Die tien plae: Bloed en paddas

Water turned to blood

Toe John Paton op Tanna was, het drie van die eiland se Heilige Manne gesê dat hulle nie in sy God glo of sy hulp nodig het nie.  ‘Ons het mag oor lewe en dood, siekte en gesondheid, droogte en reën.  As ons ‘n stukkie kos kan kry wat jy geëet het, kan ons jou deur towery doodmaak,’ het hulle gesê.  Hy het drie pruime gevra van die vrou wat langs hom gestaan het.  Hy het ‘n hap uit elke pruim gevat, dit vir die Heilige Manne gegee, en voor almal gesê dat hulle hom deur towery moes probeer doodmaak.  ‘I deny that they have any power against me, or against any one, by their Sorcery,’ het hy gesê.

 

Die inboorlinge het weggehardloop.  Paton het bly staan om hulle bygelowige rituele dop te hou.  Soos wat hulle aangegaan het, het Paton uitgeroep:  ‘Be quick!  Stir up your gods to help you!  I am not killed yet; I am perfectly well!’  Toe hulle na ‘n lang tyd niks kon regkry nie, het hulle gesê dat hulle al hulle Heilige Manne nodig het, en dat hulle hom teen die volgende Sondag deur hulle towery sou doodmaak.  Paton het ingestem.  Die volgende Sondag het hy in perfekte gesondheid na hulle toe gekom.  Die Heilige Manne het erken dat hulle hom nie deur hulle towery kon doodmaak nie, maar het gesê dat hy ook ‘n Heilige Man was, en dat sy God sterker was as hulle gode.  Paton het die geleentheid gebruik om vir hulle te sê dat syne die ware en lewende God is, en dat Hy die gebede hoor van almal wat Hom dien en liefhet.[1]

 

Is dit nie die les van die tien plae (Eksodus 7-12) nie:  Jahwe is die ware God?

 

Die eerste plaag:  Bloed (7:14-25)

Op 16 Desember 1838 het 464 Voortrekkers, gelei deur Andries Pretorius, 3000 Zoeloes by die Ncomerivier in Natal, doodgemaak.  Geen boere is dood nie.  Die Zoeloes se bloed het die water rooi gevlek, sodat die plek bekend geraak het as Bloedrivier.

 

In Moses se tyd het die Nylrivier rooi geword, maar dit was nie deur mense se bloed nie (soos wat die nuwe Exodus film valslik uitbeeld).  God het die rivier in bloed verander om te wys dat Hy vir Farao, die Egiptenare, en hulle gode sou doodmaak.  Hulle het die bloed van God se volk vergiet (1:22), en daarom sou Hy húlle bloed vergiet.

 

Moses het die staf in sy hand geneem om die verharde koning by die rivierwal te ontmoet.  Hy was seker daar om vir Hapi, die Nyl-god, te aanbid.  Dis nie per toeval dat Moses hom by die Nyl moes ontmoet nie.  God het dit so beplan, sodat Farao kon sien hoe sy ‘god’ in bloed verander.  Die Egiptenare het geglo dat Hapi die bron van alle lewe was.  Vir hulle was die god Khnum die beskermer van die Nyl.  In hulle gedagtes was die Nylrivier Osiris se bloed en are.  God het die Nyl in bloed verander en so gewys dat hierdie gode geen mag teen Hom het nie.  Die vis – ‘n hoof voedselbron in Egipte – sou doodgaan en stink (is daar iets wat so sleg ruik soos vrot vis!?).  Dit sou vlieë lok en siektes veroorsaak.  Hathor en Neith was veronderstel om die vis te beskerm, maar kon nie voor Jahwe se mag stand hou nie.  Die Egiptenare sou nie die water kon drink nie.  Selfs die water in die klip en hout kruike sou in bloed verander.  Dit bewys vir ons dat dit regte bloed was, en nie maar net alge of rooi modder wat gemaak het dat die rivier soos bloed lyk nie.

 

Moses het die wonderwerk voor Farao en sy diensknegte gedoen.  Almal moes weet dat Gód hierdie wonderwerk gedoen het.  Die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen.  Maar as hulle regtig so magtig was, hoekom het hulle die probleem vererger en nie weggevat nie?  Waar het hulle buitendien water gekry as Moses reeds al die water in bloed verander het?  Die koning se hart is verhard.  Hy het ‘n veer gevoel en in sy paleis ingestap.  Die Egiptenare het langs die rivier gegrawe om ondergrondse water te soek.  Indien die water nie regtig bloed was nie, maar net deur rooi alge of modder gekleur was, kon die Egiptenare met kruike water geskep het, en gewag het tot die modder na onder sak.  Dis duidelik dat die water regtig in bloed verander het.  Hulle het vir sewe dae nie water gehad nie.  Kan jy jou indink hoe dit moes voel in die warm Egiptiese son?

 

Sien die goedheid en strengheid van God raak in hierdie rivier van bloed.  Die ware God sal geregtigheid laat geskied en verligting bring vir sy kinders wat doodgemaak word deur Moslems, Kommuniste, en ander.  Hulle wat die bloed van sy kinders vergiet se bloed sal vergiet word.  In die boek Openbaring lees ons die volgende:

 

  • “En hulle [die martelare] het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” (6:10).
  • “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.” (17:6).
  • “hulle [die twee olyfbome] het mag oor die waters, om dit in bloed te verander” (11:6).
  • “En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien.” (16:4-6).

 

Dalk maak jy nie Christene dood nie, maar as jy teen Jesus rebelleer sal Hy jou bloed vergiet.  Weer sê Openbaring:

 

  • “En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.” (14:20).
  • “En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God… En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” (19:13, 15).

 

Laat die bebloede Nylrivier jou waarsku om nie te rebelleer en jou hart te verhard nie.  Bekeer jou.  Vertrou op Hom wie se bloed soos ‘n rivier gestroom het aan die kruis, sodat jou bloed nie hoef te vloei nie.  As jy die waarskuwing van jou gewete ignoreer, sal God jou hart verhard, sodat jy geen kans meer het om jou te bekeer nie.

 

Die tweede plaag:  Paddas (8:1-15)

In Nelspruit het ek by ‘n oom gekuier.  Hy het vir my gesê:  ‘As ‘n padda by daardie deur inkom en ‘n slang by die ander een, dan hardloop ek verby die slang om weg te kom van die padda.’  Nie almal is só bang vir paddas nie, maar baie mense is bang vir hulle en deel die oom se sentiment.

 

Vir ‘n volk wat bygelowig was oor paddas, moes ‘n plaag van paddas baie erg gewees het.  Dink net daaraan:  slymerige paddas in jou bed, oond, klere, en kosbakke.  Die paddas het seker in die riete en modder geskuil toe die Nyl in bloed verander het.  Nou was hulle oral.  Dit moes aaklig wees om op paddas te trap of deur party soorte paddas gebyt te word (brulpaddas kan byt).  Deur hulle toorkunste het die towenaars dieselfde gedoen, maar weereens het hulle net die probleem vererger, en kon hulle nie die plaag wegvat nie.  Farao het belowe om Israel te laat gaan indien Moses vir God sou vra om die paddas weg te vat.  Toe Moses vir hom ‘n tyd vra, toe sê hy:  ‘Môre.’  Hy het in sy hart gehoop dat die paddas intussen self sou weggaan.  Die godin Heqt, die vrou van Khnum, was veronderstel om die paddas onder beheer te hou.  Maar sy kon nie teen Jahwe staan nie.  “Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.” (Psalm 86:8).

 

God het Moses se gebed verhoor en die volgende oggend al die paddas wat op die land was doodgemaak.  Net die paddas wat in die rivier was, het oorgebly.  Wat is erger:  ‘n lewende padda of ‘n dooie een in jou bed en kos bakke?  Die Egiptenare het die paddas in hope versamel.  Die land het gestink.  Dit het seker swerms vlieë gelok.  Toe Farao sien dat die plaag weg was, het hy sy hart verhard en sy belofte gebreek.  Hy het nie die volk laat gaan nie.  God het dit so bewerk, sodat Hy nog plae kon bring en sy Naam in die hele aarde kon verheerlik (9:16).

 

[1] Moenie die ware God en afgode aanbid nie.  Die God wat kan skep, verlos, die toekoms voorspel, gebed beantwoord, praat, wonderwerke doen, ander gode oorwin, en Homself verdedig is die ware God.  Aanbid Hóm.  Die Skrif sê:

 

  • “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” (Deuteronomium 6:4). Daar is net een God.
  • “Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie… daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.” (Deuteronomium 4:33-35, 39). Die ware God praat met sy volk, oorwin die ander gode, doen wonderwerke, oordeel die nasies, en verlos sy volk.
  • “Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.” (Jesaja 41:23). Die ware God kan die toekoms voorspel.
  • “Ek, Ek is die HERE, en daar is geen Heiland buiten My nie.” (Jesaja 43:11).
  • “So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie…. Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ‘n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.” (Jesaja 44:6, 8).
  • “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:5-6).
  • “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God! —wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie. “ (Jesaja 45:18).
  • “Verkondig en bring voor, ja, laat hulle saam raad hou: Wie het dit van ouds af laat hoor, lank tevore dit verkondig? Is dit nie Ek, die HERE, nie? En buiten My is daar geen ander God nie: ‘n regverdige en reddende God is daar buiten My nie. Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God, en daar is geen ander nie.” (Jesaja 45:21-22).
  • “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).
  • “Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy ‘n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.” (Rigters 6:31). Hoekom moet die Moslems vir Allah veg as iemand hom sleggesê het? As hy ‘n god is, kan hy mos vir homself veg, nie waar nie?
  • “En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie… …En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek.” (1 Konings 18:26-29, 36-38).
  • “Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit—Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” (Jeremia 10:11-12).

 

[2] Moenie praat asof daar ander verlossers is wat gelyk is met Jesus nie.  Hy is die enigste Verlosser (Johannes 14:6, Handelinge 4:12).

 

[3] Begrawe jou afgode (Genesis 35:2-4).  Raak ontslae van dit wat vir jou belangriker geword het as Jesus:  geld, besittings, seks, kos, familie, sport of watookal.  Naas Hom moet jy geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2).  Hoe lank sal jy aanhou om God en jou afgode te dien?  Besluit wie jy wil dien (Josua 24:14-15, 1 Konings 18:21).  Jy kan nie God en jou afgode dien nie; “want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag.” (Matteus 6:24).

 

In die vierde eeu na Christus het was daar ‘n biskop genaamd Arius.  Hy het nie geglo dat Jesus volkome God is nie.  Hy het voor keiser Konstantyn gekom en onder eed gelieg deur te sê dat hy nie aan enige vals leringe vashou nie; dat Alexander nie rede gehad het om hom uit die kerk uit te sit nie.  Die keiser het vir hom gesê:  ‘As dit wat jy glo ortodoks[2] is, het jy ‘n ware eed afgelê; maar as dit wat jy glo vals is en jy valslik gesweer het – mag die God van die hemel jou oordeel.’

 

Eusebius, die biskop van Nicomedia, wou met geweld vir Arius terugbring in die kerk in.  Maar as gevolg van Arius se dwaling het Alexander geweier.  Eusebius het gesê dat hulle die keiser se toestemming verkry het, en dat Arius die volgende dag in Alexander se gemeente aan die nagmaal sou deelneem.  Alexander het in die kerk ingegaan en tot die Here uitgeroep:

 

‘Laat my sterf eerder as wat Arius môre in die kerk verwelkom gaan word… Sal U asseblief U kerk spaar en nie U erfenis aan verwoesting en skande oorlaat nie?  Verwyder vir Arius, sodat hy en sy dwaling nie in die kerk sal inkom en onheiligheid later as heiligheid beskou word nie.’

 

In groot angs het Alexander by die kerk uitgestap.  Arius het dwase toesprake voor verskeie mense gelewer.  Skielik het hy dood neergeslaan.  Niemand kon ontken dat Jesus die ware God is nie.[3]

[1] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.140-142

[2] In ooreenstemming met die lering van die Bybel

[3] http://www.ccel.org/ccel/schaff/npnf203.iv.viii.i.xiv.html?highlight=athanasius,serapion#highlight

Advertisements

Weerstand teen God

Opposing God

Elke gesoute hengelaar weet dat ‘n lyn met 20kg breekkrag maklik ‘n 15kg vis kan weerstaan.  Maar dieselfde lyn sal soos dun gare breek as ‘n 400kg vis dit vat.  Net so kan ‘n mens ander mense weerstaan.  Geen mens kan egter in ‘n finale sin teen die Almagtige God weerstand bied nie.  Eksodus 6:9-7:13 maak dit duidelik.

 

Moses

Alhoewel Benjamin Franklin nie ‘n gelowige was nie, het hy dit geniet om na George Whitefield se prediking te luister.  In 1740 het Whitefield in Georgia gepreek.  Hy wou ‘n weeshuis in Georgia oopmaak en het beplan om ná die preek ‘n offergawe op te neem.  Franklin het sy idee ondersteun, maar omdat hulle arbeiders en materiaal uit Philadelphia moes huur, het hy voorgestel dat hulle die weeshuis dáár moes bou.  Omdat Whitefield sy raad geïgnoreer het, het Franklink geweier om die projek te ondersteun.  Hy skryf:

 

‘I silently resolved he [Whitefield] should get nothing from me.  I had in my pocket a handful of copper money, three or four silver dollars, and five pistoles in gold.  As he proceeded [his sermon] I began to soften, and concluded to give the coppers.  Another stroke of his oratory made me ashamed of that, and determined me to give the silver; and he finished so admirably that I emptied my pocket wholly into the collector’s dish, gold and all.

 

At this sermon there was also one of our club, who, being of my sentiments respecting the building in Georgia, and suspecting a collection might be intended, had by precaution emptied his pockets before he came from home.  Towards the conclusion of the discourse, however, he felt a strong desire to give, and applied [asked] to a neighbour who stood near him, to borrow some money for the purpose.’[1]

 

God kan enige weerstand oorkom.  Toe God vir Moses na Farao toe gestuur het, het Moses Hom weerstaan.  Hy het gesê:  ‘As God se volk nie eers na my wil luister nie, hoe sal ‘n goddelose koning na my luister?  Ek mag miskien besny wees, maar my lippe is onbesnede en onrein; ek is onbekwaam om te praat (sien 6:9-12, vgl. 4:10, Jesaja 6:5).’  God was geduldig met Moses en het hom gemotiveer om te gaan:  “Ek is die HERE.  Sê aan Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.  Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE:  Ek is onbesnede van lippe!  Hoe sal Farao dan na my luister?” (6:28-29).  Die Here het in 6:28-7:6 basies vir hom gesê:

 

‘Wie jý is maak nie saak nie, maar wie Ék is (2 Korintiërs 2:16, 3:5).  Ek sal jou instaat stel om te praat.  Ek sal jou soos God maak voor Farao.  Hy dink hy is ‘n god, maar nou sal Hy met die ware God te doen kry.  Jy moet My verteenwoordig.  Aäron sal my geïnspireerde woorde namens jou praat; hy sal jou profeet wees (4:16).  Moenie bekommer as Farao nie wil luister nie.  Ek sal sy hart verhard, sodat hy nie luister nie (4:21).  Ek sal jou instaat stel om wonders te doen.  Deur dié plae sal ek Egipte oordeel en my volk red.’  Moses en Aäron het toe gedoen wat God gesê het.  Moses was 80 en Aäron 83 toe God hulle na Farao toe gestuur het.  Hulle was nie te oud vir God om hulle te gebruik nie.

 

Moenie die Here weerstaan nie.  Soos Moses is daar vandag gelowiges wat die Here weerstaan.  Weerstaan jy God se roeping om ‘n sendeling of predikant te word?  Skop jy teen sy opdrag dat jy gedoop moet word of lidmaat van ‘n gemeente moet word?  Het jy weggedwaal en weerstaan jy sy roepstem dat jy jou moet bekeer?  Het jy gebroke verhoudings?  Jou gewete sê dat jy dit moet regmaak, maar jy weier; jy weerstaan die Here.  Is daar ‘n spesifieke sonde waaroor die Here met jou praat, maar jy wil dit net nie los nie?  Of dalk iets wat jy nalaat om te doen, maar jy hou aan om dit uit te stel?  Dalk ‘n spesifieke opdrag in die Bybel wat jy weerstaan?  Is daar ‘n leerstelling in die Bybel wat jy weerstaan en nie wil aanvaar nie?  Weerstaan jy God se dissipline?  Jy is nie nederig onder God se swaar hand nie; jy skop teen Hom en is ongeduldig (1 Petrus 5:6).  Maak jy jou gewete aanhoudend stil oor iets wat jou pla?

 

God wil hê jy moet erns maak om sy wil te ken (Efesiërs 5:17).  As jy weet dat iets in jou lewe nie reg is nie, sê Psalm 119:59-60 vir jou wat om te doen:  “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.  Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”  Die Here het jou gemaak en gered.  Daarom moet jy nie aanhou om Hom te weerstaan nie.  “Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?” (Jakobus 4:5, NAV).  “Of wil ons die ywer van die Here opwek?  Is ons miskien sterker as Hy?” (1 Korintiërs 10:22).  Moenie sê dat jy nie dinge wat verkeerd is kan regmaak nie.  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:13).

 

Israel

Laasjaar het ek by ‘n rugby oefening gesien hoe ‘n ma vir haar graad R seun ‘n opdrag gee.  Terwyl hy na sy maatjie toe hardloop, sê hy vir sy ma:  ‘Wag!’  Sy het op hom geskreeu, maar hy het weggehardloop, en met sy hand vir haar gewys:  ‘Voetsek!’  Vandat die mens in sonde geval het, is daar ‘n rebelsheid in sy hart; ‘n begeerte om die juk van God se gesag van sy nek af te gooi.  Die mens wil onafhanklik wees.

 

Van die begin af het die Israeliete Moses se leierskap weerstaan (2:14).  Die geslagsregister in 6:13-26 is gegee, sodat die eerste lesers (die Israeliete in die woestyn) kon sien dat Moses en Aäron uit die stam van Levi kom.  Moses het homself nie as leier en Aäron homself nie as priester aangestel nie.  God het hulle uitgekies.  In hfst.15-17 het die volk teen Moses se leierskap in opstand gekom.  In Numeri 11, 14 het hulle dit weer gedoen.  In Numeri 12 het sy eie broer en suster sy leierskap teëgegaan.  In Numeri 16 het Korag vir Moses teengestaan.  ‘Wie het jóú gekies om ‘n priester te wees?  Ons is uit die stam van Levi en het ook die reg om priesters te wees!’  In Numeri 17 wys God dat Hy vir Levi gekies het om in die tabernakel te werk; dat Aäron en sy seuns gekies is om priesters te wees.  Die eerste lesers kon uit 6:13-26 Moses en Aäron se bloedlyn deur Amram en Kehat na Levi, en uiteindelik na Jakob toe teruglei.

 

Die geslagsregister begin met Jakob se oudste drie seuns.  Levi, Kehat en Amram se ouderdomme word gegee om te wys dat God se woord aan Abram vervul is:  Die Israeliete sou vir omtrent 400 jaar slawe in Egipte gewees het (Genesis 15:13).

 

Levi sterf op 137

Kehat sterf op 133

Amram sterf op 137

Aäron was 83 op dié tydstip (7:7)

_________________

Totaal:  490 jaar

 

As Levi, Kehat en Amram elkeen 20 was toe hulle seuns gebore is, dan was die Israeliete vir 430 jaar in Egipte.  In 12:40-41 lees ons:  “En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar.  En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.”

 

Om dan op te som kan ons sê dat die volgende persone uit dié nageslag ontstaan het:

 

  • Die Leviete (6:15, Numeri 3, 17, 26:57).
  • Moses en Aäron (6:19, 25-26).
  • Nagson, ‘n prins en voorvader van Jesus, was Aäron se swaer (6:22, 1 Kronieke 2:10, Matteus 1:4).
  • Die priesters (6:22, 28:1, Levitikus 10:1).
  • Pinehas, Aäron se kleinseun wat hoëpriester geword het en ywerig was vir die Here (6:24, Numeri 25:6-12).

 

Nie alleen die geslagsregister nie, maar ook die wonderteken wat Moses in hfst.7 gedoen het, sou vir die eerste lesers ‘n bewys wees dat God hom gestuur het (vgl. Numeri 16:28-30).

 

Moenie soos die Israeliete wees en die gesag wat God daargestel het, weerstaan nie.  Moenie jou ouers, man, ouderlinge, baas, regering, polisie, of onderwysers se gesag weerstaan nie.  Ouers moet dit by hulle voorskoolse kinders inskerp:  dit is sleg vir jou om onafhanklik te wees; om jou eie baas te wil wees.  Dit wat nóú in ons land aangaan (weerstand teen gesag) het begin toe 2-jariges hulle ouers weerstaan het, en nie vasgevat is nie:  werkers wat met geweld staak, skoliere wat onderwysers aanrand, politieke leiers wat ‘n magstryd voer in die regering, lidmate wat teen hulle leiers opstaan en kerke skeur, rebelse tieners en studente.

 

Jy mag slegs ongehoorsaam wees as jou gesagsfigure vir jou sê om te sondig (Handelinge 4:19, 5:29).  As ‘n prediker nie deur God aangestel is nie, hoef jy nie vir hom te luister nie.  Ek het in ‘n preek gesê dat Benny Hinn ‘n vals leraar is.  Iemand het daarvan gehoor en gesê:  ‘’n Mens slaan nie jou hand aan die gesalfde van die Here nie – selfs al is hy verkeerd.’  Die feite is dat Benny Hinn nie die gesalfde van die Here is nie, maar ‘n dienskneg van die duiwel.  As iemand soos Adolf Hitler die volk uitmoor, dan mag ‘n mens wapens opneem en oorlog maak.  Om dít te doen sou nie wees om die gesag wat God daargestel het, te weerstaan nie.

 

Hoekom moet ons nie weerstand bied teen gesag nie?  Paulus sê in Romeine 13:1-2:  “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”  As jy gesag weerstaan, weerstaan jy die Here.  En as jy dít doen sal God jou uitwis (20:12).  As jy aan gesag onderdanig is verheerlik jy die Here (1 Petrus 2:13-20).  Wie weet of Hy jou onderdanige optrede sal gebruik om ongelowiges te red (1 Petrus 3:1-2)?

 

Farao en die towenaars

Ek kry koue rillings as ek hoor hoe ateïste God weerstaan en uitdaag.  In ‘n preek het R.C. Sproul vertel van ‘n student wat sy vuis na die hemel gelig het, en God uitgedaag het hom om dood te slaan.  Sproul sê:  ‘I didn’t want to look, but I saw his dead body the next day, and I’ll never forget it.’  Farao het gedink hy is ‘n god.  Hy en sy towenaars het God tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  Hulle het gou agterkom dat dit die domste ding is wat ‘n mens kan doen.

 

Ten spyte van God se wonderwerke sou Farao nie na Moses en Aäron luister nie.  God het sy hart verhard en so vir hom gegee wat hy wou hê (7:3-4).  God het dit gedoen, sodat Hy die plae kon vermeerder en aan die Egiptenare wys dat Hý – nie hulle gode nie – die ware God is (9:16, 12:12).  Farao het nie geglo dat God vir Moses en Aäron gestuur het nie, en het vir ‘n teken gevra (7:9, vgl. Johannes 2:18, 6:30).  Aäron het sy staf voor Farao en sy knegte neergegooi, sodat dit in ‘n slang verander het.  John Currid skryf:

 

‘…depicted on the front of the king’s crown was an enraged female cobra, or serpent.  This uraeus was thought by the Egyptians to be energized with divine sovereignty and potency.  It was considered the emblem of Pharaoh’s power.  It symbolized his divinity and majesty.  When Aaron flings down the rod-snake before Pharaoh, he is therefore directly assaulting that token of Pharaoh’s sovereignty; the scene is one of polemical taunting.’[2]

 

Die God wat klippe in mense kan verander (Matteus 3:9), kan stokke in slange verander.  Die twee towenaars, Jannes en Jambres, het dieselfde gedoen (7:11, 2 Timoteus 3:8-9).  Satan het ‘n slang se liggaam gebruik om vir Eva te mislei en kan homself voordoen as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:3, 14).  Hy kon maklik hier dieselfde gedoen het en deur bonatuurlike magte of oë-verblindery God se werk na-aap.  Later het hulle erken dat hulle nie sulke groot werke kon doen nie (8:18-19), en is hulle self deur die plae getref (9:11).  Op dié stadium het God toegelaat dat hulle sy werk na-aap, omdat Hy Farao se hart wou verhard.  “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:11-12).  Deurdat Aäron se slang die towenaars s’n ingesluk het, het God gewys dat hy sterker is as die towenaars en gode van Egipte.  Farao se hart is verhard, sodat hy God weerstaan het en nie na hulle wou luister nie.

 

Moenie die Here uittart of uitdaag nie:

 

  • Moenie sy Naam vloek of nie omgee as hulle dit in films doen nie.
  • Moenie vir die Here sê om Homself te bewys of ‘n teken te gee, voordat jy die knie sal buig nie.
  • Dis nie verkeerd as jy verward is in jou beproewing en nederig vir God vra wat aangaan nie. Maar moenie bitter wees teen Hom, kwaad raak, of jou vuis vir Hom lig nie.
  • Moenie sy weë bevraagteken of sê sy Woord is dom nie (Romeine 9:19-23).
  • Moenie sy bestaan ontken nie. As Hy regtig bestaan en jy Hom so uittart, wonder jy dalk hoekom Hy jou nog nie uitgewis het nie? Wees dankbaar dat Hy so geduldig en genadig is!
  • Die Bybel sê jy kan vrymoedig bid en God aan sy beloftes herinner. Maar moenie soos die Prosperity predikers wees wat eise aan Hom stel nie.
  • Moenie met ‘n hoë hand sondig nie. Ek praat van iemand wat in sy hart dink: ‘Ek weet wat ek wil doen is verkeerd, maar voel ‘n veer vir wat God dink; ek sál dit doen.’
  • Moenie gedurig die evangelie hoor en jou hart verhard nie (Handelinge 7:51).

 

Vrees God en respekteer Hom.  Besef dat jy op die aarde is en Hy in die hemel.  Jy is niks.  As jy aanhou om jouself teen Hom te verset, sal Hy jou breek sodat jy jou nie meer kán bekeer nie (Spreuke 29:1).

 

John S.C. Abbott het in die 1800’s geleef.  Hy vertel van ‘n episode wat gebeur het toe hy 4 jaar oud was.  Een aand het sy gesin om die kaggelvuur gesit.  Sy pa het hulle gevra om die alfabet te hersien.  John het die hele alfabet goed geken, maar het geweier om dit op te sê.  Sy pa het hom weer gevra, maar hy het steeds geweier.  Sy pa het hom na ‘n private vertrek toe geneem en hom pak gegee.  Toe hulle terugkom wou hy nogsteeds nie die alfabet sê nie.  Sy pa het hom weer gestraf, maar hy wou nie toegee nie.  Sy pa wou hom nie te swaar straf nie.  John was so hard en onbeweeglik soos ‘n rots.  Sy pa het hom aan die hand geneem om hom weer te gaan straf.  Dadelik het sy wil gesmelt en het hy ingestem om die alfabet op te sê.  Baie jare later skryf hy:

 

“John learnt a lesson which he never forgot, that his father had an arm too strong for him.  He learnt that it was the safest and happiest course for him to obey.  He learned never again to wage such an unequal warfare.”[3]

 

Laat ons so wees en nie die Here weerstaan nie.  Om dit te doen is dwaas.  As ons in nederigheid die knie voor Hom buig, sal dit met ons goed gaan.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield vol.1, pp.481-482

[2] Exodus vol.1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, p.161

[3] Mark Chanski, Manly Dominion, p.217

Verdeeldheid in die kerk

Division in church

Jy ken seker dié ou grap.  As twee Jode bymekaar kom stig hulle ‘n besigheid.  As twee Duitsers bymekaar kom stig hulle ‘n ingeneursmaatskappy.  As twee Afrikaners bymekaar kom stig een af.  Dis erg genoeg dat Afrikaners hierdie reputasie het.  Dis erger dat die Korintiërs dit gehad het (1 Korintiërs 10:1-17).

 

Die oproep tot eenheid (v.10)

Het jy al gehoor van die Van der Twis gesin?  Jy sal hulle nooit sonder mekaar sien nie, maar hulle is altyd besig om te baklei.  Uiterlik is hulle een gesin, maar innerlik is daar nie eenheid nie.  So was dit met die Korintiërs.

 

Om te keer dat daar verdere verdeeldheid is het Paulus hulle nie beveel nie, maar langs hulle kom staan en hulle gesmeek.[1]  Paulus noem hulle broers om te wys dat hy nie beter is as hulle nie (v.12-13) – hy is een van hulle.  Paulus vermaan hulle nie in sy eie naam nie, maar in die Naam van die Here Jesus Christus.  So wys hy weereens dat hy niks is nie; dat Jesus alleen belangrik is (v.12-13).  Paulus het Matteus 5:9 ter harte geneem:  “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”  Paulus vra die Korintiërs om eensgesind en nie verdeeld te wees nie.  Hulle moet verenig wees in dieselfde gesindheid en mening.  Hulle moet innerlik en nie net uiterlik een wees nie.  Die Grieks vir verenig [katartizo] word in Markus 1:19 gebruik van vissers wat hulle geskeurde nette regmaak.  Die Korintiërs moet die skeuringe in die kerk regmaak.

 

In ons gemeentes moet ons dieselfde gesindheid en morele mening hê.  Hoe sal ons dit regkry?  Soldate wat teen ‘n gemeenskaplike vyand veg het nie tyd om onder mekaar te baklei nie.  Laat ons daarom “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” (Filippense 1:27).  As God se kinders moet hulle dieselfde liefde hê (Filippense 2:2).  As almal lief is vir Jesus en sy Woord, bou dit die eenheid.  Om eensgesind te wees moet ons nederig wees.  Wys my ‘n kerk wat verdeeldheid is, en ek wys jou ‘n kerk waar mense hoogmoedig is.  Iemand kry nie wat hy wil hê nie en baklei daarom met ander (Jakobus 4:1-2).  As jy ander bo jouself stel sal daar nie verdeeldheid wees nie (Filippense 2:3-4).  Die leiers moet die voorbeeld hierin stel en ander in die gemeente dien.  Jesus het gesê:

 

“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).  “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.  Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Johannes 13:13-14).

 

Die nederige gesindheid van Christus moet in ons wees (Filippense 2:5).  In Efesiërs 4:2-3 sê Paulus:  “[wandel] met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.”  God is een en daarom moet ons een wees:  “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efesiërs 4:4-6).

 

As jy hoogmoedig is sal God jou weerstaan; as jy nederig is sal Hy aan jou genade gee (Jakobus 4:6).  Vra vergifnis vir jou hoogmoed.  Doen Bybelstudie en lees goeie boeke oor sonde en Jesus se kruisdood.  Dit sal jou nederig maak en vir jou wys dat jy niks is nie en God se oordeel verdien.  Alles wat jy het is genade.

 

When I survey the wondrous cross,

On which the Prince of Glory died,

My richest gain I count as loss,

And pour contempt on all my pride.

–Isaac Watts–

 

Iemand wat nederig is, is soos Jesus.  Hoogmoed maak jou soos die duiwel.

 

Die verbreking van eenheid (v.11-12)

My kinders het laas Vrydag ‘n spanbou liedjie by ‘n atletiek byeenkoms geleer:  ‘Sliding on a super tube… landing on cactus… we think your team needs more practice!… Sliding on a super tube… landing on daisy… we think your team is so lazy!’

 

Soos kinders by ‘n atletiek byeenkoms, was daar groepe in die Korintiër-kerk wat gedink het hulle is beter as die res.  Mense uit Chloë se huis het vir Paulus hiervan vertel.  Dit is skandelik dat die kerk se leiers nie vir hom gesê het nie, maar dit vir hom weggesteek het.  Jaloesie en partyskap het in die gemeente geheers (v.11, 3:3-4).  Die verskillende groepe het gesê:  “Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.” (v.12).  Dit terwyl Jesus vir sy dissipels gesê het:  “Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester:  Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester:  Christus.” (Matteus 23:8-10).

 

Die Paulus-groep het hom seker gevolg omdat hy heilig, nederig, intelligent was, en eenvoudig gepreek het.  Die Apollos-groep het geroem omdat hulle leier welsprekend en opgelei was, en die Bybel goed geken het (Handelinge 18:24-28).  ‘Petrus het vir Jesus gesien toe hy op aarde was, en is gekies om die leier van die twaalf te wees,’ het die Cefas-groep gesê.[2]  Die Christus-groep het gesê:  ‘Ons behoort aan die groep wat geen menslike leier het nie.  Ons is trots daarop dat ons groep die beste is.’  Ek het onlangs ‘n blog gesien wat soos die Christus-groep is:  mense wat daarin roem dat hulle aan geen menslike groep behoort nie.

 

Wat is Paulus se punt in hierdie verse?  Moenie die eenheid verbreek nie.  Hoe doen ‘n mens dit?  Moenie met ander Christene stry of die kerk verlaat oor leerstellings wat nie sentraal is tot die evangelie nie.  Ek praat van dinge soos detail verskille oor die eindtyd.  Moet ook nie die kerk verlaat net omdat jy lus is vir ‘n verandering nie.  Mense wat van die kerk of Bybelstudie af wegbly, omdat hulle gunsteling prediker of leier nie aan die woord is nie, versteur die eenheid.

 

Indien iemand soos ‘n ongelowige in sonde volhard, moet ons nie gemeenskap met hom of haar hê nie.  So ‘n persoon moet uit die gemeente gesit word (5:9-13).  As iemand valsheid verkondig moet jy hom aanspreek en van sy sonde probeer terugdraai (2 Timoteus 2:24-26).  As hy nie luister nie, maar aanhou om tweedrag te saai, moet jy hom vermy:

 

  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Romeine 16:17).
  • “Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.” (Titus 3:9-11).
  • Wat rondreisende vals leraars betref sê 2 Johannes 9-11: “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”

 

Moenie paaie skei met ‘n mede-gelowige oor klein verskille nie.  Maar as dit by leerstellings kom wat die evangelie direk raak is daar nie genade nie.  Ons praat hier van mense wat byvoorbeeld sê dat God nie ewig of Almagtig is nie, dat Jesus nie God is nie, dat Jesus nie vir ons sondes gesterf het nie, dat Jesus nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie, dat die Bybel nie die Woord van God is nie, dat heiligheid nie belangrik is nie, dat die hemel en die hel nie regtig bestaan nie, dat Jesus nie weer gaan terugkeer nie.  Indien die gemeente waaraan jy behoort aan hierdie leerstellings vashou, moet jy met die leiers praat.  Indien dit lyk of hulle nie gaan verander nie, moet jy die gemeente verlaat.  In so ‘n geval is jy nie besig om die eenheid van die liggaam te verbreek nie, maar skei jy jou af van ongelowiges.

 

Hoekom moet jy alles in jou vermoeë doen om nie die eenheid van die kerk te verbreek nie?  Paulus antwoord:  “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.” (3:16-17).  Jesus het gesê:  “wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Lukas 9:50).  Iemand wat verdeeldheid bring tree op soos ‘n ongelowige (Galasiërs 5:20).

 

Die evangelie van eenheid (v.13-17)

‘n Paar jaar gelede het Iain Murray by ‘n konferensie gepreek.  Die gehoor het applous gegee toe hy na die kansel toe opstap.  Hy het die gehoor dadelik stil gemaak, omdat die eer Jesus alleen toekom.  So het Paulus gedoen in die verse wat volg.

 

Paulus het die Korintiërs herinner dat Christus nie verdeeld is nie.  Hulle was alreeds een in die Here.  Dit was nie nodig dat hulle die eenheid moes skep nie – hulle moes dit net bewaar (Efesiërs 4:3).  Jesus het hulle sonde op Homself geneem aan die kruis.  Hulle moes Hóm aanbid en nie vir Paulus nie.  Hulle is nie in Paulus se naam gedoop nie, maar in Jesus se Naam (Handelinge 2:38, Matteus 28:19).  Hulle was dus met Hom verenig en nie met Paulus nie.  Om dan ‘n menslike leier na te volg was sinneloos.  Toe Martin Luther hoor dat ‘n Protestantse groep na hom vernoem is, het hy gesê:  ‘What is Luther?  The teaching is not mine.  Nor was I crucified for anyone… How did I, poor stinking bag of maggots that I am, come to the point where people call the children of Christ by my evil name?’[3]

 

As Paulus sy eie kultus wou begin het, sou hy mense in sy naam gedoop het.  Maar hy het nie.  In sy bediening het hy minder as ‘n halfdosyn mense gedoop.  Onder hulle was Crispus, Gajus, en die huisgesin van Stefanas (16:15, 17, Handelinge 2:41, 18:7-8, 16:30-34, Romeine 16:23).  By ‘n vergadering het ek gesê dat ek na bekerings smag, maar niks sien nie.  Agter my het ‘n predikant opgestaan en geroem dat hy in een jaar 400 mense na die Here toe gelei het.  Paulus was nie so nie.  Hy het nie rekord gehou van hoeveel mense hy gedoop het, sodat hy daarin kon roem nie.  Sy fokus was nie om suksesvol te wees nie, maar getrou.

 

Ja, Jesus het vir die kerk gesê om dissipels te doop (Matteus 28:19).  Maar dit was nie Paulus se fokus nie.  My vriend is ‘n sendeling.  ‘n Sendeling wat in die omgewing werk het vir hom gesê dat die doop deel is van die evangelie, en dat iemand wat nie gedoop is nie, nie gered kan word nie.  Dis onsin.  Die doop is ‘n uitdrukking van die evangelie en nie ‘n deel daarvan nie.  Paulus sê so in v.17:  “Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig”.

 

Hoe het Paulus die evangelie verkondig?  “nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.” (v.17).  Paulus wou nie so fantasties preek, dat hy die aandag op homself gevestig het nie (2:1, 4, 13, 2 Korintiërs 10:10, 11:6).  Die aandag moes op die evangelie wees, omdat dít die krag van God is om sondaars te red.

 

Bevorder evangelie eenheid.  Alvorens jy dit kan doen moet jy weet wat dit is.  Evangelie eenheid is die eenheid wat ons in die evangelie het; die eenheid wat Jesus deur sy kruisdood bewerk het (Efesiërs 2:16-18, Johannes 17:21).  Is dit dan moontlik om een te wees met mense wat die evangelie verwerp?  Die Skrif sê:

 

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?  Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het:  Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” (2 Korintiërs 6:14-16).

 

Ons is nie broers met Moslems, Hindus, Jehova’s Getuies, en ander wat die Bybelse evangelie verwerp nie.  Ons moenie intergeloof samekomste of bidure hou soos wat hulle by Nelson Mandela se gedenkdiens gedoen het nie.  Laat ons eerder ons gawes gebruik om die eenheid in die liggaam van Christus te bevorder (Efesiërs 4:11-13).  In die kerk moet die evangelie en leerstellings wat daarmee verband hou die basis vir ons eenheid wees.  Wees ernstig oor ander leerstellings, maar moenie dat dit die basis vir ons eenheid vorm nie.  Ons moet byvoorbeeld nie net een wees met ander Baptiste nie.

 

Waarom is evangelie eenheid so belangrik?  Om mense van ander godsdienste as broers te omhels, skep verwarring oor die evangelie.  Ons eenheid moet met ander Christene wees.  Dan sal die wêreld weet ons is sy dissipels.  “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Johannes 13:34-35).

 

Iemand het ‘n tyd gelede vir my vertel van ‘n predikant wat ek ken:  ‘Hy vat dit baie swaar en huil as mense uit die gemeente bedank.’  Ek vind dit ook sleg as mense bedank, maar ek het nie verstaan hoekom dit vir hom só erg is nie.  Ek dink ek begin nou verstaan hoekom.

[1] Die Griekse word vir vermaan [parakaleo] beteken ‘om tot langs jou te roep’.

[2] Cefas is ‘n ander naam vir Petrus (sien Johannes 1:43).

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.49

Twee perspektiewe op die kruis

Old and young woman

Het jy al ooit hierdie prent van die vrou gesien wat tegelykertyd oud en jonk lyk – dit hang af van hoe jy daarna kyk?  So is dit met die kruis:  dit kan haatlik óf lieflik wees – dit hang af van hoe jy daarna kyk.  Vir party is die kruis ‘n walglike stank van dwaasheid en dood.  Vir ander is dit die lieflike soet aroma van vergifnis en lewe (1 Korintiërs 2:16).  So verduidelik Paulus dit in 1 Korintiërs 1:18-25.

 

Die ongelowige se perspektief

In ‘n welbekende skets in Rome staan Alexamenos voor die gekruisigde figuur van ‘n man met ‘n donkie se kop.  Onderaan is die inskripsie:  ‘Alexamenos aanbid sy god.’[1]  So is dit vandag.  ‘n Buddhis in Nelspruit het met die kruis gespot.  Hy het gesê dis soos ‘n pa wat ‘n ry ertjies langs die straat pak, een ertjie optel terwyl hy sê:  ‘Ek is lief vir hierdie ertjie,’ en dan sy seun doodskiet.  In my hoërskool jare het ‘n seun in my klas ‘n Slayer t-hemp gehad met een of ander gedrog op wat aan ‘n kruis hang.  By ‘n seminaar in Pretoria het John Dominic Crossan oor die kruis gesê:  ‘It is cosmic child abuse.  We should love a Son like that, but we should hate a Father like that.’  Dis nog altyd so dat dié wat verlore gaan met die kruis spot.

 

Vir dié wat verlore gaan is die evangelie van die kruis skandelik en dwaas (v.18).  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (2:14).  “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan” (2 Korintiërs 4:3).  Vir iemand om in die kruis te roem is vir hulle soos ‘n persoon wat in ‘n elektriese stoel roem.

 

Mense wil hulleself red.  Maar die mens se slim planne om homself te red het nog nooit die Here beïndruk nie (v.19).  In die Ou Testament is Jerusalem deur die vyand omsingel (Jesaja 29:3).  Maar eerder as om na die Here toe te gaan, het hulle Egipte vir hulp gevra (Jesaja 30:2).  God sou die wysheid van hulle wat dié ‘slim’ plan uitgedink het, vernietig (v.19, Jesaja 29:14).  Mense se slim planne en elegante politieke toesprake kon nog nooit sonde uit die mens se hart verwyder, of ‘n samelewing verander nie.  Die evangelie kon en het.  In vergelyking met die kragtige evangelie lyk mense se wysheid kragteloos en dwaas.  Die wêreld gee voor dat hulle wys is, maar die waarheid is dat hulle dwaas is (Romeine 1:22).  Paulus is reg as hy sê:  “Waar bly die wyse?  Waar bly die skrifgeleerde?  Waar die redetwister van hierdie eeu?  Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (v.20).  ‘The world has had enough teachers, it needs a Redeemer.’[2]

 

Op ‘n tegnologiese vlak neem die moderne mens reuse spronge.  Tog kon die mens in sy wysheid nog nooit die Here bereik nie (v.21, Genesis 11:1-9).  God sal dit ook nie toelaat nie, sodat niemand in homself mag roem nie (v.29).  Juis daarom het God “hierdie dinge verberg…vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar” (Matteus 11:25).

 

Die Jode het tekens gesoek voordat hulle sou glo (v.22, Matteus 12:38).  Hulle het ‘n Messias gesoek wat die Romeine kon verslaan, en het daarom aanstoot geneem toe hulle hoor van ‘n Messias wat ‘n vervloekte kruisdood aan die hande van die Romeine gesterf het (v.23, Galasiërs 3:13, 1 Petrus 2:8).  Anders as die Jode, het die Grieke die wysheid van menslike filosofie gesoek (v.22).  Vir hulle was die idee van ‘n gekruisigde God dwaasheid (v.23).

 

Moenie met die kruis spot nie.  Pasop dat jy nie te gou sê:  ‘Ek sal nooit so iets doen nie.’  Dalk doen jy dit nie eksplisiet nie, maar ons doen dit sonder dat ons dit agterkom.

 

[1] Jy doen dit as jy jouself op die skouer klop, of dink dat die Here jou aanvaar omdat jy gedissiplineerd is in jou Bybelstudie, gebed, vas, gee van tiendes, diensbaarheid, getroue kerkbywoning, of versorging van die armes.  “want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.” (Galasiërs 2:21).  As jy so dink verskil jy nie van die ongelowige wat my kar verniet regmaak en sê:  ‘Dis mý deel vir die Here’ nie.

 

[2] Jy doen dit as jy van die kruis vergeet en op jou eie pogings staatmaak om heilig te word.  “Galásiërs… julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig?… Is julle so onverstandig?  Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Galasiërs 3:1, 3).

 

[3] Jy doen dit as jy dink dat jy beter is as ander wat nie die reëls van jóú groep nakom nie.  Hier praat ons van mense wat op ander neersien, omdat hulle nie die Ou Testament feeste hou, Jesua en Jahwe sê, op Saterdae kerk toe gaan nie.  Die Hebrew Roots Movement en ander kultusse is skuldig.  Vir hulle is geloof in die gekruisigde Jesus nie genoeg nie.  Hulle minag eintlik die kruis.  Paulus skryf in Kolossense 2:16-17:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”

 

[4] Jy doen dit as jy op uiterlike rites soos die doop of die besnydenis vertrou, en nie op Jesus se kruisdood nie.  Galasiërs 5:11 sê:  “Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig!”

 

[5] Jy doen dit as jy dink Jesus se kruisdood is nie genoeg om jóú groot sonde te vergewe nie; as jy werke wil byvoeg om God se guns te verdien:  ‘Ek moet eers my lewe regkry, ophou rook, ens.’

 

Iemand wat met die kruis spot en daarvan af wegdraai, doen dit tot sy of haar eie ondergang.  Die Skrif waarsku:  ‘Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?’ (Hebreërs 10:26, 29).

 

Die gelowige se perspektief

In 312 n.C. het die Romeinse keiser, Konstantyn, Italië binnegeval om teen Maxentius te veg en die Weste te verower.  Maxentius was in Rome en het uit die stad uitgekom om by die Mulvian brug teen Konstantyn te veg.  Die aand voor die oorlog het Konstantyn in ‘n droom Jesus se voorletters gesien met dié woorde onderaan:  ‘Deur dié teken sal jy oorwin.’  Hy het die aanbidding van die songod gelos, besluit om die Christelike God te vertrou, en die Christus monogram (die simbool voor op die NG-Kerk se Psalms en Gesange boek) op sy soldate se skilde geverf.  Maxentius het die oorlog en sy lewe verloor.  Toe Konstantyn in Rome inkom, het hy nie die Romeinse gode vereer nie, maar vir Christus geprys.[3]

 

Is dit wat Paulus bedoel as hy sê dat die kruis die krag van God is?  Glad nie.  Die kruis is die krag van God wat ons van sonde en God se oordeel red (v.18, Romeine 1:16).  Die Grieks dui aan dat die kruis besig is om ons te red (vgl. 15:2).  God red ons deur dié boodskap wat vir die wêreld dwaas is.  God red ons deur die inhoud van evangelie-prediking, en nie deur die styl nie.  As Hy wil, kan God ‘n vervelige prediker gebruik om mense na Homself toe te trek.  Jonathan Edwards se styl was nie baie boeiend nie, en tog het die Here deur sy prediking ‘n herlewing laat uitbreek.

 

God is soos ‘n sterk houtkapper wat ‘n groot boom met ‘n stomp byl afkap.  Ons prys nie die byl nie, maar die sterk houtkapper.  God red ons deur die swakheid van die kruis.  Sodoende kry Hy meer lof as wat Hy sou kry, as Hy ons deur menselike wysheid gered het.  Om te verhoed dat mense roem, red God sondaars deurdat hulle die eenvoudige boodskap van die kruis glo (v.21, 23).  Dís die boodskap dat Jesus die straf gekry het wat ons verdien (Galasiërs 3:13, 2 Korintiërs 5:21).  Weer leer die Griekse teks vir ons dat God diegene red wat aanhou om in Jesus te glo (v.21).

 

As God iemand na Homself toe roep, verander die aanstootlike boodskap van die kruis in ‘n soet geur van vergifnis en lewe.  Skielik besef die sondaar dat die ‘swak’ en ‘dwase’ Christus groter is as die grootste teken, krag, of wysheid van mense:  “maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke:  Christus, die krag van God en die wysheid van God.  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.” (v.24-25).  Jesus is die skatkis van al God se wysheid (Kolossense 2:3).  Hy lewe in krag, “Want al is Hy gekruisig uit swakheid, lewe Hy tog uit die krag van God.  Want ons is ook swak in Hom, maar ons sal saam met Hom vir julle lewe deur die krag van God.” (2 Korintiërs 13:4).

 

Sien opnuut God se krag in die kruis.  Ek bedoel nie jy moet bygelowig wees nie.  Dra ‘n goue kruisie om jou nek as jy wil, maar moet dit nie soen en dink dat dit vir jou geluk bring nie.  Moenie na ‘n kruis in die kerk kyk en dink dat dit vir jou krag vir die week moet gee nie.  Moenie ‘n kruis langs jou bed sit en daarop vertrou, of die teken van ‘n kruis op jou voorkop maak en glo dat dit jou beskerm nie.  Moenie dink dat die kruis jou van ongeluk vrywaar, sodat jy die bloed van die kruis oor jou kar, huis of kinders pleit nie.  Waar sien jy dit in die Bybel?  God bewerk die krag van die kruis in ons lewens wanneer ons die boodskap van die kruis in die Skrif lees, in preke hoor, daaroor bid, dit in die nagmaal herdenk, daarvan sing, ons sonde op grond daarvan bely, en daaroor nadink.

 

Dink jy nogsteeds jy kan sonder die kruis klaarkom?  Ek hoop die volgende paragraaf help jou.  God is heilig en haat dit dat jy ‘n veer voel vir sy wet, vir jouself lewe, hoogmoedig is, op ander trap om bo uit te kom, die applous van mense begeer wat Hom alleen toekom, jouself oorgee om soos ‘n dier deur jou luste beheer te word, jou eie lewe wil regeer, sy Woord oordeel om by jóú aan te pas.  As God jou oordeel sal dit regverdig wees.  Jý verdien om deur mense geslag en God verlaat te word aan die kruis.  Oneindige liefde het gemaak dat Hy die straf kry wat jý verdien; dat Hy al jou sonde vergewe.  As dít nie maak dat jy God terug liefhet nie, is jy erger as die duiwel (1 Johannes 4:19).  As jy nie God se verlossingskrag in die kruis sien nie is jy in die moeilikheid, want nét die kruis kan God se toorn bedaar, vrede maak tussen jou en God, en jou gewete reinig (Romeine 3:25, Kolossense 1:20, Hebreërs 9:14).

 

Ek hoop dat elkeen wat hierdie preek hoor of lees net één perspektief sal hê op die kruis:

 

Oh, to see the dawn,

Of the darkest day:

Christ on the road to Calvary.

Tried by sinful men,

Torn and beaten, then

Nailed to a cross of wood.

This, the power of the cross:

Christ became sin for us;

Took the blame, bore the wrath –

We stand forgiven at the cross.

Oh, to see the pain

Written on Your face,

Bearing the awesome weight of sin.

Every bitter thought,

Every evil deed

Crowning Your bloodstained brow.

Now the daylight flees;

Now the ground beneath

Quakes as its Maker bows His head.

Curtain torn in two

Dead are raised to life;

“Finished!” the victory cry.

Oh, to see my name

Written in the wounds,

For through Your suffering I am free.

Death is crushed to death;

Life is mine to live,

Won through Your selfless love.

This, the power of the cross:

Son of God – slain for us

What a love! What a cost!

We stand forgiven at the cross.

–Keith Getty & Stuart Townend–

[1]Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.43

[2] Ibid

[3] Williston Walker, A History of the Christian Church (4th Edition), pp.124-125

Die kerk: God se oogappel

Apple of my eye

Waaraan dink jy as jy die woord ‘kerk’ hoor?  ‘n Gebou met ‘n spits toring, ou hout banke, en ‘n groot kansel?  Samesang, offergawes, gebede, en ‘n lang preek?  Kispakke, dasse en sykouse?  Sondae?  ‘n Denominasie of sinode?  Wat sê die 1 Korintiërs 1:1-9?

 

Haar Hoof (v.1-2)

By ‘n begrafnis het ‘n vreemde man vir my gevra:  ‘Wie is die hoof van die Baptistekerk?’  Ek het nie sy vraag verstaan nie.  ‘Bedoel oom, wie is die leier van dié kerk, of wie is die president van die assosiasie?’ het ek gevra.  ‘Nee, wie is die hoof van die Baptistekerk?’ het hy weer gesê.  Hy het gejubel toe ek ‘Jesus Christus’ antwoord.

 

‘n Kollega van my moes vorms invul vir belasting-kwytskelding van die kerk.  Op die vorm wou hulle weet wie die CEO en Direkteure van die kerk is.  Hy het ingevul:  die Vader, die Seun, en die Heilige Gees.  Jy kan raai dat die vrou nie die vorm wou aanvaar nie.  Maar dis waar:  God is die Hoof van die kerk.

 

God het deur sy soewereine wil vir Paulus geroep om ‘n apostel[1] te wees.  Uit Handelinge 9 onthou ons hoe Jesus hom op die pad na Damaskus voorgekeer het; hoe Hy hom gered en geroep het.  Sosthenes het vir Paulus gehelp om die brief te skryf.  Hy was seker Paulus se sekretaris.  In Handelinge 18:17 lees ons dat hy die leier van die sinagoge in Korinte was.  Op daardie stadium was hy nog Paulus se vyand.  Hy het egter intussen tot bekering gekom en soveel gegroei, dat hy een van Paulus se mede-werkers geword het.

 

Paulus skryf sy brief aan die kerk van God in Korinte.  Die kerk behoort aan Hom.  In v.2 noem Paulus Hom ‘ons Here Jesus Christus’.  Baie lê opgesluit in dié frase.  ‘Here’ impliseer dat Hy die soewereine Hoof en Regeerder van die kerk is (Efesiërs 1:22).  Jesus beteken Verlosser – Hy het die kerk met sy eie bloed gekoop en só as eiendom verkry (Handelinge 20:28).  Christus beteken ‘gesalfde’ en is dieselfde as Messias.  In die Ou Testament is konings, profete, en priesters met olie gesalf.  As Koning regeer Jesus oor die kerk (Matteus 28:18).  As Profeet openbaar Hy God se wil en leer Hy ons deur sy Gees (Johannes 16:13-15).  As Priester bring Hy die offer vir ons sondes en tree Hy vir ons in (Hebreërs 7:25, 10:21-22).

 

As v.2 sê dat God die kerk in Korinte tot stand gebring het, moet jy jou nie veel steur aan mense wat sê die kerk is ‘n mens-gemaakte instelling nie.  Buig die knie voor Jesus, die Hoof van die kerk.  Hoe doen ‘n mens dit prakties?  Jy onderwerp jou aan sy Gees wat ons in die Woord lei.  Die Pous is nie die hoof van die kerk nie.  Die Uitvoerende Komitee of President van ons Assosiasie is nie die hoof van die kerk nie.  ‘n Sekere bekende kerkleier (soos Calvyn, John Wesley, of MacArhur) is nie die hoof van die kerk nie.  ‘n Predikant met ‘n sterk persoonlikheid is nie die hoof van die kerk nie.  Leiers uit verskillende bedieninge wat die ‘kerkraad’ vorm is nie die hoof van die kerk nie.  Die kerk is nie ‘n demokrasie, waarin die gemeente die hoof is nie.  Jesus alleen is die Hoof.  Hy het ouderlinge aangestel om sy Woord aan die gemeente te leer en hulle daarin te lei.  In soverre hulle dit doen moet gelowiges hulle leiers eer, volg, en gehoorsaam (1 Timoteus 5:17, Hebreërs 13:17).  ‘n Christen wat sulke leiers volg is ook aan Jesus onderdanig (Hebreërs 13:7, 1 Korintiërs 4:16, 11:1).  Omdat die kerk aan Jesus behoort het Hy die reg om te sê hoe dit bestuur moet word.

 

Haar lede (v.2, 9b)

Deur die boeke wat hy geskryf het, het Arthur Pink die kerk ‘n guns gedoen.  Tog het hy ‘n groot blaps gemaak deur nie by ‘n kerk in te skakel nie.  Hy het baie foute in die kerk gesien en gedink dat dit beter is om by die huis te bly en sy Bybel te lees.  Hy het in 1931 geskryf:  ‘We have travelled completely around the world, and ministered the Word in many places but there is no church known to us where we could hold membership.’[2]  Dis hartseer.  Die Bybel leer dat ons deel moet wees van ‘n plaaslike liggaam.  So te sê elke brief in die Nuwe Testament is aan kerke of hulle leraars geskryf.  Daar is meer as vyftig ‘mekaar-opdragte’ in die Nuwe Testament (dra mekaar se laste, wees lief vir mekaar, bid vir mekaar, vergewe mekaar, vermaan mekaar, ens.).  Hoe kan jy dit effektief uitvoer as jy nie deel is van ‘n gemeente nie?  Matteus 18:15-17 sê dat ons kerkdissipline moet toepas.  Hebreërs 13:17 sê jy moet jou geestelike leiers gehoorsaam.  1 Korintiërs 11:17-34 sê ons moet die nagmaal saam met ander gelowiges herdenk.  Hoe kan jy enige van hierdie dinge doen as jy nie deel is van ‘n gemeente nie?  Dit is duidelik dat hulle in die vroeë kerk geweet het wie deel was van die gemeente en wie nie (Handelinge 2:41, 4:4, 5:13-14, Romeine 16:1).

 

Die Griekse woord vir kerk is ekklesia en beteken letterlik ‘uitgeroep’.  Korinte was ‘n bose stad.  Op ‘n berg buite die stad was ‘n tempel aan Venus, die godin van liefde.  ‘n Duisend tempel prostitute het elke aand na die stad toe gekom om hulle ‘dienste’ aan te bied.  Volgens 6:9-11 het die Korintiër-Christene op ‘n tyd deel gehad hierin, asook in baie ander sondes, maar nou het God hulle uit die wêreld uitgeroep (ekklesia) om aan Homself te behoort.  Hy het hulle afgesonder.  Dit is immers wat ‘geheiligdes’ beteken.  Dis nie dat hulle op ‘n morele vlak volmaak heilig was nie.  Maar deur Jesus se perfekte heiligheid het God hulle as volmaak beskou.  Die Katolieke lering om sekere mense as heiliges (‘saints’) uit te sonder is onbybels.  Volgens dié vers is elke gelowige ‘n heilige.  God het hulle hiertoe geroep.  Wat is dié roeping?

 

Die sondaar is geestelik dood.  Wanneer iemand die evangelie preek, dan roep God sy uitverkorenes tot nuwe lewe (Romeine 8:30).  Die sondaar sien hy is verlore, sodat hy desperaat uitroep dat God hom sal red (Romeine 10:13).  Sy uitroep is dus ‘n reaksie op God se innerlike roeping.  Daarom praat Paulus van die Korintiërs as “geroepe heiliges… wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep” (v.2).

 

Hoekom het God ons geroep?  As God jou geroep het sal jy dien.  Tog is jy nie primêr geroep om soos Marta te dien nie, maar om soos Maria by Jesus se voete te sit en gemeenskap met Hom te geniet (Lukas 10:38-42, 1 Johannes 1:3, Openbaring 21:3).  In v.9 sê Paulus dat “julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.”

 

Paulus praat in v.2 van die kerk in Korinte, maar ook van gelowiges wat Jesus se Naam in elke plek aanroep.  Teoloë praat van die sigbare en onsigbare kerk.  Die onsigbare kerk is die kerk soos wat God dit sien:  gelowiges uit alle eeue en op alle plekke.  Dis wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het:  ‘Ek sal my kerk bou’ (Matteus 16:18).  Hebreërs 12:23 verwys na Christene in die hemel as ‘die gemeente’.  Paulus sê in 2 Timoteus 2:19:  “Die Here ken die wat syne is”.  As die Korintiërs dít verstaan dan sal dit die eenheid in hulle gemeente help (v.10).  Die sigbare kerk is die kerk soos wat ons dit sien.  Die sigbare kerk bestaan uit dié wat ‘n geloofwaardige getuienis van redding het, en wie se lewe bewys dat hulle gered is.  Natuurlik sal daar altyd vals gelowiges insluip, maar sover ons dit kan help moet nét gelowiges lidmate word.  Augustinus het oor die onsigbare kerk gesê:  ‘Many sheep are without and many wolves are within.’[3]

 

Moenie lidmaatskap verag en sê dat dit bloot ‘n formaliteit is nie.  Beskou dit as ‘n voorreg.  Is jy ‘n besoeker met ‘n geloofwaardige getuienis?  Is die vrug van bekering sigbaar in jou lewe?  Word ‘n lidmaat.  Praat met die ouderlinge.  Kom Vrydag 19:00 na ons lidmaatskapklas toe.  Staan die doop in jou pad?  In v.13-17 neem Paulus aan dat die Korintiërs gedoop is.  Matteus 28:19 sê dat dissipels gedoop moet word.  In Handelinge 2:41 word almal wat tot bekering gekom het, gedoop en by die gemeente gevoeg.  Moenie wegbly as jy vrae het oor die doop nie.  Praat met my – ek help graag.  Is jy ‘n lidmaat wat verslap het?  Ondersoek jouself of jy gered is.  Indien jy gered is moet jy jouself weer aan jou roeping herinner (v.2, 9b).  Reageer in liefde en gehoorsaamheid.  God het die kerk lief.  Wees soos Hy.  Lê jy te veel klem op die onsigbare kerk, sodat die sigbare kerk vir jou onbelangrik geword het?  Vers 2 maak duidelik dat die sigbare kerk vir God belangrik is.  Die vroeë kerk het hullself toegewy aan geestelike gemeenskap (Handelinge 2:42).  Is jy ‘n lidmaat of besoeker wat nog nie gered is nie?  Bekeer jou en glo die evangelie.  Mense wat lidmate is maar soos ongelowiges in sonde volhard, moet deur kerkdissipline uit die gemeente verwyder word (Matteus 18:17).  Ek verstaan nie hoe mense sê dat hulle deel het aan Jesus (die Hoof), maar nie deel het aan sy liggaam nie?  Hoe wil hulle in die hemel gemeenskap hê met ander gelowiges, as hulle dit nie op die aarde doen nie?

 

Haar gawes (v.3-7a)

In Junie 1972 het Lowell Sanders ‘n artikel in Moody Monthly (‘n nasionale Christelike tydskrif in Amerika) geskryf.  Die titel was:  ‘The Church with 900 Ministers’.  Die artikel het gegaan oor Grace Community Church in Los Angeles.  Sanders was verbaas dat al 900 lidmate betrokke was in die kerk.  As lidmate met ‘n voorstel gekom het om iets in die kerk te doen, het die predikant gesê:  ‘Gaan doen dit!’[4]  Soos in dié kerk was die gelowiges in Korinte nie toeskouers op ‘n Sondag nie – hulle was betrokke.

 

Die Vader en die Seun het reddende genade aan die Korintiërs gegee, asook genade om die brief te gehoorsaam (v.3).  God het sy Seun gestuur, sodat ook hulle deur sy kruisdood vrede met God en mekaar kon hê (v.3).  Ten spyte van die probleme in die kerk, was Paulus dankbaar vir die genadegawes wat God aan hulle gegee het (v.4).  In Christus was hulle verryk in woorde en kennis (v.5).  Hulle het gawes gehad om die Woord te verstaan en vir ander te leer (12:8-10, Romeine 15:14).  Hulle het geen rede gehad om in hulleself te roem nie, want hulle gawes was ‘n geskenk van God (4:7)!  Die gawes was ‘n bewys dat die evangelie effektief in hulle gewerk het (v.6).  Hulle kon immers nie hierdie gawes ontvang het as hulle nie ware gelowiges was nie.  Die kerk het al die gawes gehad wat nodig was vir húlle spesifiek behoeftes (v.7a).  So doen God vir elke kerk.  Daarom is daar gawes in Rome wat verskil van die gawes in Korinte (12:8-10, 28-30, Romeine 12:6-8).

 

Gebruik jou gawe om in die gemeente te dien.  Groet besoekers, pak tafels en stoele uit vir teetyd, besoek die siekes, lees die Bybel en bid saam met ‘n ander gelowige – doen iets!  As jy net eers begin sal die Heilige Gees jou verder lei.  Kyk waar jy nood sien en help daar.  Doen dit wat jy geniet en goed doen; iets waarvan ander sê jy doen dit goed.  Bid vir wysheid hoe jy jou gawe kan gebruik.  Ons moet wegbreek van die idee dat lidmate toeskouers is, en dat die predikant betaal word om die werk te doen.  Hoekom is dit belangrik dat jy jou gawe moet gebruik?

 

Haar hoop (v.7b-9a)

Ek onthou hoe my graad 3 juffrou vir ons gesê het dat die inspekteur skool toe kom, en dat alles netjies en gereed moet wees.  Dit het ons gedryf om hard te werk en alles reg te kry.  Is dit nie ook so met Jesus se wederkoms nie?  Sal dit jou help om beter te dien en meer getrou te wees, as jy geweet het Jesus kom voor die einde van 2016?

 

Die hoop dat Jesus weer gaan kom om die ontroues te oordeel en sy kinders te beloon, dryf ons om getrou te wees en te dien (v.7).  Dis hoe Hebreërs 10:25 ons aanspoor om getrou te wees:  “laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”  In die gelykenis van die talente gebruik Jesus dieselfde argument (Matteus 25:14-30).  Jesus belowe om die Korintiërs vlekkeloos te laat vasstaan tot by sy wederkoms – al woon hulle in so ‘n goddelose stad (v.8).  Hoe sal Hy dit doen?  Hy doen dit deurdat hulle deel is van ‘n gemeente waar hulle getrou hulle gawes gebruik om mekaar op te bou (v.7-8).  God is getrou en sal verseker dat hulle tot die einde toe volhard (v.9a).  “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6).  “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!  Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” (1 Tessalonisense 5:23-24).

 

Hou hierdie hoop vooroë.  Jy sal dit net regkry as jy weet wat om by sy koms te verwag; as jy weet wat Hy van jou verwag.  In 3:12-15 skryf Paulus:  “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

 

Op die oordeelsdag gaan Jesus sy kinders beloon (4:5, 2 Korintiërs 5:10).  Vir Hom is dit nie belangrik hoeveel gawes jy gehad het nie, maar wat jy gedoen het met die gawes wat Hy vir jou gegee het.  Iemand wat sy een gawe ten volle gebruik het, sal ‘n groter beloning ontvang as die persoon wat sy vyf gawes in die sand begrawe het.  As jy van die hoop vergeet sal jy laks raak en dalk selfs opgee.

 

Wayne Mack het vir ons geleer dat ‘n man wat sê hy het sy vrou lief, maar haar gedurig sleg behandel, ‘n leuenaar is.  Sy dade weerspreek sy woorde.  Sê jou dade (nie jou woorde nie) dat die kerk vir jou baie belangrik is?  Is dit vir jou so kosbaar soos wat dit vir God is?

[1] Die Griekse woord apostolos beteken boodskapper, gestuurde, of ambassadeur.

[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.142

[3] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 1994, 2000, p.857

[4] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, p.36

Perspektief in beproewing

Kitten next to lion

Ek was beïndruk toe ek ‘n prent sien van hoe klein die aarde teen die son is.  Die son is massief… totdat jy dit langs die grootste sterre sien.  Skielik is die son nie eers ‘n spikkel nie.  So is dit met beproewing.  Jou probleme is groot en verwarrend… totdat jy dit langs God sien.  Skielik is dit gering.  Dis wat God vir ons wil leer in Eksodus 4:18-6:8.

 

God se dissipline (4:18-31)

Toe my hond jonger was het hy gereeld die swartsakke geskeur en die rommel op die grasperk gestrooi.  As ek in die oggend na die rommel toe gestap het, het hy stert-tussen-die-bene weggesluip.  Hy het geweet dat hy gestraf gaan word.  Is dit nie so in ons verhouding met God nie?  Het dit al ooit met jou gebeur, dat wanneer dinge in jou lewe skeefloop, jy dadelik besef dat God jou dissiplineer – jy weet presies wat jy verkeerd gedoen het?  So was dit met Moses in Eksodus 4.

 

Moses was vir 40 jaar by Jetro in Midian (Handelinge 7:30).  Nou wou hy weer Egipte toe gaan om te sien of sy broers nog lewe.  Sy skoonpa het hom in vrede laat gaan (vgl. Gen.24:54).  Vir ‘n oomblik het Moses gehuiwer.  God het hom verseker dat hy veilig was:  “Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” (v.19, vgl. 2:15, 23, Matteus 2:20).  Moses het die staf saamgevat waarmee God die wondertekens sou doen (v.20-21, 17).

 

God het vooraf vir Moses gesê dat Hy Farao se hart sou verhard, sodat hy die volk nie sou laat trek nie.  ‘Was God nie onregverdig en verantwoordelik vir Farao se sonde toe Hy sy hart verhard het nie?’ vra iemand.  Nee.  Farao en die hele Egipte het hom as ‘n god beskou.  Hy was dus reeds in rebellie teen God.  Toe God Farao se hart verhard het, was dit nie teen sy eie wil nie.  Hy wóú homself teen die Here verset.  God het dus vir hom gegee wat hy wou gehad het.  Farao was soos klei in die son.  Die klei word hard, omdat daar iets in die klei is wat dit so maak.  ‘n Blok ys sou smelt as jy dit in die son sit.  Die klei sal hard word as jy dit in ‘n donker vertrek los.  Die son laat dit net vinniger gebeur.  So was dit met Farao se hart.  God het hom nie sleg gemaak nie.  Die sonde was reeds in sy eie hart.  God het hom net oorgegee aan dit wat alreeds in hom was.  Daarom kan hfst.7-14 sê dat Farao sy eie hart verhard het, dat God dit verhard het, of dat dit verhard geraak het (7:3, 13-14, 22, 8:15, 19, 32, 9:7, 12, 34-35, 10:1, 20, 27, 11:10, 14:4, 8).  God is barmhartig oor wie Hy wil wees en verhard wie Hy wil (Romeine 9:18, Johannes 12:40).

 

Die Egiptenare het geglo dat Farao se hart die geskiedenis en die samelewing beheer het.  Hulle het ook geglo dat die gode, Ra en Horus, se harte soewerein was oor alles.  Volgens hulle was Farao die inkarnasie van dié twee gode; dus was sy hart soewerein oor die skepping.  Deur die verharding van Farao se hart, wys God dat Hý die heelal en die geskiedenis beheer, en dat Hy sterker is as die gode van Egipte.[1]

 

As gevolg van die verharding van sy hart, sou Farao nie vir Moses luister nie (v.21).  Daarom moes Moses sê:  ‘Israel is my eersgebore seun.  Laat hom dan nou gaan.  As eersgeborene sal hy die Beloofde Land as erfdeel verkry.  As jy hom nie vrylaat nie sal Ek jóú eersgebore seun, die opvolger tot die troon, doodmaak (vgl. v.22-23, 12:29).

 

Oppad Egipte toe wou die Here hom doodmaak.  Wie is die ‘hom’?  Is dit Moses of sy seun?  Hoekom wou die Here hom doodmaak?  Moses kon nie die volk lei as hy self ongehoorsaam was aan God se verbond nie.  Reeds in Genesis 17:10, 14 het God gesê:  “Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou:  Al wat manlik onder julle is, moet besny word… En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word:  hy het my verbond verbreek.”  Het Moses of sy seun dalk dodelik siek geraak?  Ons weet nie.  Moses se vrou het ingetree en haar seun besny.  Sy het die bebloede voorhuid aan sy voete laat raak.  Toe sy dit doen het die Here hom gelos.  Daarom het sy hom ‘n bruidegom van bloed genoem.  Moontlik het sy vrou en kinders na dié insident vir ‘n tydjie teruggegaan het Midian toe (vgl. 18:2-3).

 

Toe Aäron vir Moses sien, was hy bly.  Moses en sy broer het die ouderlinge van die volk bymekaar geroep en al die Here se woorde en tekens aan hulle voorgehou (v.27-30, vgl. v.14-16, 3:16).  “En die volk het geglo.  En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (v.31).

 

Tutig die Here jou vir ‘n spesifieke sonde?  Los dan daardie sonde.  Moenie dink dat jou sonde klein is nie, maar sien dat die Here dit haat, dat dit ernstig is vir Hom.  As jy dit nie so beskou nie, sal jy nie gemotiveer wees om jou te bekeer nie.  Moenie met die Here maak soos motoriste met verkeersbeamptes maak nie.  As hulle oortree en die verkeersbeampte vir hulle ‘n boete skryf, dan is hulle kwaad vir hom en nie vir hulleself nie.  Moenie kwaad wees as die Here jou tugtig nie.  Wees kwaad vir jouself omdat jy sonde doen.  Moenie sê:  ‘Dit kan nie die Here wees wat my tugtig nie.  Die God wat ék dien sal my nie só tugtig nie.’  As jy só dink sal jy nooit die konneksie tussen God se dissipline en jou sonde sien nie.  Dit sal maak dat jy nalaat om jou te bekeer.  Raak ontslae van die afgod wat jy vir jouself gemaak het.  Hou op om vir jou ‘n god te maak waarmee jy gemaklik is.  Vrees die ware God en bekeer jou van jou sonde.  Eers as jy dít doen, sal God sy swaar hand van tugtiging wegvat (4:26).

 

God se soewereiniteit (5:1-21)

Drie-jarige Sally hou van trollies wat ‘n klein stuurwieletjie vir kinders in het.  Sy dink dat sý die trollie beheer, maar weet nie dat haar má eintlik die trollie bestuur nie.  Farao was soos Sally:  hy’t gedink hý beheer Egipte en Israel, maar min het hy geweet dat dit Gód is wat alles beheer.  God sou Farao se rebelsheid vir Israel se voordeel en sy eie eer gebruik.

 

God het deur Moses en Aäron vir Farao gesê dat Israel sý volk was, en dat hy hulle moes vrylaat om Hom in die woestyn te aanbid.  Farao het geglo dat hy ‘n god was.  ‘Wie is die Here – ek ken Hom nie?’ het hy gesê (2 Konings 18:35, Job 21:15).  Sy onkunde oor God het gemaak dat hy ongehoorsaam was.  God wou hê Israel moes offers in die woestyn bring.  Dié offers sou keer dat God hulle met plae of met die swaard tref.  Die Israeliete was immers sondaars en het vergifnis nodig gehad.  Farao het die Here ontken en gesê dat Moses en Aäron eintlik net die volk van hulle slawe-arbeid wou wegvat.  ‘Julle is lui,’ het hy gesê.  Hy het die werkslading verdubbel om so te wys dat Israel sý slawe was; dat hulle nie aan die Here behoort het nie.  Die volk moes nou nie net meer stene maak nie.  Hulle moes ook hooi versamel dieselfde hoeveelheid stene maak.

 

Die volk het uitmekaar gespat om hooi te soek, maar hulle kon net stoppels kry.  Hulle sou nooit die dag se teiken kon bereik nie.  Farao se slawedrywers het die Israelitiese voormanne geslaan.  Die voormanne het na Farao toe gekom en gekla:  “Waarom maak u so met u dienaars?” (5:15).  Moes hulle nie eerder by die Here gekla het nie?  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Spreuke 29:26).  Farao was min gepla en gesê dat hulle lui is en harder moet werk.

 

Dit is omdat Farao nie die Here geken het nie, dat hy ‘n diktator was.  Die bekende Briste ateïs, Richard Dawkins, reageer só op hierdie tipe stelling.  Hy sê dat beide Hitler en Stalin snorre gehad het.  ‘Kan ons sê dat beide mans wreed was omdat hulle snorre gehad het?  Nee.  Net so kan ons nie sê dat beide van hulle wreed was, omdat hulle ateïste was nie.’  Om so te redeneer is onsin.  Snorre bepaal nie moraliteit nie, maar wat jy glo doen wel.  Die feit dat Hitler, Stalin, Farao, en talle ander ateïstiese leiers wreed was, kan teruggelei word na die feit dat hulle die Here ontken het.  As hulle ontken dat daar ‘n God in die hemel is, is dit omdat húlle God wil wees.

 

Toe die voormanne klaar by Farao gekla het, het hulle vir Moses en Aäron gesê:  “Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.” (5:21).  So het die Israeliete gedurig teen Moses gekla (14:11, 15:24, 16:2, 17:3).

 

Kry God se perspektief in jou beproewing.  Onthou dat Hy soewerein is oor wat met jou gebeur.  Hy werk alles volgens die Raad van sy wil (Efesiërs 1:11).  Selfs die slegte dinge wat oor ons pad kom het Hý bepaal (Klaagliedere 3:37-38).  God bepaal ons siekte (Deuteronomium 32:29), finansiële probleme (1 Samuel 2:7), mense wat die lewe vir ons moeilik maak (2 Korintiërs 12:7), ons vyande (Rigters 3:1-2), gesinsprobleme (Genesis 50:20), onvrugbaarheid (1 Samuel 1:5), of jy enkel of getroud is (1 Korintiërs 7:7), mense wat jou vervolg omdat jy ‘n Christen is (1 Petrus 4:19), gebrek in jou liggaam (4:11), ‘n slegte leier – soos Farao of Jacob Zuma – wat oor jou regeer (9:16, Romeine 13:1, Spreuke 21:1).  In jou beproewing moet jy nie teen die Here rebelleer nie.  Onderwerp jou aan Hom en glo dat Hy alles vir die goeie sal uitwerk (Romeine 8:28).  Maak ook seker dat jou swaarkry nie God se dissipline oor jou sonde is nie.  As jy nie hierdie perspektief het nie, sal jy hopeloos raak en kwaad wees in jou beproewing (5:21).

 

God se verbond (5:22-6:8)

‘n Paar weke gelde het mense by ons gekuier en dié storie vertel.  ‘n Vrou wat hulle ken se kind het baie ernstig siek geraak.  Die man kon dit nie hanteer nie en het van sy vrou geskei.  Dit het nie saakgemaak dat hy voor die kansel gesê het:  ‘In siekte en gesondheid, tot die dood ons skei’ nie.  Die beproewing was vir hom te swaar.  Daarom het hy sy huweliksbeloftes geminag.  God sal dit nooit doen nie.  Wanneer beproewing kom sal Hy ons nie verlaat nie.  Hy sal getrou wees aan sy verbond.

 

Moses het tot die Here geroep en Hom vir Farao se sonde beskuldig:  “Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen?  Waarom het U my tog gestuur?  Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.” (5:22-23, vgl. Numeri 11:11, Jeremia 4:10).  God het belowe dat Hy vir Farao sou oordeel, sodat hy Israel uit Egipte sou uitdryf.  Wie is hierdie God?  Hy is die Here, EK IS wat EK IS (6:1, 3:14-15).  Dié Naam Here impliseer dat Hy soewerein is.  EK IS wys dat Hy ewig, onveranderlik, en onafhanklik is.  Hy is die Almagtige (6:2, Genesis 17:1, 35:11).  Hy is die waaragtige en getroue God wat sy verbond hou (6:3-4).  Hy is die God wat Hom oor sy kinders ontferm en hulle gebede hoor (6:4).  Hy weet alles (6:4).  Hy is kragtig en regverdig; die Verlosser van sy volk en die Regter van hulle vyande – Hy sal sy vyande oordeel om sy volk te verlos (6:5, hfst.7-12, Genesis 15:14, Deuteronomium 4:34).  God se arm is sterk van daad.  In die Nuwe Testament is Jesus die arm van die Here (Jesaja 53:1).  Om ons te verlos het God Hóm geoordeel (Matteus 27:46).

 

Wanneer God sy volk verlos, sal hulle sy volk en Hy hulle God wees (6:6).  Die gode van Egipte sou nie meer hulle gode wees nie (Esegiël 20:7), maar die Here sou hulle God wees.  So het God sy verbond aan Abraham vervul (Genesis 17:7).  In die Nuwe Testament is Christene God se volk (1 Petrus 2:9, Titus 2:14, Openbaring 21:7, Hebreërs 8:10).  Israel sou die Beloofde Land as erfdeel verkry (6:7).  Die verbond met Abraham sou finaal vervul word (Genesis 15:18).

 

Hou vas aan God se verbond.  Jy moet verstaan dat geen beproewing jou van Hom kan skei nie (Romeine 8:38-39).  Moet dan nie in jou beproewing God se liefde vir jou betwyfel, of dink dat Hy van jou vergeet het of jou sal wegwerp nie.  Draai na Hom toe en nie na mense toe nie (5:22-23, 15).  Stort jou hart uit voor die Here (Psalm 62:9).  Herinner Hom aan sy beloftes (Jesaja 62:6-7).  Sê vir jouself dat die God wat beloftes maak nie ‘n mens is wat kan lieg nie.  Hy is getrou; die Almagtige.  Hy het die verbond met sy eie bloed verseël en kan dit nie breek nie.  As Hy sy Seun gegee het, sal Hy ook alles gee wat jy nodig het om die beproewing te deurstaan (Romeine 8:32).  Sy verbond alleen is vas en seker.  Jy kan op niks anders vertrou nie.  God stuur dikwels beproewings om vir ons dit te leer.  “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.  Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korintiërs 1:8-9).

 

Arthur Pink het in 1922 ‘n tydskrif uitgebring, en dit vir 31 jaar volgehou.  Vir meer as 20 jaar het hy gebid dat daar meer lesers sal wees.  Sy gebed vir nuwe drukkers, finansies, en baie ander dinge is beantwoord.  Maar dié gebed is nie beantwoord nie.  Hy het nie verstaan hoekom nie.  Toe hoor hy dat meer as ‘n honderd predikante die tydskrif lees en die waarhede daarin vir hulle mense leer.  In Augustus 1947 kon Pink skryf:  ‘through the mouths of many ministers the substance of our articles is reaching thousands of people who do not read them.’[2]  Dalk sien jy nie dadelik wat die Here in jou beproewing doen nie.  Nogstans moet jy Hom vertrou en weet dat Hy sal doen wat wys is.

[1] John Currid, A Study Commentary on Exodus: Volume 1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, pp.113-114

[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.210