Die wêreld deur Paulus se oë

Earth in eyeball

My swaer bou huise.  Iemand het hom gevra om hulle huis oor te bou.  Hy moes selfs die dak afhaal.  Hy het die ou kappe gevat en pragtige deure vir die TV kabinet gebou.  Klippe wat in die erf opgegrawe is, het hy gebruik om ‘n kaggel mee te bou.  Glo dit of nie, maar uit die ou ‘prefab’ muur het hy ‘n rykmans-kombuis gebou.  Vir ander was dié materiaal bourommel.  Vir hom was dit ‘n geleentheid om iets mooi te maak.  So was Paulus in Handelinge 25-26:  waar ander in ellende sou sink, het hy ‘n geleentheid vir die evangelie gesien.

 

Paulus voor Festus (25:1-22)

Het jy al die storie gehoor van die man wat die evangelie in alles gesien het?  Sy seun was skaam hieroor.  Toe die seun se vriende kom kuier, het hy sy pa se Bybel en Christelike boeke weggevat, en hom met ‘n atlas in die kombuis toegemaak.  ‘Moet asseblief nie uitkom en iets oor die Here sê nie, pa,’ het die seun gevra.  Sy pa het in die kombuis gesit en die atlas deurgeblaai.  Na ‘n rukkie het hy gehoor hoe sy pa uitroep:  ‘Prys die Here!’  Hy het by die deur ingestorm en gevra:  ‘Hoe op aarde sien pa die evangelie in die atlas?’  Sy pa het gesê:  ‘Die Mariana trog in die Atlantiese Oseaan is 11 km diep – God sê in Miga 7:19 dat hy my sonde in die dieptes van die see begrawe het!’  Paulus was so en het alles beskou in verhouding tot die evangelie en evangelisasie.

 

Keiser Nero het vir Festus gestuur om Felix as goewerneur op te volg.  Festus het vir omtrent 10 dae Jerusalem toe gegaan.  Hy wou bekend raak met die provinsie onder sy heerskappy, en meer weet oor Paulus:  wie was hy en hoekom was hy in die tronk?  Terwyl Festus in Jerusalem was, het die Jode gevra hy moet Paulus daarhéén stuur om verhoor te word.  Hulle plan was om hom oppad in te wag en dood te maak.  Festus het nie in hulle strik getrap nie.  Hy was regverdig teenoor Paulus en het gesê dat die Jode hom in Sesarea kon aankla.

 

Hoekom het die Jode na twee jaar (24:27) nog hulle mes ingehad vir Paulus?  Kon hulle hom nie net in vrede los nie?  Paulus het groot ‘skade’ in hulle godsdiens gemaak.  Sy invloed was sigbaar.  Hulle was bitter en wou van hom ontslae raak.  Die Jode het hulle saak gestel, maar kon hulle klag teen Paulus nie bewys.  Paulus het gesê dat hy niks teen die wet van die Jode, die tempel, of die keiser gedoen het nie.  Ten minste twee van die drie klagtes was strafbaar met die dood.  Paulus was bereid om te sterf as hy iets gedoen het om die dood te verdien.  Maar die Jode het geen gronde vir só ‘n klag gehad nie.  Hy wou nie Jerusalem toe gaan om verhoor te word nie.  Hoekom nie?  Hy het geweet dat hy dáár nie ‘n regverdige verhoor sou hê nie.  Daarom het hy sy reg as ‘n Romeinse burger gebruik en tot die keiser geappelleer.  Het hy dit bloot gedoen om regverdig verhoor te word?  Of wou hy in Rome kom om die evangelie te preek (1:8, 9:15, 23:11, Romeine 1:15)?

 

Felix se vrou was Drusilla (24:24).  Sy was die dogter van Herodes Agrippa I wat in hfst.12 dood is.  Agrippa II en Bernice was haar broer en suster.  In dié hoofstuk kom kuier hulle vir Festus.  Dit was bekend in Rome dat dié broer en suster bloedskande gepleeg het.  Bernice het met haar oom getrou.  Toe hý dood is het sy ‘n seksuele verhouding met haar broer, Agrippa II, gehad.  Om mense se monde stil te maak het sy met koning Polemo van Sicilië getrou.  Sy het egter gou van hom geskei om terug te keer na haar broer toe.  Sy het toe ‘n verhouding met keiser Vespasianus gehad, en daarna ook met sy seun Titus.[1]

 

Dís die Agrippa en Bernice wat nou op die toneel verskyn.  Festus het Paulus se storie met hulle gedeel.  Uiteindelik het alles hierop neergekom:  “Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie, maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor ‘n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.” (25:18-19).  Agrippa was bekend met die Joodse godsdiens, en sou vir Festus kon help.  Festus het hom verseker dat hy die volgende dag vir Paulus sou hoor.

 

Dit sal help as meer mense in die kerk soos Paulus is; mense wat alles beskou in verhouding tot die evangelie en evangelisasie.  Hoe lyk so ‘n lewe in die praktyk?  Iemand wat só lewe maak nie geld, gemak, geluk, familie, vriende, hul kinders se toekoms die beslissende faktor wanneer hul trek, verplaas of bevorder word, trou, aftree, of na ‘n ander skool toe skuif nie.  Dié mens doen wat Jonathan Edwards gesê het:  ‘He has eternity stamped on his eye balls.’  Dié persoon vra hoe sy keuse sy geestelike gesondheid sal beïnvloed.  As hy na ‘n ander dorp toe trek is sy eerste vraag:  ‘Is daar ‘n goeie kerk?’ en nie:  ‘Sal ek baie geld maak?’ nie.  So iemand vra hoe sy besluit die evangelie sal bevorder; of dit sy huweliksmaat en kinders geestelik help.

 

Hoekom is dit belangrik dat ons die wêreld só moet beskou?  Die evangelie en evangelisasie is al rede hoekom jy nog nie in die hemel is nie.  Sal jou lewe nie ‘n leë en sinnelose siklus wees as jy dit in die lig van geld of gemak beskou nie?  Dalk kry jy meer geld by jou nuwe werk en bly jy in ‘n groter huis, maar wat help dit as jy in ‘n dorp sit waar jy nie ‘n geestelike tuiste het nie?

 

Paulus voor Agrippa (25:23-26:32)

In die 1820’s het Charles Finney die ‘altar call’ populêr gemaak.  Na sy preke het hy vir die hoorders gesê:  ‘I want that you who have made up your minds to become Christians, and will give your pledge to make your peace with God immediately, should rise up; but that, on the contrary, those of you who are resolved that you will not become Christians, and wish me so to understand, and wish Christ so to understand, should sit still.’[2]  Finney het geglo dat die mens nie met ‘n gevalle of sondige natuur gebore is nie.  Na sý mening was die reddende werk van die Heilige Gees ‘n reaksie op die sondaar se keuse.  Vandág sê mense:  ‘Die Heilige Gees is ‘n gentleman en sal nooit die sondaar se wil beïnvloed nie.’  Duidelik het hulle nie Handelinge 9, 26 gelees, waar God vir Paulus in sy spore stop en hom ‘n Christen máák nie.  Paulus het verseker nie daardie dag opgestaan en gedink:  ‘Vandag gaan ek ‘n besluit maak vir Jesus’ nie.  Finney se verkeerde teologie het daartoe gelei dat hy alles sou doen om die sondaar se wil te manupileer:  emosionele opsweping, ‘altar calls’, musiek, of enigiets wat mense tot ‘n besluit gedwing het.

 

Wat leer Handelinge 26 oor die sondaar?  Hy is blind in sy sonde; sonder ‘n bonatuurlike werk van God het hy geen hoop nie.  Reageer God op die besluit van die sondaar, of is dit die sondaar wat op die innerlike roepstem van God reageer?  Vind verlossing plaas wanneer God iets in die sondaar se hart doen, of wanneer die sondaar sy hand opsteek en tot voor in die kerk loop?

 

Paulus het voor ‘n klomp belangrike mense verskyn:  “Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad” (25:23).  Festus het die saak ingelei:  “Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.  Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.  Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe.  Want dit lyk vir my onredelik om ‘n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.” (25:24-27).

 

Paulus het geweet dat Agrippa die Joodse geloof ken, en was bly om sy saak voor hom te stel:

 

‘Ek was eens ‘n Fariseër.  Soos húlle en die twaalf stamme, verwag ek die dag dat God die dooies sal opwek.  Dis hiérvoor wat ek verhoor word!  Soos húlle het ek op ‘n tyd gesê dat Jesus van Nasaret nie uit die dood uit opgestaan het nie.  Ek het Hom gehaat en sy volgelinge doodgemaak.  Maar toe sien ek Hom.  Een middag het Hy aan my verskyn.  Sy lig was helderder as die middagson.  Hy het in ‘n hoorbare stem met my gepraat.  Dié wat saam met my was kan getuig dat dit so is.  Ek was soos ‘n os wat dié agter hom probeer skop, maar homself beseer as hy die skerp prikkels raak skop.  Só was my gewete.  Ek kon nie langer die waarheid van Stefanus se preek ontken nie (hfst.7).  Jesus het régtig opgestaan.  Hy het my na die heidene toe gestuur.  Deur mý prediking sou Hý hulle blinde oë open (2 Korintiërs 4:4).  Hy sou hulle uit die duisternis van sonde na sy lig toe bring (Johannes 8:12, 2 Korintiërs 4:6, Kolossense 1:12-13).  Hy sou hulle uit die mag van Satan red, na Hóm toe draai, en hulle sondes vergewe (2:38, Lukas 11:22, 1 Korintiërs 6:11, Kolossense 1:14).  Deur die geloof sou Hy hulle afsonder en, saam met ander, ‘n erfdeel in die hemel gee (20:32, Efesiërs 2:8-9, Kolossense 1:12).’

 

Paulus het dadelik gedoen wat Jesus hom beveel het.  Hy het die evangelie aan Jode en heidene verkondig.  Wat het hy gesê?  ‘Moenie net met julle monde die regte woorde sê nie; wys deur julle dade dat God julle harte verander het (Matteus 3:8).’  Hiervoor het die Jode Paulus gehaat:  ‘Hoe dúrf hy sê dat Gód se volk hulle moet bekeer, dat Hy die God van onrein heidene is, en dat Jesus uit die dood uit opgestaan het?’  Paulus was dankbaar dat God hom teen die Jode gehelp het.  Sý boodskap was nie ‘n nuwe boodskap nie, maar die ou boodskap van Moses en die profete.  Die Ou Testament het voorspel dat die Messias gekruisig en begrawe sou word; dat Hy uit die dood sou opstaan (Eksodus 12, Psalm 16, 22, Jesaja 53).

 

Festus kon dit nie meer hou nie en het met ‘n harde stem uitgeroep:  “Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.” (26:24).  Maar Paulus het van beter geweet.  Festus was mal om nié die feite van die evangelie te glo nie.  Die evangelie kon verdedig word.  Meer as 500 mense het die opgestane Jesus gesien (1 Korintiërs 15:3-8).  Selfs Agrippa het geweet dat alles omtrent Jesus nie in ‘n hoekie gebeur het nie.  Wat sou Paulus se volgende skuif wees?  Hy het vir Agrippa in ‘n hoek gedryf:  “Glo u die profete, koning Agríppa?  Ek weet dat u glo.” (26:27).  Ek is seker mens kon ‘n speld hoor val.  Agrippa het nie dadelik geweet wat om te antwoord nie.  Wat sou gebeur het as hy ‘nee’ gesê het?  Hy sou die Jode kwaad gemaak het.  Maar as hy ‘ja’ gesê het sou hy dom gelyk het voor Festus.  Daarom het hy gesê:  “Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word.” (26:28).  Amper, maar nog nie!  Paulus se begeerte was almal in die hof Christene sou word.  Maar daar was iets wat hy nié wou hê nie.  Wat was dit?  Hy wou nie hê dat hulle in boeie moes wees soos hy nie.  Hy wou hê dat Christenskap nie as ‘n misdaad beskou moes word nie; dat Christene godsdiens vryheid kon geniet.  Agrippa, Felix, en die hele hof het besef dat Paulus onskuldig was.

 

Ons moet verlore sondaars sien soos wat Paulus hulle gesien het.  Hoe is dit?  Hy het die Skrif verstaan wat sê dat ons in Adam geval het; dat ons met ‘n sondige natuur gebore is:

 

  • “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Psalm 51:7).
  • “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.” (Psalm 58:4).
  • “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9).
  • “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Romeine 3:10-12).
  • “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12).
  • “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie” (Romeine 8:7-8).
  • “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes… en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:1, 3).

 

Slegs God kan ‘n dooie opwek, ‘n blinde laat sien, ‘n sondaar na Hom toe trek en red (Paulus se bekering onderstreep dit in rooi):

 

  • “die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.” (16:14).
  • “Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.” (Jeremia 13:23).
  • “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.”(Esegiël 36:26-27).
  • “In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lukas 10:21-22).
  • “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8).
  • “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag… En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.” (Johannes 6:44, 65).
  • “soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.” (Johannes 17:2).
  • “[God het ons] ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered” (Efesiërs 2:5).

 

Wedergeboorte of die nuwe lewe is die oorsaak en nie die gevolg van geloof nie.  In 26:18 stuur Jesus vir Paulus “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer”.  Soos reeds gesien sê Efesiërs 2:5 dat God ons lewend gemaak het toe ons nog dood was in sonde.

 

Beteken dit ons moenie evangelisasie doen nie?  Nee.  God gebruik middele om mense te red (v.18, Romeine 10:14).

 

Iemand het eenkeer dié beswaar gemaak:  ‘God sal nie vir ‘n mens sê om iets te doen (‘Bekeer jou en glo die evangelie!’) waartoe hy nie instaat is nie.’  Hoe moet ons dié beswaar antwoord?  Jesus het vir lam mense en dooies gesê om op te staan; vir blindes om te sien en dowes om te hoor.  Het Hy dit vir hulle gesê omdat hulle daartoe instaat was; omdat die krag om te lewe of te sien binne hulle vermoeë was?  Geloof en bekering self is gawes van God (5:31, 11:18, 2 Timoteus 2:25, Efesiërs 2:8-9, Filippense 1:29).

 

Hoekom moet só oor verlore sondaars dink?  As jy ánders dink dan word Jesus ‘n arme Verlosser wat magteloos staan wag dat die sondaar toestemming moet gee dat Hy hom kan red.  So ‘n persoon sal maklik sy of haar kinders manipuleer om hulle ‘harte vir Jesus te gee’, ‘n sondaarsgebed op te sê, op ‘n ‘altar call’ te reageer.  Hulle mislei hulleself, ander, en hulle kinders.  Hulle dínk hulle is gered omdat hulle ‘n gebed opgesê het, vorentoe gekom het, of hulle ‘harte vir Jesus gegee’ het – selfs al dra hulle nie die vrug van bekering nie.  Iemand wat só glo sal baie makliker op sy pogings en die sondaar se wil vertrou as op God.  Hy sal mense se wil manupileer eerder as om tot God te roep dat Hý sondaars sal red.

 

In 2010 het ek ‘n vergadering bygewoon.  Die leier van die vergadering het die sokker wêreldbeker as ‘n geleentheid vir die evangelie gesien en wou dit nie mis nie.  Hy het soos Paulus gedink.

[1]Inligting verkry uit Fausset’s Bible Dictionary, International Standard Bible Encyclopedia, en Josefus se Antiquities of the Jews

[2] Iain Murray, Revival and Revivalism, p.242