God se voorsienigheid in verlossing

Providence

Wat is voorsienigheid?  Ons verwar dit dikwels met wonderwerke.  Die volgende voorbeelde behoort die verskille duidelik te maak.

 

‘n Man in ons kerk het in Rhodesië gebly.  Sy skoonpa het met tabak geboer.  Op ‘n dag was dit verskriklik warm en droog.  Hulle het dringend reën nodig gehad, anders sou die tabak vrek.  Hy het gepleit dat die Here reën moes gee.  Binnekort het daar wolke gevorm en het dit nét op sy plaas en dié stuk land gereën.  In Eksodus 9:1-7 vrek die Egiptenare se vee deur pessiektes, terwyl die Israeliete se diere nie daardeur geraak is nie.  Dít is buitengewone voorsienigheid:  God werk deur die wette van die natuur, maar doen dit op ‘n besondere wyse.

 

Hoe verskil ‘n wonderwerk van buitengewone voorsienigheid?  In 2007 het ‘n kollega in die bediening ‘n beroerte gehad in die nag.  Hy is in die hospitaal opgeneem en vir vyf dae gemonitor.  Sy spraak het gesleep en sy korttermyn geheue is beskadig.  Sy linkerbeen kon nie oor die regter een kruis nie.  Hy het slegs 34% koördinasie in sy linkerhand gehad, teenoor 86% in die regterhand.  Hy het vir drie maande fisioterapie gekry.  In dié tyd het ‘n vriend na sy kantoor toe gekom om vir hom te bid.  Onmiddellik na sy gebed kon Brahm sy linkerbeen oor die regter kruis.  Hy normale funksie van sy linkerhand het daar en dan teruggekeer.  Die fisioterapeut het hom getoets.  Hy het 96% koördinasie in sy linkerhand gehad en 86% in sy regterhand.  Tot vandag toe is hy gesond, en is sy linkerhand sterker as sy regterhand.  In Eksodus 14 het God die Rooi See oopgekloof, sodat die Israeliete droogvoets deurgetrek het.  Dít is ‘n wonderwerk:  God werk sonder en bo-oor natuurlike wette.

 

My vriend moes ‘n pakkie oplaai vir iemand in sy gemeente.  Hy wou nie die ompad ry nie, maar het op nr. 99 besluit om dit tóg te doen.  Kort voor hy by Kliprivierrylaan verby is, het ‘n trok dwarsoor die snelweg gery.  As hy nie die ompad gery het nie, sou hy waarskynlik onder dié trok beland het.  Dié storie klínk buitengewoon, maar baie keer weet ons nie eers van die trok nie; ons weet nie eers dat die Here ons beskerm het nie.  Dít noem ons gewone voorsienigheid:  God beheer elke detail in die wêreld en in ons lewens.  Die Skrif sê:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Want júlle het wel kwaad teen my bedink [deur my as ‘n slaaf te verkoop], maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.” (Genesis 50:20).
  • “In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.” (Spreuke 16:33).
  • “Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?” (Spreuke 20:24).
  • “Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.” (Matteus 10:29-30).
  • “Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil” (Efesiërs 1:11).
  • “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak—julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” (Jakobus 4:13-15).

 

Dís die les in Eksodus 2:  God werk ook in die gewone – moet dit nie miskyk nie.

 

Moses word voorberei in Egipte (v.1-10)

In C.S. Lewis se boek, Prince Caspian, het die Telmarines ou Narnia oorgeneem.  Miraz het die koning doodgemaak en oor die land regeer.  Die koning se seun, Caspian, het Dr. Cornelius, ‘n half-dwerg, as leermeester gehad.  Hy en Caspian se oppasser het hom geleer oor die ou Narnia met sy pratende diere.  Terwyl Miraz veilig gevoel het, was ‘n weermag van Narnians besig om hulle voor te berei om Narnia terug te vat.  Hulle het vir jare weggekruip.  Miraz het niks vermoed nie.  Hy het gedink hulle het uitgesterf.

 

God is soms agter die skerms besig om verlossing vir sy volk te bewerk.  Hy werk wanneer ons dink daar is geen hoop nie.  Dis wat Hy in Eksodus 2 gedoen het.  Hoekom anders word sy Naam eers aan die einde van die hoofstuk genoem?

 

‘n Levitiese man en vrou het met mekaar getrou.  Die man se naam was Amram en sy vrou se naam Jogebed.  Hulle het reeds twee kinders gehad:  Miriam en Aäron (6:20, Numeri 26:59).  Toe is daar nóg ‘n seuntjie gebore.  Oh oh… ‘n seuntjie?  Wat van Farao se bevel dat seuntjies in die Nylrivier verdrink moet word (1:22)?  God en die baba se ouers het gesien dat hy mooi is (Handelinge 7:20, Hebreërs 11:23).  Volgens Hebreërs 11:23 het sy ouers hom vir drie maande lank in geloof weggesteek.  Wat sou dit beteken?  God moes vir hulle gesê dat Moses die volk sou verlos.  Hulle het hom dus weggesteek, omdat hulle God se belofte geglo het.

 

Toe hulle hom nie langer kon wegsteek nie, het hulle ‘n klein ark[1] van papirus gebou en dit waterdig gemaak deur dit met pik en teer te smeer (Jesaja 18:2).  Is dit nie ironies dat sy ma die mandjie in die Nyl gesit het nie:  die plek van dood (1:22) was vir Moses die plek van lewe?  Die Nyl god Hapi kon hom nie beskadig nie.  God het hom veilig gehou teen krokodille.  Sy sussie Miriam het langs die rivier geloop om te kyk of haar baba boetie veilig is.  Op ‘n dag toe kom bad die prinses by die rivier.  Dalk het sy ook gekom om vir Hapi te aanbid (7:15, 8:20).  Toe gebeur dit.

 

Die spanning kan in die werkwoorde gesien word:  ‘sien… stuur… haal… oopgemaak… sien die kind’ (v.5-6).  As daar iemand is wat die opdrag van 1:22 geken het, dan was dit die prinses.  Maar toe sy die baba sien huil, het sy hom jammer gekry.  Die prinses het vir Miriam gestuur om ‘n soogmoeder te kry.  Natuurlik het Miriam die baba se ma gaan roep.  So het dit gebeur dat Jogebed ‘n staatstjek gekry het om haar eie kind groot te maak.  Die baba het vir ‘n paar jaar by sy ma gebly (tot hy 10 was?) voor hy paleis toe is.  Daarna het die prinses hom as haar eie seun aangeneem (Handelinge 7:21).  So het Moses onder die moordlustige Farao se neus groot geword (1:22).

 

In die paleis het Moses die wysheid van Egipte geleer (Handelinge 7:22).  God was besig om hom voor te berei om later die eerste vyf boeke van die Bybel te skryf.  Hoekom was sy naam Moses?  Dié naam beteken uitgehaal, omdat hy uit die water gehaal is (Psalm 18:17).  Dis hý wat God se volk uit slawerny sou uithaal.

 

Wag jy vir die Here om jou te verlos; om ‘n geliefde uit hulle sonde te red?  Wag jy dat Hy die flou Suid-Afrikaanse kerk weer sal oprig?  Dink jy die Here is nie aktief besig nie, net omdat jy nie vuurwerke sien nie?  Moenie die gewone werk van die Heilige Gees minag nie.  Moenie sê:  ‘As daar nie herlewing is nie, beteken dit dat die Here nie werk nie.’  Het jy vergeet dat die Here ook werk wanneer ons in ons gewone dienswerk en prediking van die evangelie volhard?  1 Korintiërs 15:58 sê:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Betwyfel jy jou of iemand anders se bekering, omdat dit nie dramaties was soos Paulus s’n in Handelinge 9 nie?  Geen twee bekerings is presies dieselfde nie.  Nie almal het ‘n dramatiese bekering nie.  Party se bekering is soos Lidia s’n; soos ‘n stoofplaat wat stadig maar seker warmer word (Handelinge 16:13-14).  Ander se bekering is soos die tronkwag s’n; soos die kitshitte van ‘n gasstoof (Handelinge 16:25-34).  Is jy angstig oor God se werk in die kerk; oor die bekering van ‘n geliefde?  Die Gees se werk van wedergeboorte is onsigbaar soos die wind (Johannes 3:8).  Hoe weet jy of God nie nóú besig is om in die kerk of ‘n geliefde se hart te werk nie?

 

Wat sal gebeur as jy God se gewone werk miskyk?  Jy sal maklik moedeloos word en dink die Here het van jou vergeet.  Jy sal vergeet om Hom te prys.

 

Moses word voorberei in Midian (v.11-25)

‘n Tyd gelede het my vriend gevra wat my styl van bediening die meeste beïnvloed het.  Ek het nóg vriende gebel om uit te vind wat húlle bedieningstyl die meeste beïnvloed het.

 

Vir Jannie (die vriend wat die vraag gevra het) was dit sy verlede.  Hy het ‘n slegte verlede gehad, en selfs op ‘n tyd geglo dat hy teen die Heilige Gees gesondig het.  Dié ervarings het hom herinner waaruit die Here hom kom red het.  Dit het hom baie sensitief gemaak vir ánder wat ver verlore is, of dink dat die Here hulle nooit kan vergewe nie.

 

Vir Johan was dit sakgeld.  Sy pa het elke maand vir hulle R2 gegee en hulle verplig om dit te spaar.  Later het sy pa weer die geld ‘nodig’ gehad en dit teruggevat.  Dit het vir Johan gedwing om lekkers te verkoop.  So het hy tot R1000 per maand gemaak.  Hiérdie wysheid, beplanning en entrepreneurskap kenmerk vandag sy bediening.  As daar iemand is wat weet hoe om te beplan en uit te voer, dan is dit hy.

 

Vir Piet was dit ‘n verlede van drank en dwelms.  Hy bedien tans in ‘n blanke plakkerskamp.  Hy het medelye met mense wat in verslawing vasgevang is.  Hy glo dat God húlle kan red soos Hy hóm gered het.

 

‘God tailormakes a man for his ministry.’  Hy sit nie ‘n tandarts in ‘n B.Com klaskamer nie.  God het Moses vir 40 jaar in die woestyn in Midian voorberei, waar hy sy skoonpa se skape opgepas het (Handelinge 7:30).  Dít het Hy gedoen, omdat Moses vir 40 jaar Gód se skape in die woestyn sou ‘oppas’.

 

Toe Hy 40 jaar oud was, het Moses gaan kyk hoe dit met die Israeliete gaan (Handelinge 7:23).  Hy het onthou dat sy ma vir hom geleer het dat Israel sý volk was.  Daarom het hy geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word (Hebreërs 11:24).  Op dié dag het hy gesien hoe ‘n Egiptenaar een van sy mense slaan.  Hy het rondgekyk.  Hoekom het hy dit gedoen?  Miskien omdat hy bang was iemand sien hom.  Maar miskien het hy rondgekyk, omdat hy vir hulp gesoek het.  In ieder geval het hy die gereg in eie hande geneem (soos party Suid-Afrikaners doen as die polisie nie wil help nie).  Hy het die Egiptenaar doodgeslaan en in die sand begrawe.  Hy het gehoop die Israeliete verstaan dat God hulle deur hóm wil red (Handelinge 7:25).  Maar hulle het nie.  Hulle het hom verwerp, soos hulle met ál hulle leiers gedoen het:

 

  • “En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?” (Numeri 16:12-13).
  • “En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.” (Matteus 21:34-39).
  • “Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het” (Handelinge 7:52).

 

Toe Farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy hom doodmaak.  Moses het Midian toe gevlug.  Waar is dit?  Dis in die noord-westelike hoek van Saudi-Ababië, teen die Rooi See.  Moses het by ‘n put aangekom.  Sewe dogters van ‘n heidense priester, Reuel (Jetro), het hulle pa se skape opgepas.  Moses het hulle van die ander herders gered en water uit die put gehaal.  Ja, die baba wat uit die water gehaal is, het nou vir die heidene water uit die put gehaal.  Is dit nie tragies dat die heidene sy poging om hulle te red aanvaar het, maar dat sy eie volk hom verwerp het nie?  So sou dit deur die eeue wees, sodat Paulus van die Jode af weggedraai het na die heidene toe:

 

“Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê:  Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word.  Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene… Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê:  Julle bloed is op julle hoof.  Ek is rein.  Van nou af sal ek na die heidene gaan… Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.” (Handelinge 13:46, 18:6, 28:28).

 

Nie Egipte óf Midian was Moses se tuisland nie.  Hiér was hy ‘n vreemdeling.  Daarom het hy sy seun Gersom genoem.[2]  Soos sy vaders en alle gelowiges ná hom, was Moses ‘n vreemdeling in hierdie wêreld:  “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek.” (Hebreërs 11:13-14).

 

Na baie jare het Farao (Tutmose III) gesterf.  In hulle slawerny het God se volk na Hom toe uitgeroep.  God het hulle hulpgeroep gehoor en sy verbond met Abraham, Isak, en Jakob onthou (Genesis 15, 26, 28).

 

Wat leer ons uit hierdie verse?  Wanneer God lank vat om verlossing te bring moet ons leer om sy perfekte tydsberekening te vertrou.  Vertrou Hom wanneer…

 

  • Jy lank bid maar nie ‘n antwoord kry nie.
  • Jy vir jare wag dat God jou geliefdes red.
  • Jy geen groei in die kerk sien nie.
  • Jy nie hoop sien dat jy ooit die regte lewensmaat sal ontmoet nie.
  • Jy ‘n lang en moeilike beproewing moet deurmaak.
  • Jesus na 2000 jaar nog nie gekom het nie.

 

Jy sien geen antwoord, verandering, hoop, teken, of lig nie.  Maar wag geduldig op die Here.  As jy ongeduldig is sal dinge skeefloop.  Jy sal soos ‘n kind wees wat die groen perskes ryp wil druk.  Jy sal God se plek wil inneem en jouself wil uithelp.  Jy sal nie meer die Here vertrou nie.  Jy sal ophou om te bid en jou na afgode en palmlesers toe wend.  Jy sal jou ongeredde geliefde wil dwing om in Jesus te glo, en dalk ‘n vals bekeerling maak.  Jy sal die ware evangelie versaak, omdat dit aanstoot gee.  Jy sal ‘n vals evangelie begin deel wat sagter op die oor is.  Jy sal ‘gimmicks’ gebruik om die kerk te laat groei.  Jy sal jou huweliksmaat druk om te wees soos jý wil hê.  Dalk sal jy selfs sonde doen om jou beproewing te laat ophou (Genesis 16:1-4).  Jy sal val vir vals profete wat die presiese dag van Jesus se wederkoms probeer bepaal.

 

Lank gelede was daar ‘n volk in ‘n ver land wat deur die vyand onderdruk is.  Hulle het gesmag na vryheid.  Hulle het nie geweet dat hulle binnekort vry sou wees nie.  In ‘n eensame hoekie van die land is ‘n Koning gebore.  Die Koning het as ‘n gewone seun in ‘n klein dorpie groot geword.  Later het dit duidelik geword dat daar iets anders aan Hom was.  Hy was goed, gaaf en het wonderwerke gedoen.  Toe sterf Hy op ‘n jong ouderdom.  Sy volgelinge was stomgeslaan – totdat Hy uit die dood opgewek is, as Koning verhef is, en miljoene mense van hulle sondes gered het.  God was besig agter die skerms.  Hy het sy volk verlos.  Dit was ‘n wonderwerk.

[1] Die Hebreeuse woord wat in Eksodus 2 met ‘mandjie’ vertaal word, is dieselfde woord vir ‘ark’ in Genesis 6:14.

[2] Gersom beteken vreemdeling.

Advertisements