kerk vervolg, vervolg jy Hóm:  ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ (22:7).  Hoe sou Paulus geweet het Hy is soewerein?  Het Hy nie take vir Paulus voorbeskik nie (22:10, 14)?

 

Die mense wat saam gereis het, kon bevestig dat Paulus regtig ‘n lig gesien en ‘n stem gehoor het; dat hy vir drie dae blind was.  Ananias kon bevestig dat dit Jesus se stem was.  Het Jesus nie met hom ook gepraat nie (22:14)?

 

Wat het ná Paulus se bekering gebeur?  Sy sonde is weggewas toe hy die Here se Naam aangeroep het.  Hy is gedoop om dit uit te beeld (22:16, 2:38).  Paulus, wat eens ‘n vervolger van die kerk was, is verander in ‘n Christen, apostel, ooggetuie, en kragtige evangelie-prediker (22:15).  “Is ek nie ‘n apostel nie?  Is ek nie vry nie?  Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie?  Is julle nie my werk in die Here nie?” (1 Korintiërs 9:1).

 

Was die Jode se aantyging in 21:21 (dat Paulus hulle gebruike wou verander) waar?  Glad nie.  Drie jaar ná sy bekering (Galasiërs 1:17-18) het Paulus tempel toe gegaan om te bid (22:17).  Jesus het vir Paulus gesê dat Jode nie die evangelie sou aanvaar nie.  Hy was egter oortuig dat sy ondervinding, ywer, en vervolging van die kerk hom die perfekte kandidaat gemaak het om die evangelie aan die Jode te verkondig.  Maar Jesus het hom weggestuur na die heidene toe.  Húlle sou luister.  Wat het die Jode gedoen toe hulle dít hoor?  Hulle was woedend.  “Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!,” het hulle uitgeroep (22:22, cf. Lukas 23:18).  Hulle het hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi (7:58, 2 Samuel 16:13).  Hoekom het hulle dit gedoen?  Die idee dat ‘n heiden gered kon word sonder om eers ‘n Jood te word, was belaglik.  Die Jode was jaloers dat God guns aan die heidene bewys het.  Hulle wou vir Paulus “verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word” (1 Tessalonisense 2:16).  Het Paulus aanstoot gegee?  Of het die Jode aanstoot geneem?

 

Wil jy weet hoe om, soos Paulus, jou getuienis met wysheid te deel?

 

[1] Maak seker jy hét ‘n ware getuienis van redding.  Om lidmaat van ons gemeente te wees móét jy gered wees.  Maar party mense wat aansoek doen het nie ‘n getuienis van redding nie.  Beteken dit jy moet ‘n spesifieke dag en datum van bekering kan gee?  Nee.  Maar jy móét weet jy was verlore en is nie meer dieselfde nie:  “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (2 Korintiërs 5:17).  In John Newton se woorde:  ‘I am not what I want to be.  I am not what I ought to be.  I am not what I will be.  But I am not what I was.’

 

[2] Jy moet ‘n goeie begrip hê van wat bekering is:  Jy het besef wie Jesus is en wat Hy aan die kruis gedoen het.  Jy het besef jy kan nie jóúself ‘n Christen maak nie; net Hý kan (Handelinge 22, Johannes 1:12-13).  Jy het gesien hoe lelik jou sonde is.  Dit het jou hartseer gemaak.  Jy het by die Here gepleit vir genade.  Hy het jou vergewe.  Jy het Hom geprys.  Jy het ‘n begeerte gekry om Hom te ken, sy Woord te gehoorsaam, en saam met gelowiges te wees.

 

[3] Vind ‘n balans tussen wat jy was, wat met jou gebeur het, en wat jy nou is.

 

  • As jy vertel wat jy was, kan mense sien hoe goed en sterk Jesus is om slegte sondaars te red (1 Timoteus 1:12-16). Maar het jy al getuienisse gehoor waar mense byna nét vertel hoe sleg hulle was? Hoekom is dit gevaarlik? Want dit fokus op die sondaar en nie op Jesus nie; op sonde en nie op sy kruisdood nie.
  • As jy van jou bekering vertel sien mense dat die evangelie wonderlik en relevant is. Maar wat sal gebeur as jy nét van jou bekering praat en niks van jou verlede sê nie? Mense sal die idee kry dat Jesus mense red wat ‘okay’ is.
  • As jy deel hoe Jesus jou verander het, sal mense verstaan dat bekering nie net ‘n status verandering is nie, maar dat jy van binne af nuut word. Hoekom sal dit nie werk om nét daarop te fokus nie; om nie ook te vertel van jou bekering en van wat jy was nie? As jy dít doen sal mense dink jy ‘n Christen word deur beter te lewe.

 

Dis nie maklik om teen iemand se persoonlike getuienis te stry nie, is dit?  Veral nie as ‘n paar honderd miljoen mense so ‘n getuienis het nie.

 

Het jy al van John Blanchard gehoor?  Hy is ‘n evangelis in Engeland.  Een Goeie Vrydag het hy gery om by ‘n kerk te gaan preek.  Oppad het ‘n paar jong sokker spelers duim gegooi.  Hy het hulle opgelaai.  In die kar het hy gevra:  ‘Weet julle watse dag is dit?’  ‘Goeie Vrydag,’ het hulle geantwoord.  ‘Weet julle wat op hierdie dag gebeur het?’  ‘Jesus het aan die kruis gesterf,’ was hulle antwoord.  ‘Weet julle hoekom?’  ‘Sodat ons vry kan wees van ons sonde,’ het hulle gesê.  ‘En… is julle?’ het hy gevra.

 

‘n Jaar later het Blanchard by dieselfde kerk gaan preek.  Ná die diens het ‘n jong man vir hom gesê:  ‘Onthou jy my?’  Hy was een van die drie jong seuns wat die vorige jaar in Blanchard se kar gery het.  Wat het met hom gebeur?  Hy het oor Blanchard se vraag gedink en tot bekering gekom.

 

Het jý ‘n persoonlike getuienis.  As jy nóg nie een het nie, hoop ek dat jy ná vanoggend se preek een sal hê.