’n Rotsvaste belofte

Pushing rock

’n Paar weke gelede was ek by die see.  Twee of drie keer het ek op die rotse gaan staan, terwyl die branders 3 meter onder my gewoel het.  Ek was veilig.  God se belofte aan Abraham was rotsvas:  “En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.” (Genesis 12:2).  En so ook is sy belofte aan ons:  “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).  Ja, daar was en is hindernisse wat lyk of dit teen die belofte indruis.  Maar God se beloftes is rotsvas en daarom is ons veilig.

 

Die dood (v.1-7)

In die sestiende eeu het ‘Bloody’ Mary 300 evangeliese Christene verbrand.  Haar plan was om die Protestante uit te roei en Katolisisme in Engeland te vestig.  In 1555 het sy vir Hugh Latimer en Nicholas Ridley saam verbrand.  Latimer het gou gesterf.  Ridley was nie so gelukkig nie.  Aan sy kant was die hout nie so mooi gepak nie.  Sy bene is afgebrand voordat die vuur sy middel bereik het.  Dié aaklige gesig het honderde toeskouers tot trane gedryf.  Mary se wreedheid het die teenoorgestelde effek gehad as dit waarvoor sy gehoop het.  Die volk het Katolisisme met tirranie vereenselwig.  Hulle het Mary se godsdiens gehaat.  Toe sy dood is het ‘n gety van wit-warm, anti-Katolieke vlugtelinge die Engelse kus getref.[1]  Die dood self kon Jesus se belofte nie keer nie.[2]  Ook in Eksodus 1 het die Here se belofte aan Abraham rotsvas gestaan.[3]

 

‘En…’  Hoekom begin Eksodus so?  Moses, die outeur, wil wys dat die boek op Genesis volg.  Die eerste verse van Eksodus is ‘n opsomming van Genesis se laaste hoofstukke:

 

1 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: 2 Ruben, Símeon, Levi en Juda; 3 Issaskar, Sébulon en Benjamin; 4 Dan en Náftali, Gad en Aser. 5 En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele.  Maar Josef was in Egipte. 6 En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.”

 

Hoekom word Jakob se seuns in dié spesifieke volgorde genoem?  Die eerste ses is Lea s’n.  Benjamin is Ragel se seun (Josef was reeds in Egipte).  Die volgende twee is Ragel s’n deur haar slavin, en die laaste twee Lea s’n deur háár slavin.  Altesaam het sewentig mense Egipte toe gekom.  Die jare het verbygegaan.  Josef, sy broers, en daardie hele geslag het uitgesterf.  Maar die dood kon nie die belofte keer nie.  Die familie van 70 het vermeerder tot ‘n magtige nasie van ‘n paar miljoen (Numeri 1:46).  Nou was hulle soos die sterre in die hemel (Genesis 15:5).  Die werkwoorde in v.7 beklemtoon dit:  “Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.”

 

Is die dood in die 21ste eeu anders as in die tyd van Moses en ‘Bloody’ Mary?  Kan dit in 2014 God se belofte keer?  Ons moet God en Christelike leiers in die regte perspektief plaas.  Ons is slawe (1 Korintiërs 3).  God is die Meester.  Daarom sê Jesus:  “wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:10).  Sal die kerk tot niet gaan, omdat die ou steun pilare van jou kerkgroep nie meer daar is nie (in ons geval, die Odendaals, Venters, en Raubenheimers van die ABK)?  Wat van jou gemeente:  sal dit vou as die huidige leraar wegval?  Sal die Christelike wêreld ineenstort as jou gunsteling prediker of outeur sterf (John MacArthur, John Piper…)?  Het die Here se werk opgehou toe Moses dood is?  “En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê:  My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee.” (Josua 1:1-2).

 

Hoekom moet jy nie jou hoop in mense plaas nie?  Want mense vergaan soos gras.  Om jou hoop op ‘n mens te plaas is om hom te aanbid.  Jy sien ‘n mens, en nie vir Jesus en sy belofte nie, as die rotsvaste fondasie waarop jy moet bou.  Maak jy te veel van ‘n predikant of ander Christelike leier, en te min van Jesus en sy rotsvaste belofte?

 

Slawerny (v.8-14)

Lank gelede was daar ‘n boom genaamd ‘Kerk’.  ‘n Stormwind genaamd ‘Wêreld’ het daarteen gewaai.  Dit het takke afgeruk en die boom se blare gestroop.  Maar die saad het versprei.  ‘n Magtige haelstorm genaamd ‘Satan’ het die boom getref en erg beskadig.  Tog het dit die boom verkwik en baie van die dooie takke genaamd ‘Vals Gelowiges’, afgebreek.  God gebruik sy vyande om die kerk te laat groei.  “Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.  En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” (Handelinge 8:3-4).  In Eksodus 1 is dit nie anders nie.

 

Jare nadat Josef dood is het ‘n nuwe Farao het aan bewind gekom.  Hy het nie vir Josef erken of iets gevoel vir sy geliefde volk nie.  Maar hy het hierdie groot volk gevrees.  Hy het alles in sy vermoeë gedoen om oorlog te voorkom, want as hulle teen hom moes opstaan, sou hy dit nie oorleef nie.  En as hulle die land verlaat het, sou die ekonomie in duie gestort het.  Die land was afhanklik van hulle.  Watse afskrikmiddel kon Farao gebruik?  Hy het hulle met dwangarbeid onderdruk en opsigters oor hulle aanstel.  Deur die eeue het God se vyande soos hý gedink:  “Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.  Hulle sê:  Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” (Psalm 83:4-5).

 

Die Israeliete het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.  Pitom is vernoem na die songod van noord-Egipte, en beteken ‘huis van Tum’.  Raämses is na Farao se seun, Rameses vernoem.

 

Farao se plan het nie gewerk nie.  Ten spyte van die onderdrukking het Israel vermeerder.  Die Egiptenare moes ‘n nuwe plan uitdink.  Wat sou dit wees?  Onmenslike slawerny!  Die mans sou min by hulle vroue wees, en ás hulle hul vroue gesien het, sou hulle te moeg gewees het vir seks.  Te moeg vir seks?  ‘n Man!?  Gmf…  Weer het die Egiptenare se plan misluk.

 

Dink Bybels oor vervolging en lyding.  In ons gemaksugtige samelewing is dit nie maklik nie.  Wanneer vervolging en lyding kom wil ons dit so gou as moontlik weg bid:  ‘Here, laat die Moslems in Irak asseblief ophou om die Christene te vervolg… Here, moenie dat die ateïste Christenskap uit ons skole wegvat nie… Here, keer asseblief die EFF om aan bewind te kom.  As húlle die land regeer sal Christene binnekort vervolg word.’  Ons moet leer om éérs te bid:  ‘Here, dankie dat U ook hiérdie vervolging en lyding vir die goeie gaan uitwerk.  Gebruik dit asseblief om ons meer soos Jesus te maak.  Dankie dat U belofte rotsvas staan:  U sal U kerk bou, en die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie.’  As jy dit nié doen nie sal jy in vrees lewe.  Kort voor lank sal jy die wêreld en die duiwel as gelyke opponente teen God beskou.  Jy sal die waarheid van verse soos Psalm 2:4 vergeet:  “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle [sy vyande].”

 

Kindermoord (v.15-22)

Wat doen sonde met jou verstand?  Dit laat jou onderstebo dink – soveel so dat mense hulpelose babas sal doodmaak sonder dat hulle verskroeide gewete kriewel.  In Jeremia 32:35 het die Israeliete hulle kinders vir Molog geoffer.  Koning Hasael van Sirië het Israel se swangervroue oopgesny en die ongebore kinders verpletter (2 Konings 8:12).  In Matteus 2 het Herodes die Grote al die babas in Betlehem geslag.  Oor die inwoners van Carthage sê Plutarch:  ‘[They] offered up their own children, and those who had no children would buy little ones from poor people and cut their throats as if they were…lambs or young birds; meanwhile the mother stood by without a tear or moan.’[4]  China se ‘one child policy’ lei daartoe dat miljoene kinders doodgemaak word.  In die weste word daar elke jaar net soveel ongebore kinders vermoor.  Om ons gewete te sus noem ons dit nie moord nie, maar ‘aborsie’.

 

Vir Farao was dit geen probleem om die Israeliete se seuntjies te vermoor nie.  So kon hy die potensiële bedreiging verwyder.  Hy het die vroedvroue opdrag gegee om die seuntjies dood te maak.  Wanneer hulle die kind gevang het kon hulle net maak of dit ‘n stilgeboorte was.  Niemand sou weet nie.  Wat het die vroedvroue gedoen?  Hulle het God gevrees, want Hý sou weet.  Hulle het gedoen wat elke gelowige in sulke omstandighede behoort doen:

 

  • “deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad.” (Spreuke 16:6).
  • “Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (Daniël 3:16-18).
  • “En Petrus en die apostels antwoord en sê [vir die Joodse Raad]: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Handelinge 5:29).

 

Farao het gou besef dat die vroedvroue nie sy opdrag uitgevoer het nie.  Hy het nie ma’s gehoor huil nie, maar babas.  Hy het die vroedvroue laat roep:  “Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?  En die vroedvroue sê vir Farao:  Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.” (v.18-19).  Moet ons aanneem dat die vroedvroue vir Farao gejok het?  Of het die Here gemaak dat die ma’s gou geboorte gee, sodat Hy die volk vermeerder en die vroedvroue se lewens beskerm het?  God het die vroedvroue beloon deur vir hulle gesinne te gee.  Die Skrif sê mos “dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees” (Prediker 8:12).

 

Farao was woedend.  Wat sou hy volgende doen?  Hy het vir die Egiptenare gesê:  “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.” (v.22).  In Egipte het hulle die Nyl tot ‘n god vereer (Hapi).  Farao se plan het hom nie net teen die Israeliete beskerm nie, maar ook Hapi se guns gewen.  Maar is dit nie ironies dat Jahwe later Egipte se mans in die Rooisee laat verdrink het nie (15:1)?

 

Hoe moet jy reageer op die leerstelling van God se getrouheid?

 

[1] Glo die verse wat daaroor praat.

 

  • “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).
  • “in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2).
  • “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 6:17-18).

 

[2] Glo dit as jy dié vraag antwoord:  Geld Jesus se belofte in Matteus 16:18 vir die vervolgde kerk in Irak; vir die sukkelende kerk in Suid-Afrika; vir jóú klein gemeente?

 

[3] Maak dubbel seker dat die belofte jou insluit.  Is jy deel van die kerk?  Is jy deel van God se volk?  Jy kan dit net wees deur Jesus Christus.  Jy moet glo dat Hy aan die kruis gesterf het vir sondaars en weer opgestaan het uit die dood; dat Hy die ewige God is wat mens geword het.  Jy moet op Hom vertrou en nie op jou eie pogings, godsdiens, of goeie werke nie.  Jy moet jou van jou sonde bekeer en by Hom pleit om jou te vergewe.  Anders kan die belofte mos nie vir jóú geld nie, of hoe?

 

[4] Ten spyte van Farao se sonde het God sy belofte vervul.  Die Nuwe Testament sê:  “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Timoteus 2:13).  Maar beteken dit jy kan sonde doen omdat God getrou is?

 

[5] Moenie hoop verloor as die ergste gebeur nie:  as Farao seuntjies in die Nyl verdrink of ISIS kinders onthoof (v.22).  “How often have men said, ‘This is the end,’ then a revival has come.” (Martyn Lloyd-Jones).

 

God se getrouheid, sy rotsvaste belofte, gee hoop in ons donkerste uur.

 

My beste vriend is groot en sterk.  Toe hy nog groter was het hy eenkeer in Nelspruit vir my kom kuier.  Ons was op ‘n plaas en het ‘n rots ontdek wat omtrent so groot soos ‘n klein kind was.  Drie van ons het probeer om die rots met ons bene teen die helling af te rol.  Selfs met die hulp van my groot vriend was dit nie maklik nie.  God se belofte is ontelbaar keer groter as ‘n klein kind.  Wees gerus.  Niemand sal hiérdie rots skuif nie.

[1] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, B&H Publishing, NASHVILLE, 2009, pp.136-140

[2] Matteus 16:18

[3] Genesis 12:2

[4] Alvin Schmidt, How Christianity changed the world, Zondervan, GRAND RAPIDS, 2001, 2004, p.49