Bakens van bemoediging

Lighthouse in storm

Vir ‘n skip wat in die nag in ‘n storm beland, is die sig van ‘n lighuis ‘n baie groot bemoediging.  Om ons te help om die storms van beproewing te oorleef, het God bakens van bemoediging op ons weg gesit.  In Handelinge 28:1-16 kry ons ten minste sewe.

 

Gasvryheid (v.1-2)

William Cowper het met depressie gesukkel.  As ‘n hulp het John Newton vir Cowper in sy huis ingeneem.  Richard Cecil het oor Newton se huis gesê:  ‘His house was an asylum for the perplexed or afflicted.’[1]  In Amerika het David Brainerd met depressie gesukkel.  Jonathan Edwards het die jong sendeling in sy huis ingeneem.[2]  God het die gasvryheid van inboorlinge gebruik om vir Paulus te bemoedig.

 

Nadat almal die storm en skipbreuk oorleef het, het hulle op die eiland Malta gekom (v.1, 27:44).[3]  Die Grieks vir inboorlinge (v.2) is letterlik ‘barbare’.  Maar in Paulus se tyd was barbare nie mense wat kaal rondgeloop, en rou vleis met hulle hande geëet het nie.  Vir die Grieke het almal wat ‘n ander taal gepraat het, só geklink:  ‘Bar-bar-bar-bar-bar.’  Daarom het die Grieke hulle barbare genoem (Romeine 1:14).  Omdat Malta in die winter reën gekry het, het die inboorlinge vir Paulus-hulle ‘n vuur gemaak.  Ek is seker dat enige matroos wat koud en nat was, ‘n groot vuur sou verwelkom.

 

As ongelowiges so gasvry kan wees, hoeveel te meer moet gelowiges dit nie wees nie?  Betoon veral gasvryheid aan Christene wat swaarkry.  Hulle het dit nodig.  Soek geleenthede om gasvry te wees – ook met Christene wat jy nie ken nie (Romeine 12:13, Hebreërs 13:2).  Ondersoek jou hart en sorg dat jy die regte gesindheid het.  Moenie sê:  ‘Ek wil nie hê hulle moet my huis omkrap nie… Ek is nie lus om na iemand se probleme te luister nie.’  1 Petrus 4:9 sê:  “Wees gasvry [teenoor] mekaar sonder om te murmureer.”  Maak jou huis ‘n hospitaal vir seer gelowiges se siele.  Onthou wat Jesus gesê het:  “vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:40).

 

Beskerming (v.3-6)

Op 16 Februarie 1844 het David Livingstone gehoor dat ‘n leeu ‘n paar skape gevang het.  Hy het sy geweer gelaai en die leeu gaan soek.  Toe hy die leeu gekry het, het hy twee skote afgevuur.  Die gewonde leeu het hom bestorm en hom aan die skouer gegryp.  Mebalwe, een van sy helpers, het na die leeu geskiet.  Die leeu het vir Livingstone gelos en Mebalwe aan die been gegryp.  Nóg ‘n man het probeer om te help.  Meteens het die leeu het inmekaar gesak van die skote wat Livingstone vroeër afgevuur het.  Livingstone het die aanval oorleef.[4]

 

Paulus het hout aangedra vir die vuur.  ‘n Adder het uitgekom en hom aan die hand gebyt.  Toe die inboorlinge dit sien het hulle gesê dat hy ‘n moordenaar was.  Hulle het gesê:  ‘Hy het wel die skipbreuk oorleef, maar ons godin Dikē (‘Justice’) het gesorg dat geregtigheid geskied; dáárom het ‘n giftige slang hom gebyt.’  Hulle het soos Job se vriende geredeneer:  “Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?” (Job 4:7).  Jesus se dissipels het ook gedink dat lyding ‘n teken van God se straf is.  Toe hulle verby ‘n man loop wat blind gebore is, het hulle gevra:  “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” (Johannes 9:2).  In Lukas 13:4 het Jesus gesê:  “Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?”

 

Die slangbyt was nie God se straf nie.  God het gewys dat Hy sterker as die gode van Malta is.  Die inboorlinge het gewag dat Paulus sou opswel of dood neerslaan, maar hy het niks oorgekom nie.  Jesus het immers vir die apostels gesê:  “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie… slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie” (Lukas 10:19, Markus 16:18).  Die Maltese het nou ‘n ander deuntjie gesing.  ‘Hy is ‘n god,’ het hulle gesê (v.6, 14:11, 19).

 

As jy bemoedig wil word deur God se beskerming, moet jy verstaan wat met beskerming bedoel word.  Dit beteken nie dat jy nooit pyn sal ly nie.  Die slang byt het nie vir Paulus doodgemaak nie, maar tog het die slang hom gebyt.  Die skrywer se punt is eerder om te wys dat gelowiges geen uiteindelike skade sal ly nie.  Moslems kan jou kop afkap.  Maar hulle kan nie jou siel beskadig nie (Matteus 10:28).  Geen lyding kan jou van God se liefde skei nie; Hy sal alles vir jou voordeel laat uitwerk (Romeine 8:38-39, 28).  Iemand wat ‘n verkeerde verstaan van God se beskerming het, sal in ‘n depressie beland.  As rowers hulle aanval maar nie doodmaak nie, sal hulle nie dankbaar wees dat die Here hulle beskerm het nie; hulle sal kla dat hulle aangeval is.

 

Diensbaarheid (v.7-9)

Martin Holdt het gesê dat evangelisasie hom opgebeur het as hy moedeloos was.  Ek het ‘n paar keer sy raad gevolg en gesien dat dit werk.  Toe ek later ‘n beradingskursus gedoen het, het ek uitgevind hoekom.  ‘n Depressiewe mens fokus op homself en sy probleme.  Iemand wat ander dien fokus op God en sy naaste.  Sodra jy nie meer op jouself en jou probleem fokus nie, dan voel jy beter.  Een van Clyde Kilby se voornemens was:  ‘I shall stop boring into myself to discover what psychological or social categories I might belong to.  Mostly I shall simply forget about myself and do my work.’[5]

 

Malta was ‘n klein eiland naby die groter eiland van Sicilië.  Omdat Publius se naam ‘eerste’ beteken, lei ons af dat hy onder die goewerneur van Sicilië was.  Volgens oorlewering het hy tot bekering gekom, en later die biskop van Malta en toe van Atene geword.[6]  Publius was baie gaaf met Paulus.  Publius se pa was siek met buikloop of disentrie.  Dié siekte kry mens deur ‘n organisme in bokmelk.  Die siekte duur gemiddeld vir 4 maande, maar kan solank as 3 jaar aanhou.  Die simptome is koors en maagwerkings met bloed.  Dit is moontlik dat koning Joram in 2 Kronieke 21:19 hieraan dood is:  “teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het”.  Paulus het vir Publius se pa gebid en hom genees.  Die res van die eiland se inwoners het hulle siekes gebring om genees te word.  Lukas gebruik twee verskillende Griekse woorde vir genesing.  Beteken dit dalk dat nét Publius se pa deur ‘n wonderwerk genees is, en dat die res deur Lukas se medisyne genees is?  Dit mag wees, want genesing in v.9 is dieselfde Griekse woord as in Lukas 4:23:  “Geneesheer, genees uself!”  Genesing in dié vers word gekoppel aan ‘n mediese dokter.  Lukas self was ‘n mediese dokter, en daarom is dit moontlik dat hy die mense met medisyne genees het (Kolossense 4:14).  Tog word die woord in v.9 ook in Lukas 6:18 gebruik:  “[mense] het gekom… om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.”  Ons weet dat Jesus nie met medisyne genees het nie; sy genesings was bonatuurlik.  Dus sou dit ook nie verkeerd wees om te sê dat al die siekes op Malta bonatuurlik genees is nie.

 

Wat moet jy doen as jy swaarkry?  Moenie jouself bejammer nie, maar dien jou naaste.  Soek en bid vir geleenthede om te dien.  Moenie wag tot jy lus voel om ander te dien nie.  Begin net; die Here sal jou verder lei.  Jy sal gou agterkom dat die Here jóú bemoedig en verfris wanneer jy ander dien.

 

Voorsiening (v.10)

‘n Wildvreemde vrou het een weeksdag by die kerk opgedaag.  Sy het vir my ‘n koevert persent gegee met R1000 in.  ‘n Paar ure voor dit het ek gebid vir R1000 wat ek nodig gehad het.  Soms bemoedig die Here ons so.  Hy weet wat ons nodig het.  Die skip en haar vrag was daarmee heen.  God het deur die inboorlinge gesorg dat die vrag vervang word (v.10).

 

Moenie die Here se voorsiening betwyfel nie.  Moenie twyfel dat die Here selfs ongelowiges kan gebruik om sy kinders te seën nie (Spreuke 13:22).  Moenie dink dat jóú behoefte te groot is, en dat die Here nie daarin kan voorsien nie (Numeri 11:23).  Dit is onnodig dat jy angstig is (Matteus 6:25-34). Vertrou die Here.  As jy twyfel sê jy in effek dat God nie goed of almagtig is nie:  ‘Hy wil nie help nie… Hy kan nie help nie.’  Hoekom moet die Here jou help as jy só twyfel (Jakobus 1:6-7)?

 

Guns (v.11-13)

Simon die stoomtrein hyg as hy 20 swaar karretjies teen die heuwel uitsleep.  Wanneer hy afdraende ry kan hy ontspan, want die gewig van die karre stoot hom teen die heuwel af.  In hfst.27 het Paulus-hulle se skip die wind van voor gehad.  Nou het God ‘n suidewind gestuur.  Hulle het met gemak teen die weskus van Italië opgeseil.  Wanneer ons beproef word stuur God soms die wind van agter, sodat ons asem kan skep.

 

Na 3 maande op Malta het Paulus op ‘n graanskip geklim wat van Alexandrië af kom.  Castor en Pollux was op die skip se boegbeeld (‘figurehead’).  Griekse mitologie het hulle as semi-gode beskou.  Hulle was ‘n tweeling, die seuns van die oppergod Jupiter en Leda, die vrou van Tyndarus, die koning van Sparta.  Die Grieke het geglo dat hulle by hulle dood die sterrekonstellasie Gemini geword het.  Hulle het matrose gelei en beskerm.  Van Malta af is Paulus-hulle Sirakuse, aan die kus van Sicilië toe.  Vandaar het hulle gevaar na Rhegium aan die punt van Italië.  Toe hulle Puteoli toe vaar het hulle die suidewind van agter gekry.

 

Neem kennis van God se guns in beproewing.  Bid dat God jou oë sal open om dit te sien.  Jy kan selfs ‘n joernaal hou en dié bakens van guns neerskryf.  Op die manier sal jy nie dink dat ‘n moeilike beproewing ‘n teken is dat God jou haat nie.  Sy guns sal jou daaraan herinner dat Hy jou liefhet.  Hierdie klein tekens van guns sal jou ook help om nie te vergroot, sodat jy sê:  ‘Niks loop reg nie, alles loop verkeerd’ nie.

 

Gemeenskap (v.14a)

Toe ons onlangs in Port Edward was het ‘n predikant en sy vrou ons genooi vir ete.  Alhoewel ons hulle glad nie geken het nie, het hulle ons so welkom laat voel.  Is dit nie hoe Paulus moes gevoel het toe hy vir ‘n week by vreemde Christene gebly het nie (v.14a)?

 

Onthou dat jy ander gelowiges deur geestelike gemeenskap kan bemoedig.  Om dit reg te doen moet jy eers mooi verstaan wat gemeenskap is.  Die woord koinonia beteken om in iets in gemeen te hê, om iets te deel.  Ons kan ons kos en geld met ander deel.  As ons sendelinge ondersteun het ons geld in gemeen.  As iemand swaarkry en ons hulle daardeur help, deel ons dieselfde lyding.  As ons aan die nagmaal tafel sit dan deel ons dieselfde brood en wyn.  Om saam te bid en Bybel te lees is om gemeenskap te hê.

 

As ons Christene wil bemoedig moet ons gemeenskap belangrik ag en onsself daaraan toewy (2:42).  Hoe sal jy bemoedig word as jy gemeenskap mis; as jy gereeld op Sondae by die huis bly of net op die TV en radio kerk luister?  Is dit nie as ons Christelike gemeenskap het wat ons bemoedig word nie?  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Hebreërs 10:24-25).  Mag ek ook vra dat jy asseblief moeite sal doen om besoekers in die gemeente welkom te laat voel?  Dis aaklig as jy in ‘n vreemde kerk kom en niemand verwelkom jou nie.

 

Hoekom is gemeenskap so belangrik?  In Genesis 2:18 het God gesê dis nie goed dat die mens alleen is nie.  Party keer hoef iemand nie iets te sê om jou te bemoedig nie.  Bloot die feit dat jy hulle by die kerk sien en saam met hulle is, is reeds ‘n bemoediging.

 

Beloftes (v.14b-16)

In 2012 het ons ‘n ander kar gekoop.  My kinders was baie opgewonde.  Meer as een keer het ons vir hulle gesê:  ‘Ons sal dalk volgende week die nuwe kar kry.’  Verskeie probleme het egter gemaak dat die bepaalde dag aanhoudend uitgestel is.  Die lang wag het die dag van aflewering soveel soeter gemaak.

 

In 23:11 het Jesus belowe dat Paulus Rome toe gaan.  Romeine 1:10-11, 15:22-23 praat van sy begeerte om Rome toe te gaan.  Paulus het baie lank vir dié dag gewag.  Kan jy jou voorstel hoe bly hy moes gewees het toe ‘n groep Christene uit Rome hom op die pad ontmoet het?  Uiteindelik!  Hulle het 70 km suid na die Appius-mark[7] toe gereis om vir Paulus te ontmoet.  Ander het 48 km suid van Rome gewag om hom te ontmoet.  Die plek se naam was Drie Herberge.  Soos wat die naam aandui het reisigers seker hier gestop om verfris te raak (soos ons moderne 1-Stop vulstasies).  Toe Paulus die Romeinse gelowiges sien, was hy dankbaar en bemoedig.  Hy is nie in ‘n koue tronksel gesit nie, maar kon op sy eie bly (v.16).

 

Hoeveel van God se beloftes ken jy?  Hoe kan jy weet wanneer Hy dit vervul het as jy dit nie ken nie?  En as jy nie weet wanneer Hy dit vervul het nie, kan jy nie dankbaar en bemoedig wees nie.  Memoriseer dus sy beloftes.  Plak dit in jou huis op.  Sit dit op jou yskas.  Hier is vyf voorbeelde van beloftes wat jy kan neerskryf:

 

  • “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebreërs 13:5).
  • “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6).
  • “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).
  • “en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Psalm 50:15).
  • “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

Ek het eenkeer op TV gesien hoe ‘n man onder ‘n dik laag ys swem.  Hy wou een of ander rekord breek.  Daar was elke paar meter ‘n gat in die ys gesny, sodat die man kon opkom vir lug indien iets sou foutloop.  Dit is wat God met ons doen:  Hy gee bakens van bemoediging, sodat ons nie in ons beproewing ondergaan en verdrink nie.

[1] John Piper, The Roots of Endurance, p.56

[2] Iain Murray, Jonathan Edwards:  A New Biography, pp.303-305

[3] Maltese poedels kom van Malta af.

[4] Tim Jeal, Livingstone, pp.58-59

[5] John Piper, The Pleasures of God, p.95, n.11

[6] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, PUBLIUS, e-sword

[7] Cladius Appius het in 312 v.C. die hoofweg voor dié mark gebou.